Читать книгу Adrenalien - Leon van Nierop - Страница 5
3
ОглавлениеHy is in ’n kis.
Dit is Gustaf se eerste gewaarwording. Toegesluit in ’n beklemmende sarkofaag. Indien hy sy hande sou beweeg, sou hy die kis se wande hier vlak langs hom voel. Muf. Hard. Met splinters wat in sy hande steek, want dit is ’n goedkoop kis. Maar nog erger. As hy sy kop sou oplig, sou hy dit teen die kis se deksel stamp.
Kan hy, durf hy sy oë oopmaak? Want dit sal pikdonker om hom wees.
Hoe lank neem dit om in ’n kis te versmoor? Hy probeer Edgar Allan Poe se verhale onthou, hoe lank dit sy karakters geneem het om te versmoor. Maar gewoonlik is die eerstepersoonsverteller op die laaste nippertjie gered. En Edgar sou seker self graag ’n toutjie in sy kis wou hou wat hy kon trek om die klokkie te lui wat buite hang. Op dié manier kon hy iemand se aandag trek.
Hy wonder wat Poe met Klaas Vakie sou gemaak het – of hy die kreatuur nie dalk lewend sou wou begrawe nie …
Geluide. Voetstappe. Iewers ’n deur wat klap. Hy moet sy oë oopdwing, want as hy lewend begrawe is, moet hy iemand se aandag trek.
Skreeu! Dit sal moontlik ’n dowwe skreeu wees, soos iemand wat grond geëet het en daarin stik. Of wat klonte pap in sy keel het en probeer praat. Maar hy moet aandag trek.
Hy maak sy oë oop, maar dit is soos ’n rolprent waar die kinematograaf vergeet het om te fokus. Alles swem, nes ’n klomp paddavisse wat die slyk op die bodem van ’n stink dam versteur voordat dit weer afsak.
“Bygekom …” sê iemand.
“Nie gedink hy sal ooit surface …” Nog ’n sinsnede.
Iemand lag. Dit klink soos byklanke uit ’n radiodrama. Geluide doer ver. Roesemoes. Weer ’n lag. Darem nie soos Klaas Vakie se griesellag wat klink soos staalwol oor ’n geroeste stoofplaat nie. Ook nie die lirieke vir “Mister Sandman” nie.
“Swaertjie?” Sy uitgewer se bynaam vir hom. Hard, elke lettergreep duidelik met die “r” wat gery word. “Hei, swaerrrrrrtjie. Is jy nog met ons, ou rrrrramkat?”
Hy maak sy oë oop en Anton Theron se gesig kom in fokus.
“Kan jy my hoor, swaer?”
Hy is darem nie lewend begrawe nie. Of is hy in ’n gestig? Nes Poe se karakters, sal hy vir ewig in hierdie sarkofaag van ’n gestig opgesluit wees waar die bestuur die kranksinniges is en die pasiënte die normales.
Soos in Stonehearst Asylum. Nog een van Poe se verhale wat deur ’n swak rolprent gekonfoes is.
Gustaf praat, maar sy tong is net so geswel soos destyds toe hy as kind op ’n byenes afgekom het en die giftige angels hom oral oor sy gesig gesteek het, tot in sy mond toe hy geskreeu het. Dit was een van die ergste pyne wat hy nog gehad het naas sy mangeloperasie – iets waaroor Elisma hom telkens gespot het nadat sy ma haar daarvan vertel het.
“Swaerrrrr? Hoor jy my?”
Sy tong beweeg, maar sy wange voel soos na ’n inspuiting by die tandarts. Dik en geswel.
“Haai, Anton.”
Anton roep oor sy skouer na iemand. ’n Verpleegster kom in fokus, stap nader, bekyk hom met onsimpatieke oë, nes Elisma s’n.
“En hoe voel ons vandag?”
“Ek is … moeg.”
Die verpleegster vat aan ’n buis, lees iets op ’n masjien, kyk na die naald in Gustaf se arm en knik vir Anton. “Ek roep gou vir dokter Swart.”
