Читать книгу 'n Lipstiek-lewe - Kristel Loots - Страница 7

Оглавление

Hoofstuk drie

Dis vroegoggend toe hulle op die plaas kom waar daar ’n naweek lank aan hul persoonlikhede gewerk en geskaaf gaan word dat die splinters spat. Roxy is nie in die beste van buie nie. Sy weet nie of sy so inskiklik is vir ’n gewerskaf aan haar persoonlikheid nie. Sy’s nie ’n toonbeeld van vroulike sjarme nie, sy weet, maar sy wil ook nie een van ’n hele spul klone wees wat alles in gelid doen nie.

Ook Zander het nie vanoggend veel te sê nie. Om die waarheid te sê, hy lyk bra bleek om die kiewe, soos iemand wat gisteraand gefuif het asof hy nie gou weer die kans daarvoor gaan kry nie.

Hy kyk skielik oor haar skouer en Roxy sien hoe hy verder verbleek. “Hier kom His Highness nou,” fluister hy.

Roxy swaai om. Die man wat nader gestap kom, is in lewende lywe heelwat meer intimiderend as sy televisiebeeld. Groot en donker, met ruie wenkbroue en die filmsterkuiltjie in sy ken. Nie meer bloedjonk nie, grys stippeltjies in sy hare, maar op die oog af macho genoeg om ’n leeu te verskeur as dit sou nodig raak.

Wat op aarde het geword van die Camel-man? wonder Roxy met ’n tikkie nostalgie toe Zander se pa voor hulle tot stilstand kom. Daardie avontuurlustige ou met sy opgerolde moue en bruingebrande arms wat in elke koerant en tydskrif met ’n sigaret tussen die vingers gesien kon word. Hy’s natuurlik na die buitenste duisternis verban vandat rook uit die mode geraak het en het saam met sigaret-advertensies van die toneel af verdwyn.

En toe ... vandag duik hy weer in al sy sondige heerlikheid en glorie in die gedaante van Adam Muller hier voor haar op. Ru en manlik par excellence! Dit verwar haar omdat hy nie naastenby is wat sy verwag het nie.

’n Skrywer, veral een wat hom oor lewenskunsies uitlaat, is veronderstel om innerlik sterk te wees – nie om ’n Camel-man-lyf hier rond te gooi nie. So ’n tipiese pennelekker met sagte handjies wat meestal op die sleutelbord rus en papperige spiere.

“Pa!” groet Zander senuweeagtig. Vir Roxy klink hy soos ’n hond wat ver gehardloop het en benoud na asem hyg.

“Middag, ou seun,” groet die man van faam.

Gaan hulle mekaar die hand gee? wonder Roxy. Of ’n drukkie? Of wat?

Maar hulle raak nie aan mekaar nie. Adam Muller draai hom skuins na haar toe. “Goeiemiddag, juffrou,” groet hy, so formeel soos ’n diaken op huisbesoek.

Dis of Zander weer sy spraak terugkry. “Laat ek julle voorstel,” sê hy. “Dis nou ... dis nou Adam Muller dié, Roxy.” Die familiariteit is blykbaar iets van die verlede. “En dis Roxy Roux. Ons is ... Ons werk saam. Sy is ...” Zander bloos soos ’n skoolseun.

Van verwerping weet Roxy genoeg. Van nie goed genoeg wees nie ook. Daarom haak sy besitlik by Zander in. “Ek en Zander was in ’n vorige lewe by die heup aan mekaar geheg,” sê sy en lig haar kop uitdagend in Adam Muller se rigting. Laat doktor Muller dan maar dink sy en Zander deel ’n lewe, ’n bed, selfs ’n toekoms as dít is wat hy nodig het om sy seun as mens uit eie reg te sien. Hulle kan die misverstand later weer regstel wanneer hy sy les geleer het.

Roxy is nie ’n petieterige ou meisietjie nie, maar haar hand verdwyn in Adam Muller se bruingebrande beerklou toe dit warm en sterk en stewig om hare vou. Sy voel skielik klein en fyn – wat sy nie werklik is nie.

“Aangename kennis, Roxy.” Sy stem is gouestroop, nee, heuning, melasse, iets ryks en soets en helends, so strelend. Iets wat ’n seerkeel sal streel, ’n gebroke hart sal genees – of van voor af sal laat breek. Ja, sy kan haar goed voorstel dat hierdie man mense sal opsweep om vlerke te groei en te probeer vlieg, sonder om bang te wees dat hulle hulle des dinges sal val. Of ... dat hy jou aan die slaap sal sus met sy pratery.

Wel, sy sal wag om te sien. Intussen flits sy instinktief haar flerrieglimlag. Dan sluk sy dit in. Kophou, Roxy, spreek sy haarself ernstig aan. Dit is nie ’n man om mee te flirt hierdie nie. Hierdie verskynsel is ’n ghoeroe, ’n leermeester en bowenal – ’n pa! Zander Muller se pa!

Vergeet van die feit dat hy die macho lyf en ruwe gesig van ’n Camel-man het. Dis in elk geval net bakvissies wat nog oor Camel-mans aan die swymel gaan. Sy’s hopeloos te lank in die tand daarvoor. As-se-blief! Hier staan en hartkloppings kry oor ’n ... wel, oor ’n oom van amper vyf en veertig as sy Zander reg verstaan het. Hoe kinderagtig kan ’n mens tog wees!

Dis net dat haar beheptheid met die vrekselse Camel-man soveel verder strek as die gewone hormoongedrewe belustigheid wat so ’n breëbors-toonbeeld van manlikheid gewoonlik ontketen. Vir haar verteenwoordig die Camel-man meer as net ’n fantasie van ’n oormaat testosteroon wat van jou dubbel vróú sal maak.

’n Man wat rook, hou ’n leeftyd lank al vir haar ’n vreemde bekoring in, selfs voordat Piet Swart met sy Peter Stuyvesant in haar lewe gekom het. Dis vreemd. Haar pa het nooit gerook nie, nie waarvan sy weet nie. Of hy nou begin het, noudat hy ’n nuwe lewe het wat heeltemal van sy oue verskil, weet sy nie.

Want ’n man wat jy ’n leeftyd lank geken het, kan binne ’n paar weke heeltemal verander. Dit het sy met haar eie oë gesien toe haar pa ’n tweede asem gekry het en vir hom jongmansklere en aanglipskoene aangeskaf het.

“Mans wat sulke skoene dra, het ’n skelmpie of iets on the side,” het Oumalot dáárdie tyd al kwytgeraak. Profetes wat sy is, sien mos moeilikheid aankom as dit nog nie eens om die hoek verskyn nie.

“Hoekom sê Oumalot so?” wou Roxy weet, want sy kan nou eenmaal nie haar ouma se gesegdes en die twyfelagtige wyshede wat sy so maklik kwytraak, laat verbygaan sonder om die oorsprong daarvan te probeer naspoor nie.

“Dink vir jouself, kind. Dis vir vinnig aantrek en pad vat wanneer hy moet.”

“Ouma!” het sy geskok uitgeroep.

Dit was haar pa van wie hulle gepraat het! ’n Bykans gestorwe lojaliteit teenoor hom het haar aangevuur om Oumalot tot orde te roep. Net jammer die ou lady se voorspellings was nie heeltemal verkeerd nie. Daar wás ’n goeie rede waarom haar pa nie meer soos ’n pa begin lyk het nie – en sy het oranjerooi hare en skerp naels in dieselfde kleur gehad.

Sy wonder of Piet Swart nog rook. Seker maar. Hy sal nie kanker daarvan kry nie. Die duiwel kyk na sy eie. En sy hart kan ook niks oorkom nie, want hy hét nie ’n hart nie, het nog nooit een gehad nie. Dalk het sy eers aan die skelm sigarette wat hy haar laat rook het, verslaaf geraak – en toe aan hom.

Die verdomde pakkie sigarette in sy sak, die bewing van sy adamsappel, alles aan hom wat verbode was, het so ’n sterk aantrekkingskrag vir haar ingehou dat dit vir haar onmoontlik was om terug te draai toe sy begin besef het hoe gevaarlik die spel was wat sy gespeel het.

“Jong, jy weet ek kan in groot moeilikheid beland as ons uitgevang word, nè?” het hy gereeld gewaarsku, maar sy was nie bang daarvoor nie. Dit was die gevaar wat dit so opwindend gemaak het om by hom te wees. Die gevaar en soveel meer wat sy nog nie geken het nie en net by hom kon kry.

Die reuk van rook sal altyd vir haar die reuk van sonde wees – van skuld, van verval, van verlore onskuld, van liefde, van lus, van verlies. Maar ook van ongekende opwinding.

Daar is sekere herinneringe waarvan sy nooit ontslae sal raak nie. Piet Swart het haar van soveel meer as haar onskuld ontneem en tog sou sy gewillig gewees het om vir hom soveel meer te gee as hy daarvoor sou vra.

Roxy skud haar kop. Dis die allerlaaste beeld wat sy nóú in haar kop wil toelaat, mag toelaat. Hier en nou met Zander se pa in sy Camel-man-gewaad hier voor haar.

