Читать книгу Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots - Страница 6

4

Оглавление

Die straat is taamlik stil toe Dixie op die sypaadjie uitstap, maar die lang lat van vroeër is dadelik by.

“Hoe lyk dit daar met ietsie vir ’n man se maag?”

Maar Dixie is ’n Suid-Afrikaner, hier gebore en getoë. “Ek kom van Jozi af, ou,” waarsku sy. “Ek weet alles van ietsie vir die maag wat nooit in die maag beland nie. Eerder in die kop.”

Die ou kyk haar vreemd aan, nie seker wat om van haar te maak nie, maar sy klem nogtans haar sak stywer teen haar lyf vas. Sy’s nuut in die stad, sy wil nie sommer op dag een al die inhoud van haar beursie, haar selfoon of iets dergeliks aan hierdie ou – of enigiemand anders – afstaan nie. Sy wuif hom weg met die hand en gee voor om heelwat dapperder te wees as wat sy voel. Ek vat nie twak van kabouters nie, sê haar houding. Gelukkig het sy ’n enkellengte romp aan en kan hy nie sien hoe haar bene bewe nie.

Met haar oog nog op hom, staan sy ’n oomblik stil om op te kyk na die berg, so naby aan haar dat dit voel sy kan haar hand daarna uitsteek. Haar asem slaan in haar keel vas. Die Berg. Tafelberg. Sommer hier bý haar.

Ek is in die Kaap, besef Dixie skielik. Ek staan hier in Langstraat, binne-in die mooie ou Kaap. Dis asof die verwondering nou eers tot haar deurdring, asof haar skouersak ligter raak, haar voetstappe flinker.

Sy verken eers verder in die straat op, nog nader aan die berg. Gaan staan elke af en toe stil om om haar rond te kyk na die Kaapse kaleidoskoop. Toe draai sy om om in die rigting van Groentemarkplein te stap. Sy stap heen en weer, dan aan dié kant van die straat, dan aan daardie kant. Ek voel soos ’n kind wat my in Speelgoedland bevind, dink sy. Of soos Alice in Wonderland.

Sy glip by een van die baie tweedehandsboekwinkels in waarvan Jo-Jo haar vertel het. Waar ’n mens die wonderlikste skatte raakloop. Boeke wat uit druk is, Afrikana, boeke vir elke smaak.

“Die plek is so deurmekaar, dit voel of jy nie weer die deur straat toe gaan kry nie,” het Jo-Jo gewaarsku. “Maar daar is method in the madness. Vra maar net as jy iets soek, iemand sal dit wel vir jou uitgekrap kry.”

Hier gaan ek nog baie keer kom krap op soek na daardie skatte, neem Dixie haar voor. Maar nie vandag nie. Vandag vra van haar om die minute kosbaar te gebruik.

Sy huiwer ’n oomblik by ’n blommeverkoper. “Ek kom weer,” belowe sy. “Baie keer.”

Hulle het blomme nodig by Bliss and Beautiful. Baie blomme. Vars blomme. Vrolike, uitbundige blomme soos hierdie wat op die sypaadjie te koop aangebied word. Blomme wat nog na blomme ruik.

Sy wil by die Pan-African Market verbystap, maar sy kan nie. Sy dwaal eers tussen die maskers deur, die draadwerk en die Afrika-materiale. In die venster, sien sy, staan twee winkelpoppe wat naby familie van Maria en Daisy kan wees. Dis ’n anderste straat hierdie, besef Dixie. ’n Anderste atmosfeer, ’n plek waar ’n tyd wat verby is nog met respek bejeën word, nie met argwaan nie.

Met haar hande vol pakkies gelaai stap sy later terug Bliss and Beautiful toe. Sy gaan staan aan die oorkant van die straat om die omgewing en die gebou waaruit die winkel bedryf word, behoorlik te bekyk. Sy leun effens teen die helderoranje muur van die Hotel Africa agter haar. Sy hoor flardes trommusiek van agter die toe deur, die ritme eiesoortig. Deesdae is dit Afrika-musiek wat deur Langstraat pols.

Dis of sy die Victoriaanse gebou vir die eerste keer werklik in haar volle fleur sien: die hoë balkon, die broekielace, die skoonheid uit ’n ander eeu wat miskien vervaag het, maar nog nie vergaan het nie. Net ’n deel van die gebou word vir die winkel en die woonstel gebruik, die res daarvan, so het sy van Jo-Jo verstaan, staan leeg en onbenut.

