Читать книгу Eggo's in die skimberge - Kobie Kruger - Страница 5
2
ОглавлениеIets in die wind
Die Moolmans woon op die dorp, eintlik half buite die dorp, in ’n groot dubbelverdiepinghuis op ’n bult oorkant die rivier.
Mattie is nog nie by die huis nie. Sy lê in haar halwe boomhuis langs die rivier. Haar mense sal nog nie tuis wees nie. Net die huishoudster, juffrou Potberg, sal daar wees, en mens moet liewer uit haar pad bly.
Mattie het nie regtig planne vir ’n vakansie-avontuur nie. Sy was net siek en sat vir Bertram en Boetman se ewige nonsens. Die enigste plan wat sy op die oomblik het, is dat die boomhuis so gou as moontlik moet klaarkom. Sy het ’n plek nodig waar sy die vakansie uit juffrou Potberg se pad kan bly.
Juffou Potberg is nog net ’n paar maande by hulle, maar dit voel al klaar vir Mattie soos ’n ewigheid. Daar is ook nie veel hoop dat juffrou Potberg binnekort sal aftree nie, want sy lyk nog nie juis oud nie. Sy is lank en benerig met ’n kwaai gesig en geel oë soos ’n arend. Sy raas en skree baie.
Sy wil nie nou aan juffrou Potberg dink nie, besluit Mattie; daar is beter dinge om aan te dink, soos byvoorbeeld die boomhuis.
Sover het dit ’n vloer, twee mure en ’n halwe dak. Daar is nog baie werk, maar Henk het gesê hy sal in die vakansie meer gereeld van die plaas af kan wegkom. Dis gaaf van Henk om te help. Sy sou gesukkel het sonder hom. Dis darem jammer hy moet so hard werk op die plaas. Sy wonder hoekom hy by sy oom-hulle woon. Hy praat nooit daaroor nie. Sy wil hom ook nie daaroor uitvra nie. Mens hoef nie oor dinge te praat waaroor jy nie wil nie.
Mattie se gedagtes sweef weg en sy begin diep en egalig asemhaal.
Sononder skrik sy wakker. Sy klim uit die boom en draf huis toe.
“Hallo, almal!” roep sy toe sy by die voordeur instap. Niemand antwoord nie. Sy hoor stemme op die boonste verdieping en draf die trappe op.
Sy kry haar stiefma en twee stiefsusters in een van die slaapkamers. Hulle is besig om nuwe klere aan te pas. Stapels klere. Dit lê die hele bed vol. Hulle is so besig dat hulle nie agterkom sy is daar nie. Mattie wag geduldig vir ’n kans om te praat – sy wil vra waarheen hulle gaan en hoe lank hulle sal weg wees, maar hulle babbel aanmekaar. Later gee sy op en gaan soek na haar pa.
Sy kry hom in sy studeerkamer. Hy praat oor die telefoon. Sy wag geduldig. Later gee sy op en stap weg.
“Waar gaan julle almal heen?” vra sy eindelik aan die etenstafel.
Niemand hoor haar nie. Haar stiefma en twee stiefsusters gesels eenstryk deur. Haar pa lees ’n dokument wat langs sy bord op die tafel lê.
Ná ete kyk haar stiefma en stiefsusters na ’n modevertoning op televisie. Haar pa sit in sy gemakstoel en werk op sy skootrekenaar.
“Mag ek iets vra?” sê Mattie.
Niemand hoor haar nie.
“Kan julle my hoor?” vra Mattie.
Niemand antwoord nie.
Mattie gaan staan reg voor die televisiestel en sê mooi hard en duidelik: “Is ek onsigbaar? Verdwyn my stem sodra dit by my mond uitkom?”
“Kom weg daar!” kerm haar stiefsusters. “Jy staan reg voor die TV!”
“Mattie?” sê haar stiefma geïrriteerd. “Wat gaan met jou aan?”
“Ek probeer net uitvind of ek bestaan,” sê Mattie en glimlag floutjies vir haar eie grappie.
“Hoekom is jy nog nie in die bed nie?” vra haar stiefma ongeduldig.
“Mattie – kóm nou weg daar!” raas haar stiefsusters.
“Kan julle almal ’n bietjie stiller wees?” kla haar pa. “Ek probeer werk.”
Mattie glip weg en draf die trappe op na haar slaapkamer toe. Sy voel moedeloos met haarself. Sy wou net ’n grappie gemaak het om hulle aandag te kry, maar dit was al weer ’n tipiese simpel-Mattie-grappie.
Sy klim in die bed met ’n biblioteekboek. Dalk is dit ’n lekker storie. Die meisie in die boek is dieselfde ouderdom as sy.
’n Rukkie later het Mattie nie lus om verder te lees nie. Die meisie in die storie is oulik en slim. Sy gedra haar nooit simpel nie.
Mattie sit die boek neer en skakel die bedlampie af. Sy probeer slaap, maar kan nie. Haar gedagtes bly ronddwaal. Sy begin dink aan hoe ’n storie oor haar eie lewe sou klink.
