Читать книгу Die De Zalze-moorde - Julian Jansen - Страница 6

2

Оглавление

Eindbestemming: veilige De Zalze

DIE VAN BREDA-GESIN se familie en vriende beleef die ondenkbare: Martin en Teresa en hul Rudi-kind is grusaam en sinneloos om die lewe gebring. Henri en sy sus is nou weeskinders, en dalk sal net hy op die ou end die tragedie oorleef, want Marli se toestand is uiters kritiek. Die polisie sit pal by haar hospitaaldeur; nie eens haar heel naaste familie mag haar besoek nie.

Twee van talle vrae bly knaag aan die mense wat haar liefhet: Wie het hierdie dade gepleeg? En waarom?

In die dae wat volg, soek speurkonst. Zuko Matho en sy span onophoudelik antwoorde. Saam met die forensiese span en lede van die misdaadrekordsentrum is hulle dag en nag op die moordtoneel besig. Die straat word drie dae lank afgesper, die huis nog langer. Forensiese getuienis word noukeurig en tydsaam ingesamel. Die konstabel teken elke stap van die prosesse in sy boek aan.

’n Polisiehelikopter sirkel van tyd tot tyd oor die landgoed; ’n uitgebreide soektog word vanuit die lug gekoördineer. Dit lewer niks op nie. De Zalze bly wonder, dag ná dag.

Die gevestigde inwoners weet min van die Van Breda’s. Maar vriende en familie maak mettertyd hul harte oop en die ironiese verhaal van ’n gesin ontvou wat ná jare in ’n “veiliger” land besluit het om na Suid-Afrika terug te keer en hulle op hierdie gesogte veiligheidslandgoed te vestig.

’n Boesemvriendin van Teresa, Michelle Barnard2, vertel hul hegte vriendskap strek terug na voor die geboorte van hul kinders. Hul gesinne het in die ou dae oor en weer by mekaar gekuier. “My kinders was mal oor klein Rudi. Toe Marli gebore word, het alles weer om haar gedraai. Sy was die middelpunt van al die aandag.”

Michelle praat met heimwee van die tye saam met die gesin toe hulle almal destyds in Die Wilgers naby Pretoria gewoon het. “Al drie hul kinders is daar gebore; eers Rudi, toe Henri. Teresa en Martin was in die wolke toe die derde kind ’n meisie is. Van hulle was later in die Laerskool Anton van Wouw. Marli was die skattige een, Rudi die presteerder en Henri die eenkantkind.”

Haar hart is stram wanneer sy dink aan hoe haar vriendin vermoor is. Hulle het mekaar gereeld gebel. Die oggend van die moorde het sy Teresa vergeefs in die hande probeer kry en later ’n ander vriendin gebel. Dié sê toe: “Iets terrible het gebeur. Teresa, Martin en Rudi is doodgekap … met ’n byl.” Sy het langs die telefoon neergesak.

Sy verlang ontsettend baie na Teresa. “Ek kan steeds nie slaap nie. Ek dink heeltyd aan die aksie. Hoe vat jy ’n byl … en jy kap, kap, kap?”

***

Oor Martin is sy vriende dit eens: Hy het in sy werk uitgeblink en ’n vermoënde man geword, altyd omring deur sy vrou en drie kinders. Hulle was ’n hegte gesin. Goed versorg. Baie vakansies saam gehad, en duur. Die kinders was in die beste skole. Hy was streng maar liefdevol.

Hy het Rudell Holdings Trust gestig sodat goed na die kinders omgesien sou kon word die dag as hy en Teresa dalk nie meer daar sou wees nie. Rudi, Henri en Marli word as die enigste begunstigdes daarin beskryf.

Martin was ’n entrepreneur by uitnemendheid wat sy rykdom met die skuiwe van ’n meesterskaakspeler bekom het: op die regte tyd en vooraf fyn uitgewerk. Hy het geaard na sy pa, Bailey, op sy dag ’n ewe suksesvolle sakeman. Ook Martin se identiese tweelingbroers, André en Bailey, is groot sakelui, onderskeidelik in Silver Lakes, Pretoria, en Mbombela (Nelspruit), Mpumalanga.

