Читать книгу Stralerjakkers - Leon van Nierop - Страница 4
1
ОглавлениеAs daardie yskas nog een keer grom! Dit is so ’n diep afsloofgeluid wat haar eksman, Gert Lubbe, se snorke na wiegeliedjies laat klink. ’n Kreun wat diep van agter die yskas se ysterderms kom, soos ’n ou man wat dekades lank al swaar dra aan sy sondes. Langer kan dit nie so aangaan nie! Selfs die losieshuis se inwoners dink al dis ’n wekroep uit die hiernamaals wat waarsku dat hierdie leierlose land binnekort finaal ineen gaan stort – die bietjie wat nog nie geplunder is nie.
Girly Lubbe se hand kramp van irritasie. Sy strek haar vingers oop en toe, byna soos toe sy destyds die plak Moeggepraat vasgevat het wanneer sy haar dogter Karlien moes tugtig.
Sy bring haar hand met mening op die rooster aan die yskas se agterkant neer – daardie dessitse plek waar die gegrom vandaan kom. Dan hoor sy net melkbekers klingel soos die yskas sidder, maar die gegrom hou darem op.
Tot die volgende keer.
Sy gaan sit in die ontvangsarea van haar losieshuis in Newlands tussen Delarey en Sophiatown in Johannesburg. Agter haar pryk die stoere skildery van ’n grysaard, woeste baard in al vier windrigtings, wat uit ’n boek sit en lees terwyl hy die brilletjie op sy neus vasdruk. (Sy is seker dit is die Bybel.) Langsaan is die skildery wat Karlien se eerste kêrel van Girly se losieshuis gemaak het.
Sy het tog so van die jongman gehou, maar Karlien het hom vinnig die deur gewys. Sy het nie ’n clue wat daar verkeerd geloop het nie. Jongmense se geite en nukke was nog nooit haar sterkpunt nie. Sy het in elk geval te veel van haar eie om haar nog oor ander s’n ook te bekommer.
Karlien kla elke keer wanneer sy die skildery sien, maar Girly staan daaroor so vas soos ’n bloekomboom langs ’n Karoo-windpomp. Dis vir haar tog so mooi, en dis die enigste oorspronklike skildery in die losieshuis naas die een van die Bybellesende vrome. Bly sal dit bly.
Hier sit sy nou. Nog ’n dag wat RSG se verkeersnuus interessanter is as wat in die parlement aangaan, want Long Street in Newlands, ’n katspoegie duskant haar losieshuis, is gepak met taxi’s. Partykeer sit sy sommer net op die stoep en kyk hoe selfsugtig die bestuurders optree. Hoe hulle soos opslagkoeëls verbyskiet. En wanneer sy na die superette hier naby loop, sien sy van naderby die gespanne passasiers se gesigte. Dan soek sy in haar roksak na haar pakkie Stywe Fisante – haar paspoort tot rookplesier.
Sy het verlede week opgehou rook toe die minister van finansies, met die kop so kaal dat dit blink nes haar gepôliesjde stoep, al weer die belasting op sigarette opgeskuif het. Maar asof dit nie erg genoeg was nie, gaan suiker ook glo nou belas word.
“Die lewe is reeds so bitter,” het haar oorlede ma altyd gepruttel, “’n mens se kos kan nie ook bitter wees nie.” Ook maar goed oorle Ma is nie meer hier nie, want as sy moes sien dat studente deesdae die land regeer – of dan opstokers wat hulleself as studente voordoen! – sou sy gesug het: “Spaar die roede werk nie ten goede!”
Krrrrrr.
Ag, have a heart – daar is dit weer! Die alewige geknor van die yskas. Dit begin as ’n sagte geratel, amper soos wanneer sy eiers klits. Dit herinner haar ook aan die twee lastige loseerders in kamers 1 en 2. Hulle gesels word al hoe harder hoe nader die horlosie se wysers aan slapenstyd kruip; dan raak dit buite beheer van die lekker lag, sodat sy haar hoë polvye moet aantrek en by nommer 1 se deur gaan staan. Dan kap sy vererg met die een polvy teen die deur om hulle stil te maak.
“Hemel, Girly, dit klink of Beëlsebub my kom roep!” kla die jongetjie dan.
“Jong, jou Beëlsebub sal binnekort brand, dan voel jy sommer meer tuis!” raas sy terug.
