Читать книгу Liefs nie op straat nie - John Miles - Страница 3

LUCY

Оглавление

Toe ek ’n kind was, het ek nooit gemerk dat baie bome iewers in Augustus blom nie. Daar was gewoon bome met blare en bome sonder blare. (Dié sonder blare onthou ek net slegter want hulle het niks gemeen gehad met moerbeie, lukwarte en lemoene nie.)

Ek het nooit geweet of die vorige somer warmer was of nie, of dié jaar se winter meer of minder reën gegee het as enige somer nie. Alles was maar daar, amper tegelyk. En as somer en winter onmoontlik kan saamval, dan was dit net dat koud vóór hom geen ander tyd geken het nie, dit was net koud. Of: warm.

Só was Lucy ook. Sy was daar. Sy was altyd. Vandag kan ek sê dat my pa en ek baie jare, en so ver terug as wat my geheue kan onthou, by die Smiths loseer het. Oú Smith was Lucy se pa.

Hulle het my kos gegee en saans het ek my pa gesien. Ek was bly dat my pa graag gesels het. Dan kon ek ook langer by Lucy bly, totdat sy slaap. Ou Smith het haar baie bederf en ek was lief vir haar. (Sjuut, Pa, Lucy slaap.)

Oubaas Smith se gesig kan ek net van die kant af onthou. Terwyl hy wyn drink, want Lucy het weer verjaar. (Jy’s elf vandag, Lucy, méér as wat ek vingers het. Lucy kyk en glimlag.)

Van Ma Smith sien ek net ’n korpulente stap, die gang af, en die mond wat sê, skeef na regs: Sjoe. (Ek en Lucy sit onder die moerbeiboom, dis warm; haar kop wat bewe.)

Van my pa onthou ek veral die stem. Hy het saans vir ons Bybel gelees, en gebid. Sy stem hoor ek, maar ek kan nie meer dink wat hy gesê het nie. (Sjuut, Lucy.) En hy moes my gehelp het met my Bybelkennis-eksamen, maar ek kan nie eens onthou watter foute hy gemaak het nie. (Toe maar, Lucy, nou-nou kom ek weer.) Hy het my pak ook gegee omdat ek gevloek het by die toe hek, en een keer – seker per ongeluk – geskop omdat ek die latrinebankie so kon natmaak. Maar ek weet nie presies hoe hy gelyk het as hy straf nie.

Tog onthou ek hom presies, presies, toe hy eendag vir my en Lucy bruismelk in ’n bruin gemmerbierbottel van die werk af gebring het. Vir my het juis die bruin glas verhoed dat die geur van die bruismelk verslaan. Soos wat ’n termosfles maak met warm tee. My pa het lank stil vooroor gebuig gestaan en kyk hoe Lucy vir ons skink. Sy snorpunte het gebewe (amper soos Lucy se hande), want hy het baie versigtig geskeer sodat sy snor net op sy bolip sou groei. (Lucy se klein hande en kort, dik vingertjies.)

Die huis wat Lucy en ek geken het, was dié na die agterplaas se kant toe. (Ons sit onder die bome en ek voorspel vir haar presies waar die volgende lukwart of lemoen val; haar kop bewe soos sy lag.)

Toe het die tyd aangebreek. Ons was veertien toe Lucy dood is. Alles het begin verander, en verander nog steeds. Ons het haar bederf, maar sedertdien bederf die grond haar. Vandag kan ek verstaan. Sy was altyd baie kleiner as ek behalwe haar groot kop, twee keer dié van myne. Sy kon feitlik niks uitrig nie, haar hande het só gebewe.

My pa het vir my ’n fiets gekoop. En die tyd wat vir my begin het, hou steeds aan met word. Ek is jare en jare gelede weg uit Pietermaritzburg, maar elke jaar as die natuur onrustig word en baie bome blom, ruik ek Pietermaritzburg se bome. Sommige het blare. Van ander moet dit die bas wees, of die takke.

Pietermaritzburg se bome. ’n Fiets staan in die straat om ’n hoek en lyk of dit wil-wil gly. Ma Smith draai om by die voordeur. En op die stoep bly my pa so sit met sy voet ingetrek. Langs hom sit ou Smith wat wil sluk, sy hand met die glas driekwart na sy mond, sy ander hand op sy bril in sy sak. Ek sit skuins op die stoepmuurtjie met net-net die smaak van gemmerbier in my neus.

My pa hou sy voet so ingetrek, maar buig net so effens vooroor. Sy kaal bolip bewe. Ek is dom van my eie verlamming want ek sien hoe hy gaan fluister: Lucy is dood.

Liefs nie op straat nie

Подняться наверх