Hy het aan die Hoërskool Kuswag op Amanzimtoti in KwaZulu-Natal gematrikuleer. Daarna behaal Martin ’n graad in siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch en sy M.B.A. aan die Universiteit van Pretoria.

Sakevriende onthou hom as ’n regte “visioenêr” omdat hy hoëpotensiaalgeleenthede in opvoeding, huissekuriteit en die eiendomsmark suksesvol ontwikkel het. Hy kon besigheidsgeleenthede uitsnuffel, sakeplanne saamstel en dit suksesvol implementeer.

Martin het in die direksie van verskeie beleggings-, eiendoms- en opvoedingsmaatskappye gedien, onder meer in Polokwane, Pretoria en Rustenburg, en van Smartscan, wat te make gehad het met die elektroniese beveiliging van masjinerie.

Skole en goeie onderrig was sy passie; daarom was Woodhill College in Pretoria, wat hy met groot sakevernuf opgerig het, sy trots. Die skool maak voorsiening vir onderrig van gr. R tot 12 en het ’n Christelike grondslag. Martin was in die wolke toe hy hierdie baba van hom in 2012 vir R185 miljoen aan Curro Holdings verkoop.

Die hoë misdaadvlakke in die land het hom snags laat wakker lê en hy wou oplossings help soek. So het hy medestigter geword van Netstar, wat die tegnologie verskaf vir die opsporing van gesteelde voertuie.

***

Dit was glo liefde met die eerste oogopslag toe Martin van Breda en Teresa du Toit in 1983 aan mekaar voorgestel word. Albei het in daardie stadium in Pretoriusstraat, Pretoria, gewerk. Sy was een van sewe kinders en het in Florida, Johannesburg, grootgeword. Met haar pa, dr. Rudi du Toit, se aanmoediging het sy rekenaarwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) gaan studeer.

Teresa het eers vir die IBM-maatskappy en later in die bankwese gewerk voordat sy en Martin in Pretoria getroud is. Elna Venter, wat hulle destyds aan mekaar voorgestel het, vertel die twee was vriendelike, hardwerkende Christenmense wat hul pad stelselmatig boontoe oopgewerk het. Die jong paartjie se gunstelingtydverdryf was om saam na John Wayne-flieks te kyk.

Martin het vroeg in hul huwelik al vir Teresa vertel hy sou wou hê dat sy kinders eendag by sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, gaan studeer. En dat hy self graag op die dorp sou wou gaan woon.

Die suksesvolle sakeman het sy gesin gereeld na nuwe en opwindende bestemmings geneem, maar hulle kon ook vakansies deurbring by hul luukse vakansiehuis in die gesogte waterkant-ontwikkeling Thesen-eiland op Knysna in die Suid-Kaap, uitspan by hul eiendom by Sabiepark in die Nasionale Krugerwildtuin, en tyd op ’n plaas, Rietfontein, deurbring of vriende daar onthaal.

Die Van Breda’s het jare lank in Waterkloofhoogte, ’n rykmansbuurt in die ou ooste van Pretoria, gewoon. Die dubbelverdiepinghuis op die hoogliggende erf met sipresbome en bougainvillea-rankplante al langs die lang oprit het ’n lowerryke tuin en ’n swembad.

Weens die kommerwekkende misdaadsituasie in sy geboorteland het Martin soms hardop gewonder of hy nie sy gesin landuit moet neem nie. Toe gebeur dit dat hy die Australiese filiaal van die Duitse eiendomsmaatskappy Engel & Völkers bekom. Die maatskappy het prima residensiële en kommersiële eiendom en seiljagte verhuur. In 2006 trek die gesin hul wortels uit en verhuis na Australië.

Hul nuwe tuiste is ’n elegante grys siersteen-dubbelverdiepinghuis in ’n boomryke straat in Claremont, Perth. Die woning met die wit vensterrame en drie spitsdakke lyk soos een uit ’n sprokiesboek. Daar is vier ruim slaapkamers, drie badkamers, ’n dubbelmotorhuis.

Martin se werkplek is in ’n moderne kantoorkompleks in die sakebuurt Subiaco. Hy het ’n baie besige sakelewe. ’n Nuwe lewe in die betreklik veiliger Australië maak hom opgewonde.

Die sesjarige Marli word by die Presbyterian Ladies’ College in die stad ingeskryf en Rudi (toe 12) en Henri (10) by die prestigeryke Scotch College.

