Читать книгу Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots - Страница 3
1
Оглавление“Wát?” Dixie hoor hoe skril haar stem is, hoe hekserig skerp, hoe lelik.
Dan sien sy die agterkant van die taxi voor haar nader kom. Te flippen vinnig nader kom.
“O dinges!” roep sy uit. Sy gryp vervaard met al twee hande na die stuurwiel, hoor hoe die selfoon langs haar voete op die vloer val, sy rem, skree … vloek. Die Tazz kom met ’n ruk en ’n sluk skeef in die pad tot stilstand, ’n skrale meter van die opgekrokte taxi se agterkant af.
Om haar gaan die toeters aan die skel.
“Simpel vroumens!” roep ’n ou met tatoes op sy arms wat rakelings by haar verbyskuur. “Het jy jou lisensie in ’n lucky packet gekry?” Hy steek ’n middelvinger in die lug.
Dixie trek haar asem skerp in. Sy verdien daardie middelvinger, sy weet. Dit en nog baie meer. Sy wil huil. Of baklei. Uitklim en iemand klap. Die eerste die beste man wat verbykom. Haar kop teen ’n muur stamp. Weghardloop. By ’n krans afspring. Enigiets om van die frustrasie ontslae te raak.
Sy hamer met haar vuiste op die stuurwiel. Sy ís sowaar die swakste bestuurder in die hele Johannesburg, sy ís ’n simpel vroumens, sy hoort nie op die pad nie.
Vaagweg hoor sy Jo-Jo se ontstelde stem uit die selfoon by haar voete kerm, maar sy kan nie nou daaraan aandag gee nie. Eers toe die verkeer weer begin beweeg, laat sy haar asem stadig uit. Amper. Dit was amper. Dis ál wat sy nou nog nodig het – skade aan haar motortjie waaraan sy nog drie en ’n halwe jaar moet afbetaal. Of om met gebreekte bene plat op haar rug in traksie in die hospitaal te beland. Sonder ’n mediese fonds, sonder ’n man, ’n kêrel, niks, kaal uitgetrek deur die dinge wat haar die afgelope ruk van alle kante af aanval soos kakkerlakke in ’n vuil kombuis.
Eers toe sy voor die huis stilgehou het, tel sy die selfoon op.
“Waddehel gaan aan?” vra Jo-Jo. “Wat het gebeur? Ek hoor jou vloek en ek hoor remme skree en ek wag vir die slag. Jy sal my nog ’n hartaanval gee!”
“Ek … daar was ’n taxi voor my en …”
“Liewe hemel, Dixie, weet jy nou nog nie om nie met jou selfoon teen jou oor te bestuur nie!”
“Dis nie die selfoon teen die oor wat my amper die ewigheid ingestuur het nie, dis die goed wat jy sê.”
“Ek sê nie jy móét dit doen nie – ek stel dit net voor.”
“Dat ek in Bliss and Beautiful gaan werk terwyl jy oorsee rinkink.”
“Nie rinkink nie. Ek het ’n man ontmoet.” Jo-Jo klink ingenome. “O wel, eintlik hoop ek daar gaan wél ’n bietjie gerinkink word.”
Dixie rol haar oë, al is daar niemand om dit te sien nie. “ ’n Man ontmoet? Is daar dan iewers in die hele wye wêreld ’n man oor wat jy nóg nie ontmoet het nie?”
Jo-Jo lag. “Ja, blykbaar. In Australië. Ek het sy funky foto op Facebook gesien en ons het begin chat.”
“Jy weet hoe fake kan Facebook wees. Die foto wat jy gesien het, is dalk dekades gelede geneem of dis van sy buurman wat modelwerk doen in sy vrye tyd. Of hy het ’n foto van hom gephotoshop om soos ’n filmster te lyk. Dalk is hy ’n skaapboer met ’n hoed en ’n boepens.”
“Ontspan, Dixie, ek is nie stupid nie – ek weet wat ek doen. Ek het hom al in sy speedo gesien en hy’s ’n hunk van ’n man.”
“In sy speedo! Hoe de dinges?”
“Ons het mekaar geskype, man, hoe anders?”
“In julle onderklere?” Maar dan bedink Dixie haar. “Of nee, wag, ek wil eerder nie weet nie.”
