Читать книгу Liefs nie op straat nie - John Miles - Страница 4
LAPPIES, KAN JY MY HOOR, LAPPIES?
ОглавлениеOns het tydsaam die straat oorgesteek terwyl ek grondboontjies geloop en kou het op die wysie van “Daar kom my pa en my ma en my gibbes aan”. My broer Lappies was twee treë skuins agter my. Ek kon hoor hoe hy saggies “Die hand vol vere” fluit en ek moes die heel tyd konsentreer om nie vals te kou nie.
Langs die deur van Rasmus se winkel het ’n seun van Ben Scholtz in die sonnetjie gesit, presies op die plek waar Piet verlede Woensdag gevang is. Ben Scholtz se ligste seun, omtrent net ’n rapsie donkerder as Lappies. Hy het sy arm gebuig voor hom uit gehou om die son van sy oë af te keer sodat hy heeltemal agter sy kniekoppe, bene en voorarm was. Maar die sonnetjie was so flou en dit het gelyk asof hy my en Lappies uit sy oë wou hou.
Lappies het sy voet gelig na die sypaadjie byna twee treë links agter my en net toe kom Ben Scholtz by Rasmus se deur uit en kort agter hom sy suster wat met Frans getroud is. Ben het die laaste treetjie voor die deur misgetrap, só goed wou hy na my en Lappies kyk. Skynbaar het sy geheue hom in die steek gelaat. (Hoe lank koop hy nie al by Rasmus nie?)
Sy suster het hom in die rug gestamp met haar ken en die rugkant van haar een hand, haar ander hand het liggies geraak aan die kosyn van Rasmus se deur. Sy het nie weer na ons gekyk nie maar vinnig skuins oor die straat in die rigting van die poskantoor geloop. Ek kon hoor hoe haar treë korter word toe sy begin hardloop.
Dit het gelyk asof Ben ons wou groet, maar sy mond het sonder ’n geluid oopgeval en ek kon drie van sy tande tel net toe Lappies die tweede draai van “jy’s te laat ou maat” saggies begin vat.
Ek het Ben en sy seun geïgnoreer en al met die sypaadjie aangestap met Lappies links aan my binnekant.
Toe ek my mond boontoe hou vir nog ’n halwe hand vol grondboontjies kon ek sien hoe die bene van Ben Scholtz se suster by die poskantoordeur indraai. Lappies het skielik na ’n nuwe wysie oorgeslaan, so skielik dat hy my kouery byna van stryk gebring het. Want ek het ook onthou hoe dié wysie ons teken in die kleintyd was toe ons saam in die donker, somervrugte gaan steel het. Ek deur die heining en hy op wag met sy wysie …
Die sout van die grondboontjies moes my dors gemaak het want ek het begin om kort-kort sweetdruppels van my bolip te lek met die punt van my tong.
Op die leë erf, eintlik twee, langs Rasmus se winkel was vyf seuns aan die baljaar. Maar toe hulle ons sien, het hulle stil gebly, doodstil en gaan staan. Die soutkorreltjies wat van die grondboontjies aan my hand agtergebly het, het ek met die hand se eie vingers afgevryf.
Ek, het die Baas gesê, ék sal dan maar met hom afreken. En nét Lappies moes saamkom. “Om te help”. Dis beter só. Maar niemand anders behalwe ek en die Baas moes daarvan weet nie. Nie vóór die oggend nie. Ek kon dit nog steeds nie glo nie. Nie van hom nie. Dat dit hy is wat heimlik Piet se naam in verkeerde ore laat kom het. Nou sal Piet baie lank moet sit, agter die stokkies. En ons is gebreek. En boonop: Piet is die Baas se broer.
Langs die leë erf is die koöperasie. Dis Vermeulen wat vinnig by die deur uitgeloer het. Almal het nou geweet ek en Lappies is aan die kom. Die Baas het weer georganiseer soos min. Ek het hom gesê ek verkies dit so, dit was dan ook die voorwaarde waarop ek die hele ding sou doen. Ons mense moes vanaf ’n afgespreekte tyd begin weet sodat ons hom vir laas kon bring om almal te groet.
Toe ons by die groot vensters van die koöperasie verbyloop, kon ons die stil gesigte sien van mense wat ons goed geken het. Frans se ma was al een wie se hand nie stil was nie. Haar gesig was ook na ons gedraai maar die oë was tóé en met haar een hand se vingerpunte, almal bymekaar, het sy eers op haar voorkop gedruk, toe op haar linkerskouer, haar regterskouer en in die middel van haar bors. Sy’t ons van kleins af geken. Langs haar het Frans gestaan, omtrent net so oud soos Lappies. Sy lippe het effens gebewe, byna asof hy saam met Lappies wou begin fluit.
