Читать книгу Ratels - Leon van Nierop - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

Het jy geweet daar is twee honderd twee-en-sestig sleng-woorde vir boobs? En dat die mensdom op aarde met vyf-en-negentig siele toegeneem het vandat jy hierdie sin begin lees het?

As ek so na die klomp hier om my in die supermark kyk, staan al vyf-en-negentig van hulle in die tou wat wag om bedien te word. En elkeen lyk of hulle nou net gehoor het Bella in die Twilight-movies is dood of Justin Bieber het vir die eerste keer geskeer.

Julle wonder seker hoekom ek kruideniersware in sakke pak. “Plastic” soos die vrouens agter die tills dit noem. Ek is een van die min laaities wat toegelaat word om “kruideniersware” in sakke te pak. (My ma het contacts!) Dis hoe ek ekstra geld verdien om eendag ’n iPad te koop.

Amper al my pelle het iPads, dan speel hulle Call of Modern Warfare Part 3 en selfs Die Heuwels Fantasties se nuwe musiekvideo’s op ’n groter skerm as my arme selfoon s’n.

Maar goorgatte wat die virus in my laptop sit, is dié wat glase koop. Dan moet jy die glase sagter hanteer as wat jy aan ’n meisie se hand sou vat, saggies in koerantpapier toedraai en dit mooi versigtig tussen die ander goeters inpas. As een van daai glase kraak, moet ék please explain teenoor tannies wat na babapoeier en laventel ruik en oor hulle bifocals na my staar.

Ek sien mos hoe die kwaai tannie my kyk terwyl ek een van die goedkoop koeldrankglase wat sy gekoop het in koerantpapier toedraai. “Sorgvuldig, seun!” dreun haar stem. Ek het die woord “sorgvuldig” laas in die graadelf-eksamen gekry toe ons ’n sin daar­mee moes maak, en toe dadelik vergeet wat dit beteken. Nou ont­hou ek weer en dis regtig so agter die bult!

Ek sit die glas “sorgvuldig” in sy papierbedjie en begin dit toedraai terwyl haar oë soos Angry Birds na my toe pop.

En toe sien ek dit op die stuk koerant in sulke mooi letters wat nes die Ar Blanca-skrif op my rekenaar lyk:

RATELS

Somerskool naby Hoedspruit

Ek het nie ’n cooking clue hoekom nie, maar die naam trek my aan­dag soos ’n skoolbank vol kougom waarin ek nou net gaan sit het. Miskien omdat ek prentjies van diere versamel, en die jongste een in my diereboek is dié van ’n ratel.

Ek steier onder die aanval van die tannie se Angry Birds-ogies én die woorde in die advertensie.

Gelukkig is daar iets met haar kredietkaart verkeerd. “Card declined!” sê Mavis, die vrou agter die till, en almal kyk op. Dit gee my kans om die koerantbladsy oop te vou en ordentlik te lees:

Ses leerders word elke jaar gekies om by die natuurskool Ratels naby Hoedspruit in Mpumalanga meer van die natuur te leer en hulle voor te berei op die toekoms. Die kursus duur vanaf middel­-Desember tot middel-Januarie. Die skool help ook slagoffers wat deur boelies geteister word en bied rehabilitasieprogramme aan om slagoffers se selfbeeld te verbeter en vir boelies te wys dat dit nie cool is om ander leerders af te knou nie.

Skakel Stefan Ahlers by 013-555-2902.

Ek vries soos wanneer ’n onnie jou met ’n geskiedenisdatum op jou hand in ’n toets vang. “Cowabanga!” skree ek. Dis uit voor ek kan keer.

Die kwaai tannie kyk vir die soveelste keer na my (dit raak nou regtig boring!) terwyl sy in haar handsak soek na ’n ander krediet­kaart. Toe gooi sy van frustrasie sommer ’n klomp note op die toonbank.

Ek ruil die koerantbladsy vinnig met ’n ander een waarop toilet­papier geadverteer word en steek die Ratels-bladsy in my rugsak. Dit klink vir my na ’n wenner!

En die beste is: My ma sal val hiervoor. ’n Somerskool in die bosveld – dan hoef ek nie meer “kruideniersware” in sakke te pak nie.

Ek het eendag gekla oor “groceries vir kwaai ou anties”, toe preek my ma oor ek my tale so meng. Van toe af is ek baie versigtig wat ek voor haar sê. En ek leer ook sommer ’n paar nuwe Afrikaanse woorde. Ek probeer baie hard om my taal suiwer te hou, maar party Engelse woorde is net soveel makliker. En dis anyway hoe almal by die skool praat.

Die aand by die huis wag ek tot een van my ma se simpel sepies begin (waar niks elke halfuur gebeur), toe druk ek die advertensie onder haar neus. Sy kyk so met haar linkeroog daarna. “H’m.” Ek herinner haar aan al die boeke wat sy oor wildtuine en diere vir my koop met die hoop dat ek eendag ’n veearts sal word.

Dis eers toe ek die aand in my bed lê en vinnig die FHM onder my kussing indruk, dat sy langs my kom sit met die einste advertensie. En voor jy kan sê “Karen Zoid ruk!” het sy ingestem.

Daarom sit ek nou op ’n bus Hoedspruit toe, op pad na die somerskool Ratels, en ek het nog nie eens een dier gesien nie! Net snaakse name van lodges wat klink na iets uit ’n mopaniewurmresep of ’n padkaart van die diep-bosveld duskant Help-my-of-ek-help-myself en Frieken-duskant-die-doringdraad. En bome. Moewiese baie bome by plekke wat cheetahs rehabiliteer en mampoer maak en safari’s “in die wildernis” aanbied.

