Читать книгу 'n Lipstiek-lewe - Kristel Loots - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk een

Teen tienuur die aand gee Roxy moed op – die Duitser gaan nie ’n tweede poging aanwend om haar in die bed te kry nie. Het natuurlik besluit sy is nie die moeite werd nie. Daar’s baie ander gewillige visse in die Kaapse see en sy wat Roxy is, is te veel van ’n piranha. Sy vakansie in Suid-Afrika is amper verby en ’n man moet skep terwyl dit pap reën, weet jy?

O, hy sal wel ’n verskoning hê wanneer sy die toergroep op die lughawe gaan wegsien en hulle mekaar noodwendig weer in die oë moet kyk.

Wat sal dit hierdie keer wees? Een van die standaardstories of dalk iets veel meer kreatief?

Wat van ’n virus? Hy’t die een of ander virus op die lyf geloop, een wat binne vier en twintig uur weer die wyk geneem het.

“ ’n Virus op die lyf geloop?” sal sy ewe sarkasties vra. “Wat was haar naam? Was sy blond?”

Sy kan raai wat sy antwoord sal wees. Nee, nee, dis nie so nie. Hy wou bel, maar hy’t Roxy se nommer verloor.

Maar hy het dit dan soos goud in sy selfoongeheue bewaar.

Die ... die hond het die selfoon ingesluk.

Bla, bla, bla ... Roxy ken elke verskoning in die boek, het dit al tot vervelens toe gehoor.

So sal hulle al in die rondte dans, ás sy natuurlik in ’n bui is vir ’n bekgeveg om hom ’n bietjie te laat sweet voordat sy hom loslaat. Hy sal wel weer teruggaan na die een of ander Duitse godinnetjie in München of Berlyn of waar sy haar ook al bevind.

Of sy kan haarself die ergernis spaar en sommer kortpad vat deur eenvoudig ’n streep deur sy naam te trek.

Waddehel ís die blikskottel se naam nou weer? Heinrich? Seker maar. Elke tweede Duitser wat sy ken, is ’n Heinrich. Nee, nou onthou sy – dis Dieter. Dieter een of ander iets. Blonde reus, Viking-lyf aan hom. Aantreklik genoeg, maar sy wou nogtans nie sy skoene onder haar bed hê nie. Sy het dit nie eens oorweeg nie – daarvoor was daar hopeloos te veel hare op sy hande. Sulke lang, wollerige goudblonde handhare. Jig!

Ja, sy weet. Haar uurglasie loop leeg, sy behoort seker nie so vreeslik kieskeurig te wees nie. Maar haar lyf het nog nie die boodskap gekry nie. Haar lyf het toegevou soos die blare van ’n koolkop die oomblik toe die Duitser haar met sy harige hande begin streel het. Buitendien – sy vermaak haar bloot met die buitelanders wat vir ’n week of wat ’n draai in die Kaap kom maak. Dis een van die byvoordele daarvan om vir Tafelberg Toeriste te werk. Noem dit ’n stokperdjie, noem dit navorsing, ’n ondersoek om vas te stel of dit waar is dat alle mans inherent dieselfde is – noem dit wat jy wil, sy gee nie om nie. Sy geniet dit.

Sy weet wat sy wil hê, wel ... so min of meer in elk geval. Sy soek ’n man met sy wortels hier in die land, een wat pantoffels sal dra en saans voor die televisie op die regering sal sit en vloek met ’n hond by sy voete. Nie iemand wat elke Oktober met ’n groot verlange in sy hart en ’n groter dors in sy keel die pad gaan vat om in sy vaderland fees te vier en bier te drink nie. Die Duitser was, soos soveel ander, sommer iemand om haar in oefening te hou omdat daar nie ’n geskikter kandidaat vir ’n verhouding op langer termyn beskikbaar was nie.

O wel, besluit sy gelate. Another one bites the dust.

Sy rol haar oë, al is daar niemand om dit te sien nie.

Sy wat Roxy Roux is, is veronderstel om ’n volbloed-flerrie te wees. Dis wat almal van haar sê. En nie net sê nie, glo ook! Haar vriendinne, die paar wat dit nog naby haar waag saam met hul skrikkerige mans of verloofdes, selfs haar suster en die ordentlike man met wie sy getroud is, al haar niggies wat haar ook nie naby hul simpele nat agter die ore kêreltjies wil loslaat nie, haar kollegas, die slagter, die bakker, die buurman en sy vrou en al húl vriende ook.

