Читать книгу Adrenalien - Leon van Nierop - Страница 4
2
ОглавлениеDie hele pad terug huis toe weet Gustaf: hier kom ’n ding. Dit kan ’n senu-instorting wees. Dit kan ’n ligte beroerte wees. Iets is aan die krioel in sy ingewande wat hom waarsku dat sy sisteem gaan inkonk. Dit voel soos wanneer hy na ’n griller op die silwerdoek kyk en weet iets verskrikliks gaan gebeur, maar erger. Dan kruip die afskuwelikheid soos elektriese wurms teen sy ruggraat op, deur sy skouerblaaie, tot duisende pootjies sy kopvel van sy kroontjie af tot naby sy voorkop kielie.
En dan sy hart wat kort-kort ruk. Is dit hoe ’n hartaanval voel? Het Die Waarheid hom ingehaal?
Hy knip-knip sy oë en kyk na die strate vol vullis – leë kanale van slordigheid met hier en daar ’n lamplig wat werk. Hy sien blertse koeldrank of bier op die teer. Seker by taxivensters uitgegooi. Gewoonlik moet hy sy oë op die pad hou en konsentreer om nie deur ’n taxi raak gery te word nie. Of mense om te ry wat oor die pad slenter juis wanneer hy aangery kom nie. Maar nou is die stad soos die voosgevrete karkas van ’n bok met derms en mis wat uitpeul. Al die vet en binnegoed is uitgeruk deur hiënas wat net die beendere en stukke vel oorgelaat het.
Klaas Vakie netnou! Kan dit wees?
’n Windjie tart die rommel langs die strate – die papiersakke, Daily Sun-plakkate, sigaretpakkies en -stompies is amper mooi, soos graffiti teen ’n agterstraatmuur.
Hy bewe so dat hy beswaarlik die stuurwiel kan vashou. Dis net die naalde wat in sy kopvel prik en die beeld van Klaas Vakie wat hom by sy bewussyn hou.
Hy onthou as kind – hy was so vier of vyf – het sy mangels sy sisteem vergiftig en het sy ouers besluit om dit te laat uithaal. Die gif het so versprei dat hy begin hallusineer het. Die aand in die hospitaal voor die operasie, het sy ma langs sy bed gesit. Dit was die eerste keer dat hy iewers anders as in sy eie bedjie geslaap het, omring deur sy teddiebere en Knikkie-boekies en sprokies. Hy het altyd gewonder hoekom daar nooit sprokies oor Klaas Vakie was nie, want die boepens-mannetjie met die slaapmussie op die kop en die sak met sandjies oor sy boggelruggie het hom betower.
“Ek kry nêrens ’n storie oor Klaas Vakie nie, nie eers in die Skatkis-reeks nie. En dié op die internet is te gruwelik! Ek is seker die karakter was ’n psigoot!” hoor hy sy ma vir sy pa sê.
Dit was die eerste keer dat hy die woord “gruwelik” gehoor het. Hy het dit probeer sê en op die “g” gery. Klaas Vakie is gruwelik. Gruwelik!
Maar die ander woord, “psigoot”, het in sy kop bly vassteek. Hy het dit eers gehoor as “sigôt”. Klaas Vakie is ’n sigôt. Dit het hom aan ’n ietermagog laat dink, en hoe hy eendag by die skool ’n foto van dié snaakse dier gesien het. Dit was die kort klanke, die harde g-klanke wat hom bygebly het.
Hy het al van Klaas Vakie vergeet. Maar Klaas Vakie het hóm nie vergeet nie …
Daardie selfde aand voor die operasie het ’n verpleegster vir hom kos gegee: groente, vis en aaklige pienk jellie. Daarna het sy vir hom iets ingespuit sodat hy kon slaap. En toe is sy uit. Eenkant het ’n pil in ’n bakkie gelê wat die verpleegster daar gelos het, toe drink hy dit. Minute later het hy drogbeelde begin sien.
Tussen die gedrogte en die vaak deur het hy gesien hoe die ander pasiënte aan die slaap raak. Hy wou praat, maar sy tong was lam van die pil.