Rehabiliteer. Gross woord. Dis die einste woord wat Skellie, ons aaklige­ geskiedenisonnie, altyd gebruik. “Fanie Ferreira! Jy het rehabilitasie nodig. As daar nog lyfstraf in skole was, het jy nou ses van die bestes gekry.”

Hoekom noem hulle dit “die bestes”? Daar’s mos niks lekkers aan seerkry nie. Of dalk verstaan ek nie die kuns van rottangswaai nie. Dank die hemel ons word nie meer geslaan nie, want ek is maar kleinserig. En my oë raak vol water vinniger as ’n sepie-actress s’n.

Ek eye die chick ernstig wat twee rye voor my in die bus sit. Flippen hel, maar sy’t mooi bene! Party ouens is boob-dudes. Ander­ hou van oë. Maar ek is ’n bene-dude, lock stock en two smoking barrels. En daai girl mag maar.

Veral met my. En, o ja! Ek mag nou vir vyf beeldskone weke my hare laat groei. Cool bananas! My mission is dat my kuif nog my ken moet raak – dan het ek die jackpot geslaan!

Elke kort-kort skuif die girl in haar bank, dan lig sy haar been so effens en stoot hom ’n katspoegie verder oor die paadjie om lek­kerder te slaap. Oe. Dan skuif haar rok so bietjie-bietjie bokant haar knieë en haar bene word net al hoe mooier en al hoe bruiner.

Sy het die coolste tatoe net hier waar haar rokkie en haar been die tydelike met die ewige verwissel – juis daar waar ek al een keer aan Mientjie se been gevat het en toe nie uit die skoolbank kon opstaan nie.

Ek probeer sien wat dit is. Lyk vir my na iets met ’n stert. Dalk ’n draak. Of ’n likkewaan. Maar watter girl sal nou ’n likkewaan op haar been tatoeëer? Hoe ook al, sy blend ernstig met my verbeel­ding.

Sy lyk na die soort waarteen jou ma jou altyd waarsku. En is hulle nie die coolste nie? Nes daai Angelina Jolie-movies wat die ouens so gereeld pause of die Sharon Stone-stukkie uit Basic Instinct wat ek nou al uit my kop en onderstebo-agterstevoor-en-vorentoe ken.

Die ouens op skool dink ek’s ’n bietjie van ’n freak. Wag, net voor jou ma-hulle die boek sien en dit wegvat omdat hulle dink dit gaan ’n siek paartie wees dié: Ek’s bietjie van ’n freak, want ek is anders. Oukei? Nie agter die tyd nie. Net anders.

Nee, man. Jissie! Nie só anders nie. Ek speel nie vir die ander span nie. Ek bedoel anders soos in slimmer. Intelligenter as ’n MXit profile en slimmer as een van daai ape in Rise of the Planet of the Apes.

Oukei. Ek gaan dit sê. Ek’s ’n amperse genius. Met ’n IK hoër as die Burj Khalifa in Dubai. Darem nie so slim soos Dustin Hoffman in Rain Man nie (frieken cool movie, tien uit tien), want ek kan darem nog volsinne praat. Daai dude kon nie. Maar ek sien die lewe anders, nes hy.

Ek rook ook nie skelm nie, ek rol nie zolle nie, ek doen nie recreational­ drugs nie, ek was nog nie op E nie, en ek het nog nooit verder as ’n stywe-lip-smooch gekom nie.

Die girls wat ek probeer soen, hou hulle lippe styf nes my tannie as sy my groet. Dan trek sy haar lippe saam soos ’n posbus waardeur jy nie eens ’n love letter kan glip nie. Jig. Dit voel of jy ’n iPad soen.

Anyway. Vir my is die lewe iets wat nog ontdek moet word. Ek fake die lewe, nie die dood nie. Want teen my muur is awesome aan­halings soos: Die lewe gaan nie net oor die goeie kaarte wat jy kry nie, maar ook die slegtes waarmee jy partykeer wen. Of: Life is not a problem, but a mystery to be lived.

Ek dink iemand met die naam van Thomas Merton het dit gesê, geseënd is die dude, sy hele familie, sy koelboks en sy grassnyer.

Die hele palawer het begin toe my ma op my dagboek afkom waarin ek persoonlike confessions skryf. Goeters en katoeters wat ’n mens nie met oumense deel nie. Ek het die boek net betyds uit haar hande gegryp voordat sy by bladsy vyf kon kom, want ek het dit geskryf nadat ek en Ansie van graadelf ’n bietjie emotional baggage uitgeruil het. Wow, selfs my pen se ink het gesmelt terwyl ek dit geskryf het.

Gewoonlik noem my ma my Velskoen, want dis my bynaam. Nie “Veldskoen” soos in die Voortrekkers se tyd saam met die dino­sourusse nie, maar sonder die d. Want my pa en ma het by die Velskoen-Inry in Randburg ontmoet. En elke anniversary piekel ons in gelid, koelboks en kredietkaarte Velskoen-Inry toe, dan eet ons hardgekookte eiers en kerriefrikadelle en sulke aaklige aanmaakkoeldrank wat soos piepie lyk. Jig. Oumense kan darem gross wees!