Die volgende aand begin die gesnater net weer. Gelukkig boer die twee manne in die gimnasium hier naby, dan het sy darem vir twee uur elke Dinsdag- en Donderdagaand rus van daardie testosteroon-brulle. Maar die res van die week klok hulle vroeg in om haar gemoed uit te rafel.
Kaplaks! Kakwaa! kap Girly weer teen die rooster agter die yskas. ’n Ligte siddering trek deur die huis wat haar aan daai grieselfliek The Omen laat dink – die laaste bioskoopprent waarheen Gert haar nog destyds geneem het voor hulle uitmekaar is. Die yskas snik en snater vir ’n oomblik, maar dan is dit asof hy keel skoonmaak en stilte vind iewers tussen sy ysterderms en -plaatjies. Sy hoop maar net die ou siel werk nog hierna, want sy het nie nou geld vir ’n nuwe yskas nie. Wat maak sy as hierdie een ingee?
Sy draai weg en loop na haar kantoor toe van waar sy die losieshuis bestuur.
“Ag, have a heart!” is al wat sy nou vir haar lessenaar sê wat kreun onder die korrespondensie, rekeninge, klagtes en gemorspos wat daagliks in haar posbus beland. Boonop kry sy gedurig pamflette oor penis enlargements. Om so ’n pamfletjie te moet aanskou nog voordat jy jou oats in het, stel hoë eise aan jou oorlewingsvermoë. Sy frommel dit nie net op nie, sy skeur dit in tientalle klein stukkies en gooi dit soos confetti in die vullisdrom naby die brullende yskas.
Die tydskrifte waarvoor sy altyd wag, daag nooit op nie, maar dié gemors lê so dik soos suurdeeg in haar posbus.
Haar selfoon bewe. Sy het vergeet om die volume op te draai en sy geniet dit tog so om na “Somewhere My Love” te luister; haar ringtone. Net Rocco de Villiers speel dit mooier.
Sy antwoord: “Hallo-o-o!”
Girly maak keel skoon. Karlien het haar aangespreek omdat sy glo “te aards” oor die foon klink. Sy het weke lank probeer ontsyfer wat “aards” beteken, en toe eendag besef dit is ’n ander woord vir kommin.
“Ma!” het Karlien gemaan, “sê net ‘hallo’. Doodgewoon en doodnormaal. En onthou, dis die persoon se óór waarin Ma praat. Ma hoef nie Northcliff toe te skreeu nie.”
Maar nou is dit weer te laat. Sy het reeds haar sprook gesprak en Karlien is g’n ’n elokusie-onderwyseres nie, al praat sý so mooi. Girly praat soos sy praat en basta met die res.
“Hallo?” vra sy weer, maar dié slag sonder om die woord bloots te ry.
Die stem aan die ander kant sny soos ’n warm mes deur botter: “Goeiemôre. Is dit mevrou Girly Lubbe?”
“Ag nee wat, meneer. Ek is jare gelede geskei en nie meer ’n mevrou nie. Hoe help ons vandag?”
’n Kort stilte. Die man oorweeg seker of hy nóú sy klagte oor die losieshuis moet lê en of hy later moet terugbel, want baie van haar loseerders kla per telefoon omdat hulle te bang is om haar van aangesig tot aangesig te kom sien.
Weer die mooi stem, nes iemand wat deur fluweel praat. “My naam is Tiaan Reyneke. Ek staan hier by jou voordeur en ek druk die klokkie, maar niemand maak oop nie.”
Met so ’n ordentlike stem kan die man net goeie bedoelings hê. Girly probeer deur die venster uitmaak of sy hom hiervandaan op die stoep kan sien staan, maar sy gewaar net sy tas.
“Hoe kan ek help?” vra sy met die opwaartse infleksie waarteen Karlien haar ook al gewaarsku het.
(“Vra net doodgewoon ‘Hoe kan ek help?’, sonder die houding!”)
Girly wag dat die man moet antwoord.
“Ek soek verblyf.”
Dadelik versag haar stem, want daar is tans drie kamers oop en sy kan beswaarlik kop bo water hou. ’n Nuwe huurder sal dus so welkom wees soos ’n Pikitup-wa wat die dromme kom leegmaak tussen hulle gereelde stakings.
