Читать книгу Die Tyd van die kombi's - Koos Kombuis - Страница 9
kitare en tikmasjiene
ОглавлениеIn die vroeë tagtigs het ’n ongekende rusteloosheid uitgebreek onder die wit jeug van Kaapstad. Daar was skielik oral subversiewe kulturele aktiwiteite.
Natuurlik was rock-bands en nagklubs niks nuuts in Suid-Afrika nie, maar daar was ’n nuwe dringendheid aanwesig: ’n subtiele soort sosiale bewussyn, ’n betrokkenheid. Om die waarheid te sê, die nuwe rebellie was nie net beperk tot die Kaap en omstreke nie, dit was orals oor die land (tot in Springs, ver noord, en, as mens David Kramer kan glo – en ek glo hom, want hy’t nog nooit vir my gejok nie – selfs op die platteland, op dorpe soos Worcester).
In die vroeë tagtigs was daar heelwat punk-groepe in Kaapstad, meesal nabootsings van bands en style wat terselfdertyd aan die gang was in Brittanje. Tog het party van die orkeste reeds ’n eie unieke klank begin ontwikkel. Een so ’n orkes was The Usual – hulle was tot die ander dag nog bymekaar! – en Bright Blue, toe nog ’n paar entoesiatiese tienderjariges met oop gesigte. Daar was ’n waansinnige konsep getiteld Benny B. Funk and the Sons of Gaddafi’s Barmitzvah Band – hierdie ouens sou waarskynlik wêreldberoemd kon raak bloot op grond van hulle naam as hulle nie so ’n verskriklike geraas gemaak het nie; feitlik die hele orkes het bestaan uit verskillende blaasinstrumente wat nooit heeltemal in tune met mekaar was nie.
Onthou enigiemand nog die nagklub Indaba? Dit was ’n moerse groot plek, reg in die middel van Kaapstad. Hier sou ek Tighthead Fourie and the Loose Forwards (Roger Lucey se eerste, semisuksesvolle kommersiële orkes) sien speel. Ek dink ook ek het Corporal Punishment hier gehoor, en hulle het my weggeblaas (die hoofsanger sou later die een of ander instrument – ek kan nie onthou wat nie – bespeel in Die Kakkerlakke, my eerste band). Indaba het bestaan uit ten minste drie of vier mezzanine-vlakke, die een bo-op die ander, en heel bo was daar ’n oop balkon waar die beste paarties altyd gebeur het, en waar dit gewoonlik baie maklik was om ’n trekkie van iemand se joint te kry, want almal was baie vriendelik. Die hele scene was soos ’n versie uit ’n vroeë protesliedjie van Bob Dylan. Enige versie, enige protesliedjie. Die idealisme het dik geloop. Dekadensie en moraliteit het mekaar se hande geneem. Ons kon die reënboognasie sien kom in die weerkaatsing van oliekolle op die teer. Alles was ’n feetjieland, die hele wêreld was ons oester.
Ja, dit was Kaapstad in die tagtigs.
Daar was ook allerhande ondergrondse bewegings in die genre van amateurteater. Klein plekkies waar groot dinge gebeur het. Ek was nie self rêrig clued-up met die dramagoed nie, maar ons het almal in dieselfde kringe beweeg, en ek het party van die goed bygewoon, mense leer ken.
Die bekendste van hierdie venues was natuurlik die ou Ruimteteater (vra Pieter-Dirk Uys gerus uit hieroor!). Weggesteek daar naby, in Peperstraat, was ’n plekkie met die naam The Glass Theatre, waar die jong Afrikaanse dramaturg Chris Pretorius besig was om die genre skouspelagtig nekom te draai. Nie alleen het hy die een groteske toneelstuk na die ander op die planke gebring nie; hy het ook saamgewerk met ouens soos Johan van Wyk, die avant-garde digter. Wanneer hy nie in die Kaap was nie, het Johan op sy ouers se plot buite Boksburg gebly, waar hy ontkleedanse gereël het by ’n eksklusiewe, klandestiene reggae-klub. Blykbaar het elke ou wat by die deur van die klub ingekom het, ’n gratis flessie vol skaapkak ontvang.