Mattie Moolman is elf jaar oud en sy kan nie ophou om haar simpel te gedra nie.
Sy woon alleen in ’n groot dubbelverdiepinghuis op Gansdal in die Gansriviervallei, in die Oos-Kaap in Suid-Afrika.
Eintlik woon sy nie regtig alleen nie.
Haar pa is ’n besige sakeman wat baie moet rondreis. Haar stiefma werk vir modewinkels en reis ook baie rond. In die skoolvakansies gaan haar twee dogters saam met haar. Rosalinde is sewentien en Jasmyn vyftien. Hulle lyk op ’n druppel soos hulle ma – lank en maer met kort blonde hare en oë wat altyd verbaas lyk.
Dis moeilik om te sê hoe Mattie lyk. Sy is meestal onsigbaar (ha-ha!). Miskien lyk sy na haar pa. Haar oë is ook blou soos syne. Origens lyk sy nie baie na hom nie, want hy is groot en breed. Sy hare is silwergrys en dun. Mattie s’n is donker en dik. Sy moet dit vasbind, anders lyk sy wild, sê haar stiefma.
Mattie se regte ma is dood toe Mattie drie jaar oud was. Toe sit meneer Moolman met Mattie opgeskeep. Sy was onmoontlik en dis hoekom hy weer getrou het. Die nuwe mevrou Moolman het al klaar twee dogters gehad (Rosalinde en Jasmyn). En nou sit die hele lot met Mattie opgeskeep. Meestal probeer hulle haar ignoreer.
Eintlik is Mattie nie so dom soos hulle dink nie. Daar is ’n paar dinge waarmee sy goed is. Sy kan byvoorbeeld baie goed boomklim. Beter selfs as Henk Velder, wat ’n jaar ouer is. En sy sing in die skoolkoor. Sy sing die solo-gedeeltes. Sy is ook goed met atletiek. Sy en Henk Velder is die twee vinnigste atlete in die skool. Mattie se gesin weet dit nie. Hulle stel nie in sulke dinge belang nie.
Net tannie Katrien stel belang. Hét belanggestel. Sy woon nie meer hier nie. Sy was die huishoudster, vir járe en jare lank. Toe tree sy af en juffrou Potberg word die huishoudster. Tannie Katrien was baie gaaf. Sy het in die woonstel agter die huis gewoon. Eenmaal het Mattie haar stiefma gevra of tannie Katrien nie eerder in die huis kan slaap wanneer almal weg is nie.
“Vir wat?” het mevrou Moolman gevra.
“Die huis raak eensaam as julle almal weg is. Julle moet hoor hoe kreun en sug die mure snags.”
“Jy verbeel jou darem snaakse dinge,” is al wat mevrou Moolman gesê het.
Voor Mattie se kamervenster staan ’n akkerboom waarin mens kan klim as die mure te veel kreun en sug. Op maanlignagte het die boom ’n mooi uitsig oor die vallei. Die vallei is vol landerye, met ’n rivier wat daardeur vloei. Agter die landerye is daar kaal bulte tot by die Skimberge.
Die Skimberge is woeste berge. Hulle is hoog en steil met spitse wat soos draketande lyk. Niemand woon daar nie. Mense wat al daar was, gaan nooit terug nie en wil nie daaroor praat nie. Dis wat tannie Katrien gesê het. Sy het eenmaal van twee bergklimmers gehoor wat daar in ’n ravyn probeer afklim het en hulle amper doodgeskrik het vir iets. Hulle kon nie onthou waarvoor nie.
Miskien is die Skimberge vol geheime.
Bedags lyk hulle stil en koninklik, soos berge bedags lyk. Maar op maanlignagte lyk hulle spokerig, soos skimme wat op donkerte sweef. En soms is daar vreemde eggo’s in die klowe.
Die eggo’s rol saam met die nagwind teen die berghange af en sweef oor die bulte, oor die landerye, oor Gansdal se huise, oor die rietbosse en melkhoutbome langs die rivier, al die pad tot in die akkerboom voor Mattie se kamer.
Dit klink soos koormusiek wat ver weg tussen klowe weerklink … maar dis sag. Mens moet mooi luister, anders sal jy dink jy hoor net die wind …
Terwyl Mattie aan die Skimberge se musiek dink, raak sy aan die slaap.
Later skrik sy wakker van ’n vreemde droom. Sy lê doodstil en probeer onthou waaroor dit was. Hoe harder sy probeer, hoe verder raak die droom weg. Naderhand gee sy op.
Die maan hang tussen die takke van die boom voor haar venster. ’n Bries roer die gordyne. Sy staan op en maak die venster wyer oop.
Die nag is stil. Oorkant die rivier kan sy die wind in die graanlande hoor fluister. Sy spits haar ore en luister.
Die wind kom nader – sy hoor dit aan die geruis van die rietbosse langs die rivier. Die akkerboom se blare begin roer.
