Читать книгу Die Tyd van die kombi's - Koos Kombuis - Страница 8
vanaf 1969 tot nou
ОглавлениеDit was die slegste van tye, dit was die beste van tye, dit was ’n baie ontstellende tyd, dit was erger as die hemel en beter as die hel, dit was ’n vuurwarm tyd, dit was ’n onstuimige tyd, dit was ’n tyd van vreeslike flaters en aaklige idealisme, dit was ’n tyd van verskriklike babalaas en ongelooflike dekadensie, dit was ’n tyd van dood en lewe, saamwerk en uiteenspat, woede en vreugde, dit was ’n tyd van papbroeke en helde en dwergies en beswymelde tienermeisies en korrupte platemaatskappye, en bedwelmde apatie en morsige orgasmes, en amper al hierdie goed het gebeur agter in onpadwaardige Kombi’s in die middel van die highway, teen ’n gemiddelde snelheid van ongeveer honderd-en-veertig kilometer per uur.
In die begin – voor die koms van die Kombi’s – het ek net woorde gehad. ’n Hele klomp woorde, en ’n paar wysies, maar nie vreeslik baie wysies nie, want my kitaar was gewoonlik uit tune uit, en ek het net drie of vier akkoorde geken.
En g’n wonder my kitaar was so uit tune uit nie! Ek het dit in standerd sewe gekoop by my pel Nabba, vir presies vier rand. Vier RAND, vir ’n hele kitaar! Ja, ’n skamele sestien biljoen Zimbabwe-dollars volgens gister se koerse! Maar nou ja, dit was die jaar 1969, ek was skaars vyftien jaar oud, en vier rand het baie geklink; dit was meer as wat ek in ’n week verdien het met blare hark en papiere optel in die tuin.
In 1969 was daar nog nie amptelik iets soos ’n algemene Afrikaneropstand teen nasionalisme nie.
Vir die meeste van ons was dit ’n tyd van volslae onskuld.
Maar dalk was die onskuld nie volslae onskuldig nie, want party van ons het toe al begin agterkom iets is verkeerd.
In 1969 het nog net ’n handjievol Afrikaanse skrywers en digters die regime bevraagteken. Die meeste van hierdie skrywers en digters was in Parys. (Nie Parys, Vrystaat, nie, maar Parys, Frankryk.) Die vlammetjies van protes wat aangesteek is daar ver deur hierdie ontevrede ballinge sou egter geleidelik lei na ’n groter vuur van revolusie.
So: wanneer het wit protes werklik begin? Vir my was dit meer as vyf-en-twintig jaar gelede, vanaf my eie private ballingskap, my feitlik onverklaarbare keuse, toe ek vanuit die sagte arms van die literêre establishment gedonner het tot in daardie klein armoedige kamertjie in die hoerhuis in Langstraat saam met Jillian Botha.
En tog, al was ek toe nog nie van al die dinge bewus nie – ek was nooit ’n Sestiger nie, en ek was nooit betrokke by Musiek en Liriek nie – wek die jaar 1969 ’n spesiale eggo op. Hoewel ek self nog nie in 1969 so aktief in die kultuur was nie, het ek toe al baie dinge sien gebeur, en daarom is 1969 ’n belangrike jaar vir my ook, ’n seminale jaar.
Eerstens was 1969 die jaar van die Woodstock-fees in Amerika. Die meeste Suid-Afrikaners het nie hiervan geweet nie. Vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse musiekliefhebber was die belangrikste mylpaal van 1969 nie Woodstock nie, maar die feit dat ’n liedjie met die naam “Lily the Pink” op ons Top Twintig was. Daar was egter wel ’n klompie van ons wat ons ore op die grond gehad het, wat geweet het van Woodstock en wat dit beteken.
Die Woodstock-fees sou op die ou end vir die tieners van die wêreld beteken wat die Franse Revolusie vir die werkersklasse van die wêreld beteken het. Dit was ’n wekroep na selfbewusssyn, die begin van ’n patroon van jeugdige aggressie, dit was iets nuuts om na te strewe, iets om na te boots, dit was iets groots en heiligs en ontsaglik edel; dit was die opening-salvo van die oorlog teen middelmatige middelklaswaardes wat vandag nog voortduur. Dit was die taal wat ons wou praat.