Ek was self bevoorreg om ’n vertoning van Chris en Johan by te woon, in ’n klein dakkamertjie in Seepunt. Tydens die vertoning het Johan, nakend behalwe vir ’n blinddoek, op ’n stoel gesit terwyl Chris slagspreuke met lipstiffie op sy maag geskryf het.
Chris het nie net weird plays opgevoer nie; hy het ook kunsuitstallings gehou en selfs sy lyf musiekpromotor begin hou. Hy was die brein agter die neo-punk-groep Zeesen Radio, ’n klomp ouens wat glad nie instrumente kon bespeel nie, maar geheel en al staatgemaak het op backtracks en verhoogtoertjies.
In 1980 het Die Groot Ding nog nie gebeur nie.
Maar dit was op pad, vinnig soos ’n wegholtrein, en meedoënloos soos vyftig Kombi’s sonder remme.
Ek het lank voor die tyd besef iets groots gaan gebeur. Hoe nader ons aan die tyd van die Kombi’s gekom het, hoe sterker was die voorgevoelens. Ek het die geraas van die lorries op die highway gehoor, en ek het geweet. Ek het die lorries gehoor elke aand terwyl ek uitpass op my matras op Dirk-hulle se sitkamervloer. Dirk en sy girlfriend het buite Bloemfontein gewoon, naby die Pitstop, en die N1 het op die bult bo hulle huis verbygekom.
Snags sou ek daar lê en dan hoor ek die lorries naderkom. Die kopligte van die lorries sou oorspoel van die een kant van die kamer se mure tot aan die oorkant. Dit het heelnag aangehou, die gedreun van die trokke, en die herhalende ligte wat patrone maak in my slaap. Die geswiesj-swiesj van die groot vragmotors se wiele wat verbyry, was die musiek waarmee ek aan die slaap geraak het. Iets het my geroep, toe al, en vir my gesê: jy gaan soos daardie trokdrywers word. Jy gaan ’n bestaan maak op die highways van Suid-Afrika. Dit is jou Taak.
Iewers in my onderbewussyn het ek besef dat musiek dit aan ons gaan doen. Dat Dirk alles sou reël. Ons sou die musiek maak, Dirk sou die Kombi’s kry. Op die een of ander manier sou Dirk altyd sorg dat die volgende Kombi gereed staan as die vorige een breek. Ons sou enigiets doen vir geld: fondsinsamelingskonserte hou, mechanics omkoop, of tweedehandse Kombi’s koop, al moes Dirk sy erfgeld daarvoor gebruik.
Sonder Dirk en sy Kombi’s sou niks ooit gebeur het nie. Net mooi absoluut fokkol. Fokkol rock ’n roll-revolusie, fokkol protesbeweging, fokkol kulturele ontploffing, fokkol waaroor Afrikaanse rubriekskrywers sou kon liries raak in die volgende dekade of twee. Dirk was die ou met die wiele. Dirk was bereid om alles te gee vir die cause. En ek het nooit eers vir hom dankie gesê nie. Ek het dit sopas besef. Hier waar ek sit en skryf. Dalk is dit hoekom hy so die bliksem in is.
Van Valerie se balkon af het mens ’n pragtige uitsig op Tafelberg. Sy swot Afrikaanse letterkunde nagraads by Ikeys, maar as sy klaar is, gaan sy ’n lawyer wees.
Om die een of ander rede het sy besluit dat ek haar boyfriend moet wees. Ek het nie eintlik ’n keuse gehad nie. Sy’t vir my ’n bewonderaarsbrief geskryf en ek het vir haar gaan kuier, en van daar af was dit afdraand. Sy het immers vooraf geweet dat ek nie haar sagte bruin oë, haar lenige lyf en haar lang hare sou kon weerstaan nie!
Valerie is soos ’n goedgetrainde Spaniel; haar hare is skoon en sy is sensitief en maklik om te streel.
