Читать книгу Die Profeet - Kahlil Gibran - Страница 4

Оглавление

WEER het Almitra gepraat en gesê, En wat van die Huwelik, meester?

En hy antwoord en sê:

Julle is saam gebore en saam sal julle bly tot in ewigheid.

Julle sal saam wees wanneer die wit vlerke van die dood julle dae verstrooi.

Waarlik, julle sal saam wees selfs in die stille gedagtenisse van God.

Maar laat daar ruimtes wees in julle samesyn.

En laat die winde van die hemele tussen julle dans.

Min mekaar, maar moenie van liefde boeie maak nie.

Laat dit eerder soos ’n beweeglike see wees tussen die oewers van julle siele.

Vul mekaar se bekers, maar drink nie uit een beker nie.

Gee mekaar van julle brood, maar eet nie van dieselfde baksel nie.

Sing en dans tesame en wees bly, maar laat elkeen van julle alleen wees,

Net soos die snare van die luit afsonderlik is al tril hulle met dieselfde musiek.

Gee julle harte, maar nie die een in bewaring van die ander nie.

Want slegs die hand van die Lewe kan julle harte vashou.

En staan bymekaar, maar tog nie te na aan mekaar nie:

Want die pilare van die tempel staan apart,

En die eik en die sipres groei nie in mekaar se skaduwees nie.

Die Profeet

Подняться наверх