Читать книгу 'n Lipstiek-lewe - Kristel Loots - Страница 6
ОглавлениеHoofstuk twee
Sy kyk verbaas op toe daar enkele minute later aan haar deur gehamer word.
“Roxy! Dis ek, Zander. Maak oop!”
Sy spring orent. So gou? Sy’t aangeneem hy bel van iewers uit die stad, dat dit ten minste ’n halfuur sal vat voordat hy hier by haar woonstel kan wees. Wat doen sy nou? Sy sit nog hier in haar nagrok en haar skoongeskropte gesig, sonder ’n krieseltjie grimering en sonder ’n smeerseltjie lipstiek. Dis nie hoe sy die wêreld in die oë wil kyk nie – en baie beslis nie een van haar kollegas wat haar gewoonlik net in haar kantoorklere sien nie.
Maar voordat sy daaroor kan besluit, klop hy weer aan die deur. Hard. Te hard.
“Sjuut!” sê sy instinktief toe sy die deur op ’n skrefie oopmaak. “Die bure slaap.”
“O! Sorry, man. Ek was nie seker of jy my sal hoor nie. Kan ek inkom?”
Sal sy of sal sy nou nie? So in haar nagrok?
“Wat’s fout? Is hier iemand by jou?”
“Ek het jou gesê ek is alleen.” Roxy sug, maak die deur oop. Miskien is Zander so ver heen dat hy nie eens raaksien wat sy aanhet nie.
Maar sy hoop verniet.
“Wow!” sê hy dadelik waarderend en vat haar aan die boarms. “Ek is mal daaroor as ’n girl my só inwag.” Hy wys met sy vinger na die Jessica Rabbit-embleem wat die voorkant van haar nagrok versier. “Jy lyk nogal ’n bietjie na haar, weet jy?” merk hy op. “So met die welige rooi hare en jou come-to-bed eyes.” Daar sluip ’n stout glinstering in sy oë. “En natuurlik hier bolangs ...” hy wys met sy hande, “bolangs stem julle ook ooreen.”
“Ek ... ek was al in die bed,” probeer sy lomp verskoning soek en vou haar arms oor haar bors.
“Geen probleem nie, Roxy. Ek’s anytime game vir vet pret in die bed.”
“Vet pret? Wat bedoel jy met vét pret?”
“Ag, chill, girl, moenie so touchy wees nie. Jy’s nie vet nie.”
“Ek is ook nie maer nie.”
“Ek sê mos – jy’s Jessica Rabbit in lewende lywe, die soort girl wat ek verkies. So sensueel jy kan ’n nat lap aan die brand steek. Wat is dit in elk geval met jou dat jy so Jessica Rabbit-bedinges is? Ek’s mal oor die foto op jou desktop waar sy uit haar klere peul.”
Hy gee haar nie kans om te antwoord nie. “Jessica Rabbit is seker die enigste animasiekarakter wat so real is dat mans oor haar fantaseer. Selfs in Who Framed Roger Rabbit het sy die arme haas met wie sy getroud was én die res van die mans al heeltemal op hol gehad,” mymer hy. “My favourite scene is waar sy met daardie lang, sexy bene van haar van agter die gordyn verskyn en die ouens met ’n lapdance entertain. Alles aan haar spel vrou uit. Veral daardie figure.” Hy aarsel weer ’n oomblik terwyl hy Roxy op en af bekyk. “Nes joune,” sê hy waarderend.
Sy weet dit. Hoekom anders dink hy is Jessica Rabbit haar idol?
Ag, sy’s simpel, sy weet. Net so otherwise soos Oumalot.
Ag, aarde tog, sy’s ’n volwasse vrou, sy behoort ’n politieke leier as rolmodel na te streef, of iemand wat in dienlike skoene diep spore op ’n ander terrein trap. Maar vir haar is daar iets onweerstaanbaars aan ’n fiktiewe karaktertjie se blatante dekadensie en die uitdagende manier waarop sy beweeg. Kronkelend en slu soos ’n slang. Jessica Rabbit probeer nie voorgee om iets te wees wat sy nie is nie. Sy’s ’n uitlokkende vrou en klaar.
“Moenie idees kry nie, Zander Muller,” waarsku Roxy nogtans. “Ek deel my bed nie met elke man wat hierdie tyd van die aand aan my deur kom klop nie. Selfs Jessica Rabbit het standaarde, weet jy? Waar kom jy in elk geval nou vandaan?”
