Читать книгу Adrenalien - Leon van Nierop - Страница 3
1
ОглавлениеDie asem is koud in sy nek. Iewers ’n beweging, soos ’n vlieg wat in ’n yslike IMAX-teater juis op sy nek kom sit.
Koue. Vrees. Kriewelings.
Stilte.
Gustaf Prinsloo sit regop en wil omdraai, maar hy voel lam. Toe hy ingestap het, was hier net vier ander mense. En dit in ’n teater groot genoeg vir ’n duisend.
Hy het in ’n reuse-bioskoop uit die jare veertig aan die slaap geraak en toe hy nou wakker skrik, was die ander reeds weg. Hulle het hom seker nie raakgesien nie.
En die ergste is, dit was die laaste vertoning! Die teater gaan hierna gesloop word.
En hier sit hy stoksielalleen in die donkerte.
Gewoonlik wanneer dit so stil word in ’n film, strompel ’n dom poppie in ’n donker spookhuis in as sy wéét ’n moordenaar wag haar in.
Dit is die eerste twee reëls van riller skryf: Die heldin moet naïef wees en ’n monster moet in ’n troostelose ou huis op haar wag. Dan waarsku die gruwelmusiek jou dat ’n hand eensklaps uit die donker na haar gaan gryp of dat daar asof van nêrens met ’n mes in die kamera se rigting gesteek sal word, asof dit die kyker in die strot gaan tref. Lig flits dan op die lem en die blinkheid word verbreek deur bloed wat daaroor vloei.
“Kyk om!” skreeu die mense in die teater soms, of: “Oppas, agter jou, poppie!” Hy ken die tegniek al uit sy kop, want hy kyk na elke rillerprent wat uitgereik word.
O ja. Nóg ’n riller-reël: Niks gebeur aanvanklik nie, want die regisseur of skrywer mislei die gehoor en stel hulle op hul gemak. Maar as die naïewe poppie omdraai, kyk sy in die Scream-masker vas en is daar die oorverdowende slag van ’n simbaal.
Hy het sy vrou, Elisma, eendag probeer skrikmaak toe hulle net begin uitgaan het. Hulle het by die huis aangekom en sy het gou iets in die motor gaan haal. Toe staan hy in die donker met ’n flitslig wat hy onder sy gesig aangeskakel het.
Sy het drie dae lank nie met hom gepraat nie, en toe sy uiteindelik die stilte verbreek, gesê: “Jou verbeelding gaan nog eendag die oorhand kry.”
Voor hom hang meters rooi gordynmateriaal wat vir oulaas oor die silwerdoek toegeskuif het. Dan swaai dit swierig heen en weer oor die laaste name, voor dit tot ruste kom soos iets wat sy laaste asem uitblaas.
Gewoonlik het die regisseur pas ’n poptreffer – soos “Happy Heart” in Shallow Grave – gebruik om die ironie van die beelde te beklemtoon. Of vrolike musiek waar ’n mens nie weet of jy moet lag of huil na die bloedbad wat pas oor jou gestort het nie.
O ja. Dis dan reël 4: Gebruik onverwags ironiese, vrolike musiek.
Hy probeer onthou waar hy in Rosemary’s Baby aan die slaap geraak het. Was dit dalk toe Satan se wiegeliedjie gespeel het? Hy onthou die vier ander mense wat versprei deur die teater gesit het – elkeen op sy eie donker eiland, gierig wagtend op gruwelbeelde wat hul oogballe sou tref.
G’n wonder die bestuurder kan die teater nie langer bedryf nie, veral as daar op ’n aand soos dié net vyf kykers is. Mense laai hierdie films deesdae op hul rekenaars af of kyk daarna op ’n DVD, sodat hulle nie die land se Wilde Weste-strate hoef aan te durf nie.
“Die eintlike bedreiging lê óm jou, Gustaf. Jy gaan eendag daarmee gekonfronteer word!” het Elisma al geglimlag. “Want wat hier buite gebeur, is erger as enige riller wat jy kan uitdink. Jy leef in ’n fantasiewêreld. Jy het nie ’n idee wat in die werklikheid gebeur nie.”
Dalk was dit ’n onbewuste versugting van sy kant af, dalk een van daardie oppas-waarvoor-jy-wens-jy-kan-dit-dalk-kry-oomblikke. Want hy het altyd gewonder hoe hy sou reageer indien sy lewe wérklik bedreig word.