“Ek is so jammer, Riaan, maar …”
“Tiaan. Soos in Christiaan, tannie.”
Ai, dis tog vir haar so interessant as iemand haar so noem. Min van haar huurders het nog sulke goeie maniere en “tannie” sterf mos uit. Tog laat dit haar ’n bietjie oud voel. Sy verkies Girly, maar eers as die loseerders haar beter leer ken het.
“Tiaan, ek is jammer. Ek het die klokkie by die deur ontman, want elke Jan Rap en sy riemtelegram druk dit deesdae, dan laat spaander hulle wanneer ek uitkom. G’n mens kon die gedurige gelui meer verduur nie. Dít juis in ’n straat waar daar so baie geraasbesoedeling is.”
Geraasbesoedeling. Dit is wat een van haar huurders dit eendag genoem het. Tog vir Girly so ’n mooi woord, daarom dat dit aan haar tong gehaak het soos ’n knapsekêrel aan ’n kakiebroek.
“Dis hoekom ek nou die nommer gebel het wat hier by die deur opgeplak is. Het tannie ’n kamer om te huur?”
Sy druk die laai toe waarin daar nog drie Stywe Fisante lê en wag om in rook op te gaan.
“Tannie het ’n kamer oop, ja, maar kom ons praat van aangesig tot aangesig. Ek wil eers jou gesig sien.”
Eintlik wil sy sien aan wie die mooi stem behoort, want dis dieselfde sagte manier van praat as daai Nic de Jager-mannetjie Sondagmiddae destyds op RSG. Lieflike satynstem. Net Fanie Smit se Loof die Here-musiek op Sondagoggende was mooier. Haai, en nou is hy ook nie meer met ons nie. Hoe gaan sy haar Sondae sonder daardie pragprogram betree terwyl sy regmaak vir kerk?
Krrrrrrrr! herinner die yskas haar weer daaraan dat hy darem nog op ’n manier funksioneer, maar dié slag moker sy hom sommer met die elmboog. Dit help altyd. Hoe harder die hou, hoe stiller die yskas.
Die twee melkbekers in die vorm van papegaaie bo-op die yskas wikkel-wankel, en vir een vreeslike oomblik sien sy hoe haar oorle ma se twee blou troupresente moerland toe val, maar hulle bly deur die genade staan.
Ag, hond se doilie! Sy mis haar ma tog só vanoggend.
Af met die gang verby Elke huis het sy kruis en die portret van die breë en die smalle weg, tot by die voordeur waarop staan Moet aseblief nie die deur toeslaan nie! Iemand het ’n ekstra “s” by “aseblief” ingevoeg. Sy het dit in mooi sierletters geskryf – die einste skoonskrif wat sy nog destyds op Wolhuterskroon by ou Mies Gwen geleer het. Sy weet nie hoe dit gebeur het dat sy dit so verkeerd gespel het nie, maar toe sy dit klaar opgeplak het, was dit te laat. Nou staan die ekstra “s” uit soos ’n puisie op ’n matriekdans.
Girly sluit die voordeur en daarna die ysterhek oop.
Nou sien sy die man op haar bloedrooi Sunbeam-stoep behoorlik.
H’m. Dis nie aldag dat sulke aantreklike manne haar voorstoep vol staan nie. As sy net dink aan al die ondankbare verlore siele vir wie sy al in haar losieshuis rigting moes aanwys. Dit sal ’n boek vol maak!
“Goeiemôre, tannie. Ek is Tiaan Reyneke.”
Ai, maar die man hét ’n mooi stem. Gewoonlik pas radio-omroepers se gesigte nooit by hul stemme nie, maar in hierdie geval is hy nog mooier in die sweet van sy aanskyn as wat sy stembande oor die foon klink.
“Goeiemôre, jonge man!”
Geen breë glimlag om haar te probeer oorreed om vir hom verblyf te gee nie. G’n hogere taal soos baie van die manne gebruik wat ’n heenkome soek en wat nooit betyds betaal nie. Net doodgewone, plein Afrikaans.
“Ek soek verblyf, tannie. Kan tannie my dalk help?”
Girly neem baie dinge in terwyl sy hom beskou. Inderdaad, die mannetjie is aanskoulik en welgeluksalig welgeskape, nes die getekende gesigte in haar Kinderbybel. Die illustrasie van koning Dawid kom by haar op. Daardie blou oë kyk sommer dwarsdeur haar tot anderkant haar verlede uit.
