Читать книгу Eggo's in die skimberge - Kobie Kruger - Страница 6
3
ОглавлениеDie geheime plan
Die son is al op toe Mattie weer wakker word. Die huis is doodstil. Almal is al weg. Waarheen en vir hoe lank, weet sy nog steeds nie.
’n Rukkie later hoor sy iemand in die kombuis. Dis juffrou Potberg.
Mattie staan op en trek vinnig aan. Gewoonlik probeer sy juffrou Potberg vermy, maar vanoggend moet sy haar ongelukkig iets gaan vra.
Sy draf die trappe af en loer by die kombuis in.
Juffrou Potberg staan voor die stoof, in ’n bont kamerjapon, besig om vir haarself ontbyt te maak. Haar swart hare is in ’n stywe bolla agter haar kop vasgesteek.
“Môre, Tannie,” sê Mattie versigtig.
“Ek is nie jou tannie nie!” sê juffrou Potberg sonder om om te kyk.
“Ekskuus – ek bedoel, Juffrou … Mag – mag ek Juffrou iets vra?”
“Wat?”
“M-mag – mag ek d-dalk vra –”
“Moenie my tyd mors nie!”
“M-mag ek ’n maat vir aandete nooi?”
“H’mf.”
Mattie wonder wat “h’mf” beteken, maar is te bang om te vra.
Juffrou Potberg ignoreer haar en gaan voort om die kos op die stoof te roer. Mattie wonder of sy weer moet vra en of sy liewer moet stilbly.
“Wie gaan agter julle opruim?” vra juffrou Potberg bitsig. Mattie wip soos sy skrik.
“N-niemand – ek bedoel, óns sal, Tannie – ek bedoel, Juffrou.”
“En wie gaan julle skottelgoed was?”
“Óns, Juffrou.” Mattie hou asem op; dinge verloop beter as wat sy verwag het.
Juffrou Potberg draai om en begin kos op haar bord skep. Sonder om op te kyk, sê sy met ’n kil stem: “Julle sal stil en ordentlik wees. Julle krap nie om nie. Julle sorg dat elke ding op sy plek bly. Julle mors nie. En julle los die kombuis vir my skitterskoon. Is dit duidelik?”
“Ja, dis duidelik, Juffrou,” sê Mattie vinnig. Sy kan amper nie glo dit was so maklik nie. Juffrou Potberg is beslis in ’n beter bui as gewoonlik. Sy staan en wag dat juffrou Potberg moet voortgaan, maar dit lyk of sy niks meer te sê het nie; sy sit nou by die tafel en smeer botter op haar roosterbrood.
“H’m – dankie, Juffrou,” prewel Mattie en glip by die agterdeur uit. Dit is ’n lieflike somersoggend. Die tuin is vol singende voëls en besige insekte. Sy draf na die stoorkamer toe in die boonste hoek van die tuin. Dit was haar oupa se stoorkamer en dis nog vol wonderlike goed wat aan hom behoort het: sy fiets en sy visstokke, sy tent en slaapsakke, lanterns, bliktrommels, planke, toue en hope ander goed. Dis hier waar sy en Henk alles kry wat hulle nodig het om dinge mee te bou in die melkhoutbos langs die rivier – soos die hangbrug (wat ongelukkig gebreek het) en die touswaai (wat nog goed werk) en die boomhuis, wat nog in wording is. Vroeër was haar oupa se vlot ook in die stoorkamer, maar verlede somer het sy en Henk uiteindelik die vlot by die rivier gekry, waar dit nou vasgeanker lê. Vanoggend het sy net die fiets kom haal. Die plaas waar Henk bly, is ’n ent buite die dorp.
Sy stoot die fiets oor die grasperk tot by die pad, klim op en ry vrywiel teen die bult af.