“Ontspan tog, o koningin van kamma-kuisheid. Hy het van die swembad af ingekom, in sy speedo met ’n handdoek oor sy skouers en met sy hare nat oor sy voorkop. Sy spiere … daardie arms … sy borskas … Hou, hart, hou!”
“En nou wil jy agter gespierde arms en ’n borskas aan Australië toe foeter? Is dit nie ’n bietjie naïef nie, sus? Selfs vir jou?”
“Moenie so suurgat wees nie, Dixie-man. Net omdat jy besluit het om single te bly totdat jy oud en tandeloos is, beteken nie die res van ons moet ook soet en selibaat wees nie. Ek dink hy kan dalk Die Een wees.”
Dixie trek haar handsak nader, klim uit die motor. “Die Een?” Sy lag bitterbek. “Watter Een? Hoeveel Die Ene was daar al in jou lewe?”
“ ’n Paar,” erken Jo-Jo nonchalant. “Maar jy weet wat ek bedoel – Die Een vir nou.” Haar stem raak dromerig. “En dalk vir die res van my lewe.”
Die selfoon is tussen haar oor en haar skouer vasgedruk terwyl Dixie die motor sluit en in die tuinpaadjie afstap. “Jy’s troubedonnerd, Jo-Jo. Jy’t al genoeg trourokke gedra om jou wedding planning-besigheid net daarmee aan die gang te hou.”
“Só erg is dit darem nie.”
Nee, dit is nie, maar dis erg genoeg. Jo-Jo hou van trourokke – en van trou. En van troukoeke. Soveel so dat die koerante al oor haar wil begin skryf. Die eerste twee rokke was in maagdelike wit – wat natuurlik ’n bespotting van maagdelike wit maak. Die derde het ten minste darem ’n paar pers blommetjies opgehad om die maagdelike wit te breek, en die een wat sy verlede jaar gedra het, was wawielwyd en skelrooi. Dixie vermoed Jo-Jo se volgende trourok sal purperpers wees. Moontlik nog met ’n Australiese aanslag.
“Nie almal kry so ’n kick uit trourokke en troukoek soos jy nie,” herinner Dixie haar. “Elke keer wat jy trou, is dit ’n moerse gedoe. As jy so aangaan, rol jy teen jou tiende troue in die paadjie af preekstoel toe van al die troukoek wat jy deur die jare verorber het.”
“Moenie vir jou laf hou nie.” Jo-Jo lag. “Jy weet mos: Troukoek maak nie vet nie.”
“Waar op aarde kom jy aan daardie twyfelagtige stukkie wysheid?”
“Lyk ék miskien vir jou vet?”
Eintlik nie. Jo-Jo het ’n lyf waarvoor baie vroue sal moor.
“En niemand eet méér troukoek as ek nie.”
Dis ten minste waar.
“Troukoeke word met soveel liefde aangemaak, die heilsaamheid is deel van die bestanddele. Dís hoekom dit nie vet maak nie,” gee Jo-Jo een van haar onlogiese verduidelikings.
“Wat mý betref, is daar niks wat heilsaam is aan troukoek nie.” Dixie aarsel ’n oomblik. “Of aan ’n ewige trouery nie.”
“Dit was nie altyd so nie. Toe ons klein was, het ons mekaar bloedneus geslaan omdat jy net so graag soos ek die bruid wou wees. Ma het ’n foto van jou in haar Bybel waar jy in hoëhakskoene en met die kanttafeldoek oor die kop paradeer.”
Dixie wil nie aan haar lawwe drome en dinge van destyds herinner word nie, maar Jo-Jo is nou behoorlik op ’n memory trip.
“Ek dink jy het daardie dag met Andries getrou. Onthou jy hom? Die bure se seunskind met die skurwe hakke en die loopneus. Ons moes hom met lekkergoed omkoop om met jou te trou.”
“Toe al,” sug Dixie. “Tóé moes ons al iemand omkoop om met my te trou. In die jare daarna het niks verander nie.”
Sy wag verniet dat Jo-Jo haar troos. Soms ís daar niks wat gesê kan word om van die brandgevoel van vernedering in jou borskas ontslae te raak nie.