Sy is slim ook; sy kan sonnette verstaan. Ek woon saam met haar in haar flat naby die kampus in Rondebosch. My lewe is perfek. Ek het ontsnap uit die rehabilitasie-eenheid. Ek woon ook nie meer onwettig in die hoerhuis saam met ’n bruin meisie nie.
Ek het geen idee hoekom ek, ten spyte van dit alles, nog steeds my eie lewe haat nie. Ek is tog ’n belowende jong skrywer. My beste Huisgenoot-stories is geboekstaaf, twee keer al. My gedigte is gepubliseer in ’n bundel saam met drie ander opkomende digters. Die bundel het goeie resensies gekry.
Tans werk ek aan ’n eksperimentele roman wat handel oor my eie lewe. Die roman – as dit ooit gepubliseer word – sal ten minste vyf eerstepersoonvertellers hê, en elkeen sal ’n ander faset van my eie persoonlikheid verteenwoordig (dus is dit die eerste groepsoutobiografie in die wêreldletterkunde). Dit sal ’n onvoorspelbare storielyn hê wat sal wegspring met my eie selfmoord (fiktief, natuurlik), om uiteindelik vas te brand in ’n swetterjoel seksuele eskapades (nie fiktief nie). Polities sal dit ietwat linksgesind wees.
Dit lyk of Valerie bekommerd is oor die roman. Toe ek die verhouding met haar begin het, was sy dol oor die idee om uit te gaan met ’n jong skrywer, maar ek vermoed sy sou dalk heimlik ’n meer konvensionele jong skrywer verkies het. Iemand soos J.M. Coetzee. Wat sy gekry het, is ’n kruis tussen Hunter S. Thompson, Kerouac, Nabokov en Rimbaud.
Vandag gaan dalk ’n keerpunt in ons verhouding wees, en nie noodwendig ten goede nie. Valerie kuier vir die dag by haar ma in Parow. Ek was stad toe vir die oggend, wou ’n paar goed gaan koop, maar het eindelik vasgedraai op Groentemarkplein waar ek ’n langspeelplaat gekoop het.
Die plaat se naam is Wie is Bernoldus Niemand?. Dis die debuutalbum van ’n sanger met die naam Bernoldus Niemand en dis uitgegee deur ’n maatskappy wat hulself Shifty Records noem.
Almal wat ek ken, praat oor hierdie nuwe sanger. Hy is vreemd en misterieus. Blykbaar wys hy nooit sy gesig nie. Hy verskyn op alle foto’s met ’n moerse cowboy-hoed op sy kop wat halfpad oor sy gesig getrek is; al wat mens kan sien, is sy mond wat grynslag. Hy is glo baie privaat, so erg dat hy nie eens opgedaag het by sy eie record launch nie.
Ek het nou al oor en oor geluister na Bernoldus Niemand se plaat en ek is diep beïndruk daardeur. Hy sing in ’n platvloerse styl, ’n vreemde mengsel van Afrikaans en Engels.
Daar’s iets van Jeremy Taylor daar, maar hy is baie meer rebels, meer direk. Hy is beledigend en anargisties. Maar al is sy liedjies se woorde so wild, is die musiek self nogal verstommend ingewikkeld. Dis classy tunes! Hy gebruik akkoorde wat ek glad nie ken nie, maar, soos Lennon en McCartney, sit hy hulle bymekaar op bedrieglik eenvoudige maniere, en skep so popdeuntjies met ’n gevaarlike edge. Deuntjies wat byt en torring, kitaarsolo’s wat mens nie wil los nie. ’n Ongelooflike album; naakte, in-your-face protes soos geen ander Suid-Afrikaanse sanger of liedjieskrywer nog ooit kon regkry nie.
Wie is Bernoldus Niemand? is moerig en rou. Dit doen vir Suid-Afrikaanse musiek wat Woody Guthrie vir Amerika gedoen het. En nog meer.
Hoe langer ek na die plaat luister, hoe meer kry ek ’n gevoel vir hierdie ou. Dis asof ek hom al jare ken.
