Читать книгу Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots - Страница 5
3
ОглавлениеDixie sit omring deur haar tasse in die taxi wat haar van die lughawe af Langstraat toe gebring het, maar sy huiwer om uit te klim. “Is jy seker dis die regte adres?” vra sy onseker.
“But of course, ja!” word sy verseker. “Daar staan dit dan yslik groot teen die muur geverf: Bliss and Beautiful.”
Sy draai haar kop om beter by die venster uit te sien en loer in die rigting waarheen hy beduie. Die boonste B is taamlik verbleik en die tweede een het iewers heen verdwyn. Sy bevind haar inderdaad voor ’liss and ’eautiful.
“Toe, jy moet uitklim,” word sy aangemoedig. “Dis ’n one-way dié, ons block die traffic.”
Sy’t skaars die moed om die motordeur oop te maak, maar sy weet ook dat sy by omdraai verby is. Dis waar wat die taxibestuurder sê: Dis ’n eenrigtingstraat hierdie, sy kan net vorentoe gaan. Sy ís nou hier, sy kan net sowel uitklim en Die Res van haar Lewe aanpak en klaarkry. Nie dat Die Res van haar Lewe van hier af vir haar besonder belowend lyk nie.
Toe sy haar agterstewe en die res van haar belaai met pakke en sakke by die taxi uitgewikkel kry, is daar dadelik iemand by wat haar tasse wil help dra. Sy kyk na die gaterige T-hemp, die ingeduikte hoedjie en sy aarsel.
“Jy beter dit nie doen nie,” waarsku die taxibestuurder. “Hulle gryp jou tasse en dan hol hulle weg daarmee. Klomp skelms. Hulle ma’s moes hulle kleintyd al doodgelê het.” Hy lag tandeloos. “Behalwe as jy dink jy sal hierdie een kan inhardloop.”
Dixie klem haar skouersak ’n bietjie stywer vas. Liefs nie. Liefs wil sy nie met haar aankoms in die Kaap agter ’n jongeling met lang maer bene aan hardloop met die hoop om eienaarskap van haar handsak of tasse te probeer herwin nie.
Haar ore tuit toe die hulpvaardige jongeling lostrek en die taxibestuurder in kleurvolle taal heelwat meer vertel van sy ma as wat sy wou hoor. Hy’s nie ’n skollie nie en Langstraat behoort nie aan die taxibestuurder nie en hoekom vat hy nie sy kar en ry in die see in met die ding nie, gaan swem saam met die visse dat die haaie hom vreet. Dis nou te sê as hy die hele Kaap ’n helse groot favour wil doen. Want hulle hier in Langstraat soek hom nie hier nie, hulle hier in Langstraat hou hulle nie op met rubbish wat dink hulle stink nie. Net omdat hulle hul vet gatte in ’n kar skuur. Hulle hier in Langstraat is genuine, hulle is nie fake nie, thank you very much.
Dixie wonder of sy nou ook een van “hulle hier in Langstraat” is – en sy weet regtig nie hoe sy veronderstel is om daaroor te voel nie. Kyk, sy glo aan leef en laat leef, maar sy is nie so seker dat sy hier in Langstraat die sogenaamde res van haar lewe geleef gaan kry nie. Wat nog te sê van ’n Nuwe Lewe leef?
Sy betaal met bewende hande, skop, sleep en dra haar bagasie in die rigting van ’liss and ’eautiful. Die veiligheidshek is gesluit. Natuurlik, ja, dink Dixie benoud. In Suid-Afrika los ’n mens nie eens die deur van ’n bruidswinkel oop nie. Sy loer na binne, druk die deurknoppie.
“E … Dixie hier,” roep sy binnetoe. “Jo-Jo se suster.”
“Ek kom!” antwoord iemand haar.
Dis dan seker nou Coco, dink Dixie. Jo-Jo se assistent. Maar presies waarmee sy Jo-Jo assisteer, is ’n vraag wat Dixie nog nie beantwoord kon kry nie. Want van hier af lyk dit in elk geval nie of daar veel besigheid in hierdie deel van Langstraat bedryf word nie. In elk geval nie vanuit die bruidswinkel wat so vaal en beskeie hier tussen die ander geboue ingeprop is nie.
