Читать книгу Eggo's in die skimberge - Kobie Kruger - Страница 7
4
ОглавлениеDie avontuur begin
Die sterre skyn nog helder toe Henk wakker skrik. Hy lê ’n rukkie en wonder hoekom sy hart so wild klop. Skielik onthou hy alles en hy vlieg op. Die huis is doodstil. Hy trek vinnig aan, maak sy bed op en sluip kombuis toe met die briefie in sy hand. Hy druk dit onder die suikerpot langs die ketel in. Die horlosie teen die muur wys dis amper vieruur.
Terug in sy kamer, skud hy sy skoolsak leeg en gooi skoon klere, ’n tandeborsel en ’n handdoek daarin. Hoor hy iets? ’n Stem? Hy staan doodstil en hou sy asem op. Hy kan sy eie hartklop hoor, maar dis al. Miskien het oom Gys in sy slaap gemompel. Hy haak sy skoolsak oor sy skouers, klim vinnig deur die kamervenster en draf oor die donker werf na die ploegstoor toe.
“WHAAG! KWA-KWA-KWA!” skree al die ganse, nes hy verwag het. Ganse dink mos hulle is waghonde; hulle bly heelnag wakker om te kyk of iets op die werf roer. Henk hou aan draf en hoop maar sy oom en tante vermoed niks. Hulle weet darem ook die ganse raak gereeld oor niks op hol.
Dit is pikdonker in die ploegstoor. Toe hy die fiets vroegnag hier kom wegsteek het, het die maan nog geskyn. Nou is die maan onder. Hy val twee maal oor goed wat rondlê voordat hy die fiets in die hande kry.
Versigtig om nie weer oor iets te val nie, stoot hy die fiets by die stoor uit en oor die werf na die hek toe. Hy wil nie die fietslig aanskakel nie, nie terwyl die ganse nog skree en hy nog van die huis af sigbaar is nie.
Met ’n gesukkel kom hy uiteindelik by die grootpad. Hy klim op die fiets, skakel die lig aan en begin trap. Skielik voel hy so vry en gelukkig dat hy sommer begin lag en sing.
Tien minute later ry hy deur Gansdal se stil strate. Kort daarna ry hy oor die brug by die rivier. Terwyl hy die fiets die laaste ent teen die bult uitstoot, sien hy ’n lig in die stoorkamer agter die Moolmans se huis brand.
“Hallo!” sê Mattie opgewek toe Henk by die stoorkamer instap. Sy is besig om ’n trommel toe te maak. “Ek het klaar vir ons kos, flitse, batterye, ’n rol tou en ’n klompie ander goed ingepak. Jy kan my help om die tent en die slaapsakke in die ander trommel te kry.”
’n Rukkie later dra hulle die twee trommels een vir een uit. Versigtig om nie ’n geraas te maak nie, sleep hulle die trommels agter om die stoorkamer en met die voetpaadjie teen die bult af. Hulle struikel ’n paar keer oor lastige graspolle. Die naaste straatligte is te ver om veel te help.
Eindelik kry hulle die trommels op die oewer en by die vlot. ’n Vae gloed verlig al die Skimberge se kruine. Hulle tel die trommels een-een op die vlot en hardloop weer bult-op om die roeispane in die stoorkamer te gaan haal.
Terug op die oewer maak hulle die vlot se ankertou los en klim op. Henk maak seker of die klip wat hulle as anker gebruik, nog deeglik vasgebind is. Hy skrik toe hy ’n kar hoor dreun. Hy kyk vinnig oor sy skouer in die rigting van die straat teen die bult, maar kan nie bo-oor die rietbosse sien nie. Mattie is reeds besig om die vlot met haar spaan van die wal af weg te stoot. Henk tel sy spaan op en help stoot. Die son wil nou begin opkom. Vinke kwetter al in die riete. Toe die vlot diep genoeg in die water is, gaan sit hulle vinnig op hul plekke aan weerskante van die vlot en begin roei.
In die middel van die rivier draai hulle die vlot stroomaf en roei in stilte verder. Die son se eerste strale glinster op die water.
Die rivier loop ’n ent al langs die dorp voordat dit oos in die rigting van die berge swaai. Henk voel verlig toe die dorp eindelik agter hulle lê en die berge voor hulle.