Hý sal natuurlik nie rook nie. Wesens soos daardie het nie ’n kruk nodig om deur die lewe te gaan nie. Nee, hulle is van die soort wat sterk staan as die lewe hulle druk en vir ander mense vertel om dit ook te doen. Voorwaarts mars en carpe diem en aanhouer wen en al daardie mooiklinkende clichés wat ’n mens op skool leer.

Eintlik haat sy Camel-manne, hul onweerstaanbare aantrekkingskrag ten spyt. Juis omdat hulle so ’n groot voorsprong het bo ander gewone mans, die mans op wie haar teiken ingestel is.

Doodgewone mans ... wat van honde hou.

“Roxy?” Daar is ’n vraende klank in die groot man voor haar se stem. “Is jy oukei?”

Sy skrik op, sien dat haar hand nog in Adam Muller s’n rus. Heeltemal onnodig. Teen hierdie tyd moes die handdruk lankal verby gewees het. Sy ruk haar hand uit syne. “Ek is jammer. Dis net dat daar iets so bekend aan jou is.”

Hy lag sorgeloos. “Dit gebeur dikwels. Mense wat by my verbyloop, stol in hul spore en wil weet hoe dit met my gaan. Dis maklik genoeg verklaarbaar. Jy het heel moontlik my foto op een van my boeke of in ’n boekwinkel gesien en daarom kom ek vir jou bekend voor.”

Sy oë lag in hare en die hoeke van sy mond plooi.

Zander lyk nou wel dalk nie na sy pa nie, maar dat hulle al twee dodelik aantreklik is, is nie altemit nie. Wat dít betref, val die appel nie ver van die boom af nie.

“Seker, ja,” stem sy saam.

Nie alleen pryk dié man se gesig die afgelope jaar in tydskrifte en koerante se sosiale en boekeblaaie nie, elke aanbieder van watter TV-joernaalprogram ook al het reeds onderhoude met hom gevoer. Maar niks kon haar voorberei op die ware Jakob nie. Ook kan sy nie heeltemal ontslae raak van die gevoel van déjà-vu as sy na hom kyk nie.

Dis totaal belaglik, kranksinnig ook, maar daar is iets aan Adam Muller wat haar met ’n intense verlange vul. Sy het hierdie onverklaarbare begeerte om op sy skoot te sit. Sy wil haar arms om sy nek slaan en haar neus teen sy keel hou. Sy wil hom ruik – sy wil róók aan hom ruik. In hom wil sy die Camel-man ervaar soos hy op die advertensies in haar kindertyd gelyk het.

Wat makeer haar? Is dít wat ’n gebrek aan seks aan ’n mens doen? Raak jy heeltemal van jou trollie af sodat hulle jou later in ’n padded room moet opsluit? Sy’s nie ’n sielkundige nie, maar sy kan sweer dit gaan oor meer as die herinnering aan Piet Swart wat soos ’n gat in haar borskas voel. Daar pluk iets anders aan haar geheue – ’n vae beeld, miskien eerder ’n emosie, ’n herinnering van ’n samesyn, ’n aangename samesyn met ’n man soos hierdie.

’n Man met ’n adamsappel wat vir niks skrik nie, rou gesigslyne wat van ure in die son getuig, ’n breë borskas waaruit ’n stem kan bulder wat die dode sal wek. En ’n pakkie sigarette in sy sak. ’n Man by wie sy veilig gevoel het, ’n man wat sy liefgehad het. Iewers in ’n vorige lewe ...

Flip! Het sy nou heeltemal weird geword of wat? Haar ma ontbied sowaar die predikant om met haar te kom praat as sy haar nou hoor. Wat haar ma betref, is mense wat aan reïnkarnasie en sulke vreemde goed glo heeltemal van die pad af en heimlik het Roxy tot dusver nog altyd met haar saamgestem.

“Hoe gaan dit met jou, Zander?” wil Adam by sy seun weet.

“Goed dankie, Pa.”

Roxy is intens bewus van die styfheid tussen die twee Muller-mans voor haar. Kyk, hulle Rouxs is allesbehalwe ’n gelukkige gesinnetjie. Daar is soveel verbode onderwerpe en geheime in die Pandora-boks waaraan nooit geraak word nie dat daar ’n biblioteek se boeke daaroor geskryf kan word. Maar selfs sy en haar ma het meer om oor te gesels as hierdie twee mansmense.

“En by die huis?” vra Zander ná ’n ongemaklike stiltetjie.

Sy sien hoe Adam se gesig versag, hoe die lagplooitjies om sy oë kreukel. “Jy weet mos,” sê hy en wys met die duim in die lug. “Elke dag iets nuuts, elke dag ’n flentertjie vreugde wat nie die vorige dag daar was nie.”

Wat op aarde sou dit wees wat Adam Muller soveel vreugde by die huis besorg? wonder Roxy nuuskierig. ’n Vrou? Gewoonlik is dit net ’n vrou wat ’n man tot soveel geesdrif kan aanwakker. Sou dit sowaar nog Zander se ma wees wat ná meer as vyf en twintig jaar ’n blinkigheid in sy oë bring? Dan is die tyd van wonderwerke nog nie verby nie, dan is daar nog een, enkele huwelik wat die toets van die tyd deurstaan het.

Maar waarom gaan kuier Zander dan nie meer gereeld by die huis nie? Of ontmoet hy en sy ma mekaar dalk iewers waar sy pa nie teenwoordig is nie?

Nee, sy twyfel of alles so eenvoudig is. Daarvoor is die atmosfeer tussen hierdie twee te gelaai.

Sy sien hoe intens Adam Muller na haar kyk, so asof hy onder haar klere wil insien. Maar dis nie om die gewone redes waarom mans probeer om onder ’n mens se klere in te sien nie. Nee, hierdie man kyk nóg dieper, dieper as veldiep. Wil seker sien hoe haar binneste lyk.

Nie ’n goeie plan nie – haar binneste is ’n warboel van emosies. As hy met sy x-straal-oë tot daar kan sien, sal hy summier besluit sy het hierdie naweek dringend nodig om haarself uit te pluis en is heel moontlik nie die vrou of meisie wat hy naby sy seun wil hê nie.

Wel, hy hoef nie bekommerd te wees nie – sy is nie werklik deel van Zander se lewe nie, al klou hy ook nou aan haar asof hulle twee ertjies in ’n peul is. Of hul oëverblindery hierdie man voor haar gaan flous, weet Roxy nie en sy is nie besonder gretig om dit vas te stel nie.

Pa en seun gesels nog ’n paar oomblikke sukkelend met mekaar. Small talk, soos Zander voorspel het. Oor die ekonomie en die winter wat besonder koud was. Roxy meng haar nie in nie. Daar sal hierdie naweek nog genoeg tyd wees om na Adam Muller se toffiesoete stem te luister. Nou wil sy net onder sy donker en deurdringende oë uitkom. Sy probeer nog haar kop gedraai kry vir hierdie naweek waar daar van hulle verwag gaan word om allerhande aapstreke uit te haal.

“Dit gaan oor persoonlike groei,” moes hulle hoor toe Lawrence hulle probeer oortuig het om minder dikbek te wees daaroor. “Om jouself en jou eie verborge krag en potensiaal te ontdek sodat jy meer dinamies kan wees en die verlede agter jou kan laat.” As Lawrence se opkikkerpraatjie ’n voorspelling was van wat dié naweek op hulle wag, wil Roxy sommer nou al weghardloop. As sy net kon! Maar nou staan sy saam met die res van Tafelberg Toeriste se werknemers hier soos lammers ter slagte, ewe gedwee en gehoorsaam om bepreek en vervorm te word soos dit die life coaches wat op hulle losgelaat gaan word, behaag. Soos klei in hul hande, dink Roxy opstandig. Want sy het al kleipotte gesien wat deur sogenaamde kunstenaars geskep is wat taamlik skeef en krom daar uitgesien het. Om te veel aan die oorspronklike vorm van enigiets te karring, stuur maklik op ’n breekspul af.

Gelukkig kan Zander se pa nie lank met hulle gesels nie, daarvoor is hy te veel in aanvraag. Iemand wink hom nader en hy vra dadelik om verskoon te word. Toe Zander van verligting sug, sluit Roxy haar laggend by hom aan.

“Sien jy wat ek bedoel?” vra hy.

Sy knik. “Die man het ’n persoonlikheid aan hom wat vir niks en niemand skrik nie.”

“Hy maak my lam.”

Vir my ook, dink Roxy, maar sy is feitlik seker haar lammigheid is iets anders as die soort wat Zander ondervind. Adam Muller sal enige vrou se knieë lam maak, al is hy ook amper oud genoeg om haar pa te wees.

Zander lyk asof hy ’n moeilike matriekeksamenvraestel geskryf het. “Sjot! Nou kan ek doen met ’n stywe dop!” kondig hy dan ook aan en kry haar aan die elmboog beet. “Kom saam. Ek het ’n slukdingetjie in my tas in my rondawel.”

“Jou rondawel? Weet jy dan in watter rondawel jy gaan slaap?”

Hy knik. “Inside information, weet jy?” Hy trek haar aan haar arm agter hom aan. “Kom nou!” sê hy ongeduldig.

“Saam na jou rondawel toe? Hoe veilig is dit?”

“In dié omstandighede doodveilig. Met my pa in die omgewing is my koerasie moer toe.”