Al waarop sy kan hoop, is dat Coco haar so gou moontlik sal inlaat en die veiligheidshek weer agter hulle sal toesluit. Sy kyk effens benoud oor haar skouer … en sien vir die eerste keer die twee winkelpoppe in die venster raak.
“Ag hemeltjie tog!” kreun sy, “moet ek huil of moet ek lag?”
Maar voordat sy daaroor kan besluit, moet sy aandag gee aan die lewende wese wat vir haar die deur kom oopsluit. Sy knip haar oë ’n slag, nie seker of dit ’n Langstraat-illusie is nie.
Coco lyk min of meer soos ’n onvoltooide legkaart, een waarin daar nog heelwat gate is. Soos die wenkbrou wat bo een van haar swaargegrimeerde oë makeer, terwyl die ander een swart ingekleur is. En haar kroes hare soos ’n windverwaaide besembos wat aan die linkerkant blond en aan die regterkant pikswart gekleur is. En die toonnaels (waartussen die wattebolletjies nog ingeprop is) wat ’n verskeidenheid kleure geverf is, die meeste blinkswart. En die drapeersel om haar lyf wat moontlik ’n goiingsak kan wees.
Van ’n formele kennismaking is daar geen sprake nie.
“En toe? Wat dink jy van ons girls in die venster?” wil Coco dadelik weet toe sy sien Dixie loer tersluiks na die verweerde winkelpoppe wat veronderstel is om klante nader te lok.
“Wil jy regtig weet?” vra Dixie senuweeagtig, nie meer seker of sy hier wil in of eerder wil omdraai nie.
“Sure. Ek vra mos. Go for it!”
“Wel, die een links lyk soos ’n oorlogsbruid … Uit die Eerste of miskien darem die Tweede Wêreldoorlog.” Sy aarsel ’n oomblik. “Nadat daar ’n bom naby haar ontplof het en van die skrapnel haar getref het.”
Coco draai haar kop skuins om na die oorlogsbruid te kyk. “Sjaaim!” stem sy saam. “Maria is al ’n bietjie gewear en getear, arme ou ding.”
Sy wys na die ander vrouefiguur wat blykbaar nie regop kan staan nie en skuins teen die muur leun met ’n veraf uitdrukking in haar oë. “En wat van ou Daisy? Lyk sy darem vir jou funky?”
Dixie huiwer om haar mening oor ou Daisy te gee. Daisy, as sy nou eerlik moet wees, lyk allesbehalwe funky. Daisy staar nikssiende en effens skeel in die niet en lyk lewensmoeg, so asof sy snags die skouerlose trourok verder laat afglip om hier op die sypaadjie in Langstraat haar lyf te verkoop. Sy sou Daisy eerder beskryf as ’n befoeterde bruid as ’n funky een.
Die arme Daisy, wat duidelik onvas op haar voete is, en die oorlogsbruid staan seker jare al hier in Bliss and Beautiful se uitstalvenster, want as hul trourokke ooit wit was, was dit lank, lank gelede. Hoe enige voornemende bruid met drome in haar oë by Bliss and Beautiful kan instap nadat sy dié twee vertoiingde, verwaarloosde bruide gadegeslaan het, slaan Dixie dronk.
“Miskien … Ons kan dalk later aandag gee aan dié twee,” merk sy op, so positief as wat sy onder die omstandighede kan bemeester.
“ ’n Bietjie TLC, dis al wat die twee girls nodig het,” verseker Coco haar.
Dixie sleep haar bagasie binnetoe. Coco help haar nie, blaas net op haar vingernaels wat met blinkers geverf is en seker nog lank gaan neem om droog te word. Dixie het ’n nare vermoede sy en Coco gaan mekaar nie sommer vind nie. En sy vermoed ook die twee winkelpoppe het heelwat meer as ’n bietjie tender love and care nodig. Om die waarheid te sê, sy sien niks wat mooi of wonderlik is aan Bliss and Beautiful nie. Nêrens nie. Nie aan die skemerdonker winkel of aan Coco wat soos ’n ontploffing in ’n verffabriek lyk nie, en nog minder aan die twee bruidspoppe in die winkelvenster.