Rudi se innemende geaardheid maak hom gou baie gewild onder sy klasmaats. Sy alewige glimlag is aansteeklik. Spoedig bou hy ’n groot vriendekring op. Hy deel fluks foto’s van gesellighede op sosiale media. Mettertyd word hy ’n toonbeeld van sukses: ’n uitblinker in rugby, spanroei, waterpolo en tennis, asook in sy akademie. Hy en ’n medeleerling en later musikant, Sam Fearon, word boesemvriende. Hulle pak heelparty dinge saam aan, soos om in 2008 op vyftienjarige ouderdom ’n uitdagende swemtog van 19 km in die seekanaal tussen Perth en Rottnest-eiland suksesvol te voltooi. Teresa is huisvrou en gaan gereeld saam met hulle swem of staan soms net op die strand terwyl hulle sorgeloos in die see baljaar.

Later behaal Rudi sy wetenskapgraad aan die Universiteit van Melbourne en pak sy meestersgraad in meganiese ingenieurswese aan. Hy sal in sy pa se voetspore kan volg. Ook die liefde blom vir Rudi nadat hy die aantreklike brunet Nicole East ontmoet.

Daarteenoor bring Henri sy tienerjare ure lank voor die rekenaar deur. Hy speel hoofsaaklik speletjies. Hy is gelukkig wanneer hy alleen is. Sy skootrekenaar en tablet is altyd by hom. Hy kuier weinig saam met vriende en het nie ’n meisie nie. Hy is ’n alleenloper met sy eie gedagtes vir geselskap. Nadat hy in 2012 aan Scotch College gematrikuleer het, laat hy hom vir ’n kursus in fisika inskryf aan dieselfde universiteit as sy broer.

Ná sewe jaar in Perth moes die gesin weer oppak. Engel & Völkers het ’n nuwe kantoor geopen in Mooloolaba, ’n waterfront-ontwikkeling noord van Brisbane aan die Sonskynkus in Queensland, en ’n kantoorhoof daar gesoek. Vir Martin is dit ’n nuwe uitdaging en sakegeleentheid.

Die Van Breda’s se nuwe woonplek is ’n indrukwekkende dubbelverdiepinghuis van ysterhout en klip op ’n erf van 3,8 ha in Boxstraat, Buderim. Aquila House, met sy twaalf sye, het ses slaapkamers onder en drie bo, elk met ’n badkamer en ’n veranda met see- en wouduitsigte. Op die erf staan honderde bome tussen die wuiwende olifantgras.

Marli is dertien jaar oud en in haar noppies met haar nuwe skool, Matthew Flinders Anglican College. Sy vertel op Facebook hoe gelukkig sy in haar nuwe omgewing is. Sy hou baie van die skooluniform: ’n wit hemp, strikdassie en blou-en-groen tartanromp, met ’n wit hoed en bandjie. Sy en haar vriende verken gereeld die stad en omgewing, baljaar op die strand of doen sommer net inkopies. Foto’s wat sy op sosiale media deel, vertel van die gesin se vakansies in Suid-Afrika en talle eksotiese bestemmings.

Toe sy op ’n keer vir ’n vriendin in Melbourne wou gaan kuier, kon sy nie gaan nie omdat sy tanddraadjies gekry het wat effens seer was, maar ook omdat haar pa pas van ’n sakereis in Suid-Afrika teruggekeer het. “Ek weet my pa is moeg om rond te vlieg en Henri moet vir sy eksamen studeer!!! … Grrrrrrr, ek wens ek kon!!!” het haar Facebook-inskrywing gelui.

Tydens ’n vakansie in Suid-Afrika skryf Marli hoe sy dit mis om by Club Med in Mauritius, waar die gesin ’n vakansie deurgebring het, te wees. “Dit was die heel beste plek vir ’n vakansie, meestal om ’n blaaskans van jou ouers te hê en net uit te hang saam met ’n paar cool kinders van oral in die wêreld.”

In ’n stadium het Teresa haar boesemvriendin Michelle en haar gesin na Buderim genooi – oor sy haar “ontsettend baie mis”. “Ek het reeds uitgewerk hoe julle moet vlieg,” het Teresa aan Michelle gesê. Maar Michelle se jongste seun het sy skouer ontwrig en die reis na Australië is weens die operasie uitgestel.