Die Afrikaanse skrywers en digters in Parys, die ontevrede uitgewekenes, het op hul beurt gesorg dat 1969 die seminale begin was van groot literêre gebeure in Afrikaans. Dit was midde-in die betekenisvolle periode in die skrywer André P. Brink se loopbaan tussen die publikasie van sy laaste soetsappige boek – Miskien nooit – en die skryf van die eerste van ’n reeks sterk, invloedryke anti-apartheidromans soos Kennis van die aand. Mens kan maar net gis oor wat presies hierdie kopskuif in Brink veroorsaak het, en waar sy gedagtes in die jaar 1969 rondgedwaal het.
Dit was ook in 1969 dat Breyten Breytenbach vir die eerste keer ware literêre volwassenheid sou bereik as digter met sy bundel Kouevuur; ’n baanbrekerswerk, ’n mylpaal vir Afrikaanse poësie.
Gepraat van poësie, daar was natuurlik ook Antjie Krog. Hierdie skooldogter-digteres sou in 1970 haar opspraakwekkende, eksplisiete debuutbundel, Dogter van Jefta, publiseer. Sonder twyfel was 1969 – toe sy sewentien was – die jaar waarin sy haar eie seksuele ontwaking ervaar het.
Soos die toeval dit wou hê, was 1969 die jaar waarin David Kramer gematrikuleer het by Worcester se Hoër Seunskool. Hy sou uiteindelik sy eie Kombi-revolusie begin, en, jare na Voëlvry, brûe bou op die platteland om wit en bruin musikante nader aan mekaar te bring. (Ek kan nie help om te wonder wat sou gebeur het as hy destyds, in 1969, vir Antjie ontmoet het nie.)
Op die keper beskou was 1969 ’n jaar van klein ontkiemings, versteekte moontlikhede, potensiaal. Hoewel ek self nog nie aktief was nie, het ek dit aangevoel daar waar ek in my slaapkamertjie in Cluverweg, Stellenbosch, my vierrand-kitaar sit en speel het – die stadige ontwaking van ’n nuwe wêreldkultuur, die heerlike belofte van ’n lewe anderkant apartheid en Calvinisme.
Min mense het dit besef. Ons protes het nog lank nie die hoofopskrifte gehaal nie. Maar ek sal 1969 altyd onthou as Die Jaar van die Kitaar.
Dit was ook Die Jaar van my Eerste Bekering. Of die jaar wat aanleiding begin gee het tot my Eerste Bekering in 1971.
Durf ek dit sê? Durf ek weer daarvan praat? Miskien liewer nie.
Punt is, ons almal, ons hele geslag, is gebreinspoel met die Bybel sedert kindsbeen. Dit was onmoontlik vir ons om apaties te staan teenoor God. Hy was deel van jou lewe, of jy dit nou wil hê of nie. Ateïsme was buite die kwessie. Jy kon God haat, ja, maar jy kon Hom nie wegwens nie.
Hieroor is ek nie kwaad nie. As gevolg van hierdie opvoeding voel ek asof ek God van kleins af ken. As ek kwaad oor iets mag wees, is dit dat die honeymoon so kort was, dat hierdie mense my mettertyd onder ’n al groter wanindruk betreffende God gebring het.
Want, anders as die God waarvan hulle my later in katkisasie sou leer, het die God wat ek as kleuter ontmoet het in die bladsye van my Kinderbybel regtig bestaan. Ek was in kontak met Hom elke aand as ek in my pajamas op my knietjies gekniel het. Partykeer het Hy vir my goed gesê. Hy’t nie gepraat in woorde nie, maar in prentjies.
Hy’t my gewaarsku teen ’n monster, ’n baie sterk monster wat, in die jare wat kom, my volk sou kom vernietig. Wanneer ek Hom gevra het wie of wat die vyand was, was Hy egter vaag.
Ek het geweet daar is ’n vyand, maar ek het nie geweet wie of wat die vyand is nie. Ek het toe nog nie besef die grootste vyand van die volk was dalk nie iemand buite die volk nie.
Eers later sou ek begin verstaan: die vyand was Ons Self.
Ek is gebore in 1954, ses jaar na die Nasionaliste aan bewind gekom het, en ’n paar jaar voor hulle die groepsgebiedewet sou implementeer wat op die ou end dosyne ou woonbuurte soos Distrik Ses sou vernietig. Toe ek in die laerskool was op Stellenbosch, het daar nog bruin families aan die onderpunt van Dorpstraat gewoon. Presies op die spot waar Dagga-Dirk Uys later die kantoorspasie vir die Trippy Grape-platemaatskappy sou huur.