’n Ruk later is hulle moeg geroei en hulle sit die spane neer. Die rivier vloei breed en kalm en die stroom gee ’n rustige pas aan.
Mattie sit met haar rug teen die agterste trommel en kyk hoe ’n visarend in die lug ronddraai. Henk sit op die voorste trommel en tuur na die miswolkies wat om die bergspitse dryf.
“Snaakse berge,” sê hy. “Partymaal lyk hulle so fabelagtig.”
“Ek weet,” sê Mattie. “Het jy al gesien hoe hulle lyk as die maan op die pieke skyn en die hange in die skaduwees is?”
“Nee …”
“Dit lyk of hulle op donkerte sweef, soos skimme. ”
“Dis seker waar hulle naam vandaan kom.”
“Ja. En daar’s snaakse stories oor hulle. Het jy gehoor van die twee bergklimmers wat nie kon onthou waarvoor hulle geskrik het nie?”
“Nee. Wat het gebeur?” vra Henk nuuskierig en skuif van die trommel af.
“Tannie Katrien het my vertel. Sy sê die bergklimmers het in ’n ravyn probeer afklim. Toe sien hulle iets en skrik hulle amper dood. Agterna kon hulle nie onthou wat dit was nie.”
“H’n?” vra Henk en lag. “Snaakse storie. Ek wonder wat daar gebeur het.”
“Ek ook …”
“Vertel my weer van die eggo’s,” sê Henk. “Hoe klink dit?”
“Dit klink soos ’n koor wat sing – maar ver weg. Partymaal dink ek dis net die wind. Dalk klink wind wat deur klowe kom soos musiek.”
“Die berge is ver,” sê Henk. “Dit sal vreemd wees vir klanke uit die berge om tot hier te kom.”
“Ek weet. Eintlik verstaan ek nie wat ek hoor nie.”
“Ek ook nie. Maar ek verstaan ook nie die sterrereën nie,” sê Henk ingedagte. Hy tel sy spaan op. “Kom, ons moet roei.”
Mattie kyk op en sien klipplate vorentoe. Sy tel haar spaan ook op. Die water raak onstuimig en die vlot begin skommel. Gelukkig het sy en Henk al tevore in onstuimige waters geroei. Hulle weet hoe om te maak.
“Diékant toe, Mattie, kyk links van jou!”
“Ek sien die rots –”
“Lig uit jou spaan, roei andersom, téén die stroom … Reg … Nog net ’n entjie.”
Uiteindelik is hulle veilig tussen die klipplate deur. Die rivier vloei weer breed en kalm. Hulle sit die spane neer. Mattie maak ’n trommel oop en gee vir Henk ’n paar toebroodjies aan.
“H’mm – lekker,” sê hy.
Die melkhoutbosse op die rivierwalle het weggeraak, sien Mattie. Nou is daar net yl rietbosse. Agter die rietbosse is daar grasvelde en bulte.
“Ons vaar goed,” sê sy. “Dalk is ons vroegmiddag al daar.”
“Dit hang af hoeveel kronkels die rivier vorentoe maak,” sê Henk.
“Dink jy daar’s ’n waterval waar die rivier in die ravyn verdwyn?”
“Ja, ek dink so,” sê Henk. “Maar ons sal die water hoor raas lank voor ons daar kom. Dan roei ons wal toe en gooi anker.”
“En dan?”
“Dan soek ons ’n plek naby die waterval waar ons die tent kan opslaan – ’n plek met ’n uitsig oor die ravyn. As ons vannag kan uitmaak waar die sterre val, kan ons môre probeer nader gaan.”
“Goeie plan.”
Die son bak nou warm. Henk het sy tekkies uitgeskop en sit op die kant van die vlot met sy voete in die water.
Mattie trek ook haar tekkies uit en laat haar voete in die water sak. “Ek wonder of iemand dalk my briefie gekry het,” sê sy. “O, ek’t vergeet om jou te sê – ek het gisteroggend ’n briefie in ’n botteltjie gesit en in die rivier gegooi.”
“Wat staan in die briefie?”
“Ek’t gevra of daar iemand daar is, en of hulle sal omgee – oeps!” Mattie skrik toe die vlot skielik begin skommel.