By die brug oor die rivier hou sy eers stil en haal ’n botteltjie uit haar kniebroek se sak. In die botteltjie is die briefie wat sy gisternag geskryf het. Sy hou die botteltjie oor die water en laat dit val. Dit land met ’n plons, tol in die rondte en begin met die stroom wegdryf. Sy wonder hoe lank dit die botteltjie sal neem om by die ravyn te kom. Is daar iemand daar wat dit sal kry en die briefie sal lees? En sal hulle ’n antwoord stuur? Seker nie … Mens moenie ’n plan in die nag uitdink nie. Snags lyk planne blinker as wat hulle is.
Henk se oom werk in sy pampoenland toe Mattie by die plaashek inry.
“Môre, oom Gys!” groet Mattie toe sy verbyry. Oom Gys kyk op, maar knik skaars sy kop. Dis maar hoe hy is.
Terwyl Mattie na die huis toe ry, begin sy gespanne voel. Sy is banger vir tannie Berta as vir oom Gys. Oom Gys is lank en maer met ’n knorrige gesig, maar hy lyk nie baie gevaarlik nie, net nors. Tannie Berta is groot en blond en sy blaf as sy met ’n mens praat. Sy laat mens hakkel.
Mattie parkeer die fiets teen ’n bloekomboom en draf die stoeptrappe op. Sy haal diep asem en klop aan die voordeur.
Niks gebeur nie. Sy klop weer.
Nog steeds niks. Dit val Mattie by dat tannie Berta dalk in die slagkamer is. Sy draai om, draf die trappe af en stap om die huis.
Die slagkamer se deur staan oop. Dit klink of daar iemand daarbinne is. Sy stap nader en loer om die deur. Dis tannie Berta en Henk. Hulle is besig om hoenders te slag. Mattie voel lus en hardloop weg, maar sy byt vas en stap binne.
“Môre, tannie Berta! Hallo, Henk!” groet sy vriendelik.
Tannie Berta knik net.
Henk glimlag breed.
“En – h’m … wat doen julle alles?” vra Mattie.
Tannie Berta gee ’n snork.
Mattie voel hoe haar gesig rooi word. Dit was darem ’n baie dom vraag. Sy haal weer ’n slag diep asem en probeer konsentreer op wat sy moet sê.
“Jammer om te p-pla, tannie Berta. M-mag ek Tannie iets vra?”
“Wat wil jy hê?”
“Ek wil n-net vra of – of Henk d-dalk vanaand b-by my kan kom eet.”
Tannie Berta dink daaroor terwyl sy vir Henk nog dooie hoenders aangee om te ontveer. Mattie begin mislik voel. Sy wens tannie Berta wil nou antwoord sodat sy kan wegkom.
“Hy kan gaan as die werk klaar is!” blaf tannie Berta.
Mattie is nie seker wat dit beteken nie. Sy kyk vinnig na Henk. Hy glimlag breed vir haar. Sy glimlag terug, bedank tannie Berta en vlug.
Toe Mattie by die huis kom, staan juffrou Potberg in die voorportaal met haar hande op haar heupe. Dit lyk of sy gaan ontplof.
“Ek kan julle met die beste wil in die wêreld nie verstaan nie!” skree sy.
“W-wat?” sê Mattie verward. “Ek b-bedoel, wie?”
“Julle Moolmans – julle hou julle so vernaam, maar julle is te skándelik lui om agter julleself op te ruim! Dit lyk of ’n orkaan deur julle slaapkamers is! Wie verwag julle moet agter julle opruim?”
“Maar – maar my kamer is mos netjies,” stamel Mattie. “Ek het dit self vanoggend –” Sy praat verniet. Juffrou Potberg gee haar nie ’n kans nie.
“Is julle miskien prinsesse?” skree sy. “Moet gewone mense soos ek maar agter julle opruim? Ek het nuus vir julle: ek tel nie goed van die vloer af op nie! Dis nie my werk nie! Dit staan nêrens in my kontrak nie!”
“Maar my kamer –” probeer Mattie weer.
