Читать книгу Die Tyd van die kombi's - Koos Kombuis - Страница 7
die sondes van die vaders
ОглавлениеRotte. Hulle is orals.
Ek lê op my elmboog op die enkelbedmatrassie en kyk benoud na die vloer. Onder my beweeg ’n swart kombers. In die donker is dit moeilik om die diertjies self te sien. Dis net hierdie moerse swart kombers wat beweeg, beweeg, en klein piepgeluidjies maak.
Ek kan nie opstaan nie, en ek het ’n pie. En die enigste toilet hier op die derde verdieping is af in die hoerhuis se gang. As ek van die bed sou probeer afklim, sal ek op ’n rot trap. Definitief. Daar is letterlik honderde van die goed. Al is hulle nie baie groot nie, is hulle baie. En baie, baie besig.
Om die een of ander rede probeer hulle nie by die bed opklim nie. Dalk is die metaalpote van die bed te glad. Miskien het hulle nog net nooit daaraan gedink nie. Miskien, as ek baie stil lê, sal hulle nooit daaraan dink nie.
Ek sluit my oë, lê terug op my kussing, en probeer vir myself sê: “Ek het nie ’n pie nie.”
Langs my lê my girlfriend, Jillian, en slaap. Ek kan haar ritmiese asemhaling hoor. Ek hoop sy hou aan met slaap. Dis dalk beter vir haar as sy glad nie nou wakker word nie.
Onder die bed hoor ek steeds die fyn gepiep.
Iewers buite in die nag, die veraf loei van ’n polisiesirene. Daar is ook die gewone geluide van die straat. Twee mense wat iewers luidkeels argumenteer. Die eggo van ’n skoot. Die gemurmel van voertuie deur strate wat nie meer lank donker gaan bly nie.
Binne-in die hoerhuis is dit egter stil. Wanneer die dag breek, sal nuwe geluide ons rus versteur: voetstappe in die gange, deure wat klap, glas wat breek, radio’s wat popmusiek uitblêr. Die klanktapisserie van ’n disfunksionele wêreld.
Dis Kaapstad, 1983. Ek is ’n skrywer van kortverhale vir Huisgenoot. Ek het al ’n digbundel of twee op my naam, en op die oomblik werk ek aan ’n roman wat weirder is as weird. Dis die Groot Afrikaanse Roman. Dit gaan ons letterkunde op sy kop draai. My uitgewers weet ek is ’n genie. Die slim mense wat vir die koerante werk, skryf rave reviews oor my werk.
Nou, as ek dan so wonderlik is, hoekom huur ek ’n kamer in ’n hoerhuis? In Langstraat? Tussen rotte? Hoekom woon ek hier saam met my bruin meisie? Hoekom is die bruin meisie se van Botha? Is sy dalk verlangs familie van P.W. Botha? Dieselfde ou wat, as president van die land, ’n wet handhaaf wat sê dat ingevolge die Ontugwet seks oor die kleurskeidslyn ’n misdaad is?
As ek ’n gepubliseerde skrywer is, hoekom is die mure van hierdie kamertjie oortrek met die name en adresse van intekenaars op ons ondergrondse protestydskrif?
Teen wie rebelleer ek? Waarom is ek so vol haat? Waarom mors ek die beste jare van my lewe in hierdie plek van armoede en gevaar? Hoekom lewe ek nie gemaklik, soos ander whiteys van my ouderdom nie? Hoekom skryf ek nie liewer my gedigte in die suburbs nie? Hoekom eet ek nie liewer kaaskoek nie? Wat gaan met my aan?
Gaan ek ooit rêrig lekker kan lewe? Wanneer begin die eerste hoofstuk?
Ek huur nie meer ’n kamer in daardie hoerhuis in Kaapstad nie.
Dis die jaar 2008; presies ’n kwarteeu later.
Ek woon net buite Londen, ’n halfuur se ry. Ek kan enige dag soontoe gaan as ek wil.