Ek het na regs begin loop, eers my een voet laat sak vir die laer vlak van die straat, en Lappies het saam met my beweeg. Om die straat weer te kruis na die poskantoor se kant toe.
Die Baas het vanoggend my en Lappies beveel om op die bestemde tyd met die hoofstraat langs na die hotel te loop, na Mike se kamer. Dít was die beste plek vir afrekening, in Mike se eie kamer.
— Ek sal sorg dat Mike daar is, en alleen, het die Baas ons twee verseker. En doen julle werk goed, die donder verdien dit.
Nog voor ons die oorkantste sypaadjie kon bereik, reg voor die poskantoor, en ek my hand pas weer vol grondboontjies uit my baadjiesak gehaal het, het iemand, seker Ben Scholtz se suster, vinnig die een witgeverfde venster van die poskantoor toegedruk. Lappies het “Goodbye Eileen” begin fluit. Voor die ander venster het die twee seuns van die Baas ons dopgehou. En reg in die deur het die dominee omgedraai, terug toonbank toe.
Langs die poskantoor is Eddie se hotel. Die kroeg was al oop toe ons met ons rubbersole op die gruis verby begin tree het.
Ek het gedink aan wat in Mike se kamer sou moes gebeur. Want as ek sou misluk en dit nie kon doen nie, sou die Baas self oorneem. En dis juis sy eie broer wat die gelag van die verraad moet betaal. Die Baas sou oog om oog, ledemaat vir ledemaat na die pyn uit sy kraffie soutsuur bring.
Toe ons regoor die kroegdeur kom, het ek en Lappies ons koppe skerper gedraai. Ons kon vér inkyk want iemand het bakstene langs die swaaideure gepak om hulle oop te hou. Almal was daar, net nie Mike nie. Soos afgespreek. Die gesigte was uitdrukkingloos behalwe dié van die Baas wat half met sy rug na ons toe, met sy een arm op die toonbank gelê het. Dit het gelyk asof hy nie juis lus gehad het om óm te kyk nie, maar hy het sy glimlag gelag, seker as aanmoediging bedoel. Ek kon nie Lappies se gesig sien nie want hy was aan my buitekant, maar hy moes onhoorbaar geknik of geglimlag het, want hy het net omtrent vier sekondes lank sy gefluit onderbreek.
Op die verste punt van die stoep het Frans op ’n rottangstoel gesit en eers toe hy opstaan, het ek die ou man gesien wat met toe oë onderlangs sit en prewel het. Hy het sy oë oopgemaak maar glad nie in ons rigting gekyk nie en sy hele houding was gespanne. Dit was my en Lappies se pa maar ek kon hom skielik nie goed sien nie, ’n sweetdruppel het van my voorkop in my oog geloop. Toe ek my baadjiemou oor my oog vee, is die pulp van die hande vol grondboontjies in my droë keel af. Maar Lappies het rustig aangehou deur sy tande fluit.
Ek het geweet hoe ontsettend naby Mike se kamer was toe ons by die sydeur wou indraai. Op dié oomblik het Lappies ’n vinnige tree gegee en vóór my in die gang ingeloop.
En was my plan so goed? Ek het gesê liewer onverhoeds betrap – dis beter so, vir ons almal – maar hy moes tog kans hê om sy mense te groet. Hoe kón hy verraad pleeg? Tog sal ek sy pap gesig vergewe. Ek sal daarop aandring om, na alles afgeloop is, ’n rukkie alleen by hom te wees. En ek het ook geweet dat ná die jare saam in die groep die stilte net te veel sal word. Maar Mike sal tog ’n radio in sy kamer hê. Ek sal dit sag instel en speel om nie sy stilte te kan hoor nie.
Ons was reg voor die deur. Lappies het geknik en in een beweging die deurknop gedraai, die deur hard oopgestoot, só hard dat die laaikas agter die deur dit laat terugspring het. Ek was reeds half in die kamer en het die deur met my voet gestuit.
Ek het geweet die kamer sou leeg wees, die bed toegewyd opgemaak spesiaal vir iemand wat nie meer sou opstaan nie. Maar Lappies het vinnig omgedraai en toe hy verbaas na my kyk, en net wou begin weet, weet óns weet dis hý (Hy. Láppies. Hoe het jy, Lappies? Kón jy?), het die eerste haal van die loodpyp dwars oor sy adamsappel geval. Sy nek wou nog knak, ’n halwe tree verder terug van waar hy vir laas gestaan het, toe die lood oor sy skedelpet buig.