“Gaan kýk hoe lyk jou ma en susters se kamers! Toe – gaan kyk! Klere en grimering en tydskrifte op die vloer, skoene en haarborsels en nat handdoeke op die beddens, en –”
Terwyl Mattie wonder hoe dit háár skuld kan wees, begin juffrou Potberg se selfoon gelukkig lui en kan sy wegkom. Maar voordat sy heeltemal kan wegkom, skree juffrou Potberg agterna: “Gaan was eers jou skottelgoed!”
Skottelgoed? dink Mattie. Sy’t dan nie eens ontbyt gehad nie! Sy gaan loer by die kombuis in en sien ’n hoop skottelgoed in die opwasbak. Sy was dit gou en pak dit in die droograk. Gelukkig praat juffrou Potberg nog steeds oor die selfoon. Mattie kry gou ’n appel uit die spens en ’n paar blokkies kaas uit die yskas en glip by die agterdeur uit. Dis beter om die res van die dag in die halwe boomhuis te gaan bly. Teen sononder sal dit veilig wees om terug te kom; dan is juffrou Potberg gewoonlik in die woonstel en kyk sy heelaand televisie.
Mattie is so honger dat sy die appel en die helfte van die kaas opeet terwyl sy teen die bult afstap na die melkhoutbos toe. Sy los die orige twee blokkies kaas in haar kniebroek se sak. Dit sal haar middagete moet wees. Sy wens sy het meer kos saamgebring.
Voordat sy in die boom opklim waarin haar boomhuis is, oefen sy eers ’n ruk lank met haar touswaai wat aan ’n hoë tak van ’n ander boom hang. Sy staan op ’n laer tak, hou die tou met albei hande vas, spring uit die boom en swaai tot op ’n tak van ’n naburige boom. Dan draai sy om, spring weer en swaai terug na die boom waarvandaan sy gekom het.
’n Rukkie later kry sy dit reg om tot op die dek van haar boomhuis te swaai en veilig daar te land. Tevrede met haarself, strek sy haar op die houtvloer uit en luister na die kabbelmusiek van die rivier. Dit is tyd om aan planne te begin dink.
Die dag gaan vinnig verby. Toe die son begin sak, klim sy uit die boom en draf huis toe.
Sy sluip by die voordeur in. Die huis klink stil en leeg. Sy gaan loer versigtig by die kombuis in. Ook leeg. Sy gaan staan by die kombuisvenster en spits haar ore. Sy kan juffrou Potberg se televisie in haar woonstel hoor. Die huis is veilig. Nou kan sy aan aandete begin dink. Juffrou Potberg kook nie vir haar nie. Sy moet vir haarself kos maak. Sy gee nie om nie. Hoe minder sy en juffrou Potberg met mekaar te doen het, hoe beter. Al probleem is net, niemand het haar nog leer kook nie. Tannie Katrien het altyd vir haar gekook.
Daar is eiers in die yskas, sien sy. Gelukkig weet sy hoe om roereiers te maak. Sy hoop Henk hou van roereiers en roosterbrood. Sy sal ’n hoop roereiers en ’n klomp roosterbrood maak.
’n Ruk later is die tafel gedek en die kos gereed. Terwyl Mattie tamatiesous op die roereiers drup, lui die voordeurklokkie. Sy hardloop om die deur oop te maak.
“Henk! Ek is so bly jy’s hier!” Sy beduie met die tamatiesousbottel in haar hand hy moet inkom. “Ek moet jou iets dringends vertel!”
“Rêrig?” sê Henk verras en stap binne terwyl hy vir die bottel koes.
“Dis iets wat ek gisternag gesien het, Henk – ek weet nie wat dit was nie, maar dit het soos ’n reënbui van sterretjies gelyk! Ek weet sterre maak nie so nie, toe dink ek dis dalk vuurwerke, maar –”
“Mattie – versigtig met die bottel!” onderbreek Henk haar. “Moenie dit so rondswaai nie.”
