Читать книгу Die Profeet - Kahlil Gibran - Страница 7
ОглавлениеHIERNA het ’n ou man, ’n herbergier, gesê, Praat met ons oor Eet en Drink.
En hy sê:
Kon julle maar van die welriekendheid van die aarde lewe en soos ’n lugplant deur die lig onderhou word.
Maar aangesien julle moet doodmaak om te eet en die pasgeborene van sy moedersmelk moet berowe om julle dors te les, laat dit dan ’n daad van aanbidding wees.
En laat julle maaltyd op ’n altaar staan waarop die reine en die onskuldige van bos en vlakte geoffer word ter wille van wat reiner en nog meer onskuldig in die mens is.
Wanneer jy ’n dier doodmaak, sê aan hom in jou hart:
“Deur dieselfde mag wat jou lewe neem, word my lewe ook geneem; en ook ek sal verteer word.
“Want die wet wat jou in my hand oorgelewer het, sal my in ’n magtiger hand oorlewer.
“Jou bloed en my bloed is niks anders as die sap wat die boom van die hemele voed nie.”
En wanneer jy ’n appel met jou tande fynmaal, sê met jou hart daaraan:
“Jou saad sal in my liggaam lewe,
“En die bloeisels van jou môre sal in my hart blom,
“En jou geurigheid sal my asem wees,
“En saam sal ons deur al die jaargetye ons verheug.”
En in die herfs, wanneer jy die druiwe van jou wingerd vir die parskuip pluk, sê in jou hart:
“Ook ek is ’n wingerd, en my vrug sal vir die wynpers afgepluk word,
“En soos nuwe wyn sal ek in ewige vate gehou word.”
En in die winter, wanneer jy die wyn skep, laat daar in jou hart vir elke beker ’n lied wees;
En laat daar ’n herinneringslied wees vir die herfsdae, en vir die wingerd, en vir die wynpers.