Ek woon ook ’n kort entjie weg van Washington D.C., Amsterdam, Perth, Rome, Singapoer, en elke ander belangrike stad op aarde.
Tegnies gesproke is ek omring deur armoedige squatterskampe, misdaaddeurtrekte lokasies, en tydelike skuilings waar slagoffers van geweld en natuurrampe elke dag toustaan vir kos. Maar dit kan my dalk langer vat per motor om soontoe te ry as wat dit my sal vat om Londen toe te ry. Londen is net ’n halfuur weg met die highway. Die ander plekke is moeilik om te bereik as gevolg van die verkeersknope en stukkende robots en hijacking hot-spots. Dis ingewikkeld om by daai plekke te kom.
Maar, dank God! Die Kaapstadse Internasionale Lughawe is maklik om te bereik. Van my huis af kan ek amper direk op die N2 klim en binne ’n halfuur daar wees.
Binne ’n halfuur kan ek vry wees van alles.
Ja! Enige tyd wanneer ek lus is, kan ek in my kar klim en padgee uit hierdie hartverskeurende land.
Ja! Enige oomblik kan ek dit alles agterlaat; die miserabelheid, die korrupsie, die moorde en die verkragtings en die kragonderbrekings en die koerantopskrifte wat hul slegte nuus van werkloosheid en politieke faksiegevegte uitbasuin. Ek kan op ’n vliegtuig na die vrye wêreld wees binne ’n halfuur, in besigheidsklas, met ’n glasie gratis lemoensap in die hand, my bene uitgestrek voor my uit, terwyl ek wonder watter restaurant, bistro of koffiewinkel ek eerste sal besoek wanneer ek daar land.
Nou hoekom doen ek dit nie?
Hoekom woon ek nog hier?
Wat maak ek nog hier, in hierdie huis waarby hulle al ten minste drie keer ingebreek het, in hierdie straat waar ek oor my skouer moet kyk elke aand as ek my kar by die garage intrek, waar my deurklokkie sonder ophou gelui word deur bedelaars en ouens met stukkende klere op soek na werk, waar ek elke Donderdagoggend my dumpsters vol trash uitsit op die sypaadjie net om te sien hoe die patetiese zombies van die onderdorp grawe deur my rubbish, my ou manuskripte, my stink kos?
Wie hou my hier? Wat hou my hier vas?
Dis nie asof ek enige hoop het nie. Om eerlik te wees, ek is lankal op moedverloor se vlakte.
Dinge is erg, en dit word dalk selfs erger.
En tog bly ek. Bankvas. Sonder om ’n voet te versit.
Dis moeilik om te verduidelik. Ek weet. Dit klink corny, selfs al probeer ek dit verduidelik.
Maar die bottom line is dit: ek is ’n Afrikaan.
Afrikaan is ek, en Afrikaan is ek gebore.
Ek’s nie ’n moerse goeie Afrikaan nie, en ek’s nie eers altyd seker of ek ’n donnerse Afrikaan sou wou wees as ek die keuse gehad het nie, maar dis nou eenmaal ’n feit soos ’n koei. Ek is deel van hierdie land. Ek het hier grootgeword. Dis die enigste plek waar ek voel of ek rêrig tuis is. Ten spyte van my aversie en apatie, is hierdie land tog myne.
Ek hou ook van die klimaat. Ek hou van die vars vrugte. Ek hou van die berge en die grasvlaktes en die strande en die blou, blou lug van hierdie pragtige plek. Ek hou van Suid-Afrika.
En, omdat ek ’n Afrikaan is, voel ek ook medeverantwoordelik vir die suksesse en die mislukkings van my land, Suid-Afrika. (Ek het julle gewaarsku, dit gaan corny klink.)
As ’n Afrikaan, en as ’n Suid-Afrikaner, is dit vir my onmoontlik om my in te dink hoe dit sou voel om na ’n ander kontinent te gaan en vir altyd daar te bly. Om my tot in lengte van dae besig te hou met ander issues, gewoond te raak aan vreemde mense se manier van doen, ander lande se kak en hare, ander mense se gekneuter oor voorvelle en fokkol.