“Ek was by die Red Lion, ’n paar straatblokke van hier af.” Hy skuif ongenooid by haar verby en beweeg dieper by die woonstel in. “Dis ’n lekker plek vir ’n jol. Daar’s ’n amazing vibe. Jy moet een aand saam met my soontoe gaan.”
Nou toe nou! dink Roxy en rol haar oë innerlik. Skaars sy voete oor my drumpel gesit en hy maak al planne vir die toekoms. Sy vat-vat aan haar hare. Sy moes meer moeite met haar voorkoms gedoen het ...
Die man wat voor haar staan, is nie die man wat sy bedags in die kantoorgange raakloop nie. Hy het sy deftige pak klere verruil vir jeans wat aan hom pas asof hy daarin gebore is. Daarby dra hy ’n wit T-hemp wat vir ’n waspoeieradvertensie gebruik kan word. Die blonde surfer-kuif hang oor sy voorkop en hy lyk soos iemand wat ure lank gefuif het. Maar sy tong sleep nie en hy stap mooi reguit in haar gangetjie af sonder om teen haar meubels te stamp.
“As jy my nie bed toe gaan sleep nie, sal ek nie onnodig lank bly nie,” belowe hy toe hulle deurstap kombuis toe om te gaan koffie drink. “Ek weet dis laat, maar ek wil jou iets vra.”
“Kon dit nie wag tot Maandag nie?”
“Dit kon seker, maar ek het nou net hierdie briljante idee op die bodem van ’n glas Jack Daniel’s ontdek. Ek wil nou dadelik weet of jy game is of nie.”
Roxy is dadelik op haar hoede. Om game te wees vir iets wat Zander Muller op die bodem van ’n leë whiskeyglas gesien het, kan dalk net wees om met jou loopbaan of jou lewe te speel. Die man straal ’n roekeloosheid uit wat verder strek as die blitsvinnige gevaarte waarmee hy ry. Maar is dit dan nie juis wat sy wil hê nie? Sy wíl mos roekeloos leef, ’n bloedvloei-rooi lipstiek-lewe lei.
“Dit gaan oor die spanbounaweek wat volgende Vrydag begin.”
“Waarna ons gedwing word om te gaan!” Sy’s dadelik moerig toe sy daarvan onthou. “Ek strip sommer as ek daaraan dink. Ek weet die werk by Tafelberg Toeriste is nie veronderstel om ’n nege-tot-vyf-werk te wees nie, Lawrence vertel dit gereeld genoeg vir ons. Maar ek het beter dinge om te doen as om ’n naweek lank te gaan leer hoe om kwansuis sinvol te leef of wat ook al hierdie keer weer in ons kele afgedruk gaan word. Wat ons nou nog nie weet nie, gaan ons nie meer geleer kry nie. Dis hopeloos te laat daarvoor.”
Toegegee, sy hét meer jaarringe om die nek en oë en sommer orals as Zander – sy’t meer geleentheid gehad om te leer om sinvol te leef. Nie dat dit haar veel gehelp het nie ...
“Dis natuurlik weer ’n manier om ons op te sweep en te motiveer om murg en bloed te gee sodat Tafelberg Toeriste nie ondergaan nie,” mor sy nog. “Wat seker nie ’n slegte idee is nie,” gee sy huiwerend toe. “As Tafelberg Toeriste sink, sink ons.”
En, dink Roxy benoud, sy’t geen benul waar sy weer werk gaan kry nie. Al waarvan sy ondervinding het, is om met mense se koppe te smokkel en hulle te oortuig dat Suid-Afrika ’n wonderlike land is en dat dit doodveilig sal wees om hier te kom vakansie hou. Daarvoor is sy goed afgerig.
Misdaad? Ag nee wat! Nooit gesien nie. Dit word streng beheer, not to worry. Hou maar net jou vensters en deure te alle tye toe. Net vir ingeval, weet jy? En moenie in die donker rondloop nie, en nooit, ooit alleen nie. As jy jou begroting uitwerk, maak veiligheidshalwe voorsiening vir ’n beursie vol geld wat tussen neus en oë kan verdwyn en moenie te geheg aan jou selfoon raak nie. Maak gereeld backups van jou data, want ag! – dit kan so ’n beslommernis wees as jou laptop een van die artikels is wat vir die herverdeling van rykdom aangewend word. En o ja, terloops, smash-and-grab is nie ’n nuwe dansvorm wat net in Suid-Afrika by verkeersligte beoefen word nie. Maar afgesien daarvan – no problem!