Iewers digby halfelf het hy Klaas Vakie voor sy bed sien staan met sy boggelruggie en sy sak vol sandjies. “Sigôt!” het Gustaf probeer sê. “Sigôt!” Maar geen klank het uitgekom nie.
Die mannetjie het ’n lelike haakneus gehad en groot Pyrex-bord-oë waarvan elke iris ’n ander kleur was. Om nie te praat van die skewe rooi mussie op sy kop nie en die moesies op sy wang met ’n lang haar in elkeen. Waar ander sprokiesmannetjies ’n klokkie aan die punt van hul mussie gehad het, het hierdie kreatuur ’n klein kopbeen gehad. En op sy voorkop was ’n ding getatoeëer wat soos ’n koringkriek gelyk het, kompleet met grypende voelers en ’n harde doprug vol grieselrige strepe. Dit is wat Gustaf die beste onthou – die dop met die strepe op Klaas Vakie se voorkop.
En die hare uit die moesies waaraan hy wou trek.
Die mannetjie het nader geloop. En toe praat Klaas Vakie in die stem wat hy ’n halfuur tevore in die bioskoop gehoor het:
“Ek gaan sand in jou oë strooi totdat jy blind word daarvan. En elke korreltjie gaan jou oogballe krap en skaaf en brand totdat jy net my gesig sal sien. Vir altyd en altyd en altyd. Ek gaan jou help om jou geheime te sien. Om jou gewete te sien.”
Daarna het hy aan die slaap geraak.
Die volgende wat hy onthou, was toe hulle hom operasiesaal toe gestoot en hy die plafon bokant hom sien verbygly het. Hy het homself opgelig om te kyk. Aan die onderpunt van die gang het Klaas Vakie met sy mussie vir hom staan en wag met ’n blink operasiemes in sy hand.
Gustaf het begin skreeu. Hy wou wegkom. Dit het drie verpleegsters gevat om hom vas te hou tot in die operasiesaal. Daar het hulle ’n masker oor sy gesig geplaas. Die bekommerde dokter het oor hom gebuig. Maar agter hom was Klaas Vakie met sy blink mes en sy ronde Pyrex-bord-oë en die koringkriek wat oor sy wang geklouter het.
Hy het sy mes teen die dokter se rug skerp gemaak en daarmee na Gustaf gesteek-steek-steek. Skielik het Gustaf se pa daar gestaan, Klaas Vakie voor hom, en toe druk die gedrog die mes in sy pa se maag!
Alles het donker geword.
“Die arme kind.” Sy ouma toe hy wakker word, met sy betraande ma langs hom. Albei het gehuil. “Hemel, gelukkig is die kwaad nou op ’n vroeë ouderdom uitgesny.”
Dit was sy eerste ontmoeting met Klaas Vakie.
Senu-instorting. Hy is nie seker presies wat dit was nie. Hy onthou net daardie insident in die hospitaal so goed. Dalk is ’n instorting weer besig om hom te bekruip, nes chaos tans die land insypel.
Reël 10 vir die skryf van rillers: Wanneer die karakter op sy of haar laagtepunt is, skop hom/haar wanneer hy/sy lê. Stapel die rillerelemente nou soos Lego-blokkies opmekaar. Maar bowenal, laat dinge met die karakter gebeur wat jou as skrywer self verras. Laat iets plaasvind wat jy nie verwag nie. Pleeg jou ergste nagmerrie vanuit die veiligheid van ’n leerstoel voor ’n rekenaar met die wete dat jy steeds veilig en onaangeraak is.
Maak Klaas Vakie dood in jou storie!
Maar deesdae tref erger gruwels jou buite die teater as daarbinne …
Dit is hoekom mense na rillers gaan kyk, het Elisma in een van haar lesings gesê: “Omdat ’n mens die adrenalien mis wat so gereeld deur ons voorsate se are gepomp het. In vandag se beskermde samelewing mis jou liggaam daardie adrenalienskok. Lees jy rillers of gaan kyk jy na gruwelprente waar jy ’n oopoë-nagmerrie kan beleef met die gepaardgaande rillerelemente sonder dat ’n haar op jou hoof beskadig word. Veilige foltering. Dit is soos om ’n groteske koporgasme te kry.”