Kan ’n mens tot moord gedryf word om jouself te verdedig?
En hoe voel dit om iemand dood te maak? Dit is die een fantasie wat nog altyd sy verstand besmet het soos luise wat aan ’n hond se rug klou. Elisma, wat skeppende skryfwerk aan ’n universiteit doseer, het hom eendag gevra terwyl sy ’n lesing voorberei: “Moet ’n mens ’n moordenaar wees om ’n goeie moordstorie te kan skryf? En is moord so maklik soos dit in boeke of op die silwerskerm lyk?”
Sy het dit amper terloops gevra, haar neus op ’n plooi getrek asof iemand ’n veertjie oor haar onderlip trek, en toe weer vinnig begin tik op haar rekenaar. Sy het nooit gesê tot watter slotsom sy gekom het nie.
Hy het eendag op notas afgekom wat sy nie gedink het hy ooit sal sien nie. Daarin het sy geskryf: Enige goeie skrywer het eintlik maar ’n mentor nodig om hom teen homself te beskerm. Om sy verbeelding te bestuur. Vra my, ek weet, want ek is met een getroud!
En nou het Elisma die stilstuipe na ’n groot rusie. Nadat verwyte en aantygings heen en weer gegooi is wat nooit ongedaan gemaak kan word nie en hulle goed vir mekaar gesê het wat diep seergemaak het.
Maar die ineenstorting van hul verhouding het eintlik oor Die Waarheid gegaan; met hoofletters. Vir die eerste keer het hulle alles vir mekaar gesê wat hulle andersins nooit sou nie.
En toe, Gustaf se groot geheim. Die een wat die finale spyker in die doodskis was. Dit het in ’n onbewaakte oomblik uitgeglip en sy kon nie glo dat hy haar nooit vertel het nie. Kort daarna het sy uit die huis gestorm.
“My grootste verwyt is dat ek wonder of ek jou ooit liefgehad het, Gustaf!” was haar laaste woorde aan hom.
Toe het hy al begin wonder, al was dit net vlietend: Hou sou dit voel om iemand dood te maak? Skiet die adrenalien op ’n ander manier deur jou liggaam as wanneer jy op ’n pretparkrit is, of seks het, of wanneer iemand ’n rewolwer in jou gesig druk?
Sal hy dán die perfekte riller kan skryf? Sonder hulp?
En sal hy iemand eendag so erg kan haat dat hy …?
Stilte. Die gordyne hang nou roerloos.
Gustaf het eendag die voue in die gordyne getel toe hy verveeld was en vir die soveelste keer in sy lewe gewag het dat ’n rolprent (destyds Halloween: Resurrection) moet begin – eenhonderd-sewe-en-vyftig voue, onthou hy. Een van daardie brokkies inligting wat hy in sy onderbewussyn opgaar soos sy ouma stukkies oorskietlap bymekaargemaak het. Maar sy kon darem kwilte daarvan maak. Wat maak hý met al sy inligting?
“Dit is hoekom jou kop partykeer toeslik, nes ’n drein, verstop deur nuttelose kennis. Plaas dat jy liewer kyk wat alles om jou gebeur – dan sal jy besef die gruwels is in die alledaagse, nie in fiktiewe monsters wat jy self optower nie!” Elisma onlangs toe sy op haar venynigste was. “Eendag, Gustaf, gaan hierdie monsters jou nog oorneem. En dan wil ek nie daar wees om die instorting te sien nie.”
Dis nou liefde!
Koue oorloë. Daarin was, ís, Elisma ’n meester. Yskoue stiltes wat ure kon duur – net so koud soos dit nou in die teater is.
Maar juis toe die spanning onlangs die huis vol gelê het, het Gustaf probeer om ’n nuwe roman te skryf. Gruwelik, eksplisiet, donker, want na die euforie van sy vorige treffer, Adrenalien, het hy gesukkel om weer agter sy rekenaar te gaan sit om te skryf. Om iets oorspronkliks uit te dink.
Die goeie ontvangs het hom sy eie reklame laat glo. “Die beste rillerskrywer in Afrikaans!” en: “’n Meesterstuk van spanning, intrige en oorspronklike karakters!” het resensente gejuig.