“Wat het gebeur, swaertjie?” Anton trek die bankie onder die bed uit en gaan sit. Hy ry darem nie meer so op sy r’e nie.
Gustaf merk hoe sy uitgewer rondskuif. Hoekom is hospitaalbankies altyd so ongemaklik? Asof die owerhede wil hê mense moet net vir kort oomblikke sit en dan verkas. “Jy het ons groot laat skrik, swaer. My boude het nou nog die bibberasie!”
Hy het darem uiteindelik daarin geslaag om iemand te laat skrik deur iets anders te doen as woorde op ’n rekenaarskerm skryf.
Anton dreun voort: “Jou voordeur het vanoggend oopgestaan. Jou motor was in die oprit, die bestuurder se deur oop, toe ry sekuriteit verby en merk onraad. As hulle jou nie daar gekry het nie, het jy nou nog daar gelê.”
Of het een van die duisende booswigte in die stad die huis geplunder en hom wreedaardig keel afgesny. Dit sou ’n lekker koerantopskrif gemaak het!
“Elisma,” vra Gustaf, “waar is …?”
Anton kyk weg asof hy probeer om ’n antwoord uit te dink vir ’n langvraag wat hy in die eksamen misge-spot het. “Sy … is by … e …”
“Sy het my verlaat. Sy en haar hulp en raad en mooipraat en kennis oor my en …”
“Ek is jammer, swaerrrrtjie. Weet maar net, baie mense gaan hierdeur. Jy kom by die blerrie huis en daar lê ’n ‘Liewe Jannie’-brief.”
Dan het hulle selfs dít gesien.
“Elisma.”
“Elisma bly by ons.”
Gustaf draai sy kop. “So gedink, ja.”
“Voorlopig, jy verstaan? Tot sy ’n ander plek kan bekostig. Maar ek dink dis beter dat sy nie nou …” hy beduie na die hospitaal, “jou so sien nie.”
“Sy het my al in baie erger penaries gesien.”
“Ja, maar met al die pypies en goeters.”
“So daar is nie iemand anders in haar lewe nie.”
Anton skud sy kop beslis. Dit lyk darem nie of hy lieg nie.
En tog, eendag toe hy by ’n restaurant in Melville verbygeloop het, het hy haar in die geselskap van Zander Zimmerman gesien – ’n jong akteur wat besig is om opgang te maak. Z.Z. het hy eendag op Elisma se boarm geteken.
“Sy sal nie hiernatoe kom nie, Anton, al sterf ek ook. Sy is te trots.” Hy is lus en pluk die pypies uit en sterf sommer net daar. “Moet bewys dat sy finaal met my gebreek het en dat ek eintlik nooit iets vir haar beteken het nie.”
“Nee, swaertjie. Dít kan jy darem nie sê nie.”
Hulle word onderbreek deur ’n dokter wat ingestap kom. ’n Gryskopman, seker dokter Swart.
Die dokter vryf sy hande soos iemand wat besluit waar hy ’n skaap moet keelaf sny. Druk hier, voel daar, neem lesings en sit dan sy hande aan weerskante van Gustaf se gesig, maar sê niks.
Gustaf kyk oor sy skouer of hy dalk iewers die boggelrugmannetjie met die rooi mussie en sak sand gewaar.
“Het ek net drie maande om te leef, of is dit drie weke? En as ek nie maak soos julle sê nie, messel julle my in ’n muur toe? Of gaan ek darem toegelaat word om asem te haal en in ’n gestig opgesluit word soos Poe se arme Eliza Graves? Lewend begrawe tussen malles.”
Anton druk die dokter se skouer gerusstellend, nes Gustaf se pa toe hy nog klein was en dieselfde soort uitbarstings na ’n nagmerrie gehad het, veral wanneer sy ma nie geweet het hoe om dit te hanteer nie.
Nes sy ma toe hy so by sy pa se begrafnis gehuil het. Want iewers, tussen die mense, het hy die boggelrugmannetjie met die sandsak gesien wat sy vinger waarskuwend op hom rig asof hy sê: “Jy is volgende.”
“Aangename kennis, meneer Prinsloo. Ek is dokter Swart.”