En natuurlik haar ma. Haar ma wil ’n hartaanval kry omdat sy nie haar hande van mans af kan hou nie, maar Roxy probeer om nie te bekommerd oor haar ma se hart en ander aanvalle te wees nie. As sy nou nog nie haar ma se hart tot stilstand geskok het met haar dinge nie, sal sy dit beswaarlik nou regkry vandat sy op die afdraande pad is.

Eintlik weet Roxy nie of sy moet lag of huil oor hierdie wanopvatting nie.

Sy’s nie ’n goeie meisie nie, dit weet sy. Lankal. Sy was nog nóóit ’n goeie meisie nie, nie eens op skool nie. Haar suster met die ordentlike man is een. Haar ma en al haar vervelige tannies ook.

Maar sy’s nie so seker van haar ouma nie. Daar kom so ’n warmtetjie om haar hart as sy aan Oumalot dink. Hoe sal dit met die ou girl gaan? wonder sy. Sy met haar Engelse spreekwoorde vir elke moontlike situasie in die lewe! Life is just a bowl of cherries; love is blind and don’t teach your grandmother to suck eggs. Deesdae ruik Oumalot na ou mens en smeersalf, maar Roxy wil wed daar was ’n tyd toe sy kon hoogskop saam met die beste, of die slegste, van die hoogskoppers.

Nie dat iemand daarvan sal weet nie. Nee, Oumalot se skandes, as daar was, sal verswyg word. Dit sal een van die dinge wees wat in die Pandora-boks weggesteek word, dig toegemaak onder dekade lange stiltes. Kyk, hulle Rouxs weet alles van geheime af, hulle hou geraamtes in ’n kas so groot soos ’n kamer, een waarvan die sleutel in die diepsee gegooi is. Hulle bly al ’n leeftyd lank in ’n huis vol geheime en weet om nie te gaan krap selfs waar dit jeuk nie. Dáárvan weet Roxy alles – het sy dan nie self mildelik bygedra tot die doodsbeendere van die verlede wat tussen die vier mure van haar ouerhuis opgegaar en met stilswye verberg word nie?

Roxy kreun hoorbaar. G’n wonder almal sien haar vir ’n flerrie aan nie. Die etiket hang nou wel nie openlik om haar nek nie, maar sy straal heel moontlik ’n aura uit wat dit verkondig dat sy nie edel van inbors is nie. Sy’s enige skoonma se nagmerrie, een van die vroue teen wie welmenende mammas hul seunskinders sal waarsku.

“Bly weg van ’n vroumens soos daardie, boetie. Een keer sleg, altyd sleg!” G’n wonder sy het geen kans om ’n ordentlike man te kry nie.

Wie wil in elk geval ’n ordentlike man hê? brom Roxy teenoor die mure om haar. Om wát mee te maak?

Iemand soos sy sal beswaarlik tuis voel by ’n ordentlike man. Sy sal settle vir enige man, veral as hy van honde hou. Ordentlik al dan nie.

Roxy wip soos sy skrik toe haar selfoon lui. Sowaar, as dit die Duitse swernoot is, gaan sy hom sy fortune vertel.

Maar dis toe nie die Duitse swernoot nie. Hy voel vere vir haar wat soos ’n opgewende hasie hier vir hom sit en wag in haar Queenspark-bloesie wat haar kredietkaart ernstige skade berokken het. Vir hom is sy nie eens ’n telefoonoproep werd nie. Hy’t finaal besluit om nie sy sjarme te verspil op ’n vroumens wat nie die naam flerrie werd is nie. Life is short en ’n man soos hy sukkel nie onnodig met vroue wat hulle soos koolkoppe gedra nie.

Dis Petra.

“Kan jy praat?” wil Petra dadelik weet toe Roxy antwoord.

“Al vandat ek sowat twee jaar oud is, ja.”

“Jy wéét dis nie wat ek bedoel nie. Is die man daar by jou? Kan hy hoor wat jy sê? Verstaan hy Afrikaans?”

“Van watter man praat jy nou, Petra?”

“Van die Duitser, natuurlik. Het jy nie gesê jy gaan vanaand saam met ’n Duitser uit nie? Ek was sommer nuuskierig om te hoor hoe dit gaan. Of ek vir my ’n outfit vir die troue moet kry.” Petra se stem sak laer. “Vertel vir my iets sappigs, man. Ek is lus vir drama en daar is niks op televisie nie.”

“Wat laat jou dink jy gaan hier by mý drama kry?”

Petra lag. “Jy’s ’n drama queen van die kroontjie van jou kop tot by jou pers toonnaels, sus. Waar jy is, slaan die simbale al om die ander minuut om ’n dramatiese oomblik aan te kondig. By jou is daar áltyd drama te vind.”