Die rivier kronkel om ’n draai en versnel in ’n laagte in. Hulle gryp die spane, gaan sit vinnig op hul plekke aan weerskante van die vlot en begin roei. Die water raak al hoe onstuimiger. Hulle roei so hard as hulle kan, maar die vlot stamp en spring oor die golwe. Dit voel vir Mattie of hulle beheer oor die vlot verloor.
“Mattie – draai!” skree Henk bo die geraas van die water en beduie na die wal aan hul linkerkant. Sy lig haar spaan uit, draai dit om en begin saam met die stroom roei terwyl Henk aan sy kant teen die stroom roei.
Mattie begin paniekerig voel. Die water is te onstuimig; nes hulle die vlot gedraai kry, skep ’n golf dit en swaai hulle weer stroomaf.
“Mattie!” roep Henk weer.
Sy kyk op. Hy hou sy hand in die lug en beduie dis nie meer nodig om wal toe te roei nie. Sy kyk oor haar skouer om te sien wat die rivier vorentoe doen. Daar kom weer ’n draai, sien sy.
Kort daarna seil hulle om die draai, en skielik is die rivier weer wyd en kalm.
Mattie bewe nog toe sy haar spaan neersit. Sy maak die trommel agter haar oop en haal die fles lekkers uit.
“Ek dink ons het elkeen ’n flonker nodig,” sê sy.
Maar toe sy die deksel wil afskroef, sê Henk: “Kom kyk gou hier – dit wemel van die visse.”
Sy gaan hurk langs hom en kyk in die water. “Joe – honderde! Waarheen is hulle so haastig op pad?”
“Dis wat ek ook wonder.”
“En daar kom nog … en nóg …”
Hulle gaan lê albei op hul mae en kyk hoe die visse stroomop verbyswem. Die sussende ritme van die water laat hulle lui en lomerig voel. Die fles flonkers lê vergete eenkant.
“Dis lekker om van die huis af weg te wees,” sê Mattie. “Ek wens ons kan die hele vakansie wegbly.”
“Ek ook.”
“Al wanneer ek ooit van Gansdal af wegkom, is met atletiekkampioenskappe. Ek hou die meeste daarvan as ons Port Elizabeth toe gaan.”
“Ek ook,” sê Henk. “Dan kan ons darem die see op ’n afstand sien.”
“Dis jammer die onderwysers neem ons nooit strand toe nie.”
“Ja … Eendag as ek dapper genoeg voel, gaan ek vir hulle sê ek gaan nie my beste hardloop as hulle ons nie agterna strand toe neem nie.”
“Goeie plan,” sê Mattie. “Jy’s ons beste atleet. Dalk luister hulle vir jou. Was jy al ooit op die strand gewees?”
“Nee.”
“Ek was. Maar ek onthou dit nie. Ek was nog klein. Ek het foto’s van my ma wat met my op die strand speel. Ons het in Port Elizabeth gewoon tot ek drie jaar oud was.”
“Is dit?” sê Henk verras. “Ek dag julle woon nog altyd op Gansdal. Die huis het mos aan jou oupa behoort?”
“Ja, dit hét, maar ek is in Port Elizabeth gebore. Ek en my pa het Gansdal toe getrek nadat my ma oorlede is. My oupa het gesê ons moet by hom kom bly sodat hy en tannie Katrien my kan grootmaak … Maar hy is twee jaar later oorlede. Toe trou my pa weer, en my stiefma en stiefsusters trek by ons in. Dit was die jaar voordat jy by jou oom-hulle kom woon het.”
“Ek het eers in Kaapstad gewoon,” sê Henk.
“O,” sê Mattie. Sy wil nie vrae vra as hy nie verder wil vertel nie. Sy laat haar hand in die water sak om te kyk of die visse dit kan sien.
“Later het my pa in Johannesburg gaan werk,” sê Henk. “My ma wou nie in Johannesburg gaan woon nie. Ek was vyf jaar oud toe hulle geskei is.”
Die visse swem nie in haar hand vas nie, sien Mattie. Sy het nie geweet Henk se ouers is geskei nie. Eintlik het sy nie eers geweet of hy nog ouers het nie.
