Читать книгу Goedheid en guns - Jenna-Leigh February - Страница 6
Hoofstuk 1
ОглавлениеAgter my swirlkous
Bonnievale. Mooi, mooier, mooiste vallei.
Wat ’n pragtige naam en wat ’n gepaste beskrywing vir hierdie dorpie en streek waar ek in die laat 1990’s my verstand kom kry het.
Ek is negentien-doer-in-die-tagtigs in die beste naaste hospitaal in Robertson gebore. Een Maandagaand ’n druppel ná ses. Haastig om in die wêreld te kom was ek daardie aand glad nie, in skrille kontras met hoe ek later in my lewe sou wees. Om die waarheid te sê, ek het sedert die vorige Sondagaand net ná tien se kant al begin dreig om te kom. Maar toe rustig my soet tyd gevat om die actual dreigement uit te voer …
Luilekker het ek eers al my drentels gedrentel en my draaie gedraai en gedoen wat babas ook al in daardie stadium van die swangerskap doen. Dit sal my glad nie verbaas as ek vooraf eers lang gesprekke met myself of met God gehad het nie. Prater wat ek vandag steeds is, is dit moeilik om myself as tjoepstil voor te stel. Of dalk wou ek maar net dubbel en dwars seker maak die mense aan die buitekant was gereed vir my – lights, camera, action! Maar ná al die gedraal het ek tog my buiging diekant van die wêreld so hittete saam met daardie dag se sesuurnuus gemaak.
Ek het in die klein, maar mooie Bonnievale grootgeword, totdat ek seker so sewe jaar oud en in sub B was, soos dit destyds genoem is. Toe het ons Worcester toe getrek. Ek beskou Worcester vandag as my tuisdorp. Dis van daar af dat ek later as jong volwassene Johannesburg toe getrek het. Agter my werk en my roeping en my Herder aan.
Maar my storie, vir die doeleindes van hierdie boek, begin in Bonnievale, in die tyd toe ek ’n kleuter van so twee en ’n half of drie was.
* * *
Klokslag om halfvyf, elke weeksmiddag, het ’n ritueel op die straathoek ’n entjie van ons huis af uitgespeel. Net voordat my ma en my ouma van die werk af sou kom. Ons twee huishonde het op die straathoek gaan sit en opgewonde in die rigting van die vroue se tuiskoms gestaar. Sonder uitsondering. Elke middag.
’n Fraai dogtertjie met lang vlegsels het tussen haar hondemaats gaan sit, ’n arm om elk. Geduldig en getrou het dié trio elke dag vir die vroue gesit en wag. Wat dié gesig wat hulle elke middag begroet het vir my ma en my ouma moes beteken het, kan ek my net indink.
So van straathoek gepraat, dié gewag op die straathoek herinner my aan ’n ander storie. Een oor ’n pa, ’n inwag en ’n terugkomkind.
Eendag was die Fariseërs en skrifgeleerdes op die aarde aan’t murmureer. Oor tollenaars en sondaars en ’n Seun wat oral eet.
In plaas van preek, het die Seun ’n storie vertel:
“’n Pa se jongste seun het weggaan.”
Die Seun sê dit nie, maar ek hoor dit in elk geval – die pa het van beter geweet …
Die pa gee toe vir die seun sy erfgoed. Hy sien hom af en laat hom gaan. Die seun gaan weg en mors sy erfporsie losbandig in een asem uit. Sy les oplaas geleer, kom hy skaam-skaam en honger terug. Bereid om vir sy brood te werk.
“Vader, géé ons vandag ons daaglikse brood,” leer die Seun sy volgelinge elders bid.
Die pa sien sy seun van ver af aankom. Hy kry hom innig jammer. Die pa hardloop, ja, op sy ouderdom hardloop hy. Hy omhels sy seun en soen hom hartlik.
Wat ’n prentjie skets die Seun! Wat ’n gesig wat die verlore seun met sy huistoekom inwag!
Die pa gee die seun sy titel terug. “Jy leef, my seun!” sê die pa in werklikheid.
Om van jou pa se brood af weg te wees, is net so goed soos om dood te wees.