Hoe kry sy pa dit reg om Zander emosioneel so te kastreer? Roxy voel ’n krieweling in haar nek. Sy haat dit as ouers hul kinders so verkleineer dat hulle nooit ’n gesonde selfbeeld kan ontwikkel nie. Wanneer Zander op sy eie is, is hy haantjie genoeg, maar hy foeter holderstebolder van sy stellasie af wanneer sy pa op die toneel is.

Dis so tipies, dink Roxy wrang. ’n Dokter se kind is altyd siek, ’n predikant s’n stout en ’n life coach s’n het terapie nodig omdat sy grootkop pa hom klein laat voel.

Zander het sowaar ’n bottel Jack Daniel’s tussen sy klere in sy tas. Iewers langs die pad moes hy al ’n versterkinkie nodig gehad het, want daar is reeds ’n paar vingers lank uit die bottel gedrink. Hy haal twee plastiekglase uit en skink vir hulle elkeen ’n stywe dop. Roxy vat dit by hom. Sy wil haar glas lig, die een of ander heildronk instel oor die naweek wat voorlê, maar Zander kan duidelik nie daarvoor wag nie. Hy lig sy glas en sluk so dorstig soos ’n kameel daaraan.

Roxy teug ook aan haar amberkleurige drankie. Of altans, sy probeer. Uit samehorigheid met Zander wat so ongemaklik is met die situasie wat op hom afgedwing is. Maar haar kiewe trek saam en haar tone kramp. “Ek is jammer,” sê sy en sit die glas op die tafeltjie in die middel van die vertrek neer. “Ek hou nie van whiskey nie.”

Dis sag gestel. Alles in haar, elke vesel in haar lyf, kom in opstand teen die houterige smaak daarvan. Dis nie die eerste keer dat sy dit probeer afsluk nie, maar gee haar eerder ’n goeie dosis kasterolie as om ’n glas van hierdie lawaaiwater te moet indwing.

“Ek het niks anders hier nie,” sê Zander, ewe boetvaardig.

“Natuurlik nie. Dit maak nie saak nie. Ek is seker daarvan hulle sal ons nou-nou kos gee.”

“En drank, hoop ek. Ons gaan Bacchus se bystand dringend nodig hê om hierdie naweek te oorleef.” Zander gryp na haar glas en gooi die inhoud daarvan ook in sy keel af. Dié man ly aan ’n nadors of haar naam is nie Roxy Roux nie. Zander Muller is ’n man wat van sy drank hou, dalk meer as wat vir hom goed is. Dit bekommer Roxy. Hy sal hierdie naweek paraat moet wees as hy sy pa wil oortuig dat hy nie ’n paar preke nodig het nie.

“Miskien moet ons ons by die ander gaan aansluit,” stel sy voor, skielik effens senuweeagtig om so hier saam met hom te wees met die rondawel se deur agter hulle toegetrek. So asof hulle kwaad doen, amper soos skoolkinders wat in hul pa se drankkabinet gevaar het. En heel moontlik vasgetrek gaan word ... Sy wil tog nie op die rooi tapyt beland nie, nie voor daardie indringende donker oë wat dwarsdeur ’n mens kyk nie.

Zander voel blykbaar beter, kalmer en meer ontspanne, want hy stem met haar saam. Hy bêre die bottel weer tussen sy klere en sluit die rondawel agter hulle.

Die res van Tafelberg Toeriste se werknemers staan nog in ’n kringetjie en gesels toe hulle buite kom. Genevieve se skerp stemmetjie styg bo die ander uit. “Oe, ek is só opgewonde oor die naweek!” sê sy geesdriftig. “Daar is nog soveel onontginde potensiaal in my wat ontsluit kan word. Vandat my man my verneuk het, het ek ’n deksel op en Adam Muller gaan my help om daardie deksel te lig soos hy dit in Wees jouself – net beter beskryf.”

“Het jy die boek gelees, Genevieve?” vra Zander surerig. Sy slaan haar hande saam. “Elke liewe sin daarvan. Dis fantasties.”

Roxy kreun innerlik. Daar gaan baie aan mekaar gevát word dié naweek, sy weet sommer. Dit gaan ’n heen-en-weer-omhelsery en drukkery afgee en sy kan amper wed hulle sal mekaar moet verseker hoe lief hulle mekaar het.

I love you!

I love you too!

Dis nie die eerste selfhelpnaweek waarheen sy gedwing word om te gaan nie. Nie dat dit van my ’n beter mens gemaak het nie, dink sy opstandig. Ek is maar nog soos ek is. ’n Rondfladderende flerrie met effens verflenterde vlerke wat niks verder kom nie. En ek is beslis nie skielik vir almal lief wat saam met my ’n naweek in afsondering deurbring nie. Sy sug. Sy weet sommer sy gaan weer ’n ernstige probleem hê met die I love you-deel van die naweek.

“Blykbaar kry ’n mens ’n nuwe insig in jou psige ná so ’n kursus,” laat Marlene ook hoor. “En leer jy hoe om die mooi tussen al die lelik uit te haal.”

Roxy kyk omgekrap na haar. Marlene is een van daardie irriterende mense wat elke dag tegemoetjubel. Mense soos sy heg altyd waarde aan naweke soos dié. Maar wat Roxy betref, is dit ’n vermorsing van tyd.

Sy het al voorheen gehoor ’n mens moet power-pakkies werk toe dra en ’n mantra in jou kop hoor wat jou verseker jy kán en sál jou doel bereik, no matter what! Sy hét dit al op die proef gestel – hoeveel keer. Haar power-pakkies is al verslete gedra en sy kan die mantra in haar slaap opsê, maar sy verdien nog nie genoeg om Tafelberg Toeriste vaarwel toe te roep nie. In fact – sy het nog nie eens naastenby haar teikengewig bereik nie, al die foefies ten spyt.

Sy oorweeg dit om ’n splinternuwe mantra haar eie te maak: na die duiwel daarmee!

“Ek het ook baie geleer uit my vorige ondervinding met hierdie tipe ding,” laat sy moedswillig hoor.

“Regtig?” Marlene kyk haar verras aan. “Ons het al begin dink jy staan totaal skepties en sinies teenoor die hele gedagte.” Sy lag, effens senuweeagtig. Marlene is nie ’n vegter nie. Sy bring soggens blomme uit haar tuin om die kantoor op te kikker.

“Wel ...” Roxy huiwer. “Ek het geleer ’n mens moet ’n spanbounaweek nooit te ver van ’n hospitaal af reël nie.”

“Wat bedoel jy?” Daar is sowaar ’n krakie in Marlene se stem.

Roxy voel effens skuldig. Dis soos om ’n kind se lekkergoed by hom af te vat, maar sy weet waarvan sy praat. “Al wat die meeste ouens hier van ’n buiteluglewe af weet, is wat ons op ons eie toerismepamflette lees. Daar is altyd die een of ander ou wat sy kantoorlyf wil dwing om streke uit te haal waarvoor hy nie geprogrammeer is nie. Ek het al gesien wat gebeur as ’n ou van vyftig wat dertig sigarette per dag rook en hyg-hyg die trap in die kantoorgebou klim, probeer byhou by ’n twintigplusser wat elke aand ná werk gim toe gaan.”

Maar sy is in die minderheid met haar gemor. Niemand wil na haar doemprofesie luister nie.

“Speak for yourself. Ek skrik nie vir ’n bosberaad nie,” verseker Wouter haar en steek sy bors uit.

Ja, jou lummel, dink Roxy heimlik. Ons almal weet waarom jy so graag bosberaad hou. Want bosse is dig en bosse bewaar geheime wat jou duur te staan kan kom as dit uitlek na buite.

“Met die ekonomie wat op sy rug lê, kan ons doen met ’n bietjie positiewe denke,” tjirp Marlene ook nog vrolik voort.

Kan wees, maar Roxy omhels nie normaalweg positiewe denke nie.

Toe die eerste aktiwiteit van die dag oor die luidsprekers aangekondig word, word Roxy se ergste vrese bewaarheid. Sy begin wonder of sy ooit lewend hier gaan uitkom om daaroor op haar blog te skryf.

“Maar dis malligheid!” mor sy hardop, min gepla oor wie haar hoor. “Dis suiwer malligheid.”

“Hulle noem dit ’n ysbreker,” hyg Genevieve opgewonde.

“Klink eerder vir my na ’n nekbreker,” kla Roxy.

“Of ’n rugbreker,” laat hoor nog iemand wat na haar kant toe begin oorhel. “In elk geval ’n manier om te verseker dat jy die res van jou dae in ’n rolstoel sal deurbring.”

Dis nie dat Roxy nie ’n spanspeler wil wees nie, maar as spanwerk van haar vra om te bungee jump, is dit om die grense te ver te verskuif.

Sy’s juis nie een vir hoogtes nie. Om haar op asemrowende hoogtes te bevind en dan soos ’n mal mens daar af te duiwel, was nog nooit deel van haar vyf-of tien-jaar-plan nie.

Om van ’n brug by ’n afgrond af te spring? Met ’n rek om die bene ... die dieptes in? Dit maak mos nie sin nie. Jammer, maar sy sien nie kans nie. Sy’s nie mal nie.