“Glad to be of service,” sê Roxy vies. “Maar jammer, vanaand is daar geen gratis vertoning hier by my op die planke nie. Ek sit hoog en droog soos ’n verbleikte ou vadoek wat in die son vergeet is. Jy sal maar op ’n ander kanaal moet inskakel. Die ou het nie opgedaag nie.”

“Wat bedoel jy? Het daar iets voorgeval?”

“Who knows? Hy’t niks laat weet nie.”

“Net weggebly? Dóén mans nog sulke dinge?”

“Ja, my liewe getroude suster met jou ordentlike man met die goeie maniere wat hy aan moedersknie geleer het, die on-be-ris-pe-li-ke maniere van ’n ware heer uit ’n era wat nie meer bestaan nie. Mans drop nog elke dag van hul lewe desperate vroue soos ek. Bly net weg of smyt jou eenkant toe soos gister se koerant.”

“En nou?”

“Nou sit ek hier soos ’n uil op ’n kluit, stoksielalleen op ’n Saterdagaand.”

“Is jy oukei?”

Roxy kreun innerlik. Die geklap van haar suster se engelvlerke irriteer haar soms heluit. “Nee, Petra, ek is in ’n toestand. Ek gaan enige oomblik my polse begin knaag en dan nog ’n oordosis dieetpille sluk ook.”

Maar sy moes van beter geweet het, sy moes geweet het Petra sal in die betroubare gesinsmotor spring en hierheen ry om kort daarna aan haar woonsteldeur te klop om te kom seker maak haar polse is nog heel ná haar hoeveelste liefdesteleurstelling hierdie week.

“Petra!” raas Roxy die oomblik toe sy haar suster deur die loergaatjie herken. “Wat maak jy hier? Is jy laf?” vra sy terwyl sy die deur ooppluk.

“Nee, man, net uitgekuier by my huis. En toe gee jy my ’n verskoning om ’n bietjie weg te kom daar.”

“Wát het jy vir Herman vertel? Dat ek op die rand van ’n ineenstorting staan en dit oorweeg om selfmoord te pleeg?”

Petra lag onverstoord. “Amper so iets, ja.” Sy haal haar selfoon uit. “Wag, ek moet gou vir hom laat weet dat ek veilig hier aangeland het, anders knaag hy sý polse.”

Roxy probeer om nie na die gesprek te luister nie, maar die woonstel is nie groot genoeg om heeltemal daarvan weg te kom nie. Dis ’n geskattie en geliefie asof die tweetjies pas getroud en nog in die koerstadium is, genoeg om enigiemand na ’n galpilletjie te laat gryp om die ergste soetigheid teë te werk.

“Dis tyd dat ek getroud kom sodat jy nie ’n verskoning sal hê om tydig en ontydig hier by my in te storm om my van myself te red nie,” sê Roxy toe Petra haar selfoon bêre. “Ek moet die eerste, die beste man wat verbykom en nie snags in ’n weerwolf met ’n stink asem verander nie, gryp en die beste van ’n slegte saak maak en klaarkry.”

Petra stik. “Jy’s laf!” keer sy. “Trou is nie perdekoop nie. Kies jy verkeerd, sleep jy die man lewenslank soos ’n sak nat sement met jou saam. Dis gewoonlik nie vroue nie, maar mans wat die spreekwoordelike old ball and chain is, ’n sware las waarvan jy nooit weer ontslae raak nie.”

En dít uit die mond van iemand wat so gelukkig is, sy sing soggens saam met die irriterende voëltjies wat douvoordag al aan die tjirp gaan in die bome voor haar netjiese voorstedelike huis! As iemand soos sý, wat so onwrikbaar aan die liefde glo, waarskuwings uitdeel, hoeveel hoop is daar vir Roxy? Roxy wat al ’n slag of wat deur die lewe – én die liefde – onder die alie geskop is?

“Ek is nie op soek na ’n total loser nie, Petra,” probeer sy haar bekommerde suster gerusstel. “Al wat ek wil sê, is dat hy nie vreeslik vlekkeloos hoef te wees nie. Eintlik verkies ek dat hy nie vreeslik vlekkeloos moet wees nie.”

“Nee, man, jy moet wag vir jou prins op sy wit perd.”

Petra is weer in volle hoofmeisie-mondering, die ene sustertjie sonskyn, vol geloof in die goeie. Ou Petratjie, vir wie die lewe nog net geglimlag het, het met haar watsenaam in die botter geval toe Herman haar om haar hand en haar hart en haar lyf gevra het. ’n Lyf wat vir hom twee kinders in net soveel jaar uitgeryg het en nog steeds al die ou kontoere behou het.