Waddehel soek ek hier? wonder sy toe sy haar dieper in die maag van die donker winkeltjie begewe. ’n Nuwe Lewe? Of ’n vroeë dood? Geen wonder Jo-Jo het haar visier op ’n Australiër gestel nie. Enigiets is beter as om jou daaglikse brood hier te verdien. Vir die res van jou lewe …
Miskien … as sy net eers haar skoene uitgeskop het en dalk … dalk ’n sigaretjie gerook het, sal dit nie meer vir haar voel of sy sommer net sonder moeite wil doodgaan nie. Sy kyk om haar rond, sien die trap wat boontoe lei.
“Is dit die trap na die woonstel toe?” wil sy by Coco weet.
“Jip. Maar ek het nie die sleutel nie.”
“Ek het.”
Dixie vat-vat na die tas naaste aan haar terwyl Coco in ’n ou leunstoel in die hoek van die winkel neersak en weer met haar naels doenig raak. Dixie se mond val oop. Jo-Jo het Coco as ’n sweetie-pie beskryf, maar Dixie sien niks aan haar wat “sweet” is nie.
“Kan jy my met my tasse help, asseblief?” vra sy tussen haar tande deur.
“Ek is bang my naels smudge,” kla Coco.
Heeltemal ’n geregverdigde klagte, moet Dixie teenoor haarself erken. Coco se naels is dik aangeplak en ’n kunswerk in die kleine as jy hou van moderne kuns wat ’n migraine waarborg.
Maar Dixie besef ook dadelik dat Coco ’n handskoen neergegooi het as uitdaging tot ’n tweegeveg. As sy hierdie een verloor, gaan sy verloor nog voordat sy behoorlik hier by Bliss and Beautiful begin het.
“Dan moet jy dit maar net weer in jou eie tyd oorverf.”
Sy sien Coco se bont kop ruk orent.
“Ek besef dit tel seker nie onder jou normale pligte as assistent nie, maar ek sal dit nogtans waardeer as jy my kan help.”
Liewe aarde, sy klink soos ’n kwaai onderwyseres. Een wat haar taal suiwer hou!
“Assistent? Excuse me! Ek is eintlik die manager hier rond, ek weet wat alles hier aangaan, nie Jo-Jo nie. Jo-Jo is amper nooit hier nie, sy het other fish to fry. If you know what I mean.”
I know what you mean, kan Dixie vir Coco sê, maar sy gaan nie. Bloed is dikker as water en haar lojaliteit lê by haar suster. Sy kan maar net wonder of Jo-Jo weet dat Coco haarself intussen bevordering gegee het. Hopelik sluit dit nie ’n beter salaris in nie.
Coco is beslis dikbek, maar sy sleepdra darem saam met Dixie die bagasie teen die trap op. “Dankie, jy kan nou maar gaan,” verdaag Dixie haar.
Dan sluit sy die deur na die woonstel oop, haar hart in haar keel. Wat wag hier op my? wonder sy. Muise wat haar in die middel van die vertrek met verwyt in hul oë gaan inwag omdat sy hul rus verstoor? Spinnekoppe? Ander goggas en goeters?
’n Vlaag neerslagtigheid vou om haar. Sy weet sy behoort meer avontuurlustig te wees, maar sy is so voos geslaan deur alles wat verkeerd geloop het die afgelope ruk. Sy weet nie of sy kans sien om haar Nuwe Lewe met ’n muis in die huis of enige ander ongedierte te deel nie.
Maar toe sy uiteindelik oopsluit, is daar niemand om haar te verwelkom nie, ook nie vier- óf agtpotiges nie. Eintlik is daar niks, net mooi niks! Nie ’n stoel of ’n tafel, ’n bed of ’n holte vir haar voet nie.
Iewers het sy en Jo-Jo mekaar liederlik verkeerd verstaan. Of het Jo-Jo haar met opset onder ’n verkeerde indruk gelaat, want haar suster is beslis nie van plan om terug te kom hierheen nie – die woonstel is leeggedra.
Dixie staan met haar arms slap langs haar sye na die leegheid om haar en kyk. Moedeloos. Dan sien sy die briefie op die wasbak lê, agterop iemand se troukaartjie geskryf. Sy herken Jo-Jo se handskrif van ver af en stap gelate nader om te lees watter onaangename verrassings daar nóg vir haar wag.