“Ek het gedink teen hierdie tyd sit ons rustig langs die rivier met ’n bordjie kos en ’n glasie wyn voor ons,” merk sy teenoor Zander op wat deur dit alles aan haar sy bly. Sy ruik sy peperment-asem en begin amper wens sy het haar ook maar vol woema uit ’n bottel gelaai. Miskien sou sy dan eerder kans gesien het vir wat voorlê.

“Ons is hier om te ly, my liewe Roxy, nie om die lewe te geniet of te ontspan nie.”

“Kan wees, maar om darem by ’n brug af te spring op ’n nugter maag en voordat ons mooi weet wat ons getref het?”

“Dis blykbaar beter vir die spysvertering – en vir die omstanders – om dit op ’n nugter maag te doen.” En wat, wonder Roxy, van hom wat sy innerlike versterk het lank voordat die Boeing oor is?

“So leer die kursusgangers mekaar sommer dadelik ken. Hulle weet dadelik wie’s bang Jan ...”

“En wie’s dooi Jan,” voltooi sy die voorspelling, want sy weet sommer dis haar voorland.

“Daarna is almal meer ontspanne, die hele naweek deur.”

“Sê wie?”

“Sê die organiseerders. My pa en sy trawante.”

Roxy is nie so seker daarvan nie. Hoe ontspanne kan ’n mens wees as jy een van jou ledemate reg aan die begin van die kursus breek of verstuit? Of die een of ander onnoembare skande oorkom omdat jou gestel nie wil saamspeel nie?

“En weet die kursusaanbieders sommer ook wie die meeste selfverbetering nodig het.” Roxy haat die gedagte, want sy’s allermins gereed vir wat van haar verwag word.

“Ons word by die diepkant ingegooi,” verduidelik Zander nog. “Ná hierdie sprong in die duister kan jy glo alles hanteer wat na jou kant toe kom.”

“Maar is dit nou regtig nodig om dit letterlik op te neem en ons werklik by die diep kant af te gooi?” Roxy wíl nie so moeilik wees nie; sy stry met alle mag teen die feeks en die furie in haar. Maar sy wil haar ook nie des dinges gaan staan en val nie.

“Wees bly dis nie by Bloukrans wat ons moet afspring nie,” merk Wouter uit die bondel op. “Dis die hoogste bungee jump in die wêreld. Ek is verlede jaar daar af. Dáár duik ’n ou behoorlik in jou verlede in.”

Maar Roxy wil nie na Wouter se gespog oor sy vorige rekspronge luister nie. Sy draai na Zander toe. Sy hou hom persoonlik verantwoordelik vir die penarie waarin sy haar bevind. Van haar word daar verwag om iets te doen wat lynreg teen haar grein gaan.

“Wat noem hulle hierdie plek waar ons gaan afspring?”

Hy trek haar eenkant toe en praat sagter, meer intiem, asof hy nie wil hê almal moet hom hoor nie. “Dooimanskloof. Dis waar die plaas sy naam vandaan gekry het.”

Hy fluister nou wel, maar hy sê dit sommerso, besef Roxy. So terloops asof daar niks snaaks aan is om by ’n plek af te spring wat bekend staan as Dooimanskloof nie. Sy weet sy moenie uitvra nie, maar sy kan die versoeking nie weerstaan nie.

“Waar kom die naam vandaan, Zander?”

“Jong, die kloof het ’n lang en grusame geskiedenis. Die grond behoort al geslagte lank aan my ma se familie – en die ou lotjie word behoorlik deur die ongeluk gery.” Hy sug. “Blykbaar dra my ma se mense almal maniese depressie in hul gene saam.”

“En jy?” kan sy nie help om te vra nie.

“Ek het dit blykbaar oorgeslaan. Altans, ek hoop so. Tot dusver het ek geen begeerte gehad om by Dooimanskloof af te neuk nie.”

“Wil jy dan vir my sê iemand is wel met opset daar af?”

Hy knik besadig. “Dis blykbaar ’n patroon wat elke paar jaar gevolg word.”

“En toe besluit iemand om juis by Dooimanskloof ’n bungee-stasie op te rig. Hoekom? Om die noodlot te tart?”

“Nee. Om ’n alternatief daar te stel vir iemand wat dalk die gier kry om sy of haar kanse teen die swaartekragwet te meet. Die een of ander sielkundige het dit aanbeveel. Die idee is om dit minder ’verbode’ te maak om daar af te spring. Terselfdertyd ervaar die rekspringer die dramatiese ’high’ van ’n verbeelde voëlvlug, en wel só dat hy of sy weer op die voete kan land om dit anderdag maar net weer te doen.”

Sy móés eintlik die memo oor hierdie naweek gelees het toe dit in haar inbox beland het, dink Roxy. Dan kon sy die plek se naam gegoogle het sodat sy sou weet wat hier op haar wag.

“My ma kom nooit meer op die plaas nie,” vertel Zander nog. “En hier word lankal nie meer geboer nie. Die plaashuis en omringende skure en stalle se vensters en deure is toegespyker. Met al die spoke van die verlede daarin weggebêre. Daarna is die konferensiegeriewe aangebou. Van die beste, alles wat nodig is. My pa het iemand aangestel om die bestuur by hom oor te neem en die verhuring van die plek te behartig. Jaco Nel. Hy is my pa se persoonlike assistent en doen sommer ook die besprekings en reëlings vir al sy optredes. Jy sal hom later ontmoet. Dis hý wat, in samewerking met my pa, die program vir die naweek opgestel het en hulle het besluit hierdie selfhelp-seminare moet met ’n bungee jump afskop.”

“Dit was ’n simpel besluit,” brom Roxy.

“Jy slaan die bal ver mis,” help Zander haar reg. “Jaco Nel neem nie simpel besluite nie. Hy is ’n blink Stefaans. Hy doen alles reg. Hy is baie meer my pa se seun as ek. Selfs my ma was tevrede toe hy dinge hier op Dooimanskloof oorneem.”

Sy ma? Snaaks, hy’t nie dieselfde bitter trek om die mond wanneer hy van sy ma praat nie. Afgesien daarvan dat sy glo ook nie ’n ma se dinges was nie. Roxy verstaan dit goed. Nie alle vroue word met ’n moederinstink gebore nie. Daarvan weet sy meer as genoeg.

“Jy sê die plaas het eers aan jou oupa en ouma behoort?” vis sy.

“Dis al geslagte lank in die familie.”

“Maar hulle leef nie meer nie?”

Hy skud sy kop. “Lankal nie meer nie.”

“Ek hoop nie een van hulle het ook by Dooimanskloof afgedonder nie.” Sy probeer ’n grap daarvan maak, maar sy skrik toe sy sien hoe Zander haar aangluur.

“Dís iets waaroor ons nie graag praat nie, Roxy.”

Geraamtes in die kas, sy weet alles van geraamtes in die kas af.

“Hoekom het ek nog nooit van dié plek gehoor nie? Hoekom is dit nie vir die algemene publiek toeganklik nie?”

“Seker maar om iets van die magic van die omgewing te behou.”

Die magic? Vir haar klink dit nie besonder magical nie, eerder spooky.

“Dis net vir konferensiegangers beskikbaar, seker net om ’n punt te bewys.”

“Dat die aanbieders mal is, ja.”

Zander haal sy skouers op. “Seker maar om vertrapping te voorkom.”

“En nie die dooies in die kloof in hul rus te steur nie?”

“Amper so iets, ja.”

Roxy onderdruk met moeite die rilling wat teen haar ruggraat afgaan.

Kort daarna blaas Jaco Nel ewe vernaam op sy fluitjie om hulle nader te roep. Soos ’n spul kinders op ’n somerkamp, dink Roxy vies.

“Goeiemiddag, dames en here,” word hulle gegroet. “My naam is Jaco Nel en ek is die sameroeper vir hierdie naweek. As julle enige probleme het, moenie huiwer om dit onder my aandag te bring nie. Ek volg ’n oopdeurbeleid tydens hierdie kursusse.”

“Ag, asseblief,” fluister Roxy uit die hoek van haar mond. “Een van dáárdie ouens. Die soetseun-tipe wat nooit ’n voetjie verkeerd sit nie. Teacher’s pet.”

Sy het dit nie verkeerd nie. Zander ook nie. Jaco Nel doen alles net mooi reg. Heet hulle welkom, verduidelik die uitleg van die plaas so min of meer, selfs waar die hoofattraksie van Dooimanskloof geleë is – die bungee-stasie waarheen hulle nou haas op pad is. Die rondawels is glo lukraak deur die huishoudster ingedeel. Die hele idee is dat vriende en vriendinne nie noodwendig ’n rondawel sal deel nie. Spanwerk bestaan daaruit om met al jou spanlede oor die weg te kom en om ’n rondawel ’n naweek lank te deel, bied uitstekende oefening.

“Daarom, dames en here, het ons ook nie onderskeid tussen die geslagte getref nie. Daar is twee slaapvertrekke in elke rondawel, een vir die mans en die ander vir die dames. Soos met enige professionele werkprojek, moet mans en vroue mekaar op gelyke voet as medewerkers leer ken en respekteer.”

“Dit beteken ’n saamslapery is uit,” laat hoor Wouter vanuit sy hoek.