Girly staan eenkant toe dat die man kan instap.
“Ek soek van vandag af ’n kamer, so ek hoop tannie het dadelik iets oop.”
Hy kyk reguit in haar oë soos iemand wat niks het om weg te steek nie.
“Kyk. Ek het nog drie kamers oop. Kamer 6 het ’n uitsig op Newlands en die Greymont-heuwels agter die park,” antwoord sy. “En dis darem weg van die geraas van Long Street met al die taxi’s.”
Bietjie te veel inligting, soos ’n behuisingsagent wat ’n plek probeer verkoop, dink sy.
“Tannie, ek stel nie in ’n uitsig belang nie. Ek soek net ’n blyplek.”
Sy beskou hom van kop tot tone. Stewige lyf, en hy pas netjies in sy jeans. En met daardie paar skouers kan jy ’n mielieland omploeg. Maar dis daardie reguit kyk in sy oë waarvan sy eintlik hou.
“Laat ek eers jou ID sien.”
Hy gee so ’n halfmasglimlaggie. Herinner haar aan Rock Hudson wat destyds net so fraai geglimlag het toe hy en Doris Day in twee kooie in hul bioskoopprent gelê het – nogal geskei deur ’n muur. Was dit nie in Pillow Talk nie? Rock het mos sulke “come hither, thou beautiful maiden”-oë gehad. Haar hele wêreld het inmekaar getuimel toe sy later verneem dat Rock eintlik vir die ander span speel, want sy was só beenaf op hom.
Dit herinner haar weer aan Karlien se waarskuwing: Appearances can be deceiving.
Tiaan haal sy ID-boekie uit en vat daaraan asof hy dit lank laas tussen sy vingers gevoel het. Hy hou dit na haar toe uit.
Die gesig wat vanuit die ID-boek na Girly toe terugstaar, is jonk en opgewek. Dis die eerste keer dat sy sien iemand glimlag op sy ID-foto. Mense lyk altyd stroef op daardie kiekies omdat hulle uit lang toue by Binnelandse Sake gepluk en dan vinnig voor ’n kamera gedruk word, net soos wanneer ’n roompoffertjie by ’n kerkbasaar in ’n tannie se mond geprop word.
Hoewel Tiaan met sy koning Dawid-voorkoms skoon van aangesig is, kan sy nou die swaarkry sien wanneer sy hom met sy ID-foto vergelyk. Dis veral sy mond wat in ’n ferm lyn getrek is wat Girly opval. Sy wil nog vra of dit ’n dame is wat sy hart so gebreek het, want dis mos die hartseer trek wat ’n mond kry as ’n man deur ’n vrou verkul is, maar bedink haar.
“Jy kan na kamer 6 op die eerste verdieping gaan kyk. Op met die trappe, draai slap links. Die deur is aan jou regterkant, duidelik gemerk.”
Hy knik en beduie of hy maar met die trappe kan opstap.
“Dis mos wat ek gesê het!”
Tiaan ruik vars en skoon in die verbygaan, sonder die rook- of drankwalms wat so baie ander voornemende huurders omring soos vlieëspuit in ’n plaaskombuis voor die reën. Sodra Girly drank ruik, dink sy dadelik ’n verskoning uit hoekom sy die persoon nie in die losieshuis kan toelaat nie. Reuke en geure is haar sterkpunt.
Sy was dan by ’n man betrokke – Gert Lubbe – wat so swaar na naskeermiddel geruik het, en kyk waar het dit haar laat beland! Met ’n papswak babatjie op die heup in hierdie einste losieshuis waar hulle destyds ’n kamer gehuur het. Vandag besit sy die plek.
As die derde trap kraak, sal sy sommer weet dat Tiaan ’n goeie potensiële loseerder is. Elke keer nog as moeilikheidmakers hier ingewarrel het om ’n kamer te inspekteer, het die derde trap nie gekraak nie – so asof hulle geweeg en te lig bevind is. ’n Man wat sy gewig in goud en mirre werd is, laat dit altyd kreun.
Net voor die jongman tot by die derde trappie kan vorder, word die yskas weer wakker in die kombuis. “Krrrrrr!”