Toe die Nasionaliste die lem van apartheid inlê, het hulle begin om alles te vernietig wat aan ons en die bruinmense, ons gemeenskaplike oorspronklike Afrikaanse volk, behoort het: die vrolike kultuurerfenis van die Klopse, die ou volkspele, al die klanke en geure van die ou Kaap.
En moenie my vra hoe nie, maar ek het geweet. Toe al. Ek het die lem aan eie bas gevoel.
Ek het as kind begin nagmerries kry van naderende gevaartes, groot geel masjiene met wit omies aan die stuur, wit omies met oorpakke en kwaai gesigte, mense wat alles sou verorber en vernietig waarin ek wou glo.
Ek onthou dat die angs by tye so erg geword het dat ek agter in die tuin op ons klein grasperkie met die lang gras gaan staan en opkyk het na die son direk bo my in die lug, en so lank moontlik my oë probeer oophou het, terwyl ek soos ’n besetene in die rondte getol het tot die son swart geword het in my agterkop, en ek neergeval het, dronk, verblind, en hygend van uitputting en waansin.
Dit was waar die wegholtrein van anargie sy eerste tjoektjoekies begin gee het. Toe al. Dit was die begin van die Alternatiewe Beweging. Dit was die eerste teken van die naderende stormwolke wat later die hele landskap sou verdonker.
In 1969 was ons lewens so georden, daar was nie eens ’n semenvlekkie uit posisie nie. Selfs ons geheime sondetjies was vooruitbestem deur die Allerhoogste.
Ons was in aparte skole, nie net die wit en swart kinders nie, maar ook die dogters en die seuns. Dit was op ons dorp so. Die meisies was in Hoërskool Bloemhof. Ons was in Paul Roos Gimnasium.
Ons het soggens skool toe gegaan, smiddags krieket of rugby gespeel, saans ons huiswerk gedoen, en oor naweke het ons ons moed bymekaargeskraap en vir meisies gaan kuier by hul ouerhuise, waar ons stilletjies verlief geraak het terwyl ons koeldranke drink uit lang glase.
Ons het die beste van alle wêrelde gehad. Ons aardse woonplek was suburbia, ons hemelse bestemming was die Nuwe Jerusalem. Niks sou ons van ons erfenis weerhou nie, want dit was vooruitbestem deur Calvinisme, geborg deur Sanlam, en beskerm, met God se hulp, deur die ysterhand van die Polisie en die Weermag.
En wanneer die twyfel ons wou bekruip, was daar altyd die private troos van hand in eie boesem steek.
Nou, hier is die interessante ding van Suid-Afrikaanse musiekrebellies. Ek weet van drie ander naas Voëlvry in die eighties. Daar was Sophiatown in die 1950’s. Daar was Musiek en Liriek in die seventies. En daar was die De la Rey-besigheid in 2007–2008. Drie van hierdie revolusies was blank/Afrikaans, en een was swart. Al vier hierdie revolusies word deesdae in ’n sekere politieke of rebelse konteks gesien. Die feit is dat slegs die De la Rey-fenomeen uitsluitlik polities was. Die ander revolusies is met meer gemengde motiewe gepleeg; hoewel politiek deel van die bagasie was, is dit gelei deur jongmense wat ’n jol gesoek het, ’n groter jol as die jol wat beskikbaar was in die milieu waarin hulle hulself bevind het. Anders as die antikapitalistiese rebelle in Iran, wou ons gekleurde sokkies dra.
Die Sophiatown-ouens was gatvol vir tribal chants; hulle was die eerste geslag kultureel ontwortelde swartes wat in die omgewing van die grootstad ’n stedelike idioom gevind het. Die jol het eers overt polities geword toe die Nasionaliste met hulle begin sukkel het.
Die Musiek-en-Liriek-ouens was gatvol vir Gé Korsten en Min Shaw. Eenvoudig soos dit. Hulle wou terugkeer na die warmte en eerlikheid en oorspronklikheid van die Briels, maar in ’n meer gesofistikeerde idioom.
En ons van Voëlvry was op ons beurt gatvol, nie net vir Gé en Min nie, maar ook sommer vir die Musiek-en-Liriekouens, vir die beperkte keuse popmusiek wat ons kon hoor op Pop Shop, vir die feit dat al die goeie rockmusiek net in Amerikaanse Engels was, vir die feit dat ons vervreemd gevoel het van ons ouers en die kerk en die hele Nasionale Party-package-toer wat al op reis deur die Calvinistiese woestyn was sedert 1948. By implikasie – en in die heel laaste instansie – was ons natuurlik ook teen apartheid, nie omdat ons politiek baie goed verstaan het nie (ons idees hieroor was bra naïef), maar omdat ons outomaties teen alles was waarvoor die ouer geslag gestaan het.
