Читать книгу Goedheid en guns - Jenna-Leigh February - Страница 5
Inleiding
ОглавлениеLaat ek hierdie boek op ’n gepaste – amper sê ek gewyde – noot begin.
Goedheid en guns, liewe leser. Goeiedag!
Hoe wonderlik dat ek ’n greep of twee uit my lewe met jou kan deel. Dankie dat jy kies om stukkies van my hart in dié boek raak te lees.
In die boek wat jy nou in jou hand vashou, skryf ek nie net my storie neer nie, maar veral God se storie deur my lewe. Dit is óns storie, myne en Syne. Soos ’n slimgeleerde mens eenkeer in Engels gesê het: my His-story.
Hierdie boek is ’n persoonlike getuienis wat ek deel met die vurige hoop dat dit jou sal herinner aan God se goedheid en guns wat ook vir jou beskore is. Ongeag wie jy is of waar jy is.
Ek het ’n baie sterk vermoede dat die verskillende aspekte van my verhaal nie so uniek is nie. Êrens is daar iemand anders wat deur dieselfde situasie struggle of ’n emosie beleef wat ek ook iewers tydens my lewensreis ervaar het.
Ek deel die ligte, die intense, die pynlike en die ongemaklike oomblikke van my lewe met jou. Maar bowenal deel ek die wonderlike grootheid-van-God-oomblikke, met die uitdruklike begeerte dat jy dit ook in jou lewe of in die lewe van iemand naby aan jou sal kan raaksien. My wens is dat jy jou met my of mense soos ek sal kan vereenselwig.
Wat jy hier gaan lees, sal dalk nie altyd wees wat jy van my verwag het nie. Dalk sien jy my op die TV of hoor my oor die radio. Miskien verbeel jy jou sommer jy het eendag vlugtig iets oor my in ’n artikel gelees. Dalk wonder jy wie op aarde ek is en hoekom ek ’n boek oor my lewe wil skryf. Hoe dit ook al sy, miskien sien jy my nie as iemand met ’n stukkende, sondige verlede waarvan God my moes red nie.
Maar dit is die werklikheid, nie waar nie? Dat ons ons soms aan mekaar verwonder en ’n oordeel vel sonder om die ander persoon se storie te ken.
Toe sommige van my vriende hoor van dié boek en wat ek daarmee beplan, was hulle heel eerste vraag aan my: “Is jy nie bang die mense veroordeel jou nie? Is jy nie bang hulle hou dalk nie meer van jou nie? Of dat die tonge nou gaan klap nie?”
Ek sou jok as ek sou ontken dat ek ’n fraksie van ’n sekonde nadat God vir my die opdrag gegee het om hierdie boek te skryf, aan die gevolge gedink het. Al wat ek weet, is dat dit ongehoorsaam van my sou wees om nie sy opdrag uit te voer nie.
Ek sal eerder met mense se oordeel saamleef as met die wete dat ek aan hierdie uitdruklike opdrag van God ongehoorsaam was en met die gevolge daarvan.
Die laaste ding wat ek wil oorkom, is om eendag voor God te gaan staan en te hoor dat Hy my graag aan iemand wil voorstel. Ek wil nie beleef dat ’n kosbare mens dan voor my kom staan en sê nie: “Hallo, Jenna-Leigh, ek is die persoon vir wie God destyds deur jou onvertelde storie wou bereik.” Of erger nog, dat iemand dié woorde uit die hel vir my sou skree. Dít wil ek regtigwaar nie hê nie.
Dit is belangrik om te verstaan dat God nie vir my ’n gesindheid van vrees gegee het nie. Wrintiewaar, ek het nie vir niks geleef deur alles waarvan ek in hierdie boek vertel nie! Nie sonder dat ek vir iemand anders met my verhaal hoop kan gee nie. God vermors nooit ons trane nie. Dit het ek eendag êrens gehoor en daarop sê ek amen. Nie effentjies nie, maar hardop en duidelik.
Wat my opgewonde maak, is die feit dat ek weet God sal in sy groot genade hierdie boek, op watter grootse, eenvoudige of weird manier ook al, op die regte tyd in die regte hande en onder die regte oë laat beland. Daarop wed ek, spreekwoordelik, my laaste tien sent.
Soos Martin Luther King destyds, het ek vandag ’n droom. Hierdie droom is dat ek iemand êrens sal kan aanmoedig om alles wat agter sy of haar spreekwoordelike swirlkous skuil, eerlik vir iemand êrens te wys. Al is daardie “iemand” net een mens.
Doen dit om die ander persoon te inspireer en te motiveer, en om onversetlik te weier dat mense se verlede hulle keer om hulle roeping vandag uit te leef. Ek droom van mense hardgebak soos Gideon. Helde wat bewend in die broek maar nogtans in God se krag die laaste vestings van die vyand flenters stoomroller.
Die allerbeste is vir ons beskore, of dit nou met ons beroep, ons persoonlike lewe of ons geestelike lewe te doen het. Dit is ons erfporsie. Al wat ons moet doen, is om dit regmatig vir ons toe te eien terwyl ons die Here gehoorsaam dien.
So waar soos “die waarheid en niks anders as die waarheid nie”, só het ek hierdie boek probeer skryf. Al was dit hóé moeilik. Die waarheid maak ons vry, lees ek in sy Woord. Vir my én vir jou.
Vry van al die getwyfel oor sy bestaan en die gewonder oor sy betrokkenheid en omgee in ons lewe. Vry van die boksies waarin onsself en ander mense ons plaas. Vry om Hom te volg terwyl dit wat ons s’n is – sy goedheid en guns – ons ons lewe lank volg.
Voorwaar, voorwaar! Dit gaan goed met die mens wat op God vertrou.
Jenna-Leigh February