Tiaan skud sy kop. Daar is die halfmasglimlaggie weer. Voordat hy kan vra waar die gruwelgeluid vandaan kom, antwoord Girly: “Dis my runderpes-yskas. Die enigste ding wat daardie siekte oorleef het.”
“Kan ek nie maar net Girly sê nie? Tannie lyk nie soos ’n tannie nie.”
“Ag, jou yster van ’n stuk metaal!” Sy lag diep uit haar maag. “Natuurlik kan jy my op my voornaam noem. Dit is eintlik Magrieta gebore Benade, maar dit het na Girly toe verander.”
Die atmosfeer is dadelik meer ontspanne.
“Dankie tog.” Hy beduie kombuis toe. “Dalk kan ek jou met die yskas help.”
Dit laat haar nog meer gemoedelik teenoor die besoeker voel.
“Jy goed met jou hande?”
“Was nog altyd.”
“Nou maar toe.”
Sy sê altyd “Nou maar toe” as sy nie weet wat om verder te sê nie.
Sy besef waaraan sy stem haar herinner. Lyle’s Golden Syrup in daardie groen blik. Al wat kortkom, is die bye wat om die dooie leeu swerm.
“As ek van die kamer hou, maak ek die yskas verniet reg, Girly.”
“Eers as ek van jou hou, kry jy die kamer. Laat ons nie die Ventertjie voor die bakkie haak nie!”
Maxie van kamer 9 kom verbygestap. Die madampie het ses maande gelede losies kom soek en toe was sy nogal stemmig aangetrek. Maar haar kleredrag het die volgende dag skielik verander. Sy staar onbeskaamd na Tiaan. Dis nou ’n oopketel-kyk daardie: ’n meisie wat hou van wat sy sien en wat dit wys.
Maxie lig haar wenkbroue en maak haar hande bak van agter terwyl sy na Tiaan se agterstewe kyk. “Netjies!” vorm haar mond die woord.
“Jy, madampie, moet eerder jou diep-in-die-verlede-huur betaal!” snou Girly haar toe.
Tiaan kyk oor sy skouer, skynbaar gewoond daaraan om aandag te geniet. Dan draf hy teen die trappe uit, twee op ’n slag soos ’n wafferse atleet. Hy het die derde een gemis.
Girly hou hom van hier onder af dop, waar hy op die boonste verdieping eers by die badkamer inkyk.
Sy hoop net dat die vorige gebruiker dit netjies gelos het, want sy en haar huishulp Miriam het al hul dae om seker te maak die badkamers is sindelik en die toiletsitplekke teruggeplaas op hul gestoeltes. Sy sit altyd ’n hekellappie oor die sitplek, want dit is yskoud in die winter wanneer ’n mens plaasneem. En op die toiletbak die poppie met die gehekelde rokkie wat oor die nuwe toiletrol klok. Ai, dis vir haar so mooi.
“H’m. Hier kom baie lig in!” praat Tiaan hard terwyl hy in die gang afkyk, seker na die groot venster aan die onderkant. “Kamer 6, nè?”
“Die een net langs die prentjie van die swane in die leliedam,” beduie Girly. Fraai prentjie, die swane. Amper soos die skilderye van Portchie wat sy nou die dag in ’n tydskrif raakgelees het. Haar hele hart roep na daardie skilderye, maar met haar karige inkomste sal sy nie eers kan bekostig om geskenkpapier te raam nie, laat staan nog ’n oorspronklike Portchie! Daarom die afdruk van die swane. Dit is ’n troosprys.
Kamer 6 is een van haar spogkamers. Sy het op ’n kol oorweeg om haar hoofkwartier, dus waar sy slaap, daar in te rig, maar as eienares van ’n losieshuis moet sy op die grondverdieping aan die gevegsfront wees – by die voordeur waar alles begin, gebeur en voltrek word. Daardie kamer, mooi en ruim soos dit mag wees, is net te ver.
Nou eers volg Girly vir Tiaan. Die derde trappie kraak soos sy gewoonte is as ’n goeie mens op hom trap.
Sy is net betyds om te sien hoe Tiaan op die bed gaan sit. Hy sak sommer so in die matras weg soos iemand wat lank laas ’n sagte verebed onder hom gevoel het. Hy gaan lê en plaas sy arms agter sy kop.
