Читать книгу Die De Zalze-moorde - Julian Jansen - Страница 8
4
ОглавлениеEenkantkind
HENRI SE SENUAGTIGE, byna geamuseerde laggie in die klankopname van sy telefoongesprek met die nooddienste toe hy hulle die oggend van die moorde na De Zalze ontbied het, gaan nie ongemerk en sonder kritiek verby nie. Klink hy regtig soos iemand wat hom te midde van ’n tragedie bevind?
Die kleitrappery deur die ambulansdiens-operateur rondom inligting oor die straatname val ook op. Haar geploeter om die korrekte adres te vind, grens aan die komiese, was dit nie vir die erns van die noodgeval nie. Boonop laat die uitlek van die klankgreep van die noodoproep, wat deur die televisienuuskanaal eNCA eksklusief die wêreld ingestuur is, die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement met rooi gesigte. Dit lei tot ’n interne ondersoek, bykomende sekuriteitsmaatreëls en dissiplinêre stappe.
Twee dae ná die moorde sorg ’n Australiese berig vir ’n groot opskudding in Suid-Afrika. Onder die opskrif, “Family left safety of Perth”, staan dit diep weggesteek in die aanlyn weergawe van die koerant, The West Australian: “Henri is verlede jaar genoodsaak om sy studie tydelik op te skort nadat dokters ’n gewas op sy brein ontdek het. Hy het by sy ouers in Suid-Afrika gaan woon terwyl hy behandeling ontvang het.”
Ben Rootman moet bontstaan. Hy bevestig Henri het ’n breinskandering in die Royal Melbourne-hospitaal in Australië ondergaan, maar die toetse was “negatief” vir enige groeisel of gewas en bloot “deel van ’n mediese ondersoek”. Die familie “beskik oor te min eerstehandse kennis om verdere inligting hieroor te verskaf”. Hulle volstaan daarmee dat Henri ’n “oorbruggingsjaar” geneem en in September van die vorige jaar na Suid-Afrika teruggekeer het.
Die Australiese media noem nie of die hospitaal enige mediese verslae beskikbaar het nie. Indien daar is, sal die polisie dit kan aanvra.
In ’n plaaslike koerant bevestig ’n “onberispelike polisiebron” ’n mediese dokter het die ondersoekspan oor die breinskandering ingelig en dat die woord “breingewas” pertinent in die moordondersoek genoem word. Die media vra kundiges uit en hulle noem dat ’n breingewas, veral in die frontale lobbe van die brein, tot impulsiewe gedrag kan lei.
Het Martin en Teresa van die moontlikheid van ’n gewas in hul seun se brein geweet? Indien wel, is dit baie deeglik van die familie weggehou. Tot hul dood.
Intussen begin nuwe gerugte die rondte doen: oor Henri en dwelms. Dit wil eenvoudig nie gaan lê nie. ’n Inwoner van Perth en nabye kennis van die gesin beweer in ’n spontane e-pos aan Rapport dat Henri daar en later in Melbourne, waar hy studeer het, al “moeilikheid opgetel het oor sy dwelmgebruik”. Daar is ook gerugte onder studente in Perth dat Henri met dagga in sy besit betrap is en toe na Suid-Afrika teruggekeer het.
Henri se bynaam op universiteit was glo “Druggie”. Hy het na bewering ook met die owerhede in Melbourne oor sy dwelmgebruik gebots. Is dit dalk waarom hy sy studie “opgeskop” en die vorige jaar na Suid-Afrika teruggekeer het? En wat was sy ouers se antwoord aan die familie en vriende wat gewonder het waarom hy midde-in sy akademiese jaar uit Australië teruggekeer het?
Ja, daar was “groot onmin” in die huis oor Henri se dwelmgebruik, vertel vriende wat in die week voor die moorde aan huis van die gesin was. Henri was “de moer in” omdat Rudi kwansuis deur sy ouers “voorgetrek” word en het dikwels sy gevoel hieroor hard uitgespreek.