“Toe ek sewe jaar oud was,” sê Henk, “is my ma Australië toe om vir iemand te gaan kuier. Ek het by my oom-hulle kom bly … Sy’t gesê dis net vir ’n maand. Sy sou my ’n maand later kom haal het.”
Miskien kan visse nie ver sien nie, dink Mattie. Hulle swenk so skielik weg, net betyds om nie in haar hand vas te swem nie. Hoekom het sy ma hom nie kom haal nie? Dis al vyf jaar … Sy loer vinnig na Henk en sien hy staar fronsend in die water. Sy wil so graag weet wat gebeur het, maar sy kan hom nie vra nie. Dalk wil hy nie daaroor praat nie.
“Sy’t iemand in Australië ontmoet en met hom getrou,” sê Henk. “Sy woon nou in Australië.”
Die visse is nou weg, sien Mattie. Die laaste een het pas verbygeswem … Hoe kon sy ma sommer net van hom vergeet het?
“Sy stuur soms vir my foto’s,” sê Henk. “Van haar nuwe gesin … Sy’t nou twee nuwe kinders.”
Mattie voel hoe haar hart ineenkrimp. Simpel foto’s …
“En … jou pa?” vra sy versigtig.
“Ek dink nie hy weet waar ek is nie.”
“Kan jy hom nie kontak nie? Het jy nie sy foonnommer of ’n adres of iets nie?”
“Nee.”
“Dalk het jou oom of tante?”
“Ook nie. En hulle … hulle wil nie oor my pa praat nie.”
Mattie staar in die water. Haar hart pyn. Sy weet nie wat om vir Henk te sê nie.
“Mattie!” roep Henk skielik uit en spring op. “Ons moet roei!” Hy gryp na sy spaan, maar die vlot stamp oor ’n golf en hy slaan neer. Mattie gryp haar spaan en gaan sit reg om te roei. Henk kruip oor die stampende vlot, kry sy spaan in die hande en hulle begin roei vir al wat hulle werd is.
Die water is nie baie onstuimig nie, maar die stroom is sterk en haastig en word al haastiger. Hulle druk hul voete teen die trommel voor hulle vir vasskopplek en probeer met hul spane teen die stroom rem, maar die vlot stamp volspoed oor die golwe.
“Draai, Mattie – draai!” skree Henk en beduie na die linkerkantste wal.
Mattie lig haar spaan uit die water. Die stroom is so sterk dat dit sinneloos sal wees om saam met die stroom te roei. Met die spaan onder haar arm kruip sy na Henk toe. Sy gaan sit agter hom, swaai haar spaan in die water in en help hom om teen die stroom te roei.
Hulle kry die vlot effens gedraai, maar spook om deur die hoofstroom te kom. Die water se gedreun laat Mattie doof en gespanne voel. Haar arms bewe van moegheid toe hulle eindelik uit die hoofstroom kom en ’n kalmer stroom tref. Sy kruip vinnig terug na haar kant van die vlot toe en begin weer roei. Nou kan hulle vordering in die rigting van die wal maak, dink sy hoopvol. Hulle roei en roei, maar vaar nog steeds vinniger stroomaf as in die rigting van die wal.
Dit voel vir Mattie of haar arms nie meer kan nie. Haar asem is op en haar lyf ruk van moegheid. Die wal begin darem nader kom, sien sy – so skuinsweg nader. Sy dwing haar arms om harder te roei. Nog net ’n entjie … net ’n entjie …
Eindelik is hulle naby genoeg om te spring. Henk stoot vinnig die ankerklip oor die kant van die vlot. Dit land met ’n plons in die water en sink.
“Spring!” skree Henk, maar die ankertou moes losgeruk het, want die vlot gee net ’n stamp en skiet met hulle stroomaf. Hulle slaan hard op die vlot neer, kom vinnig regop, gryp hul spane en probeer weer roei. Die stroom ruk Mattie se spaan uit haar hande en spoel dit weg. ’n Brander breek oor die vlot. Die fles flonkers dryf op die water weg.
Al wat hulle kan doen, is om plat op hul mae te lê en aan die vlot vas te klou.