“H’m.” Dit is ’n diep tevrede geluid wat uit sy bors kom daardie. En toe ’n langer “h’mmm!”
So in die lêende posisie kyk hy na die hangkaste langs Girly. Ook na die lessenaar wat sy op ’n vendusie aangeskaf het; ’n stoel uit haar ouma se voorhuis, ’n wasbak in die hoek en die groot venster wat in Greymont se rigting kyk.
“Jy gebruik net nie daardie wasbak om in te pie nie – mens ruik dit!” waarsku Girly. “Baie manne is te lui om snags badkamer toe te gaan, dan pie hulle sommer in die wasbak!”
Tiaan sit regop en lag. “Ek kan darem my blaas beheer, Girly.” Hy kyk om hom rond. “Hoeveel is die kamer?”
“Vierduisend ’n maand, maar sonder kos.”
“Hier’s nie plek om kos te maak nie.”
“As jy my sal kans gee, jonge man.”
“Jammer, Girly.”
“Ek maak wel kos as jy wil saam eet. Ontbyt Maandae tot Vrydae, en in die week aandetes – maar net Maandag tot Donderdag. As jy saam eet, kos dit R5 500 met BTW ingesluit. Dank die Liewe Heer dit is nog nie op nie.”
“Die R5 500?”
“Die BTW, bedoel ek. Maar dit kom seker nog.”
Tiaan glimlag. “Wel! As jy bereid is om die kamer aan my te verhuur, neem ek dit graag, Girly.”
“Alles goed en wel. Maar jy moet ’n deposit betaal voor jy intrek, en die eerste maand is vooruitbetaalbaar, baie dankie!” Sy hou haar hand uit.
Die “baie dankie” laat die voorwaarde altyd ’n snertsie vriendeliker klink.
Tiaan haal sy beursie uit sy agtersak. “Hoeveel is die deposito?”
“Die helfte. Tweeduisend.” Sy kyk na die rol note waaruit hy geld aftel. Wie by sy volle positiewe en sonder ’n skietding op sy regterheup dra nog soveel kontant met hom saam?
Hy oorhandig die honderdrandnote. Sy lek haar middelvinger nat en tel. Presies tweeduisend.
“Dankie, jonge man.”
“Tiaan, asseblief.”
“Dankie, Tiaan, en welkom in Girly se Losieshuis – die enigste volbloed-losieshuis in die omgewing, nes hulle in die outydse tydskrifstories gehad het.”
“Ek voel klaar tuis. Dankie, Girly.”
“Ek hoop jy’t iemand wat jou kan help om jou bagasie teen die trappe uit te dra.”
Hy skud sy kop. “Ek het nie baie bagasie nie.”
Nou ja toe.
Hy loop na die deur toe.
“Net voor jy gaan!” Sy plaas haar hande op haar heupe – die wildewragtag-vasstaan wat Karlien ken van toe sy as skooldogter geroskam is, want met daardie houding neem Girly standpunt in. “Het jy enige verwysingsbriewe? Plekke waar jy tevore gewoon het, dat ek kan bel om te enquire?”
Hy raak ernstig. “Girly, as jy eers briewe nodig het, is ek dalk nie die regte persoon vir jou nie. Wat jy sien, is wat jy kry.”
H’m. Waar het sy daardie een al gehoor?
“Maar jou pa? Jou ma? Húlle kan tog oor jou praat.”
“My pa is dood en my ma besit ’n groot maatskappy. Ek kan haar nommer vir jou gee as jy oor my wil uitvra.” Hy sug. “En as jy dan werklik ’n brief wil hê, kan my ma se sekretaresse vir jou een skryf.”
Vreemd. Klink of sy ma ryk kan wees. Indien dit so is, hoekom dan nie by háár gaan woon nie? Hierdie is die enigste losieshuis tussen al die privaat hotelle en hostels, wat eintlik maar ’n ander woorde vir bordele is.
Maxie trippe-trappe-trone boontoe en loer by die deur in. Die madampie se broekies raak nou korter as die antwoord op ’n langvraag wat in die eksamen mis gespot is.
“Kan ek help, madam?”
Maxie rol haar oë wat hopeloos te swaar gegrimeer is. “Nee wat, Girly. Ek kyk sommer hoe ons nuwe intrekker lyk.”
“Tiaan,” antwoord die mooi gaan-saam-met-my-dans-toe-stem. “Tiaan Reyneke.”