“Aangesien ons almal volwassenes is, word reëls soos daardie nie eens uitgespel nie,” sê Jaco. Tog is dit maar net te duidelik dat dit presies is wat hy impliseer.

“Dis nie asof ons soos volwassenes behandel word nie,” fluister Roxy vertroulik in Zander se rigting toe die hoofman oor honderd die draagbare mikrofoon vir Adam Muller aangee.

“Ek hoop julle geniet die naweek,” laat hy in sy bulderende stem hoor, seker al klaar besig om sy positiewe denke op hulle oor te dra.

“Ek twyfel.” Dis uit voordat sy kan keer. Roxy kreun innerlik. Wat ís dit tog met haar dat sy nie weet wanneer om haar mening vir haarself te hou nie?

“O ja?” Hy kyk haar direk aan en sy ruie wenkbroue lig. “Hoe dan so?”

“ ’n Naweek wat met ’n bungee jump begin, beloof niks goeds nie.” Sy probeer lag om die steek uit haar woorde te neem, maar dit kom as ’n senuweeagtige gegiggel uit.

“Die meeste mense geniet die sprong vreeslik,” verseker hy haar.

“Hoogtes het nog nooit vir my ’n aantrekkingskrag ingehou nie,” verseker sy hom. “Hulle is daar vir ape en ander primate wat van klim en klouter hou. Ons, wat intussen geleer het om orent te loop, behoort hulle te alle tye te vermy.”

“Dan moet jy seker maak dat jy die vrywaringsvorm onderteken voordat jy die krans klim, hoor.”

Sy verbeel haar nie – hy lag haar uit. Vervlakste, aanmatigende man. Hy sal haar hierdie naweek niks kan leer wat sy wil hoor nie. Sy’t baie wat sy vir hom wil sê, maar sy weet sommer sy gaan tweede kom hier.

“Die lys vir die onderskeie rondawels is teen die boom daar anderkant aangebring,” verduidelik hy. “Julle kan daar gaan kyk waarheen om jul bagasie te neem. Julle het ’n halfuur voordat ons mekaar weer hier ontmoet.” Die man klink soos ’n sammajoor – of ’n onderwyser op sy stukke. “As julle ’n draai wil loop of jul testamente in orde wil kry, is dit nou die tyd daarvoor.”

Ha, ha, groot grap en ’n hele paar van Tafelberg Toeriste se werknemers lag dan ook ewe gehoorsaam daarvoor. Maar nie Roxy nie. Vir haar is dit nie snaaks nie.

Buitendien is sy heeltemal verkeerd aangetrek vir rekspringery en om aan haar voete oor ’n afgrond te hang. Haar sigeunerromp sal soos die blare van ’n helse groot blom oor haar vrugbare heupe val as sy onderstebo aan ’n rek hang. Sy kan haar net indink watter skokkende prentjie dit gaan afgee. As sy ooit orent kom en op haar voete beland, sal sy in elk geval te skaam wees om weer haar gesig in die openbaar te wys.

Alles in haar kom in opstand teen hierdie ding wat op haar afgedwing word. Sy voel soos sy laas op skool gevoel het toe sy gereeld vir ’n chicken uitgeskel is. Ou Roxy was ’n bangbroek, dit moes sy gereeld hoor. Ha! dink sy soms met ’n tikkie leedvermaak. En toe waag die chicken wat niemand anders sou waag nie. Toe foeter die chicken soos ’n afkophoender in waar engele versigtig sou wees om ’n kleintoontjie neer te sit. Sy’t oortree op ’n gebied wat deur haar tydgenote nog net versigtig verken is. Sy was die voorbok, sý van wie dit die minste verwag is.

Ja, sug sy innerlik, en toe beland sy ook met haar gesig in die modder. Wys jou! Roxy Roux is nie daarvoor gemaak om te veel te waag nie. Elke keer dat sy gevaarlik leef, verloor sy.

Sy soek haar naam op die lys. Rondawel nommer drie en dertig, sien sy en begin dadelik haar bagasie soontoe sleep.

Toe sy nader stap, besef sy dis dieselfde rondawel waarheen sy en Zander vroeër weggeglip het.

“Deel ons dan ’n rondawel?” wil sy weet toe sy sien hy staan haar voor die deur en inwag. “Hoe het jy dít bewimpel?”

Hy lag, stoot die deur oop. “Ek het iets in die huishoudster se hand gestop. Ek en ou Ellen ken mekaar al lank. Sy’t eers vir my ouma-hulle gewerk toe hulle nog hier geboer het en my feitlik grootgemaak.”

“En wat dink jy gaan jou pa sê as hy hiervan hoor?”

“Kom ons hoop hy sien dit as ondernemingsgees van my kant af en laat dit daar. Buitendien, niemand kan iets bewys nie en Ellen sal nie praat nie.”

“Wie slaap nog hier?”

“Niemand anders nie. Dit sou alles bederf. Ons wil alleen wees.”

“Izzit?” Sy kyk hom vraend aan.

“Maar natuurlik, Roxy, moenie vir jou heilig hou nie.”

Sy hou nie hiervan nie. Dis een ding om aan Zander te hang om iets aan sy pa te bewys, maar om ’n rondawel met hom te deel, ook snags so naby mekaar te wees met niemand anders in die omgewing om hulle van mekaar se lywe af weg te hou nie, is dalk om dit te ver te dryf. Veral omdat Zander nie huiwer om sy voornemens met haar duidelik te maak nie en sy nie seker is of sy daarby wil inval nie.

Zander Muller wil nie met ’n verhouding begin nie en om op hom verlief te raak is glad nie in die sterre nie, maar dit lyk nie of hy probleme met ’n oornagplesiertjie sal hê nie.

Maar dis nie nou die tyd om vir haar eer te keer nie. Sy moet uit haar sigeunerromp kom en iets meer gepas vir ’n omdoppery aan haar bas kry, én haar tyd is beperk. Sy gaan by die eerste, die beste slaapgedeelte in en skop die deur agter haar toe. Sy en Zander sal later praat, want daar sal sekere reëls moet geld terwyl hulle so knus hier saam is. Sy’s taamlik hard up, dis waar, maar darem nog nie so dat sy haar bed wil deel met elke Jaap en sy maat wat met omkoopgeld in die huishoudster se hand ’n saamslapery bewerkstellig nie. Hoeveel was sy werd? wonder Roxy. ’n Vyftigrandnoot? ’n Rapsie meer? Min genoeg sodat dit ’n bargain bly?

Sy krap woes deur haar tas totdat sy ’n skibroek raakgevat kry. Eintlik het sy die ding gekoop om gim toe te gaan, maar sy het nog nie sover gekom nie. Sy haat dit om gim toe te gaan, maar sy hou daarvan om gimklere te dra wat van rekmateriaal gemaak is.

Soos dinge nou staan, sien sy beslis nie kans vir noupassende jeans aan haar lyf nie. Sy sal al die asem nodig hê wat sy kan bemeester as sy die volgende ure wil oorleef en om deur haar klere geknyp te word, gaan dinge bemoeilik. Gelukkig kry sy ’n stewige bra onder in die tas en trek dit in aller yl aan. Sy’t ’n idee daar gaan heelwat gebons word vandag en met haar bates kan dit nogal iets afgee wat die oë laat rek. Sy wil beslis nie meer aandag trek as wat nodig is nie. Nie terwyl die moontlikheid om ’n gek van haarself te maak alreeds so groot is nie.

Dêmmit, sy raak heeltemal duiselig as sy op ’n tweetrapleertjie staan om by die boonste rak in haar kombuis uit te kom. Hoe gaan sy ...? Roxy sluit haar gedagtes af, te bang om verder te dink. Miskien, as sy gelukkig is, breek die rek voordat dit haar beurt is. Verkieslik met Jaco Nel aan die onderpunt daarvan. Omdat die hele ding sý idee is. Of so nie wanneer Adam Muller oor die afgrond tuimel. Omdat hy die lewe vir sy seun so moeilik maak. En vir haar.

Sy is nogal verbaas om te sien Adam klim ook in die bussie wat hulle na Dooimans-bliksemse-kloof toe vat. Sy’t aangeneem hy sal iewers op ’n stoep gaan sit, drankie in die een hand en verkyker in die ander, en hom daarin verlekker hoe hulle die een ná die ander met vreesvervulde oë na benede tuimel. Maar blykbaar wil hy naby genoeg wees om die angskrete te hoor. Ellendige sadis!

Daar is ’n klammigheid in die lug toe hulle by die brug uit die bussie klim. Asof die dood met kilkoue vingers aan haar nek vat, dink Roxy en ril. Die gelag en gesels om haar suis in haar ore. Dit klink soos ’n partytjie nadat die derde bottel wyn oopgemaak is, maar Roxy vermoed dis om die histerie in toom te hou. Sy weet hoe sý voel – asof sy aan die gil wil gaan dat die kranse antwoord gee. Ons sal lewe, ons sal sterwe ... ons vir jou, Tafelberg Toeriste!

Wouter storm op haar af en kry haar om die nek beet.

“Gee my ’n soen, Roxy!” beveel hy.

“Vir wat? Verjaar jy?”

“Nee, man, om koebaai te sê. Wie weet? Jy kry dalk nooit weer die kans nie.”

Sy stoot hom weg. “Moenie vir jou simpel hou nie, man.”

