Читать книгу Die Profeet - Kahlil Gibran - Страница 3

Оглавление

DIE PROFEET

ALMUSTAFA, die uitverkorene en die geliefde, wat soos ’n daeraad vir sy dag was, het twaalf jaar lank in die stad van Orphalese op die skip gewag wat sou terugkeer om hom na die eiland van sy geboorte terug te voer.

En in die twaalfde jaar, op die sewende dag van Ielool, die maand van die oes, het hy die heuwel buitekant die stadsmure bestyg en seewaarts getuur; en hy gewaar sy skip wat met die mis aangeseil kom.

Toe is die deure van sy hart oopgegooi en sy vreugde het ver oor die see gevlieg. En hy het sy oë gesluit en daar was aanbidding in die stiltes van sy siel.

Maar terwyl hy van die heuwel afklim, het hy bedroef geword en in sy hart gedink:

Hoe sal ek in vrede vertrek en sonder verdriet? Nee, ek sal hierdie stad nie sonder ’n verwonde gees verlaat nie.

Lank was die dae van pyn wat ek binnekant sy mure deurgebring het en lank was die nagte van eensaamheid; en wie kan van sy pyn en sy eensaamheid afskeid neem sonder leedwese?

Te veel brokkies van die gees het ek in hierdie strate rondgestrooi en te menigvuldig is die kinders van my verlange wat nakend tussen hierdie heuwels rondloop en ek kan my nie van hulle onttrek sonder opoffering en smart nie.

Dit is nie ’n kledingstuk wat ek hierdie dag uittrek nie, maar ’n vel wat ek met my eie hande afskeur.

Ook is dit nie ’n gedagte wat ek agterlaat nie, maar ’n hart soet gemaak deur honger en deur dors.

Nogtans kan ek nie langer vertoef nie.

Die see wat alle dinge na haar toe roep, roep ook my en ek moet skeepgaan.

Want om te bly, al brand die ure in die nag, is om te vries en te kristalliseer en in ’n vorm vasgegiet te word.

Gewilliglik sou ek alles wat hier is met my wou saamneem. Maar hoe kan ek?

’n Stem kan nie die tong dra en die lippe wat daaraan vleuels gegee het nie. Allenig moet dit die eter binnegaan.

En allenig en sonder sy nes moet die arend voor die son vlie.

Toe hy die voet van die heuwel bereik het, draai hy weer na die see en hy sien dat sy skip die hawe nader en op haar voorstewe die seevaarders, manne van sy eie land.

En sy siel het na hulle uitgeroep en hy sê:

Seuns van my oue moeder, julle ruiters van die getye,

Hoe dikwels het julle my drome binnegevaar. En nou kom julle in my ontwaking, wat my diepere droom is.

Gereed is ek om te gaan en met siele gespan wag my gretigheid op die wind.

Nog net een asem wil ek in hierdie stille lug adem, nog net een liefdevolle blik na agter werp.

En dan sal ek tussen julle staan, ’n seevaarder tussen seevaarders.

En jy, ontsaglike see, slapende moeder,

Wat alleen vrede en vryheid vir rivier en stroom is,

Nog net een kronkeling sal hierdie stroom maak, nog net een gemurmel in hierdie bos,

En dan sal ek na jou toe kom, ’n grenslose druppel na ’n grenslose oseaan.

En terwyl hy loop, sien hy van ver af mans en vrouens wat hulle landerye en wingerde verlaat en na die hekke van die stad haas.

En hy hoor hulle stemme sy naam noem en van akker tot akker roep om mekaar te vertel van die koms van sy skip.

En hy sê vir homself:

Sal die dag van skeiding die dag van samekoms wees?

En sal dit gesê word dat my aand in werklikheid my môrestond was?

En wat sal ek aan hom gee wat sy ploeg in die middel van die voor gelos het, of aan hom wat die wiel van sy wynpers laat staan het?

Sal my hart ’n boom word, swaar belaai met vrugte, sodat ek kan pluk en aan hulle kan uitdeel?

En sal my begeertes soos ’n fontein vloei sodat ek hulle bekers kan volmaak?

Is ek ’n harp dat die hand van die Almagtige my kan aanraak, of ’n fluit dat sy asem deur my kan gaan?

Net maar ’n soeker na stiltes is ek, en watter skatte het ek in stilte ontdek wat ek met vertroue kan uitdeel?

As hierdie die dag van my oes is, in watter landerye het ek die saad gesaai en in welke vergete jaargetye?

As hierdie inderdaad die uur is waarin ek my lantern moet ophef, is dit nogtans nie my vlam wat daarin sal brand nie.

Leeg en donker sal ek my lantern omhoog hou,

En die bewaker van die nag sal dit met olie vul en hy sal dit ook laat ontvlam.

Hierdie gedagtes het hy in woorde gestel. Maar ’n groot deel van sy hart het onuitgesproke gebly. Want selfs hy kon sy diepere geheim nie uitspreek nie.

En toe hy die stad binnegaan, kom al die mense hom tegemoet en roep na hom soos met een stem.

En die ouderlinge van die stad het na vore getree en gesê:

Moet ons nie nou al verlaat nie.

’n Middaguur het jy in ons skemering vertoef en jou jeug het ons drome gegee om te droom.

