Читать книгу Stralerjakkers - Leon van Nierop - Страница 6

3

Оглавление

Die oggend verloop sonder noemenswaardige voorvalle in Girly se Losieshuis.

Sy hoor Tiaan na sy eerste aand onder haar dak vroeg opstaan. Hy gaan draf terwyl dit nog donker is en kom eers seweuur terug. Natuurlik sal Maxie met die wipstertjie toevallig by die voordeur uitstap die oomblik toe hy inkom. Sy probeer ’n gesprek aanknoop, hoor Girly, maar Tiaan reageer skaars. Dalk het die tronk hom van vroue laat vergeet, dink sy.

En om Maxie, wat so laat in die bed klim, so vroeg in die openbaar te sien, wil gedoen wees. Sy het Tiaan natuurlik hoor terugkom.

“Wow, ek love Gauteng, veral as hy sulke lekker surprises gee!” koer Maxie en tel Liebies se oggendkoerant op wat tot op die voorstoep geslinger is.

“Love is a dish best served cold!” antwoord Girly. Dis ’n sin wat sy iewers raakgelees het terwyl sy ’n blokraai invul, toe skryf sy dit in haar dagboek neer, want na 19 jaar is sy nog steeds koud teenoor haar eksman Gert wanneer hy bel. Sy wag net op die regte oomblik om die sin aan hom oor te dra.

Toe wonder sy of dit nie dalk “revenge is a dish best served cold” moet wees nie?

“Maar mens kan koue kos altyd lekker opwarm, op meer plekke as net die mikrogolf!” giggel Maxie en verdwyn met die trappe op.

Aaklige meisiekind. Girly weet dat sy by ’n ontkleedansplek werk met ’n eksotiese naam, en sy kom gewoonlik eers aan die verkeerde kant van middernag terug. Tog was sy gisteraand reeds elfuur tuis.

Dalk ’n slegte aand gehad?

Toe Girly haar spek-en-eier-ontbyt om kwart oor sewe voorsit vir die mense wat ekstra daarvoor betaal, eet Tiaan nie saam met hulle nie.

Die loseerders praat oor die gewone: onbeskofte motoriste; die M2 wat ’n jaar lank gedeeltelik gesluit is vir opknappings aan die dubbeldekker-snelweg en die verkeersopeenhopings wat dit veroorsaak; kapings; Zuma wat Nkandla kamtig gaan terugbetaal; die Guptas; universiteite wat brand; die lastige waentjietrekkers wat die linkerkantse bane van die strate so versper; swak dienslewering; Donald Trump se manewales; taxi’s …

Gauteng is nie vir sissies nie.

Losieshuise ook nie.

Karlien kom na ontbyt eers uit haar kamer, haastig soos gewoonlik en so op die nippertjie.

“My pop,” vra Girly, “en dié water-en-seep-gesiggie?”

“Ag, niemand sien my in elk geval raak nie, Ma.”

“Almiskie.”

Watter man sal ooit met Karlien se geite opgeskeep sit? Sy kan bitter moeilik wees as sy wil. Aard dalk na haar ma. Sy sal nie dat ’n man op haar kop sit nie, dis nou maar wors.

Girly kan sien Karlien wil nie eintlik vandag gaan werk nie. Sy vroetel in haar handsak rond en SMS gedurig op haar selfoon. Seker weer daardie aaklige baas van haar, Olaf Stroebel, wat haar veertjies so omkrap.

Op daardie oomblik kom Tiaan, vars uit die stort, met die trappe af. Sy oë is aan die rooi kant asof hy gedurende sy eerste nag van vryheid omtrent niks geslaap het nie. Karlien kyk vinnig van hom na Girly, en dan beweeg haar oë na gister se koerant met die artikel oor sy vrylating.

“Het jy jou mense al gesien?” vra Girly om te verhoed dat Karlien daarna verwys.

“Watse mense?” vra hy moedswillig.

“Jy skaam vir hulle?” vra Karlien en haar wenkbroue maak V’s.

“Dis partykeer beter om alleen te wees,” antwoord hy. “Goeiemôre, ek is Tiaan Reyneke.”

“So sien ek, ja.” Sy kyk weer na die koerant. “Ek is Karlien Lubbe. My ma se oudste en enigste.”

Tiaan kyk na Girly. “Wens dit was mý familie!”

