Читать книгу Goedheid en guns - Jenna-Leigh February - Страница 7

Hoofstuk 2

Оглавление

My skapie

Ek sal in die huis van die Here bly tot in lengte van dae.

Die huis van die Here? Ja! My ma se huis? ’n Ander storie …

As 9-jarige in standerd 1 het ek my skooljare in Worcester by die laerskool onder in die straat begin. Die skool was letterlik ’n klipgooi van ons huis af.

Die leuse van die skool waar ek sub A en sub B voltooi het, was “Reik al hoër”, as ek reg onthou. Op die skoolbanke van my nuwe skool met die leuse “Mik hoog” is die fondasie van my skoolopleiding verder gelê. Hier was ek op die ou end hoofdogter, altyd een van die toppresteerders. Hier het ek van my talente begin ontdek. Vandag nog sal ek grappenderwys vir my ma vra: “Is daar iets wat ek nie kan doen nie?” Ek kan wel nie ’n ordentlike eier bak nie. Dit weet ek darem!

Op laerskool het ek egter alles probeer en in alles my beste gegee. Dit is nou maar eenmaal hoe ek aanmekaargesit is. Veelsydig. En daarvoor is ek Goddank bly. Ek was een jaar tot Sportvrou van die Jaar by my laerskool, glo dit of nie! As ek nie nou nog die trofee gehad het nie, sou ek dit vandag dalk self nie geglo het nie. Ek het sport gedoen omdat dit vir my lekker was, maar ek was beslis nie wat ek as ’n “uitblinker” op sportgebied sou bestempel nie.

In die een jaar wat ek op die hoërskoolbanke deurgebring het, het ’n onderwyseres by die laerskool uitgevind van alles waarby ek as groentjie (al weer) by die hoërskool betrokke was. Leerderraad, skoolkoerant, noem maar op. Toe my ma eendag by die laerskool aankom, het dié onderwyseres haar voorgekeer en vurig berispe. “Moenie toelaat dat (Jenna-Leigh) so alles doen nie.”

Ek is waar ek vandag in my loopbaan, my lewe en my wandel met God is omdat ek grootgemaak is met die wete dat voortreflikheid nie die uitsondering is nie, maar God se norm vir my. Met Hom aan my sy en met sy goedheid en guns wat my oral heen volg, is geen droom vir my te groot en geen ideaal onbereikbaar nie. Mik hoog. Reik al hoër. En laat die res aan die Here oor.

* * *

As tiener op hoërskool in Worcester was daar ’n tyd toe ek die verkeerde vriende gekies en die verkeerde keuses gemaak het. Ek het vír my vriende en my keuses gekies en teen my ouers se gesag en streng, maar gesonde huisreëls in opstand gekom. Danksy die genade van die Here het alles op die ou end vir my ten goede meegewerk. Ek besef egter dat dinge nie noodwendig vir alle tieners wat die pad ’n tyd byster raak so goed soos vir my afloop nie.

Soos baie tieners voor en na my sal getuig, het ek nie toe altyd mooi geweet of ek kom of gaan nie. Wanneer ek moes sit en wanneer ek moes staan nie. Dis veral moeilik om jou plek in die wêreld te vind as die wêreld in jou kop ’n warboel is.

My ouma Driena is oorlede toe ek op hoërskool was. Ons, ek en ouma Driena, het ’n “sielskonneksie” gehad wat vir my moeilik is om in woorde te beskryf. Haar weggaan het my laat voel asof ek stoksielalleen in die wêreld oorgebly het. Skielik was daar hierdie groot leemte in my lewe, in my wese. Ek het nie geweet waarmee om dit te vul nie. Eers later het ek besef God is al Een wat daardie leemte kan vul. Nie eens die een mens op aarde vir wie ons die heel liefste is, kan sy plek in ons lewe inneem nie. Hy wil Nommer Een in ons hart en lewe wees. As sy Woord dit in soveel woorde vir ons sê, is dit omdat Hy dit regtig bedoel. Dit het ek veel later eers werklik begin verstaan.

As hoërskoolmeisie het ek van God geweet. Soos Job het ek op hoorsê van Hom gehoor en Hom op ’n manier geken. My manier. Daar was egter nie sprake van ’n brandende persoonlike verhouding met Hom nie. Ek het Hom nie geken op die vlak of die manier wat Hy (en ek, sonder dat ek dit besef het) dit begeer het nie. My oё het Hom nog nie self gesien nie. Nie soos my oё Hom kon sien nie …

In my gemeenskap het ek ’n spreekwoord gehoor wat sê: “Jy gaan nie op jou ma en pa of ouma en oupa se tjaps hemel toe nie.” Elke kind, tiener en grootmens se lewe hier op aarde het God se stempel van goedkeuring nodig. Sy aanbeveling. Ons kan nie onsself aanbeveel nie. Ander mense kan ons nie voor Hom aanbeveel nie. Dit leer die Woord ons.