Roxy sug. Van eufemismes kan jy haar niks vertel nie, maar daar is nie veel ander beroepe wat hierdie spesifieke vaardigheid vereis nie. Sy moet hou wat sy het. Of ’n man kry wat haar sal onderhou.
Sy sug nog ’n slag. “Ons kom darem vroeg Sondagoggend terug. Dis seker beter as niks.”
“Jy mag nie kla nie, juffrou Roux. Dis ’n helse ... ekskuus, ek bedoel ’n hemelse voorreg om na die vermaarde doktor Muller te gaan luister. Gratis en verniet omdat Tafelberg Toeriste genoeg geloof in hom het om sy werknemers op die maatskappy se onkoste op die selfverbeteringsnaweek te stuur.”
“Na wié gaan ons luister?”
“Doktor Adam Muller. Die main pikkewyn wat ons gaan toespreek en bepreek totdat ons net soos hy oor dinge dink. Weet jy dan nie?”
“Gaan hý dan daar wees?” Sy probeer nie eens haar verstomming wegsteek nie.
“In al sy glorie. Lyk my jy het nie jou memo gelees nie.”
Sy het nie. Sy’t geweet ’n hele spul ghoeroes gaan hulle beetkry, maar sy’t nie die moeite gedoen om te kyk wie dit gaan wees nie. Die een is soos die ander. Gewoonlik so vervelig dat sy die vlug van ’n vlieg teen die plafon opwindender vind.
“Praat jy van die skrywer van die bestseller wat by die derduisende verkoop? Glo ’n rekord vir ’n Suid-Afrikaanse selfhelpboek.”
“Dis hý daai.”
“Wat is die titel nou weer? Wees ’n beter jy – so iets?”
“Amper reg. Wees jouself – net beter. Met natuurlik die Engelse weergawe, Be Yourself – Only Better, wat nou selfs oorsee ’n treffer is.”
“Het jy dit al gelees?”
Zander snork. “Jy maak seker ’n grap. Ek haat al hierdie selfhelppraatjies wat jou altyd laat voel jy is nie goed genoeg om te leef nie.”
“Doktor Adam Muller ...” mymer sy. “Mooi sterk naam. Muller nogal? Familie van jou?”
Sy lag hom toe. Natuurlik is hulle nie familie nie. Zander Muller is dalk so aantreklik soos die duiwel self, maar dit lyk nie asof daar baie wyse manne in sy familie-stamboom gevind sal word nie. Daarvoor is sy oë te wild, sy kuif te deurmekaar, sy lyf te los, sy mond ook. Hierdie doktor Muller wat blykbaar groot getalle dissipels trek om ure lank aan sy lippe te hang, moet sekerlik iets te sê hê waarvan Zander nog nie eens gehoor het nie.
“Helaas, ja,” sug Zander.
“Wat?”
“Hy’s familie.”
“Ag, jy speel seker.” Roxy kyk hom ongelowig aan.
“Nee, Roxy. Ek en doktor Adam Muller is inderdaad baie naby familie van mekaar.”
Roxy lag ongelowig. Zander familie van Adam Muller, die oornagwonder wat deesdae op al wat televisie-geselsprogram is, pronk? Sonder dat sy kollegas by Tafelberg Toeriste eens daarvan weet? Sonder dat hy probeer om al wat meisietjie is daarmee te beïndruk?
Sy twyfel sterk!
“Hóé nou?”
“Adam Muller is my pa, Roxy,” antwoord hy met ’n sug in sy stem.
“Jou pá? Jong, is jy seker?”
“Sover ek weet, ja. Behalwe as die posbode ’n ongeoorloofde kuiertjie langs die pad ingepas het.”
“Wow! Ek het die man al op televisie gesien. Hy’s nogal aantreklik.”
“Donners aantreklik en hy weet dit ook.”
“En hy lyk op die oog af beswaarlik oud genoeg om die pa te wees van iemand in sy ... twintigerjare.”
“Vyf en twintig met my volgende verjaardag,” sê Zander. “My pa en ma was nog op universiteit en nat agter die ore toe hulle getroud is. Moenie vir my vra wat die danige haas was nie – dit het nie vir my juis gelyk of hulle mekaar wou opvreet van liefde nie, maar hy verseker my dit was nie ’n shotgun wedding nie. Ek was glo ’n wittebroodbaba as ek hom kan glo. Hy was skaars twintig toe ek gebore is, my ma nog jonger.”
