Читать книгу Die Tyd van die kombi's - Koos Kombuis - Страница 6

Proloog

Оглавление

Ek het dit sien kom. ’n Sekonde voor dit gebeur het. ’n Sekonde wat rek … en rek … en rek. Die kar het teen topsnelheid oor ’n rooi robot gekom, en reg op ons afgepyl. Op die laaste oomblik het die bestuurder probeer rem, dit was asof die kar getilt het. Impak was onvermydelik. Hy’t vinnig gery, baie vinniger as die spoedbeperking. In daardie oomblik van absolute helderheid, net voordat die kar ons Kombi getref het, was dit asof my hele lewe voor my verbyflits, en ek alles in ’n totaal nuwe perspektief sien. ’n Ondenkbaar nuwe perspektief. Wat as alle mense ewe onnosel is? Wat as ras, kultuur of geloof niks met enigiets te doen het nie? In daardie breukdeel van ’n sekonde, in daardie klein stukkie tyd, daardie infinitesimale klein oomblik wat skielik so lank soos ’n ewigheid gevoel het, het ek al my optimisme sien verdamp, my ganse jeugdige idealisme sien wegvloei soos wyn uit ’n geskeurde papsak, het ek besef dat ek nie ’n vryheidsvegter se gat is nie, dat ek nooit Ché Guevara sou wees nie, dat ek eintlik my hele volwasse lewe weggerook het, dat dit amper al was wat ek gedoen het, die gerol van dagga-joints, die aansteek van dagga-joints, die aanpass van dagga-joints, eindelose dagga-joints, elke dag, elke nag, my hele lewe lank. My hele lewe is gewy aan orale fiksasies! My ma se tiete. My eerste dummy. My eerste botteltjies formula-melk. Om nie te praat van alles wat ek gerook het nie! Pype, sigarette, Turkse bongs, tuisgemaakte bottelnekke … en dan het ek nog niks gesê van die alkohol nie … ek was nie ’n bierdrinker nie, ek het gehou van wyn, maar nie duur landgoedwyn nie, o nee! Ek het goedkoop wyn gedrink. Sommer reguit uit die bottel. Om die waarheid te sê, dit was die image wat my beroemd gemaak het, die foto van my, op stage, met ’n bottel goedkoop rooiwyn teen my lippe – ek het dit gesuip soos koeldrank. Tassies. Hulle het my op die ou end geborg, hulle het nie eintlik ’n keuse gehad nie, in die oë van die publiek was ek en Tassies reeds sinoniem. Ek het my lewe voor my sien verbyflits, en ek het besef dit was alles ’n mors van tyd, ’n totale verkragting, ’n gejaag na wind. Ek het besef dat as ek vanaand sou doodgaan, dit alles verby sou wees, daar sou niks oor wees nie, niks pyn of plesier nie, niks meer musiek nie, niks meer plannetjies maak vir al die goeters wat ek nog wou doen nie, ek sou nooit in die Alpe gaan ski nie, nooit in ’n sportmotor deur die strate van Parys ry met die wind deur my hare nie, ensovoorts. Hoe stupid kan ’n mens wees? Hoe ongelooflik onnosel? Ons wou almal Amerikaners wees. Amal was so funky. Die ganse stryd teen imperialisme en apartheid is gevoer met die metafore van Hollywood en Big Business, die sigarette en die saksofone en die gepunte skoene en die shades en die attitude, daar was niks van Afrika daar nie, nóg by ons, nóg by die ouens van Sophiatown; dit was gangster-rap, dit was ou movie-soundtracks gespeel teen die drive-in screens van die verbeelding, Boys in The Hood, die hele lot van ons. Dis waaraan ek dink terwyl die kar op ons afjaag, in daardie sekonde voor impak. In daardie oomblik heroorweeg ek my lewe, beoordeel ek my keuses, en besef ek, wat ook al gebeur, of ons lewe en of ons sterwe, of ons vermink is of opstaan en van die wrak af wegstap, die revolusie is verby nog voor dit ooit begin het. Dat daar nooit enige revolusie was nie. Dit was alles net kak outfits, swak smaak en opgefokte longe.

Was dit?

Die Tyd van die kombi's

Подняться наверх