Ons kan nie voor God gaan staan en redeneer nie: “My ma, pa, ouma en oupa, Here, het U op aarde geken.” God het nie stief- of kleinkinders nie. Hy het eie kinders. Geestelik gebore uit die Gees. Wedergebore kinders, soos Nikodemus moes leer.

Dis iets wat ek moes aanvaar. Die Here ken dié wat Syne is. Hy besluit self en alleen en op sy eie wie sy eie is. “Gaan weg van My af, vervloektes!” is wat sommige mense eendag sal hoor. Hard, maar waar. Ek sidder as ek daaraan dink.

“Regter van die hele aarde,” het Abraham Hom genoem. Hy sit op die troon en Hy besluit. Hy stel aan en Hy stel af. Hy keur goed en Hy keur af. Hy is die Pottebakker en ons is die klei. Sy verordeninge geld. “Dit is jou eie saak as jy verlore gaan,” het ons kleintyd gesing.

My ma het my en my boetie van kleins af grootgemaak met die wete dat die geestelike ryk, die ryk waar God, die engele en ons geliefdes by Hom is, net so werklik soos die sigbare ryk is. God is hier én daar. Net so werklik hier én daar, het ons geleer. Vir ons om oor die geestelike ryk te praat en te dink, is gevolglik net so natuurlik soos om oor die sigbare ryk te dink en te praat. Jare later is dit steeds een van die lesse wat baiemaal tot my redding kom. Wanneer ek met God ’n gesprek kan hê waar ek Hom hoor antwoord; wanneer ek drome of visioene kry. Wanneer ek verlore ronddwaal en nie weet watter rigting om volgende in te slaan nie. Dan sal God baiekeer leiding of antwoorde gee. Ek het geleer om sensitief te wees vir sy stem en my lewe van binne uit te leef, gelei deur die Heilige Gees. Daarvoor is ek oneindig dankbaar.

Soos ek gesê het, het ek die skool verlaat toe ek 15 was, deeltyds verder studeer en op 17 reeds werk as joernalis en my eie woonstel gehad. Ek het myself onderhou.

Daar was egter ’n tydperk tussenin dat ek die pad heeltemal byster geraak en te vroeg en te hardkoppig my eie rigting ingeslaan het. Nee was in daardie stadium nie vir my ’n antwoord nie. Soos my ma later sou sê: Daardie tyd was kort, maar intens. Dit is na aanleiding van daardie tydperk in my lewe, en die lesse wat ek weens wederstrewigheid en ongehoorsaamheid moes leer en ly, dat my ma my ’n tydjie terug ’n SMS kon stuur: “Probeer altyd onthou, jy is in Worcester vir Johannesburg voorberei.”

Wat sy daarmee bedoel het, is dat sommige foute wat ons in hierdie lewe maak en sommige lesse wat ons leer en ly, so pynlik en intens is dat dit nie vir ons nodig behoort te wees om dit te herhaal nie. Een keer behoort genoeg te wees vir ons om die boodskap te kry.

Selfs nog voordat ek die leemte in my hart met ’n ander mens probeer vul en ’n gevoel van tuishoort in ’n voortydige huwelik gaan soek het, was daar ’n tyd dat ek te vroeg “weg” wou wees, op my eie.

Tussen 16 en 17 het ek verlore geraak. Die vroulike weergawe, so het dit in daardie stadium vir my gevoel, van die verlore seun. God het iemand eenkeer daaraan herinner dat Hy, soos die pa in die gelykenis van die verlore seun, die affected father is. Die Vader agtergelaat en geraak deur die doen en late van sy kind. Die Een wat nie afsydig of onaangeraak of losgemaak van sy kinders staan nie. Hy is die Vader omdat Hy kinders het. Hy is ons Vader omdat ons sy kinders is. Wat ons doen, raak Hom. Ons doen en late gaan Hom aan.

In daardie stadium van my lewe het ek die nag en die wêreld ingevaar, op soek na God én myself. Aan die weghardloop vir die gevoel van op my eie, allenig, wees. Vandag besef ek God het daardie tyd in my lewe sonder my medewete tot my voordeel gebruik. Om my vroeg-vroeg reeds voor te berei vir die uitdagings van my lewe in Johannesburg. Hier waar ek jonk-jonk en soos my vinger alleen my merk vir Hom moet maak. Op watter groot of klein skaal ook al.