“Maxie Maritz.” Haar stem sak sommer drie oktawe.
“Wat op pad was na haar kamer aan die onderpunt van die gang,” help Girly haar reg. Dit bly vir haar insiggewend dat die derde trap nooit kraak wanneer Maxie optrippel nie.
Maxie gooi haar linkerskouer vorentoe. Dit laat Girly aan die Marilyn Monroe-rolprent dink waar sy ook haar skouer vorentoe gegooi het toe sy gesê het: “Come up and see me sometime.” Of was dit nou ’n ander actress se woorde?
“Tot siens, madam.”
“Toedeldoe.” Uit is Maxie.
Tiaan kyk vraend na Girly. “So. Ek het die kamer?”
Polisiesirenes blêr buitekant soos die Flying Squad verbyjaag. Vir ’n oomblik kyk Tiaan half ongemaklik oor sy skouer.
“Jy kan hier bly, Tiaan, maar die eerste teken van oproerigheid, en jy’s uit Girly se losieshuis so vinnig soos ’n taxi ’n gap vat.”
“Ek sal nie amok maak nie, ek sal nie meisies hiernatoe bring nie en ek sal nie my radio hard speel of televisie kyk nie.”
Sy knik. “Dan het jy die kamer.”
Weer daardie glimlaggie soos ’n vlag wat nie behoorlik gehys is nie. Oeeeee! Sy sal Maxie uit hierdie kamer moet hou!
“Dankie, Girly. Ek hou baie van jou losieshuis.”
“Dan is dit goed so, Tiaan.”
Hy begin met die trappe af loop, terwyl Girly bo staan en wag. Tiaan besef dat sy hom dophou, gaan staan en kyk om.
“Nee, loop maar,” beduie Girly. Hoe kan sy vir hom sê dat hy nog net die trappietoets moet slaag voordat sy gemaklik met hom voel? H’m. Nes die tongtippietoets op TV destyds toe hulle daardie lekker margarien geadverteer het.
Tiaan bereik die voet van die trap. Hy het weer die derde trappie gemis!
Krrrrrr! grom die goormaag-yskas weer uit die kombuis.
Sy stap met die gang af en tel in die verbyloop die koerante op wat voor kamer 7 se deur lê. Liebies Labuschagne lees die oggendkoerant altyd reeds vroeg-vroeg, dan sit hy dit daar neer. Dit is gewoonlik vol gate waar hy artikels of advertensies uitgeknip het. Nugter weet wat hy daarmee wil maak!
Girly herwin die koerante, nes die bottels en ander goeters wat uit die swartsakke peul voordat die trollie-aasvoëls dit beetkry. “Recycle is my tweede naam!” sê sy graag.
Dan loop sy met die trappe af. Agter haar loer Maxie oor die balustrade. “Het jy hom gevat?” Haar oë is blink van opwinding.
“Ja, madampie. Onthou net hy is nie ’n paal waarmee jy kan dans nie! Gedra jou!”
“Oe-la-la!” lag Maxie en leun verder oor om nog ’n glimp van hom te probeer kry.
Onder kry Girly vir Tiaan in die kombuis waar die yskas grom.
Hy bekyk dit nog ’n rukkie voor hy dit van die muur af wegskuif. Toe sak hy af op sy knieë en vroetel aan die rooster.
Op daardie oomblik stap Maxie jou wrintiewaar weer verby. En toe sy Tiaan so oog omlaag sien, grinnik sy: “I love your boxers!”
Girly verwilder haar met een kwaai swaai van die hand.
Later lê Tiaan plat op sy rug en peuter aan die rooster – en skielik, asof iemand die kele toegedruk het wat Jerigo se mure in die Bybel se tyd so laat tuimel het, is daar stilte.
“Hierdie plaat agter was los. Hy is vas aan die …”
“Ek soek nie ’n instruction booklet nie, Tiaan. Silence is golden like a brand-new Holden – dis al waarin hierdie ou antie belangstel. Vielen dank.”
Tiaan lag. “Spesiaal net vir jou, Girly.” Weer daardie stroopsoetsalige stem.
Sy is so dankbaar dat die tannie-gedeelte nou weg is, want sy besef sy is nog nie reg om ’n propperse tannie te wees nie.