Die studente het die verwysing na ’n orgasme natuurlik vreeslik geniet, maar een het gegrinnik: “Ons ergste gruwels is in die samelewing en in die regering en in korrupsie!” Waarop Elisma geen kommentaar gelewer het nie.
En nou ry Gustaf terug deur Johannesburg. En daar is niks genotvols aan hierdie adrenalien-ervaring in die verlate strate nie.
Hy slaan remme aan. Die verkeerslig het na rooi oorgeslaan en hy het dit byna nie opgemerk nie. Nie dat enigiemand ooit hier stilhou nie, veral nie dié tyd van die nag nie. Maar ’n dronkie kon uit ’n systraat aangery gekom en hom op die deur getref het.
Gustaf kyk rond. Dit is asof War of the Worlds skielik waar geword het en alle menslike lewe van die planeet verwyder is.
Graffiti teen die muur: Welcome to Nkandla City! Pay back the money!
No white Miss South Africa! Racism!
’n Stuk papier fladder oor die pad. Dit tref sy voorruit en hy gil. Die skok laat hom ruk, so erg dat selfs die kriewelings vir ’n oomblik bedaar.
Gustaf sit lank so. Dan skakel hy die windskermveërs aan en probeer die papier wegvee, maar dit is asof dit ’n lewe van sy eie het. Dit gee nie mee nie.
Die verkeerslig, een van die min in die gebied wat nog werk, slaan oor na groen, maar hy kan nie ry nie. Die papier versper sy uitsig.
Hy probeer fokus op wat daarop staan. Dit is nie ’n verdwaalde bladsy van ’n koerant nie. Iets is met die hand daarop geskryf. Hy kyk weer rond.
’n Beweging. Daar is iemand in die straat!
Hy sien ’n verflenterde seuntjie in ’n jas wat te groot is vir hom. Die bedreiging kom dus vanuit ’n onverwagte oord, soos in Adrenalien. Die riller wat sommige lesers nie kon voltooi nie omdat dit hulle te erg laat ril het.
Nou gebeur dit met hom.
Die kind, eintlik al ’n bietjie grootmens van al die ontberings, staan langs sy motor. Gustaf is te bang om na hom te kyk. Hy wil ry, maar sy regtervoet bewe so dat hy beswaarlik die brandstofpedaal kan trap.
Die handjie wat die papier nou van sy windskerm afhaal, is nogal groot vir ’n kind. Die mondjie trek in ’n glimlag waar die enkele tande wat nog nie gevrot het nie soos mieliepitte aan die tandvleis kleef. Die handjie wat die slym uit sy neusie afvee, is vol sere.
Die kind hou die papier uit asof dit vir Gustaf bedoel is, soos ’n bladsy uit ’n Bybel wat per ongeluk losgekom het en met eerbied teruggegee word. En stadig, sonder dat dit die gevoel verminder van pootjies wat oor sy kopvel kruip, druk Gustaf die knoppie wat die ruit laat afskuif.
Die straatkind hou die stuk papier uit.
Gustaf vroetel in sy broeksak. Sy stywe vingers vat iets raak wat na ’n vyfrandstuk voel en hy druk dit in die smetterige handjie.
Wanneer hy die papier raakvat, sny die skerp kant hom. Hy ruk sy hand terug, druk sy duim in sy mond en suig die bloed uit. Dit het ’n vrank, soet smaak.
En Dracula en sy vampiergebroedsel hou hiérvan?
Gustaf kyk na die bloedmerk wat hy op die papier gelaat het. Hy probeer op die letters fokus.
Dit is vreemd hoe ’n mens se oë Kaapse draaie kan gooi oor letters wat jou eie naam uitspel. Eers dink jy dit is ’n naam wat lyk soos joune, of dat die woord dieselfde letters as jou naam en van bevat. Maar een vir een, soos letters gedurende ’n oogtoets, kom dit in fokus. G.U.S.T.A.F. P.R.I.N.S.L.O.O.
Hy knip-knip sy oë. En dan:
Ek bely hiermee dat die volgende gegewens die waarheid is – die volle waarheid, en dat daar geen verdigsel of versagting van die waarheid is nie, so help my God.