“Oukei.” Hy stap weg. “Maar jy gaan spyt wees as ek my flenters val en jy het my nie behoorlik gegroet nie.”

“Solank dit net jý is wat jou flenters val en nie ek nie.”

Maar Wouter voel vere vir haar vrese. Hy stap van vrou tot vrou vir sy afskeidsoen. Hy wink ook vir Zander nader. “Kom, Zander, my maat, kom groet die meisies.” Zander laat hom nie twee keer nooi nie, sien Roxy. Ook hy soen links en regs onder die tuitlippe wat na hom toe uitgehou word. Almal doen mee, maar Roxy is nie lus vir die speletjie nie. Sy’s ’n regte ou pretbederwer, sy weet, maar sy kan nie daarin slaag om haar breinselle af te skakel nie.

Roxy kyk na die brug voor hulle, ’n brug waar sy moet oor. Of altans, ’n brug wat sy tot in die helfte moet oorsteek en dan kop eerste ondertoe moet duik.

“Dis malligheid!” prewel sy weer eens, maar niemand hoor haar nie. Of steur hulle aan haar nie. Regte ouvrou met ’n blikbroek – dís wat sy is, sy weet.

Die res van die geselskap is nou eers luidrugtig, so opgewonde soos kleuterskoolkinders op ’n uitstappie na ’n mallemeule.

Adrenalien-junkies wat hul kicks daaruit kry om gevaarliker as sy te leef. Maar toe hulle oor die brug begin stap, daal daar tog ’n stiltetjie oor almal om haar neer. Dis hoog! Dis dêm hoog van hier bo af ondertoe! Roxy kyk op haar voete, want sy weet as sy nou hier afkyk, gaan sy in haar spore omdraai en niemand haar keer nie. Haar hart klop soos ’n trom waarop ’n woedende dwelmverslaafde sy frustrasie uithaal.

’n Maer outjie wag hulle by ’n halfwegstasie in. “Môre, môre, mense!” groet hy, vrolik soos ’n predikant by ’n kerkbasaar. “En toe, hoe voel die senuwees? Is dit nie ’n lieflike dag vir bungee nie?” Gelukkig wag hy nie vir ’n antwoord nie, want Roxy is seker daarvan hy wil nie hoor wat sy te sê het nie. “Ek is jul jump master,” stel hy homself voor. “Hier by my is die harnasse wat jul lewens moet red as daar dalk fout kom.”

“Fout kom? Soos wat?” Roxy besef skaars dat dit sy is wat die vraag vra.

“Soos dat die rek dalk snap. Of altans, dis wat die ander ouens vir my sê. Ek weet nie veel daarvan af nie, dis my eerste dag op die job.” Hy skaterlag vir sy eie grap. “Maar dit kan seker nie so moeilik wees nie, of hoe?”

Roxy gluur hom aan. Dis nie nou die tyd vir flou grappies soos daardie nie. Of altans, sy hoop van harte die mannetjie wat lyk of hy jare laas ’n ordentlike bord kos agter die blad het, is nie ernstig nie. Mag hy ten minste weet hoe om hulle behoorlik in te gordel sodat daar ’n kans bestaan dat hulle weer boontoe gehys kan word. Al is hulle ook halfdood en bewusteloos.

Sy staan agter in die ry, gee eers kans dat die ander geharnas word. Sy’s nie haastig nie. Dalk gebeur daar ’n wonderwerk sodat sy nie hoef te spring nie, hoop sy nog steeds. Iets soos ’n aardbewing wat die brug inmekaar sal laat vou. Of ’n ontploffing wat die brug die lug in blaas ...

Hoe wonderlik so ’n wonderwerk in werklikheid sal wees, weet sy nie, maar sy kan aan geen ander uitweg dink wat die verwikkelinge sal keer nie.

“Moenie bekommerd wees nie,” praat die agbare jump master haar moed in toe sy nie langer kan uitstel nie en nader staan sodat hy haar kan ingord. “Die moontlikheid van dood is uiters skraal.”

“Skraal?” Roxy sluk hoorbaar. Hoeveel keer in ’n mens se leeftyd kry jy ’n beurt om dood te gaan? Weet die bliksem ooit dat daar nie ’n kleedrepetisie vir doodgaan is nie?

Hy beduie met die vingers, laat ’n effense opening tussen sy duim en sy wysvinger. “Skraal,” herhaal hy en stap weg.

Hy wink hulle nader en beduie dat hulle hom moet volg. Die platform waarvandaan hulle gaan spring, is onder die brug gebou en hulle moet ’n ent ver op ’n loopvlak soontoe stap. In gelid, soos veroordeeldes wat tereggestel gaan word, dink Roxy.

“Dead man walking,” merk iemand op.

Roxy gee ’n paar onseker treetjies. Sy wens almal wil net hul monde hou en nie so hard probeer om snaaks te wees nie. Sy weet dis ’n manier om die senuwees te kalmeer sodat hulle nie heeltemal uitfreak en sommer vroegtydig van die brug afduiwel nie, maar sy wil dit nie hoor nie. Zander stol skielik in sy spore voor haar en sy loop teen sy rug vas. Dit lei tot ’n kettingbotsing sodat Roxy tussen twee manslywe vasgedruk word. Sy kyk oor haar skouer ... teen Adam Muller se gesig vas. Great! Sy het tussen die twee Muller-mans beland.

Wat soek die blikskottel hier? Reg agter haar van alle plekke? So asof hy wil seker maak dat sy spring, al is dit ook haar dood tegemoet? Roxy sug. Vir haar kan daar nie meer omdraaikans wees nie.

Skielik tref ’n gedagte haar. Sou hulle dieselfde dikte en sterkte rek vir almal gebruik? Groot en klein? Vet en maer? Sy draai haar gesig na agter. “Gaan hulle jou vra hoeveel jy weeg?” wil sy by Adam weet.

Sy gaan lieg. Sowaar, sy sweer sy gaan nie voor almal hier uitblaker hoeveel sy weeg nie. En dan gaan sy hoop ... en bid ... dat sy nie dik genoeg is vir ’n dubbele rek nie, dat die rek wat hulle aan haar gaan vasmaak, haar gewig sal hou.

Mag ’n mens bid as jy jou willens en wetens aan soveel gevaar blootstel? wonder sy. En dan nog oor jou gewig lieg ook? Dit klink alte veel soos om van ’n dak af te spring – en dan te verwag die engele moet jou van ’n sagte landing verseker.

“Hulle toets eers of die rek jou gewig sal hou,” stel Adam haar gerus.

“Toets? Hoe?”

“Laat jou eers net ’n paar meter na onder sak ...”

“Maar ...”

Dit maak mos hoegenaamd geen sin nie. Roxy ruk haar kop op. Skielik het almal in hansworse verander. Groot grap! Sy kan maar net hoop hulle word nie die een ná die ander geweeg voordat die rekke aan hulle vasgemaak word nie. Dat dinge hier nie so professioneel gedoen word nie, dat daar ’n kans gewaag sal word, dat die noodlot uitgedaag sal word. One size fits all. Eerder val as om haar gewig uitgebasuin te kry.

Sy kyk om haar. Daar is wragtig nie ’n enkele vrou hier wat meer as sestig kilogram weeg nie. Buiten sy, natuurlik. Sy kan nie eens onthou wanneer laas sy iets in die sestig geweeg het nie. Seker toe sy nog kniekouse en drade aan haar tande gedra het.

Toe hulle op die platform tot stilstand kom, is dit die eerste ding wat sy raaksien. Die skaal wat met ’n groot elektroniese gesig haar spottend staan en inwag. Kom nader, ou vettie, kom laat ons sien hoeveel ton weeg jy. Kom ons amuseer die omstanders ’n bietjie. Kom ons slaan jou naam met ’n plank!

Ag, goeie hemel tog, hoe kom sy hier weg met haar selfbeeld ongeskonde? Niemand, net mooi niemand, weet hoeveel sy weeg nie. Nie eens Petra nie en baie beslis nie haar ma nie. Vir Oumalot sal sy sê, maar Oumalot weet van beter as om haar te vra. By die huis hou sy haar skaal in die badkamer en sy maak altyd seker dat die deur toegesluit is voordat sy dit waag om daarop te klim. Selfs al is sy alleen by die huis. As ’n inbreker skielik op haar afkom, moet hy haar nie poedelkaal op die skaal aantref nie.

Sy’s nie vet nie, sy weet. Dis net daardie hardnekkige, moedswillige vyf kilogram wat al die verskil maak.

Die res van die geselskap steur hulle min aan die skaal. Vir hulle is die reksprong die grootste gevaar, maar Roxy kan in hierdie stadium nie werklik tussen die twee euwels besluit nie. Die meisies wat, soos sy verwag het, op die meeste sewe en sestig en ’n halwe kilogram weeg, gaan giggel-giggel deur die proses en die mans probeer met brute krag die skaal soveel moontlik opsweep. Dis net sy wat op die agtergrond huiwer, wat voorgee om ’n klippie uit haar skoen te haal en die veters opnuut deur te ryg terwyl sy haar beurt afwag.

Totdat sy nie anders kán nie.