My tande het nog nie eens behoorlik gewissel nie, toe’t ek al ’n hond uit ’n bos in die motor gepraat. My ma-hulle het na een of ander simpel movie gaan kyk waar sy my oë en ore die hele tyd toegedruk het (ek het die movie later op DVD uitgeneem en dis kick-ass cool!). Toe hoor ek my ma en pa praat van Velskoen.

Dit was die eerste ordentlike woord wat ek gesê het: Velskoen sonder die d. Toe word ek Velskoen. Klink baie beter as Fanie Ferreira – só verkeerde kant van die spoor duskant Spanner Valley.

Hang aan ’n tak, ouens. Nie dat ek bedoel jy is af as jou naam Fanie Ferreira is nie. Regtig! Ek bedoel maar net, as my ma sê: “Fanie Ferreira! Kom ’n bietjie hier!” dan vries my bloed soos ’n Slush Puppie in ’n fliek se yskas en my neus se punt begin jeuk. My neus jeuk altyd as my gatvelle knyp.

Dan prewel ek so by myself terwyl ek na my ma toe loop: “’Seblief, moenie dat dit ’n HPH-oomblik wees nie.”

HPH staan vir Hou, poephol, hou! Iets wat my oupa gesê het toe ek klein was op die plaas en hy soos ’n asteroïed op pad aarde toe weggehol het vir een van sy bulle wat hom geskraap het.

So, die hele relaas is om te verduidelik waar Velskoen vandaan kom. En ek is flippen trots op die naam. Want dis ’n befonkte cool naam. Die woord befonk bestaan. Dis ’n program op RSG waarna ons altyd luister.

O ja. Nog iets wat julle moet weet. My pa is dood toe ek agt jaar oud was. Dit was omtrent ’n gatslag. Hy’t ’n hartaanval gehad. My ma sê: “Dit loop in die familie, en Velskoen, jy moet jou nooit onnodig ontstel of dinge so aantrek nie, Boet.”

Ek het eers gedink sy bedoel klere aantrek, want ek wou sê: “Maar ek dra mos my tekkies en my Calvin Kleins.” Toe besef ek sy bedoel upset. Ek moet my nie so upset nie.

Terwyl ek die girl met die bene hier in die bus uitkyk, check ek gou ’n paar songs op my iPod se playlist. Ek’s in die mood vir Adele, veral nadat sy so baie Grammies gewen het. Maar Die Antwoord kook ook. (Hulle het vir Lady Gaga nee gesê, kan jy dit oorvertel!) Ek freak natuurlik uit oor Jack Parow en Kings of Leon. Daar’s so baie songs op my playlist, my vingers raak gestres soos ek afscroll.

Oeps. My selfoon lui.

Die girl daar voor trek haar b-b-beautiful been terug om te sien wie se selfoon lui so hard met Lady Gaga se “Poker Face”. (Ek het dit gelaai net ná ek Lady Gaga se show in Suid-Afrika gesien het. Dit was bevange!) Ek weet my pelle sê “Poker Face” is dated, maar ek dink dis funky.

Het julle geweet Lady Gaga is the most searched female on Google? En sy het twintig miljoen Twitter fans. Wys jou net! Cool ouens het smaak.

Wa-wa-wag ’n bietjie. Die girl kyk om! Imagine sy is my soul mate! Ek skiem sy hou ook van Lady Gaga en Rihanna en Madonna, nes ek. Dan weet ek vir seker ons sal saam mooi musiek maak.

Nou kan ek haar eers behoorlik eye, want sy gee my so ’n diep kyk wat die donkerste geheime uit my sal trek en wat my bloed op ’n lekker manier laat kook en my knie sommer so laat klop. So asof sy weet ek dink sy’s die Flake in my roomys.

Flippen hel, ouens. Ek sien nou eers daar is meer aan hierdie girl as net bene. Sy het blonde hare wat so oor haar voorkop val, nes Angelina Jolie s’n, met net sulke mooi lippe wat ek sweer my in ’n koma sal soen. En hierdie girl met haar stywe toppie waardeur jy haar boobs kan sien, kyk my heeltemal uit my Tommy Hilfigers.

My foon hou aan met lui. Iemand voor in die bus begin “Poker Face” saamsing. Ek check my foon uit en sien my ma se gesig op die skermpie.

O, sherbet. Net nie nou nie! ’n Oproep van my ma sal omtrent nou so cool wees soos ’n massage in ’n ouetehuis.

My ma vra altyd eers hoe dit gaan, maak nie saak hoe haastig sy is of hoeveel emotional baggage sy op my wil afgooi nie. Die rede hoekom sy bel, kom altyd nadat sy gevra het: “Hoe gaan dit?”

Ek druk die groen katoetertjie en haar gesig verdwyn van die skerm af. “Hallo, Ma.”

“Middag, Velskoen. Hoe gaan dit?”

Eew!

“Lekker dankie, en met Ma?”

“Nee, ook goed, dankie.”

Hoekom begin my ma altyd ’n sin met nee? Dit maak mos nie sin nie! Sy moet eintlik sê: “Já, ook goed dankie.” Maar dis mos hoe oumense is – altyd opgetense oor niks. “Is jul­le al in Hoedspruit?”

Ek kyk na die bosse om my waar elke boom dieselfde lyk en waar elke slaggat in die pad dieper is as my verlede. “Nee, Ma.”

“Fanie.”

O, vrek. Dis dieselfde stemtoon as wanneer sy my vra hoekom dit so stil is in my kamer. Dan ruk ek die laken oor my. Ek het da­rem by daai opening scene in American Pie geleer hoe om my pose te hou.