Verder behoort haar suster aan een van dáárdie boekklubs en lees sy elke maand ’n paar liefdesverhale, sommerso tussen die chaos deur wat die kinders in haar huis veroorsaak. Petra glo nog aan prinse op wit perde – Roxy hoop op iemand uit die gepeupel op ’n stewige donkie wat nie té steeks is nie.

Sy kan maar net goedig lag vir haar suster se naïwiteit en onvanpaste positiwiteit. “Ja, sure! Jy kan maklik praat van prinse op wit perde, Petra. Jy wat alles het wat ’n gewone vrou se hart kan begeer.”

Wel, byna alles, voeg sy in haar gedagtes by. Was dit nie vir die twee skreeubekkies wat so dan en wan Petra se lewe heeltemal omverwerp nie.

“Ek wil nie ’n prins op ’n wit perd naby my hê nie,” verseker sy haar suster. “Die kroonprinse van die samelewing wat ék ken, is in elk geval hopeloos te fynbesnaard na my smaak. Ook nie sterk genoeg nie. Hulle sal my nie opgeraap kan kry om op die perd se rug die horison tegemoet te galop nie.”

“Miskien ... as jy op ’n dieet gaan,” spot Petra.

Maar selfs al eet sy net al om die ander dag, gaan dit nog nie haar probleem oplos nie.

“Ek is nie die feëprinses-tipe nie en ’n prins op ’n wit perd sal nie van my een kan maak nie, al soen hy my ook totdat ek koorsblare op my lippe het. Ek verkies ’n doodgewone ou op die rug van ’n donkie of enige ander ding met vier pote en ’n stert. Lekker prakties en handig om swaar goed te dra en vullisblikke uit te sit.”

Petra verstaan nie; Petra is nie sý nie en Petra het veral nie die pad geloop wat háár tot hier gebring het nie.

“ ’n Prinslike man sal verwytend die Bybelversie oor vroue wat kosbaarder as korale behoort te wees aanhaal wanneer ek die rys laat aanbrand. Net om my onbekwaam en simpel te laat voel en op my plek te hou.”

“En dit gebeur so gereeld,” sug Petra. “Jy kan nie rys kook om jou lewe te red nie.”

“Ek kon ... eens op ’n tyd.”

Petra snork minagtend. “Waar? Wanneer? Nie waarvan ék weet nie.”

“In my vorige lewe, if you please.”

“En hoe, as ek mag vra, weet jy van jou vorige lewe?”

“Ek het ’n quiz gedoen.”

“Laat my raai – op Facebook?”

Roxy knik.

Teen dié tyd lag Petra openlik. “En volgens hierdie streng wetenskaplike metode is daar bevind dat jy wel rys kon kook sonder om dit te laat aanbrand?”

“Gedurende die Groot Depressie was ek ’n voorslag-huisvrou met vier kinders en ’n liefde vir kook en bak, getroud met ’n sukkelende boer. My grootste passie was om naaldwerk te doen en klere vir my hele gesin te maak.” Roxy aarsel. “Dit moes verskriklik gewees het. Vier uitgeteerde, honger snotneuskindertjies in kakie geklee om my voete en ’n boer wat na sweet ruik. Geen wonder ek probeer iets anders in hierdie lewe nie.”

Petra tik met haar wysvinger teen die kop. “Soms wonder ek oor jou.”

“Ek ook.” Roxy lag saam. “Wat ek in hierdie lewe nodig het, is ...”

“Nog ’n sukkelende boer op ’n plaas waar die brandsiek skape benoud blêr en smartlik in die kaalgevrete veld lê en vrek?”

Roxy kreun. “Eerder ’n sukkelende stedeling, asseblief tog. ’n Man wat ook soms verbrou. As die pot en die ketel ewe skeef en ewe swart is, kan dinge dalk net aan die kook gaan tussen hulle.”

Roxy weet sy is lankal nie meer die voorbeeldige huisvrou wat blykbaar in die dertigerjare in die Amerikaanse staat Oregon kosbaarder as korale was voordat sy ’n vroeë dood gesterf het nie. Sy ís inderdaad enige skoonma se nagmerrie. Sy weet sy soek moeilikheid met die geflirt en geflaunt waarmee sy die arme mans verwar. Maar dis flerries soos sý wat flerries ’n slegte naam sal gee. Want ’n flerrie wat tienuur op ’n Saterdagaand ewe kuis by die huis sit, is ’n flerrie met geknipte vlerkies.

All dressed up and nowhere to go, dink Roxy bitterbek toe sy verby die spieël stap. Opgedollie met die mooi nuwe toppie wat sy vir die naweek gekoop het aan die lyf. Vrek duur, maar ongelooflik mooi. Materiaal sag soos skoenlappervlerke onder jou vingers. Kwaliteit. Sal jare lank hou as dit met die hand gewas word, selfs wanneer kalerige toppies soos hierdie lankal uit die mode is.