As ek nie my Vader daar op die platteland, in die relatiewe veiligheid van my tuisomgewing en die baie mense wat my geken en vir my gebid het, self ontdek het nie, sou die stad my heel ingesluk en stukkend uitgespoeg het. Dit is hoe ek vandag daaroor voel, en daarvan getuig my optrede op daardie heel eerste Saterdag toe ek die stad waar ek nou woon en werk, binnegery het.

Die heel eerste dag in Johannesburg, my tasse skaars neergeplak en nog voordat ek my tydelike tuiste behoorlik verken het, het ek vir my ’n geestelike huis gaan soek én gekry. So baiekeer was dit al my behoud.

Die werklikheid van my jong, deurmekaar lewe destyds was egter nagte deurgebring in antie dié of daai se spaarkamer. Op die rusbank van hierdie of daardie vriendin wat baie ouer as ek was. Selfs ’n rukkie in ’n skuiling vir vroue. In daardie stadium van my lewe was my geestelike oë verblind. Ek kon myself nie sien nie. Laat staan nog God se groter plan vir my lewe.

Soms het ons ander mense nodig om stukkies van die legkaart van jou lewe vir jou aan te dra. As jy in sulke tye fyn kyk en goed luister, merk jy soms die verbasende inplekval van selfs die stukkendste stukkie van jou lewe op. Hierdie uittreksel uit ’n brief wat my ma goedgunstiglik vir my geskryf het, is een so ’n stukkie.

Meisiekind

Ek wonder waarom God dikwels – so voel dit – wasbakke kies om met ons te praat? Die bad … die stort. Is dit oor ons daar uiteindelik allenig is? Daar ’n minuut se stilte is? Of oor daar iets voor te sê is om roetinetakies met vreugde te verrig?

Wat dit ook al is, onthou jy nog die dag voor Ouma weg is? Ek het in die kombuis voor die wasbak gestaan. Een van die ooms het in ’n kamer gebid.

Skielik was God waarneembaar by my. “Ek kan julle ma oombliklik genees!” het Hy beslis gesê. Skaars twee minute later – die oom wat gebid het, het haastig kom sê: “God maak Mamma gesond!”

Teen hanekraai die volgende dag was sy volmaak by Hom.

“Wie is Hy dat selfs die winde en die golwe Hom gehoorsaam?” roep sy skapies duskant uit. “Hy wat die dood gebruik om ’n punt te bewys!” roep sy skapies uit die ewigheid terug. Hy is die opstanding en die lewe. Dié wat in Hom glo, sal lewe, al het hulle ook gesterwe … Glo jy dit?

Ek het by wasbakke begin, omdat ek iets oor ’n aand in ons lewe wou sê. Meer spesifiek, die nag toe jy weggegaan het.

“Away in a manger, no crib for a bed …” ’n Jaar of wat ná Ouma se dood – ek was voor ’n ander wasbak doenig – het ek die Heilige Gees die woorde hoor “sing”. Hy het stilgebly en vir my gewag om iets te sê. Versigtig het ek die antwoord in my oorweeg, oplaas die woorde gekry. “Here, ons moet almal êrens begin …”

Vir my het jy, Jenna-Leigh, “goedheid en guns”, nie begin die dag toe jy “bo” uitgekom het nie. Lank voor die fans, die televisie en die radio het jy begin. Jy was eerste. Die res het later gekom. Om die waarheid te sê, jy was nog ver weg, toe het die jy wie jy nou is reeds begin. Soos die vader van die verlore seun, toe jy nog ver was, het jou hemelse Vader jou self gesien en jou aardse mamma toegelaat om jou saam met Hom te sien. Die stukkende aand toe jy weg is, het God gekom en woorde gesê. Toe Hy dit gesê het, was dit so. Dit was volbring.

“Jou kind is my skapie. Sy was Myne voor sy joune was. Ek het haar net vir jou geleen. Ek het haar liewer as wat jy haar ooit sal hê. Moenie vrees nie; Ek is die goeie herder, onthou? Nege en negentig laat Ek staan. Ek gaan die verdwaaldes haal.”

Dit was donker toe jy geloop het, onthou jy? Daardie nag was ek net té ontsteld en té vol vrees. Daarom het Hy gekom en woorde gesê wat meer as blote woorde was. Dit was ’n bevestiging en ’n voldonge feit. Jy sou die een wees wat Hý sou vind. Sý vonds en die skapie van sy weide.