Die pa gee die seun ook ander goed: ’n kleed en skoene en ’n ring.
Die seun het immers rondgeloop, maar teruggekom. Rond geloop, soos in ’n kringloop …
Die erfporsie is toe ook nie al nie. Daar is nog …
Die pa gee en slag die vetgemaakte kalf.
Die oudste broer bly heeldag by die huis en werk hom byna dood. Hy het op hierdie terugkomdag g’n erg aan g’n partytjie nie. “Ek is hier, ek werk, ek is soet … verdomp!” kla die wegloopkind se ouboet vies. “En ek kry niks nie!” Die pa staan egter stewig vas. “Jy is altyd hier by my, my kind. Alles wat ek het, is ook joune.”
Die storie van die pa, die terugkomkind en die dikbekkind laat die Fariseërs en skrifgeleerdes vandag nog met ’n les.
Soos Vader, soos Seun, impliseer die genadige Seun.
Die Seun bly stil. Ek hoor die Vader vir die ouboet in ons almal sê: “Jy staan gooi klip en praat van hoere … my kind?”
Ek praat van genadigheid.
Van terugkom … of verlore wees.
’n Ewigheid (weg) van My.
* * *
Genadigheid … terugkom … verlore wees.
Hier waar ek vandag as twintigplusser sit, maak dié temas ’n groot deel van my lewenstorie tot dusver uit. Ek vermoed dis ook deel van baie ander mense se stories. Geduldig wag ons Vader vir ons om huiswaarts te keer, terug na Hom toe. Ek weet daar is tye dat Hy hartseer, geamuseerd en liefdevol na ons lewensreis kyk. Ek weet vir seker Hy het my en my hondemaatjies, destyds al wagtend op die straathoek, raakgesien. Ek wil graag glo Hy het die prentjie van ons drietjies daar die ene smiles uit die hemel sit en beskou.
Dit bly my vandag nog by. Tipsy en Rambo se liefde en beskerming, maar veral hulle geduld daar op die straathoek. En die feit dat hulle altyd so goed geweet het wanneer dit tjailatyd is. Tyd vir huistoegaan.
Dalk het hulle my destyds iets probeer leer – om te weet wanneer dit oppaktyd is, wanneer die tyd vir iets verby is. Tyd om te tjaila; tyd om aan te beweeg. To not push things past their expiry date, as ek dit só kan sê. Moenie opgeskeep sit met iets wat lankal verby moes gewees het nie. Ken die rakleeftyd van goeters.
“Vir elke ding onder die son is daar ’n tyd,” het die Prediker immers eendag nugter gemaan. “’n Tyd om te kom en ’n tyd om te gaan.”
Sommige dinge in die lewe was nooit veronderstel om ou bene te maak nie.
* * *
Voordat ons Worcester toe getrek het, toe ek nog baie klein en die wêreld so te sê nuut was, het ons by my ouma in die huis gebly. Twee van my ooms het destyds nog studeer en net vakansietye huis toe gekom. Dan het hulle om die beurt baie mooi na my gekyk wanneer ek van die kleuterskool af huis toe gekom het. Ek onthou die dae toe ek altyd in die middae saam met een van die ooms moes sit en tennis kyk. Hy het my ook gereeld winkel toe gestuur om my eie middagete te gaan koop. Kaas-en-uie-tjips, Fanta en brood.
Soms het ek by my ma gekla omdat die ooms elke middag net eiers bak. Klaagliedere van Jeremia ten spyt, was ek tussen al die grootmense eintlik vreeslik bederf. Wanneer die ooms vakansietye van die kollege af huis toe gekom het, was daar altyd iets vir my. Legkaarte, leesboeke, teddiebere, lekkers, noem maar op.
Een van my ma se kollegas het eendag vir my ’n ou sleutelbord van ’n rekenaar gestuur. Onbewus van die feit dat ’n sleutelbord nie naastenby ’n rekenaar is nie, het ek vir die volgende jaar of wat alte lekker biblioteek-biblioteek en winkel-winkel gespeel. Waar kinders vandag met skootrekenaars en slimfone grootword, was dié sleutelbord die beste stukkie tegnologie wat ek in my jong lewe gesien het.
