Читать книгу Ratels - Leon van Nierop - Страница 7

Hoofstuk 2

Оглавление

Vincent kry my om die nek beet en sleep my dieper by die badkamer in. Ek wil soos in ’n horror movie skreeu, maar ek dink dit sal sake net meer complicated maak.

Al wat ek weet, Vincent de Wahl is ’n frieken boelie en ek wens ek kan sy toonnaels een vir een met ’n knyptang uittrek of hom dwing om ’n hele dag na een van Kurt Darren se songs te luister.

Nou kyk. Ek vloek nie eintlik nie. Nie met my ma wat elke woordjie bekyk soos ek my puisies uitcheck voor ek Clearasil aan­smeer nie. Maar vir hierdie dude skreeu ek sommer ’n paar woorde wat ek nog net agter toiletdeure gesien het.

“Is jy ’n sissie, hu? Is jy ’n ou meisietjie, dofkop-donder?” sis hy hier teen my oor. Hy verwurg my, want my kennebak steek so ver uit dat hy lekker baie vashouplek het, en ek kan op geen manier loskom nie

Snaaks wat op sulke oomblikke deur jou kop gaan. Pause. Rewind. Fast forward. Rewind, replay. Delete. Dis waaraan ek nou dink.

Ek wil hierdie nagmerrie pause en rewind en dan weer pause net voor Vincent my gegryp het. Dan wil ek die res delete.

Ek dink skielik aan een van Adele se songs terwyl Vincent my wegsleep soos ’n hiëna wat ’n brakkie beetgekry het.

Adelation, noem die ouens dit as jy Adele volg op Twitter of Face­book­.

Hoekom sal ek nou aan Adele dink? Asof sy my uit hierdie drama kan red!

Stuff it, dit suig!

Ek probeer “Moves like a jagger” van Maroon5 se woorde sê net om my aandag af te trek van wat nou met my gebeur, maar ek kom nie verder as die vierde woord nie. En dit voel of ek in ’n Play­Station game is wat my boetie oor en oor speel.

Ek weet nie wat Vincent met my gaan maak nie. Maar ek ruik rook op sy asem en te veel Axe onder sy arms en jel wat sy hare laat regop staan asof dit met Pritt vasgegom is.

Hy sleep my tot in een van die toilette en druk my kop in die bak. Ek weet nie of dit al met een van julle gebeur het nie, maar maak nie saak hoeveel Sanpic en Toilet Duck en whatever hulle gebruik om daai bak te sanitise nie. Dis gross.

Ek onthou te laat om my asem op te hou en kry water in my mond en neus.

“Sucker! Loser!” skreeu Vincent. Terwyl ek borrels blaas in die water, dink ek aan ’n PlayStation game wat ek eendag gespeel het waar iemand se kop in ’n moeras vol modder gedruk is. Ek het myself geskeur daaroor, want net so gross as wat dit was, so snaaks was dit. Maar nie wanneer dit met jou gebeur nie.

Toe voel dit asof ek weer kan fokus. My bene is lank, en dis hier­die einste bene wat ek nou gebruik om Vincent se nerdskoppers onder hom uit te pluk. Hy vloek en val bo-oor my.

Ek spring op en connect met die rand van die toiletbak. Nou is dit die regte setting vir ’n slasher movie, dink ek terwyl ek my oë knip teen die seer.

Ek probeer asem kry. My neus is vol water wat tot in my keel loop. Dit gee my dadelik ’n moerse migraine waarvoor geen Panado sal help nie.

Vincent het my nog nie genoeg gediss nie. Hy gee my ’n skuins klap, maar ek kry dit reg om weg te kom.

“Rock off!” is al wat ek kan uitkry voor ek by die deur uitbars. Ek is nou heeltemal uitgefreak. Maar ek hol soos Bennie die atleet in ons skool as hy die wenstreep sien. Ek gly in water iewers, maar ek behou my balans. Toe laat ek ooplê tussen die bosse deur.

Ou Paal het eendag gesê ons moet ’n sin maak met “ooplê”. Een van die ouens het dit verwar met opelyf. Niemand het ’n clue gehad wat dit is nie, maar toe skreeu iemand “diarree!” Toe flip dit klas uit. Ons het vir dae lank vir Magiel gesmile asof hy ’n soet samoesa is.