Ná twee jaar in Buderim moes Martin die Mooloolaba-kantoor sluit. Die impak van ’n wêreldwye finansiële krisis was glo die beweegrede.

Vroeg in 2014 doen ’n opwindende geleentheid hom voor aan Martin: om ’n privaat skool in Suid-Afrika te open. Hy besluit hy, Teresa en Marli gaan terug Suid-Afrika toe; Rudi en Henri moet eers hul studie in Melbourne voltooi voor hulle permanent kan terugkeer.

Hy en Teresa kies die Boland met sy wingerde en die polsende studentedorp Stellenbosch as hul nuwe tuiste. Martin se wens om eendag daar te woon gaan vervul word.

Die egpaar was baie opgewonde, vertel vriende. Martin het altyd gehoop dat Marli eendag op Stellenbosch sou studeer, soos hy jare tevore. Marli was ook opgewonde om terug te keer, veral omdat die gesin nader aan die families sou wees en sy hulle meer gereeld sou kon sien.

Martin het die huis in Buderim, asook hul motors, behou. Volgens ’n kollega het hy beplan om weer daarheen terug te keer.

Die prentjiemooi en eksklusiewe De Zalze-gholflandgoed was Martin en Teresa se eerste keuse. Die landgoed lê in ’n wynstreek wat die dorpe Somerset-Wes, Stellenbosch, Franschhoek, die Paarl en Wellington insluit. Hier word wêreldklaswyne gemaak. Die naam van die landgoed van sowat 300 ha met sy huise in ’n moderne Kaaps-Hollandse styl kom van die name van die plase waarop die landgoed ontwikkel is, Groote Zalze, Kleine Zalze en Die Vleie. Op die gholflandgoed is ook ’n werkende plaas met 120 ha se wingerde, asook olyf- en sitrusboorde.

Sedert sy totstandkoming in 2002 is De Zalze gevestig as een van die mees gesogte eiendomsbeleggings in Suid-Afrika. Daar is veiligheidskameras en sekuriteitswagte wat die landgoed dag en nag patrolleer. Goeie sekuriteit is duur; party huise hier het al meer as R16 miljoen gehaal. Die hele opset beïndruk Martin.

Die egpaar koop die wit dubbelverdiepinghuis in Goskestraat 12 vir R4,6 miljoen en trek in Maart 2014 daar in. Marli is in gr. 10 aan Somerset College buite Somerset-Wes. In Augustus sluit Henri hom uit Australië by hulle aan. Gerugte loop dat hy sy studie gestaak het.

Nadat Rudi net meer as ’n week voor Kersfees by sy gesin aangekom het, reis hulle na Gauteng om onder meer Teresa se broers Heinrich en Francois du Toit en hul susters, Wessie du Toit en Narita du Toit, te besoek. Teresa se ander suster, Leenta Nel, woon in Kanada. (André du Toit van Welgelegen, Parow, is hul ander broer.) Martin se tweelingbroers in die Noorde is ook op die agenda. Die gesin span tussendeur ’n paar dae by hul vakansiehuis op Knysna uit.

Op Woensdag 21 Januarie begin Marli haar skooljaar by Somerset College. Dis ’n Engelstalige privaat skool op die plaas Vredelus en teen R104 000 per jaar een van die duurstes in die land. Dit is sowat 10 minute se ry van De Zalze af. Die sprankelende blondekop is sedert die vorige jaar lid van ’n saamryklub wat deur ’n paar ouers van De Zalze begin is.

Vrydag bel Teresa haar broer Heinrich om hom met sy 61ste verjaardag geluk te wens. Hulle gesels lank. Sy vertel hom die naweek sal die laaste een wees dat hul gesin so saam is voor Rudi in die daaropvolgende week terugkeer universiteit toe. Henri sal in die tweede kwartaal na Australië terugvlieg, want hy gaan eers ’n duikkursus in Sodwana aan die KwaZulu-Natalse kus doen.