“Maar my magtig, man! Hoekom hou jy dit dan geheim dat hy jou pa is? Die ou is deesdae op almal se A-lys; hy sit tussen die Wie’s Wie op al wat ’n okkasie is. Jy kan mos heerlik gloei in sy glorie sonder om ’n vinger te verroer.”
“Dis wat ek blykbaar my lewe lank nog doen.”
Roxy staar hom aan.
“Dis nie noodwendig ék wat dit geheim hou nie, Roxy. Dis eerder om my pa se naam en beeld te beskerm dat ons nie met mekaar geassosieer word nie.”
Sy lag verbaas. “Hoekom?”
“Jy vra nog. Kan jy nie sien nie? Kan jy nie self dink nie?”
“Wat?”
“Dat die vrotappel vrek ver van die boom af geval het. Ek is nie in dieselfde klas as my pa nie.”
“Wel, jy ry met ’n motor wat net die room van die oes kan bekostig.”
“ ’n Geskenk van my ma. Dierbare ou ding wat sy is. Sy’t geweet ek gaan iets nodig hê om my image ’n bietjie te boost. Of so nie het sy haar gewete probeer salf omdat sy nooit ’n ma se dinges was nie. Ek gee in elk geval nie om nie, ek ry lekker met my MG.”
“En die meisies val seker soos oorryp vye voor jou neer?”
“Min of meer, ja, maar jý het nog nie.”
“Gee my kans,” verseker sy hom laggend. “Ek het nog net nie by jou uitgekom nie. En ek het nie geweet uit watter hoë bome jy stam nie.” Sy lag weer. “Maar nou weet ek.”
“My pa sal dit waardeer as jy nie ons verbintenis uitblaker nie. Dis nie iets waarop hy trots is nie.”
“Ag, shame, Zander, is jy die swartskapie?” spot sy. Zander bring miskien nie sy kant nie, maar die man het nog nooit regtig amok gemaak nie. In elk geval nie by die werk nie. Hy stuur soms e-pos rond wat ’n bietjie gewaagd is, maar hy is nog lank nie die enigste kantoorwerker wat die lang ure in ’n steriele kantooropset só probeer opkikker nie.
“Kom ons sê maar net die appel het donners ver van die boom af geval.”
Roxy wil ’n grap maak daarvan, maar dis nie meer so maklik nie. Van ’n appel en ’n boom kan Zander Muller haar niks vertel nie. “Been there, done that, got the tattoo,” mompel sy. Sy weet nie wat daar tussen Zander en sy pa is wat pla nie, maar sy weet hoe dit voel wanneer ’n mens nie in die prentjie pas waarin jy graag geraam wil word nie.
“Ek is een van my pa se min mislukkings in die lewe,” verduidelik hy. “Ek het nie sy voetspoor gevolg nie, nie eens naastenby dieselfde paadjie gestap nie.”
“Maak dit dan soveel saak? Wat het geword van each to his own?”
Hy lag sinies. “Dit maak saak as jy, soos ek, in heeltemal die verkeerde rigting gedonder het.”
Roxy trek haar asem skerp in, die pyn in sy stem maar net te bekend. “En die ander kinders? Loop hulle soos eendjies in ’n ry agter Pappa aan?” wil sy weet terwyl sy die ketel aanskakel.
Hy antwoord nie dadelik nie. “Daar is net een ander kind. ’n Seun. Nog bloedjonk. My pa is vol moed om van hom alles te maak wat ek nie is nie.”
“Gaan hy dit regkry?” Sy skrik vir die bitterheid in Zander se stem en probeer hare so lig moontlik hou.
“Not a chance! Hy dra dieselfde gene.” Hy lag hard. “Vergeet dit, Roxy. Ek is nie hier om vir jou die storie van my lewe te vertel nie. Ek is net hier om vir jou ’n guns te vra.”
Sy skep twee teelepels kitskoffie in elke beker, vra hom met die oë of dit reg is só. Hy knik.
“Om saam met my na my pa se boring speech te gaan luister.”
“Maar ons moet mos almal in elk geval gaan. Dis nie opsioneel nie. Hoe’t Lawrence dit nou weer gestel toe party van die ouens suur getrek het? ’Dis nie ’n versoek nie, dames en here, dis ’n bevel.’ ”
“Ek weet en ek is net so die bliksem in daaroor. Asof ek nie my lewe lank genoeg na die man se preke moes luister nie.”