Nou verstaan ek eers wat ooplê beteken. Want alles aan my vou oop soos engeltjies se vlerkies op ’n Moedersdagkaartjie. Ek dink skielik aan al die simpel horror movies wat ek al gesien het waar die girl laat ooplê tussen die bosse deur. Sy hardloop altyd in slo-mo asof sy gevang wil word, terwyl die hand-held kamera agter haar aansuiker. Dan skreeu die ouens in die fliek en hits die psycho met die byl aan. Gross!

En nou het ek my eie version: The Ratels Chain Saw Massacre gemeng met Paranormal Activity 4. Maar hierdie dude verdwyn nie as jy “stop” op jou remote control druk nie.

Ek val oor los klippe en loop my op ’n kol befoeterd teen ’n boom vas, maar ek hardloop! “Ek sal nie huil nie, ek sal nie flippenwil huil nie!” hyg ek soos ek altyd my Bybelversie loop en opsê het toe Ma my nog gedwing het om Sondagskool toe te gaan.

Ek proe sout op my tong en ek weet nie of dit bloed of trane is nie.

En soos Post-its op my computerskerm gly die woorde deur my kop: Zool. Bliksem. Terroris. Boelie. Suurgat. Boelie. Oeloe! Pui­sie­gevreet!

Uiteindelik is ek so moeg ek kan nie meer hardloop nie. Ek gaan staan en loop dan soos ’n zombie tot by ’n hek. Duiwelsvallei, Schalk Krynauw staan op die hek. En onderaan die Krynauw iets wat lyk soos ’n prentjie van ’n ou scrapmotor. Maar ek het nie ’n saak daarmee nie. Ek wil net wegkom van Ratels af, want my kop raas en ek skiem hier kom groot marakkas.

Ek strompel deur die hek en sien iewers voor my ’n huis. En langsaan iets soos ’n plakkerskamp met ’n karavaan en scrap een­kant.

Ek kom tot stilstand en sit my hande op my knieë om my asem terug te kry. Toe waag ek dit eers om om te kyk. Maar Vincent ag­tervolg my nie. Ek dank elke plastic pienk flamink in my ma se tuin hy’s nie daar nie.

Skielik bars daar nou vuurwerke los. Ek verstaan eers nie wat aan­gaan nie. Dis mos nie Guy Fawkes nie! Maar die volgende oom­blik besef ek iemand skiet op my.

Die grond maak sulke ontploffinkies langs my, nes in daai koel fliek met Ryan Reynolds en Denzel Washington wat in die Kaap geskiet is. Ek dink dit is Safe House.

Ek rewind alles wat pas met my gebeur het in my kop en swaai om. Ek spring nes ’n Michael Jackson impersonator wat die Moondance doen deur die hek. Toe eers hou die geskiet op.

Ek begin huil. Geen flippen PlayStation game kom naby wat ek nou net deurgegaan het nie. En selfs ’n metrosexual soos ek kan net soveel vat.

Dis wat die girls in die klas my noem. ’n Metrosexual omdat hul­le sê ek is tuis in my eie vel, ek voel nie bedreig deur die rugby jocks nie en ek weet presies wie ek is. Hier is geen ID-krisis nie. Ek weet nou nog nie of dit ’n belediging of ’n boost vir my ego is nie.

“Wat de hel soek jy op my grond?” Die man klink of hy deur lemmetjiesdraad praat.

Nou waag ek eers om hom uit te check. En daar staan ’n liederlike ouballie, ’n dinosaur met sulke grys hare en so ’n boepmaag en net so ’n frieken geweer in sy hande.

“Niemand van Ratels mag hulle voete op my grond sit nie!” Hy loop tot by my. “Ek vra weer. Wat de hel soek jy hier?”

Ek probeer praat. Ek probeer aan iets witty dink om te sê. Iets soos “Ek is so slim ek kan ’n iPad met my brein charge!” Maar die woorde wil nie kom nie.

“Ek … ek het nie geweet ek …” ek sluk en vee die trane van my wange af, “. . . mag nie op jou grond wees nie.”

