Читать книгу Die Profeet - Kahlil Gibran - Страница 5

Оглавление

EN ’n vrou wat ’n baba teen haar bors vasdruk sê: Praat met ons van Kinders.

En hy sê:

Julle kinders is nie julle kinders nie.

Hulle is die seuns en die dogters van die Lewe se verlange na lewe.

Hulle kom deur julle maar nie van julle nie,

En al is hulle by julle behoort hulle nie aan julle nie.

Julle mag hulle julle liefde gee, maar nie julle gedagtes nie,

Want hulle het hul eie gedagtes.

Julle mag hulle liggame huisves, maar nie hulle siele nie,

Want hulle siele woon in die huis van môre wat julle nie kan besoek nie, nie eens in julle drome nie.

Julle mag strewe om soos hulle te wees, maar moenie probeer om hulle soos julle te maak nie.

Want die lewe beweeg nie agteruit nie, nog minder vertoef dit met die dag van gister.

Julle is die boë waaruit julle kinders soos lewende pyle geskiet word.

Die boogskutter sien die doelwit op die pad van die oneindigheid, en Hy buig julle met Sy mag opdat Sy pyle vinnig en ver mag trek.

Laat julle tot blydskap in die hand van die Boogskutter gebuig word;

Want, net soos Hy die pyl wat vlie liefhet, so het Hy ook die boog lief wat bestendig is.

Die Profeet

Подняться наверх