Henk weet nie wat anders hulle kan doen nie. Sonder ’n anker en minus een spaan is hulle in groot moeilikheid. Hy moet kalm bly, besluit hy. Hy moet aan ’n plan dink. Die gedreun van die water word al hoe harder. Hy lig sy kop op om te kyk wat aangaan. Skuim spat in sy oë. Hy knip sy oë en kyk weer.
Hy sien net water – haastige, onrustige water. Vorentoe raak dit in ’n lae miswolk weg. Skuim spat weer in sy oë. Hy knip sy oë en kyk weer na die miswolk.
Dit is sproeireën, besef hy – die sproeireën van ’n waterval.
Hy skrik so groot dat hy vir ’n paar oomblikke glad nie kan dink nie.
Toe hy weer begin fokus, weet hy daar is niks wat hulle kan doen nie. Hy rol na Mattie toe. Sy kyk hom met groot oë aan. Hy bly langs haar lê en sit sy arm om haar skouers.
Die vlot skommel en skud. Branders breek oor hulle.
Alles is wit. Wit water. Wit mistigheid.
Die vlot gee ’n harde stamp en skiet onder hulle uit. Vir ’n oomblik seil hulle deur die lug. Dan sluk die dreunende water hulle in.
Al waarvan Henk bewus is, is die geweld van die water. Hy voel niks nie, dink aan niks nie; hy wonder net wanneer hy gaan ophou val. Hy hou sy mond styf toe om nie water te sluk nie.
Eindelik tref hy ’n soliede massa water en begin sink. Hy sink vinnig. Al wat hy kan doen, is om steeds sy asem op te hou. Ná ’n rukkie sink hy stadiger en kry hy beheer oor sy arms en bene. Hy skop en beur met alle mag boontoe. Dit voel of sy longe wil bars.
Net toe hy swart kolle voor sy oë begin sien, kom sy kop bo die water uit. Hy trek sy longe vol lug, spoeg water uit, hap weer na lug en kyk wild rond. Waar is Mattie? Hy proes en hyg na asem. Agter hom dreun die waterval; óm hom kolk en maal die strome. Hy moet Mattie kry en uit die onstuimige waters wegkom. Wáár ís sy?
Eindelik sien hy haar. Sy spartel om haar kop bo water te hou. Hy moet vinnig by haar kom. Hy begin so hard swem as wat hy kan.
Mattie weet sy moet wegkom uit die malende water en wal toe swem, maar sy weet nie watter kant toe nie. Al wat sy sien, is water. As sy net vir Henk kan kry – waar is hy? Skielik sien sy hom. Hy baklei met die water, maar hy kom na haar toe. Sy skraap al haar krag bymekaar en begin swem.
Toe sy by Henk kom, gryp hy haar aan haar skouer en beduie watter rigting hulle moet gaan. In die golwende water is dit moeilik om die wal te sien. Dit help om te weet Henk swem langs haar. Hy sal sorg dat hulle by die wal kom. Sy moet net naby hom bly.
’n Rukkie later is hulle in kalmer water. Mattie wonder hoe ver dit nog wal toe is. Sy dink sy sien plante en rotse vorentoe, maar sy kan nie uitmaak of dit ver of naby is nie. Sy is so moeg. Skielik weet sy nie meer mooi wat aangaan nie. Sy besef half dat sy sink, maar dit voel vir haar of sy sweef.
Die volgende oomblik voel sy ’n pyn in haar kop. Dit is Henk wat haar aan haar hare oppluk. Sy sweef nie meer nie. Haar lyf voel swaar en dom. Sy probeer haar longe vol lug trek, maar sluk water. Sy spoeg die water uit en spartel om haar kop bo die water te hou. Henk probeer haar help, maar sy spartel van hom af weg. Sy moet self met die water baklei, anders sink hulle al twee. Sy dwing haar dom arms en bene om weer te werk. As sy net weer genoeg lug in haar longe kan kry. Sy spoeg water uit, probeer asem kry, begin weer spartel. Sy vorder ’n klein entjie voordat haar asem weer op is. Haar bene werk nie meer; hulle trek haar ondertoe. Sy begin swart kolle sien. Die kolle word meer en groter. Die water sluk haar in. Dit stroom by haar ore en neus in, by haar mond in, in haar longe in.
Sy sink soos ’n klip.