Sy ma was deel van ’n groepie ouers wat hul kinders om die beurt na Somerset College, Marli se skool, vervoer het. “Teresa was partykeer so gedaan van snags opsit met Henri dat sy pa in haar plek die kinders skool toe moes neem,” vertel ’n familievriend. “Martin het geweet sy jongste seun gebruik dwelms. Hy het in ’n stadium gedreig om sy sakgeld te staak. Hy het hoë verwagtinge van sy kinders gehad; daarom het dit hom ontstel dat Henri nie op universiteit was nie en vir ‘kwaadgeld’ by die huis gesit het.”
Martin het soms in gesprekke met intieme vriende sy seun se dwelmgebruik geopper. “Hy was in ’n stadium baie bekommerd toe hy dagga by Henri vind.”
Hy het Henri by meer as een geleentheid voor stok gekry oor die kwessie. Een so ’n konfrontasie is blykbaar in die weke voor die moorde waargeneem deur Delores van Wyk, versorger van die gesin se buurman Martin Locke. Maar die vriendelike vrou is lugtig om daaroor uit te brei. “Ek sal seker in die hof moet getuig. Ek is nou al bang. Ek kan nie slaap nie. Ek het goed gesien en gehoor waaroor ek nie nou kan praat nie. Dit was van so ’n aard dat ek vir lank nie kon slaap nie,” vertel sy sag. Wat presies sy gesien en gehoor het, wil sy nie uitlap nie, net dat die speurders haar “omtrent uitgevra” het. Sy sou toe nooit geroep word om te getuig nie.
Teresa se boesemvriendin Michelle Barnard het vroeër vertel Henri was altyd die stil een, die middelkind. “Van kleintyd af het hy nie maklik vriende gemaak nie. Altyd eenkant … in so ’n gelukkige, hegte gesin.
“Iets omtrent hom was nog altyd anders. Om die een of ander rede het my seuns nie met Henri gespeel nie. Ek kon ook nie met hom connect nie. Ek het honderde foto’s van ons kinderpartytjies. Daarop sit al die kinders om die tafel. Maar Henri sit eenkant op die grond. So op sy eie.”
Sy onthou toe sy en haar gesin in 2013 by die Van Breda’s by Thesen-eiland op Knysna gekuier het. Haar seuns het saam met Rudi op die see gaan roei. “Henri wou soos menige kere tevore nie saamgaan nie. Rudi het my seuns toe vertel Henri ‘is erg op dagga en ander harde dwelms soos tik’. Hulle was so geskok daaroor en te bang en skaam om met my daaroor te praat. As hulle my toe daarvan vertel het, sou ek beslis vir Teresa gesê het. Ek sou haar gewaarsku het.”
Michelle het gewens Teresa het haar destyds van Henri vertel. “Ek het alles van haar huwelik en sy van myne geweet. Alles. Sy het absoluut niks gerep oor enige sulke probleme nie. Dalk het sy dit net vir haarself gehou. Teresa wou Henri seker beskerm, moontlik die ‘skande’ van sy verslaafdheid aan die dwelms probeer wegsteek. Dit was private goed. Wie ken die hart van ’n ma?
“Ek het by vriende gehoor Teresa het die dag voor die moorde vir Henri gesê sy sal hom ‘nie ’n enkele sent meer gee nie’.”
’n Onderonsie die vorige jaar tussen Henri en ’n huishulp op die landgoed, Margaret Delport, kom ook op die lappe. Sy is volgens haar kollegas ’n “diep godsdienstige mens” wat in haar vrye tyd berading aan dwelmverslaafdes gee. Margaret vertel sy het Henri in Oktober in De Zalze raakgeloop. “Hy het vir my geskree: ‘Hei! Jy is darem maar ’n lekker m*** met ’n lekker p*** en ek gaan jou lekker n***!’ Ek het sommer dadelik gedink Henri kan bedwelmd wees.”
Sy het aan Henri geskree: “Jy moet vir God in jou lewe het! Loop gaan na jou huis toe!” ’n Veiligheidswag daar het later vir haar gesê: “Antie, jy moet jou nie aan hom steur nie; hy was nog altyd ’n malletjie.”
