Читать книгу Liefs nie op straat nie - John Miles - Страница 5

VOORGEVOEL

Оглавление

Ek het die man die straat sien oorsteek, van die kafee se kant af. Hy het óór die voor getrap, óp na die sypaadjie en moet ’n blomknop of twee sien lê het – die vorige nag het die wind nogal erg gewaai – want hy het vinnig opgekyk na my tuin en toe sy oë die groot struik vind, kon ek sien hoe vorm sy lippe die vier sillabes van kamelia.

Ek ken sy gesig al. Daagliks kom hy van die kafee se kant af as ek my tee staan en drink, hier voor die venster. En elke keer volg ek sy figuur se stokkerige bewegings deur die ou ruit, half onbewus, terwyl ek besig bly met een of ander formulering vir my proefskrif. Dis amper ’n soort dwangaksie om so te speel met die distorsies van die ou ruit: Ek draai my kop net baie effens en merk hoe sy voete buite verhouding is met die res van sy lyf; dan dans sy kop weer glaserig ’n ent voor sy lyf uit.

Maar dié keer het ek my werk geheel en al vergeet: hy ken dus ook die kamelia. Vir wie sou hy werk? Hy was nogal goed versorg. Ek het gewonder of hy Sotho of Zoeloe is. En hy ken ’n kamelia.

Ek het dadelik besluit om ’n geselsie met hom aan te knoop en het my reeds begin wegdraai van die ruit … in my spore verstyf. En net daar bly staan. Hy wou net-net by die volgende huis wegraak maar met my effense beweging van so ewe het hy skielik oor die hele onderkantste helfte van die ruit versprei. Hy’t die kamer ingestroom met sy kleur, op my stoele gaan sit, deur die naslaanwerke vir my proefskrif geblaai en gevra of hy sy pyp mag stop.

Liefs nie op straat nie

Подняться наверх