Geskik vir ’n vrou soos sy. Dink sy ... Hoop sy ...

Of sy weet ook nie. Dalk ’n bietjie jonk. Mutton dressed as lamb. Dit span styf om haar lyf, beklemtoon haar rondings. Maar ’n ou ooi is sy darem ook nog lank nie. Miskien ... iets soos ’n tweetandskaap, waarvan die vleis nog nie te taai is nie. As sy dan nie meer vir ’n mak lammetjie kan deurgaan nie ...

“Ek het genoeg drama in my lewe,” probeer sy nog vir Petra verduidelik. “Ek wil net ’n boring boyfriend met ’n bril en ’n aktetassie hê. Dis al.”

“Dan gaan jy boring kinders met brille en aktetassies baar.”

“Jy weet ek wil nie kinders hê nie, nóg met nóg sonder brille en/of aktetassies. En veral wil ek hulle nie baar nie. Jig!”

“Ai, Roxy,” sug Petra. So asof sy die ouer suster is en Roxy haar protégé.

“Jy lyk besonder mooi vanaand,” troos sy. “Jessica Rabbit op haar beste.” Sy lag. “As Ma moet sien hoe peul jou bobaas-bazookas by daardie toppie van jou uit, sit sy die predikant op jou.”

“Ek soek nie ’n predikant op my nie. Veral nie as hy ordentlik is nie.”

Petra is darem meer gerusgestel oor Roxy se geestestoestand toe sy opstaan om te ry. Terug na haar voorstedelike huis met die lowergroen tuin en grasperke, ’n swembad met helderskoon water en haar vervelige voorstedelike lewe.

Roxy gaan sien haar by die deur weg voordat sy vir oulaas ’n draai voor die spieël gaan maak. Al is dit net om haarself te oortuig dat dit die dekselse Duitser se verlies is dat hy nie vanaand opgedaag het nie.

Hoekom sy vir die dekselse Duitser mooi wou lyk, weet die duiwel alleen. Hoekom het sy ’n duur toppie gaan koop, haar hare laat doen, haar lippe posbusrooi gemaak? Seker maar ’n kwessie van trots. Hy moes besef het wat hy misloop – omdat hy te veel hare op sy hande het en niks om daarvoor te vergoed nie. Hy moes teruggegaan het Duitsland toe met ’n effense onvergenoegdheid in hom omdat sy hom van haar lyf af weggehou het.

Dis lekker om die gulsigheid in ’n man se oë te sien, om vrou te wees. Dit laat jou glo daar is nog hoop, doer ver, voor in die stofpad. Jy het nog nie heeltemal verskrompel, opgedroog soos ’n verwelkte blom op ’n vergete graf nie.

Maar die sexy toppie met die fyn afgewerkte detail en die fraai veterbandjies kon maar in die kas bly hang het. Tot dusver, die hele bedroewende naweek lank, is dit nog net sy en die nuuskierige verkoopsvrou in die winkel wat haar cleavage gesien het. En nou darem ook Petra.

Die dêm Duitser, lid van die toergroep wat sy hierdie week namens Tafelberg Toeriste rondgeneem het, het sy avontuurlustige fynproewerslus elders geles gekry. Die soektog is nog nie verby nie. Sy’t nog nie vir Mister Right gekry nie. Of ten minste net iemand wat nie ’n ineengekrimpte koolkop van haar lyf maak nie.

Toe die laataandnuus op televisie begin, gee Roxy oor. Daar gaan nie vanaand iets gebeur wat haar lewe sal opkikker nie. Sy maak die knoop van haar jeans los en kreun van lekkerkry. Wát ’n verligting om van die stywe ding ontslae te raak sodat sy weer met gemak kan asemhaal! Sy stroop die ongenaakbare materiaal van haar lyf af en pluk sommer ook die mooi rooi toppie uit.

Kan ook maar my gesig gaan was, brom sy onderlangs, en in die bed klim. So alleen soos die armsalige Sneeuwitjie in haar glaskis voordat die rondreisende prins wat prinsesse van gewone meisietjies maak, gaaf genoeg was om haar wakker te soen. Sy wat Roxy is, gaan in elk geval nie vanaand gesoen word nie. Nie deur prins óf padda nie.

Dis ’n stryd om die ergste rooi van haar lippe af te kry. Haar lippe is later aan die tintel, maar nie van die soene wat sy veronderstel was om te kry nie. Dis ook maar oukei. Die Duitser se soene het nie veel vir haar gedoen nie.