Hy rig weer die geweer op my. Nou kyk. As jy dit in CSI sien, lyk dit koel. Ek het ’n pel wat altyd skreeu “Kadwaa!” of “Kill the motha!” as iemand ’n geweer lig om ’n gomgat te skiet op TV, maar as jy regtig in die loop van ’n geweer kyk, is dit nie so cool nie. Jy dink ook nie aan iets witty om te sê soos “Make my day, punk” of “Any last wishes, boyfriend?” nie. Jy staan net daar en hoop jy skyt nie in jou broek nie.

“Die naam is Scrapjaart. Dis wat almal my hier noem, want ek versamel ou karre, dan verkoop ek hulle weer. Maar ek versamel ook rondlopers en verkwansel hulle vir scrap nadat ek hulle in ’n masjien saamgepers het. Jy moet weet, mannetjie, niemand, en ek bedoel niémand van Ratels mag hulle vuil voete op my grond sit nie. Kapiesj?”

Daai kapiesj klink na iets uit ’n Martin Scorsese-movie. En ek dink: Scrapjaart lyk so dig, hy sal sy broek agterstevoor aantrek en dan twee blokke in die verkeerde rigting loop voor hy dit agter­kom.

Ek sluk weer. Dis nou my geluk. Binne ’n halfuur nadat ek in die bosveld aangekom het, ontmoet ek ’n steroid-challenged dude wat te veel deodorant gebruik en ’n outoppie met meer grys hare as breins.

Ek probeer glimlag, maar daai smile hou nie langer as ’n ka­meraflits op Britney Spears se gesig nie.

Scrapjaart hou sy geweer op my gerig en ek sweer as hy nou die sneller trek, gaan hy ’n pad oopskiet deur my Bostik-kuifie. Dis wat my oom my kuif noem.

Toe hy weer praat, klink hy nes Vincent. Sy stem is net ouer en harder. En heser. “Nou luister jy mooi vir my, Boetie-gaan-border-toe. Ratels gaan eendag myne wees. Ek het Stefan al ’n paar aanbie­dinge gemaak, want ek wil uitbrei, maar hy is te hardegat. Toe verbied ek hom en enigiemand van Ratels my grond. Maar weet net: Binnekort is Ratels myne, want julle is amper bankrot, seuna. En dan skop ek julle gatte verby die maan en terug van hierdie plaas af. Dra daardie boodskap aan die Rateliete oor.”

Ek wil nog vir die vark sê ek skiem hy is totaal anaal, maar toe maak hy soos water op ’n warm dag en verdamp.

Ek retireer en hol die bosse in.

En skielik staan hulle voor my. Drie moewiese bokke met net sulke horings. Horings wat eintlik so gedraai is. Ek dink dis koe­does; ek onthou hulle uit die boeke wat ek altyd lees.

Maar nou is dit die eerste keer dat ek regtig Kadwaa! binne-in die natuur is. Eintlik in die Avatar-bosse. (Dis net nie so blou nie.) En elke dier wat ek sien, elke beweging, is ’n HPH-oomblik. Ek vries. Die ou grote check my uit. Ek sê iets soos: “Ek sal nooit weer porn surf nie, ek belowe, solank hulle my net nie deurboor met daai horings nie!”

Al drie bokke staan nou gevries. Die een se vel bewe. ’n Voëltjie kom sit op die grootste bok se rug en begin na iets soek. Hy skep-skep so ’n paar keer met sy horings en ek dink: Sherbet! Wat gaan ek doen as hy my nou storm? In een van die bome klim? Maar wat van my hoogtevrees? En net daar besef ek: Hoogtevrees of te not, as hulle my storm, klím ek!

Kwê-ê-ê-ê!” skreeu ’n voël hier bokant my in ’n tak en ek dink: Voertsek! Nou trek jy nog meer aandag! Maar die simpel ding hou aan met skreeu! “Kwê-ê-ê-ê!” Al wat leliker klink, is een van my ma se negentien-voertsek hits wat sy nog op vinyl het.

Ek luister na die geluide om my. Sonbesies zrrrr aanmekaar. Ek weet nie hoekom ek nou daaraan dink nie, maar ons het in die aardrykskundeklas geleer hulle raas so as hulle hulle vlerkies teenmekaar vryf. Wat help daai inligting my nou? Plaas dat die onnie ons geleer het wat om te maak as drie moerse bokke met gedraaide horings jou in die bos wil bestorm!