Skielik kan sy die eggo’s hoor. Sy skrik toe ’n bosuil iewers naby roep.
“Hoepoe-hoe, hóé-hoe!” roep die uil weer.
Sy steek haar kop by die venster uit.
“Waar’s jy?” vra sy sag.
“Hóé-hoe.”
Hy is iewers hoog in die boom. Sy klim deur die venster in die takke van die boom en gaan sit in ’n mik. Sy kyk op, maar sien nie die uil nie.
“Uil – is jy nog daar? Ek wil met jou praat …”
“Hoe-hóé?”
“Hoor jy iets in die wind, Uil?”
“Hoe-hoe.”
“Waar kom dit vandaan – weet jy dalk?”
Die uil is stil. Mattie wag en luister. Die eggo’s sweef nog op die wind. Onder aan die voet van die bult kan sy die rivier in die maanlig sien blink. Oorkant die rivier flikker Gansdal se straatliggies. Verder weg lê slapende landerye. Die Skimberge lyk spokerig en vol geheime. Die eggo’s begin wegraak. Die wind het gaan lê. Skielik is die nag doodstil.
Bokant haar in die boom hoor sy blare ritsel. Sy kyk op en sien die uil – hy het sy vlerke oopgesprei. Net voordat hy wegsweef, draai hy sy kop en kyk haar stip in die oë.
Hy vlieg laag oor die vallei, al met die rivier langs. Hy volg elke kronkel en draai van die rivier. Toe Mattie hom nie meer kan sien nie, staan sy vinnig op en klim hoër in die boom. Sy is seker daarvan die uil volg die rivier na die Skimberge toe. Sy klim en klim. Haar kaal voete kry maklik vastrapplek teen die skurwe stam. Haar hande voel-voel boontoe en vat stewig raak. Sy klim tot sy nie hoër kan nie en gaan sit versigtig in ’n mik.
Nou kan sy die hele maanverligte vallei sien, tot waar die rivier ’n blink strepie aan die voet van die berge word. Die rivier kronkel ’n entjie met die berge langs en raak skielik weg. Sy kyk stip na die plek waar dit wegraak. Daar is ’n donker gaping tussen die steil berghange. Dis seker ’n ravyn. ’n Ravyn is ’n diep vallei tussen steil berghange, het tannie Katrien gesê.
Terwyl sy wonder of die uil by die ravyn ingevlieg het, trek ’n vreemde glinstering dieper in die berge haar aandag. Sy kan dit nie mooi sien nie – hier in die boom hang die blare van ’n lastige tak in die pad. Sy skuif ’n entjie op en druk die tak weg. Skielik kan sy dit sien. Sy staar verwonderd daarna.
Dit lyk soos sterretjies – honderde juweelagtige sterretjies wat uit die niet verskyn en soos reën in die ravyn val …
Dit kan mos nie wees nie?
Dalk is dit vuurwerke.
Sy knyp haar oë styf toe en maak hulle weer oop.
Dit lyk nog steeds soos sterretjies wat val.
Skielik dink sy aan sterrereën. Dit is beslis sterrereën, besluit sy.
Maar ná ’n rukkie klink dit ook nie vir haar reg nie. Sterrereën is ’n menigte van sterre wat deur die nagruim verskiet, het sy gelees. Hierdie sterretjies reën in ’n digte kol bymekaar.
Hoe langer sy vir die vallende sterretjies kyk, hoe geheimsinniger lyk hulle. Sy moet iemand daarvan vertel, besluit sy. Iemand moet vir haar sê wat dit is.
Henk. Hy is die enigste persoon wat nie vir haar sal lag nie. Môre sal sy ’n plan maak om hom te vertel. Haar oë begin toeval. Hoe lank sit sy al in die boom? Dit sal ’n gemors wees as sy in die boom aan die slaap raak en uitval, dink sy.
Sy klim versigtig ondertoe, terug tot op die tak wat tot teen haar kamervenster strek, by die oop venster in en in die bed. Sy raak gou aan die slaap, maar haar slaap is vol vreemde drome en sy skrik aanmekaar wakker.
Later staan sy weer op en klim weer deur die venster in die takke van die akkerboom. Versigtig klim sy op en op … op en op, tot sy nie hoër kan nie en gaan sit in ’n mik.
Dit reën nog steeds sterretjies in die ravyn, sien sy.
Terug in haar kamer skakel sy die bedlampie aan en trek ’n skryfblok en ’n pen nader. Sy begin skryf:
Geagte Iemand,
Ek sien vreemde sterretjies bokant die ravyn waarin die rivier verdwyn. Dit lyk of hulle soos reen in die ravyn val. Is daar iemand daar? Sal julle omgee as ek en Henk Velder kom kyk wat dit is? Ek stuur hierdie brieffiie saam met die rivier. Ek hoop julle kry dit. Ek woon op Gansdal, in die dubbelverdiepinghuis op die bult oorkant die rivier.
Groete,
Mattie Moolman