Sy onthou daardie dag goed. Hoe Andries met die rowe op die knieë en ’n rooi verkoueneus langs haar staan en snuif het. Hy wou nie daar wees nie, hy wou régtig nie daar wees nie. Andries was dom – hy’t die vorige jaar gedruip en daar was nie veel hoop dat hy dit dáárdie jaar sou maak nie. En arm, sies tog. Hy’t nie eens ’n pa gehad nie. Daar was net ’n loseerder in die agterste kamer, die een met die pampoenkleurige skoene en die dissipelbaard. Maar selfs Andries wat niks gehad het om oor grootkop te hê nie, wou nie eens kamma-kamma met haar trou nie.
Dit was net hulle drie wat dié dag troue-troue gespeel het. Daar was ’n ernstige gebrek aan deelnemers om al die rolle te vertolk en Jo-Jo moes beurtelings predikant en strooimeisie wees. Sy moes van die appelkissie-preekstoel afspring om die bruid van die dag met haar wye rok van koerantpapier te help.
“Nou moet jy my soen,” het Dixie Andries in sy pligte as bruidegom onderrig toe Jo-Jo hulle “asbint in whaaif” verklaar het. Maar hy het viervoet vasgesteek, botweg geweier om deel te wees van daardie deel van die seremonie. Sy het die tafeldoek op haar kop agtertoe geskuif en haar lippe getuit. Alles verniet.
“Ons sal vir jou nog Wilson-toffies gee, man,” het sy taamlik desperaat beloof. Maar nie eens ’n hele hand vol lekkers kon hom sover kry om haar te soen nie.
“Ek soen g’n ’n meisiekind nie,” het hy gesê en weggehol. Haar net daar in haar koerantpapierrok en tafeldoeksluier gelos. Toe al het haar bubbletjie gebars, toe al het sy ’n voorsmakie gekry, toe al moes sy geweet het …
Dixie sug nog ’n slag toe sy van daardie dag onthou. Sy maak eers seker dat die voordeur agter haar toegesluit is voordat sy op die rusbank neersyg om haar suster tot orde en nugterheid te probeer roep. “Vir hoe lank gaan jy weg wees? Totdat die Australiër ’n verloofring aan jou vinger gesteek of jy hom tot voor die preekstoel gesleep het?”
“Ja, ja, asseblief. From your lips to his ears, maar voorlopig net vir drie maande. Dis al wat ek van jou vra – om vir drie maande dinge by Bliss and Beautiful te run, dis al.”
Dixie snak na asem. “Weet jy wát jy van my vra? Hoe kan jy so wreed wees? Vir my wat nooit weer ’n trourok voor my oë wil sien nie, vir my wat in allergiese knoppe uitslaan as ek die troumars hoor of konfetti sien? Ek sweer as ek ooit weer ’n stukkie troukoek eet, sal ek in die hospitaal beland.”
“Dis alles in jou kop, jong. Dalk sal dit goed wees as jy daardie perd weer klim en ry.”
“Daardie perd, my liewe suster, was ’n bedonnerde donkie en het my so hard geskop dat ek nooit weer naby een wil kom nie.”
Sy hoor hoe Jo-Jo sug. “Die bliksem! Die propperse bliksem wat jou so lelik gedrop het! Sowaar, as ek hom in die hande kry …”
“Sal jy tien teen een met hom trou.”
“As Bliss and Beautiful jou troue gereël het, sou dit dalk nie in so ’n fiasko geëindig het nie,” mymer Jo-Jo.
“Asof al Bliss and Beautiful se troues so wonderlik glad verloop!”
“Ek weet wat ek doen.”
“Maar nie alles verloop reg nie – as ek kan glo wat jy my al vertel het. Onthou jy die keer toe die troukar langs die pad gekaap is?”
“Hoe moes ek weet daar was juis tóé ’n bestelling vir ’n Cadillac by die sindikaat?” Dixie hoor die veggees in haar suster se stem. “Buitendien, die bruid was net ’n paar uur laat.”
“Met rooi oë, sonder skoene en met modderspatsels op haar trourok as ek jou reg verstaan het.”
“ ’n Uitsondering op die reël,” sê Jo-Jo nonchalant.
“En wat van die keer toe die bruidegom die vorige aand in sy tux by ’n ontkleeklub was vir sy bachelor’s en … enne …” Dixie giggel effens.