Die voël bokant my hou aan skreeu. Die grootste bok snork. Dis so ’n snaakse geluid wat teen my gesig vasslaan. Ek skrik my gat af. Weer die snork. Selfs die voël hier bokant my bly nou skielik stil en vlieg na ’n ander boom toe.

“Nooit, nooit weer nie!” prewel ek nog steeds oor my porn-surf-ekspedisies.

Die bok se vel tril weer asof hy hoendervleis kry en ek sien hoe die vlieë wegspat van sy vel af. Toe loop die voorste bok tussen die bosse in. Hy hou sy horings plat op sy rug asof hy nie wil hê dit moet in die takke haak nie.

Die volgende oomblik is hulle weg.

Ek kyk af na my broek. Ek het dit darem nie natgemaak nie. Maar dit was amper! As ek so oor drie bokke voel, hoe gaan ek nie voel as ek ’n leeu sien nie?

Ek laat nie op my wag nie. Ek hol met die pad af soos ’n laser­straal in ’n WFI-game. Elke geluid, elke beweging is ’n nuwe re­ality check.

Die sonbesies skreeu nog steeds en die voël wat kwê, volg my asof hy vir elke ongedierte in die bos wil sê: “Kom kyk! Hier’s mens­vleis!”

“Suka wena! Voertsek!” skreeu ek en loop onder ’n boom deur wat sulke lang worse dra. Een neuk af en mis my net-net. En ek dag elke boom lyk dieselfde.

Dis toe ek verby die groot kremetart met die boomhuis loop dat ’n missiel by my verbyblits dat die stof so staan.

Ek skrik elke lyric wat ek nog ooit gehoor het weg. Ek hoop my ma het my lewe verseker, want binne ’n uur was daar drie aanslae op my aardse bestaan en ek dink glad nie meer dis cool om in die bosveld te wees nie. Dit smokkel met my kop!

Ek sien ’n bruin ou. Jonk, met ’n moerse cool houding. Hy kom aangestap met sy skateboard onder sy arm.

“Wens hulle het my aan die begin gesê hier’s nie ’n skateboard-baan nie. Nou kan ek net in die flippen kamp op die sementpaaie jol.”

Ek sluk en probeer om nie bang te lyk nie.

“Haai.” Hy het ’n hees stem en sy oë kyk baie stip. Hy dra sy pet agterstevoor en ’n T-shirt wat sê: My hormone werk fast & furiously. Vind uit hoekom.

Ek wonder hoe ek nou lyk. Soos ’n outtake uit Zombieland.

“Haai.” Ek probeer my stem normaal hou. Eerste indrukke is blywend, het ons in die skool geleer.

“Wat’s los?” vra hy en vroetel aan sy skateboard.

Baie dinge gaan deur my kop. “Vlieg onder die radar!” sê ons altyd vir mekaar. Moenie dat die onnies van jou bewus word nie. Moenie onnodig aandag trek nie. Dan weet hulle van jou en dan is jou lewe hel.

Ek soek nog na my stem.

“Hei, dude. Kan ander mense jou ook sien?” vra hy en krap deur sy kort hare. “Soos in, bestaan jy regtig of is jy ’n green screen image?”

“Ek … check sommer … die bosse uit.”

Hy kyk my aan asof ek ’n verkleurmannetjie in ’n Smartie-boks is. “Jy’s weird.”

“Great! Dis ’n kompliment,” sê ek.

Ons vuisstamp, maar hy is so sterk en ek is so vodde, ek val amper om.

“Ek’s Jan-Lourens. En jy is …?”

Ek weet sommer ek gaan van die ou hou. Soms kry ’n mens mos ’n gevoel hier in jou guts dat jy met iemand gaan pelle maak. En Jan-Lourens gee my daai gevoel.

“Velskoen. Velskoen Ferreira.” Dit klink nes Bond. James Bond. En ek sê dit ook in so ’n Daniel Craig-stem.

Jan-Lourens grinnik. “Watse dowwe naam is Velskoen?”

Ek vertel weer die inry-storie en hy lag soos ’n drein wat skoon­gemaak word.

“Cool, man. Cool.”

“Wie’s jou favourite bands?” vra ek vinnig.

“Ek is crazy oor Nicki Minaj.”

“Jy weet dan!”

“En Christina Aguilera.”