“Goed. Maar dit kon nie vuurwerke gewees het nie, want daar woon mos nie mense in die Skimberge nie! En eintlik het dit nie soos vuurwerke gelyk nie, meer soos sterretjies wat val, en toe dink ek –”
“Mattie – gee vir my die bottel!” sê Henk. Hy kan nie toelaat dat juffrou Potberg Mattie vermoor omdat sy die huis vol tamatiesous gespat het nie.
“Goed,” sê Mattie ingedagte en gee hom die bottel. “Toe dink ek aan sterrereën, maar regte sterrereën is mos oor die hele nagruim, nie net op een plek nie! Dis hoekom ek wou hê jy moet kom kyk, Henk.”
“O … ek sien …”
“Ons sal natuurlik moet wag tot dit donker is. Kom ons gaan eet eers.”
Henk knik en stap saam kombuis toe.
“Dis ongelukkig net roereiers en roosterboord,” sê Mattie.
“Lekker,” sê Henk opgewek. “Dis net waarvoor ek lus was.”
Terwyl hulle eet, sê Mattie: “Daar’s nog iets wat ek jou moet vertel.”
“Wat?” vra Henk nuuskierig.
Mattie kyk vir haar bord terwyl sy hom van die eggo’s vertel. Sy praat saggies en vinnig. Toe sy klaar vertel het, voeg sy by: “Maar dalk is dit net die wind.” Sy kyk op en is bly om te sien Henk lag nie – hy kyk aandagtig na haar en knik sy kop.
Hulle dek die tafel af, was gou die skottelgoed en stap buitentoe. Die maan hang bokant die Skimberge. Die eerste sterre skyn al.
Terwyl hulle in die akkerboom opklim, voel Mattie gespanne. Sê nou dit reën nie meer sterretjies in die ravyn nie? Sy wil liewer nie daaraan dink nie. Sy wil dit so graag vir Henk wys.
Hulle klim en klim. Die lig van die amper-volmaan skyn plek-plek tussen die blare deur en help hulle om die pad boontoe te kry.
Hulle klim tot hulle nie hoër kan nie en gaan sit elkeen versigtig in ’n mik. Toe Mattie veilig sit, kyk sy op.
“Whoe-hoe!” juig sy saggies. “Daar’s dit!”
“Waar?” vra Henk. “Waar moet ek kyk?”
“Die blink strepie aan die voet van die berge …”
“Ek sien die rivier.”
“Kyk waar hy verdwyn.”
“Ja, ek sien. Daar’s steil berghange. Dit lyk soos ’n ravyn.”
“Dis reg! Kyk nou dieper tussen die berge in, aan die noordekant van die ravyn.”
Henk skuif ’n entjie op en druk ’n tak voor hom weg.
“Joe!” sê hy.
Vir ’n rukkie lank is hulle albei stil terwyl hulle na die vallende sterretjies staar. Onder, tussen die riete langs die rivier, kwaak die paddas asof niks ongewoons ooit gebeur nie.
“Henk? Wat dink jy is dit?”
Henk is nog ’n rukkie stil voordat hy antwoord: “Ek weet nie … Ons sal moet gaan kyk.”
Mattie snak na haar asem. Miskien is dit te goed om waar te wees. Terwyl sy styf vashou aan die tak waarop sy sit, draai sy na Henk.
“Bedoel jy dit, Henk? Dink jy regtig ons kan gaan kyk?”
“Ja, ons moet uitvind wat dit is.”
“Whoe-hoe!” sê Mattie weer.
“Ons kan probeer om rivierlangs met die vlot tot daar te kom,” sê Henk.
“Reg,” sê Mattie. “Wanneer gaan ons?”
“So gou as moontlik.”
“Hoe lank dink jy sal dit ons neem om daar te kom?”
“Ek’s nie seker nie,” sê Henk. “Miskien so ’n halwe dag.”
“En terug?”
“Stroomop sal langer neem. ’n Dag of twee.”