O, ek is heel impressed met die gerief en die veiligheid van die Eerstewêreldse lande. Ek geniet dit om met my kinders daar in die parke te gaan stap sonder dat enigiemand my met ’n mes steek, of vermoor, of pla, sonder dat ek heeltyd voel asof ek omring is deur misdadigers.
En hier is so baie misdadigers in Suid-Afrika! Hier is misdadigers uit op borgtog, misdadigers wat ontsnap het uit polisieselle, misdadigers wat skuldig bevind is aan ernstige misdade en gevonnis tot ligte gemeenskapsdiens, ensovoorts, ensovoorts.
Maar nog steeds bly ek liewer hier. Ek bly hier, want as ek in ’n ander land probeer bly, sal iets in my doodgaan. Ek sal óf self doodgaan van pure verveling óf op die ou end myself skiet of iets. Dit sal verskriklik wees om so te leef, sonder uitdagings, ontwortel en gewigloos en bleek soos Earl Grey-tee.
Wat is so wonderlik aan Amerika? Jy word elke oggend wakker en lees net van orkane en oorstromings. Jy sit die TV aan, en dis net ’n geskinder oor movie-sterre wat skei of rehab toe gaan. Ergste van alles, jy moet heeltyd op CNN hoor hoe kak is die Moslems. Dis mos wat hulle amptelik glo, dat Moslems kak is. Hulle dink alle Moslems is dieselfde; daar is in hulle oë nie grade of skakerings van kak in Islam nie. G’n wonder hulle is altyd op die randjie van oorlog nie. G’n wonder die Here straf hulle met bosbrande, elevator-musiek en McDonald’s-burgers nie.
En wat van Engeland? Nee wat. Wie wil nou heeldag in hysbakke en moltreine rondry en luister na onsigbare tannies wat moroonlike stront oor die luidsprekers kwytraak soos “Please stand clear of the door” en “Mind the gap”? Asof mens nie self kan sien daar’s ’n deur nie. En die “gaps” tussen die treine en die platforms is net ’n kwart sentimeter wyd, ’n balpuntpen kan nie eens daar deurval as hy probeer nie.
Nieu-Seeland? Ag, asseblief. Dis heeltemal te groen. Al die plantegroei en groen gras en goed sal my mal maak. Die enigste intelligente geselskap daar is waarskynlik die skape. (En Jurie en Hestrie, as hulle nog daar is.)
Wat van België? Wel, al waaroor die Vlaminge ooit opgewerk kan raak, is Franse politici. En hulle eet mayonnaise oor hulle tjips in plaas van tamatiesous. Wat meer hoef ek te sê?
Erken dit maar: die meeste ander lande is boring. Die meeste ander lande maak nie sense nie. Amper alle ander lande is ’n bietjie vulgêr, as jy my vra.
Verstaan my mooi: ek is nie ’n patriot nie. Ek is nie altruïsties of edel nie. Ek weet ek gaan vreeslik aan oor die blou berge en die grasvlaktes en die mooi lug en die volkslied en alles, maar in die praktyk doen ek so min goeie dade as wat ek kan. Ek deel nooit komberse uit aan die arme bliksems wat op straat slaap nie. As bergies my vra vir geld, jaag ek hulle gewoonlik weg. As ek my kar parkeer, stap ek koponderstebo weg voordat die car guards my oog vang. Bedelaars irriteer my.
Ek is, om heeltemal eerlik te wees, in hierdie opsig nie baie anders as die meeste ander wit Suid-Afrikaners wat nog nie geëmigreer het nie. Net soos bruin en swart Suid-Afrikaners is ek gatvol vir swak dienslewering. Ek hou nie van die stand van sake hier nie. Ek kla oor alles. Ek skryf briewe aan die koerante en ek kritiseer die regering by elke moontlike geleentheid. Ek is totaal en al gekant teen die status quo.