“Weet die baas dat Adam Muller jou pa is?”
Hy knik. “Hulle speel saam gholf. Ek vermoed dis waarom ek die aanstelling by Tafelberg Toeriste gekry het.”
“Ag, komaan, Zander. So nikswerd is jy darem nie dat jy op jou pa se rug moes ry om by Tafelberg Toeriste werk te kry nie. Enigiemand met ’n gladde bek kan daar vir hom of haar ’n werkie losslaan.”
“Selfs ek?”
“Dis nie wat ek bedoel nie.”
Hy kyk weg. “Waarom sou enigiemand vir my ’n aanstelling gee? Laat ek hoor.”
Roxy bloos. “Omdat ... dêmmit, Zander, kyk hoe lyk jy!”
Sy wenkbroue boog spottend. “Hoe?” vra hy met geveinsde onskuld.
“Wel, op die oog af is jy ’n toonbeeld van sukses, man. Van manlike krag, die ideale beeld wat Tafelberg Toeriste na buite wil dra. Jy lyk soos ’n surfer ...”
“Ek ís ’n surfer,” verseker hy haar.
“En jy dra prinslike klere. Ons weet mos hoe belangrik is die regte voorkoms in openbare betrekkinge. Lawrence vertel ons gedurig daarvan.”
Hy lek oor sy lippe. “Hoe soet smaak die heuning om my mond nou,” prewel hy. “Dis wat ek ’n ego boost noem.”
“Ek bedoel dit,” sê sy eerlik. “Ek weet nie genoeg van jou werkvermoë af om dit te evalueer nie.” Sy glimlag effens. “Maar dat jou voorkoms in jou guns tel, veral vir ’n firma soos Tafelberg Toeriste wat Suid-Afrika se somer en son en saffier én sy sexy surfers wil bemark, kan nie betwyfel word nie.”
“Ek het myself leer surf en selfs vir my voorkoms hoef ek ten minste nie my pa te bedank nie,” sê hy. “Want ek lyk soos my ma. Sy’s ook lank en blond. My pa is donker.” Hy maak sy stem opsetlik dik. “Soos die duiwel.”
“En dis nou na hierdie donker duiwel wat ons die naweek gaan luister?”
“Net so. En ek wil hê dit moet lyk asof ek en jy soort van sáám daar is.”
“Saam?” Sy frons. “Hóé saam? Soos in asof ons ’n verhouding het?”
“Wel, ten minste asof daar ’n spesiale vriendskap tussen ons is.”
“Maar daar is nie. Ek ken jou skaars en jy weet hoe voel Lawrence oor verhoudings op kantoor.”
“Hy’s jaloers.”
“Ag, twak, man.” Sy flirt graag met al wat man is, maar dis nooit ’n goeie plan om met jou baas te ginnegaap nie.
“Ons kan ons later oor Lawrence bekommer. Al wat ek jou vra, is om die naweek ’n paar keer my hand te hou.”
“Soos skoolkinders wat gekys is?”
“Wel, as jy jou hande nie van my kan afhou nie en ’n dringende begeerte ontwikkel om my te soen, sal ek jou natuurlik, uit die goedheid van my hart, toelaat om dit te doen.”
“Dankie,” sê sy. “Ek soen gewoonlik nie my kollegas op spanbounaweke nie, maar daar is altyd ’n eerste keer.”
Hy neem die beker by haar en roer vir hom suiker by.
“Dit klink so Mills & Boon-erig,” sê sy, “met ’n titel soos A Marriage of Convenience. Kry jy die prentjie?”
“Wag nou, Roxy, stop die lorrie. Ons is nog lank nie by ’n marriage of convenience of van enige ander aard nie. Al waaroor dit gaan, is dat my pa die een of ander tyd gedurende die naweek heel moontlik ’n ete-afspraak met my sal maak en ek nie alleen by hom wil wees nie. Dit sal soos gewoonlik in ’n oorlog ontaard en ...” Hy neem eers ’n sluk koffie. “Dis nie wat ek wil hê nie. Die gewone ou drama, ’n helse scene voor my kollegas. Daar’s my image om aan te dink, nè. Ek wil nie die poppies met ’n lelike ou familievete afskrik nie, weet jy?”
“Ek is terdeë bewus van jou en jou poppies, Zander, ontspan gerus. Maar ’n ete-afspraak met jou pa klink taamlik formeel. Hoe gereeld sien julle mekaar?”
“So min moontlik.”
“Is julle kwaaivriende?”