Die woordkraantjie het opgedroog. En dit is in hierdie donker dae van beurtkrag en geen water “as gevolg van ’n elektriese fout” dat die depressie hom weer begin slaan het. Wanneer net die donker stiltes tussen hom en Elisma sy verbeelding gevoer het. Wanneer hy geluide begin hoor het, selfs bewegings uit die hoek van sy oog gesien het, al het hy geweet hy is alleen.
Hallusinasies? Wensdenkery? Manifestasies van sy gewete? Die monsters in sy onderbewussyn wat begin gestalte kry?
Gewete. Dit is die grootste duiwel. En Elisma het nie eers daardie wysheid kwytgeraak nie. Wel sy ma voor haar dood.
“Gustaf. Sorg dat jy met jou eie gewete kan saamleef.”
Wat sou sý weet? Of het sy vermoed?
Wat sal gebeur as hy eendag deur een van dié fiktiewe grieselgeeste gekonfronteer word? En wens hy nie tog maar indirek dat so iets wil gebeur en sy suwwe verbeelding met ’n skokstok bygekom word nie?
Oppas waarvoor jy wens …
Hy het dit weke gelede, toe sy derde lekker vet boekverkope-inbetaling gedoen is, gewaag om die eerste twee hoofstukke van sy nuwe roman vir haar te wys. Iets heeltemal anders as Adrenalien. Sukkel-sukkel, probeer-probeer. Voor hy dit vir haar gegee het, het hy geweet dat dit nie naastenby op sy eerste roman se standaard is nie. Geen storie, geen intrige kon weer so goed wees nie.
Die stilte voor haar sweepslag-reaksie was oorverdowend. “Jy is besig om jouself te herhaal, hoor? Mense gaan sê jy kan net skryf as jy ou koeie uit die sloot grawe. Het jy niks oorspronkliks in jou oor nie?”
Daar het hy finaal besef. Hy kan net skryf wanneer iets hom prikkel, of wanneer hy ’n aasvoël is wat afkyk. Anders het hy in sy gemaksone rondgerol, nes ’n oorgewig politikus in die vet van die land wat hy geplunder het. Daar is nie iets wat hom dryf om nuwe temas of tegnieke te ontgin nie. Want wat is riller skryf anders as om vir ou gruwels nuwe klere aan te trek en te hoop dit gaan mense bang maak?
Hy moes Adrenalien se storie dalk net verder gevat het. ’n Vervolg daarop geskryf het, want die basis is mos nou gelê.
Maar wat kon nog gebeur?
Gewoonlik is daar ’n klomp dowwe liggies op die vloere en halfmas lampe wat die mure dofweg verlig. Maar die meeste speldekop-gloeilampies het geblaas en is nie vervang nie omdat die teater mos gaan sluit.
Hy glimlag. Dit het altyd gelyk asof iemand blink kolletjies suiker op die mat uitgestort het. Nou brand net hier en daar ’n liggie.
Die een deur agter hom het darem nog UITGANG aan die bokant; die Afrikaans daar omdat die teater in die jare veertig gebou is. Die middelste drie letters is egter nie meer verlig nie.
Kyk om! sê Gustaf vir homself. Kyk om, jou lafaard!
Maar hy weet mos hoe die teater lyk. Soos ’n blink tempel vol fieterjasies. Die stukke afgerolde film teen die mure moes fliekgangers destyds betower het. En hy onthou hoe Elisma gelag het oor die engeltjies met trompette teen die mure en die sterretjies in die plafon.
“Tempel van Beëlsebub!” sou sy ouma gesê het.
Hoekom dink hy nou daaraan? En spesifiek aan daardie verskriklike naam? Dit het altyd vir hom na ’n brutaliteit so reg uit die gloeiende kole van die hel geklink: Beëlsebub. Interessante naam vir ’n karakter, dink hy skielik. En hoe lyk dié Beëlsebub? Soos Freddy Krueger uit die A Nightmare on Elm Street-rolprente? ’n Vergestalting van fliekgangers se ergste vrese?
Hoe lyk vrees? Indien dit ooit eendag as ’n karakter uitgebeeld word. Het enigiemand al daaraan gedink om vrees te vergestalt?
En gewete.