Ek het dit ook altyd vreeslik geniet om na stories van die grootmense se kindertyd te luister. Toe my ouma nog geleef het, het sy ons eendag vertel hoe sy en haar broers ’n baie ernstige gesprek gehad het.
“Wat is sonde?” was die vraag. Só het die groot bespiegeling begin. Ek dink dis dit. Nee, man, dis dat. Totdat hulle uiteindelik konsensus bereik het.
Sonde is wanneer jy eers ’n liedjie sing, menende een wat in ’n disko sou speel, en direk daarna ’n gesang, menende ’n lied wat in die kerk gesing word.
Disko en kerk. Solank jy dié twee net nie meng nie, is jy safe.
Op my ma se skoot. Die ooms het my toe nog “Kalena” genoem.
My ma, wat duidelik nie oor sonde geworry het toe sy ’n dogtertjie was nie, was kleintyd vreeslik astrant.
“Moenie met my teëpraat nie!” het Oupa eendag fermer as gewoonlik vermaan. Verdrietig het sy haar lot by haar broers, jonger as sy, gaan bekla.
Die een wat geluister en soort van omgegee het, het sy mening kort en saaklik gelug. “Van wanneer af kan ’n mens koffie en tee praat?” en toe verder gespeel.
Dis ook my ma wat kleintyd driftig met die kerkmense saamgesing het: “Ouma moet, ouma moet as die dywel woet!” sonder om te weet wat sy sing. Hou maar moed as die duiwel woed.
As grootmens verbeel ’n mens jou alte maklik jy het nog altyd elke liewe ding geken en nog nooit nodig gehad om te leer nie.
* * *
Hier is die storie wat ek seker weer eendag vir my kleinkinders sal vertel. Feit. Nie fiksie nie.
Toe ek ’n kleuter in Bonnievale was, het die kinders by die kleuterskool eendag van “skoolbank” gepraat. Oor wat dit is en so aan. Stil-stil het ek na die gesprek geluister en kort voor lank agtergekom “skoolbank” is nie iets waarop jy sit, soos ek eers gedink het nie. “Skool bank” is iets wat jy dóén. Wie sou dit nou kon raai?
Jy maak asof jy skool toe gaan, maar dan gaan speel jy iewers anders en gaan huis toe wanneer die ander kinders uit die skool kom.
Net daar besluit ek om dit die volgende dag te probeer.
Die volgende oggend laat ek my maats alleen vooruit skool toe stap. ’n Entjie van die huis af, net om die draai, bly ek langs die pad sit. Ek eet my skoolbroodjie op en vir die volgende paar minute sit ek net …
Dis nie baie fun nie, dink ek gou.
My eerste skoolbanksessie was duidelik nie so mooi beplan nie. Ek begin toe daar in die pad aan die kinders by die skool en die ooms by die huis dink. Die ooms en die huis wen.
Huilend van senuwees en die onvermoë om my vroeë tuiskoms lieg-lieg te verklaar, kom ek by die huis aan. Doodbang om op myself te klik.
’n Klompie jare gelede het ek my ma vir die eerste keer vertel dat ek kleuterskool gebank het. En dit toe darem van my hart af gekry.
Min het ek as kleuter geweet ek sou in die toekoms as jongmens nog baie op my eie dwaal en verdwaal … en terugkom. Al was dit met trane in my oë en al het ek soms nie die moed gehad om te sê waar ek was nie … terugkom sou ek altyd terugkom.
Dit is grootliks te danke aan die feit dat God van kleins af ’n integrale deel van my lewe is. Vanaf die tyd toe ons as gesin in my ouma se kombuis die Here met stem en kitaar geloof het en die Woord op plase rondom Bonnievale verkondig het.
Dit was die dae toe ek as vierjarige kliphard vanaf my kansel – my ouma se agterstoep – vir die bure gepreek het. Met my groot Kinderbybel onder my arm en baie ernstig het ek gepreek dat hulle hulle hart vir die Here moet gee. Alles dinge wat ek in die kerk gehoor het.