’n Vlaag wind ruk die papier uit sy hand. Dit flenter oor die pad sodat die bietjies-kind agter dit moet aanhardloop.
Hy swaai links in ’n verlate straat sonder om sy flikkerlig aan te sit en kies kortpad huis toe, net ingeval die polisiemanne tog kom kyk wat hy so laat in die nag in hierdie krotbuurt doen.
Dit is nog net sewe kilometer tot by sy huis en hy is amper op die snelweg. Maar wat gaan hy maak as daar iets op die agterste sitplek sit? Uit sy motor spring en hardloop, selfs terwyl dit nog beweeg?
Hy neurie “Mister Sandman” asof hy ’n wiegeliedjie vir die verbeelde gevaar hier agter hom sing – enigiets om sy aandag af te trek. En verbeel hy hom of hoor hy ’n gegiggel iewers?
“Mister Sandman, I’m so alone! Don’t have nobody to call my own!” sing hy.
Kyk.
Moenie kyk nie.
Kyk.
“So please turn on your magic beam!” Die towerstraal wat so skerp soos ’n mes is en deur murg en bloed en vel en been sny.
Moenie kyk nie.
Wat is die ergste? Om te wéét daar skuil gevaar, of om hom te verbeel wat daar skuil?
Hy draai op die snelweg, sien die bekende borde, merk die pad voor hom wat lank en verlate uitstrek. Nie vol swaaiende, drillende taxi’s en aggressiewe Gauteng-bestuurders nie.
Toe kyk hy in die truspieëltjie.
Die helder ligte is feitlik op hom. ’n Vragmotor toet en ry byna in hom vas. Hy het vergeet om te kyk of daar iets aankom. Hy is so gewoond aan verlate paaie dat hy nie in sy truspieëltjie gekyk het vir aankomende verkeer nie!
Hy probeer vinniger ry om uit die monstertrok se pad te kom, maar sy motortjie het nie genoeg krag nie. Hy hoor hoe die vragmotor remme aanslaan, sien hoe die trok heen en weer begin swaai.
Dan skiet sy motor vorentoe en hy jaag weg. Hy kyk in sy truspieël – verwag dat die vragmotor gaan omslaan en na hom toe rol en sy motor vergruis. Maar die bestuurder herwin beheer oor sy voertuig, skel op hom, wys tekens, druk op sy toeter.
Gustaf jaag huis toe.
Snelwegligte, hier en daar ’n motor van voor af met verblindende kopligte wat al sy sondes uit sy kop kyk, tolhekke, borde met name, soms ’n motor met dronk insittendes wat seker van ’n klub af kom. Een van die mans trek sy broek af en druk sy boude teen die ruit.
Toe hy tien minute later in hul motorhuis stilhou, stoot die asem deur sy bors soos branders wat eb en vloei, en met elke terugtrekking sand oor sy longe laat skuur. Dit kom en gaan, maak seer met elke intrek van asem. Hy wil amper lag kry vir homself en wat met hom gebeur. Hy weet nie of hy nog beheer oor homself het en of alles net ’n hallusinasie is nie. Hy wil lag, hy wil huil, hy wil kots, hy wil sing.
Hy sluit die traliehek en voordeur oop en sien dat Elisma die alarm geaktiveer het. Sy doen dit dikwels as sy weet hy kom laat terug, veral van sy maandelikse besoek aan die ou Rialto in die middestad. Piep-piep-piep! waarsku die flikkerende liggies wat soos vuurvliegies in die donker blink. Hy pons die kode in. Die datum waarop hy Elisma ontmoet het.
Die rooi alarmoog volg hom, maak nie saak waar hy in die vertrek beweeg nie. Dit voel soos ’n grieselgees wat in sy spore volg. Nes die EXIT-ligte tevore.
En hy besef: Sy eie huis het ’n terroris geword – sy grootste terroris. Want al sluit hy homself in sy studeerkamer agter ’n veiligheidshek toe met die alarm aan wanneer Elisma laat werk of vir haar ouers gaan kuier, is hy steeds bewus van bedreigings om hom.