Welkom, sus!!! lees sy en sy sien Jo-Jo se uitgelatenheid in die baie uitroeptekens. Jong, die Aussie het my gisteraand oor die telefoon gevra om met hom te trou!!! Can you believe it??? Sommerso sonder om my te sien? Ag, dis fabulous! Ek dink ek is verlief, tot oor my ore verlief, of tot waar ’n mens orals verlief kan raak. Ek wou jou nie sê nie, want ek ken jou. Jy sou jou dinges afskrik en nie meer Kaap toe kom nie. En ek sal my susterlike plig versuim as ek jou langer daar by Ma laat bly. Waar jy in ’n potplant gaan verander. Een van daardie vetplant-potplante met die skerp stekels op die blare. En ek wil nie ’n vetplant vir ’n strooimeisie hê nie. Dis nou te sê ás ek en die Aussie lank genoeg sal kan uithou om in die Kaap te kom trou. Waar Bliss and Beautiful natuurlik vir ons ’n troue moet organise wat vir niks skrik nie. Oefen solank daarvoor!
Dixie, sus, ek gooi als uit wat in die woonstel was, veral die bed wat al skoon windskeef gelê is. Sodat jy jou Nuwe Lewe met mooi nuwe goed kan begin, nie tussen die spul ou goed wat mý stories vertel nie. Begin jou eie storie hier langs Die Berg leef. Moenie worry oor waar jy geld gaan kry daarvoor nie. Ek los vir jou ’n tjek by Coco. En nee, die tjek sal nie bons nie. Geniet jou Nuwe Lewe. Have a ball! Luvies! Jo-Jo. Ps. Ek hóóp nie die tjek bons nie! Ek dink darem nie so nie.
Dixie sak op een van haar tasse neer en steek ’n sigaret aan. Haar hande bewe en die aarde tol, maar ná die tweede teug kom die mure om haar ten minste weer tot rus.
Nadat sy die stompie in die wasbak afgespoel het en spuitgoed die lug in gespuit het, stap sy met die trap af ondertoe, waar Coco nog met haar voete onder haar ingevou op die leunstoel sit – heel moontlik een of ander antieke stuk met ’n bladsy lange pedigree.
“Is hier ’n ketel iewers?” vra Dixie. “En iets om te drink? ’n Koffietjie?”
Coco ontvou haar met ’n sug. “Plêstiekkoffie, ja. Die ander is te duur. Sê Jo-Jo.”
Wat Jo-Jo sê, begin vir Dixie al hoe minder belangrik lyk, maar sy sal nou enigiets drink wat vir haar droë keel en uitgerafelde senuwees sal help. Sy kyk hulpbehoewend na die ketel, wat blykbaar saam met Maria ’n wêreldoorlog oorleef het – net-net oorleef het. Die ding lyk na ’n ernstige brandgevaar. Goeie aarde tog, is dit regtig nodig dat alles aan Bliss and Beautiful so vervalle moet wees? wonder sy moedeloos.
Sy kyk agterdogtig om haar rond. “Coco, is hier muise in die winkel?”
Coco skud haar kop heftig heen en weer. “Um-um,” antwoord sy ontkennend. “Nee. Niks. Net tweetjies.”
“Tweetjies?” Dixie kyk weer om haar rond.
“Net Piet en Griet,” sê Coco gerusstellend. Sy staan op. “Kom, ek gaan wys jou waar hulle gaatjie is.”
Dixie ril merkbaar, maar stap dapper saam met Coco.
“Sien jy? Daar in die hoekie?”
“En die kaas in die piering?”
“Ons bederf hulle soms so ’n bietjie.” Coco glimlag liefies.
“Kaas wat vir muise uitgesit word, vorm gewoonlik deel van ’n slagyster.”
Coco gee haar ’n ligte stampie. “Sies vir jou! Sjuut! Netnou hoor hulle jou, sjaaim.”
Dixie maak haar oë ’n oomblik toe om haar kalmte te herwin.
“Wat gaan gebeur as Piet en Griet besluit om met ’n gesin te begin?” Sy doen moeite om die sarkasme uit haar stem te hou. “Weet jy hoe muise kan aanteel? Watter pes dit kan raak?”
“Um-um,” sê Coco. “Nog nooit gebeur nie.” Haar stem sak. “Ons dink daar’s fout met Griet.” Sy giggel. “Of met Piet. Ons wou al ’n stukkie Viagra vir hom voor die gaatjie gelos het, maar ons was te skaam om dit te gaan koop. Netnou dink die apteker ons boyfriends het dit nodig, jy weet?” Sy frons effens. “Dink jy dit sal help?”