Ver onderkant my ouma se huis was daar ’n ander huis. Daar het ’n antie gebly wat vandat ek kan onthou aan drank verslaaf was. Op die agterstoep het ek haar naam genoem, my woorde in die rigting van haar huis gestuur en vir haar gebid. Nie sy of die ander bure het geluister nie; dit was net die speel-speel dinge van ’n kind.
Toe sy jare daarna haar hart vir die Here gee, was dit een van die buurt se grootste wonderwerke. Ek sê nie dit was as gevolg van my preke of my bidsessies nie; ek sê maar net. Bid en preek kan nie skade doen nie.
* * *
Klein-klein het ek al geweet ek wil eendag met mense praat. Dit voel nou soms vir my ek het net die stoep vir die TV verruil.
Op twee en ’n half het ek eendag my kop om die kamerdeur gesteek en my teenwoordigheid vir die eerste keer luidkeels in Engels aangekondig. “What djoe dwieng, Mom?” Sedertdien was ek nog nooit bang vir Engels nie. Krom of skeef, praat sal ek hom praat.
Dit klink dalk na ’n simpel ding om te sê, maar ek kan nie genoeg beklemtoon hoe verras ek keer op keer staan dat God my in my moedertaal gebruik of dat ek in my taal kan werk nie. Ek kan nie glo dat ek as Afrikaanse meisie soveel aanvaarding, liefde en ondersteuning van die publiek ontvang nie. In my kop het ek my nog altyd verbeel ek is Engels omdat ek so tuis voel in die taal, so dikwels daarin dink en my so gemaklik daarin kan uitdruk.
Ek stem saam met my ma se onlangse stelling dat een mens onmoontlik alles kan weet en dat God soms doelbewus nie dinge vir ons vooruit wys nie. Juis omdat Hy ons en ander mense in hierdie lewe wil verras. Sy het dit gesê terwyl ons gepraat het oor haar antwoord op ’n kleintydvraag van my. Jare gelede wou ek by haar weet of sy dink ek het ’n mooi stem. “Ek weet nie. Dit klink vir my normaal,” het sy geantwoord. So eerlik moontlik, blykbaar. Bang om te vinnig ja te sê en dan wil ek eendag loop sing sonder dat ek kan noot hou of iets.
’n Klinkklare bewys dan … nie een van ons weet werklik alles nie.
Wat ’n wonder! Ons en ander mense bly altyd verras deur die dinge wat God in die stilligheid vir ons beplan. Daar is altyd dinge wat vars en nuut en onverklaarbaar cool vir ons is. Soos die feit dat ek vandag op ’n publieke platform in Afrikaans kan werk.
Soms steek God dinge vir ons weg om ons skok, teleurstelling en seer te vroeg in ons lewe te spaar. Ander kere draai Hy dinge soos peperduur geskenkies in misterie toe. Die dag dat ons dit oopmaak, verlustig Hy Hom in die uitdrukking op ons gesig wanneer ons kinderlik besef: Drome word tóg waar! Al is dié ek wat leef die hele tyd midde-in my besige lewe vasgevang, is dit deur dinge soos hierdie drome dat ek ’n slag van buite af kan kyk en my kop in ongeloof kan skud.
* * *
Twee jaar ná “what djoe dwieng” het ek nog twee Engelse woorde êrens gehoor. Vir my het dit hoogs belangrik en alte vernaam geklink. Ek het op die daad besluit dit sal goed by Bonnievale pas. Bonnievale Development Organisation. Wat ek van development en/of organisation geweet het, of wie en wat presies ek wou ontwikkel en organiseer, weet nugter alleen. Seker myself. Maar Bondo is gestig. Dit het uit my en my drie beste maats bestaan. Ek was amper vyf en die stigter. Ek was ook die voorsitter en die tesourier en die sekretaris en dit was dit. Geen beurte maak nie.
Ons het vergaderings gehou, wat meestal bestaan het uit die opdragte wat ek vir die ander gegee het. Daar was swemsessies en ’n gepraat in my groot blou swembad. “En nou kan jy praat en dan praat sy …”
Wat op die agenda van ons vergaderings was, kan ek nie mooi onthou nie. Wat dit ook al was, miskien het dit my so effens voorberei vir die vergaderings in die toekoms met uitvoerende direkteurs, ministers en ander hooggeplaastes.