Die album het een liedjie wat uitstaan as die solus-sewekeuse: “Hou my Vas, Korporaal”. Dis ’n prettige antiweermag-protesliedjie, en dit slaan my asem weg. Skaars het ek van die skok herstel, of ek word meegesleur deur die snedige ironie en hipnotiserende kitaarspel op “Reggae Vibes is Cool”. Ek raak dadelik verlief op die snit “Welcome to my Car” en verloor heeltemal kop as ek luister na “Snor City”.
Nadat ek die hele plaat drie keer deurgeluister het, kan ek myself nie meer in toom hou nie. Ek hardloop na Valerie se slaapkamer en kom terug met haar goedkoop nylonsnaarkitaar. Voor ek my kom kry, sit ek kruisbeen voor ’n draagbare kassetopnemer met haar kitaar. Ek sing al die Afrikaanse liedjies wat ek in die geheim gekomponeer het. Toe ek klaar is, sit ek die kasset in’n koevert.
Ek weet wat volgende gaan gebeur. Ek gaan dit pos aan Shifty Records (Bernoldus se platemaatskappy). En dan gaan die kak en hare amptelik begin.
Dit was nie net alles musiek, kuns en drama nie. Dinge het ook begin roer op die literêre front.
Ek moet erken dat ek op hierdie front dinge ’n bietjie aangehelp het.
In 1977, terwyl ek in Saal Ses in Weskoppies-hospitaal in Pretoria-Wes was – midde-in ’n klomp dwelmslawe, neurotiese huisvroue en andersins psigoties afwykende persone – het ek my eerste kortverhaal gepubliseer. Die verhaal se naam was “Die Man met die Lang Ding”. “Die Man met die Lang Ding” – ’n kort, absurde en ietwat surrealistiese vertelling van ’n homoseksuele man wat nie sy seksuele voorkeure kan verwerk nie – het ’n sensasie in die kleine veroorsaak. Dit is gepubliseer in ’n ondergrondse literêre tydskrif met die naam Donga. Donga is gepubliseer deur ’n groep feministe onder leiding van Welma Odendaal en Rosa Keet. André le Roux, kortverhaalskrywer en tans groot gees by Sarie, het op dieselfde bladsy as ek gedebuteer met ’n gedig. Ek het spesifiek opgelet na André le Roux se gedig omdat ek destyds onder die naam André le Roux du Toit geskryf het. Ek was geweldig beïndruk met André se gedig. Dit het die gevoel van vervreemding wat intrinsiek deel was van ons generasie perfek oorgedra:
ek het jou lief met ’n hand vol
hare in my hand en stap en sit
in my kamer die ganse goddelike dag
alles wat ek weet is weg
ek weet niks …
Later sou ek, uit respek vir sy kunstenaarsintegriteit, vir André kontak en aanbied om my eie naam te verkort na “André Letoit” sodat hy kan aanhou skryf as “André le Roux” sonder dat daar verder verwarring geskep word. Hy het die kompromie blymoediglik aanvaar, en alles het goed gegaan totdat ek eendag, jare later, besef het dat “Letoit” ’n anagram vir “toilet” is. Toe sou ek begin rondkyk en, na my Tweede Bekering, by die naam “Koos Kombuis” uitkom.
Toe die regering die uitgawe van Donga waarin my en André le Roux se bydraes verskyn het, verbied – nie alleen van die rakke afhaal nie, maar verklaar dat dit ’n misdaad was om ’n eksemplaar van die tydskrif te besit – het die redakteurs onmiddellik besluit om te hergroepeer en ’n ander tydskrif te stig.
Hoewel ek Welma Odendaal nie persoonlik geken het nie, het ek ’n heldeverering vir hierdie legendariese vrou van Afrikaanse literatuur gehad. Sy was gedurig in die moeilikheid, maar sy wou nie gaan lê nie. (In daardie opsig was sy heeltemal anders as die meisies in my lewe.)