Daar is niemand meer in die omgewing toe sy opklim nie, net die maer mannetjie met die klapbord in sy hand. “Klim, skattebol,” moedig hy aan. “Ons wil spring voordat die son ondergaan.”

Sy klim op. Sy hou letterlik haar asem op. Blaas dit dan stadig uit ingeval dit haar swaarder sal laat weeg. “Een en sewentig!” roep die moedswillige mannetjie uit en skryf die getal langs haar naam neer.

Een ... een en sewentig! Roxy wil sterf van skaamte. Sy sweer daar’s fout met hul skaal. Sy was darem nog nooit oor die sewentig kilogram nie. Sodra die skaal neig om daarheen te beweeg, eet sy twee weke lank net Special K en ander maermaakgoed, al sterf sy ook van die honger. Sy’t nie geweet sy weeg so baie nie; regtig, sy het nie. As sy geweet het, sou sy betyds gekeer het.

Sy kyk vervaard om haar rond. Wie’t gehoor? Wie’t gesien? Maar daar is gelukkig ander belangriker dinge wat haar kollegas se aandag vereis en dit lyk nie of hulle belangstel in haar mate en gewigte nie. Dis net ... dat Adam Muller natuurlik agter haar gestaan het en dat hierdie inligting nie by hom verby kón gaan nie.

Hy glimlag vir haar. “ ’n Stewige gewiggie,” merk hy op, “maar so netjies verpak!”

Roxy wil bloos, maar daar is nie nou tyd daarvoor nie. Boggher hom. Hy’s nie belangrik nie. Hy’s die main pikkewyn hier rond, maar wat haar betref, is hy net Zander se pa, dis al. As hy dan sy seun wil waarsku teen die oorgewig seekoei wat verklaar het dat hulle in ’n vorige lewe by die heup aan mekaar verbind was, moet hy dit maar doen. Sy ís van plan om op ’n baie streng dieet te gaan. Gee net kans. Die seekoei gaan in ’n paling verander.

Die werklikheid tref almal eers toe hulle oor die reling loer om te sien presies hoe hoog dit van hier bo af is. Niemand maak meer grappies nie. Daar hang ’n mistigheid in die lug sodat ’n mens nie kan sien waar die afgrond wat jou met oop arms inwag, ophou nie. Dit sal wees soos om in die onbekende te duik, in ’n nimmereindigende afgrond, ’n onmeetlike diep put, ’n bodemlose gat, waar jy deur tyd en ruimte ingesluk gaan word om nooit weer te verskyn nie. Suiwer angs hang in die lug. Daar moet seker veldgeluide om hulle wees, maar Roxy hoor net die gesuis in haar ore.

“Nou toe?” wil die mansmens met die koeldrankstrooitjielyf weet. “Wie’s eerste?”

Niemand stap vorentoe nie; skielik is al wat grootbek is, ook stil.

“Toe, Wouter!” daag Zander uit. “Jy is mos ’n ou hand. Wys ons hoe dit gedoen word.”

Daarna het Wouter natuurlik geen keuse nie. Hy word geruk en gepluk om seker te maak alles is in plek wat in plek moet wees en stap dan onder luide toejuiging na die punt van die loopplank. Soos ’n veroordeelde matroos wat in die see gesmyt gaan word om saam met die visse en die haaie te swem – en verskeur te word, dink Roxy nog.

Iemand moes iewers musiek aangeskakel het, want die klanke klink krapperig in die koel oggendlug op. Seker sodat ons nie die vreesbevange uitroepe so duidelik sal hoor nie, dink Roxy. Soos in ’n tandarts se wagkamer.

Sy ken die nommertjie wat gespeel word. Dis Rob Rock se “Something’s Wrong With The World Today”. “Jy’s reg, my maat,” sê sy hardop. “Daar skort beslis iets met die hedendaagse lewe.”

“Wat?” wil een van die omstanders weet. “Waarvan praat jy?”

“Luister wat sing die ou,” beveel sy aan. “Trying to find a reason for the things that we do ...” sing sy saggies saam.

“No one’s got a minute when there’s nothing to prove.” Dis sowaar Adam Muller wat met sy diep basstem inval en saam met haar sing. Seker net hy wat die song ken, maar nog niks daaruit geleer het nie.

Verder dinges sy teen die donderweer, want niemand het nou tyd of lus vir haar en Rob Rock se filosofieë oor die hedendaagse wêreld nie. Sy hoor die countdown, sien hoe die een ná die ander kollega gillend oor die afgrond tuimel en weet haar beurt gaan kom. Dis onvermydelik. Dit voel asof haar verstand nou heeltemal afskakel, asof sy bloot ’n marionet is, een van ’n lang ry eenderse dominosteentjies wat in ’n ry omgestamp word. Die ouens wat die sprong oorleef, is vreeslik triomfantelik wanneer hulle weer op hul voete staan. Almal is op ’n high.

“Wow!” roep Zander uit toe hy bo kom. “Dis awesome! Dit voel asof ek ’n reus kan pak en hom op sy dinges kan gee. Awesome, man! Awesome!”

Roxy se oë rek. Dit lyk nie eens of hy onthou dat sy pa ook daar rondstaan nie. Wonderlik wat ’n snapsie voor die tyd aan ’n man se moed kan doen!

Adam staan nog steeds agter haar, baie naby aan haar. So naby dat sy hom aan sy klere wil beetkry en aan hom wil vasklou, haar aan hom wil vas anker.

“Gaan jy ook spring?” wil sy by hom weet toe sy nie haar beurt langer kan uitstel nie.

Hy skud sy kop. “Nie nodig nie,” antwoord hy ongeërg.

Natuurlik nie. Hy het genoeg sertifikate, boeke en prestasies agter hom om te wys hy’s ’n wenner; hy weet hoe om te leef – en te oorleef. Hy hoef niks te bewys nie. Ook nie dat hy mal genoeg is om te bungee nie.

Roxy word vorentoe gestoot en haar voete volg sonder dat haar verstand toestemming daarvoor gee. Maar dan ruk iets in haar tot stilstand. Wat maak sy hier? Is sy mal? Sy wil omdraai, maar daar is nie plek om dit te doen nie. As sy nou verkeerd trap, gaan sy in elk geval hier afdonder sonder die nodige geestelike voorbereiding. Dis nou heeltemal te laat vir omdraai. Roxy gaan aan die bewe, so erg dat sy bang is sy gaan in elk geval haar balans verloor en soos ’n sak vol swaar klippe hier afstort.

Logika en waansin stry teen mekaar. Sy weet presies wat hierna gaan gebeur. Almal wat gespring het, gaan mekaar omarm en die feesvierings gaan epiese afmetings aanneem. En meneer Muller, die ghoeroe van die dag, gaan hierdie rekspringery as vertrekpunt vir sy opsweepstories gebruik.

’n Mens moet jou vrese in die oë staar, die lewe aan die keel gryp, daardie soort ding. Sy kan net raai wat hulle alles ingeprent gaan word. En as sy nie spring nie, gaan sy die odd one out wees. Daar sal van haar ’n voorbeeld gemaak word. Soos met die swartskaap in ’n skool.

Sy kan hulle net hoor ... Loop staan daar eenkant in die hoekie, Roxy. Jy wat nie die guts gehad het om van die brug af te spring nie. Jy’s ’n bangbroek, ’n papbroek, ’n muis, nie ’n man nie. Jy’s chicken. Jy’s no-good. Jy hoort nie by ons nie.

Die hele naweek – en daarna – gaan sy gemerk wees. Die steen des aanstoots, die vlieg in die salf, die Jona, die vrotappel, die spanner in die works, die d... ding in die drinkwater, die one and only, oh so lonely.

En daarvan het sy genoeg gehad, dankie – ’n leeftyd lank.

“Onthou, daar is newe-effekte aan hierdie sprong,” waarsku die skraal mannetjie toe sy ’n oomblik huiwer om vorentoe te stap.

“Newe-effekte?” Wat nou weer? Wat kan daar nou nóg wees, afgesien van ’n gebreekte nek waaraan sy nie gedink het nie?

Hy knik. “Ja. ’n Gevoel van vryheid, ’n euforie en ekstase wat jou boyfriend nie eens by jou kan opwek nie, al eet hy ook ’n bak vol oesters.”

“Jy ken nie my boyfriend nie,” probeer sy haar slim hou.

“Wel, hy kan nie jou perspektief op swaartekrag verander soos hierdie sprong nie.”

“Dis wat jý dink.” Sy glimlag koketterig vir hom, in die hoop dat hy haar gaan oorsien, gaan besluit sy is so together dat dit nie vir háár nodig is om te spring nie. “Ek sê jou mos – jy ken nie my boyfriend nie. Ook nie vir my nie.”

Dis instink wat intree, sy weet. Dis nie nou die tyd om te flirt nie en die mannetjie met die haarnaaldlyfie is ook nie die regte kandidaat daarvoor nie. Hy gaan haar nie oorsien nie. Hy doen net sy werk, hy moet daarop gefokus wees om haar lewend te hou – nie met gedagtes wat gesensor behoort te word na haar te kyk nie.