Al wat ek kan onthou wat ons as organisasie ooit regtig gedóén het, was om in die voorhuis vir my ma en ouma te dans.
* * *
Ek is nog jonk, ek weet. Steeds bly dit vir my die opwindendste waarheid in my lewe tot dusver – die goue draadjie wat ek selfs nou al deur my lewe kan sien loop. Vir my is God die wewer van die draadjie én die draadjie self. Dis vir ander mense dalk maklik om te sê hulle het alleen en baie hard gewerk om alles te bereik wat hulle bereik het. Ek het ook hard gewerk en baie opgeoffer, maar wanneer jy na die storie van my lewe kyk, is God se rol as Herder baie duidelik.
Ek glo ons almal kan God in ons stories raaklees as ons maar net doelbewus daarvoor sal kyk.
My en God se verhouding het nie in die kerk of op my ouma se agterstoep begin nie. Hy het my geken nog voordat Hy my in die moederskoot gevorm het; nog voordat ek gebore is. Jeremia 1:5 sê dit, en ek aanvaar dit so.
In die laaste deel van my lewe in Bonnievale, en in die eerste paar jaar in Worcester, was ons uitgebreide gesin deel van ’n tentbediening. Van dorp tot dorp het ons saam met die tent getrek om die Woord tot by mense te bring. Ek en my niggies is van kleins af met ons kopdoeke of barette, Sondagrokkies en kouse en al agterna. Ons het gekoordans voor die Here laat die stof so staan!
Toe ons groter was, het ons voor in die tent gaan staan en sing. Só is ons ingeoefen om deel van ’n kerk se aanbiddingspan te wees. “Ek groet elke broeder en suster in die wonderlike Naam … Dis vir my ’n voorreg om in die huis van die Here te wees …” begin die volwasse broers en susters hulle getuienisse passievol met hulle medemens deel.
Ek onthou hoe ons, toe ons so net-net begin raak het aan tienerwees, ook vorentoe geroep is om te kom getuig. Jy begin huil sommer al direk ná jou groet oor die goedheid van die Here, maar dis eintlik omdat jy so verskriklik op jou senuwees is om voor al die mense te praat. Boonop raak jy halsoorkop verlief op die wedergebore jong man wat die pastoor se Bybel dra. En wanneer die pastoor se vrou vir jou vra om met iets te kom help, wil jy jou morsdood skaam. Tydens die erediens op Sondae onderstreep jy getrou die versies in jou Bybel. Die Here weet en sien alles; so ook die pastoor.
Die Here en die pastoor het immers ’n pact. Hulle vertel vir mekaar goed. Ek het mos gehoor hoe hy profeteer vir suster Sus en broer So wat hulle rokery moet laat staan. Die hele week bid jy jou as af sodat die Here tog nie volgende Sondag voor al die mense jou sondes aan die pastoor moet openbaar nie.
Een van die lekkerste dinge van die tentbediening vir my was die lang ritte tot by die volgende dorp waar die tent ’n week of drie opgeslaan is. My ma vertel hoe een van my ooms ook alewig en oral met my rondgery het toe ek nog ’n baba was. Vandag is ek steeds baie lief vir ry. Soms doen ek dit om myself te kalmeer wanneer ek angstig of bekommerd is; ander kere sommer net wanneer ek lus is om te ontspan. Om te ry is in my DNA ingeskrywe en ek doen dit sommer met my oë toe.
Ontspan, Sanna, ontspan! Ek bedoel dit nie letterlik nie.
Die kerk is waar ek my eerste stories moes vertel, deur my getuienis. Dis ook waar ek die eerste keer op ’n verhoog moes praat, en waar ek vir die eerste keer vir en voor ander mense gesing het.