Hierdie dapper groepie vroue het ook ander geïnspireer om dieselfde taktiek te volg. Binne ’n paar maande was klein, nieamptelike Afrikaanse “literêre” tydskriffies orals besig om kop uit te steek. In Johannesburg het twee studente van die Universiteit van die Witwatersrand, Dan Roodt en ene Karen Konsentrasiekamp, ’n bisarre en vulgêre blad met die naam Taaldoos op die been gebring. Die briljante jong digter Theunis Engelbrecht het gevolg en, onder die skuilnaam Koekie Ziervogel, die tydskrif De Nieuwe Poes uitgebring (dieselfde Theunis Engelbrecht sou later, soos ek, tydelik letterkunde verruil vir musiek, en die band Randy Rambo en die Rough Riders begin – ook bekend as Die Naaimasjiene – wat in die Voëlvry-tyd sterstatus sou behaal ten spyte van die feit dat hulle baie selde lewendig opgetree het). Nog ’n tydskrif – die ietwat meer duursame publikasie Stet (dit was een van die min nuwe tydskrifte wat nie dadelik verbied is nie) – is gestig onder redaksie van Gerrit Olivier. Waarskynlik die mees invloedryke nuwe tydskrif van die hele lot was egter die netjies gedrukte, byna snobistiese blad Graffier, die skepping van die Stellenbosse skrywer Etienne van Heerden. Etienne, ’n ou skoolvriend van my, was ook voorsitter van die nogal prestigeryke literêre forum genaamd Die Kaapse Groep, en hy het my nie alleen oorreed om deel te neem aan hul besprekings nie, maar my toegelaat om, vir ten minste een uitgawe, my eie eerste satiriese tydskriffie, Graffiti, uit te gee as deel van Graffier.
My vriend Etienne verdien dalk ’n bladsy spesifiek ter ere van hom.
Dit was Etienne wat, meer as enige ander vriend, my greep op die werklikheid geword het toe my persoonlike postadolessente soektog na ’n persoonlike mite of allesoorkoepelende waarheid begin handuit ruk het. Vir ’n paar jaar lank sou ek na “’n god” gaan soek in verskillende kerke; ek het dienste bygewoon by oplewingsgroepies en handeklapsektes, sinagoges, en selfs by die spiritualiste. Toe al hierdie soektogte na ’n god misluk, het ek boeke begin lees oor levitasie en astrale projeksie.
Ek het my vriende meegedeel dat my naam van nou af Abraham sou wees – deels na aanleiding van Abraham uit die Ou Testament, en deels in nabootsing van een van my gunstelingskrywers, Abraham de Vries.
As selfaangestelde “profeet” van ’n “nuwe geloof” het ek vir my vriende tientalle “openbarings van ’n god” gepos, asook foto’s van myself. In sommige van die foto’s het ek ’n Afro-haarstyl gehad, in ander lang bakkebaarde. Soms het ek ’n donkerbril gedra waarvan die een glas weg was, om lig en duisternis te simboliseer. Ek het ’n dualistiese bestaan gelei, en hierdie bisarre beelde was die beste manier waaraan ek kon dink om dit uit te beeld.
Gemengde metafore was aan die orde van die dag.
In hierdie tye van geestelike verwarring, te midde van hierdie fantastiese private reis tussen lugkastele van waansin, was dit telkemale Etienne wat my teruggebring het aarde toe; nie deur my te oordeel nie, maar deur my te herinner daaraan dat ek in die eerste plek nie die profeet van ’n nuwe geloof is nie, maar ’n skrywer …
“Skryf alles neer,” sou hy in elke brief of telefoonoproep sê. “Werk aan jou gedigte. Skaaf aan jou kuns. Want jy kan nog ontpop in een van die grootste ghoeroes van Afrikaans wat ons land nog ooit gesien het.”
As ek meer vir hom geluister het, sou dit dalk gebeur het, en sou ek gouer ’n gerespekteerde skrywer geword het pleks van so lank vas te haak by die sing van rymelaryagtige liedjies.