“Jou eiers hard of loperig?” vra Girly terwyl sy kombuis toe stap.

“Ekskuus?”

Karlien gee ’n skuins glimlaggie. “Sy praat van ontbyt.”

Vir die eerste keer grinnik Tiaan. “O. Uhm. Nee dankie, nie ontbyt vir my nie. Ek drink protein shakes – dis baie makliker.”

“O. So jy gim seker?” vra Karlien.

“Ek gaan weer begin. Weet jy dalk van ’n plek hier naby?”

Karlien knik. “Ek gim altyd daar. Dis Felix se gim in Greymont.”

“Jy al weer met daardie bestuurdertjie gepraat, my pop?”

“Ma, Felix stel dalk belang in my om miskien by die gim te help, maar dis al!”

Dalk. Miskien. Nie woorde waarvan Girly hou nie.

“Om by die gim te help? Dalk kan ek ’n werk daar kry?” Tiaan kyk na Karlien.

“Ek staan eerste in die tou!” sê sy ferm.

“So, jy stel tog belang.”

Girly kom tussenin: “Jy moet hom van jou intensies in kennis stel, my pop, voor iemand anders daardie werk voor jou mooi gesiggie wegraap.”

“Ag, Ma. Dis nie te sê hy gaan my huur nie!” waai Karlien die onderwerp uit die vertrek uit.

“Almiskie. Hy gaan jou ’n offer maak. Lilian het dit gister in my teeblare gelees!”

“En wat die teeblare sê, is evangelie!” lag Tiaan. “Jy nog nie van teesakkies gehoor nie, Girly?”

“Hou jy jou by jou teeblare en ek hou my by myne,” waarsku Girly.

Karlien hou van Tiaan, sien sy, maar nie op daardie sliertige Maxie-manier nie. Sy vind dalk aanklank by sy bekkigheid en die feit dat hy nie skaam is om sy sê te sê nie. Ook dat hy nie toelaat dat sy wat Karlien is hom intimideer nie.

“Laat weet as daar nog iets in die huis is wat ek moet regmaak, Girly.”

“Die agterdeur wat so oor die teëls skraap as ’n mens dit oopmaak, werk op my nerwe!” sê Karlien. “Dit sal ’n wonderlike geskenk wees!”

Tiaan glimlag en kyk terloops na die buitedeur.

Girly vra nie wat vandag op sy agenda is nie. Haar loseerders se sake moet privaat bly.

“Sien julle nou-nou!” En woerts! is Tiaan by die kombuisdeur uit.

“Hy het nog nooit meer as drie woorde met mý gepraat nie!” snater Maxie toe sy uit die ontbytkamer ingestap kom. “Dit help seker as jou ma connected is!”

Hulle hoor sy voetstappe op die boonste verdieping. Sy deur gaan toe.

Toe wil Karlien by Maxie weet: “En waar is jóú ma miskien? Weet sy waar jy snags rondhang?”

Girly Lubbe sug. Karlien kry so ’n skerp stemtoon wanneer sy geïrriteerd raak. Dit is net ’n oktaaf laer as toe Mimi Coertse daardie hoë noot geslaan het met die sing van “Heimwee”. Ai, dit was toe daar nog langspeelplate was.

Sy luister nou nog na “Heimwee”, veral wanneer die lewe op sy swaarste druk of haar eksman weekliks bel om te hoor hoe dit gaan.

Ja, nóú probeer hy witvoetjie soek. Maar destyds, toe sy hom nodig gehad het, was Gert so weg soos ’n windjie wat iemand in ’n konsistorie gelos het.

Karlien se selfoon lui. Sy kyk na die naam op die venstertjie en gee ’n sug so diep, dit val met die gewig van ’n Jacob Zuma-besluit tussen hulle.

“Olaf! Jy het gesê agtuur, onthou jy nie?!” Stilte. “So, kry ek ekstra geld as ek vroeër begin?” Pouse. “Ek sou so hoop!” Weer die swaar sug. “Ja, ek stap sommer soontoe.” Sy skakel haar selfoon driftig af. Eendag gaan sy daardie sleuteltjies nog stukkend druk.

“My pop.” Girly lê haar hand op Karlien se arm.

