Читать книгу Adrenalien - Leon van Nierop - Страница 6
4
ОглавлениеDie verpleegster het pas ingekom en die ligte afgeskakel. Net flou bedliggies brand hier en daar in die hospitaal. Hy weet hy sal nie vanaand ’n oog toemaak nie.
Die man oorkant hom kreun aanhoudend van pyn, terwyl die jong vrou in die bed skuins links van hom kort-kort wakker skrik uit ’n nagmerrie, maar nie voor sy ’n allemintige gil gee wat almal wek nie.
Al waaraan hy nou wil dink, is hoe hy en Elisma mekaar twee jaar gelede ontmoet het. Dit is al wat die warboel gedagtes wat vasgeroes het in sy onderbewussyn kan olie gee. Hy sal hom soontoe moet verplaas as hy nie besete wil raak nie.
Die ontmoeting was in Edgar Allan Poe se huis in Philadelphia, die een waarin hy The Murders in the Rue Morgue geskryf het. Dit is glo sy enigste huis in die stad wat nog staan.
Gustaf het na die huis gestaan en kyk en probeer dink hoe dit vir Poe was om daar te gebly het, al was dit hoe kortstondig.
Was dit nie Graham Greene wat die volgende gesê het nie? “Writing is a form of therapy. I wonder how all those who do not write, compose or paint can manage to escape the madness, melancholia, the panic and fear that’s inherent in a human situation.” Hy het verstaan hoe Greene moes gevoel het, want hier waar hy nou gestaan het, het hy geweet hy wil ’n riller skryf, maar hy kon nie die besonderhede uit sy kop loswoel nie. Dit het vasgesit soos knapsekêrels aan ’n kakiebroek. Hoe harder hy probeer het om dit los te maak en hom daarvan te bevry, hoe stywer klou die onkruidhakies.
Elisma. Sy het die naam groot en duidelik in die besoekersboek in die voorportaal geskryf sonder om ’n van by te sit, asof sy nog na een soek.
Hy sou eers later verneem dat sy saam met ’n lawwe toergroep deur Amerika getoer het. Hulle wou glo nie gaan na “die muwwe ou huis van ’n skrywer van wie niemand al ooit gehoor het nie,” daarom het sy maar besluit om alleen by Poe se Philadelphia-huis besoek af te lê.
En só sou hulle ontmoet. Amper soos in ’n romkom – daardie afkorting vir die genre wat hy (en Elisma!) so verpes. Romantiese komedies.
Elisma is ’n pragtige naam. Hy sou later een van die karakters in Adrenalien na haar noem, al was sy nie baie gediend daarmee nie.
“Sy het niks met jou te doen nie, Elis. Ek is net mal oor die naam!”
Al die ander mense het húl vanne bygeskryf. Toe skryf hy onder haar naam: Gustaf, actually with a surname. Prinsloo. Johannesburg. South Africa.
Nogal cool, het hy in daardie stadium gedink.
Toe sien hy haar eenkant staan. Beeldskoon, soos dit ’n heldin in ’n riller betaam. Blonde hare, groot amandelvormige oë en ’n voorkoms wat hom aan sy gunsteling-aktrise, Emma Stone, herinner het. Sy het min grimering gedra, want daardie mooi gelaatstrekke het nie optert benodig nie. En twee klein oorbelletjies, subtiel, net dotjies wat haar mooi ore beklemtoon.
Ha-ha-ha. Ja, hy het geweet dat hy later daaroor sou lag. Wie sien ’n meisie se ore raak? Gewoonlik is dit hande of voete of, nou ja, borste. Maar ore! Toe skryf hy in die oop ruimte in die besoekersboek waar haar van moes gestaan het: With the beautiful ears. Hy het mos geweet sy sou nie weer in die boek skryf of daarin kyk nie.
Hy sien haar weer soos tóé. Sy kyk terloops na hom. Hy kan agterkom dat sy hom opgemerk het hier in Poe se huis. En toe sy die derde keer na die boeke agter hom staar, toe weet hy: Elisma-sonder-die-van hou van wat sy sien.
Gustaf kyk na die brosjure wat verduidelik wat Poe glo waar gedoen het. (Iemand het eendag vir hom gesê baie van die kamtige waarhede is blote versinsels om die besoek vir toeriste interessanter te maak, in die hoop dat hierdie besoekers ander besoekers daarvan sou sê.) Toe val sy oog op die inskrywing wat noem dat die huisbewoner moontlik The Cask of Amontillado hier uitgedink en geskryf het. Dit is een van sy gunsteling Poe-verhale. Dit gaan oor wraak. Verskriklike wraak, soos net in Poe-verhale kon gebeur. Die verteller het sy vyand half dronk, half waansinnig in ’n muur toegemessel – sy pleidooie en angs soos luidende simbale in sy kop.