Dis ’n stowwerige dag in die Transvaal. Vanoggend het ek in my pel Fanie se kar geklim en hy’t my ’n lift gegee tot by Shifty Records. Fanie is my beste pel. Hy is selfs ’n groter pel as Etienne. Ek het hom ontmoet in ’n hysbak in Pretoria jare gelede – dit was nie ’n toevallige ontmoeting nie, maar ’n afspraak waaraan ons lank beplan het – en sedertdien het ons ure en ure in mekaar se geselskap deurgebring.
Terwyl Fanie my ’n lift gee na Shifty Records, weet ek nie dat hy in die vroeë een-en-twintigste eeu aandag sal trek in die Afrikaanse literatuur met sy debuutroman nie. Ek weet nie dat Fanie se debuutroman se naam Kontrei sal wees nie – ’n naam wat ek vir hom sal uitdink – en dat hy sal skryf onder die skuilnaam Kleinboer nie. Terwyl ons tussen die droë geel gras van die landskap buite Johannesburg ry, weet ek nie dat Fanie – oftewel, Kleinboer – eendag beroemd sal wees vir (a) die feit dat hy nooit enigiets anders sal dra tydens koerantonderhoude as sy swart Jack Daniels-T-hemp nie (b) hy tydens sy eerste regstreekse onderhoud op ’n TV-program sal bieg dat hy in sy lewe by ongeveer vierhonderd swart vroue geslaap het, waarvan die meeste HIV-positief was (en dit alles voor die ontdekking van werkbare retrovirale middels); en (c) dat hy later in ’n privaat gesprek met my sou erken dat die getal (vierhonderd) wat hy op TV genoem het ’n konserwatiewe skatting was, en dat agthonderd waarskynlik nader aan die waarheid sou wees.
Shifty Records se hoofkwartier is in ’n plaashuis in die middel van nêrens. Buite in die jaart sien ek ’n hondehok van hout met ’n bordjie daarop wat sê:
dog will be aroused only by the distinct possibility of food
Binne-in die plaashuis skud ons hand met Lloyd Ross. Hy is ’n langerige, maer ou met hartseer oë. Hy laat ons sit op stoele op sy plaashuisstoep terwyl hy self eenkant teen die muur leun. Hy gee die indruk van ’n skugtere weerloosheid, maar wanneer hy besigheid praat, kom hy onmiddellik tot by die punt.
“I will record your songs and release it on cassette,” sê hy met ’n hartseer stem (asof dit die slegste nuus is wat hy ooit aan iemand oorgedra het). “You will probably not make a lot of money. You might become a minor cult figure, though.” (Ek weet dit nog nie, maar hierdie is ’n historiese oomblik. Nie omdat dit die begin van my musiekloopbaan is nie, maar omdat dit die eerste en laaste keer is dat die baas van ’n platemaatskappy ooit vir my die waarheid sou vertel.)
My kickstart in die musiekindustrie het gekom omtrent op dieselfde oomblik as my eerste groot deurbraak in die letterkunde. Hierdie suksesverhale is moontlik gemaak omdat ek raakgesien is deur ’n platemaatskappy – Shifty – en ’n uitgewersmaatskappy – Perskor. Hoewel Shifty ’n baie klein maatskappy was, en Perskor ’n baie grote, was beide hierdie instansies – hoe sal ek dit stel? – om die verkeerde redes bekend in hul onderskeie industrieë.
Shifty was, soos hulle naam aangedui het, nie baie stabiel nie. En Perskor was – om dit nou reguit te sê – bekend vir sy inconsistent track record. Hoewel Perskor by tye briljante boeke gepubliseer het, was hulle ook berug daarvoor dat hulle swak of middelmatige boeke uitgee waaraan niemand anders wou raak nie, hul publikasies was dikwels vol set- en taalfoute, hulle het swak kwaliteit papier gebruik en hul voorblaaie was verbeeldingloos. Daar was ’n legio redes om Perskor te vermy.
Drie faktore het egter in hul guns getel. Eerstens was hulle, soos ek reeds gesê het, ’n groot maatskappy. Die meeste Afrikaanse koerante in die Transvaal het aan hulle behoort. Tweedens het hulle die meeste populêre boekeklubs beheer, die snert en ligte vermaak vir wie ek soms weggooistories gestuur het in ruil vir maklike kontant. En derdens het ek verlief geraak op die mense wat in hul klein Kaapse agentskap gewerk het.