“Ek like Taylor Swift en Adele en Foo Fighters en die Parlotones,” sê ek. “En Die Psigedeliese Toebroodjies.”

“Wie’s Die Psigedeliese Toebroodjies?” vra Jan-Lourens.

“Hulle gaan eendag die soundtrack vir my movie skryf,” lag ek.

“Jy rafel uit,” sê hy weer. En voeg toe by: “Maar jy’s cool.”

“Het jy geweet as jy deur ’n krokodil gejaag word, moet jy zig-zag hardloop. Krokodille kan nie skielik skerp draaie gooi nie.”

Hy lag weer en flip sy skateboard terug onder sy arm. “Ek sal dit onthou as ek weer deur een gejaag word. May the force be with you, dude.” En Jan-Lourens loop in die rigting van die kremetartboom.

Dit voel of ek vir ’n paar oomblikke kontak met die universe ge­maak het.

Ek loop tot by die kamp en gaan staan eers onder ’n boom om ’n bietjie uit die son te kom. Oomblikke later voel ek die ystervingers om my nek. En ek ruik dadelik weer die rookasem. Toe die stem. Dis ’n stem wat jou sommer dadelik die middelvinger gee. “Wat’s jou case?”

Ek voel soos ’n kolletjie in ’n Pac-Man-game. “Vincent. Kry ’n flippen lewe, doffel.”

Hy stamp my dat my kakebeen amper met my bors connect. “Jy gaan seker na Stefan toe hol en kla dat ek jou ontgroen.”

Nou moet jy hierdie ou reg speel soos ’n Nintendo-game, besluit ek.

“Like jy dit om aan my te vat?” vra ek.

Hy los my dadelik. “Hei. Sê jy ek is skeef?”

“Mense kan so dink omdat jy my so vat.” Ek draai om. Sy gesig is eintlik wit, so die hel in raak hy.

“Ek moer jou blind, bru. Watchit.”

Die volgende oomblik kom Stefan aangestap met ’n klomp lêers onder sy arm. “Ek sien julle het al kennis gemaak.”

Ek blaas my asem stadig uit. Chillax, dude, sê ek vir myself. Moenie nou uithaak nie.

Ek sien hoe Vincent optense. Hy dink seker ek gaan op hom split.

Stefan frons. “Het jy geval, Velskoen?”

Vincent sluk.

“Sommer bietjie rondgejol,” sê ek vir Stefan. En toe: “Kinders op sewe het die beste kans om spoke te sien.”

Hulle gaap my al twee verstom aan.

“En! En! Drie persent van die wêreld se elektrisiteit word vir porn gebruik!”

“Velskoen.” Stefan begin lag. “Wat moet ek nou met daai inlig­ting maak?”

“Dis goed om te weet. ’n Mens kan nooit te veel kennis hê nie. Kennis is mag!” Hulle weet nog nie dat ek altyd tjol praat as ek ge­stres is.

“Ag man, gaan chat ’n tuinkabouter op,” brom Vincent en glimlag vir Stefan. Boelies maak mos so. Voor ander mense is hulle so vriendelik soos ’n Saartjie-boek. Maar in die donker … of in die toilette …

“Luister. Ons braai vanaand. Die res van die ouens en meisies kom môre.”

Stefan haal een van die lêers uit. En toe ek dit sien, is my siel se blus sommer uit, want ek herken dit. Dis die vraelyste wat ons moes invul voor ons Ratels toe gekom het.

Stefan maak myne oop en gee dit vir my. Ek probeer dit nog wegsteek vir Vincent, maar hy gluur soos ’n matrieklaaitie na ’n vraestel as hy ’n langvraag mis gespot het.

Naam Fanie (Velskoen) Ferreira

Waarvan hou jy? Movies met gadgets. Movies met girls. Movies met sub­titles. Pikkewyne. Klein skooltassies. Pennesakkies met Hunger Games pcs versus penneblikkies. Kruisbande. Chappies. Penne­blik­ke met Jack Parow se keps op. En Lady Gaga.

Wie is jy? Gemaklik in my eie vel. Cool. En ek is so slim ek kook oor. Ek raak spaced out as iemand my vir ’n ride vat. En ek haat mense wat vals is.