“Aangename kennis, dokter Swart. En noem my Gustaf.” Hy wil weer lag. Die dokter wat sy mangels verwyder het, was dokter Payne. Die ironie het toe nie eers by hom verbygegaan nie. Dokter Payne moet die pyn verlig. Of veroorsaak soms ’n pyn!
“Ons het lank laas ’n skrywer hier gehad.”
“Ek het nog net een boek gepleeg, dokter. Jy kan my beswaarlik ’n skrywer noem.”
Anton rol sy oë en draai sy rug op Gustaf asof hy ’n glimlag wegsteek. Dokter Swart se mond trek in ’n halfmas-glimlaggie soos ’n posbus wat wag op ’n brief. “Ons hou jou hier tot môre. Daarna is jy welkom om terug te gaan huis toe.”
Die dokter rammel ’n paar rympies af. Antidepressante. Pille. ’n Inspuiting. Anton spring vinnig in: “Jy moet gaan rrrrrus, ou Gustaf. Lekker gaan ontspan op ’n plek waar niemand jou kan kry nie.”
“Hulle het Poe in Baltimore in ’n sloot gekry, besig om te hallusineer. Sou hy daar gevoel het hoe dit is om lewend begrawe te word? Of om deur ’n lem in ’n donker kamer middeldeur gesny te word terwyl rotte aan hom knaag?”
Een van sy gunstelingstories, “The Pit and the Pendulum”.
“Waarvan praat jy?”
“Edgar Allan Poe wat op veertig in Baltimore dood is, en niemand weet wat hy daar gesoek het of hoekom hy naby ’n kroeg was of hoekom hy iemand anders se klere gedra het nie.”
Hulle staar onbegrypend na hom. “Hemel, Anton, jy weet tog wie Edgar …”
“Natuurlik, Gustaf. Maar wat het Poe met die situasie te doen?”
“Ek verstaan nou hoe hy in daardie sloot moes gevoel het.”
Weer ’n betekenisvolle blik tussen Anton en die dokter. H’m. Die man het uiteindelik die kluts heeltemal kwyt geraak. Hier is tog ’n lekker onthutsende koerantopskrif.
Wag tot hy hulle van Klaas Vakie vertel.
“Goed. Geen Edgar Allan Poe waar jy heen gaan nie!” glimlag Anton.
“Wel, hy is orals in my en Elisma se huis. Hy is ons gunsteling-skrywer. Ons versamel elke bundel van hom wat heruitgegee word. Sy het selfs die Poe-pop vir my gekoop wat gegrond is op daai simpel TV-reeks wat hom eintlik ’n oneer aangedoen het. Vergeet ek die verdomde ding se naam.”
“The Following.”
“Einste.”
“Ek kan nie teruggaan na die huis waar ek en Elisma gewoon het nie. Ek sal haar orals daar kry.”
“Presieslik.” Anton se vertaling van “precisely”. Hy voeg by: “Moenie komkommer nie, swaertjie. Ons sal iets organise.”
Gustaf is dankbaar toe Anton na tien minute loop. Die man was die eerste uitgewer wat hy met sy manuskrip genader het, en toe die roman ’n blitsverkoper word, het hy besluit om in sy gemaksone te bly by die uitgewery, al het ’n ander skrywer hom gewaarsku dat dit nie te goed met Alpha Uitgewers gaan nie: “Ek sweer Adrenalien het ou Anton boek-alleen uit die dreindrolle gered. Iemand het al die toilet se ketting getrek, toe spartel hy nog tussen die stront!”
’n Verpleegster loer na ’n ruk in – gelukkig nie weer die dokter nie. Maar Elisma maak nie haar opwagting nie.
Gustaf kyk na die oproepe op sy selfoon, na al die nommers waarby Missed Call staan. Nie een kom van Elisma nie. Sy het nie eers probeer bel nie. Sy is weg, soos Die Skim se hond.
Elisma met haar geheim.