Zander lag effens. “Dis vir my so ’n misleidende woord daardie, weet jy? Kwaaivriendskap impliseer dat daar wel nog sprake van ’n vriendskap is – dit het net kwaai geraak. Dit beskryf nie werklik die verhouding tussen my en my pa nie. Ons is glad nie vriende nie. Ook nie werklik vyande nie. Ons vermy mekaar net sover moontlik en ons ken mekaar nie juis nie.”
Roxy dink ’n oomblik na. “Jong, hierdie maskerades werk gewoonlik nie uit nie. Wie sê daar gaan nie in elk geval ’n oorlog tussen julle uitbreek nie?”
“Jy sal as weerligafleier kan dien as daar ’n storm begin dreig. ’n Mens gedra jou gewoonlik beter as daar ’n vreemdeling in die geselskap is.”
“Wil jy hê ek moet my lyf skeidsregter hou?”
“So iets, ja.”
“Is dit nodig dat daar ’n romantiese geurtjie aan die ref moet kleef? Kan een van die ouens by Tafelberg Toeriste nie maar net as bodyguard vir jou optree nie?”
“My pa is juis bekommerd oor my vriendekring en nie een van die ouens by Tafelberg Toeriste is genoeg van ’n spreekwoordelike skoongesig stoere-boere-Afrikanerseun om hom te kalmeer nie. Hy sal my net uitlos as hy dink daar is ’n vrou in my lewe wat my in toom sal hou. ’n Goeie vrou.”
Roxy lag hardop. “Ek? ’n Goeie vrou? Komaan, Zander, ek weet wat julle my agter my rug noem.”
“Wat? ’n Flerrie? Is so. Jy flirt vir die beker, maar vergeleke met die ander meisies in my lewe is jy Moeder Teresa.”
“Dis wat jý dink!”
Sy los dit daar. Zander dink sy maak ’n grap. Sy ore sal tuit as hy moet weet waar sy al gaan draai het.
“En as jou pa hierdie gehandjiehou van ons vir meer aansien as wat dit is en trouklokkies in die verte hoor lui?” wil sy by hom weet.
Zander se gesig word deur een van sy tandepasta-glimlaggies verhelder. “Dan trou ons maar. Ons kan nie die man teleurstel nie, of hoe?”
Roxy waai hom met die hand weg. “Moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie, Zander,” waarsku sy. “Ek is hoeka op soek na ’n man, ’n doodgewone Suid-Afrikaanse man wat van honde hou.”
“Honde? Hoekom nie kinders nie?”
Roxy kry dadelik die bekende beklemming om die hart. “Nee,” sê sy skor. “Nie kinders nie. Kinders sal my na drank dryf. Ek sal hulle heeltyd in die sogenaamde stoutekamer wil toesluit vir timeout – en die sleutel weggooi.”
“Ons kan die kleinere en fynere besonderhede oor ons huwelikslewe later uitklaar,” belowe hy. “Soos hoeveel honde en kinders daar sal wees.”
“Wanneer?” probeer sy hom skok.
Maar Zander skrik blykbaar nie vir haar kwansuise troudreigemente nie. “Wanneer die trouklokke in die verte begin lui, Roxy. Ons is nog lank nie daar nie en ons gaan ook nie daar land nie.”
“Famous last words,” spot sy.
Hy neem haar hande in syne. “Moenie begin trourokke aanpas nie, skattebol. Hierdie boykie laat hom nie so vang nie.”
Roxy sug. Sy weet nie juis hoe om happy families te speel nie, want sy ken dit nie. Happy families was nie deel van haar kindertyd nie.
“Jong, ek weet nie. Ek is nie mal daaroor om vir mense te lieg nie.”
Nie meer nie. Eenkeer tevore het sy dit gedoen, gereeld vir haar pa en ma gelieg en vir haar suster ook. En vir die wêreld daar buite. En veral vir haarself. En toe die waarheid hulle almal tref, oor hulle losbars soos ’n orkaan, het hulle amper daarin vergaan.
“Is jy dan so ’n soet dogtertjie?”
Hy is duidelik meer ontspanne as vroeër die aand toe hy hier by haar aangekom het. Daar is selfs ’n effense glimlag in sy diepblou oë.
Dêmmit, dis ’n mooi man, besef Roxy. Soos ’n engel. Maar daar is niks van ’n engel in sy oë te lees toe hy nou sy blik takserend oor haar laat gaan nie. “Jy lyk nie soos ’n soet dogtertjie nie.”