Wat wil jy eendag doen? Movies maak soos Quentin Tarantino of Chris­topher Nolan. Ek wil op YouTube verskyn en ’n miljoen hits vir my Facebook page kry. Skool totaal redesign. En lunch sonder grondboontjiebotter op my broodjies.

Waarvan hou jy nie? Morning breath. Ads tussen TV-programme. Soaps – dis vir breinloses. Steve Hofmeyr. Noot vir Noot. Mense wat probeer saamsing as hulle nie die woorde ken nie.

Wat verwag jy van ratels? Om te chillax. Om my uit te los. Om my toe te laat om myself te wees. Om my iPod se speakers vol volume oop te draai. Om ’n pandabeer te sien. Om die renoster van uitwissing te red.

Wie is jou ideale vriend? ’n Meisie met mooi bene. ’n Pel wat vir my airtime present gee. Iemand wat my ma kan stilmaak.

“Jy weet hier’s nie pandabere in ons land nie? Behalwe in diere­tuine?” vra Stefan.

Vincent snork deur sy neus. Die volgende oomblik vou Stefan sý vraelys oop. Maar Vincent is so trots daarop, hy probeer dit nie eens toehou nie.

Naam Vincent C. De Wahl

Waarvan hou jy? Koel bands. Derek Hougaard. Brand name jeans. Labels. Skrums. My eie sixpack. Weights. Gym. Girls girls girls. April Fools’ Day. Arno Carstens. My iPod. Kings of Leon. Hangover-pille. Skoene met ’n edge. My shades. My eie lyrics en my songs.

Wie is jy? Die koelste dude op die planeet. Killer blou oë. Moerse biseps. Cool sixpack.

Wat wil jy eendag doen? Die planeet se beste sanger word. Cool songs pleeg soos Taylor Swift se “Mean”. Bekender word as Ryk Neethling, en met ’n beter sixpack. Sun tan lotion ontwerp wat nie taai is nie. Mints wat langer as ’n minuut hou. Bubblegum wat nie onder jou skoen vassit nie.

Waarvan hou jy nie? Ouers. Onderwysers. Ouens in die politiek. Ouens wat my uitcheck.

Wat verwag jy van ratels? Om my te leer om wydsbeen op olifante te ry sonder dat my binnebene skaaf. Om dassies te jaag. En om al die FHM centrespreads te ontmoet terwyl ek hier is.

Wie is jou ideale vriend? ’n Girl wat my rug elke aand vryf. ’n Vriend wat my musiek waardeer. ’n Dude wat my SMS-taal verstaan. ’n Girl wat kan SMS sonder om na haar selfoon te kyk.

Stefan kyk om die beurt na ons en ek verwag hy gaan iets sê oor die gross goeters waarvan Vincent hou, maar hy glimlag net so effens soos Chris Hemsworth in The Hunger Games en Chris Evans in The Avengers. En die nuwe Spider-Man, Andrew Garfield. Hy’s net so designer-maer soos ek.

Ons vier ouens braai die aand en ek wonder wanneer ons vir Lavinia gaan ontmoet, want ek verwag enige oomblik sy gaan op haar besem aangery kom.

Stefan weet presies hoe om vleis te braai. En hy vertel stories van leeus wat ouens in bome gejaag en vlakvarke wat mense bestorm het en ’n kameelperd wat nie kolle het nie.

Ek eet my tjoppie dat die vet aan my wange sit en elke spoor van daai pienk toiletblokkies delete. Ek kyk gedurig na Vincent, want hy check my lelik uit. Maar met Stefan hier tussen ons sal hy niks probeer nie.

Die probleem is wanneer ons by die bungalow aankom …

Ek probeer dit so lank moontlik uitstel deur cool grappies te vertel. “Wat het Adam vir Eva gesê op Oukersaand? It’s Christmas, Eve.” Maar niemand lag nie en ek begin benoud raak. “Wat noem jy ’n blonde golfer met ’n IK van 125? ’n Foursome.”

Almal staar my aan asof ek gesê het Bobby van Jaarsveld kan act.

Toe sê Stefan dis slaaptyd en ek HPH verskriklik omdat ek dink Vincent gaan my weer bykom. Maar gelukkig slaap Jan-Lourens ook in die bungalow. Dit laat my darem chill.