Dis asof daar ’n gordyn voor haar gelig word en ’n wêreld se moontlikhede vir haar wink.

“Liewe hemel, Jo-Jo,” prewel sy, “jy … of dan ons, of dan ek – omdat jy nou other fish het om te fry – sit mos op ’n goudmyntjie, man. Dis nie ’n huis vir ’n muis en sy wederhelf nie, ook nie vir winkelpoppe wat gedaan geleef is nie.”

Toe Dixie oor die straat stap om by Bliss and Beautiful in te gaan, sit-lê die lang leeglêer weer teen die pilaar. ’n Hele paar alarms gaan tegelyk skel aan die lui in haar kop. Hoe de dinges gaan sy van hom ontslae raak hier in Bliss and Beautiful se omgewing? Want sy steurende teenwoordigheid voor die winkel sal enige voornemende klant afskrik. Wat een van vele redes kan wees waarom Bliss and Beautiful tot dusver nie veel besigheid gedoen het nie.

Sy sug en stap vasbeslote nader na hom toe.

“Wat is jou naam?” vra sy, vriendelik genoeg.

“Wie wil weet?”

“Ek. Ek wil met jou praat en ek wil weet met wie ek praat.”

“Hulle noem my Slons.”

Nie juis ’n naam om op trots te wees nie, dink Dixie. “Waar bly jy?”

Hy kyk haar uitdagend aan. “Mos hier in Langstraat.”

“Waar?” Sy kyk om haar rond. “By die backpackers’ lodge?”

Hy lag vir haar. “Lyk dit vir jou of ek iets het om op my back te pack?” Hy wys in die rigting van die berg. “My cardboardbokse en goeters lê daar anderkant.”

Dixie sluk. Wie is sy om te kla oor huisloosheid as iemand soos Slons se huis uit ’n paar kartonbokse bestaan? Sy kyk na hom en sien die waarskuwing in sy oë. Wat hy nou wil hê, is nie bejammering nie. Miskien wanneer hy bedel vir iets vir ’n man se maag, maar nie nóú nie.

“Kan jy verf?” vra sy.

Ek moet my kop laat lees, dink sy.

“Kan ek verf?” Hy lig hom van die pilaar af weg. “Of ek kan verf?” Hy wys na die berg. “Sien jy daardie berg daar? Ek kan hom vir jou pienk paint as jy hom pienk gepaint wil hê.”

Pienk! dink Dixie. Die perfekte kleur. Nie vir die berg nie, maar vir Bliss and Beautiful. Sy sien prentjies in haar kop. Pragtige prentjies. As sy haar sin kry, raak Bliss and Beautiful nog ’n landmerk hier in Langstraat. Die Pienk Plek, dis hoe mense daarna sal verwys.

“Wil jy my help verf aan my plek?” Sy wys met haar kop na Bliss and Beautiful. “Ek betaal jou vir elke muur wat jy klaarmaak.”

Hy knik sy kop geesdriftig. “As jy daai plek geverf wil hê, sal ék hom vir jou verf. I’m your man. Ek het verf saam met my moedersmelk ingekry.”

Dixie kan maar net hoop dis nie waar nie – en dat hy nie te gereeld met sy neus in die verf betrap sal word om die walms in te asem nie.

“Dop jou sakke om,” vra sy.

Nee, sy vra nie, sy beveel, besef Dixie met ietwat van ’n skok.

“Vir wat?”

“Ek wil sien wat jy met jou saamdra. Jy vat nie steekgoed of skietgoed by my winkel in nie.”

“Ek steek nie en ek skiet nie, ek fight met my hande.”

Maar hy dop tog sy sakke om, wys vir haar die paar munte daarin, ’n opgefrommelde sakdoek en ’n plastieksakkie wat met ’n rekkie toegebind is.

“Wat is dit daardie?” wil sy weet.

“Dis my rookgoed, dis al wat ek oorhet.”

Dis nie rookgoed wat jy by die kafee op die hoek koop nie, weet Dixie. Wel, in elk geval nie wat jy openlik by die kafee op die hoek koop nie.

“Jy kan nie jou rookgoed invat nie. Ek soek nie moeilikheid met die polisie nie.”

“Is goed so. Hier is ’n ander outjie wat dit vir my sal hou. Ek vat dit gou vir hom.”