Margaret sê sy het later gehoor sy ouers is ook bekommerd oor hom. Sy het hom nie weer gesien nie – tot sy in die week ná die moorde ’n koerant onder oë gekry het. “Ek dink toe o, my Koning, dis mos daardie seun!”
Rapport se voorbladberig hieroor noop ’n sakevrou van die Eikestad om die koerant summier te bel. Half opgewerk, half uitasem vertel sy van moleste sowat twee weke voor die moorde by ’n winkelsentrum in Welgevonden buite Stellenbosch. “Henri en sy vriende het in ’n motor hier opgedaag. Hy het in die parkeergebied soos ’n besetene aangegaan en op die liederlikste rympie gedans. Toe trek hy sy gulp af, swaai sy privaat dele in die rondte en skree vir die meisies wat hy aan hulle gaan doen. Dit was dieselfde woorde wat hy aan die huishulp van De Zalze gesê het. Toe ek die woorde in die berig lees, het ek die rympie herken.”
Nog hardnekkige gerugte – dié keer dat Henri in die verlede in die omgewing van die landgoed gereeld dwelms, onder meer tik, gekoop het – laat die media toesak op Kreefgat, ’n plakkerskamp ’n klipgooi van De Zalze se hoofingang af. ’n Inwoner hier, Robert Minnies3, herken Henri dadelik op kleurfoto’s wat aan hom gewys word. Hy het hom al baie raakgeloop, soms in die winkelsentrum Stellenbosch Square oorkant die gholflandgoed se ingang en ander kere in die woonbuurt Jamestown agter die sentrum.
“Een middag het ek hom by die traffic lights gekry. Hy het my gevra of ek vir hom kan gaan dagga kry. Wat my ge-strike het, was dat hy altyd gelyk het asof hy nie heeltemal there is nie, in ’n trance, so asof hy wil sê: ‘Slaan my maar’.”
Gou loop stories ook dat Henri in ’n stadium in ’n privaat rehabilitasiesentrum was. Hieroor wil die familie nie ’n woord rep nie. Eindelik word berig hy was inderdaad die vorige jaar in die Tijger-kliniek in Loevenstein, Bellville, ’n eksklusiewe sentrum waar mense behandeling ontvang vir toestande soos dwelm- en alkoholverslawing, skisofrenie en angs- en psigotiese steurings. Henri is, soos al die ander pasiënte daar, deur ’n span kundiges bygestaan. Teen tot R3 000 per dag.
Is die gerugte waar dat Henri dagga en tik gebruik het? Tikgebruikers sukkel onder meer met slapeloosheid, ’n gebrek aan eetlus en swak persoonlike netheid. Hulle is dikwels agterdogtig, ervaar hallusinasies, gemoedskommelinge en raak maklik geïrriteerd. Sal hierdie simptome in Henri se gegewens by die sentrum opgeteken wees?
’n Sinistere legkaart van die twintigjarige se lewe begin vorm aanneem.
Eers ’n volle twee jaar ná die De Zalze-bylmoorde onthul ’n familielid: “Henri is deur die Universiteit van Melbourne geskors oor sy dwelmgebruik.” En: “Rudi het ook met dwelms geëksperimenteer, maar dit was nie so erg nie. Hy kon daarmee ophou.”
“Die familie het agterna gesukkel om Henri in Suid-Afrika in ’n universiteit te kry – oor sy skorsing,” vertel die familielid.
“Martin het sy gesin hier weggevat om weg te kom van die misdaad. Toe vat hy hulle na ’n land waar mense nie baie oor godsdiens omgee nie, waar hulle – hoe sê ’n mens nou weer? – nie kerkvas is nie.”
***
Speurkonst. Matho en sy ondersoekspan neem Henri meer as een keer terug na sy ouerhuis in Goskestraat. Hy moet presies uitwys hoe alles volgens sy getuieverklaring verloop het: Waar hy gestaan het toe hy die aanvaller die eerste keer sien; waar elkeen van sy gesinslede in daardie stadium was; waar die eerste gesinslid aangeval is; waar hy aangeval en bewusteloos geslaan is.