“Ja, Ma?”

Sy kan nou enigiets sê soos “Dis sommer nonsens dat pampoen jou hare laat krul.” Maar my ma sê dit nie, want dan kan ek lag asof ek met grondboontjiebotter gorrel en die grootste strooi onder die son praat. Maar as haar volgende sin begin met “Jy moet verstaan …” weet ek hier gaan ons al weer.

“Jy moet verstaan, Fanie. Ek is trots daarop dat jy self besluit het om Ratels toe te gaan.”

Ja, Ma, dink ek. Ons is al ’n honderd keer hierdeur voor ek weg is. Ek wéét! Wie noem in elk geval ’n somerskool Ratels? Ek het eers gedink dis iets waarmee my kleinboetie in die cot gespeel het toe hy ’n baba was. Maar toe ek die prentjie van ’n ratel in my soogdierboek sien, het ek geweet dat ek eendag regtig een wil sien. Dis mos ’n baie skaars soort dier wat, nou ja, so taai soos ’n ratel is. Why state the obvious?

In elk geval. Die somerskool se naam is Ratels en dis naby ’n rivier met baie seekoeie en verder as ’n verskietende ster van reality af. Die dude wat die plek bestuur se naam is Stefan Ahlers. Wonder of hy sy ken so vorentoe stoot soos ou Skellie in ons skool en sy dun snorretjie met sy vingers draai.

“Ja, Ma. Ek gaan Ratels toe vir my eie beswil, want ek soek ’n bietjie avontuur.” Ek hoop sy like daai woord. “Beswil.” Een van haar favourite woorde.

“Laat weet as jy veilig daar aangekom het.”

Cowabanga! Ek het maklik daarvan afgekom. Nou moet ek net nie iets sê wat haar in ’n preek gaan laat verval nie.

“Dan praat ons weer later,” waag ek. Fok-kus, dude, sê ek vir myself. Fok-kus en chill!

“Jy moet gereeld bel, my skat, dat Ma seker is jy het jou malaria­pille gedrink en jou Tabard aangesmeer. En moenie vergeet van jou vitamienpille nie en vra dat Stefan ’n muskietnet oor jou bed hang.”

Muskietnet oor my bed. Jig! Dit klink na ’n babatjie in ’n cot met ’n ratel in die hand!

“En bring mooi foto’s saam.”

Ek neem my videocam saam waar ek gaan, sodat ek kan leer movies skiet voor ek filmskool toe gaan.

“Mooi bly, Snoekie.”

“Tot siens, Ma.” Gewoonlik sê ek “Tatta, Mamma,” maar nie met daai blonde bom met die Anne Hathaway-bene daar voor nie.

Iemand SMS my. Ek hoor die biep.

Die girl voor my het haar been weer uitgestoot. Ek dink sy’t my gevang staar. Dalk is dit sý wat ge-SMS het! Maar hoe sal sy my nommer ken? ’n Man kan hoop tot sy onderarmhare krul.

“Tatta, Velskoen. En ek het jou nagklere met die leeutjies ingepak. Jy is nou in die natuur. En ek wil graag hê jy moet tuis voel.”

What the flip? Ek kyk op my horlosie na die datumsyfertjie. Dis nie April Fools’ Day nie. Pajamas met leeutjies! Jig! Wonder wat sy sal sê as sy moet weet ek soek ’n tatoe wat soos Adele se autograph lyk.

Ons ry onder ’n brug deur en die mense begin hulle bagasie bymekaarmaak. “Ek dink ons is hier, Ma. Daar voor is ’n klomp winkels en die bus ry nou met ’n blink spoed. Ek praat weer met Ma!”

Ek check gou my SMS.

Wmj vra boetie Theo. Hy weet mos wat ek maak!

L2m SMS ek terug. Want ek luister mos na musiek. En ek vra: Wmj?

Lob text hy terug. My boetie lê altyd op sy bed soos sy SMS sê. Dan speel hy games op sy foon of hy check Idees Vol Vrees op Face­book of soek What the F Facts. ’n Mens kry die coolste feite daar. Soos: As jy agterstevoor na The Lord of the Rings kyk, gaan dit oor ’n laaitie wat ’n ring uit ’n vulkaan kry en die res van die fliek huis toe loop.

Terwyl die girl hier voor my haar heupe swaai, (Oh, man!) gooi sy haar hare so uit haar oë. Dit laat my kook soos hot tjoklit voor jy dit oor roomys gooi. En die manier waarop sy stap! Soos een van hierdie godinne waarvan ons op skool leer wat net haar pinkie lig, dan spat Gerard Butler se hele 300-army soos popcorn as jy in ’n movie oor ’n meisie se voete trip.

Ek gryp my sak en prop alles daarin. Ek vergeet áltyd iets. Dan gee my ma weer ’n preek wat langer is as Madonna se date lys van backup dansers. Ek wil nog probeer om ’n skrams hallo in te kry en wat’s jou naam, maar die girl stap asof sy op ’n missie is.

Terwyl ek agter haar aanloop, dink ek aan elke corny pick-up line wat ek al gehoor het. Enigiets om haar aandag te trek. Ek rammel hulle af terwyl ek verby tannies schlep wat na Johnson’s baba­poeier of Shield ruik. Dan’t hulle sulke dik voete wat net-net in hulle skoene pas. En hulle dra boonop sykouse in hierdie hitte!