Sy vrou, eendag in ’n klas oor kreatiewe skryfwerk: “Ons woon in ’n land waar daar elke paar minute iemand doodgemaak word en ons hoor nie eers daarvan nie. Ons sien duisende mense daagliks in videospeletjies en op die silwerdoek sterf. Ons is ontmens. Vuisvoos. Die dood het maar net nog ’n kommoditeit geword.
“Daarom is dit belangrik dat jy in jou skryfwerk die oomblik van doodgaan respekteer. Dit is en bly die een onbekende element in ons lewens, ongeag watter doodsbegeleier of Tupperware-prediker dit probeer verdoesel. Die oomblik van die neem van ’n lewe, die uitvloei van asem uit ’n liggaam, is selde nog behoorlik in die literatuur vasgevang. Wanneer die adrenalien vir oulaas deur ’n liggaam ruk en dan skielik net verdamp … dit is daardie breukdeel van ’n sekonde wat jy moet vasvang en eerbiedig. Soos Edgar Allan Poe gedoen het. Hy het die proses van sterf verstaan. Hy het vrees bemeester. Hy het dit bevriend.”
Skielik raak hy bewus van iemand wat baie stip na hom kyk. Hy skrik uit sy gedagtes. Die oë word dadelik vriendelik.
“Jy is mos Gustaf Prinsloo?” Haar mond vorm ’n glimlag, maar dis nie noodwendig ’n mededeelsame glimlag nie. “Ek herken jou van foto’s.”
Dit kan nie ’n bewonderaar wees nie. Skrywers wat net een roman gepubliseer het, trek nie so maklik bewonderaars aan nie. Ook nie sommer aanhangers wat só lyk nie.
“Ja.”
Sy ruik na frangipani. Daardie blomme wat altyd so weelderig op sy tannie Cecilia se tuingrasperk buite Gravelotte gelê het as hy somervakansies daar gaan kuier het.
“Ek is Astrid. Astrid Beukman.”
Klink na ’n filmster, wil hy sê. En onthou toe hy hét die naam al iewers gesien. Hy grawe deur al die nuttelose feite in sy geheue na waar hy dit al teëgekom het, want Astrid is ’n skaars naam. Maar al wat te voorskyn kom, is drogbeelde, beskrywings van rillertonele, Klaas Vakie se sandsak en die name van grufilms.
“Gustaf Prinsloo.” Hy kyk nou reg in haar blou oë. “Met ’n f. Baie mense spel dit steeds met ’n v.”
“Ek weet, Gustaf-met-’n-f.” Iets vreemds in haar oë, asof sy ’n gat deur sy siel kyk. “Ek het jou roman al drie keer gelees.”
“Ek is jammer,” hy kyk nou reguit in haar oë, “is jy ’n uitgewer? ’n Kritikus?”
“Ek sal jou nou vertel wie ek is. Maar eers wil ek bietjie oor jou storie gesels. Die storie wat nie reg vertel is nie.”
Hy probeer homself oplig, maar sy hand voel nog te swaar, asof dit nie aan sy liggaam hoort nie. Magtag, maar sy is mooi! As sý langs hom gelê het, sou hy elke oggend ’n oggendknippie …
“Al gehoor van Judge Films?”
“Moes ek?”
“Jy het my baas dan gisteraand ontmoet!”
“Waar?”
Nou glimlag sy dwarsoor haar gesig, en sy raak al hoe mooier. “Dit was seker kort duskant die tyd toe jy … jy weet?” Sy boots ’n instorting met haar hande na. “Gegroepswoeps het met dokter Freud.”
“Ek weet regtig nie waarvan jy praat nie.”
Gedwonge geduld. En kort-kort wil-wil die aangeplakte vriendelikheid verdwyn. Haar stemtoon verander: “Ken jy die films Vreugdevure, Manalleen, Bakleivallei?”
Hy het Vreugdevure gesien. Walglik swak. Dit sou interessanter gewees het om te sit en kyk hoe verf droog word. Die ander name herken hy van plakkate wat in die strate op lamppale gepryk het. Of films wat suur resensente met wrewel in koerante uitmekaargeskeur het.
“Ja.”
“Enige van hulle gesien?”
Hy besluit om nie te erken dat hy Vreugdevure gesien het nie. “Ek gaan kyk nie na Afrikaanse rolprente nie.”