Die konstabel maak aantekeninge in sy nota- en dagboek. Lede van die eenheid wat moordtonele ontleed, staan ook by. Hulle teken Henri se weergawe van die opeenvolging van bewegings en gebeure noukeurig op hul kaarte aan.
Wat die jong man hier kwytraak, sal moontlik later in die hof kan dien. Dit sal onder meer vergelyk kan word met die bloedspatsels op die toneel en die bloed op sy bokserbroek. Indien hy in hegtenis geneem sou word, kan dit deurslaggewend wees in die saak.
Henri verduidelik hoe ’n inbreker eers sy broer aangeval het in die kamer wat die twee broers gedeel het. ’n Glasdeur lei uit die kamer na ’n piepklein balkon met swart tralies aan die straat se kant.
Hy beweer hy was in die en suite-badkamer van die slaapkamer. Toe hy uitkom, sien hy hoe ’n onbekende man sy broer aanval. Sy pa het die gang afgehardloop gekom en Rudi te hulp gesnel, maar die man met die byl het Martin ook aangeval. Kort hierna is sy ma en suster buite sy en sy broer se kamer aangeval voordat hulle die vertrek kon binnegaan.
Volgens hom het hy in ’n stadium die aanvaller met die byl gegooi. Dit het die muur getref; die merk sit daar. Hy het op die trappe geval en is in die proses bewusteloos geslaan. Toe hy later bykom, was die aanvaller weg. Hy het toe die 107-nommer van die nooddienste gebel.
Henri het pas ná die moorde skynbaar moeite gehad om dinge te onthou; Alex Boshoff het in die media vertel sy boesemvriend het die oggend voor die moordhuis aan hom gesê sy gesin is deur “twee of drie mans” aangeval.
Volgens Alex het Henri baie by hom in die koshuis Helderberg van die Universiteit Stellenbosch gekom. Hulle het gereeld saamgekuier en baie ander dinge saam gedoen. (Hul pa’s was sakevennote by onder meer Curro Holdings. Die twee gesinne het oor en weer by mekaar gekuier en soms saam gehengel, geduik en geskermsweef.) Henri is “geniaal” en “baie goed met syfers”.
Ander huisvriende vertel Henri se ledigheid het hom partykeer ondergekry; die druk en roetine van ’n universiteit se akademiese program het ontbreek. Die huis het hom gedruk, dalk kloustrofobies gemaak. Dan het hy met een van die gesin se motors dorp toe gery, of die pad gevat en na die Stellenbosch Square of al met die R44 langs na die Spar-winkel by Paradyskloof gestap. Daar het hy dan sigarette gekoop.
***
By sy oom André du Toit in die woonbuurt Welgelegen in Parow, noord van Kaapstad, is Henri terneergedruk, aansienlik maerder en slaperig, word vertel. Hy hou hom so skaars dat die stil buurt se mense aanvanklik omtrent nie eens weet hy woon daar nie.
Die Du Toits se huishulp, Aysha Louw, vertel later in ’n telefoniese onderhoud sy en Henri was soms alleen by die huis. Hy het meestal in sy kamer gebly. “Hy het ook nie daar uitgekom wanneer daar gaste was nie. Henri het soms alleen buite by die swembad sit en rook. Sulke sterk sigarette. Hy sou ook vir hom ’n drankie in die bar skink en dit dan kamer toe vat.”
Sy was maar skrikkerig vir hom in die lig van die skinderstories en omdat hy dalk ’n verdagte in die moorde kon wees. “Ek het nooit dat hy agter my staan nie. Hy het later meestal alleen in ’n BMW gery en lank weggebly.”
***
Byna drie maande ná die moorde sien die wêreld vir die eerste keer hoe Henri nou lyk. Op foto’s wat ’n vryskutfotograaf op ’n Sondagoggend van ’n sandduin af van hom, sy oom André du Toit en ’n onbekende niggie van Henri geneem het, stap hulle kort voor die Paasnaweek met twee swart honde langs die see by Bloubergstrand. Die kleiner hond is Marli se Sasha, wat van Australië af saam met haar Suid-Afrika toe gekom het. Oscar, die labrador, is André s’n.