Saterdag trakteer Martin sy heerlik voltallige gesin op ’n lank beloofde haaihokduik op Gansbaai naby Hermanus. Sondag steek hulle tuis in De Zalze ’n vuurtjie aan en braai vir oulaas saam. In die loop van die dag vra Narita in ’n WhatsApp-boodskap vir haar suster in die Boland of sy dit geniet om haar kinders om haar te hê. Teresa antwoord: “Yep I doooooo.” Sy klink dolgelukkig.

Maandag is ’n snikhete dag. Selfs teen slaaptyd wyk die hitte nie. Pa en seuns dra net bokserbroeke. Die lugreëling deur die hele huis hou die vertrekke genadiglik koel. Almal slaap op die boonste verdieping: Rudi en Henri deel ’n kamer aan die straat se kant, en gangaf aan die teenoorgestelde kant is Marli en hul ouers se kamers langs mekaar.

Diep in die nag gaan ’n kamerlig in ’n buurhuis aan. Kinders daar het glo verhewe stemme in Goskestraat 12 gehoor. Toe was dit weer stil.

Die volgende oggend WhatsApp Narita ’n grappie vir Teresa. Toe haar suster teen halfelf se kant nie daarop reageer nie, pla dit haar en sy bel hul broer Francois. Sy kan aan sy stem hoor iets is drasties verkeerd. Hy breek aan haar die skoknuus dat Martin, Teresa en Rudi met ’n byl vermoor is en dat Marli se lewe aan ’n draadjie hang. Henri het darem net ’n paar skrapies opgedoen. Kort hierna hoor en sien Narita die vloed berigte oor die moord op haar familie. Sy is histeries.

***

By haar nuwe skool word ’n gebedsdiens vir Marli gehou. Haar beste vriendin, Mia Boshoff van Johannesburg, plaas ’n foto van hulle twee op Facebook. Al haar vriende bid vir haar.

Ook die Presbyterian Ladies’ College in Perth hou ’n waak in die kapel. Die hoof, Beth Blackwood, dra die medelye en gebede van die skoolgemeenskap aan die familie oor. Sy sê Marli was in haar sewe jaar daar ’n “hoogs gewaardeerde” leerling. Haar broers se skoolhoof by Scotch College, Alec O’Connell, spreek sy skool se simpatie uit en sê Henri en Rudi was aktiewe leerlinge in die skool en koshuis. En dat die Van Breda-gesin ’n gewaardeerde deel van die gemeenskap was.

Op sosiale media vertel Rudi se vriende hoe hartseer en geskok hulle is. Toe Sam Fearon van sy boesemvriend se tragiese dood hoor, komponeer hy die liedjie “Rudi’s Song” en deel dit op die internet. Sy ma, Annie Durrand, vertel uit Kent in die Verenigde Koninkryk hulle het Rudi baie goed geken in die vyf jaar dat sy en Sam in Australië gewoon het; Rudi was soos ’n tweede seun vir haar. Hy was ’n sagte mens, hoflik, altyd met ’n glimlag op sy gesig. Sy en Sam voel die verlies ontsettend diep en is baie kwaad.

***

In ’n bisarre voorval laat die aand van dieselfde dag as die bylmoorde neem ’n dierbare vriendin van Martin en Teresa haar lewe. Die Van Breda’s het vroeg in die Nuwejaar nog by Marie Gous en haar man, Flip, op Bon Avontuur, hul wildsplaas langs die Gouritzrivierbrug buite Mosselbaai gekuier. Die 72-jarige Marie het kanker gehad.

Die tragiese nuus oor haar vriende het haar baie diep geraak, vertel haar familie. Die egpaar was laataand in hul voertuig op die N2 in die rigting van Albertinia op pad toe Marie haarself langs Flip doodskiet.

***

Die gedenkdiens vir Martin, Teresa en Rudi word in Moreletapark in Pretoria deur ds. Willem Badenhorst gelei. Sonder hul oorskot; hulle is veras.

Hy sê sedert die drie se afgryslike dood vra almal: “Waarom, Here?”

“Die dood skeur ’n stuk uit ’n mens se lewe. Martin, Teresa en Rudi se dood het met ons almal, die land ook, gepraat. Dit wys ’n vinger en vra: ‘Is jy reg vir die dood?’”

Hy beskryf elkeen: “Martin, die saggeaarde, vrygewige gesinsman; Teresa, die stil rots in die Van Breda-huis; Rudi, die unieke mens met baie liefde wat nie geskroom het om dit uit te deel nie.”