Hierdie is ’n absurde gesprek, besef Dixie. Selfs meer absurd as die gesprekke wat sy soms met Jo-Jo voer. Absurditeit is blykbaar aansteeklik.
Sy draai beslis na Coco. “Ek voel vere vir die muise se sekslewe. Ek is jammer, maar hulle sal moet gaan.”
“Wat … wat bedoel jy?”
“Dat jy iemand moet kry om van Piet en Griet ontslae te raak.”
“Maar hoekom?” Coco kyk na haar asof dit sý is wat ’n probleem het. “Dis hulle huis hierdie!”
Vir ’n oomblik wil Dixie vermurwe. Want sy weet hoe dit is om huisloos te wees, sy wéét!
“Bliss and Beautiful verkoop trourokke, Coco,” verduidelik sy. “Muise vreet trourokke. Hoe sal jy daarvan hou as ’n muis jou trourok beetgehad het?”
“Ek sal like van ’n trourok met muisgate in.” Coco dink ’n oomblik na. “Wow! Dit sal awesome wees! Stunning!”
Toe besef Dixie sy sal haar stem dik moet maak as sy van Bliss and Beautiful ’n plek wil maak waarin sy kan oorleef – met of sonder Coco. Een ding is seker: Óf die muise moet gaan óf sy. En sy het nêrens om heen te gaan nie.
“Wel, dan sal jy maar ander muise moet huur om vir jou daardie gate te vreet. Piet en Griet se dae in Bliss and Beautiful is getel. Hulle is nie meer welkom hier nie.”
Coco is na aan trane. “As jy vir Piet en Griet laat doodmaak, lóóp ek,” dreig sy.
Doodmaak? Dixie hét as kind ’n muis in ’n muisval in die spens sien sterf: die stertjie wat stil raak, die pienk oortjies wat nooit weer ’n kat sal hoor aankom nie, die snorbaarde … Dit was aaklig. Aaklig! Haar pa, wat toe nog in die huis was, het gesien hoe ontsteld sy was. Hy’t haar probeer troos, onthou sy. Vir haar vertel van ’n spesiale muishemel waar katte en uile nie toegelaat word nie, ook nie mense nie, waar muise koning kraai, maar dit het haar nie getroos nie. Vir haar het daardie muis baie dood gelyk. Morsdood. En ’n muishemel het baie ver en vaag gevoel.
“Kry vir ons iemand wat hulle hier sal kom verwyder. Lewend, nie dood nie,” troos sy. “Sodat hulle iewers op ’n plaas kan gaan bly waar hulle vry kan wees.”
Sy herken die vertwyfeling op Coco se gesig as dieselfde waarmee sy as kind geworstel het toe haar pa haar met die storie van die muishemel wou troos.
“Dalk oorkom hulle daar hul fertiliteitsprobleme en is daar binnekort die getrippel van die pootjies van sommer baie kleine muisies met grote ore,” probeer sy verder troos.
Waar die baie kleine muisies met grote ore iemand anders se probleem sal wees. Of daar ’n pesbestrydingsdiens is wat genade met muise het, weet sy nie, maar sy weet ás daar so iets is, sal Coco soek tot sy dit kry. Miskien is Coco tóg ’n sweetie-pie as ’n mens net eers die gekleurde blink lagie buite-om afgeskil kry.
’n Sonstraal val skielik deur die venster oor Dixie se voete. Sy kyk af, sien die geelhoutvloer waarop sy staan. Oud en onversorg. Sy kyk na die vuil, geelwit mure, die moeë meubels, die katalogusse van trourokke uit die jaar toet met die omkrulhoeke, hoe die koppe van die blomme in die rangskikking op die tafel hang … En sy onthou van die lewensmoeë Maria en Daisy in die winkelvenster.
Alles in Bliss and Beautiful is verwaarloos en lelik. Soos sy. Muf. Soos haar gees. Vaal. Soos sy. Soos haar lewe.
Maar iets roer in haar. Iets … amper soos opwinding. Dis asof sy dieper sien, verby die vuil mure, verby die voosgetrapte vloer, verby die lelike trourokke aan die reling wat meer soos doodsklede lyk.