Ek kan dalk vir die girl sê: “Ek like jou stukkend, maak my heel!” of: “Ek’s ’n slow makou met name, maar Speedy Gonzales met romance.” Of dalk: “Jy gee my ’n headrush. Wees my Disprin en los in my lewe op.”

Maar toe sy met die trappe afklim en ek my mond oopmaak om haar naam te vra, hoor ek net “Yikes!” uit my eie mond kom. Ek sweer dit was die eerste woord waaraan ek kon dink. Praat van corny!

Sy gaan staan en vee haar hare uit haar oë en sê: “Eew!” Toe verdwyn sy tussen die mense in.

En daar staan hý voor die bus. ’n Moerse dude van seker ses voet ses.

Al die ouens in die storieboeke wat my ma altyd lees, is ses voet ses met “vierkantige skouers” en “robuuste houdings”. Ek het eers gedink dit beteken dat die dudes hulle bors uitstoot, maar toe hoor ek robuus beteken eintlik macho. Nou hoekom sê die skrywers nie so nie? Dank die hemel niemand skryf meer so nie! (Behalwe in my ma se storieboeke wat sy by die bib. uitneem.)

Die ou dra ’n kakiehemp met ’n Ratels-logo op, en ’n broek wat korter is as my ankle-length designer Levi’s. Ek kan sommer sien: Hier moet jy nie strooi met kabouters soek nie.

“Hallo. Is jy Fanie?”

Flippit. Dan het hy nog so ’n diep stem ook teenoor my stemmetjie wat klink of iemand my nippels met ’n tweezer knyp!

“Uhm. Ja. Uhm. Hallo.”

Ek probeer robuus klink. Macho. Maar al wat uitkom, is snaak­se geluide. Ek voel skielik so hartseer soos ’n Saterdagaand sonder ’n fliek.

Ek sweer ek is bang vir die man. Chillax! sê ek vir myself. Moenie uitfreak nie, dude! Dis net ’n gewone ou!

“Welkom op Hoedspruit. My viertrekker staan hier anderkant. Is dit al wat jy gebring het?”

Wat de hel is ’n viertrekker? Ek ry g’n op ’n frieken trekker nie!

“Defnislis, ja. Uhm.”

“Ek is Stefan.” Hy steek sy hand uit en druk myne so pap soos ’n pannekoek wat uit ’n microwave kom. Eew!

“Ek is Velskoen,” sê ek in my diepste stem wat wil-wil deur­slaan.

“Veldskoen?” vra hy.

“Nee, Velskoen. Sonder die d. Soos die inry.”

Stefan kyk na my asof ek pas gesê het Suid-Afrika het sy eerste crime-free dag gehad. “Nou maar welkom, Velskoen. Een van die ander ouens is ook reeds hier. Vincent de Wahl. Ek dink julle sal van mekaar hou.”

Sjoe. Hy praat net sulke mooi Afrikaans soos my ma. Hy klink net baie beter as sy. En sy oë lyk of hulle lag.

Hy beduie na ’n smart four-by-four wat voor ’n restaurant ge­anker is. O! Nou verstaan ek. Dis nie ’n four-by-four nie, dis ’n “vier­trekker”.

Ou-ou-ke-ei! Viertrekker sal dit van nou af wees.

Hy kyk na my kniebroek wat tot net bokant my enkels hang. Ek kyk af en skrik. Sjoe, ek het nooit gedink ek het sulke harige bene nie. ’n Mens kan letterlik elke haar langs my enkels tel. Ek dink nie girls hou van sulke harige bene nie. Miskien moet ek maak soos Albie, een van my Twitter-pels, wat sy beenhare afskeer. Ek sien hoe check die girls sy bene uit en dan steek hulle hulle tonge so in hulle kieste.

Ek laat val my sak, maar Stefan gryp dit net betyds. Imagine as daai sak geval het! My iPod en my videokamera is daarin! Ek het die iPod gekoop met my laaste spaargeld waarvoor ek die vakansie gewaiter en koerante afgelewer en groceries by die superette gepak het. Ek spaar nog net vir ’n iPad.

“Jy bly by jou ma?” vra Stefan toe hy die four-by-four, ekskuus, viertrekker aanskakel.

“Jip. My pa is dood toe ek nog klein was, kort na my boetie se geboorte,” blaker ek sommer alles in een sin uit.

“Nou goed dan. Op Ratels is ek jou pa en ma en sommer jou ouboet ook.”

Ek giggel. “Jy sal moerse snaaks lyk in drag as my ma.”

Stupid grappie. Eew!

Stefan grinnik. Hy draai in op die hoofpad en kies koers Kruger Wildtuin se kant toe.

“Als het lelik verspoel met die groot vloed in Januarie,” beduie hy. “Ons was selfs weke lank sonder water op Ratels. Maar daar is darem boorgate, toe kon ek dinge gelukkig beheer.”

Wmj text Theo.

Saam met cool dude, text ek terug. Want Stefan lyk nou baie cooler as toe ek hom ontmoet het. Nie soos die onnies wat ek ken of ander oumense nie. Almal oor vyf-en-twintig is vir my oud. Hulle lyk partykeer soos jong dudes wat gerecycle is.

“Hoe oud is jy?” vra ek.

“Vyf-en-twintig. En jy?”