“Hoekom nie?”
Hy hou liewer sy mond, maar sy praat namens hom: “Want dit is kommin? Platvloers? Alles dieselfde? Laat jou skaam voel om ’n Afrikaner te wees?”
“Baie Afrikaanse films lyk goedkoop en die stories interesseer my nie.”
“Dit is hoekom ons in Adrenalien belangstel.”
’n Verpleegster loer in, maar verdwyn dadelik weer.
“Ekskuus?”
“Adrenalien. Ons stel belang, want dit gaan die standaard lig. Liewe hemel!” Sy staan op en sit haar hand op haar aansienlike borste. “Wat ’n storie!”
“Hoe bedoel jy, belangstel?”
Sy gaan sit weer en leun vertroulik vorentoe.
“Hoeveel goeie grillers ken jy in Afrikaans?”
Hy probeer dink.
“Ek praat van regte, egte gruwel-chaos soos The Exorcist, The Shining, Insidious, Paranormal Activity 1 – ek herhaal, die eerste een! En Saw, The Conjuring?”
Al sy gunstelingrolprente. Het sy die inligting gekry uit die enigste artikel wat oor hom geskryf is? Sy tong voel nou nie meer so dik nie. “Ons kan nie rillers in Afrikaans maak nie. Ekskuus. Ek vergeet jou …”
“Astrid. Astrid Beukman. Hulle noem my sommer Sterretjie. Jy weet, soos op nipples en oor die beloofde land in die ou dae.”
Sjoe. Nou ja. Uhm.
“Kom ek val met die draaiboek op die filmstel.” Sy skuif reg soos iemand wat ’n groot aankondiging wil maak. “Of die deur in die huis, om die gepeupel se taal te gebruik.”
Oukei …
“’n Hele paar van ons span het Adrenalien gelees.” Sy skuif haar borste reg asof hulle haar moet help praat. “Wow, baby. Daar is so min goeie stories in Afrikaans. Nou praat ek van Bull Brand-stories met balls, waar jy nie kan wag om te sien wat gaan gebeur nie. Stories met gewig.”
Sy hart begin onstuimig klop.
“Waar kon jy daaraan?” vra sy. “Het sulke goed met jou gebeur?”
Hy sluk. “Alles in stories is nie noodwendig outobiografies nie.”
“Want ek wou net sê. Ek het dit onlangs eers gekry. Twee weke gelede, om die waarheid te sê.”
“Wat probeer jy sê, Astrid?”
“Die ouens wat stories lees by ons, is woeste gifbekke. ’n Kobra lyk soos Johan Stemmet teen hulle.”
Hy skuif regopper.
“Hulle breek ’n roman in vyf vloekwoorde af en werp dit in ’n kotsemmer. Woorde wat jy nie eers in ’n woordeboek kry nie.”
“So wat het julle werklik gesê?”
“Soms is die waarheid soos sooibrand. Jy watch wat jy eet om dit nie te kry nie.”
“Waarmee jy my vraag ontwyk.”
“Die waarheid, Gustaf-met-’n-f?”
“Die waarheid.” Hy sukkel om haar bynaam te sê. “Sterretjie.”
“Om die storie se potensiaal regtig uit te bring, die storie waarop jy kopiereg het, moet ek jou kop penetreer.” Sy druk haar wysvinger teen sy kop.
Weer die seksuele verwysings. Met die regskuif van haar borste.
Sy is blykbaar warm vir hom …
“Ek moet verstaan wat in daardie mooi kop aangaan.” Sy gooi haar hare agtertoe. “Iemand al vir jou gesê jy’s nogal gorgeous?”
Dit gooi hom heeltemal. “Uhm …”
“Uhm! Uhm! Uhm! Dis swak dialoog, Gustaf. Moet dit asseblief nooit skryf nie. So!” Sy druk haar hande tussen haar knieë in en leun vorentoe soos iemand wat ’n vertroulike gesprek wil voer. Haar plesierpoortjie val oop en hy sweer hy kan haar tepels sien. “Hoe het jou kop gewerk toe jy daardie wonderlike storie uitgedink het?”