In die kerk het ek besef ’n mens kan liedjies skryf. Dit was supercool, want mense het soms hulle eie gospelliedjies gesing. Tyd vir skaam of bang wees was daar nie, want met opelugdienste het die kerk die woonbuurte skaamteloos ingevaar! Tyd vir vol fiemies wees was daar nog minder …
As deel van ons werk in die tentbediening het ek en my ouers in ’n stadium in Worcester se Driebruggies-plakkerskamp vir die grootmense en kinders dienste gehou. Ek was toe seker so tussen 8 en 11 jaar oud. Elektrisiteit was daar nie, net die Lig in ons. Daar was geestelike en liggaamlike nood en hongerte. God se voorsiening en ons dankbaarheid. Koue, reënnat winters en die warm gasvryheid en liefde van die Driebruggies-mense. Ons kitaar, ons Bybels en ons God.
“Dis die bloed wat my verlos het toe ek diep in die sonde was,” het ek saam met hulle gesing. Eers jare later het ek regtig verstaan wat dit presies beteken en hoe nodig ék dit het. Daardie tyd het ek nog net geweet dié koortjie kan so lekker koordans.
* * *
In my tienerjare in Worcester het ek vir die heel eerste keer bewus geword van die draad, die tekstuur, van my hare. Dis ook daar dat ek die eerste keer my hare probeer ontspan of relax het. Ek wou dit doen, want die res van die meisies by die skool het gepraat oor hoe hulle hul hare relax.
Daar was nie regtig fout met my hare om mee te begin nie. Die uiteinde was dan ook dat dit meer stokstyf gestaan het as wat dit grasieus gehang het.
Ek het gou agtergekom al wat ek eintlik nodig het, is ’n swirlkous. Om, in die woorde van ’n familielid, die ergste “bruin” daarin te tem.
Dis toe dat ek besef die Indiërhare uit my oupa se bloedlyn gemeng met die wit hare uit my ouma se bloedlyn het nogal ’n orraait kombinasie met en van die Clora-hare gemaak. Later vra ek my oupa so terloops weer oor sy herkoms uit.
“Van my mense was ook Maasbiekers,” vertel hy my. Nóg hy nóg ek het ’n clue gehad wat ’n Maasbieker is. Dit dan daar gelaat.
Feit is, my hare is my eie. En nes ek, is dit gemeng.
Vandaar die swirlkous.
In die verlede was die swirlkous sommer ’n stuk van ’n ou gebruikte sykous wat bruin vroue saans op hulle koppe gesit het. Eintlik om die hare gedraai het, om meer akkuraat te wees. Om en om geswirl. Deesdae gaan koop ons soms ’n nuwe kous bloot om dit vir ’n swirlkous stukkend te knip. “Sarah, jy moet ophou met die swirlkous loop slaap. Dis nie sexy nie,” hoor ons soms die getroude vroue vir mekaar sê.
Die swirlkous is nie sexy nie. Of suksesvol nie, veronderstel ek.
Wanneer ’n mens aan swirlkouse dink, is die eerste ding wat in jou kop opkom nou nie juis ’n suksesvolle besigheidsvrou, polisievrou, joernalis, onderwyseres of regter nie. Dit word nie eintlik met sukses geassosieer nie.
Vandat ek die wonder van die swirlkous ontdek het, is ons egter weinig saans van mekaar geskei. Toe ek nog ’n omroeper by RSG was, het ek een Saterdagoggend vir die luisteraars gevra wat die twee items is waarsonder hulle nie sal kan reis nie. Baie het lekker gelag toe ek oor die lug sê ek gaan nêrens sonder my swirlkous nie. Nee, niggie, kyk, ek weet van beter!
My hare sal nou wel nie die volgende oggend soos ’n voëlverskrikker s’n lyk as ek daarsonder gaan slaap nie, maar ek sal dit beslis weer moet reg zoesh voor ek by die deur uit stap. En soms is dit net te veel werk!
“Jy moet nou regtig dié swirlkousgedagtes van jou los. Ons is nou op ’n vlak waar ons darem alternatiewe kan bekostig,” het ’n oudkollega eendag vir my gesê.
Is die swirlkous dat net vir mense op ’n sekere vlak bedoel? Stereotipering op sy beste. Die boksies darem waarin ander ons plaas en waarin ons ander plaas.
Vir sommige gaan dit oor die feit dat jy ’n swirlkous dra; vir ander gaan dit oor die soort motor waarmee jy ry, die buurt waar jy bly, die taal wat jy praat of hóé jy dié taal praat.