Sy gooi haar nagrok oor haar kop. Nogal sexy genoeg, dink Roxy, effens spytig, toe sy weer verby die spieël loop. Lekker funky so met die oënskynlik onskuldige strikkie en die Jessica Rabbit-embleem op die bors. Hier sit ek nou in my maagdelike wit nagkabaaitjie, dink Roxy, stoksielalleen op ’n smeulende Saterdagaand en ek word nie jonger nie.

Toe slaan sy maar haar laptop oop. Net gou kyk of daar iets op Facebook aangaan. Sy hoef mos nie te antwoord nie. Al haar Facebook-vriende hoef nie te weet sy’t niks beters om op ’n Saterdagaand te doen as om te Facebook nie.

Haar vingers vlieg oudergewoonte oor die sleutelbord toe sy die bekende www.facebook.com intik. Sy tik haar persoonlike e-posadres in en toe die wagwoord wat haar na haar Facebook-blad moet vat: notbadjustdrawnthatway.

Niemand anders gebruik ooit my laptop nie, besef sy skielik. Ek kan netsowel die rekenaar vra om die ellelange notbadjustdrawnthatway as my wagwoord te onthou. Sy tik die toepaslike blokkie af sodat sy in die toekoms nie so lank hoef te wag om by Facebook in te gaan nie. Nou kan enigiemand, vriend óf vyand, natuurlik lees wat sy en haar Facebook-vriende op haar muur skryf, maar net as hulle toegang tot haar laptop het – wat nie gaan gebeur nie. Probleem opgelos!

Roxy lag sag. Sy sal nooit waag om dit op die werk se rekenaar te doen nie. Daar is notbadjustdrawnthatway die slot wat haar geheime vir haar kollegas en ander nuuskierige agies en rondsluipers toesluit.

Sy frons skielik. Miskien, as sy nou daaraan dink, is haar wagwoord nié so besonder veilig nie. Almal wat haar ken, weet van haar beheptheid met Jessica Rabbit. Dit verg seker nie rocket science om uit te werk wat die towerwoord is om haar e-pos en haar totale virtuele lewe oop te sluit nie. Dis tog die bekendste woorde wat uit Jessica Rabbit se tuitlippies gekom het: “I’m not bad, I’m just drawn that way.”

Sy moet seker haar wagwoord verander, so gou moontlik! Net nie vanaand nie.

Soos gewoonlik wag sy met ’n tikkie opwinding vir haar blad om af te laai. Dalk ... wie weet ... dalk is daar hierdie keer iemand wat haar op Facebook gesoek en opgespoor het. Wat van ’n ou studentevriend? Nee, nog beter – ’n geheime bewonderaar wat nooit die moed gehad het om haar te nader nie.

Ha! dink sy, vies vir haarself, en jy lag Petra uit omdat sý lugkastele bou! Nou goed dan, die beste waarop sy kan hoop, is iemand wat haar profielfoto raakgesien het en genoeg belangstel om vir haar ’n persoonlike e-pos te stuur. Iemand wat dink sy’s hot, haar Facebook-vriend wil wees en meer van haar wil weet. Maar vir wie sy nie alles van die verre verlede hoef te vertel nie. Iemand wat nooit sou kon raai dat sy, met haar glansrooi hare en smaraggroen oë, wat so hoopvol op haar profielfoto die wêreld in die oë kyk, ’n hele begraafplaas vol geraamtes in die kas het nie.

Dit sal beslis nie van haar skoolvriende kan wees nie, want almal uit haar grootworddorp weet dat daar ’n skande-stankie aan haar kleef. Daar is destyds baie oor haar gefluister. Dié wat nie geweet het waarom sy feitlik oornag uit die dorp verdwyn het nie, het om die teekoppies daaroor gewonder. En die praatjies wat daar uitgebroei het, was sappig genoeg. Net jammer ... die waarheid was nóg sappiger en sou die ore laat tuit het as dit uitgelek het.

Die jare het haar gelukkig geleer om realisties te wees. Sy weet die geluksgodin is lankal die dinges in vir haar. Sy sal nie maklik so ’n los gelukkie raakloop nie. Sy het eerder ’n kans om deur die weerlig doodgeslaan te word.

Daar is maklik tien nuwe posts op haar Facebook-muur geskryf, sien Roxy. Die meeste daarvan sowat vier uur gelede voordat selfs die bleeksiele, wat hul dae agter hul rekenaars deurbring, geshut-down het en die strate in is vir Saterdagaand se pret en plesier.

Nie almal is so pateties soos sy nie – niémand is so pateties soos sy nie.