Ek bid dat dit altyd spesiaal vir jou sal bly. Die feit dat mense jou nie ontdek het nie, maar dat jou Herder jou gevind het. Hy het nege en negentig agtergelaat en self na jou kom soek. Hy het niemand gestuur nie; Hy het self gekom. Dis hoe lief Hy jou het – Hy het die hemel agtergelaat vir jou.

Daar is ’n rede hoekom ek sê jy het nie soos ’n kurkprop opgeskiet nie. Goddank vir mense wat reguit opskiet! Jy, egter, het met ’n ompad gekom. Die nag toe Hy jou “skapie” noem en die dag toe jy “my Herder” en “goedheid en guns” sê het jy en God ontmoet. Die nag en die dag was ewe. Sáám het julle sin gemaak, die skapie en die Herder wat halfpad ontmoet. Jy dié kant om, ’n halwe sirkel. Hy dáái kant om, ’n halwe sirkel. Aan die bopunt het julle full circle gekom. Jy en jou Herder was nog altyd bedoel om te wees!

Vir my is dít die storie – van jou en van God. Julle het terselfdertyd onder begin en bo geёindig. Verag nie Nasaret of die dag van “klein begin” nie. Ons almal moet êrens begin …

Hoe oud was jy toe jy weg is? Nie oud genoeg nie. Dít het my gebreek.

“Wat saak maak, is nie die kwantiteit tyd wat jy saam met haar gehad het nie. Dit is die kwaliteit tyd,” het God beslis gesê. “Wat jy gedoen en gesê het; hoeveel jy belê het in die tyd dat jy haar wél by jou gehad het. Dis wat vir My tel.”

“Cliché, cliché!” sê mense dalk. Dit wat Hy vir my persoonlik sê, dít is sy Woord vir my!

Vir ander mense maak sy woorde dalk nie sin nie. Ek self kan op ’n manier insien waarom sommige mense gedink het Petrus-hulle was op Pinksterdag gesuip. Hulle het nie sin gemaak nie. Petrus was daar om reg te help. “Julle sien en hoor vandag waarvan Joёl gepraat het!” Joël se woorde wat gestalte kry. Alles wat is, was eers woorde. “Laat daar lig wees. En daar was lig.”

Mooi so, Petrus! Antwoord die dwaas nie na sy dwaasheid nie. Antwoord Hom na die Woord wat in vervulling kom. Dit wat vooruit gesê word … en dan gebeur. Sal God iets sê en dit nie doen nie, of iets spreek en dit nie waar maak nie? Hy skep met woorde.

Kinders van die lig is nie dronk nie; hulle is slim …

God was sober daardie nag toe Hy met my gepraat het. Daar was liefde in sy waarheid. Hy het die waarheid nie opgedollie om ons te pas nie. Hy het nie ons pyn of die werklikheid van ons lyding ontken nie. Hy het die groter werklikheid erken. Hy het erken, en nie ontken nie, dat Hy die Christus, die Herder, die groter werklikheid is.

Weet jy wat is mooi? Hy het my nie verby daardie nag probeer rypdruk na môre toe nie. Nie mooi broodjies gebak of gelieg en die waarheid probeer versag nie. Die waarheid was hard. Jy het geloop. Die tyd voordat jy terug sou wees, sou kort wees. Bitter kort en bitter intens. Dit was die werklikheid. My eie gebrokenheid moes ek met soberheid deur; my tyd gekoppel aan ’n ander se tyd.

Jy weet en ek weet, kind, dat daar tye is dat die kring van ’n ander se arms nie groot genoeg is om die pyn binne-in ons dood te druk nie. Daar is tye dat Hy self moet ingryp en self moet kom. Dat Hy sy Woord moet spreek en dit wat kortkom met woorde moet skep.

Hy het daardie nag verder as ons al twee se seer gesien. Hy het vandag en môre gesien. Vir my het Hy gesê wat Hy moes; vir jou het Hy jou gang laat gaan, maar nie alleen nie. Hy het saam met jou gegaan en Hy het saam met my gebly.

Onthou jy nog sy eerste wonderwerk? Sy ma wat vir die bruilofswerkers sê: “Doen net alles wat Hy vir julle sê.” Hy wat vir sy dissipels sê: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.” Jesus en sy mamma wat uit een mond praat.

Wat, wonder ek egter, het Maria daardie dag laat weet om te doen wat Hy sê … Om haar kind se vriend te wees?

Onthou jy Christus aan die kruis, sy ma wat onder staan? Hulle afskeid?

Daar is iets waaraan ek nooit gedink het voordat Hy dit daardie nag vir my gesê het nie.