Maar ek bly. Hier.
Al verskil tussen my en die meeste ander wit Suid-Afrikaners is dat ek net so erg te kere gegaan het onder die vorige regering as onder hierdie een. Ek het hulle net so gehaat. Om die waarheid te sê, ek het my deeltjie gedoen om hulle tot ’n val te bring. Die Nasionale Party-regering was net so erg, of erger, as hierdie klomp wat nou aan bewind is, glo my.
Dit het vir my reg gevoel om toe te protesteer. Ek weet nie hoekom so min ander whiteys dit destyds gedoen het nie. Maar nou ja.
Ek het so baie herinneringe. Die herinneringe bons rond in my kop en bots teen mekaar, hulle soek ’n uitkomkans, hulle wil ontsnap. As elke herinnering ’n drol was, het ek nou die ergste opelyf van my lewe.
Herinnering nommer een. Dis 2003 of 2004. Droë, geel Gauteng-gras. Ek sit oorkant die tafel van my ma by die Jan Smuts-museum se opelugrestaurant buite Pretoria. My ma is vol plooie en haar hare is grys, maar haar oë vonkel vol humor. Ek is amper vyftig jaar oud. Oor ’n paar dae moet ek ’n solokonsert gaan speel op die hoof-stage by die Oppikoppi-rockfees. My twee klein kindertjies hardloop rond, om en om die Jan Smuts-museum, en dit weerklink van die oorlogskrete soos hulle speel. Ons eet lasagne en drink goedkoop droë witwyn wat bedien word per glas, nie per bottel nie. Ons het hiernatoe gery in ’n gehuurde Mercedes Vito diesel-Kombi. Omtrent vyftig tree na links staan Jan Smuts se antieke swart Cadillac (of Packard) (of whatever) geparkeer in die son. Dit is ’n museumstuk. Ek is ook ’n museumstuk. Ek wens ek was so aantreklik soos Ozzy Osbourne. Gelukkig is ek – anders as die meeste celebrities – nie op drugs nie, en gelukkig is my vrou – soos die vroue van die meeste celebrities – nog nie halfpad so oud soos ek nie. Die meetsnoere het vir my in redelik oukei plekke geval.
Oor ’n klein rukkie gaan ons almal deur die perfekbewaarde Jan Smuts-familiewoning stap en alles besigtig: die oudmodiese badkamer, die kieries en die uniforms, die gepoleerde houtvloere, die outydse broodroosters en die vergeelde vredesverdrae in glaskaste.
Jan Smuts was eerste minister van Suid-Afrika net voordat die Natte per ongeluk die verkiesing gewen het in 1948. Hy het die verkiesing verloor omdat hy óf te stadig óf te haastig (niemand is seker watter een van die twee nie) was om politieke mag te gee aan die swart mense. Hy het ook filosofiese boeke geskryf oor ’n teorie met die naam holisme en was betrokke by die stigting van die Verenigde Volke! ’n Uitsonderlike man. ’n Oorlogsveteraan. ’n Volksheld. Net jammer hy’t nooit leer kitaar speel nie.
My ma vertel my hoe erg sy my pa mis. Ek is altyd verbaas as sy sulke goed sê. Daar was ’n tyd in die geskiedenis toe dit hoogmode was vir vroue om hulle volwasse lewens neer te lê ter wille van hulle mans. Niemand onthou vandag meer hoe absoluut die heerskappy van die vaders was nie. Die feit dat hierdie mans dikwels ruggraatloos, geestelik bankrot en emosioneel ontoereikend was, het hoegenaamd nie die vroue verhoed om hul eie lewens neer te lê nie. Hulle was dapper genoeg om die grootste, mees bisarre offer te bring: die buiging van hul eie wil, in totale oorgawe en stille onderdanigheid, voor die outoriteit van ’n ander mens.