“Ja, ja, ek onthou! Toe haal die arme ou die ring uit sy sak en ’n pienk panty val uit en beland oop en bloot voor die predikant se voete.”
“En die bruid buk, tel die bewysstukkie van sy sondes tussen haar duim en voorvinger op en swaai dit voor die bruidegom se neus rond.”
“Ek wonder of daardie huwelik nog hou …” mymer Jo-Jo.
“Heel moontlik nie. Selfs die huwelike wat goed begin het, lê heel moontlik al aan skerwe. Die huwelik is ’n sick joke en die liefde is ’n mite. Dis waansinnig om te trou. Finish en klaar.”
Maar Jo-Jo is nie in ’n bui vir haar gesanik nie. Jo-Jo glo aan die huwelik – of altans aan ’n behoorlike troue, ’n lekker makietie. Met ’n meters en meters wye trourok en ’n plafonhoë troukoek daarby!
“Wat van al my suksesse?” wil sy by Dixie weet. “Ek het al heelwat paartjies hand aan hand op hul wittebrood en die horison tegemoet gestuur sonder dat die seremonie in chaos geëindig het. Wie weet, as jy in die Kaap kon trou en Bliss and Beautiful kon …”
“Selfs nie die engele in die hemel sou my troue kon red nie, sus. Die hele affêre was van die begin af gedoem.”
Maar tóé het sy nie so gedink nie. Sy is deur die hele toetie, het maande voor die tyd al begin beplan daaraan. Die rok was nie presies wat sy wou hê nie, die skoene ook nie, maar die troubelofte het sy in sierletters op ’n kaartjie van goeie karton uitgeskryf en gememoriseer. Vir ewig en altyd … tot die dood ons skei. Die strooimeisies, die blomme, die satynlinte, alles was daar, alles volgens tradisie.
Wel, nie alles nie. Nie met so ’n dysfunctional family soos hare nie. Daar moes noodgedwonge ’n paar aanpassings gemaak word om Ma van Pa se keel af te hou, oom Bertie nugter te hou en Ouma aan die lewe te hou. Ook om Jo-Jo sover te kry om nie ’n scene in die kerk te maak nie en Pa en sy metgeselletjie met haar goggabeentjies te akkommodeer sonder dat daar ’n helse bohaai losbars nog voordat die konfetti gegooi word.
Die histerie het van die begin af hoogty gevier, die spanning was voelbaar. Maar niemand sou kon raai presies hóé groot die chaos sou wees wat voorgelê het nie.
“Wel, dis nou verby,” herinner Jo-Jo haar met ’n moedswillige sonskynstemmetjie. “En daar is nog baie waarna jy vorentoe kan uitsien.”
“Ag pleeze!” In Dixie se stem is daar nou nie eens die flouste ou sonstraaltjie te bespeur nie. Die glas is g’n halfvol nie, die glas is léég! Die glas is, om die waarheid te sê, flenters geval. In sy maai in aan skerwe gespat.
“Ek is siek en sat vir mense wat my met sulke clichés probeer troos oor wat gebeur het. Want daar is nottedêm ’n troos voor. It sucks! Dis al wat daaroor te sê is en klaar. So moenie vir my kom vertel daar is nog baie waarna ek kan uitsien nie.” Sy snorklag. “Soos wat miskien?”
Jo-Jo antwoord haar nie. Wat ís daar after all te sê?
“Of wag, ek weet,” help Dixie. “Ek hoor dit genoeg. By die predikant wat Ma ontbied het om met my te kom praat toe sy bang was ek gaan in ’n diep dam vol modderwater spring. By die tannie op die hoek wat vir my ’n aaklige ouvroutrui gebrei het sodat ek nie in my alleenheid van die koue sal verkluim nie. Selfs van ’n paar bleeding heart-vriendinne wat hulle nie in my ondergang verlekker het nie. Ek moet glo uitsien na … tarrada, tarrada … drum roll, drum roll: Die. Res. Van. My. Lewe! Asof Die. Res. Van. My. Lewe nou ewe skielik vreeslik opwindend gaan wees.” Sy haal ’n slag diep asem. “Dit was amper so erg as om na die berader te luister!”
“Was jy sowaar by ’n kopdokter?”