Politiek was dus nie alles nie. Een van die plakkate wat omhoog gehou is deur studente tydens die Stellenboschbetogings op die laaste been van die toer, het gelui:
PRAAT MET ONS
Ons was nie bloot almal slegs in opstand teen die ouer generasie nie. Daar was sommige van ons wat ook wou uitreik na hulle. Dis waarskynlik hoekom ek eers die Kruik-opsie probeer het voor die meer anargistiese rock ’n roll-opsie (sien die hoofstuk “sonsverduistering en geheueverlies” oor Piekniek by Dingaan).
Van rock ’n roll gepraat, dis die ander ding wat deur geskiedskrywers misgekyk of ondergeaksentueer word. Dis verbasend hoeveel van hierdie musiek-protesbewegings – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd – geïnspireer is nie alleen deur die Woodstock-fees van 1969 nie, maar deur Amerikaanse musiekgenres oor die algemeen. Ons, sowel as die De la Rey-ouens, het stilisties geleen by rock ’n roll. Musiek en Liriek se rolmodelle was uit die Amerikaanse folk-bewegings van Bob Dylan, Cat Stevens en Joan Baez (wat op hul beurt roots gehad het in die vakbondbewegings, die Guthries, die pre-Woodstock-rebelle). En Sophiatown se sharp darkies met hulle blink skoene het teruggegryp na die era van die Big Bands, Motown, soul, die swart ghetto’s van die nuwe wêreld. Hulle was suiwer Chicago. Hulle was nie oorspronklike Afrikane nie, hulle was recycled Amerikaners.
Daar is soveel paradokse hier dat ek dadelik gaan ophou worry daaroor. Punt is, dit was alles deel van ’n groeiende globale bewussyn, aanvanklik aangehits deur gekleurde sokkies en kitare, nou soos ’n veldbrand aan die versprei deur die Internet en informele kommunikasiemetodes. Ek skat as daar in Iran iets kon wees soos demokrate teen demokrasie, is daar iets soos antiglobalisasie-globaliseerders.
Soos baie ander sogenaamde “liberal” wit Suid-Afrikaners vra ek myself dikwels af: wéét die gemiddelde ANC-politikus enigsins van hierdie algemene twintigste- en een-en-twintigste-eeu tendens? So baie van hul uitsprake verraai ’n totale onkunde van selfs die basiese jargon van die nuwe bewussyn dat ek wonder waar en hoe hulle die bus gemis het.
Of is dit ons wat hulle bus gemis het?
Onlangs het ek hierdie stukkie papier met gekrabbelde skryfwerk daarop ontdek tussen my notas. Ek dink dit was oorspronklik bedoel as deel van ’n Engelse wetenskapfiksiemanuskrip, en miskien gebruik ek dit nog vir so iets, maar ek haal dit graag hier aan, want daar is geen twyfel waar ek aan die idee gekom het nie:
They were the clay people, the grey people, the people who reared us. They could not see where they were walking, and they could not hear anything, neither could they speak, because the sockets of their eyes and the openings of their ears and their mouths were stuffed with clay. Their entire bodies were covered in thin layers of clay. The clay was grey.
Because they could not see or hear or speak, they had developed complicated codes and mechanisms for communicating with one another. They had built tiny cellphones and they used electronic beeps and flashing lights. Their lives were ruled by graphs and symbols and percentages. Being unable to communicate any thought directly, they had to translate it into digits and formulas, which they transmitted through the airwaves and via their own genetically altered synapses. Even their pleasure was technical. The expressions on their faces did not change when they were experiencing exhilaration or pain.
To us, their children, they were inscrutable. It was impossible to understand them, unless one gave up, and agreed to the operation. The operation was painless, and the results almost immediate.
I cannot tell you how many friends I lost this way. These young people would enter the grey hospitals manned by grey men, they would enter as happy, normal, carefree children, and they would emerge the next day, all sombre and serious, their eyes glazed over by the first tiny growths of clay, their faces void of emotion.
Then they would be sent away on courses to learn how to use their new little cellphones and other instruments.
Those of us who remained, who refused to undergo the operation, became electric guitar players, and disappeared into the sewers and side streets of the big cities to form noisy rock bands.