Ek moes wag vir my pa om dood te gaan voordat ek ’n normale verhouding kon begin met my ma.
Ons moes almal baie lank wag vir onafhanklikheid.
Onafhanklikheid. Ja, wat ’n mondvol.
As jy so na my kyk waar ek hier in my studeerkamer sit en peins, sou jy sê ek het alles bereik in die lewe wat ek nodig het; dat ek tevrede en gelukkig is.
Ek het ’n huisie by die see. Van die boonste verdieping kan ek amper die see sien. Partykeer ruik ek dit. Dis net ’n paar kilometer weg.
Ek het ’n ronde, vrolike vrou, ek het so te sê twee kinders, ’n huishulp, ’n opreggeteelde hond, ’n SPCA-kat en ’n troetelrot. Die rot is wit, die huishulp nie. Die hond is koffiekleurig. Ek het vanoggend met die hond gaan stap net nadat die huishulp vir my kom vertel het haar susterskind is gister doodgeskiet tydens ’n transitoroof in Johannesburg.
Dis waar, ek is suksesvol, en ja, ek is gelukkig, maar ek is nie altyd tevrede nie. Daar is tye wanneer ek oorval word deur ’n allesomvattende gevoel van weersin. Veral laat in die nag, as ek in my kantoor sit, omring deur die lewelose stilte van suburbia. Ek hoor nie meer die rewolwerskote van Langstraat nie, dis waar. Maar nou is dit die stilte – die afgryslike, genadelose stilte – wat my teen die mure uitdryf.
Die stilte wat soms vir weke, maande kan duur en dan ewe skielik, een nag, geboorte kan skenk aan chaos. Aan roof. Of moord. Ongenooide indringers wat waansin saai waar orde en vrede moet heers.
Ek lees deesdae weer Breyten Breytenbach. Ek het hom weer ontdek. Ek lees sy nuwe werk, sy onlangse publikasies, want ek deel sy ontnugtering met hierdie land, dit wat ons geword het. Jare gelede was dit sy jeugdige prosa en poësie wat die drang na protes in my wakker gemaak het. Sy woorde – sy wilde, subversiewe gedigte – was vir my die wekroep na ’n lewe van opstand teen apartheid.
Toe ek ’n kind was, is Breytenbach se werk nie op skool behandel nie; daar is oor hom gefluister in die gange, sy boeke is onder die skoolbanke aangestuur, ons moes dit in die geheim lees wanneer niemand kyk nie. Sy gedigte was sondig, opwindend, heerlik anargisties. Alles wat hy geskryf het, was ’n stille kreet in die donker, ’n kreet wat gerebelleer het teen “die bedreiging van die siekes”; teen die ganse saai lewe, die blanke eenvormigheid van my kinderjare.
Nou lees ek die werk van die volwasse Breytenbach. Ek lees sy nuutste digbundel, Die windvanger. Die windvanger gaan oor vele onderwerpe, maar onder andere is dit ’n stem van protes teen die ganse saai – ja, saai! want te veel van dieselfde ding, al is daardie ding raserig en chaoties, raak saai – … die ganse saai, swart eenvormigheid wat die slagspreuk van die nuwe Suid-Afrika geword het.
Ja, hier sit ek in my studeerkamer in die boonste verdieping van my huis in Suburbia, ek sit hier tot laat in die nag, en ek weet ek is veronderstel om te werk aan my volgende rustige gemoedelik-lokale roman, maar eintlik lees ek net Breytenbach se grafskrif vir ons land, en ek drink KWV brandewyn (ek drink baie daarvan, maar ek drink deesdae die 5-jaar-oud, want ek kan nie meer die 10-jaar bekostig nie). Ek sit hier, en partykeer huil ek, en partykeer bid ek, en partykeer steek ek wierook aan, en partykeer kyk ek laatnagpornografie op die TV, en partykeer oorweeg ek dit om ’n geweer te koop en my eie breins uit te blaas.
