Читать книгу Liefs nie op straat nie - John Miles - Страница 6
BEN SÊ EINDELIK: O JA, PIETER
ОглавлениеBen groet die hond voor hy loop. Pieter wil hom bréék daaroor. Maar Ben antwoord
— Selfs dié wat daaroor lag, praat by wyle met dinge wat kan beweeg. Ek self praat nog nie met goed wat nie beweeg of nog nie kan beweeg nie. Beweeg is net ’n teken, sien jy. Dink bietjie na.
Pieter dink, as hy nie my oom was nie, het ek al lankal gesê loop bars. Wanneer sê hy dan tog iets van die hofsaak? Hy voel ’n los velletjie aan sy wysvinger, net langs die nael. Hy gaan staan, trek dit versigtig af. Ben loop verder en beduie in die wind. Pieter begin weer stadig loop terwyl hy sy ander vingers versigtig bekyk op soek na nog los stukkies bovel. Dis van die motorfiets in die koue.
As hy weer opkyk, sien hy hoe Ben heftig op die straathoek vir hom wink.
— Die bus wag al, skrou Ben.
Eers as hulle in die warm bus sit, hoor hy weer vir Ben
— in die natuur is wonderlik. Neem byvoorbeeld die uil. Daar’s mos ene wat gereeld bedags in my kantoor kom slaap. Saans wil hy natuurlik uit. Neem hom nou en bekyk hom goed as hy so houtgerus met sy gesmoelte op die rak sit. Let op na die groot voorsiening vir die oë. Jy sal sien sy gesig is ’n oopgesnyde appel. Kyk tog bietjie volgende keer. En die appel bring jou weer by die sondeval …
Daardie laaste stukkie het hy al gehoor, dink Pieter. Hoekom moet hulle stasie toe ry? Al die moeite. Waarom moet hulle nou juis dáár gaan eet? Hy wonder of Ben van die verkeersoortreding vergeet het. Hel, dán gaan hy bars. Ma het altyd gesê
— Jy spot so; wag maar, jy sal oom Ben nog nodig kry.
Deur die venster sien hy hoe die bus in ander vensters ry. Woonstelvensters, waar mense sit en eet. Winkelvensters. ’n Straathond ruik aan die kosyn van ’n vrugtewinkel.
’n Klein ou vroutjie het opgeklim en Pieter hoor weer Ben se gepraat
— Neem nou daardie tannie wat ingeklim het. Ons het netnou gepraat van die uil. Dié keer is dit die neus wat ooreenstem.
Pieter pomp sy oom met die elmboog en die busbestuurder kyk om.
— Dis die herhaling in die lewe wat ons moet raaksien, gaan Ben voort. Neem nou die dreuning van die dieselenjin wat hierdie bus aandryf. As jy nou op die plaas kom. Onthou ek het grootgeword op ’n plaas. Elke skree van die jakkals, die krieke, álles man, en ook die stilte. En dís die rede waarom die plaas ons, die Afrikaner, so getrek het: die romantiek van die stilte saans. Soos ons dit netnou gehad het oor die appel; die romantiek om die appel vir Adam en Eva. Maar vandag, as jy, Pieter, op die plaas kom en jy lê heerlik ontspanne in die bed, dan is dit die geklop van die dieselenjin wat jy hoor. Vir die boer se krag. En jy dink, goede, wanneer laas het ek so ontspan, luister net hoe lieflik klop daardie pomp. Hier hoor jy hom nooit nie, want hy vat jou werk toe. Sien jy, Pieter …
Almal kyk en luister. Pieter wens hy kan vloek. Hel, die Ben. Wanneer kom hulle by die stasie uit? Dan klim daar nog ook by elke halte iemand op. Ben hoef ten minste nie so hard te praat nie. Hy moes al lankal vinnig afgespring het. Maar hy móét hoor wat van sy verkeersoortreding gaan word. Dis tog ál wat hy by Ben gaan doen het. Hy wou net gaan hoor. Doodgewoon hóór, want Ben werk daarmee, hy sal hom tog kan sê.
’n Lang regop soldaat klim op, koop sy kaartjie. Hy trek sy jas uit en word maer, haal sy pet af. Sy kop is heeltemal kaal. Hy lyk soos ’n ereksie. Vir Pieter is dit duidelik dat Ben dit ook merk, want Ben bly stil maar begin skielik weer
— Daardie sersant nou byvoorbeeld …
Pieter weet nie juis waar en hoe nie. Die hele bus reageer. Die soldaat gryp Ben voor die bors en Pieter skree
— Los hom, hy’s klerk van die hof, moenie aan hom raak nie, hy sal jou hel gee. Los hom uit, hy’s klerk van die hof.
Die bus het stilgehou. Ben en Pieter klim vinnig uit.
Pieter voel tam in sy bene. Sy hande bewe. Ben bly ’n rukkie stil en sê dan
— O ja, Pieter, oor daardie verkeersoortreding van jou. Jou ma sê jy bekommer jou so daaroor. Vergeet dit, man, ek sal die lêer laat wegraak.