Wat sou hý, Gustaf Prinsloo, iemand aandoen wat ’n werklike onreg teenoor hom gepleeg het?
Noudat Elisma hom verlaat het, dink hy kortstondig aan haar, onthou hy die tirades van die protagonis in The Cask of Amontillado – maar selfs nou, hier in sy hospitaalbed, kan hy hom dit nie indink dat hy Elisma enige liggaamlike leed kan aandoen nie.
Hy durf nie …
Al die leed wat sy hóm aangedoen het, is geestelik van aard, asof sy sy siel kaalgepluk het soos ’n brandsiek hoender voor die kop afgekap word en dit rondspartel soos ’n mal ding.
Dít deur die vrou wat hy in Poe se huis in Philadelphia ontmoet het. Sy het hom lewend in sy eie verbeelding toegemessel. Hoe wreed kan iemand wees? Is dít wat ’n vrou doen as sy ’n man werklik liefhet? ’n Man wat ’n stokou bundel uit 1908 ter ere van hulle ontmoeting gekoop het?
Hy staan nou weer by Poe se boeke wat te koop aangebied word in Philadelphia en is steeds daarvan bewus dat die mooi meisie met die soenbare mond en die effense duik in haar ken en die groot, nuuskierige oë na hom kyk.
Gaan sy? Wil sy?
Sy stap sowaar nader.
Hy het nou elke bundel bestudeer wat op die rak te koop aangebied is. Hy besit reeds elke verhaal wat Poe ooit gepubliseer het, maar van hierdie boeke is oud, pragtig gebind, versamelaarsitems.
Kloustrofobies. Dit is hoe hy die huis sou beskryf. Hy kyk kamtig na die plafon, die donker vertrek en die trap wat boontoe lei. Maar uit die hoek van sy oog gewaar hy dat die mooi meisie nou naby hom staan. Sy kyk ook na Poe se boeke.
Gustaf tel ’n bundel op. Rooi omslag, effens verweer asof dit al deur baie hande gegaan het. Dalk was dit op ’n solder toegesluit en is toe deur versamelaars gered. Die rugkant is effens verbleik, wat dit net nog meer aantreklik maak.
Links van hom is toeriste-replikas van die huis; boekmerke en yskasmagnete met Poe se aanhalings, veral uit “The Raven (Nevermore!)” en titels van sy mees berugte verhale.
Gustaf neem die bundel en maak dit oop. Die klerk wat dit verkoop, kyk net vinnig daarna, want dit is oud en baie duur. Dan gaan hy voort om SMS’e te stuur.
Gustaf lees op een van die titelbladsye: This is no. 336 of Everyman’s Library. First published 1856. Published in this edition 1908.
Hy blaai verder, raak versigtig aan die ragfyn papier wat soos skoenlappervlerke onder sy vingers voel. Hy blaai na die inhoudsopgawe en sy oë beweeg oor die titels. Dit kom tot stilstand by “A Descent into the Maelström”, een van die verhale wat hom selfs as jong man nagmerries gegee het.
Die moderne bundel wat sy ouers tien jaar gelede vir hom aangeskaf het, het illustrasies ingehad wat hierdie bundel glad nie het nie. Gustaf onthou die verlore siel met sy benerige gesig wat soos Munch se Die Gil, mond wyd oopgesper, blindelings in die lug gryp terwyl die maalkolk hom dieper intrek. Dit is hoe hy hom die hel voorgestel het, nie met oom Petrus wie se lieste deur Beëlsebub oopgesteek is nie.
“A Descent into the Maelström” begin met ’n aanhaling deur Joseph Glanvill. Terwyl hy dit lees, beweeg sy lippe saam met die woorde – ’n gewoonte wat hy op skool aangeleer het omdat hy so dikwels voorlesings uit voorgeskrewe werke voor die hele skool moes doen.
“We had now reached the summit of the loftiest crag,” lees hy die eerste reël van die riller hardop. Die meisie, Elisma, staan nou agter hom en kyk seker hoe sy vinger oor die sagte papier en fyn-fyn skrif beweeg. Hy lees verder, maar sagter: “For some minutes the old man seemed too much exhausted to speak.”
Hoe dol is hy nie oor Poe se formele styl met sy soms omslagtige manier van skryf nie. Met die lees van elke verhaal het hy altyd gewens hý kon so formeel skryf. Dat hy sulke stories kon uitdink. Maar hoe dink ’n mens sulke gruwels uit? Tap jy dit uit jou siel soos rubber uit ’n rubberboom, met die grootste moeite?