Weer ’n briesie in sy nek.
Kyk om! sê hy vir homself. Maar hy is te bang.
Die gordyne hang nes die rooi fluweel oor die kateder in die kerk waarheen sy oorlede ouers hom altyd gedwing het. En van waar ’n gillende dominee almal in steeds stygende oktawe veroordeel het. Dáárdie gegil het Ouma nie gepla nie!
“Daardie man wat nou langs die viswaters sit terwyl hy in die kerk moet wees, sal hel toe gaan, waar Beëlsebub hom nimmereindigend met sy drietandvurk in die lies sal steek sodat sy geweeklaag deur die spelonke sal dawer!”
Toe het Gustaf al gewonder of die duiwel nie miljoene ander siele het aan wie hy moet aandag gee nie. Waarom juis nimmereindigend hiérdie man treiter wat verkies om vandag vis te vang? En hy sien in sy geestesoog oom Petrus se voosgesteekte lieste waaruit die vet peul. Jig!
En hy het gedink: Dominee, as jy só in die hemel gaan skreeu, wil ek beslis nie saam met jou daar sit nie.
Reël 5: Begin ’n riller, hetsy roman of film, met die gruwelikste toneel denkbaar – sodat die leser of fliekganger weet hy is in onmenslike hande. Van hier af kan die rit net lekkerder word.
“Wanneer jy so openlik bang is, trek jy juis daardie negatiewe vibes na jou toe aan,” was een van Elisma se vele waarskuwings. “En al smag jy om alleen te wees wanneer jy skryf, is jy vrekbang vir die alleenheid tussen die skryf. Vir die gestaltes wat jy optower en wat later van die skerm gaan begin loskom. Want jou gedagtes is onbeheers.”
Sy was reg. Hy is bang om alleen te wees.
Reël 6: Die heldin (of held) moet na aan die einde van die film of roman alleen op ’n plek wees waar niemand hulle kan help nie, verkieslik ’n spookhuis soos in The Shining. Of soos in Alien waar die monster iewers tussen die masjiene skuil – onidentifiseerbaar. Dit is eers as daar tentakels beweeg of ’n lem in iemand se hand blink dat die een van die gevaar bewus word.
Of soos Edgar Allan Poe, daardie berugte skrywer van grillers, wat alleen in ’n sloot in Baltimore gelê en sterf het. Was hy toe alleen saam met sy selfgemaakte monsters? Poe, wat Gustaf as sy muse beskou en wie se rillers hy bo alle ander verkies.
Sou dit doodstil in daardie sloot gewees het?
Stilte. Reël 7. Wanneer raak ’n gehoor regtig van ’n oorverdowende lawaai bewus? Nadat die regisseur of skrywer hulle eers met stilte gekonfronteer het. Dus wanneer niks gebeur nie. Net ’n doelbewuste afwagting, soos met ’n pak slae. Jy weet die eerste hou gaan val – jy weet net nie wanneer nie. En die afwagting is amper erger as die hou.
Links van hom flikker die T van EXIT skielik en doof dan uit asof dit saam met die ou teater wil sterf. Hy kry die stank van springmielies. Die voos mat onder sy skoene is taai van gemorste koeldrank wat skynbaar nooit droog wou word nie.
En toe, skuins voor hom, ’n figuur in een van die stoele.
Dank die hemel, iemand kan hom help! Hy leun vorentoe.
Die man dra ’n rooi mussie. Toe hy bewus raak van die beweging agter hom, draai hy sy kop.
“Bung-bung-bung-bung-bung-bung-bung-bung …”
Gustaf ken die deuntjie van iewers af. Dis die begin van ’n bekende popliedjie, maar hier geneurie in ’n stem so krakerig dat dit klink asof ’n doodskis se deksel opgelig word.
“Bung-bung-bung-bung!”
Gustaf lig hom op in sy stoel, probeer die man se gesig sien.
En dan gewaar hy langs die figuur, op die stoel, ’n groot, bonkige sak.
’n Lyk! dink Gustaf.
Die man hou op met neurie. Hy steek sy hand – hy het ’n handskoen aan – uit na die sak en begin dit oopmaak asof spesiaal vir Gustaf, wat nou geen beheer meer het nie. Hy leun vorentoe om te sien wat in die sak is. Vorentoe en vorentoe deur die stank van ou springmielies, deur die rooi skynsel van die EXIT-ligte, deur die koeldrankvlekke en die ou, verweerde sitplekke en asbakkies van toentertyd wat nog aan die agterkante van die sitplekke vasgeheg is.