Nege-uur, wanneer Joburg eers begin asemhaal, is ons al gesettle in ons bungalow. Ek luister Radiohead se “The King of Limbs” op my iPod terwyl Vincent sit-ups doen. Ek het nog nooit ’n ou gesien wat so baie sit-ups so effortless kan doen nie.

Jan-Lourens werk op sy laptop. Eers lê hy op sy bed en slaan daai sleutelbord soos Rocco de Villiers ’n klavier (ek het eendag saam met my ma na een van sy shows gaan kyk en ek like sy styl en musiek, maar sy arms raak nou te gespierd.)

Ek lees nog ’n hoofstuk van die jongste The Hunger Games en dink nie verder aan Jan-Lourens nie. Vincent gaan stort. Dankie hemel, nou is daar vir ’n paar kosbare minute nie slegte vibes in die kamer nie.

Jan-Lourens se selfoon lui. “Jis Loekie, hoe’s dinge, my bra?” Hy luister. “Ek het ’n paar technical issues. Jy moet kom help, dude. Vra jou oumense en …” Hy snork. “Airtime is op. Dêmmit!”

Later hom Vincent, hare papnat, terug. Op sy T-shirt staan: Edward killed Bella and cried like a wolf.

My oë begin toeval. Ek sit my iPod langs die bed neer en sien hoe Jan-Lourens een keer vinnig na my kyk asof hy wil seker maak ek slaap. Toe staan hy op en gaan sit by die tafel met sy laptop.

So tussen skrefiesoë deur check ek hoe hy een of twee keer oor sy skouer kyk. My crap detector skop in. Hier’s iets snaaks aan die gang …

Ek maak of ek slaap soos altyd wanneer my ouma kom kuier en my wil nag soen.

Toe gaan die ligte uit, maar Jan-Lourens se laptop is seker nog vir ’n paar uur gecharge, want hy gaan voort met werk. Vincent kreun en sê iets van “Hierdie stupid flippen joint!” Hy klim in die bed en ek sweer hy sit ’n pakkie fags onder sy kussing.

Dit is volmaan en ek kan duidelik sien wat om my gebeur. Ek staan saggies op, sluip tot agter Jan-Lourens en kyk oor sy skouer. Ek sweer hy is besig om te hack.

Hy swaai om en klap sy laptop toe. “Wat de hel …?” Hy spring op. “Wat het van privacy geword?” Hy is skielik heeltemal uitge­stres.

Ek hakkel soos ek altyd maak as ek lieg. En my neus begin jeuk soos Pinocchio s’n as hy begin stories spin. “Ek … was op pad toilet toe.”

“Die toilets is lapa side, bra!” beduie Vincent.

“Wat’s die drama met die laptop? Surf jy porn?” lag Vincent. “Ek kan vir jou ’n paar cool sights gee wat …”

“Ag rock off, man.” Jan-Lourens vat sy laptop en sit dit onder sy kopkussing. “Nag.” Hy klim in sy bed en draai sy rug op ons.

Vincent kyk na my en sy lippe trek in so ’n grynslag soos Leather­face s’n in die remake van The Texas Chainsaw Massacre. Op daardie oomblik verskyn Stefan in die deur.

“Is julle ouens oukei?” vra hy.

Vincent dra die kleinste broekie sedert Madonna op ’n stage geklim het (dis kleiner as ’n pantie!) en glimlag. Ek sweer hy is verlief op homself en dat hy meer in die spieël kyk as wat hy ’n kitaar strum. So baie spieëls, so min tyd.

Vincent klap op sy maag, baie tevrede met homself. “Jy weet dan!”

“Nou ja. Lekker slaap, julle.” En Stefan maak die deur toe.

“Ek’s so rustig ek kan ’n krokodil borsvoed,” grinnik Vincent.

Ek hoor Jan-Lourens proes. Dit was nou die simpelste one-liner wat ek nog gehoor het. Dis selfs erger as party van myne.

Vincent haal sy selfoon uit en bel iemand. Dis die eerste keer dat hy nie text nie, maar bél. Hy het seker genoeg airtime gekoop. Ek kan hoor hoe hy gedemp met een of ander meisie praat.

Iemand wat hy “kief” noem.

Gelukkig is hy nou te besig om hom aan my te steur. Hy draai later op sy maag en hou aan met chat. Hy voel met een hand na sy fags onder sy kussing.