Maar dis darem nie nét sy wat by die huis is nie. Haar dierbare sus het dit goedgedink om, nadat sy hier weg is, vir die virtuele wêreld te vertel waarmee sy haar besig hou. Ons sit hier soos die stokou getroudes wat ons is, het Petra skaars ’n kwartier gelede op haar muur geskryf, seker net nadat sy by die huis gekom het. Die kinders slaap uiteindelik en ons gaan nou ’n glasie rooiwyn drink en ’n video kyk. Rustig by die huis terwyl die res van julle seker die stad op horings neem.

Kla jy of spog jy? vra sy vir die profielfoto van Petra wat haar glimlaggend aanstaar.

Sy sien hulle so voor haar sit. Petra in haar gladde gimbroek wat soos ’n tweede vel om haar sexy agterstewe span en met ’n paar sokkies aan die voete. Seker met haar kop op Herman se skoot, so tevrede soos twee katte met room aan hul snorbaarde, krulstert-gelukkig toegegooi onder ’n kombers of ’n ding. En as hulle vaak raak, klim hulle eenvoudig in die bed, rol hulle teen mekaar en hou mekaar vas. Sommerso met sokkies en al as dit daarop aankom. Al wat die idilliese prentjie bederf, is die twee kinders wat in die kamer langsaan lê en slaap. Want hulle kan enige oomblik wakker word en aan die skree gaan.

Roxy skrik die tweede keer vanaand toe haar selfoon lui. Dié tyd van die aand? Wat? Wie? Moord en doodslag? Maar toe sien sy Zander se naam op die skermpie. Niks wat Zander Muller haar kan vertel, kan haar vreeslik ontstel nie. Behalwe as dit oor die trippie Amerika toe gaan ...

Eintlik irriteer hy haar meestal grensloos. Wil seker weer hê sy moet vir hom die een of ander gunsie bewys. Sy oorweeg dit om nie te antwoord nie, maar die Saterdag is so vrek vervelig dat sy tog maar die antwoordknoppie druk.

Sy hoor dadelik die geroesemoes op die agtergrond toe sy die foon teen haar oor hou. Daar word weer iewers gerinkink asof kuier uit die mode gaan!

“Haai, Zander, wat’s jou probleem?”

“Is dit nou ’n manier om ’n man te groet?”

“As dit jý is wat bel, ja.”

Sy hoor hom sug. “Waar’s jy? Kan ek na jou toe kom?”

“Dis amper elfuur.” Ag, aarde tog! Sy klink soos iemand se ma.

“So?” Sy hoor hom lag. “Verander jy in iets skrikwekkends as die klok twaalfuur slaan?”

Hy het dit nie ver mis nie. As sy vaak is, raak sy moerig. Wel, moeriger as gewoonlik, in elk geval.

“Ek is by die huis,” erken sy teësinnig.

“Wie’s by jou?”

Natuurlik verwag hy dat daar iemand by haar moet wees.

Roxy maak haar oë ’n oomblik lank toe. Sy is so moeg daarvan om voor te gee, om te probéér voorgee dat sy haar

flerrievlerke wyd oopsprei en elke aand ’n ander bedmaat het. “Ek is alleen, Zander.”

“O hel! Een van dáárdie aande. Watter arme ou het jy nóú weer gefrustreerd huis toe gestuur?”

Roxy weet sy moet tot tien tel, maar dis asof sy nie kan onthou hoe die getalle op mekaar volg nie. “Dit, Zander Muller, het niks met jou te doen nie.”

“Ek verstaan jou nie, weet jy, Roxy? Die ouens op kantoor vrek oor jou, maar niemand kry behoorlik vatplek aan jou nie.”

“Vatplek aan my is nie vir die ouens op kantoor beskore nie.”

“Maar jy flirt met almal!” kap hy terug.

“Ek hoor niemand daaroor kla nie.”

“Jy sal ook nie.”

Die gesprek begin Roxy verveel. “Wat pla jou, Zander? Praat dat ek hoor.”

“Ek wil nie oor die telefoon met jou daaroor praat nie. Kan ek gou daar na jou toe kom?”

“Ja, jong, kom tog maar,” gee sy in. Die aand was lank; selfs Zander se geselskap is beter as die vier mure wat haar so stilswyend omring. Zander is nie naastenby waarna sy op soek is nie, maar hy is ’n man en sy hou van mans. Sy hou van die aapstreke wat hulle uithaal om jou te beïndruk wanneer hulle jou in die bed wil kry. Sy geniet die mag van haar vrouwees terwyl sy nog kan.