Later dank hy die Here in sy gebed dat Hy in hul heel laaste sekondes nie Teresa se hand laat los het nie, sy arms steeds om Rudi gehou het, en nie vir Martin alleen gelaat het nie. En vra dan: “Here, sal U van hier af elke tree saam met Henri en Marli stap?”

Henri is nêrens by die diens te sien nie. Baie twyfel agterna of hy daar was. Maar sy oom André van Breda sê later: “Natuurlik was Henri by die roudiens.”

Sy broerskind het deur baie trauma gegaan en die familie aan albei kante – sy ondersteuningspan, sy regspan, almal – ondersteun hom. Die jong man se hart is gebroke; hy het Henri belowe hy sal hom nie drop nie.

André noem ook dat Marli se toestand van kritiek na bestendig verbeter het. Die dokters het hom gebel en gevra of sy uit die waakeenheid na ’n groot kamer geskuif kan word waar sy fisioterapie sal kan ontvang. Die verpleegpersoneel het dit al met familiefoto’s versier, vertel hy bewoë. “Marli beweeg haar oë as ’n mens met haar praat. Bid vir haar.”

***

Met die begrafnis verby begin die mediafokus nou die egpaar se testament insluit. ’n Familiewoordvoerder, Ben Rootman, bevestig die Rudell Holdings Trust en hul drie kinders is die begunstigdes van hul aansienlike rykdom. Ook dat die Australiese bates aan familie en die trustees bemaak is, maar dat dié bates nog nie volledig bepaal is nie.

Martin se broer Bailey, en Teresa se broer André, word as trustees in die trust bygevoeg. Bailey is ook een van die eksekuteurs van die boedel, wat blykbaar meer as R200 miljoen sterk is. Tesame met Bailey se tweelingbroer, André, en nog ’n trustee, Don Bosman, moet hulle voortaan die belange van die enigste oorlewende begunstigdes, Henri en Marli, beskerm en bestuur.

Drie maande ná die treurspel verskyn ’n berig dat die polisgeld van die vermoorde Van Breda’s nog nie uitbetaal kon word nie, moontlik weens onsekerheid oor wie dit toekom. Volgens ’n “onberispelike bron” het “die familie” van die twee jong erfgename die polisie genader vir ’n brief wat moet bevestig dat daar nie prima facie-getuienis bestaan wat Henri of Marli met die moorde verbind nie. Die polisie kon of wou nie so ’n brief uitreik nie.

Die versoek vir die brief was glo te midde van “ongeduld” in die familie om die geldsake af te handel. Volgens ’n polisiebron was die betrokke familielid erg omgekrap omdat die versoek aan die polisie uitgelek het.

’n Brandende vraag was aan die ontwikkel: Is daar enige sprake van verdeeldheid tussen die Du Toits en die Van Breda’s? Iemand na aan die ondersoek het aan die media genoem van die familielede voel om onbekende redes die erfgeld moet net na Marli gaan, terwyl ander weer meen dit kom albei kinders toe. Marli se enorme mediese koste is ter sprake.

Ben Rootman sê namens die familie Henri ontvang berading. Hy “cope” onder die omstandighede en sy laaste bekommernis is geld.

***

Drie maande ná die moorde word die gesinshuis van 364 m², ’n bate van die Rudell Holdings Trust, vir R6,2 miljoen te koop aangebied. Dit is R1,6 miljoen meer as wat Martin die vorige jaar daarvoor betaal het. Die meubels word afsonderlik verkoop. In vergelyking met die gesin se vorige huise is hierdie een betreklik beskeie, die privaat ruimtes rondom besonder klein.

Daar was glo onmiddellik groot belangstelling in en heelwat navrae oor die huis met die vier slaapkamers, vier badkamers, twee leefareas, ’n swembad en dubbelmotorhuis. Maar dit sou ses onsuksesvolle aanbiedings en twintig maande kos voordat dit eindelik van die hand gesit is – teen die vraprys van R6,2 miljoen.

Goskestraat 12, waar ’n ouerpaar en hul oudste kind op een van die grusaamste maniere denkbaar tot hul einde gekom het.

2 Skuilnaam.

Die De Zalze-moorde

Подняться наверх