Maar ek sal seker nie regtig nie. Dis te morsig.
En tog. Wat sê Breyten nou weer in sy gedig “Belydenis”?
ek het hoog en laag probeer preek
teen armoede en onreg
maar op die ou einde was ook dit
slegs selfbevlekkende romantisisme
en niemand wou aanvaar ek is ’n Afrikaan nie …
O, amper vergeet ek: die man wat gister doodgeskiet is in die transitorooftog was die pa van twee gestremde kinders.
In my amptelike outobiografie (Seks & Drugs & Boeremusiek) het ek baie gefokus op die tekortkominge van my familie. Dit was een van die hooftemas van die boek: die feit dat my familie sulke horrible mense was.
In hierdie outobiografie gaan ek niks daarvan sê nie.
Ek gaan nie konsentreer op die feit dat my pa ’n kleindorpiekroek was wat my ma se swaarverdiende pensioenfonds geblaas het op alles van piramideskemas, wonderkruiemiddels, matskoonmaakmiddels tot seewier-ekstrak nie. Ek gaan niks sê van die weduwee van die oorlede adjunk-minister wat byna my ouers se huwelik opgefok het nie. Ek gaan nie weer moan oor my jaar in die rehabilitasiesentrum vir dwelmslawe waar hulle my toegesluit het nie, maar aangesien ek nou al weet dat niemand my anyway ooit glo nie, bêre ek daardie inligting vir wanneer ek eendag voor die groot regterstoel van God staan en Hy my vra of daar enige versagtende omstandighede was vir my skandalige lewe.
Ek het my familie genoeg uitgeskel. Soms moet ’n mens vreemde kulture eenvoudig aanvaar, al verstaan jy nie al hul tradisies nie.
In elk geval was alles in my kinderjare nie net sleg nie. As ek die moeite sou doen, sou ek enkele mooi herinneringe ook kon opdiep. Ek sou byvoorbeeld kon skryf hoe die son geglinster het in die plasse water op ons rooi stoep toe ek klein was. Van die aande toe ons domino’s gespeel het by ’n gaslamp in ons gehuurde rondaweltjie op Hartenbos. Ek sou kon vertel van die keer toe my broer vir my ’n hand vol pampoenpitte gegee het om te plant in die sand agter een van ons huurhuise in die agterplaas, en my absolute gevoel van verwondering toe die pampoenplantjie ’n paar dae later opkom. En van die klein plastiek-cowboy-en-Rooi-Indiaan-mannetjies wat my pa vir my gekoop het in die Paarl toe ek ’n kleuter was. Ensovoorts.
Terloops, ek het ure lank oorlog-oorlog gespeel met daardie plastiekmannetjies, min wetende dat dit ’n inleiding was tot die rassespanning wat toe al gedreig het om ons land te oorspoel.
En oorspoel het dit toe al, daardie jaar in die Paarl, toe die bruines uit die lokasie een nag die dorp se hoofstraat binnestorm en chaos saai, skaars ’n honderd meter van ons sonnige en vriendelike huis in Olyvenstraat.
Dit was daardie jaar toe ek my eerste vollengte romans geproduseer het op my pa se ou Underwood-tikmasjien. Ek kon die tikmasjien slegs bykom deur verskeie kussings bo-op mekaar te stapel op ’n stoel en dan op my knieë voor die tikmasjien te gaan sit. Voor die jaar verby was, het ek soveel manuskripte geproduseer dat die vloer van my slaapkamer besaai was met papiere van hoek tot kant, so erg dat Kytie nie meer by die deur kon inkom om dit skoon te maak nie.
Eendag het my ma by die kamer ingekom en gesê: “Daar gaan nog eendag ’n muis hier uitbroei.”
Haar woorde was skaars koud, of ’n klein veldmuisie hardloop onder my bed uit en reg deur die papiere, uit by die deur. Van toe af het ek ’n heilige ontsag vir my ma gekry.