Terwyl ek nog my eie tande het, dink Roxy toe sy opstaan om haar hare te borsel. En my lyf. Soort van. Sy streel met haar hande langs haar sye af. Sy’s effens oorgewig, sy weet. Maar dis net éffens. Sy sukkel haar vrek om die vyf kilogram wat sy die jaar aangesit het, te verloor, maar sy kan nie haar lewe on hold sit totdat dit gebeur nie. En buitendien, vet of te nie, hierdie lyf van haar is nie sommer enige lyf nie. Sy’t kurwes waar ander vroue knoppe het en eintlik, as sy nou eerlik moet wees, hang niks nog naastenby op haar knieë nie. Wulps, besluit Roxy. Dis wat ek is – wulps. Sag en sappig en veral wulps.

Dis ’n stryd om klere te kry wat bolangs pas, maar sy leef daarmee saam. Die duiwel alleen weet waar sy haar boobs vandaan kry – haar ma én die arme Petra is so plat soos pool-tafels. En Oumalot, arme Oumalot se tieties het heeltemal verdwyn.

Ek sweer ek is nie familie van hulle nie, dink Roxy die hoeveelste keer, maar sy skuif die gedagte dadelik opsy. Dis nie nou die regte tyd om die donker geheime van haar lewe te probeer ontrafel nie. Sy probeer jare lank al sin maak daaruit en het nog niks verder gevorder nie; daar sal nie nou skielik ’n openbaring kom wat al haar vrae beantwoord nie.

Sy moet seker nie so desperaat bly man soek nie. Dit kan nie juis ordentlik wees nie. Maar sy doen dit tog. Dis haar laaste stuiptrekkings voordat sy boedel oorgee en beige rokke by gemaklike skoene begin dra.

En haar lipstiek in die vullisblik gooi.

Eintlik moes sy mans seker lankal afgesweer het. Met die nodige melodrama wat daarmee saamgaan. Sy behoort so bang te wees vir al wat man is dat sy nie eens alleen saam met een in dieselfde vertrek wil wees nie, maar Roxy het duidelik nog nie haar les geleer nie.

Vra haar ma – sý sal vir jou sê. Roxy is ’n grootmens, maar sy gedra haar nie soos een nie. Roxy wil nie hoor nie en die laaste stukkie hoop in haar wil nie sterf nie, maak nie saak hóé dit van alle kante af gesmoor word nie.

Wat Petra sê, is natuurlik waar. Mans is gevaarlik, maar sy wil desnieteenstaande en overgesetsynde nogtans tóg een van haar eie hê, asseblief en baie dankie.

Dalk hou ek maar net daarvan om gevaarlik te leef! daag sy die verwytende meubels en die stilswyende mure om haar uit om haar teë te gaan. Dis hoekom ek ingestem het dat Zander kan kom kuier. Of hy nou stewig op sy pote is of nie.

Roxy sluk. Het sy die krag om ’n halfbesope man met amoreuse gedagtes om middernag van haar lyf af te hou?

Wil sy?

Natuurlik wil sy. Zander Muller is seker maklik vyf, ses jaar jonger as sy. Liewe hemel! Sy is dalk ’n flerrie, maar dis nog nie te sê sy’s ’n tert nie. Ook nie ’n kuikendief nie.

Sy moes nie vir hom die kode vir die veiligheidshek gegee het nie. As haar bure weet hoe los haar lippe is, daag hulle haar voor die body corp. Ja, sý wat die poorte oopgooi vir enigiemand wat om middernag hier wil kom ronddwaal.

Wat weet sy in elk geval van Zander Muller? Mooi man wat hy is in sy Hugo Boss-pakke en blink skoene wanneer hy die Japannese sakemanne, wat die Kaap wil sien voordat hulle terugvlieg Japan toe, vir ’n “meet and greet” inwag. Hy’t hom nou onlangs maar eers by hulle aangesluit. Regte lyfwegsteker, as sy kan glo wat sy sien. Kansvatter. Keer gewoonlik eers teen huistoegaantyd terug as hy ’n kliënt vir middagete uitgeneem het, werk hom nie dood nie.

Sy ook nie. Sy self slaag skaars deesdae daarin om nuwe kliënte in te bring, sit ook maar meestal net agter haar rekenaar en Free Cell en Zuma speel. Wag op beter dae vir die firma, maar doen ook nie veel om dit te bewerkstellig nie.

En dan hoop sy nog heimlik om New York toe gestuur te word vir ’n freebie ...

Al wat sy regtig van Zander Muller weet, is dat hy met ’n sportmotortjie rondry wat hy beslis nie met sy Tafelberg Toeriste-salaris kan bekostig nie, iets waaroor daar al baie in die kafeteria geskinder is.

En dat sy nie sal omgee om vir ’n spin in daardie stukkie skitterblink staal te gaan nie ...

'n Lipstiek-lewe

Подняться наверх