But no matter how loudly we played, they never heard us. For they were the clay people, the grey people, and we were no longer their children. We were the rejects of their perfect society.
In retrospek: my familie was miskien oukei, maar die mense wat my familie ontwerp en gesponsor het, was niks lekker nie.
Vanoggend, pas nadat ek my kinders by die skool gaan aflaai het, vang ’n koerantopskrif my oog. Dis die een koerantopskrif wat ek al jare lank vrees, sedert die tyd van die Bothas:
OPSTAND IN WEERMAG
Later sou ek agter die kap van die byl kom. Die Suid-Afrikaanse Weermag (wie se soldate maande laas behoorlik betaal is, waarskynlik omdat die kabinetsministers hulle hele army-budget geblaas het op onwelriekende wapentransaksies) dreig om die opening van die Parlement môre in Kaapstad te ontwrig.
“Die polisie moet maar doen wat hulle kan,” sê die woordvoerder van die Weermag (vreemd genoeg, sy van is glo Boer). “Ons sal daar wees, met ons T-hemde en ons baniere.”
Die toneel van hierdie klein oorlog – wat dalk op die ou end net ’n geredekawel gaan wees – is ongeveer dertig kilometer van my huis af. Soos die kraai vlieg, nie veel verder as die lughawe nie, net ’n entjie verder as my volgende glas Guinness in Londen, my volgende Duvel in Brussel.
Ons sal waarskynlik môre se skermutseling oorleef. Maar hoe hard ek ook al my TV aansit, hoe melodieus ek ook al speel op my kitaar, ek sal nie vir altyd daarin kan slaag om die geraas van gewere en anargie te laat vervaag in die agtergrond nie.
Enige dag kan die chaos voor my deur kom staan. En wanneer dit gebeur, sal dit nie help om te verduidelik dat ek twee dekades gelede deel was van die Afrikaanse rock ’n rollrevolusie teen vaal sokkies, Calvinisme en apartheid nie.
My grootwordproses, my hele lewe as jong Afrikanertjie, was van die begin af oordonder deur paradokse. Sedert ek ’n tjokkertjie was – actually, vandat ek op driejarige ouderdom my pa se outydse Underwood-tikmasjien ontdek het – het ek geweet dat ek eendag ’n skrywer gaan wees. Maar dwarsdeur my jeug moes ek by my pa hoor dat skrywers nie baie geld maak nie.
Ek het hom geglo. Hoe anders? Ek het nie enige skrywers persoonlik geken sodat ek hulle kon vra hoeveel geld hulle maak nie. Om die waarheid te sê, ek het geen ryk mense geken nie (ons het net ’n tweedehandse Kombi gehad en in huurhuise gebly, en het dus nie in die regte kringe beweeg nie). Al die ryk mense was in tydskrifte en rolprente. Soos Cliff Richard. Ek het geweet Cliff Richard is ’n popsanger.
Laat ek dit maar ronduit erken: toe ek ses jaar oud was, was Cliff Richard my hero. Hy sou gelukkig nie die enigste hero bly nie. Cliff Richard was die eerste van ’n reeks rolmodelle. Nie al hierdie rolmodelle sou so onskuldig wees soos Cliff Richard nie. Nadat ek Cliff Richard ontdek het, het ek vir ’n ruk lank ’n ongesonde fassinasie ontwikkel met die sanger Des Lindberg, ’n plaaslike musikant wat Suid-Afrikaanse gehore laat giggel het met sy stout liedjies (merk julle ’n patroon?). Dalk was dit sy strooihoed wat my hart gesteel het.
Hoe dit ook al sy, sedert die ouderdom van ses jaar oud ken ek ’n klomp popliedjies uit my kop uit. Ek kon “Bachelor Boy” en “Summer Holiday” amper regdeur sing; ek het selfs die movie gaan kyk. Ek het al die reklame vir soetkoek opgeëet. Ek het gedink die lewe is veronderstel om een ewigdurende lang somervakansie te wees, met seuns en meisies wat dans en flankeer en rondrol op hooimiedens. Ek het geglo in die droom van helderrooi dubbeldekkerbusse en mense met snaakse hoede. Dit was die grootste rede waarom ek later, selfs nadat ek sukses behaal het as ’n skrywer, tydelik my tikmasjien vir ’n kitaar sou verruil en self ’n musikant geword het.
Maar dit word erger.