“Ag, Ma-a-a!” Karlien sit haar arms om haar ma. Sy wil huil, kan Girly voel, maar is te trots om te wys dat haar baas by die superette haar tjank afgetrap het. Of in hierdie geval opnuut aangevuur het. “Eintlik wil ek maar net vir Ma hier kom help om die losieshuis te bestuur.”

“Jy is vir hoër dinge bestem. Jy leer dan by Unisa.”

“Maar hoe gaan ek by hoër dinge uitkom as die hysbak nie werk nie?”

“Contacts, my skat. Contacts. As jy die regte mense ken, kan jy enigiets regkry.”

“Al contacts wat ek het, is by Fines 4 U, maar ek hou altyd by die spoedgrens, so dit help my nie eers nie. Ek is selfs te boring dáárvoor. En ek kan daardie Olaf nie meer vat nie!”

“Jy dink nie jou baas se hakskene is dalk rooi na jou kant toe nie?”

Karlien snork deur haar neus. “Daardie pienk bakkies is nie in staat tot iets so helder soos rooi nie. Nie eers op sy skurwe hakskene nie.” Karlien neem haar handsak en soen haar ma. “Dan sien ek Moeks vanaand.” Nog ’n soentjie.

“Sterkte, my pop.”

Karlien verlaat die vertrek, maar sy is nie gereed vir ’n verdere dag se sloping van energie by die superette in Greymont nie – dit is duidelik.

Girly onthou die dag toe sy onder haar dogter se bed wou skoonmaak en daar op ’n kaartjie afgekom het wat byna die stofsuier se bek verstop het.

Ag, hoe sal mens nou sê? Dit was nou wel nie ’n liefdesbriefie nie, maar ’n kaartjie met twee teddiebeertjies wat ’n soentjie na mekaar toe waai. Binne-in was die woorde Ek en jy? Wie weet? Sonder ’n naam. Van toe af was Karlien ongedurig en was sy een dag amper laat vir werk. Sy het vies na haar SMS-boodskappe gekyk en ’n hele klomp uitgevee, sommer vyf in ’n ry. Toe het Girly geweet daardie nare Olaf wat sy personeel sulke lang skofte laat werk – die superette maak eers saans agtuur toe – het sy oog op haar dogtertjie. Tog hoef sy nie in te meng nie. Karlien is groot en mooi genoeg om haar eie ding te doen.

Liebies se deur gaan bo oop en Girly hoor hoe hy vir Maxie vra waar sy koerant is. Hy wil dit eerste lees.

Die swaanblompot waarin sy altyd angeliere op die tafeltjie rangskik, soebat om ’n ou spatseltjie kleur. Met haar hart wat vandag so verbleik voel, het sy egter nie krag om na ’n blom in haar wintertuin te gaan soek nie.

’n Angelier is haar gunsteling. Dit herinner haar altyd aan haar ma se tuin vol van die mooiste pers, rooi en geel angeliere; dan pluk haar ma partykeer sommer ’n mandjie vol daarvan om in die voorhuis te sit. Maar dié swaan maak haar vere verniet bak hier onder die spieël. Dit gaan nie vandag gevul word nie.

Die staanlamp in die hoek vang Girly se oog die oomblik toe die gloeilamp begin flikker. Ai, dít ook nog! Sy kyk na die drie porseleinfigure wat lyk of hulle die bak vashou waaruit die lig kom – die rokkies wydgesprei en kleurvol. Gert het die mooie lamp vir haar gekoop toe hulle in die losieshuis ingetrek het en sy nie meer die skerp lig uit die dak kon hanteer nie. “Dit is dan so onromanties, Gert.” Waarop hy die lamp op skuld gaan koop het.

Hulle eerste paar maande was romanties onder daardie lamp. Romanties en gelukkig, al het hulle dit nie breed gehad nie. Hy het hoeka vir haar angeliere gekoop, soms met ’n afknypgeldjie; daar was altyd blomme in hulle kamer.

Ai, waar is die dae?

Sy hoop nie die flikkerende gloeilamp is ’n aanduiding van hoe onewe die res van die dag gaan verloop nie. Sy sal nuwe gloeilampe by die superette moet gaan koop: die energiespaarder-soort.

Sy sug. Vandag is daar niks wat haar lewe verfraai nie. Alles is teen haar.

Sy hoor Tiaan se voetstappe teen die trappe afkom.