Geen vreemdeling is jy onder ons nie, nog minder ’n gas, maar ons seun en ons teerbeminde.

Moenie toelaat dat ons oë nou al na jou gesig hunker nie.

En die priesters en priesteresse spreek hom aan:

Moenie dat die golwe van die see ons nou skei en die jare wat jy in ons midde deurgebring het slegs ’n herinnering word nie.

Jy het as ’n gees tussen ons gewandel en jou skaduwee was ’n lig op ons gesigte.

Groot was ons liefde vir jou. Maar ons liefde was stom en met sluiers gesluier.

Maar op hierdie oomblik roep dit luid tot jou en verlang om aan jou geopenbaar te word.

Immer was dit maar so dat die liefde nie sy eie dieptes ken tot die uur van skeiding nie.

En ander het ook by hom kom soebat. Maar hy het hulle nie geantwoord nie. Hy het slegs die hoof gebuig; en die wat naby staan het gesien hoe sy trane op sy bors val.

En hy en die skare het na die groot plein voor die tempel beweeg.

En daar het ’n vrou met die naam van Almitra uit die heiligdom gekom. En sy was ’n profetes.

En hy het haar met innige teerheid aangekyk, want dit was sy wat hom eerste gesoek en in hom geglo het toe hy nog maar ’n dag in die stad was.

En sy het hom begroet en gesê:

Profeet van God, op soek na die ewige, lank het jy jou skip in die vertes gesoek.

En nou het jou skip gekom en jy moet derhalwe gaan.

Groot is jou verlange na die land van jou herinneringe en die woonplek van jou diepere begeertes; en ons liefde sal jou nie bind en ons behoeftes jou nie vashou nie.

Maar dit vra ons eer jy ons verlaat, dat jy met ons sal spreek en van jou waarheid aan ons sal meedeel.

En ons sal dit aan ons kinders oordra en hulle aan hulle kinders, sodat dit nie verlore gaan nie.

In jou eensaamheid het jy ons dae gadegeslaan en wakende het jy geluister na die geween en die gelag van ons slaap.

Openbaar ons dus nou aan onsself en vertel ons alles wat aan jou getoon is omtrent dit wat tussen die geboorte en die dood kom.

En hy antwoord:

Inwoners van Orphalese, waarvan kan ek praat behalwe van daardie dinge wat selfs op hierdie oomblik binne julle siele in roering is?

Hierop sê Almitra, Praat met ons van Liefde.

En hy het sy hoof gelig en na die skare gekyk en hulle het stil geword. En met ’n groot stem sê hy:

Wanneer die liefde jou roep, volg hom na,

Al is sy weë swaar en steil.

En as sy vleuels jou omvou, gee jou aan hom oor,

Al mag die swaard wat tussen sy penvere verstoke is jou wond.

En glo hom wanneer hy jou aanspreek.

Al mag sy stem jou drome verpletter soos die noordewind wat die tuin verwoes.

Want net soos die liefde jou kroon, sal hy jou ook kruisig. Net soos hy laat uitspruit, sal hy jou ook snoei.

Net soos hy na jou kruin opstyg en jou teerste takkies troetel wat in die sonlig bewe,

So sal hy ook na jou wortels neerdaal en hul skud waar hulle aan die aarde vaskleef.

Soos gerwe graan oes hy jou vir homself.

Hy dors jou om jou nakend te maak.

Hy sif jou om jou van jou doppe te bevry.

Hy maal jou totdat jy wit is.

Hy knie jou totdat jy buigsaam is;

En daarna gee hy jou oor aan sy heilige vuur, sodat jy heilige brood mag word vir die heilige fees van God.

Al hierdie dinge sal die liefde aan jou doen sodat jy die geheime van jou hart mag ken en in daardie wete deel word van die hart van die Lewe.

Maar as jy uit vrees slegs na die vrede en plesier van liefde soek,

Dan is dit vir jou beter dat jy jou naaktheid bedek en die dorsvloer van liefde verlaat,

En die getyelose wêreld betree waar jy nog sal lag, maar nie jou volle lag nie, en ween, maar nie al jou trane nie.

Die liefde gee niks behalwe homself nie en neem niks behalwe van homself nie.

Die liefde besit nie en word ook nie besit nie;

Want liefde is voldoende vir liefde.

Wanneer jy liefhet behoort jy nie te sê: “God is in my hart” nie, maar eerder: “Ek is in die hart van God.”

En moenie dink dat jy die gang van liefde kan bestuur nie, want liefde, as dit jou waardig ag, rig jou lewensgang.

Die liefde het geen ander begeerte as om homself te vervul nie.

Maar as jy liefhet en nie sonder begeertes kan wees nie, laat hierdie jou begeertes wees:

Om te versmelt en soos ’n vlietende beek te wees wat sy melodie aan die nag sing.

Om die pyn van te veel teerheid te ken.

Om verwond te word omdat jy liefde verstaan;

En om gewilliglik en met vreugde te bloei.

Om in die môrestond met ’n gevleuelde hart te ontwaak en te dank vir nog ’n dag van liefde;

Om in die middaguur te rus en oor liefdesverrukking na te dink;

Om in die avondstond met dankbaarheid huiswaarts te keer;

En dan te slaap met ’n gebed vir die bemindes in jou hart en ’n loflied op jou lippe.

Die Profeet

Подняться наверх