Laat ek verduidelik. Daar het, benewens die sekretaresse in die ingangsportaal, slegs twee mense voltyds in hul Kaapse kantoor gewerk: ’n meisie met die naam Dineke (wat later sou help sing op my eerste Shifty-album) en ’n ou gryskop-Hollander met die naam Gerry de Melker. As ek sê “ek was verlief” bedoel ek nie ek was romanties betrokke by enigeen van hierdie twee mense nie. Gerry was byna vir my ’n vaderfiguur, en Dineke was net ’n pel. Maar ek was verlief op die konsep van Perskor se Kaapse kantoor.
Hulle was geleë hoog op in ’n baie ou gebou in die middestad van Kaapstad; om daar uit te kom, moes ’n mens ’n hele paar verdiepings opry in ’n raserige ou hysbak. Die eerste ding wat jy gehoor het wanneer jy op die boonste verdieping uitstap, was die gekoer van die duiwe.
Om by hul kantore in te stap was soos ’n toneel uit The Hunger. Die kamers was donker, met hoë plafonne, en tussen die boekrakke en lessenaars was groot oop spasies. Agter vuil vensterruite was die duiwe besig. Hulle was voortdurend besig om al koerend op te styg en te land.
Daar was iets intens ouwêrelds en literêr aan die hele situasie; terwyl ek en Dineke by haar lessenaar gesit het, besig met die samestelling van my eksperimenele roman Somer II (die roman wat ek in Valerie se woonstel geskryf het), of terwyl ek en Gerry oor publikasiedatums sit en gesels het in die kantoor langsaan, sou die duiwe heeltyd fladder en skrop en raas buite op die vensterbanke.
Ek was dol daaroor om tyd daar deur te bring. Dit was as-of net ek van hulle geweet het.
Terwyl sommige skrywers Perskor soos die plaag vermy het en nooit eens oorweeg het om in te loer by hul Kaapse kantoor nie, was dit asof hierdie wonderlike plek my geheim was. Hierdie onontdekte hoekie van Afrikaanse letterkunde was die een plek waar ek werklik tuis gevoel het.
Daar was altyd koffie aan die prut. Daar was byna altyd iemand om my dadelik te sien, sonder ’n afspraak. Selfs die enkele kere dat hulle my nie onmiddellik te woord kon staan nie, kon ek wag by een van die groot hoë vensters en die duiwe dophou waar hulle veg vir ’n sitplekkie op die nou lysie so hoog bo die strate van die stad, en daar kon ek staan, en ek kon droom …
Ja, ek kon drome droom van al die boeke wat ek nog wou skryf, en publiseer, en hoe beroemd ek sou word …
Gerry het met ’n kierie geloop, en hy was moers eksentriek, maar ek kan aan geen ander uitgewery dink wat bereid sou wees om ’n kans te vat met ’n boek soos Somer II nie.
Tot vandag glo ek dat as Gerry nie destyds geïnteresseerd was in daai manuskrip nie, ek nie vandag ’n loopbaan as ernstige skrywer sou gehad het nie. (Het ek so ’n loopbaan? Die punt is debatteerbaar.)
En, soos die gode dit wou hê, was Dineke net omtrent die enigste editor in die ganse Afrikaanse uitgewerswese wat kans gesien het om so ’n boek aan te pak.
Vir ’n wyle dus was die Kaapse kantore van Perskor my geestelike tuiste, my heiligdom, die plek waar ek die advies en leiding ontvang het waarna ek my lewe lank al gesmag het, die plek waar my literêre loopbaan solank begin vorm aanneem het (terwyl ek gewag het vir Shifty Records om met my ooreen te kom op ’n datum om my album op te neem). Dit was amper te goed om waar te wees.
Tot vandag toe, wanneer ek terugdink aan daardie wonderlike maande toe ons gewerk het aan Somer II, is dit asof ek in my agterkop die gekoer en die gefladder van die duiwe kan hoor.