Roxy bloos ’n bietjie. Sy moes haar regtig beter verskans het teen ouens met surfer-kuiwe en filmsterbloue oë.
“Al wat nodig is, is dat my pa moet dínk jy is ’n soet dogtertjie. Dis mos al wat ’n bad boy soos ek glo nodig het: ’n goeie vrou wat hom aan ’n kort lyntjie op die straight and narrow hou.”
Zander staan op, gaan sit sy koffiebeker in die wasbak. “Komaan, Roxy, ek vra nie veel nie. Ek vra jou nie eens om by my te slaap nie. Behalwe natuurlik as jy wil.”
“Ek wil nie,” verseker sy hom.
Sy wil regtig nie. Zander Muller verwar haar. Sy weet nie wát sy met hom wil doen nie; sy weet nie eens meer of sy hom hier in haar woonstel wil hê nie. Daar is iets aan hom wat haar benoud maak, iets wat net te bekend is om mee gemaklik te voel. Hy met daardie mooi lyf van hom, die kuif, die kuite wat onder die jeans bult, die liggaamsbouer-boarms wat by die moue van die T-hemp uitpeul. Sou die man nie koud kry nie? Of kry spiertiere soos hy nie koud nie? Net sissies in wie se are daar doodnormale bloed loop, nie bloot suiwer steroïede nie?
Op die oog af sal hy sterk genoeg wees om haar soos ’n prins op ’n wit perd op te raap en kamer toe te dra, maar prinse word werklik nie net deur hul lywe bepaal nie. Zander Muller wat in die middel van die nag hier in haar woonstel is, maak iets in haar wakker – sy weet net nie mooi wát nie.
“Jong, jy weet wat gebeur gewoonlik wanneer mense voorgee om verlief te wees,” waarsku sy.
“Wat?” Hy kyk effens gesteurd op.
“Lees jou Mills & Boon, Zander. Hulle raak op mekaar verlief. Of ten minste, een van die twee raak verlief.”
Daar is nie ’n sweempie van ’n glimlag op sy gesig nie. Om die waarheid te sê – Roxy skrik vir die erns in sy stem toe hy haar antwoord. Van sy grappies oor ’n gedwonge trouery is daar nou geen sprake nie.
“Dis hoekom ek op jou besluit het en nie een van die ander meisies by Tafelberg Toeriste as ’n goeie meisie probeer opdollie het nie.” Hy kyk haar indringend aan. “Die lewe is nie ’n Mills & Boon nie.”
“Vertel my iets wat ek nie weet nie,” stem sy lighartig saam.
Hy lag nie. “Niemand gaan op niemand verlief raak nie. Reg so?”
Sy knik, haar mond skielik droog. “Natuurlik, ja. Reg so.”
“Ons hoef nie eens vreeslik aan mekaar te hang nie, net soms saam te wees, veral wanneer my pa sy vaderlike plig teenoor my wil nakom en my in ’n hoek vaskeer. Ná die naweek gaan ek weer my gang en jy flirt weer met ...”
“Met al wat broek dra,” voltooi sy die sin.
“En niemand se hart word gebreek nie,” voeg hy by. “Jy sien, Roxy, ek loop lekker los, ek wil regtig nie in ’n verhouding betrokke raak nie, asseblief tog nie.” Hy hou sy hande afwerend voor hom uitgestrek. “Ek is gelukkig met my lewe soos dit is. Jy’s ’n flerrie, jy fladder van man tot man, jy sal nie dom genoeg wees om op my verlief te raak of so iets simpels nie.”
“Oukei, ek kry die boodskap,” verseker sy hom.
Dit sal maklik genoeg wees om by die reëls te bly. As sy na ’n sogenaamde sielsgenoot gesoek het, sou dié man beslis nie op die kortlys verskyn het nie. Hy’s hopeloos te jonk daarvoor – mans in hul twintigerjare het gewoonlik nog nie eens ’n siel gekweek nie. Sy kyk tersluiks na hom. En Zander Muller, voeg sy in haar gedagtes by, is ook nog lank nie gereed daarvoor om ’n pantoffel-en-koerant-man voor die televisie te wees nie. Met of sonder ’n hond aan sy voete ...
Dis waar. Die lewe bied talle voordele vir ’n flerrie. As Zander Muller nie vir haar beskikbaar is nie, sal die ou langs hom wel wees. Haar hart is ’n mallemeule. Miskien kry sy darem ’n kans om in die sportmotor te ry en vir die stadiger ouens langs die pad te waai terwyl hulle die teer vreet.