Miskien … miskien …
Dixie voel hoe haar hart vinniger begin klop. Sy twyfel of sy enigsins kans sien vir ’n Nuwe Lewe vir haarself, maar miskien kan sy nuwe lewe in Bliss and Beautiful blaas. Iets daarvan maak, iets wat anders lyk as nou, iets wat hoop en verwagting uitstraal.
“Waar’s die tjek wat Jo-Jo by jou gelos het?” wil sy weet.
Vir ’n oomblik kyk Coco na haar met ’n leë, onbegrypende uitdrukking in haar oë. Maar dan, tot Dixie se verligting, lyk dit of daar lig deurbreek.
“O ja!” Sy begin deur die laaitjie voor haar soek. “Ek het amper vergeet daarvan. Dit moet hier iewers wees.”
Maar daar wag nog ’n hele paar senutergende minute op Dixie voordat Coco die stukkie verfrommelde papier uit die laai gevis kry. Sy blaas daarop en stryk vlugtig met haar vingers daaroor.
Dixie weet nie hoeveel die tjek in geldwaarde werd is nie, maar dit het ten minste intussen ’n doel gedien, sien sy toe sy dit in haar hande hou. Coco het ’n paar kleure naellak daarop uitgetoets en … ’n telefoonnommer of twee, nee, drie daarop neergeskryf.
Dis ’n teken, besluit Dixie net daar. Dis sowaar ’n teken dat sy hierdie tjek van Jo-Jo liefs nie moet probeer inbetaal nie. Dit sal heel moontlik net tot ongemak en rooi gesigte lei. Veral háár rooi gesig.
Sy kyk weer om haar, sien die hoë plafon van die vertrek, die patroonwerk daarop, sien die vuurherd met die mosaïekwerk onder lae en lae stof weggesteek, sien die potensiaal van hierdie weggesteekte hoekie waarvan net ’n paar weird mense weet. Miskien moet sy tog maar haar neseiertjie oopbreek en haar eers later oor haar oudag bekommer …
Met ’n gelate sug skeur sy Jo-Jo se tjek, wat heel moontlik nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie, aan flenters.
“Haai! Wag!” keer Coco. “Daar is nog ’n telefoonnommer op van ’n ou wat motors uitverhuur vir bruide wat in style by die kerk aangery wil kom.”
“Het hy nie vir jou ’n paar besigheidskaartjies gegee nie?”
“Om wat mee te doen?”
“Aan die customers uit te deel, Coco.” Dixie frons. “Hoe werk dit in elk geval? Watter persentasie van die wins kry julle van julle subkontrakteurs?”
“Jy meen soos in wanneer Faiza vir ons rokke maak?”
“Ja, dit ook.”
“Jo-Jo het ’n deal met haar, ek weet, maar ek weet nie mooi hoe hulle dit square nie. Dis Jo-Jo wat die boeke hou.”
Op klein papiertjies in ’n koffieblik, ja. Dixie weet. En elke jaar kry sy ’n senuweeaanval wanneer dit tyd is om aan Jan Taks rekenskap te gee.
“Ons moet ’n bietjie gaan sit en oor hierdie dinge gesels,” stel Dixie voor.
“Jy meen soos in ’n meeting?” Coco klink asof Dixie haar ten minste ter dood veroordeel het.
“Presies soos in ’n meeting, ja.”
As Coco haarself as ’n manager beskou, moet sy verlief neem daarmee dat daar van nou af meetings gehou sal word. As jy jou uitgee vir ’n toffie, moet jy verwag om gekou te word.
Dixie stap ketel toe om die plêstiekkoffie te gaan beproef. Op pad soontoe gee sy vir Coco die Geelbladsye aan. “Maar eers moet jy ’n huis vir die muis-egpaar kry,” herinner sy.
En, besef Dixie, ek moet iets kry om op te slaap.
Sy besluit op ’n opblaasmatras wat sy hopelik hier iewers naby in die stad te koop sal kry, een van daardie wat in ’n bank omskep kan word. Iets wat lyk of dit eerder in ’n ruimtetuig hoort as in ’n ouwêreldse Victoriaanse huis, maar wat lig is en maklik om te hanteer.
Sy sluk die flouerige koffie weg en gaan haal haar handsak. Sy moet die nodigste kry voordat die nag haar in ’n kaal woonstel betrap.