“Ja, jong. Ma se idee. Iewers by een van die vroue by die vrouevereniging daarvan gehoor. Die eerste twee sessies was verniet en Ma het my met die krag van ’n bulldozer tot daar gedwing, my selfs voor die vrou se spreekkamer gaan aflaai.”
“En wat sê sy toe?” Dixie hoor hoe skepties Jo-Jo is, ook nie sonder goeie rede nie.
“Dat ek myself moet omdop en behoorlik moet ondersoek waarom my aura so donker is dat ek dié vernedering oor myself gebring het. Dat ek moet probeer uitvind wat ek gedoen het om sulke slegte karma op te hoop dat dit my op my troudag toegeval het. En, het sy sommer ook voorgestel, miskien moet ek daaraan dink om vals naels te kry, myne lyk so onversorg. Mans hou van mooi naels. En wat van ’n paar haarverlengings? Mans is mal oor lang hare. En sy beveel sommer ook aan dat ek meer dikwels gim toe gaan, ’n paar honderd push-ups by my roetine voeg. Aan my heupe, wat neig na child-bearing heupe, probeer werk omdat dit nog nie tyd is vir childbearing nie. En by implikasie: As ek nie na haar luister nie, sal daar in elk geval maar min kans vir my wees vir enige childbearing in die toekoms. Nie soos ek nou lyk nie. En ook nie met die aura wat my tans omring nie.
“En, het sy vriendelik dog dringend bygevoeg, sy het die telefoonnommer van ’n goeie skoonheidskundige as ek belang stel. Sy gaan self gereeld soontoe, en ek kan vir myself sien wat die resultaat daarvan is.”
Dixie aarsel ’n oomblik. “En dit was alles in een sessie ingeprop, die eerste. Ek het gevoel soos ’n ou stuk kougom wat uitgespoeg is en toe onder haar skoensool beland het.”
Jo-Jo vloek binnensmonds, maar nie so binnensmonds dat Dixie haar nie kan hoor nie.
“Ek is bly om te hoor my vertelling dryf jou ook tot Algemeen-onbeskaafde Afrikaans. Dat dit nie net ék is wat my behoorlik vir die sielkundige poppie gestrip het nie. Dit beteken ek is net so normaal – of net so mal – soos jy. Safety in numbers, jy weet?”
“Wat de f … wat de flippen hel het jy vir haar gesê?” wil Jo-Jo weet toe haar repertoire vloekwoorde opraak.
“Dat sý berading nodig het.”
Jo-Jo lag. “Well said. En die tweede sessie? Wat het alles dáár uitgebroei?”
“Ek het nie die tweede afspraak nagekom nie.” Dixie glimlag effens. “Ma was disgusted met my, die ene Martelmeraai omdat ek nie haar goeie raad wou volg nie. Toe stel ek voor sý gaan in my plek. Die afspraak was klaar gemaak en dit was immers alles gratis en verniet.”
Dixie hoor hoe Jo-Jo haar asem geskok intrek. “Het sy?”
“Sy het haar eers vreeslik vererg. Dink ek dan sý is mal? Dis nie sý wat mal is nie, dis Pa wat heeltemal berserk geraak het. Die hare het gewaai en ek moes weer paai dat dit bars. Later het sy dit selfs begin oorweeg om te gaan. Toe moes ék natuurlik weer keer dat dit klap. Want natuurlik wou ek nie regtig hê sy moes by die simpel vrou beland nie. Ma sit diep genoeg in haar eie put. So ’n siele-skrobbering sou beslis nie goed vir haar gewees het nie. Ek verstaan nou waarom die sielslappertjie haar terapiesessies gratis aanbied. Niemand gaan betaal om só verniel te word nie.”
“Te hel met haar!” verklaar Jo-Jo onomwonde. “En almal anders wat vinger na jou wys. Jy het niks verkeerd gedoen nie. Dis daardie bliksem van ’n man wat dink sy watsenaam is van goud gemaak. Hy kan sy Nike-hardloopskoene agterna gooi om jou te kry.”
“Hy sou nogtans van my af weghardloop, sus, met of sonder Nikes aan sy voete.”
“Wel, good riddance to bad rubbish, sê ek.”
Dixie hoor die woede in haar suster se stem en sy hou daarvan.