Ek loop toilet toe en kyk vir oulaas oor my skouer om seker te maak Vincent kom nie agter my aan nie, maar hy is te besig om te foon-vry.

Ek is nou te bang om in die toilet in te gaan, want ek onthou net daardie walglike smaak van die toiletblokkies en die water in my neus. Ek is so deurmecraze soos ’n poep in ’n borrelbad dat dit my ’n goeie dertig sekondes vat om genoeg te relax om my blaas leeg te maak.

So met die staan, check ek die wildtuin deur die venster uit. Ek sien weer daardie pers blomme wat uit die bome se takke hang. Ek het die blomme ook al in Joburg gesien, maar nog nooit so dig en vol trosse nie.

Dis juis een van hulle wat my aandag trek omdat dit skielik beweeg en die ander blomme nie. Ek dag eers dis dalk apies of ander bosgoeters en ek voel weer so ’n trilling deur my gaan. Die stilte skryf cartoons in my kop.

Toe sien ek die hand. Daar staan iemand tussen die bome! Eers dink ek dis Stefan. Maar hoekom sal Stefan Ratels staan en uit­check tussen die bome? Hy weet mos hoe die plek lyk.

Ek hoor tip-tip-tip.

Ek dink aan daai movie I still know what you did last summer. Of dalk was dit een van die Final Destination-movies­ met die cool, sexy chicks wat so lelik doodgaan. Daar was mos ’n scene van ’n ou en ’n meisie wat besig was met ’n lekker make-out-sessie in ’n kar. Toe hoor hulle ook tip-tip, maar hulle was te warm om om te gee.

Toe hulle weer kyk, drup die bloed teen die motor se ruit af. En daar hang ’n dooie zombie of ’n ding tussen die takke en sy bloed drup op die kar se dak. Tip-tip-tip!

Ek freak heeltemal uit.

Ek wil weer soos ’n meisie gil, maar ek klap my hand oor my mond.

Ek draai my kop skuins en luister. Dis nou stadiger.

Tip. Tip. Tip.

Soos bloed wat drup. En ek sien in my confused brein hoe die bloed stadig uit ’n oop wond in iemand se keel sypel, nes in daai funky TV-reeks Dexter. As ek ooit crazy oor ’n dude sal raak, sal dit Dexter wees. Hy is bevange. Maar die onnies en my ma sê die show is boos, ons mag nie daarna kyk nie.

Tip. Tip. Tip, kom dit nog steeds. En toe splash! Plonk! En ek weet sommer: Die bloed het al ’n plas gemaak en nou klink die drup­pels groter as tevore …

Ek maak my rug so hol soos wanneer my ma my kleintyd met die plathand op my boude probeer slaan het as ek stout was. Die geplonk word al hoe harder.

Plonk. Plonk. Splash.

Ek vries toe ek hoor die geplonk kom van hier reg langs my. Ek haal ’n slag diep asem soos Adele voor sy ’n hoë noot raakvat. En ek kyk om na die deur.

Dis die stortkraan wat nie mooi toegemaak is nie. Flippen zool-van-die-week Invincible Vincent is digter as ’n vrot papaja.

Ek stik amper in die soet reuk wat daar hang. Dis seker die deodorant wat hy op homself leeg gespuit het.

Ek steek my hand uit en draai die kraan behoorlik toe. Flippen hel. Vincent is dof en spiteful. Kyk hoe lyk die tweede shower! Dis net skuimbolle en sjampoe en allerhande lotions waar jy kyk. En hulle sê ék is die metrosexual!

Dis met die omdraai dat ek myself in ’n ander IK in skrik. Daar staan iemand in die deur! Ek sien sy vorm duidelik teen die maanlig. Vir ’n oomblik lyk hy vir my nes een van die dudes in die laaste Twilight Zone en ek verwag hy gaan in ’n weerwolf verander wat my gorrel gaan uitruk en dan lank en eensaam staan en huil.

Die volgende oomblik charge die dude my en lig iets op. Ek wil gil, maar my stem drop my soos ’n girl ’n ou in ’n restaurant as hy haar vra om die rekening te help betaal.

Toe is daar net ’n flits. En alles word swart.

Verder weet ek niks. Behalwe die reuk van deodorant wat swaar in my neusgate hang.

Ratels

Подняться наверх