Eintlik het die herinneringe vroeër begin. Ek is dalk die enigste mens wat ek ken wat my geboorte onthou. Maar hieroor wil ek nie praat nie, dit was te traumaties.
Die eerste ding wat ek onthou, kort na my geboorte, my heel oudste kindertjie-kindste-herinneringe, is van waar ek, nog ’n pap babatjie wat nie kan loop of praat nie, op my ma se skoot sit voor in ons Kombi.
Ek wou altyd op haar skoot sit voor in die Kombi, want as ek op die sitplek langs haar gesit het, kon ek nie deur die voorruit sien nie, ek was te klein. Al wat ek van daar af kon sien, was windscreen-wipers en blou lug. Maar as ek op haar skoot gesit het, kon ek sien waarheen ry ons. Nie net dit nie; haar stem het anders geklink as ek my wangetjies en oortjies teen haar bors gedruk het. Dit het so weergalm deur my kop. Ek kon nog nie Afrikaans verstaan nie; ek was net bewus van die getjoer van die Kombi se enjin en die nasale musiek van my ma se stem elke nou en dan. Dit was lekker om so aan die slaap te raak.
Ek dink dit was ’n blou Kombi, daardie eerste kar. Of dalk was dit geel. Dalk sê ek net dit was blou omdat ek nou, jare later, sukkel om daardie eerste Kombi te onderskei van die Kombi waarin ek en Dagga-Dirk Uys later rondgetoer het.
Die eerste Kombi, of hy nou blou of geel was, was egter anders as Dirk se Kombi’s. Daardie Kombi was nie besaai met daggapitte, vuil onderbroeke, stink sokkies, leë hamburgerpapiere, sigaretstompies en bierblikkies nie.
Die enigste plek waar ek ooit in my jeug die reuk van dagga herken het, was in Kytie se bediendekamer die middae nadat haar boyfriend vir haar kom kuier het. Ek het nie toe al geweet hoe ruik dagga nie, maar ek sou dit later jare herken. Net soos ek nie geweet het, as kind, dat die reuk van my ouma se eindelose koppies tee in die sonkamer van hulle huis in Die Laan eintlik whiskey was nie.
Maar van al hierdie mense was Kytie die naaste aan my. Sy was selfs nader aan my as my ma, want Kytie het my aangetrek soggens en my gevoer en my leer loop en met my gesels smiddags op die agtertrappies van ons huis.
Dit was vir my moeilik om te verstaan hoekom Kytie altyd agter moes sit in die Kombi. Kytie het ook nie vakansies al die pad saam met ons tot op Hartenbos gery nie; ons het haar afgelaai by Riversdal, waar haar ma-hulle in die hostels op die rand van die dorp gebly het. Die hostels was ’n wonderlike, raserige plek, vol kindertjies wat rondhardloop en ou mense wat krom-krom loop en bure wat kwetter en praat en lag en gesels. Ek het altyd gewonder hoekom ons nie daar stop om te kuier met die bruin kindertjies nie. My pa wou altyd so gou moontlik wegkom, seker om voor donker op Hartenbos te wees.
Dit was vir Kytie dat ek later die volgende woorde sou neerpen:
Kytie, Kytie, Kytie,
Jytie verniet vir twintig jaar
By ons gebly …
Kytie, Kytie, Kytie,
Jy wassie nette mytie
Maar ’n ma vir my!
Kytie is dood tydens die geboorte van haar eerste voorkind op die vooraand van haar voorgenome huwelik met haar daggarokende kêrel.
Sy, die beste ma wat ek ooit gehad het, sy wat my kinderjare help draaglik maak het, sou nooit ’n huis en kinders van haar eie hê nie.
Kytie is dood net toe ek begin oefen het aan my eerste drie kitaarakkoorde. My kop was so vol musiek en drome van roem en rock ’n roll dat ek – al moet ek dit self erken – haar dood nie tóé as ’n persoonlike verlies aangevoel het nie. Eers later sou ek besef dat die fisiese sterfte van Kytie saamgeval het, simbolies of toevallig, met die geestelike en morele ondergang van ons hele gesin.