“As mens wil betaal word om ander die skrik op die lyf te jaag, kan jy enigiets uitdink. Dan gaan jou skedel in technicolor oop.”
“Ha-ha! I love it! Skedel in technicolor! Ha-ha-ha!”
“Maar dit kom als uit my verbeelding. Dis net verbeelding.”
Haar oë trek pierings. “Wat jy sê, is daardie soort goed waaroor jy in die boek geskryf het, het regtig nog nooit met jou gebeur nie?”
“Liewe hemel, nee.”
Sy neem haar selfoon en tik vinnig iets daarop voor sy dit stuur.
“Met ander woorde, hierdie gruwelikhede, hierdie …” sy soek na woorde, “hierdie brutale beelde word net opgetower soos ’n mens ’n kraan oopdraai?”
Wat sou Elisma hierop gesê het? Uiteindelik ’n kompliment uit ’n “bewonderaar”, ’n “aanhanger” se mond! En hy smag so na komplimente.
“Die storie is soos water in ’n leivoor wat deur klippe opgedam word en net hier en daar deur ’n spleet toegelaat word om deur te syfer.”
Elisma was toe op dreef en die waarheid het oor die damwal gebreek.
“Dalk moet jy dit eendag oorskryf as jy meer van skryf verstaan, as jy die storie herbedink het. Want ek dink jy onderskat die proses van skryf. Die gedeelte voordat jy jou roman skryf, is die belangrikste. Die beplanning. Die back story.”
“Presies hoekom is jy hier, Astrid?” Amper noem hy haar weer Sterretjie, maar dit klink vals, soos om vir ’n kind te sê hy mag jou op jou voornaam noem en hy sluk jou naam elke keer in en volstaan met “oom”.
“Want ons wil Adrenalien in ’n film omskep, Gustaf.”
Hy skud sy kop asof hy nie behoorlik verstaan wat sy sê nie, maar raak dan bewus van pyn iewers in sy nek wat nou deur sy kop versprei. Wat is “whiplash” tog in Afrikaans? Want dit is hoe sy nek op die oomblik voel …
“Julle wil dit verfilm?”
“Jipperasie en konsternasie! By Jove, you’ve got it!” Sy druk ’n soentjie op sy voorkop en haar borste skuur teen sy bors. “Ons het met Anton gepraat, jou uitgewer. Oe, ek love daai ou!”
Anton sou seker haar mooi borste waardeer het.
“En volgens die skrywerskontrak lê die filmregte uitsluitlik by jou. Ons mag niks met die storie doen nie. Dis joune, lock, stock and two smoking barrels,” en sy peuter aan haar regopstaan-borste.
“Ek weet.”
“Ek wil ’n draaiboek met Adrenalien as basis skep, natuurlik met jou toestemming!”
“Jý wil die draaiboek skryf?”
“In die kol, dol. Maar saam met iemand, want ek het nog nooit iets gepubliseer nie, of ’n draaiboek geskryf nie, al het ek al hoeveel kak draaiboeke oorgeskryf. Lothar is daaroor so onversetlik soos ’n taxi wat sy passasiers in die middelbaan aflaai.”
“Ek luister.”
Astrid haal diep asem. “Ek wil Adrenalien aanpak saam met iemand met wie ek lekker kan saamwerk.”
Hy het nie ’n idee wat sy volgende gaan sê nie, want skielik raak haar oë donker. “Maar daarvoor het ons jou toestemming nodig.”
Hy wag op die volgende verrassing uit haar mond. “Ek het die beste draaiboekskrywer wat dit in die regte vorm kan giet. Maar jou naam gaan die storie verkoop.” Haar hande maak wilde bewegings en sy lag, maar haar oë lag nie saam nie. “Ons gebruik jou naam vir reklamedoeleindes. Dus: ‘Na ’n storie van Gustaf Prinsloo’.”
Nee. Nee. Nee. Nee.