Laat my toe om julle terug te neem na ’n aand in die vroeë tagtigs. Ek is ’n jong skrywer, en ek is broke. Die royalties op my boeke is nie genoeg om van te lewe nie. Ek squat in my editor se woonstel – dis moontlik dat sy op my verlief is, maar ek weet nie. Haar woonstel is in die middel van Hillbrow. (Daar het toe nog wit mense in Hillbrow gebly.) Ek loop in die strate rond en eet ietsie in een van die baie goedkoop straatkafeetjies. Terwyl ek eet, kom sit twee meisies by my tafel. Die kafee is vol; daar is nie plek by die ander tafels nie. Ons begin gesels.
Soos die ongeluk (of geluk) dit wil hê, het hulle die sleutels van Des Lindberg se huis by hulle. Ja, dié Des Lindberg. Des en sy vrou, Dawn, is iewers op toer, en die twee meisies het die job gekry om na die huis te kyk in hul afwesigheid. Die huis is iewers in in die noordelike voorstede, ’n area van Johannesburg waar ek nog nooit was nie omdat daar geen treine in daardie rigting loop nie. Anyway, mens GAAN nie net soontoe nie. Niemand het my nog ooit voorheen soontoe uitgenooi het nie. Behalwe nou. Ek het nie wiele nie, maar hulle het. Nee sê, is buite die kwessie.
Ek besef dadelik dat ’n Hoër Hand hier aan die werk is. So gebeur dit dat ek skaars ’n uur later aan die swem is in Des Lindberg se swembad saam met twee poedelnaakte meisies. Ek is ook poedelnakend.
Laat my toe om hierdie verstommende feit te herhaal.
Ek. Swem. Poedelnakend. In die swembad. Van iemand wat my rolmodel was. Sedert ek nege jaar oud was.
En dit bly nie net by swem nie! Op die ou end los ek die girls net daar in die swembad en begin rondloop in Des se leë huis. Hy het die ongelooflikste goed. Daar is ’n reusagtige skildery van Dawn in die voorportaal. By ’n gesonke venster met ’n ongelooflike uitsig op die horison van Johannesburg vind ek … ’n klavier. Ek ontdek hoekies en geheime plekkies en stelle trappe en slaapkamers en ek kan aan alles sien dat hierdie mense stinkryk moet wees. Hulle leef in die ongelooflikste weelde! Dit laat my besef ek is dalk after all in die verkeerde job.
Op die ou end het ek niks onbehoorliks aangevang in daardie huis nie. Ek het niks gesteel nie, ek het nie in enige van die beddens uitgepass (met of sonder een van die naakte meisies) nie, ek het die hele aand lank absoluut niks oneerbiedigs aangevang in die ganse Des-en-Dawn-agtige heiligdom nie.
Maar ek het dit nooit vergeet nie.
Oukei, oukei, ek weet dat ek nog altyd beweer het daar was ander redes hoekom ek op die ou end die switch gemaak het van skryf na musiek. Ja, ja, ja, politiek het tog ook ’n rol gespeel. Maar die rede vir my besluit was deels finansieel. Dit, en natuurlik die feit dat ek die regering verpes het en hulle wou slegsê, en ek het nie geweet van ’n beter medium vir uitkak as rock ’n roll nie. Ek het Rodriguez se beroemde slagspreuk geglo:
The system’s gonna fall soon
To an angry young tune
Ek het ook ’n artikel geglo wat ek eenmaal gelees het in ’n ou copy van die New Musical Express. Die artikel se titel was “Rock – Energy for Revolution”. Ai toggie, ek het so baie dinge geglo. Ek het geglo in al die stront van rock ’n roll wat mens kan famous maak, rock ’n roll as die stem van die ontgogelde jeug, rock ’n roll as ’n moontlike manier om te protesteer teen apartheid.
En hier’s die amazing ding: juis omdat ek so sterk geglo het, omdat ek so ernstig was oor al hierdie kak, omdat ek voluit daarvoor begin lewe het met my hele hart, het dit vir my waar geword. Ek het dit reggekry. En so sou ek op die ou end iets aan die gang sit wat al die koerante se aandag sou trek.
O, hulle het dit allerhande name genoem. “’n Revolusionêre beweging”. “’n Kulturele ontploffing”. “’n Ondergrondse renaissance”.
Whatever. Dit het actually gebeur.
Ons woon in ’n land op die mespunt van moontlikhede. Ons staan aan die punt van óf bomenslike sukses óf bloederige mislukking.
Indien dinge nie heeltemal uitfok nie, en ons kry ons act together, sal ek darem ook weet ek het ’n aandeel gehad in daardie sukses, vals note en al.