Hy sit die boek terug op die rak en die klerk kry ’n snedige uitdrukking op sy gesig asof hy sê: Te moeilik vir jou, boetman.
Die besoekersboek lê nou omgedraai sodat dit in sy rigting wys, en daar is iets in rooi ink geskryf. Hier het geen nuwe besoekers opgedaag nie. Wie sou nou skielik daardie inskrywing gemaak het?
Hy loop tot by die boek en sien sy naam daar geskryf. En toe Elisma s’n. En reg onder haar naam, in die oop ruimte waar die volgende besoeker veronderstel is om te teken: As jy regtig in die boek belangstel, kry my in Poe se slaapkamer, boonste verdieping heel links.
Gustaf loop met die trap op, weg van die donker kelder hier onder waar Poe glo ook baie van sy verhale uitgedink het, of so wil die toeristebrosjure dit hê. Miskien het hy “The Premature Burial” daar uitgedink. Of dit is wat Gustaf hom wysgemaak het terwyl hy foto’s met sy selfoon geneem het.
Op die volgende verdieping moet hy eers terugstaan sodat besoekers kan verbykom. Hy kyk na die lessenaar waar Poe glo van sy werke geskryf het. Sien die boekrakke, die eenvoudige interieur, wonder of hy van sy kritiese stukke en artikels ook hier geskryf het.
Hy loop vorentoe, soek na haar tussen die mense, maar Elisma is nie daar nie. Hy neem selfoonfoto’s van die gang, die kamers, die studeerkamer en die portrette. Dan stap hy na waar die boekie aandui Poe se slaapkamer was.
Gustaf! staan op ’n koevert wat op ’n tafel staangemaak is.
Is dit …? Kan dit …?
Hy kyk rond, neem die koevert en maak dit oop. Twee vroue kyk betekenisvol na hom en draai dan terug na Poe se bed.
Hallo, Suid-Afrikaner. Kry my by die bankie waarop “The Tell-tale Heart” gegraveer is voor die huis.
Af met die trap. Hy wil nog die ou rooi bundel koop, maar sien dit nie meer nie, en loop dan straat toe.
Die bankie! Ja, daar is dit, moontlik net uitgedra en hier staangemaak vir toeriste!
Gustaf loop tot daar. Daar lê ’n pakkie met die embleem van Poe se Philadelphia-huis daarop. Gustaf, staan daarop.
Hy kyk weer rond, maar sien niemand bekends nie en beslis nie die meisie van netnou nie. Hy maak die pakkie oop.
Tales of Mystery and Imagination. Edgar Allan Poe. Everyman Edition. Dit is die presiese bundel waarna hy skaars tien minute gelede gekyk het! Sy het dit vir hom gekoop!
Gustaf loop vorentoe, soek na haar, stap terug na die huis se voordeur, soek, staan op sy tone om beter te sien. Dan die tik op sy skouer.
“Koffie in The Purloined Letter?”
Nog een van Poe se verhale. Hy verstaan nie, maar sy draai haar rug op hom en verdwyn om die hoek.
Gustaf moet uithaal om by te bly.
’n Blok verder wil hy die straat oorsteek toe hy die restaurant se naam sien: The Purloined Letter.
Hy stap in.
Elisma sit alleen by ’n tafel in ’n hoek wat op die straat uitkyk. Daar is nie baie mense nie en dit is redelik stil, met ’n byna gewyde atmosfeer asof Poe steeds iewers in ’n hoek sit en skryf. Waar hy bloed uit sy brein tap en in daardie einste bloed letters vorm met ’n doring.
Elisma.
Hy wens hy kan haar verewig soos sy nou daar sit. Sy dra ’n romp met Afrika-motiewe wat los om haar liggaam pas. Haar bloes pas by die romp, maar is sonder patrone en motiewe. Sy dra ’n sonbril en is besig om die spyskaart te bestudeer. Dan kyk sy op. Sy beduie na hom en sê in Afrikaans: “O. Hallo, kelner. Gedink jy sien my nooit raak nie! Kan ek asseblief die Raven-latté kry? En ek hoor hulle Ligeia-kaaskoek is uitsonderlik.”
“‘Eleonora’ was sy gunsteling-verhaal,” sê Gustaf en gaan sit oorkant haar.
“Kom ek raai. Joune is ‘The Pit and the Pendulum’?”
Hy gaan sit en hou die boek na haar toe uit. “Jy het niks voorin geskryf nie.”
“Want alles wat ek wil sê, staan reeds daar, in Poe se eie woorde.”
Gustaf streel oor die boek. “Dis pragtig. Baie dankie.”
“Weet jy hoe lekker is dit om weer Afrikaans te hoor? Die groep saam met wie ek is, kom van elke uithoek van die wêreld behalwe Suid-Afrika. Hallo. Ek is Elisma.”