Sjoe. Hy maak dit net …

“Sewentien.” Ek wou sê agtien. Want dis wat ek gesê het toe ek Ryan Gosling se Drive wou gaan kyk en die vrou my ID gevra het. “Ek is agtien. Check maar. Ek het al harde baard,” het ek gesê en sommer my lang kakebeen uitgestoot sodat sy kan voel. Dis waar. Ek skeer al vandat ek twaalf is. Maar in die vakansie skeer ek nie. Dan hoor ek die girls praat van “daai ou met die designer stubble”. Ek hou van designer stubble, nes George Clooney s’n in sy flieks.

“Soos jy teen dié tyd weet, Ratels is ’n somerskool. Die kursus duur vier weke. Julle gaan vier ouens en twee meisies wees. Ek gaan julle lewensvaardighede leer. En ons gaan elke dag in die na­tuur wees. Ons gaan stap.” Stefan grinnik toe ek frons en voeg vinnig by: “Hike, bru. En ons gaan bunjee. Ons gaan op die rivier ry. Ons gaan swem en ons gaan die hoofgebou herstel wat in die vloed beskadig is.”

“Ek hoop nie ons gaan bergklim of abseil nie,” sê ek.

“Natuurlik gaan julle. Hoekom?”

“Want ek ly aan hoogtevrees,” sê ek. “Toe ek Mission Impossible 4: Ghost Protocol gekyk het, het ek die helfte van die movie gemis. Ek was skytbang.”

“Hoogtevrees is in jou kop, Veldskoen.”

“Velskoen!” help ek hom reg, maar hy gaan aan asof hy my nie hoor nie.

“Ek gaan jou help om jou vrese te oorkom. En jy gaan lekker pelle maak met almal wat ingeskryf het.”

“Wie gaan almal hier wees?” vra ek.

So daar is twee girls, want ek soek seriously na ’n date. En in die bosse het die girls seker nie veel van ’n keuse nie, so ek gaan lekker connect!

“Jy weet al van Vincent de Wahl …”

“Wat kom maak hy hier?” vra ek terwyl Stefan afdraai op ’n grond­paadjie wat ons soos ’n cappuccino-maker laat skud en met ’n bordjie wat sê RATELS

“Hy het probleme en …” praat Stefan dit vinniger weg as ’n poep in ’n Cinema Nouveau movie, “dan is daar Pauline Maguba­ne. Haar ma stuur haar omdat sy glo verveeld is by die huis.”

“So sy het nie issues nie?”

“Nie waarvan ek weet nie. Barbra Botha kom ook binnekort. Sy het sewe onderskeidings in graadelf gekry en sy wil glo kom rus. Ek verwag Jan-Lourens later vandag.”

Klink na ’n koekerige klomp. Ek sal maar na Bruno Mars op my iPod luister en Verneukpan verder lees. Dis nogal ’n cool boek.

Terwyl ons ry, beduie Stefan na die bome en die plante. “Dis kierieklappers. Hulle is volop hier.” Hy wys na links. “En daar’s ’n kremetart.

“Ek het ’n boomhut in die groot kremetartboom op Ratels gebou, so julle kan daar uithang as julle wil.”

Ek sien wit blomme met rooi strepe. Asof hy my gedagtes sight-read, sê hy: “Impalalelies. Maar dis meer boompies as lelies. Een van die taaiste vetplantagtige boompies in die veld.” Hy hou skielik stil en beduie ek moet stilsit.

Sjoe, lekker instant natuurlessie met houding en in lekker Afri­kaans! Stefan sal maak dat ek beter Afrikaans begin praat. (En skryf!)

Voor ons staan ’n renoster en haar kalfie. Flippen hel. Ek het hulle al dikwels op Discovery gesien en een keer op YouTube, dieselfde tyd as toe daai ou van die fiets afgespring is deur een of ander bok. Maar ek het hulle nog nooit in lewende lywe só naby gesien nie.

Die renoster lyk soos ’n tenk – van dié wat in die oorlogmovies­ gebruik word. En sy het nog haar horing. Hulle stroop mos die renosters so in die wildtuin. Hier is sowaar nog een met haar ho­ring! Dis amper so skaars soos ou tienrandnote.

“Dis ’n witrenoster,” beduie Stefan.

Ek sien niks wits aan die renoster nie.

“Kyk. Sy’t ’n opvallende breë, plat bek. Dis hoe jy hulle uitken.”

Die kalfie kyk in ons rigting. Ek hoor skielik my ma in my ge­dagtes: “Haai moe-oeder. Is hy nie prrrag-tig nie?”

Ek capture haar op my videokamera en zoem stadig in.

“Hulle oë is baie swak, maar hulle kan goed ruik,” sê Stefan. “Ons het omtrent vyf van hulle hier op Ratels. Die wildbewaarders probeer hulle beskerm teen die stropers. En veral teen Scrapjaart.”

“Wie is Scrapjaart as hy by die huis is?” vra ek. Daai naam klink omtrent so cool soos ’n pienk hoender in ’n tutu op ’n rugbypaartie.

“My buurman. Oppas vir hom. Hy’s ’n teertou.”

Sjoe. Lekker woord. Teertou! Die ou raak net al hoe cooler! Ek voel sommer dadelik meer gemaklik by hom, want grootmense probeer mos om nie voor ons te vloek nie. Maar draai jy jou rug, dan vloek hulle erger as ons.

Ná omtrent vyf minute stap die renosters tydsaam oor die pad. Ek capture hulle steeds op my videokamera. Ek het nie geweet hulle is so mooi nie! Hierna capture ek vinnig vir Stefan op my selfoon en SMS dit vir Theo.