Tiaan loop na die ysterhek toe, wat steeds oop staan. “Jy moet die hek maar sluit nadat iemand ingekom het. Enigiemand kon ingewals het, Girly.” Hy beduie na sy motor toe. “Ek kry gou my ander sak.”
Voor sy kan antwoord, is hy by die deur uit.
Girly dink nog ’n oomblik. Dit was nou ’n aangename ontmoeting.
Sy gooi die koerante wat voor Liebies se deur gelê het op ’n tafeltjie oop en blaai verveeld daardeur, want sy probeer deesdae die slegte nuus miskyk. Die president se woeste uitlatings staan haar glad nie aan nie, daarom lees sy dit nie meer nie. Dit grief haar ook dat die universiteite so afgebrand word. Boonop kan sy die gekyf tussen die Uber-taxi’s en die wettelose jaagduiwel-doodskiste nie meer verdra nie. Al wat haar nog interesseer, is Baleka Mbete se kopdoeke. Tog so modieus.
Sy hoor hoe Tiaan sy bagasiebak buite toeklap.
Girly lek haar wysvinger nat en blaai na die agterste bladsy. Nou kan sy eers die blokraai invul en daarna ’n bietjie Sudoku speel.
O, sy vrek oor Sudoku.
Tiaan se motortjie gee ’n kort alarmskreeu, nes ’n skaap wat keelaf gesny word.
Iets pla haar skielik. Sy het so pas iets in die koerant gesien sonder om daaraan aandag te gee. Maar noudat sy daaroor dink …
Girly blaai terug na die voorblad.
Sy kyk. En sy kyk weer.
Haar linkerknie knak, want daar pryk Tiaan Reyneke se foto en boaan staan: Magnaat se seun uit tronk vrygelaat.
Haar hart krimp inmekaar. Haar vingers tas onwillekeurig na die paniekknoppie en sy dink aan die pepersproei in haar roksak. Dis eers nadat sy haarself met haar kantsakdoekie koel gewaai het, dat sy genoeg moed het om te lees wat daar staan.
Tiaan Reyneke, oudste seun van die bekende Plastikor-magnaat Marcel Reyneke, is vrygelaat nadat hy twee jaar lank onskuldig in die tronk was op aanklagte van geldverduistering. Sy saak het ’n dramatiese wending geneem toe sy voormalige vennoot, Wikus de Lange, verlede week in hegtenis geneem is en volgens die polisie erken het dat hy en hul ander vennoot, A.J. Muller, destyds vir die oortreding verantwoordelik was. Hy het na bewering ook te kenne gegee dat Tiaan Reyneke niks van die transaksie geweet het of iets daarmee te doen gehad het nie. Reyneke sal as getuie …
Tiaan staan nou oorkant haar. Hy sien die koerant voor haar lê en hou steeds sy tas vas asof hy verwag dat sy hom gaan uitjaag.
Haar mond is so droog soos ’n Vrystaatse dam tydens Januarie se groot droogte.
Toe sy uiteindelik wil praat, kom daar eers nie woorde nie. Sy maak keel skoon en kyk weer na Tiaan. Dan eers kom die woorde onseker: “Ek hoop jy geniet jou verblyf hier by ons, Tiaan.”
Verligting spoel oor hom, sien sy.
“Dit kan nie slegter wees as waar ek was nie, Girly.” En hy voeg by: “Baie dankie. Ek waardeer dit.”
Hy stap met die gang af na die trap toe. Heigend hert en sommer al die ander heiliges ook. Doen sy die regte ding? Laat sy ’n booswig in haar losieshuis toe wat almal se kele gaan afsny, en dit net omdat hy ’n mooi stem het?
Tiaan begin die trappe klim.
Girly maak haar oë toe vir ’n skietgebedjie, vinniger as die wag vir ’n McDonald’s-hamburger, met ’n stukkie van die “Onse Vader” tussenin van pure senuwees.
Sy luister na die voetstappe. Een. Stilte. Twee. Stilte. Tiaan loop soos iemand wat swaar dra aan foute van die verlede.
Toe kraak die derde trappie hard en duidelik onder sy gewig.
Buite toet-toet-toet ’n taxibestuurder wat ’n voornemende passasier gewaar het. Iewers slaan Newlands se kerkklok tienuur.
Maar die yskas in die kombuis is nou doodstil.