“Jy verloor haar vanaand as jou kind. Hou goeie moed! Ek gee haar vir jou terug, as jou suster. En jou vriendin.”

Daardie nag het Hy my, geestelik, jou ma gemaak.

Dis nie ’n nuwe storie hierdie nie, kind. Dis die een van Abraham en God en van God en Job. Dit wat Hy in die eerste plek gegee en ons verloor het, vir ons sal Hy dit teruggee. Dit wat Hy in die eerste plek gegee en ons geoffer het, dit sal Hy oor en oor gee. En oor. En oor.

Soos die sand aan die see en die sterre in die hemel, so baiemaal oor!

Ek onthou hoe ek daardie nag bly dink het dat die Vader Hom met my vereenselwig. Die Vader wat sy kind verloor het, en Hy het. Terwyl ek onlangs hieroor nagedink het, het iets anders my getref. Hy het my daardie nag vertroos en verstaan, nie net as die Vader nie, maar ook as die Seun. Die Seun wat sy ma verloor het.

Sý sou Hom wen as broer en as vriend. Hý sou haar geestelike Vader word.

So werk dit dan. Toegegee, nie vir almal nie. Vir sommige van ons.

Soms gaan kinders weg as kinders in die vlees. Soms kom kinders terug as broers, as susters, en as vriende in die gees.

God ook, begeer nie vleestelike kinders wat vleestelike kinders bly nie. Hy begeer kinders wat leer en groei en grootword. Kinders wat in die Gees sy broers en susters en vriende word.

Destyds – ek het nie een dag ophou bid nie! En eendag, skielik, terwyl my woorde die atmosfeer in skree, het jy jou eerste tree gegee. Jou terugreis na God het begin. Die uur en die oomblik toe dit in die gees gebeur het, kon ek pinpoint … Ek het geweet. Elke juk was stukkend; elke ketting gebreek.

Genade, deur en deur; dit het eerste in die atmosfeer gebeur …

Daar is ’n ander nag waarvan ek weet, toe die dissipels heelnag gewerk en niks gevang het nie. Heelnag deur het die Meester hulle laat sweet. Instinktief weet ek dat dit goed was vir hulle. Toe die oggend breek, het Jesus op die strand gestaan. Jesus in die Gees; by hulle in die vlees. Net omdat hulle Hom nie gesien het nie, wil dit nie sê Hy was nie daar nie. Of dat Hy nie besig was om self te werk nie.

Die nag impliseer net so min sy afwesigheid en sy onaktiwiteit as wat die dag sy teenwoordigheid en sy aktiwiteit impliseer. Op enige gegewe oomblik is die Here daar. Op enige gegewe oomblik is Hy aan die werk. Dis wat Hom Here maak.

Daardie nag – was Hy afwesig, koud? Of was Hy vaderlik?

Daar is dinge wat Hy van ons weerhou en dinge wat Hy ons spaar. En dan is daar dinge wat ons net deur sweet en ondervinding kan leer.

Dit was oggend toe die dissipels uiteindelik weet – Hy het mét die vis gekom.

Wie die seëninge van die Here wil hê, moet die Here van die seёninge begryp en goed begryp. Hy soek nie offerandes nie – gooi die nette uit – Hy soek gehoorsaamheid. Wat kan ons gee wat Hy nie reeds besit nie? Wat kan ons gee wat Hy nie in die eerste plek vir ons gegee het nie? Daar moet ’n groter rede vir ons offer wees.

Die rede is gehoorsaamheid. Die rede is Hy. Hy soek Homself in ons.

Ek wou iets oor die nag oor die algemeen sê. Die nag maak my nie meer so bang nie.

Vrees jy ook nie die donker nie, want jy het, profeties, in die nag begin. Alles wat God geskape het, het in die donker begin. Die aand en die môre saam maak die dag. Blaas die basuin, my kind, daar’s werk! Die dag van God begin, amptelik, in die nag.

Die Bewaarder van Israel werk en alles wat Hy doen, is welgedaan. Sodra die dag breek, sal die Lig die vis aanwys. Strategies neffens die boot in plek geplaas.

Daardie nag toe Hy vir my gesê het: “Jou kind is Myne, Ek bring haar terug!” het Hy dit (goed) bedoel. Geestelik was dit so en dit was klaar.

Die nag toe Hy gesê het: “Kyk, my kind, Ek bring haar terug!” daardie nag het jy, streng gesproke, huis toe gekom.

Welkom tuis.

Ek lief jou, Meisiekind!

Goedheid en guns

Подняться наверх