Dixie betrap haar dat sy bekommerd wonder of hy die outjie kan vertrou. Of hy nie ingeloop sal word met sy rookgoed nie, die laaste bietjie wat hy nog oorhet. Sy skud haar kop in ’n poging om nugter te dink. Sy moet régtig haar kop laat lees.

“Jy vertel nie vir die ander outjie jy werk vir my nie. Ek soek nie ’n aanloop hier na die winkel toe nie.”

Hy skud sy kop. “Niemand anders kom hier nie. Dis mý corner dié.”

“En jy dra niks weg uit die winkel nie.”

“Wat sal ek nou uit daardie plek wil wegdra?” Hy snorklag. “ ’n Paar haaipolfaais? Om wát mee te maak? Ek dink in elk geval nie hulle het my size nie.”

Dixie het die rakke vol haaipolfaais gesien toe sy haar koffie gedrink het. Waar Jo-Jo daaraan gekom het, kan sy net wonder. Heel moontlik is dit vir ’n vertoning in Artscape gebruik, vir iets waar ’n hoogskopdans soos die can-can gedans is.

“Dan het ons ’n deal?”

“Dis oukei met my. Ons het ’n deal.”

Daar kom meer lewe in hom as wat Dixie sou vermoed in daardie rankerige lyf skuil en hy vertrek om sy aardse skatte in veilige bewaring te laat.

Toe hy tien minute later aan die deur kom hamer, wil Coco hom wegjaag, maar Dixie keer haar. Sy druk die veiligheidsknoppie om die deur vir hom oop te maak.

“Wat soek hý hier?” wil Coco weet.

“Hy gaan my help. Ek wil hê ons moet die plek binne uitverf.”

“Maar hy’s ’n skollie!” herinner Coco haar.

“Ek’s niemand se skollie nie,” keer Slons dadelik.

Coco trek haar skouers op. “Oh well, whatever. As jy mý wallet steel, skop ek jou waar dit seermaak. Ek doen kick boxing, jy weet?”

“Wat sal daar in jou wallet wees wat ék wil hê? Lipstick en eye shadow? Ek is nie ’n cross dresser nie, jy weet?”

“Nee, maar oukei dan, dan’s dit fine met my.”

Dit raak ’n besonder besige middag. Met Coco wat tranerig afskeid neem van Piet en Griet Muis toe hulle in ’n hokkie daar weggedra word. En met die eerste amptelike meeting wat seker nog ooit in Bliss and Beautiful gehou is. Met Dixie as voorsitter, Coco as sekretaresse of so iets en Slons as ’n grootooglid van die nuut gestigte direksie.

“Bliss and Beautiful gaan nie meer net daar wees vir weirdos om ’n tiara vir die bruidegom en ’n paar stewels vir die bruid te huur nie,” kondig Dixie aan.

“Jy meen seker andersom,” brom Slons.

“Nee, Slons, ek bedoel presies wat ek sê,” help sy hom reg. “Maar dit gaan verander. Bliss and Beautiful moet ook daar wees vir doodnormale mense op soek na something old, something new, something borrowed, something blue. Maar niks gaan verniet wees nie, behalwe miskien vir die something borrowed.”

Coco lyk nie gelukkig nie. “En wat van die weirdos? Waarheen moet hulle nou gaan?”

“Hulle is nog steeds welkom hier by ons, Coco. Ons diskrimineer nie, ons help graag waar ons kan. Voor die voet.” Dixie sluk. Sy hoop nie sy steek haar kop in ’n byenes wat deur ’n hele swerm vreemdsoortige bye bewoon word nie.

Van nou af, besluit sy, gaan daar gewoel word hier in Langstraat. Die bestuur het so besluit en die bestuur sal toesien dat dit uitgevoer word. Daar gaan geverf en verander word, en na dese gaan daar van Bliss and Beautiful gewéét word. Sy’s moeg daarvan om met haar kop tussen haar skouers ingetrek soos ’n weggooiding onder die bed weg te kruip.

Gelukkig weet niemand hier in die Kaap van haar eie treurige troue of van enige van haar skandes en skades nie.

Toe Bliss and Beautiful se voordeur daardie aand gesluit is en dit stiller raak om haar, gaan sit Dixie kruisbeen op haar opblaasmatras met ’n boksie van die kolonel se hoender om aan te smul en ’n botteltjie wyn binne bereik. ’n Baie klein botteltjie wyn, maar darem ietsie om te sorg vir ’n bietjie feestelikheid.