Soms gebruik ons egter die boksies waarin ander ons sit om weg te kruip. As dít is hoe ander my sien, is dit seker hoe ek regtig is, dink ons. Erger nog, dan is dit seker hoe ek bedoel is om te wees. Een, twee, drie, word boksies gerieflike wegkruipplekke, verskonings vir luiheid en vestings van vrees. Voor ons ons kom kry, vanuit die gemaksone van ons klein boksie, steek ander s’n ons dwars in die krop.
* * *
Ek het skool ná graad 8 gelos om matriek deur die pos te doen. Graad 9, 10 en 11 sommer heeltemal geskip. Ek was vas oortuig ek kon dit doen, en ek het. Baie mense het my egter toe, op grond van hulle persepsies, in ’n boksie gesit. Die meisie met die potensiaal wat haar toekoms so weggooi. Selfs ’n paar onderwysers het my heftig gekritiseer.
Die storie het my ore bereik dat ek kwansuis swanger is en dís hoekom ek die skool gelos het. ’n Jaar of twee later het ek en my laatlam-boetie in die dorp rondgeloop. Hy is twaalf jaar jonger as ek. My ma het hom spesiaal van die Here afgebid en sy het so ’n mooi getuienis van hoe die Here hom én sy naam vir haar gegee het en als.
’n Laerskoolvriend het hardop laat hoor: “Jenna-Leigh, jou kind is darem nou groot!” Ek het probeer verduidelik en is voor almal uitgejou. “Die hele wêreld weet, so vir wat hou jy jou so lekker?” Ek was toe nog jonk en, anders as vandag, so onseker van myself. Ek het seergemaak en verneder gevoel. Die opinies van mense het toe nog vir my meer saak gemaak as die opinie van God.
So dink ons ons ken die stories agter mense se spreekwoordelike swirlkouse. Dít wat hulle in ons oë kleiner en nietiger, meer onnosel en minder geskik, as ons en ander mense maak. Wurmpie-like, soos iemand wat ek ken, sou sê. Die dinge wat hulle uitsluit uit ons kringe en wat maak dat hulle tog nie ons beroep, ons buurt, ons velkleur, ons uitspraak, ons tyd, ons respek, ons vlak van lewe of ons sukses verdien of waardig is nie.
So al asof ons God is en alles wat ons is en het nie nét uit genade is nie, besluit ons wie hoort waar en wie nie. Wie kwalifiseer vir wat en wie nie. Soms tree ons op asof ons doer bo was toe God die res hier onder gemaak het. Ek ken mense wat dit doen. Ek het dit self gedoen. Ek betrap my af en toe dat ek dit nou nog wil-wil doen.
Ons verbeel ons dat Hy wat uit liefde vir die hele wêreld gesterf het saam met ons minagtend op die spul doer anderkant neersien. En dit terwyl Hy, so wil dit voorkom, ons diekant persoonlik onderrig het in die kriteria vir menswees en vir waardigheid.
Kom ons bemoedig mekaar en word ’n slag eerlik.
Ek en jy is nie met kliptafels bergaf gestuur nie. God se vereistes en kriteria vir waardigheid was nie daarop uitgekerf nie. Hy en ons was nie alleen daar en die ander doer anderkant nie. Al wat ons weet, is wat sy Woord ons leer. En wat sy Woord ons leer, is wat noodsaaklik is. Die Here bo alles en ons naaste soos onsself.
As ek oor iets móét toyi-toyi, laat my toyi-toyi lieflik wees en laat dit loflik wees. Laat die plakkate uitroep: “Jesus lewe!” Hý besluit en Hý regeer … en basta met die res. Wie my join, join my én my swirlkous. Hy het ons gemaak en ons is Syne!
Krities en kras besluit ons sommerso oor mense se toekoms en hulle vlak in die lewe. Gits, ons hoef nie eens hulle hart te ken of hulle niere te toets of in die verborgene te kan sien nie, want ons is cool en connected. Ons kyk sommer net so (die vinger klap) na die kous op hulle kop, die klere aan hulle lyf en die huis waarin hulle bly. Ons luister na die “ô” in hulle “ô” en die “ê” in hulle “ê” en ons kan hulle klassifiseer. Net so (en weereens klap die vinger). Ons is “net so”-mense, ons twee. Ons is instant, kits. Gou om te oordeel; stadig om te begryp.