Hy kyk hoe die hand in die sak gesteek word. En stadig, stadiger as in enige rolprent, stadiger as enigiets wat Gustaf al beleef het, word die hand uitgetrek. Wag Gustaf vir die kopbeen, die afgekapte hand, die mes, die byl, die bloed.
Eers kan hy nie mooi uitmaak wat dit is nie. Dan sien hy dat dit sand is. Spierwit sand wat deur die handskoen glip.
Die man laat die sand in die asbakkie voor hom vloei.
Zjoer! Iewers agter Gustaf.
Klik. Grts! Kraa-aa-aak. Die geluid net voor die gordyne oopskuif.
En toe, flikkerbeelde op die gordyne.
Iemand het ’n DVD in die teater se speler gesit! Gustaf swaai om. Hier is dus nog iemand in die teater behalwe die man voor hom met die sand wat …
Gustaf swaai terug. Die man met die rooi mussie en die sak met sand is nie meer daar nie. Maar hy dink aan die woorde van die wysie wat in daardie krakerige doodskis-stem geneurie is: Mister Sandman, bring me a dream! Make him the cutest that I’ve ever seen …
Klaas Vakie. Liewe hemel!
Die gordyne bewe asof ’n reus daaroor blaas. En dit skuif gelate, gehoorsaam óóp.
In die projeksiekamer flikker ’n lig. En op die skerm verskyn die gesig van ’n blonde vrou wat gil.
Give him two lips like roses and clover, then tell him that his lonesome nights are over …
En iewers uit sy eie keel, klanke soos hy begin saamsing: “Bung-bung-bung-bung-bung-bung …”
Die blonde vrou op die doek beland in ’n motorongeluk en val dan terug, terug, terug op ’n matras.
The Babadook, verskyn die titel op die skerm.
Nou vloei die adrenalien behoorlik deur sy are. Gustaf spring op. Hy voel sy pad deur die donkerte. Dis asof hy daaraan kan vat. Dit is dik en bedreigend om hom. Daar is ’n beweging bo in die projeksiekamer en die rooi X flikker aan en af.
Hier is beslis nog mense! Iets of iemand saam met hom in die teater!
Hy het vanoggend weer nie sy antidepressante gedrink nie. Hy is al jare daarop en sy dokter het hom gewaarsku indien hy meer as een dag oorslaan, kan dit slegte gevolge hê. Maar om sy voorskrif te hernu, moet hy ou dokter Payne weer gaan sien, en dié het geweier om dit weer voor te skryf.
“Jy moet van die goed afgaan, dan sit ek jou op ’n spesiale kursus, meneer Prinsloo, sodat jou liggaam geleidelik daaraan gewoond kan raak, anders kry jy onttrekkingsimptome.”
Nou voel hy dit, ruk die angs deur sy liggaam.
Reël 8: Neem alle hulpmiddels van die held of heldin af weg sodat sy of haar eie neurose of gewete of vrees ’n monstervorm aanneem – soos die figuur met die sak.
Reël 9: Sodra daar nie uitkomkans is nie, dán slaan die monster toe op die grusaamste wyse denkbaar. Moontlik met ’n mes wat ’n keel oopklief dat die bloed ritmies uitpols.
’n Beweging. ’n Ritseling …
Gustaf loop hom vas teen ’n sitplek wat afgeslaan is. Die pyn skiet deur sy knie, en hy val. Toe hy die grond tref, voel hy die taaiheid teen sy wang. Harde springmielies ook, en daar is die reuk van vrot kos. Iemand het seker ’n hamburger hier ingebring en hy het pas met sy hand daarin gedruk. Hy kan hom indink hoe wurms daaruit peul.
“Ksss-ksss …” hoor hy. Hy spring op.
Onder die rooi EXIT-lig wat na die voorportaal lei, staan twee figure: Beëlsebub en ou oom Petrus uit die hel. Gustaf kyk terug na die beelde op die skerm asof hulle hom kan help. ’n Klein seuntjie met deurmekaar hare sê iets.