Tot op daardie stadium was daar soms oomblikke van sonskyn en vriendelikheid. Sulke dinge sou van toe af vorentoe eenvoudig nooit weer geduld word nie. Nie eens per abuis nie.
Vandag het daar twee skokkende dinge gebeur. Nie een van hierdie goed was op sigself baie belangrik nie, maar hulle was geweldig betekenisvol as ek hulle sou plaas in die konteks van my lewe – ons almal se lewens – hier, vandag.
Dit is die jaar 2008. Gisteroggend het ek begin skryf aan die eerste hoofstuk van hierdie boek. Ek het geskryf en geskryf tot ek by die plek gekom het ’n oomblik gelede: “… Nie eens per abuis nie”.
Die eerste skokkende ding wat vanoggend gebeur het, was toe ek die koerant koop. Op die voorblad was ’n foto van die Kaapse middestad. Die foto is laas nag geneem. Die enigste sigbare liggies was die noodligte van die hawe. Die res van die toneel was swart. Donker. Niks ligte wat brand nie. Zilch.
Volgens die koerant is die hele stad nege-uur gisteraand deur ’n massiewe kragonderbreking lamgelê.
Dis nou elfuur die volgende oggend, en my Internetdiensverskaffer – wat in Kaapstad gebaseer is – is steeds van lyn af. Die nuus op die TV-nuuskanaal is sedert gisteroggend nie opgedateer nie. Al het ons huis op die oomblik elektriese krag, voel ek nietemin asof ek afgesny is van die buitewêreld.
Die tweede skok – dit was nie so ’n groot skok soos die eerste een nie, maar dit was nogtans ’n skok – was toe ek verder deur die koerant blaai en sien dat my ou pel en voormalige bestuurder, Dirk Uys – voorheen bekend as Dagga-Dirk Uys – ’n artikel geskryf het.
Dirk skryf of praat gewoonlik slegs so een maal elke drie jaar in die media, en al waaroor hy dan skryf of praat, is dinge wat meer as twintig jaar gelede gebeur het waaroor hy nou nog kwaad is.
In sy nuutste artikel het hy oudergewoonte woedend te velde getrek teen die Afrikaanse pers en media van die 1980’s.
Dirk is ’n briljante skrywer. Hy is snaakser en eindeloos meer subtiel as Max du Preez. Hy het ook ’n baie groter baard as Max du Preez.
Alles in die artikel was waar. Ek kon alles wat Dirk sê, beaam. Daar is net twee probleme met die artikel: eerstens, dit is ’n kwarteeu te laat gepubliseer. Tweedens, daar word nêrens in die artikel melding gemaak van die feit dat Jacob Zuma onlangs gedreig het om die vrye pers in die Nuwe Suid-Afrika te muilband nie.
Ek wonder of Dirk al gehoor het van laas nag se kragonderbreking.
Ek wonder of hy besef laas nag se kragonderbreking is simbolies (en ook simptomaties) van iets skrikwekkends wat vandag besig is om met die hele land te gebeur.
Ek wonder of hy besef dit is nog nie die einde van die revolusie nie.
Ons het wel gedink dis die einde, daai aand toe die kar ons tref, daai aand toe ons Kombi ’n halwe straatblok ver gerol het. Daardie aand was dit asof ons revolusie besig was om te kantel – ek het dit aangevoel die oomblik toe die Kombi omkantel en begin gly – ons was besig om te kantel en te val, om spoed te verloor. Dinge sou nooit weer dieselfde wees nie. Of sou dit?
Anyway, dis tyd dat ek die rêrige storie begin skryf. Waar sal ek begin? Sal ek my lyf Thabo Mbeki hou en begin met iets uit Dickens? Sou iets wat soos Dickens klink die nodige gravitas verleen aan hierdie chaotiese klomp gebeure?