Henri stap kaalvoet in ’n kortbroek en trui. Hy hou van kentekens van strokiesverhale op sy klere. Vandag is dit Superman se beurt.
Vriende vertel agterna André en sy susterskind het gereeld by die see gaan sit. Die twee het maar min gepraat. Net op die sand gesit, elkeen met sy eie gedagtes, en oor die see uitgestaar. Dan sou die jong man ’n sigaret aansteek en die blou rook stadig uitblaas.
Foto’s het ook in ’n tydskrif verskyn van Henri wat voor sy oom se huis by ’n donkiekar met ’n man staan en gesels. Dié het vertel hy het dwelms aan die Van Breda-seun verkoop. Watter soort dwelms, het hy nie gesê nie.
Tussendeur kuier Henri af en toe by familie in Gauteng. Hy het nie veel vriende in Suid-Afrika nie en besoek hoofsaaklik sy niggies en neefs aan sy ma se kant. Op foto’s wat die Du Toits op sosiale media deel, staan die lenige kêrel meestal met ’n soort grynslag. Hy lyk op sy gemak, asof niks in die wêreld hom pla nie.
Mettertyd droog die romanse tussen Henri en Bianca van der Westhuizen op. Vriende vertel ná die tragedie het die twee mekaar nog soms gesien, maar dinge het later verwater tot SMS’e of WhatsApp-boodskappe. Bianca is glo vir ’n tyd oorsee gestuur om alles te verwerk.
Die aantreklike donkerblonde jong man se gesig raak algaande bekender. Mense staar hom soms op straat aan. Ander neem hom af of fluister agter ’n bakhand dat die seun wat die bylmoorde oorleef het in die omgewing is. Van hulle vertel agterna dit het gelyk asof hy nie ’n duit omgee dat hy herken word nie. “Hy was in sy eie wêreld gekeer. Hy was anoniem soos menige ander in die straat of restaurant.”
Weens die media wat teen middel April pal sy oom André se huis dophou, gaan Henri tuis in ’n gastehuis met ’n kleurryke tuin. Hy bly twee weke daar. Vir sy gashere vertel hy hy is van Johannesburg en studeer aan die Universiteit Stellenbosch. En dat sy ouers in Australië woon.
In die media ontvou ’n beeld van Henri as ’n stil mens, iemand wat elke dag op sy rekenaar doenig is, so af en toe in die swembad swem, ’n Camel-sigaret rook of ’n glas wyn of whisky alleen in sy kamer drink. Alleen met sy gedagtes.
***
Sewe maande ná die moorde maak Teresa se suster Narita du Toit haar hart oop: Henri is nie ’n moordenaar nie en niks is verkeerd met hom nie, deel sy Huisgenoot mee. Die mediabespiegelings dat dit dalk hy is wat sy ouers en broer vermoor het, is vir haar verskriklik. Hy is ’n lieflike kind wat nooit so iets aan sy gesin sou kon doen nie. As ’n kind iets verkeerds gedoen het, kan ’n mens dit aan sy oë of liggaamstaal sien, en aan Henri is daar nie so iets nie.
Die polisie het ook nog nooit gesê hy is ’n verdagte nie, net ’n ooggetuie. Hy gaan aan met sy lewe omdat hy niks het om weg te steek nie. As sy ’n twintigjarige was wat gesien het hoe haar gesin vermoor word, sou sy in ’n sielkundige inrigting beland het. Nie Henri nie.
Narita verklaar in die tydskrif haar susterskind se gedrag in “onmenslike omstandighede” maak haar trots. Hy vat alles soos ’n man.
Ná hierdie woorde van Narita is daar opnuut bespiegelings oor wie van die uitgebreide familie hulle in watter kamp bevind.
Oor Henri raak die verdeeldheid duidelik ál groter. Maar oor Marli se wonderbaarlike herstel staan die Van Breda’s en die Du Toits saam. Hulle is oorstelpd en verstom.
3 Skuilnaam.