Twee sitplekke word afgeslaan en die figure in die teater gaan sit. Agter staan nog iemand.
Gustaf gly in die vleis vol wurms en slaan weer neer. Sy middellyf moet nat wees van die vrot kos en hy ruik ook die ou springmielies sterker as tevore.
Hy kruip hande-viervoet met die paadjie na die swaaideure wat voorportaal toe lei. Kyk terug. Die twee figure aan die ander kant van die teater praat oor iets. Sien hulle hom? Weet hulle ooit van hom? Gaan hier meer mense kom? Moorddadige mense wat die gebeure op die doek gaan naboots?
Hy hardloop na die uitgang. Dit voel of hy elke oomblik in die man met die rooi mussie gaan vashardloop. As sy verbeelding net nie so op hol was nie!
“Hei!” Beëlsebub het hom gesien. Die twee donker figure kom orent, kyk na hom, wys na hom. Gustaf gil. Die derde figuur staan ook op.
“Hei, jy!”
Gustaf hardloop teen die deur vas en steier terug, met bloed wat uit sy neus begin stroom. Die twee figure kom nader asof in stadige beweging, soos in ’n film. Een van hulle loop in ’n afgeslaande sitplek vas en swets.
Gustaf stamp teen die deur.
“Wag!”
Die grootste van die twee figure gryp hom aan die mou en pluk hom terug. Gustaf weet hy gaan in ’n paar spleetoë vaskyk, en ’n paar horings en vleis wat van wange afvrot en …
“Meneer Prinsloo?” Dit is Felix, die bestuurder van die teater. “Wat de hel maak jy hier?”
Gustaf kan nie keer nie, hy begin opgooi. Koeldrank en springmielies.
“Wat gaan aan met jou?” wil die man weet.
Uiteindelik kry hy die deur oop en val die voorportaal binne. Felix en dié se onbekende vriend is dadelik by hom.
“My magtag, meneer Prinsloo! Ons het nie geweet jy is hier nie! Ek wou vir Lothar Gräbe daai Aussie-moewie wys wat almal so aan die praat het. Hy soek ’n riller om te maak.” Hy beduie met sy hande. “Ons het nie geweet hier is nog iemand van die vorige vertoning nie! Wil jy saam kyk? Dan begin ek dit van voor af.”
Die ander man kom nou in fokus. Gustaf verbeel hom dat hy hom al iewers gesien het.
“Gustaf Prinsloo. My lojaalste kliënt,” knik Felix vir die ander man.
“Wag so ’n bietjie,” sê die man wat as Lothar bekendgestel is. “Gustaf Prinsloo. Is jy nie …?”
“Die rillerskrywer. Inderdaad. Van Adrenalien!” grinnik Felix. “So van rillers gepraat, hy het ons eie Babadook geskryf!”
“My magtag! Uiteindelik ontmoet ons. Hemel, man, Adrenalien was darem vir jou ’n donnerse bakgat boek! Ek het my toegeskyt!”
“Ek … ek is jammer, ek wil net …” Gustaf begin deur die voorportaal na die uitgang toe steier sonder om terug te kyk. “Ek wil nie, ek kan nie, ek …”
“Meneer Prinsloo!”
“Ek kan nie nou praat nie!”
Toe hy buite is, hoor hy steeds die geluide wat daar binne was hier in die stilte van die verlate middestad. Kan hy die blikke voel van die twee mans wat kopskuddend na hom kyk voordat hulle weer in die teater verdwyn.
By sy motor klik hy die afstandbeheerder en is dankbaar wanneer hy die geel stertligte sien flikker.
Hy voel hy moet sy kop draai – maar hy wil nie weet of daar regtig iemand in die deur na hom staan en kyk nie.
Gustaf spring in die motor, sluit die deur en leun met sy kop teen die stuurwiel. Dit neem etlike minute voordat hy sy asem terugkry.
Hy skakel die enjin aan, sit die motor in eerste rat en trek weg.
Dis toe hy in sy truspieëltjie kyk dat hy wel die figuur voor die ou teater sien staan. Die boggelrugmannetjie met ’n rooi mussie en ’n sak vol sand oor sy skouer.
Klaas Vakie.
Klaas Vakie wat voor die rolprent begin het wit sandjies in sy oë kom strooi het.