“Waaroor moet ek met jou pa gesels?” vra sy.
“Small talk. Die weer en so aan. Politiek is verbode, behalwe as jy met sy sieninge saamstem.”
“Wat vra jy van my? Do not rock the boat?”
“Asseblief nie. Dis wat ék altyd doen – ek rock die boat dat die water spat en my pa is seker daarvan ek gaan nog in my dinges in versuip.”
Sy weet goed hoe waardeloos ’n mens voel wanneer almal vertroue in jou verloor het.
“Nou goed dan, Zander,” besluit sy. “Dit behoort die naweek ten minste interessanter te maak.”
Dis ook hoe sy dit vir Petra probeer verduidelik toe sy Maandag ná werk daar inloer om haar van Zander se plannetjies te vertel.
“Jy soek moeilikheid,” waarsku haar suster asof sý die oudste is. “As ’n mens iemand probeer mislei, ontplof dit gewoonlik in jou gesig.”
Petra se kinders hardloop verby en sy gryp gou eers een om sy loopneus af te vee voordat sy verder raas. “En om dit met ’n bekende man soos Adam Muller te probeer doen, is dom. Jy gaan ’n gek van jouself maak.”
“Wel, dis nou te laat vir omdraai,” sê Roxy. “Ek het Zander belowe, ek kan nie op my woord teruggaan nie.”
“Jy kan vir hom verduidelik dat jy weer daaroor gedink het ...”
“Ek gaan nie!” Roxy koes toe die twee terroriste weer verbykom en haar amper van haar voete af stamp. “Ek soek iets opwindends in my lewe sodat ek iets nuuts het om op my blog te skryf, iets wat my lesers nie sal verveel nie.”
“Jou blog is allermins vervelig. Die meeste mense wens hulle was bevoorreg genoeg om vakansie te hou vir ’n werk en al die toeristeaantreklikhede te sien waarby jy al ’n draai gemaak het.”
“Ek praat nie van die blog wat ek vir Tafelberg Toeriste skryf nie. Dis deel van my werk en ook maar bra vervelig. Glo my, dis later glad nie meer snaaks om die apartheidsmuseum die sestiende keer te besoek of die kasteel tien keer per jaar vir oorsese besoekers te wys nie.” Sy draai haar na Petra. “Ek het nie geweet jy lees my blogs nie.”
“Jong, ja. Die enigste reise waarop ek deesdae gaan, is virtuele reise.”
“Dit was jou eie, vrye keuse om ’n voorstedelike volksmoeder en vrou te word, Petra,” lag Roxy toe die kat baie benoud verbygeskarrel kom met die twee kinders in volle vaart agter hom aan.
“Sover ’n mens ’n keuse het as jy so verlief raak dat jou hormone hande klap, ja.”
“Sien jy – dís waaroor ek op my geselsblog op LitNet wil skryf – oor hormone wat hande klap en sulke dinge.”
“Die een wat jy onder die Jessica Rabbit-skuilnaam bedryf?”
“Ja. Lees jy dit ook?”
“Soms. Want dis ’n manier om iets te wete te kom van my suster se geheime lewe, daardie dele waarvan sy mý nie vertel nie en nog minder op Facebook uitlap. Die sappige dele waaroor die waaghalsige Jessica Rabbit met haar los lippe skryf.” Haar stem raak spottend. “Is daar nóg iemand wat die skokkende goed lees wat jy skryf?”
“Jy sal op jou rug val oor hoeveel hits die nimlike Jessica kry. En hoeveel reaksie, veral wanneer sy iets aanvegbaars kwytraak.”
“Dis alles ’n fantasie,” kritiseer Petra. “As ’n mens alles moet glo wat daar geskryf staan, sou ’n mens sê jy’t ’n liefdeslewe wat vir niks skrik nie.”
“En wat laat jou dink ek het nie?”
Petra rol haar oë. “Ek ken jou mos.”
“Ja, seker,” sê Roxy geheimsinnig. “Maar jy ken nie vir Jessica Rabbit nie!”
En met ’n knipoog is sy by die deur uit.
Laat Petra maar gerus ’n bietjie oor haar wonder. Haar suster met haar droomlewe hoef glad nie te weet presies hóé flippen vervelig haar lewe is nie – of sy nou Roxy Roux is, of haar verbeel sy is Jessica Rabbit!