Op die bed lê ’n briefie wat hom herinner aan die stuk papier wat teen sy motor se voorruit vasgewaai het. Weer die rukkings in sy hande, die sweet wat op sy voorkop begin pêrel, die gevoel van veg-of-vlug wat in sy liggaam posvat. Die naalde teen sy nek en keel af.
Elisma is nie in die bed nie en dit is nog opgemaak.
Hy tel die briefie op, maar sy hand bewe so dat hy moet gaan sit om die letters in fokus te kry. Die slaapsandjies wat Klaas Vakie ingegooi het, belemmer sy sig sodat hy oor sy oë moet vryf om behoorlik te sien.
Hi Gustaf
Nie eers “Liewe Gustaf” of “Naandsê, Gustawus”, haar bynaam vir hom nie. Net “Hi Gustaf”, asof sy met een van die studente praat oor sy sprokiesnavorsing.
Ek dink jy sal self besef dat ons, na al ons bekentenisse, veral joune, aan die einde van ons pad gekom het. Kommunikasie was nog altyd ons grootste probleem, méér van jou kant af as van myne. Jou monsters het jou oorgeneem. Ek kan nie meer met hulle meeding nie, nog minder wil ek verder deur hulle geteister word. Ek moet wegkom.
Dit is ook nie goed dat ons meer in dieselfde ruimte is nie. Elke keer wanneer ek aan Adrenalien gelees het, het ek te na aan jou gevoel om werklik objektiewe kritiek te kan lewer. En indien ek veranderings aangebring het (waar kom jy aan Bakkiesboek vir Facebook, in hemelsnaam!), was daar ’n ongemaklikheid tussen ons. Dan mor en sulk jy ure lank. Dit het onhoudbaar geword. En voor jy vra, nee, daar is nie iemand anders in my lewe nie. Nog nie. Maar enigiets kan gebeur.
Jy het hiermee net my beste wense. Ek hoop dat hierdie breek jou gaan inspireer om iets oorspronkliks te skryf. Jy het nodig om daardie woorde, daardie storie, vanself te kry, veral sonder my hulp. Maar kan jy sonder my, sonder jou uitgewer, sonder ander skryf? Dis die vraag.
Ek wens jou net die beste toe.
Elisma
Die donkerte bekruip hom soos die pyn in sy keel toe hy destyds ná sy mangeloperasie wakker geword het. Dit het gevoel of Klaas Vakie rooiwarm klippe in sy keel afgegooi het wat teen die vlees vasgebrand het. Elke sluk het hom laat skreeu van pyn.
Hy onthou sy ma langs sy bed. Hy het regop gebeur, weer begin skreeu, maar dié slag was elke kreet ’n uiting van intense pyn en nie net vrees vir die operasie nie. Die klanke het puimsteen oor die rou seer in sy keel getrek en die gegil het nog meer bloed laat ontstaan.
Dit het weer meer as een verpleegster gekos om hom tot bedaring te bring.
Hy was banger vir die naald in sy arm as die pyn, maar dit het sy volgende ontmoeting met die bloedseer in sy keel met ’n paar uur uitgestel.
Met die tweede wakkerword was hy kalmer, het hy geweet om nie onnodig te sluk of te skreeu of te praat nie. Weer was dit net sy ma langs hom.
En toe die woorde wat swaar deur sy seer keel geskuur het: “Waar is Pappa?” Die trane in sy ma se oë. Sy ouma wat troostend nader gekom het, haar kantsakdoekie met die C vir Christina duidelik daarop geborduur.
“Pappa is dood, Gussie.”
Die woorde het nie sin gemaak nie.
“Pappa het vanoggend gou by die werk weggeglip om na jou te kom kyk. Daar was ’n vragmotor wat nie by ’n verkeerslig stilgehou het nie …” Die emosie het oorgeneem.
En toe, tóé het die vyfjarige Gustaf Klaas Vakie se besoek van die vorige aand verstaan. Die grieselgees het hóm nie kom doodmaak nie.
Hy het hom in kennis kom stel dat hy sy pa gaan doodmaak.
En dat, elke keer wanneer Gustaf Klaas Vakie sien, iemand na aan hom gaan sterf.