Hel, pêl, wat praat jy?! Ons weeg, klassifiseer en bevind sommer onsself.
Net so dink ons soms niks van wie ons is nie en alles van wie ander is. Of ons dink alles van onsself en niks van ander nie. Daar’s ’n eenvoudige waarheid wat ek dink ons te gou vergeet: om ander te seën moet ons self geseënd wees.
Seëninge het nog nooit in goeters opgesluit gelê nie. Dit lê oop en bloot in die Een wat seën. Vir die hele wêreld om te sien. Ek en jy sien nie, vir die doodeenvoudige rede dat ons weier om te sien.
Die goeie Herder dek ’n tafel; minus Hom bly almal onversorg en onversadig. Herderloos en rigtingloos strompel ons van die een papbak na die ander. Verruil ons die een stukkende stoel vir die ander, die een harde lêplek vir die ander. Ons probeer alles in ons soeke na die een ding wat pas.
Die laaste woorde wat my ouma Driena op haar sterfbed vir ons gesê het, was dat ons te hard probeer. Dis wat sy gesê het. Niks minder nie en niks meer nie.
En dis presies wat dit is. Go, Ouma! Ons probeer dié ding en ons probeer dáái ding, juis omdat ons nie weet nie. Ons ken nie die antwoord nie. Pleks dat ons stilsit en hoor. Christus, die Woord. Hy is die antwoord. Hy weet.
Daar is so dikwels hierdie leë ruimte in ons lewe en ons doen ons bes om dit met aardse goeters te vul. Met mense. Met alles behalwe die Waarheid, om die waarheid te sê. Dit het ek in my jong lewe uitgevind. In plaas van probéér, moet ons Christus toelaat om die waarheid in ons lewe te spreek en dóén wat ook al in ons lewe nodig is om te doen. Dit wat Hy doen, doen Hy die eerste keer reg. One shot, soos ons kleintyd gesê het.
Ek het nodig om gelei te word. Dit het ek ontdek. Ek het nodig om deur die Waarheid gelei te word.
’n Rukkie gelede het hulle in ’n tydskrifonderhoud vir my gevra waar ek my selfvertroue kry. Ek kry dit uit Psalm 139:17. “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!” Wat nodig is, is dat ek my gedagtes oor myself in pas kry met God se gedagtes oor my. My selfvertroue stam uit die wete dat Hy my herder is. Die guns van die Here agtervolg my en sy seën rus op my.
Hy het my gemaak; ek is sy idee. Die feit dat ek op die aarde is, is sy idee. Dit wat ek doen, was sy idee. Daarvoor het Hy my spesifiek en spesiaal toegerus. Hy koester magtige gedagtes oor my. Wat waar is van een van ons in die koninkryk van God, is waar van ons almal. Dis ’n waarheid waaraan ek vasklou.
In hierdie gees sit ek my swirlkous vanaand weer op my kop. Miskien doen jy dieselfde, wat jou spreekwoordelike swirlkous ook al is. Miskien borsel jy jou skewe tande of klim jy in jou flenter kar. Dalk ploeter jy deur jou halfpadhuwelik. Draai jou swaarverdiende sente sewe maal om.
Hoe dit ook al sy, ons doen dit met die wete dat dít nie bepaal wie ons is of wie ons vorentoe kan wees nie. God is genadig. God is goed. Wat Hy van ons sê, is waar. Ongeag wat agter en onder my swirlkous skuil, sal ek altyd die opsie hê om keuses uit te oefen. Op enige oomblik en in enige situasie kan ek besluit om vir Hom te leef. Om die lewe wat Hy vir my bestem het hier op aarde uit te leef. Die oomblik dat ek dit vir Hom sê, word Hy my herder. Goedheid en guns sal my volg. Dag een, dag twee, dag drie.
Al die dae van my lewe.
Ek sal in die huis van die Here bly.
Tot in lengte van dae.