Ddln text ek. (Dinosaur de luxe not!) En ek sit ’n smiley face agterna. Dis my en Theo se geheime kode as ons bedoel wat ons sê.

Ons ry by twee groot hekke in waar ’n man met ’n boek aan­gestap kom waarin besoekers hulle name moet skryf. Ek moes een­dag inteken toe ek ’n papier by ’n kantoor in Randburg gaan afhaal het, toe skryf ek:

Name: David Beckham

Purpose of visit: To kick your balls

Address: Heaven is my woman’s love

ID number: 6666666666666

Hulle het dit nie eens fllippenwil gecheck nie!

Stefan praat met die hekwag in ’n taal wat ek nie verstaan nie en die man glimlag van oor tot oor – jy sien net tande.

“How are you?” vra hy vir my, nes my ma, maar dié slag in Engels.

“I’m fine,” antwoord ek en dink ek moet my ma tienkel. Toe sien ek Stefan frons en ek wonder: Is dit iets wat ek gesê het? Of dalk nié gesê het nie?

“And how are you?” voeg ek haastig by.

Die man glimlag breed. “Welcome to Ratels.” Hy ry so op die r. “I am fine.” En hy laat ons deur.

Ek verwag Stefan gaan vir my preek, maar hy lyk nie na die prekerige tipe nie, waaroor ek dankbaar is.

Toe is ons op Ratels.

Ons ry verby die grootste boom wat ek nog ooit in my lewe ge­sien het. Dit lyk of hy onderstebo geplant is.

“Dis ’n kremetart,” beduie Stefan. O ja, ek het al van hulle gehoor. En ek het al van hulle op foto’s en screensavers gesien, maar nog nooit regtig hier by my nie. Cowabanga! Daar ís ’n boomhuis in die kremetart gebou!

Dan is dít die huis waarvan Stefan netnou op Hoedspruit gepraat het.

“Hei, cool!” beduie ek. “Dis rad!”

“Ek en my pelle het altyd daar gespeel toe ons nog laaities was. Ons het dit help bou. Julle kan daar uithang as julle wil. Dis baie veilig,” sê Stefan.

Ons ry verby die boom op pad na die hoofkamp toe.

“Rekspring jy?” vra Stefan. Ek voel aan my onderbroek se rek. Wat praat hy nou van rekke? Ek frons.

“Bunjee jy?” lag Stefan toe hy my gesig sien. Wow. Hierdie ou gooi omtrent die taal.

“Ek sê mos ek het hoogtevrees!” verdedig ek myself.

“Het jy geweet die oudste rekspringer is drie-en-tagtig?” vra Stefan terwyl hy om ’n draai gaan waar bome geel in die blom staan. Ek sien hulle het moewiese dorings en ek wonder wat sal gebeur as ’n mens in een van hulle beland.

“Jip. En ek is pas agtien, en ek gee nie om of daai ou van sy IK na sy ego kan bunjee nie. Ek bly plat op die grond!”

Toe sien ek die kamp. Wow. Wat ’n stunning plek! Dit is so ont­werp dat ’n mens die geboue nie met die eerste kyk kan sien nie. Dis om bome en rotse gebou sodat niks in die natuur versteur word nie (of so lyk dit vir my). Oral hang sulke takke met pers en rooi blomme.

Dit lyk amazing, amper soos op ’n Valentine’s kaartjie. Daar loop ’n rivier ’n ent onder die kamp verby en iets snork daar. Of ek dink dis snork. Ek hoop nie dis krokodille nie. Maar krokodille snork mos nie? Dalk is dit seekoeie.

Ek flippen hoop so! Maar hulle is ook mos gevaarlik …

En om langs die rivier te stap is mos baie manroties! Of “romanties” soos my ma sê.

Daar is ’n lang ry kamers links van my met net sulke moewiese stoepe. Dit kyk af op die rivier. Lekker baie vryplek as jy die regte girl kan kry!

As ek na die klomp takke en goeters daar onder kyk, lyk dit of die rivier tot net onder die stoepe gevloei het. Stefan het mos iets gesê van die groot vloed. Ek onthou ons moes op skool skryf oor die krag van water en ek het toevallig die disaster in Mpumalanga gekies én daar was die mees amazing video’s op YouTube – daarom weet ek.

Dan is daar ’n hoofgebou met ’n grasdak. Ook maar goed my ma is nie nou hier nie. Sy sou haar weer in ’n koma genies het, dan moes ek weer anti-whatever-se-naam by die apteek gaan koop het. En hier is hoeka nie ’n apteek nie.

Wow. En daar is ook ’n ontvangs met groot deure met olifante daarop uitgekerf. En daar staan Ontvangs/Reception. Nie net “Reception” soos op ander plekke nie. So ou Stefan gooi die taal! Ek vat my videocam en laat gly dit oor ’n gebou met tafels en stoele tussen ’n klomp doringbome waar dieselfde pers blomme uit bome hang. Flippen cool!

Dit is seker die restaurant. Die heel belangrikste plek in enige kamp.

Ek is een van daai gelukkige ouens wat kan eet net wat hulle wil. Om die waarheid te sê, ek moet vreet dat my are frieken pop om gewig op te tel! My onderwysers sê ek verbrand energie en kalorieë so vinnig soos die spoed van klank. Maar wat kan ek nou daaraan doen? Behalwe om net al hoe meer te eet en te sien hoe jaloers is die girls wat gedurig op diets is.