Sy is alleen, sommer nou regtig stoksielalleen. Om haar hoor sy die geluide van Langstraat. Die musiek van die naglewe. Stemme, soms hard, soms gedemp. ’n Sagte gelag, ook ’n paar kragwoorde eie aan die Kaap.

En sy hoor iemand hoes, sommer hier naby onder haar venster. Rou, harde hoese soos ’n hond wat vir die volmaan blaf. Iemand, so vermoed sy, wat op straat slaap. Dalk nog Slons, of een van sy straatfamilie. Miskien, dink Dixie afgetrokke, kan ek ’n botteltjie hoesstroop koop en onder my onmiddellike bure uitdeel.

Sy hoor motors stilhou en wegtrek en sy weet as sy by die venster uitkyk, sal sy dinge in die straat sien afspeel wat haar heel moontlik sal skok. Dinge waarvan ’n mens nie wil weet nie, dinge waarvoor jy jou oë wil sluit.

Ek is tevrede om hier te wees, besef sy. Hier waar ek van die dinge van Langstraat weet, maar nie regtig deel is daarvan nie.

Sy leun terug teen die muur en vat-vat na haar handsak om haar sigarette uit te haal. Toe sy die pakkie raakvat, voel sy die bekende beklemming oor haar toesak. Die beklemming wat van ’n roker ’n psigopaat kan maak. Die teleurstelling, die angstigheid, die hunkering, die histerie wat dreig om van jou besit te neem.

Die pakkie is leeg!

Sy sit hier op haar eentjie-alleentjie in haar pajamas sonder sigarette. En dis donker daar buite. En gevaarlik. Sy wíl nie, sy gáán dit nie nou buite waag om ’n pakkie sigarette te gaan koop nie.

’n Oomblik lank oorweeg sy dit om haar kop by die venster uit te steek om ’n sigaret by een van die straatwandelaars in hul kort rokkies te bedel. Sy sal betaal, tienvoudig betaal net om ’n sigaret in die hande te kry. Net om die rook in haar longe te trek, die aroma in te asem, die heerlike verlamming deur haar ledemate te voel trek.

“Dêmmit!” kla sy teenoor die mure om haar. “Hier sit ek nou hoog en droog. My eie baas en Ma kan my nie sien nie, nie kla nie, nie verwyt nie, nie waarsku nie, my nie soos ’n stout kind laat voel nie. En ek het nie ’n flippen sigaret om te rook nie!” Sy gooi haar hande in die lug en wag – asof daar ’n antwoord op haar gemor moet wees. Maar die mure swyg, die mure het nie simpatie met haar kortsigtigheid nie. ’n Roker weet mos van beter as om sonder ’n sigaret gevang te word.

Dan trek sy skewebek vir haarself, frommel die leë pakkie op en smyt dit saam met die hoenderbene in die vullisdrommetjie wat sy van die winkel af woonstel toe gebring het. Na die duiwel daarmee, besluit sy. Wie’t nou ’n sigaret nodig? Ek is ontspanne genoeg.

Sy staan op en dans in die leë woonstel rond met haar arms wyd uitgesprei. Die vae stemme van die bergies onder in Langstraat is haar musiek. Hoekom nou nie? dink sy en gooi haar kop agtertoe. Hier is niemand wat my kan sien nie, niemand wat die manne met die wit jasse sal wil nader roep om my weg te neem nie. Ek kan dans tot my voete moeg gedans is. Totdat die geskree in my lyf stil geraak het. ’n Lyf wat vra na wat nie beskikbaar is nie. Iemand om lief te hê …

Toe die musiek in haar kop stil raak, sak sy op die opblaasmatras neer. Ek is nie eens bang nie, besef sy verbaas. Ek slaap hier in my amperse ivoortoring in Langstraat waar Die Berg oor my waak en ek is nie bang nie.

Sy voel beter as wat sy in maande gevoel het. As sy nie van beter geweet het nie, sou sy amper kon sê sy voel … wel, nie gelukkig nie. Natuurlik nie gelukkig nie. Niémand is deesdae meer werklik gelukkig nie. Net die arme stommerike wat hulle verbeel hulle is verlief, en hulle kom gou genoeg hul fout agter.

Maar ten minste voel sy nie so bitterbekkig soos gewoonlik nie. En sy voel gretig om haar eerste troue te reël, al weet sy nie werklik hoe nie. Hoe moeilik kan dit nou ook wees?

Troukoek maak nie vet nie

Подняться наверх