“Dit beteken ons sal minstens twee of drie dae weg wees,” sê Mattie. “Ons kan die tent en die slaapsakke neem. Maar … ons het ’n klein probleempie.”
“Ek weet,” sê Henk gedemp. “My oom en tante.”
“Wat gaan jy vir hulle sê?”
“Ek weet nie. Ek dink nog.”
Verniet, dink Mattie. Hy dink verniet. Daar’s nie ’n kans dat oom Gys en tannie Berta hom ’n paar dae sal afgee nie. Sy het die hele middag daaroor gedink. Sy kan saamgaan plaas toe en gaan mooipraat, en selfs belowe om op die plaas te gaan help wanneer hulle terug is, maar nogtans sal oom Gys en tannie Berta nee sê. Sy weet dit net. Dis hoe hulle is. Sy gee Henk nog ’n rukkie tyd om te dink, en sê dan: “Henk, ek het ’n plan.”
“Wat?”
“Ons vra nie toestemming nie. Ons los net briefies en gaan.”
“Dis nie ’n goeie plan nie,” sê Henk bekommerd.
“Ek weet. Maar wat anders kan ons doen?”
’n Rukkie later is hulle terug in die huis en sit hulle by die eettafel, elk met ’n pen en skryfblok. Mattie skryf:
Beste juffrou Potberg,
Ek gaan vir ’n paar dae saam met ’n maat iewers heen.
Moenie oor my bekommerd wees nie.
Dit tref haar dat juffrou Potberg beslis nie oor haar bekommerd sal wees nie. Sy frommel die bladsy op en begin oor.
Geagte juffrou Potberg,
Ek gaan vir ’n paar dae weg wees.
Ek is oor ’n paar dae weer terug.
Die uwe,
Mattie Moolman
Henk skryf:
Oom Gys en tannie Berta,
Ek is jammer dat ek vir ‘n paar dae nie op die plaas kan help nie.
Daar is iets wat ek moet gaan doen. Ek kom terug so gou ek kan.
Henk
“Waar gaan jy die briefie sit?” vra Mattie toe hulle klaar geskryf het.
“In die kombuis, langs die ketel. Tannie Berta sal dit daar kry.”
Tannie Berta gaan ontplof, dink Mattie. Oom Gys gaan woedend wees. Juffrou Potberg sal seker nie kwaad wees nie – eerder verlig.
“Ek sal ’n ruk voor sonop hier wees,” sê Henk terwyl hy opstaan en die briefie in sy broeksak steek. “Dankie vir die ete. Jy moet gaan slaap. Môre gaan ons hard roei.”
“Wag,” sê Mattie toe Henk begin uitstap, “neem die fiets!”
“O, reg … Dankie.”
Toe Henk weg is, begin Mattie kos inpak. Eers maak sy ’n stapel toebroodjies. Daarna kry sy ander eetgoed in die spens bymekaar: ’n blik ham, twee blikkies kondensmelk, ’n pak beskuit en ’n klompie appels. Sy pak die toebroodjies in ’n koekblik en die res in ’n mandjie. Môre vroeg, voor sonop, sal sy dit stoorkamer toe neem en in die trommels gaan pak.
Toe sy in haar slaapkamer kom, onthou sy van iets: iets wat sy diep in haar klerekas gebêre het. Dit was tannie Katrien se afskeidsgeskenk aan haar. Sy maak haar klerekas oop, stoot ’n klompie goed opsy en haal dit uit.
Dit is ’n fles lekkers. Die fles is deursigtig, soos glas. Die lekkers lyk soos kristalle. Hulle is glansend, halfdeurskynend en het ’n stroperige vulsel. Flonkers is die lekkertjies se naam. Sy sit die fles op die bedkassie neer. Dit moet saam op die vlot.
Sy stel haar wekker vir vieruur en klim in die bed.
Die huis is stil en leeg. Gelukkig kreun en sug die mure nie. Sy kan die Skimberge se musiek in haar gedagtes hoor.