Maar sy kan haarself nie keer nie. Wanneer sy nie weet wat om te doen nie, flirt sy. Sy sien die frons op Adam Muller se gesig toe sy vorentoe stap. Ja, ja, wil sy vir hom sê. Ek weet ek gedra my soos ’n matriekmeisietjie, ek weet ek moet my inhou, maar dalk is dit my laaste kans om ’n man sover te kry om in my of my denkbeeldige boyfriend belang te stel.

“Jy weet nie waartoe jy in staat is voordat jy nie probeer het nie, meisie,” praat die jump master haar nog moed in. “Weet jy wat is ons leuse hier by Dooimanskloof?”

“Spring na jou dood en kry jou naam in die koerant?”

Hy skud sy kop. “Nee. Spring of wees vir altyd spyt.”

“Spring én wees vir altyd spyt?” verstaan sy hom met opset verkeerd, maar hy lag nie.

Hy frons. Sy weet wat hy dink – dat hy met ’n probleemgeval te doen het. En hy is nie die enigste een nie. Sy raak bewus van nóg iemand wat ondertoe getree het en hom by hulle op die afspringplek aangesluit het.

“Roxy?” Sy stem is fluweel. Sy draai haar kop effens om na Adam Muller te kyk. “Wil jy hê ek moet saam met jou spring?”

“Saam met my?” Liewe hemel! Is hierdie kleindogtertjiestem regtig háár stem? “Wat sal dit my help? Dan tuimel ons al twee dalk na ons dood.” Sy onderdruk ’n snik. “Onthou, the bigger they are, the harder they fall – en jy is yslik groot.”

“Ons kan in tandem spring,” stel hy voor.

Tandem? Sy weet hoe dit werk. Sy’t op YouTube gesien hoe verliefdes dit doen. Hoe hulle aan mekaar vashou wanneer hulle na benede stort. Ja! Dit sal beter wees. Dit sal wonderlik wees. Sy sal haar kop teen sy bors hou, haar oë toemaak, sy arms sal styf om haar wees. En ... en, weet Roxy, sy sal nie bang wees nie. By Adam Muller sal sy veilig wees. Die rek sál nie skiet en afknak nie, daar sal nie aapstreke wees nie, ook nie ongelukkies nie. Nie as hý haar in sy arms hou nie.

Sy skud haar kop. Natuurlik kan sy dit nie doen nie. Nie as sy weer haar gesig by Tafelberg Toeriste wil wys nie. “Nee dankie.” Sy lek haar lippe nat. “Ek moet dit alleen doen.”

Iewers langs die pad verander sy genadiglik in ’n zombie en hou sy heeltemal op met dink. Sy hoor hoe sy van alle kante af aangemoedig word, maar sy kan nie die woorde onderskei nie. Dis wat die sensasiebelustige nuuskieriges ook doen wanneer hulle saamdrom waar iemand van ’n gebou wil afspring, onthou sy nog vaagweg in haar deurmekaar gedagtes. Skree: Spring! Spring! Spring! Totdat die arme ou nie anders kán as om te spring nie – sy dood tegemoet.

“You go, girl!” hoor sy iemand gil. Wie? Wouter? Zander? Adam? Een van die ander? Skielik is haar sprong die hoogtepunt van die dag. Die laaste sprong en heel moontlik ook die enigste een wat op ’n katastrofe kan, of sal, uitloop.

Sy hoor ’n hele koor wat saam begin tel. Vyf ... vier ... haar hele lewe is mos veronderstel om nou voor haar oë af te speel ... drie ... maar al wat sy sien, is Piet Swart se gesig bo hare ... twee ... en haar ma wat haar nie liefhet nie ... een! Bungee! En skielik, in daardie breukdeel van ’n oomblik, besef Roxy dat daar niks anders is om te doen as om haar arms soos die vleuels van ’n voël uit te strek en vorentoe te val nie.

Daar is ’n totale oorgawe in haar, ’n gelatenheid, ’n gewigloosheid, ’n snak. Sy is heeltemal gedisoriënteer, maar ’n allesoorheersende en onbeskryflik verhewe gevoel neem van haar besit. Sy is nie meer aan die aardse verbind nie. Elke primitiewe drang wat nog in die mens teenwoordig is, vind uiting in haar en sy skree, skree, skree in haar kop.

Maar oor haar lippe bars daar net ’n enkele rou gil wat van iewers uit die klowe om haar na haar toe terugkeer. Sy verdwyn in die mistigheid, in die onmeetlikheid, in die uitgestrektheid van die niks, van die eindes van die aarde, waar gewone menslikheid en logika nie bestaan nie.

Totdat sy tot stilstand kom en magteloos aan haar voete swaai, intens bewus van die natuur om haar. Die donkergroen, die koeltes, die skadu’s om haar, ’n swart kraai wat bestraffend na haar kyk, iets wat in die bossies onder haar wegskarrel. Daar kom ’n vrede oor haar, asof sy klaar dood is en niks daaraan kan verander nie.

Sy wil om verskoning vra omdat sy die natuur versteur, die voëls, die klein diertjies wat hier skuilhou, sy wil probeer verduidelik dat daar iets skeefgeloop het met die wêreld daar bo sodat daar dieper gedelf moet word na geluk, na opwinding, na die euforie van menswees, maar die stilte vou om haar soos ’n trooskombers. Nooit sou sy kon dink dat dit so rustig sou wees om onderstebo soos ’n vlermuis aan jou voete te hang nie.

Sy verstaan nou waarom ’n mens nooit weer dieselfde kan wees nadat jy gebungee het nie. ’n Mens se siel word glo aangeraak wanneer jy jou so roekeloos oor ’n afgrond werp.

Dalk is dit presies wat sy nodig gehad het, dink Roxy terwyl sy in Dooimanskloof aan haar voete rondswaai. Dalk is dit die katarsis waarna sy smag. As sy haar verlede hier in die donker dieptes kan afskud, was dit die moeite werd. As sy die sprong natuurlik oorleef, want sy is nog ver van veilig af.

Maar die tyd van wonderwerke is nog nie verby nie. Roxy word opgehys en kom eers weer tot verhaal toe sy wankelrig op haar voete terug op die platform staan. Die vrees wat haar in die kloof verlaat het, keer terug toe sy besef wat sy gedoen het. Sy gaan aan die ruk. En aan die tjank. Snot en trane. Sy gryp na iets om vas te hou, na iemand om vas te klou. Net totdat die aarde onder haar voete ophou tol. Maar daar is niks nie. Sy dobber soos ’n boot sonder ’n stuurman in die ligte windjie wat nou waai en dit voel vir haar asof die groot val nog nie opgehou het nie.

Maar dan voel sy arms om haar gaan, vastigheid teen haar – ’n borskas, die lyf van ’n man. Roxy sug sidderend en maak haar oë toe. Sy wil nie sien nie, wil nie weet nie. Sy wil net so staan, in ’n omhelsing wat haar onsekerheid verdryf, wat haar veilig laat voel.

“Toe nou maar, dis verby,” hoor sy die gouestroopstem bo haar kop.

Ag, sug sy innerlik. Kon dit nie maar Zander gewees het wat haar vasgegryp het nie? Zander, nie sy pa nie, asseblief nie sy pa nie! Dit sou soveel eenvoudiger gewees het. Maar, waarsku iets haar, nie so vertroostend nie.

“Is jy oukei?” wil Adam Muller weet en hou haar effens van hom af weg.

Oukei? Sy weet nie. Sy weet nie of sy ooit weer oukei sal wees nie.

Adam hou haar nog aan haar boarms vas, maar hy draai hom om na waar Zander tussen die ander staan. “Zander!” roep hy. “Kom troos jou meisie, jong. Haar bene bewe.”

Maar Zander is nog aan die jubel oor sy eie sprong. Hy kom nie dadelik nader nie.

Roxy besef dit het tyd geraak om op haar eie voete te staan en woel haar los. “Ek’s oukei,” verseker sy hom, haar stem skor. “Dankie.”

Toe stap sy van hom af weg met die vaste voorneme om nooit weer ’n oorlas van haarself te maak deur in Adam Muller se arms te beland nie. Sy weet wat hy dink – dat sy nie haar plek ken nie, haar lyf flerrie hou, selfs by hom, al is dit heeltemal verbode. Skandelik. Skokkend. Hy’t haar klaar uitgekyk, hy weet wat en wie sy is. Hy’t gesien hoe sy met die jump master flirt, hy’t gefrons daaroor. Adam Muller is seker baie bekommerd oor sy seun se sieleheil, glad nie gerusgestel dat Zander met ’n goeie meisie deurmekaar is nie.

Dit gaan ’n baie lang naweek wees, dink Roxy gelate toe sy haar by die ander aansluit.

“Nou soek ek ’n stywe dop,” spreek Zander sy grootste begeerte uit.

Daar is meer wat heelhartig met hom saamstem, maar nie Roxy nie.

Sy wil tee hê, warm tee met winkelkoekies en simpatie. Soos haar ma dit maak. Lekker soet, hopeloos té soet, selfs al hou Roxy nie van te veel suiker nie en al het sy dit al hoeveel keer vir haar ma gesê.

Haar ma het haar nou wel nie lief nie, maar daar is niemand wat kan tee maak soos sý nie. ’n Skielike hartseer kom oor Roxy, so intens dat sy swaar moet sluk aan die tennisbal wat hoog in haar keel vassteek.

'n Lipstiek-lewe

Подняться наверх