“Jy ken my naam reeds,” sê hy.
Sy kyk na hom en na die baardjie wat hy besig is om te kweek. “Ek het nie ’n clue hoe jy sonder ’n baardjie lyk nie, maar ek sou sê,” sy draai haar kop skeef, “dat hierdie stoppels jou nogal goed laat lyk.”
“Jy sal merk ek het nie Poe se snor nageboots nie.”
“Of sy deurmekaar, krullerige hare nie. En jy het ook nie so ’n hoë voorkop nie. Maar die oë …” Sy raak skielik ernstig, asof sy skrik. “Jou oë …”
“Lyk hopelik nie soos onse Edgar s’n nie?”
“Maar het die potensiaal om dalk eendag so te lyk, na gelang van hoe jou siel deur die lewe verflenter gaan word,” waag sy.
Hemel. Nou ja toe.
Sy trek haar oë op skrefies. “Wys my bietjie hoe Poe se oë lyk.” Hy wil eers beswaar maak, maar sy waai dit weg. “Toe. Vir iemand wat die moed het om in die besoekersboek te skryf wat jy geskryf het, kan jy dit seker probeer!”
“Jy het mooi ore,” lag hy. Sy wikkel hulle en hy buig agteroor van die lag. “Jy is so romanties, jy maak my week.”
“Nou toe, Gustaf. Probeer jy.”
Hy probeer sy ore wikkel, maar kry niks reg nie.
“Pateties! Maar probeer tog nou die oë!”
“Waaraan moet ek dink?” vra hy.
“Verbeel jou jy is …” Sy krap met haar wysvinger teen haar regterslaap. “Moorddadig kwaad. Eleonora het jou verlaat. Of jy is Usher en wil elke greintjie lewe uit jou suster pers. Of jy het dieselfde geheim as Fortunato se moordenaar in ‘The Cask of Amontillado’ en dit vreet soos batterysuur. Hoe sou jy dan lyk?”
Hy fokus op die muur, kyk by haar verby, dink aan sy enkele mislukte verhoudings, sy smagting daarna om te skryf, die alleenheid wanneer hy teruggaan na sy hotelkamer. Die donkerte wat hom toevou wanneer hy die bedlampie afskakel en sy kop na stories soek.
Hy het eendag ’n sywurm dopgehou wat ’n draad spin, toe dink hy: Dit is hoe dit moet voel om ’n regte, egte storie uit te dink. Soos daardie fyn draadjie wat uit die wurm se bek peul en wat tydsaam gespin en gespin word tot die skrywer in die kokon toegespin is.
Hy hoor ’n klikgeluid. Elisma neem hom met haar selfoon af. Gustaf probeer keer, maar dis te laat.
Sy kyk na haar selfoon. “H’m. As ons dit Photoshop en vir jou ’n snorretjie inteken!”
Gustaf neem dit uit haar hand en kyk na homself. Hy skrik.
Dan soek hy na die Delete-knoppie en wis die foto uit.
“Wat het jy nou gemaak?” vra sy.
“Ek hou nie van hoe ek lyk nie.”
Sy leun vorentoe. “Waaraan het jy gedink?” Sy maak haar stem dramaties: “Of het jy Edgar Allan Poe geword vandat jy in sy huis was?” Sy rek haar oë. “Skisofrenie! ’n Reïnkarnasie van Edgar Allan Poe, met al sy vrede en neuroses!”
“Ek verstaan hom,” is al wat Gustaf sê.
“Jy weet hy is half waansinnig in ’n sloot in Baltimore gekry en is kort daarna dood?”
“Is daar iemand wat Poe lees wat dit nie weet nie? Die skrywer wat net so misterieus gesterf het as wat hy geleef het?”
Elisma raak ernstig. ’n Kelner kom staan langs hulle en hulle bestel albei koffie.
“Waaraan het jy nou net gedink, Gustaf-van-Suid-Afrika?” vra sy.
“Jy wil nie weet nie.”
Dit het haar belangstelling gewek, want toe sy na hom kyk, sien hy ’n erns in haar oë asof sy hom tegelyk jammer kry en verstaan.
“Dalk weet ek,” antwoord Elisma.
“Ek gaan ’n roman skryf soos Edgar Allan Poe. En ek gaan dit aan jou opdra,” sê Gustaf.
“En wat gaan jy die roman noem?”
“Ek gaan dit hernoem na wat met my gebeur wanneer ek van sy verhale lees. Veral ‘The Black Cat’.”
“Wow.” Sy glimlag weer. “Wat gebeur met jou as jy van sy verhale lees, Gustaf-van-Suid-Afrika?”
“My lyf raak vol adrenalien,” antwoord hy.