Met die uitklim rammel Stefan die reëls af – anders as ons skool­hoof wat altyd met so ’n Darth Vader-stem afkondigings maak asof hy ons meedeel ’n planeet is op pad om met die aarde te bots en ons almal gaan oor vyf minute uitgewis word.

“Luister. Dié plek is nie omhein nie, so julle mag net in die gebiede rondom die kamp tot by die rivier loop en …” Net daar steek Stefan vas en ek voel hoe my hart met dieselfde ritme as een van Die Antwoord se hits klop, so Kadoef! Kadoef! Kadwaa-aa-aa! Want hier kort by my voete staan ’n ratel! ’n Regte, egte ratel.

My oë pop omtrent uit my kop, want dit is een van die mooiste goed wat ek nog vandag gesien het, behalwe natuurlik die girl op die bus se bene. Die ratel het ’n wit en swart pels en hy lyk so mooi, ’n mens wil hom sommer optel en daardie wit aflek soos ’n roomyslollie. Wat seker nie ’n goeie idee is nie, want sy vel is glo so taai dat hy nie eens ’n by se steek voel nie, behalwe op sy snoet. En hy is glo ook nie baie lief vir mense nie, nes ek.

“Ek skakel die kragopwekker tussen tienuur in die aand en vyf­uur in die oggend af. So dis ligte uit tussen tien en vyf,” onderbreek Stefan my ratel-gedagtes.

“En wat gebeur as die ligte vyfuur aankom?” Ek weet sommer hier’s iewers ’n catch.

“LO!”

Dit klink na iets wat jy nog op ’n outydse floppy disc gedoen het.

“En dan gaan draf ons tot by die kremetartboom tot Lavinia ont­byt maak.”

“Oe, Blommie,” sê ek deur my neus, “ry sy op ’n besem?”

“Sy bestuur die kamp saam met my en sy behartig die kombuis. Maar Lavinia is moeilikheid op bene. Ek sou geen kanse met haar waag nie! So Velskoen, jou bungalow is nommer ses. Daar is vier bed­dens. Jy slaap saam met Jan-Lourens en Vincent. En aangesien Vincent al hier is, kan jy solank gaan bladskud sodat julle mekaar kan leer ken. Ons gesels later vanmiddag weer. En laat weet jou ma jy is veilig!”

Ek tel my sak en videokamera op en wals na die bungalow met die grasdak en die gaas voor die vensters. Ek skakel die kamera aan en capture hierdie oomblik. Ek swaai die kamera na die bome en die impalalelies en dan terug na die bungalows. Dan draai ek in die rondte met so ’n vinnige swiep-movement om alles nog cooler te laat lyk.

Wow. Dit lyk nes ’n NatGeo-dokkie gekruis met ’n Black Eyed Peas-musiekvideo!

In die bungalow is daar muskietnette oor die bed, nes my ma ge­hoop het.

Ek soek met ’n stink spoed na die badkamers, want ek het ’n klomp Coke op die bus gedrink en daar was so baie mense dat ek gehoop het ek kan knyp tot hier.

Ek bestorm die badkamers vinniger as wanneer ek my laptop afsit as my ma onverwags by die kamer inkom. En kan ek vir enig­een van julle sê wat al moes knyp – as jy dit uiteindelik release, is dit awesome. Die verligting spoel sommer so deur jou.

Ek luister na al die geluide – hier voor my en om my en agter my. ’n Voël skreeu nes in daai ad waar die dude iets in ’n boom probeer sien en nie sy bril op het nie. Ek dink dis ’n visarend. En dan daai aaklige goed wat by ons in Joburg ook so skree. My ma sê hadidas skree so, want hulle het hoogtevrees.

Grappie. Van my ma. Lame deluxe.

Ek is net klaar, toe voel ek iemand kyk vir my. En daar staan hy in die deur. So ’n groot blonde ou in ’n tenktop met muscles en ’n kom-moer-my-gesig. Ek kan sommer sien: Hier kom weer ’n HPH-oomblik.

Hy staan in die deur soos Jason Statham voor hy ’n criminal se kakebeen afslaan. Ek kan sien hy is op steroids, want hy’t so ’n kyk in sy oë wat waarsku dat hy iemand seermaak voor iemand hóm seermaak.

Hy move vinnig.

“Ha-ha-hallo. Ek is Velskoen en ek …”

“Ek gee nie ’n hel om of jou naam Chad le Clos is nie. Ek is Vincent de Wahl. Deal with it.”

Die volgende oomblik gryp hy my en druk my gesig in die krip. Nou moet julle weet, daar’s sulke pienk steentjies in wat nogal lek­ker ruik. Die reuk hang die hele badkamer vol. Maar dis nie lekker as jou mond daarin gedruk word nie.

Ek skree, maar Vincent-frieken-criminal-van-die-century het nie ’n saak met my nie. Ek voel die steentjies teen my gesig skuur en my mond word nat en skielik ruk al die chips wat ek geëet het deur my lyf en kleur die pienk steentjies geel.

“Nie op my flippen skoene nie, bliksem!”

En terwyl die spasmas deur my lyf ruk, fluister hy: “Ek is die nek van die plek, het jy my?”

Ek probeer antwoord, maar die smaak in my mond is te sleg.

“Het jy my?” skreeu hy weer.

“Ja,” kreun ek dit uit.

“Nou flippen hou my. Urk.”

En ek wonder skielik. Wat is ’n urk?

Toe weet ek: Hy gaan my grootste nagmerrie wees. En nie eens Dwayne-frieken-Johnson sal my kan help nie.

Ratels

Подняться наверх