“Ek kon in elk geval nooit glo Kurt was jou groot liefde nie,” vervolg Jo-Jo.
“Hoe kan jy so sê? Ons was dan amper drie jaar lank saam voordat hy sover gekom het om my te vra om met hom te trou.”
“Dis nog lank nie te sê hy was jou groot liefde nie. As hy was, sou hy jou van die begin af sy eie wou maak.” Sy aarsel ’n oomblik. “Wat van daardie ou op universiteit van wie jy my vertel het? Die ou wat jou van jou voete af gesoen het? Wat het van hóm geword?”
Dixie krimp ineen. Daar wás iemand – ’n man. Hy was ’n man, ja, volledig man terwyl die ander studente nog tussen seun en man rondgedobber het. ’n Man wat die misterie van manwees in sy donker oë met hom saamgedra het. ’n Man met die reuk van ’n man, die hande van ’n man, die stem, die lyf … ’n Man met die mag van ’n man wat haar van haar voete – en van haar verstand – af gesoen het. Wat haar van die grond af gelig het, aan die soom van die hemel laat raak het. Haar van haar vrouwees bewus gemaak het, ’n vuur in haar aan die brand gesteek het wat sy nooit daarna weer geblus kon kry nie.
“Ek moes jou nie daarvan vertel het nie. Dit was niks. ’n Flash in the pan, dis al.”
“Maar wát ’n flash in the pan! Jy was skoon besimpeld wanneer jy oor hom gepraat het.”
Hy hét haar skoon besimpeld gemaak, dis waar. Haar gedagtes was nie meer haar eie nie en haar lyf het met ’n vreemde, nuwe stem geroep. Dit was alles nuut. So ontstellend nuut, maar ook so betowerend nuut dat sy nooit weer daarsonder wou wees nie. Nooit weer sonder hóm wou wees nie – al was dit net in haar drome. Want sy het hom nie werklik geken nie.
“Dit was ’n droom, Jo-Jo,” sug sy. “A wild and wonderful dream.”
“Miskien is dit ’n goeie ding dat jy toe nie met Kurt getrou het nie. Dit sou dalk jou lewe lank so ’n flouerige, louerige affêre gewees het, nie goed genoeg vir ’n passievolle vrou soos jy nie. Miskien kán jy ’n hele Nuwe Lewe in die Kaap begin. Dalk ’n man ontmoet …”
“Vergeet dit. Daar is nie meer ’n man oor in die Kaap vir my om te ontmoet nie. Hulle is almal opgebruik. Selfs jý wend dan al jou skrede na Australië.”
Dixie wip orent toe sy die voordeur hoor oopgaan. “Ek kan nie nou verder met jou praat nie,” sê sy. “Ma is hier.” Haar stem sak. “En my voete is op die koffietafel,” fluister sy terwyl sy haar voete teen die spoed van lig afswaai.
“Op die koffietafel? Op Má se koffietafel, die een waarop die voormoeder se geborduurde lappie lê? Is jy mal?”
Daar is nie tyd om Jo-Jo te antwoord nie. Dixie druk die selfoon dood en pof die strooikussings op die rusbank op. Toe gaan sit sy kiertsregop soos iemand wat in ’n ginekoloog se wagkamer haar beurt sit en afwag.
Ma is nog ’n mooi vrou, dink Dixie toe sy by die deur inkom. Net jammer van die bitter trek om haar mond. Dieselfde trek wat sý seker een van die dae ook om haar mond gaan hê, as dit nie dalk al klaar daar gegraveer is nie. Dis ’n teken, ’n stempel – ’n bewys dat jy deur die meul is. Dat ’n man jou beetgehad het en met jou gemors het. En dit help nie jy botox daardie bitterbek nie – die kepe sit te diep om te verbloem.
“Ek het hom gesien,” kondig haar ma aan die oomblik toe sy nader gestap kom. “In die Mugg & Bean in Linden. Can you believe it?”
Dixie hoef nie te vra na wie haar ma verwys nie – sy weet. Liewe hemel tog, is ’n stad soos Johannesburg regtig nie groot genoeg vir twee mense wat so ver as moontlik van mekaar af moet wegbly nie?