“Ken jy vir Amanda Parkhuizen wat al jare vir televisie skryf?” Hy probeer haar onderbreek, maar sy is in volle gang. “Wat Bobaas-Boendoe 1, 2, 3 en 4 geskryf het en die TV-stasie het pas ’n vyfde reeks gecommission. Is dit nie fabulous nie?”
“Daardie gemors? Bobaas-Boendoe?”
Dit bring haar midde-in haar sin tot stilstand, soos ’n motor wat trompop teen ’n ander bots.
“Ekskuus?” Sy knip-knip haar oog asof daar roet in is.
“Sy raak nie aan my storie nie.”
Astrid skud haar kop. ’n Nuwe strategie, sien hy. Hier kom iets anders … “Nou goed, Gustaf-met-’n-f.” Sy blaas asem uit en maak of iets verdamp. “Ons fly Amanda.”
“There is a God in heaven.” Die eerste ronde gewen.
Astrid neem sy hand in hare. “Is jy ernstig oor jouself?”
“Ja. Ek wil dit self skryf en niemand sit by nie.”
In daardie lang stilte hoor hy ’n polisiesirene verby die hospitaal jakkalshuil. Hy kyk nou na Astrid, sien die verskonings, die besware, die ander name wat deur haar kop spoel. Haar oë lyk na ’n rekenaarskerm wat dosyne formules probeer verwerk net voor dit ineenstort.
“Jy. En net jy?”
“Ja, Astrid. Ek. En net ek.” Hy kyk haar vol in die oë. “Is dit so onwaarskynlik?”
Hy lê terug teen die kussings en sien hoe sy op die stoel rondskuif en ’n driftige SMS stuur. Raak bewus van iemand anders wat in die kamer verskyn.
Anton staan daar, duime in die lug asof hy vra: So, is alles oukei? Maar Gustaf draai sy gesig weg.
Astrid glimlag nie meer nie. “Mag ek ’n voorstel maak alvorens jy finaal besluit? Want ek moet oop kaarte met jou speel, Gustaf.”
“As jou eerste kaart die A van skoppens is, kan jy dit fly.”
Astrid beduie met haar hande. “Ek sal met Lothar praat, maar hy gaan al sy whiskey on the rocks opgooi.”
Sy staan op, druk verby Anton en praat bekommerd op haar selfoon, haar taal nou deurspek met Engels.
Anton probeer: “Pella, as Adrenalien die silwerdoek tref, gaan ons met ’n nuwe omslag uit! Hulle oorweeg glo spesiale effekte in jou film, soos daardie stuk waar die spook teen die trap afsweef! Dink net, ons vat ’n still shot uit die film van daardie einste spook en dan is dit die voorblad.”
“Daar is nie ’n film nie, Anton.”
Anton vryf sy hande. “Kyk, Astrid wou oorspronklik die draaiboek skryf, maar …” Hy kyk oor sy skouer en praat dig teen Gustaf se oor. “Lothar dink nog nie dat Astrid iets alleen kan skryf nie. Maar twee koppe is beter as een! En met Mandie …”
“Watter deel van ‘nee’ verstaan jy nie, Anton?”
Hy probeer weer. “Jy kan saam met Mandie skryf … Sy wil jou hoeka vanmiddag kom sien, sy is ’n moerse fan van jou en sy het blink idees oor hoe om die storie aan te pas vir die kamera!”
“As ek kyk wat met Edgar Allan Poe se romans aangevang is op film … Eliza Graves! Shit! Daardie gekraak wat jy hoor, is Poe wat in sy graf omdraai!” Hy kyk na die naald in sy hand. “Verpleegster! Ek wil huis toe gaan!”
Anton maak hulpelose gebare. In die gang hoor Gustaf hoe Astrid driftig met iemand praat, seker Lothar, maar hy kan nie die woorde behoorlik onderskei nie. Dit is die een keer in sy lewe dat hy opstaan en vir homself baklei.
Elisma sou trots gewees het op hom. En hy sê skielik: “Weet jy wat?”
’n Sprankie hoop op Anton se gesig.
“Die naam Sterretjie pas nogal by daai meisie, nipples en al. Maar sy en Amanda Hoesenpoep skryf nié my storie nie!”