“Sit daar met sy blink skoentjies asof hy nie werk het om te doen nie. Hare geblowdry soos een van die mansmense in Bold and Beautiful, goue ketting om die nek, hemp oopgeknoop amper tot by Glory Land. Jy sien net borshare. Wat ’n man van sy ouderdom besiel om so ’n gek van homself te maak, sal ek nie weet nie.”
Haar ma laat haar skouersak versigtig grond toe sak en gaan sit oorkant Dixie. Voete bymekaar soos ’n outydse goewernante wat vir ’n werksonderhoud kom.
Laat daar nooit van haar ma gesê word dat sy haar nie soos ’n dame gedra nie, selfs nie wanneer die woede in fyn sweetdruppeltjies op haar voorkop uitslaan nie. Wel, soort van. Haar ma praat nie soos ’n dame nie, tree nie soos ’n dame op nie en ís nie ’n dame nie. ’n Dame gee nie vir haar kinders name soos Jo-Jo en Dixie nie, en ’n dame hou haar tong in toom. Nie Ma nie. Maar sy verwag nogtans om vir een aangesien te word. En soos een behandel te word. Wel, soort van …
Miskien, so het Dixie al dikwels gedink, as teenvoeter vir Pa se string meisies wat nie eens deur ’n blinde vir dames aangesien sal word nie.
Haar arme ma voer ’n verlore stryd.
Dixie wil nie vra nie, maar sy weet sy moet. Haar ma sal die saak nie laat vaar voordat die vuurspuwende berg nie behoorlik tot uitbarsting gekom het nie.
“Was … was Pa alleen?”
“Alleen? Was Gerhardus de Lange al ooit in sy lewe alleen? Nee! Nee, natuurlik nie. Sit en ginnegaap met ’n ou meisietjie nie veel ouer as jy nie. Seker so dertig, vyf en dertig, daar rond. Waaroor hulle gesels, weet net hy en die duiwel alleen. Kan nie oor die werk wees nie, daarvoor is daardie gesiggie te dom. Dis so ’n dikketjie dié keer, een met ’n ronde gesiggie soos ’n muurhorlosie. Nie sy gewone tipe nie.”
“Wat ís Pa se gewone tipe?” wonder Dixie hardop.
“Ja, nou vra jy my ’n ding. Enigiets wat borste en boude het, sou ek sê. Laas was dit ’n rooikop, hierdie enetjie het donker hare. Langerige hare. Hang op haar skouerknoppe. Krullerig. Dis nou te sê as dit nie ’n pruik is nie. Gerhardus de Lange se meisies is so vals dat ’n mens nie weet of hulle net van silikoon en nylon aanmekaargesit is nie.”
’n Vreemde heimwee oorval Dixie. ’n Verlange na haar pa, soos sy hom geken het voordat sy van al sy streke geweet het. Haar pa, die man wat haar nou skaam maak om sy dogter genoem te word.
“Het hy Ma gegroet? Het julle gesels?” vra sy versigtig.
“My groet? Sal Gerhardus my nou groet! Die vrou wat meer as dertig jaar sy hemde vir hom gestryk en sy skoene vir hom blinkgevryf het? Die vrou wat vir hom twee dogters in die wêreld gebring het en jare lank sy nonsens opgevreet het? Nee, Dixie, jou pa het dwarsdeur my gekyk, gemaak of hy my nie sien nie. Of so nie probeer voorgee dat hy my van g’n adamskant af ken nie.”
Dixie staan op, raak aan haar ma se arm. “Ek is jammer, Ma.”
Haar ma snork. “Jammer sal niks regmaak nie, kind, maar dankie in elk geval. ’n Mens sou dink ek moet teen dié tyd gewoond wees daaraan om my eks saam met sy nuutste poppie te sien, maar …” Haar ma snuif. “Dit maak nog elke keer seer.” Nou raak haar ma se stem tranerig. Sy slaan op haar bors. “Hier! Hier aan die binnekant huil ek nog oor die ellendeling.”
Toe gaan Dixie maar kombuis toe om vir hulle tee te maak. Sy weet nie wat sou word van vrouens wat so deur mans vertrap word as daar nie tee in die wêreld was nie. Met ’n winkelkoekie by, besluit sy toe sy die skinkbord inneem. Sommige dae is net te trietsig om sonder ’n kalorieryke soetkoekie te oorleef.