Karlien pluk die voordeur oop.

“Ek het my ID-kaart vergeet! Weet Ma waar dit is?”

“Dit is op die tafeltjie onder die koekoekhorlosie!”

Karlien gryp dit. “Dankie, Ma.”

Hulle kyk vir ’n oomblik na mekaar. Dan stap Karlien na haar ma toe en druk haar teen haar vas.

“Lief vir Ma.”

“Ek is net so lief vir jou, my pop.”

Steeds loop Karlien nie.

“Wat is fout, my skat?”

“Ek het weer drie onderhoude vir nuwe werk hierdie week, Ma. En ek sukkel my as af om my studiemateriaal uit Unisa te kry. Hoe kan ek leer as ek nie my studiemateriaal het nie? My eerste taak moet oor twee weke in wees!”

“Hoekom print jy dit nie liewers nie? Hier is mos ’n Postnet laer af in die straat?” vra Girly.

“Die kursus kos my reeds genoeg geld. Hoekom moet ek nog van die boeke uitdruk?”

“Omdat Kanaän se deure lankal toegemaak het,” glimlag Tiaan, wat in die deur verskyn met ’n vars hemp aan. “Daai prentjie wat jy in die Kinderbybel van die groot druiwetros gesien het, was pure lipstick oor die waarheid!”

“O, nè?” Karlien ruk haar op.

“O, nè!” Tiaan speel met sy motorsleutels. “Girly, ek is op pad winkels toe. Kan ek iets vir jou kry?”

Geen loseerder was al ooit so tegemoetkomend nie! “Wel. Jy kan Sanpic en Vim kry om Maxie se vuil bekkie uit te was, maar verder het ek darem nog alles.”

“Ek praat eintlik van kos. O ja, en toiletpapier. Ek sien die rolle in die badkamer is amper klaar.”

“Dis weer daardie dêm Pieta! G’n wonder die lewwie is altoos verstop nie!” Girly gooi haar hande in die lug op toe sy besef dat sy regtig vergeet het om die voorraad toiletpapier aan te vul. Toe sy gister by die Cresta-winkelsentrum was, het sy geweet sy het iets vergeet.

“Jy kan my ma liewer môre help om daai moewiese swaar kan vol sop te dra!” Karlien vee haar hare uit haar gesig uit. “Sy beman ’n sopkombuis in Strijdompark.”

“Hoe laat ry jy môreoggend, Girly?”

“Halfvyf. Die kinders bondel al van vroegoggend af by Binnelandse Sake se parkeerterrein saam. Hulle raak partykeer so ongeduldig, ek kan amper nie my skedonkie se deur oopkry nie.”

“Ek staan vieruur op,” antwoord Tiaan. “Ek sal jou help.”

“Hoekom staan jy vieruur op? Werk jy so vroeg?” vra Karlien.

“Roetine.” Die glimlag verdwyn van sy gesig af. “Ons is elke oggend vieruur wakker gemaak, en later skakel jou liggaam se klok daarby in. So. Ek kan tog nie vieruur na die plafon lê en staar nie. Daarom gaan draf en gim ek maar.”

“Oe, my plafon is baie mooi. Jy kan gerus vir my help om daardie blokkies te tel!” giggel Maxie met die verbystap.

Sy kom wragtag ook net op die verkeerde oomblikke verby!

“Gaan wip jou stertjie iewers by ’n universiteit. Jy is net so vol streke soos die mense wat so brand en dans!” snou Girly haar toe.

“Toedeldoe!” En weg is Maxie.

“En los die badkamer netjies!”

Sy het Maxie eendag aangespreek toe sy stertrieme oor die wasbak in haar kamer sien hang het, maar sy het nie verder uitgevra nie. Hoe minder sy weet, hoe beter vir haar siel.

Ai, en nou kry sy weer so lus vir ’n Stywe Fisantjie.

Met die uitstap sug Karlien: “Ek wens ek kon Ma môre help met die sopkombuis, maar ons maak mos Saterdae seweuur oop en ons moet sesuur by die superette aanmeld, anders pop Olaf weer ’n olyfpit.”

“Waarvoor swot jy?” vra Tiaan.

Die meisie rol haar oë asof sy haar eie drome absurd vind. “Ek wil ’n joernalis word.”

“Sterkte. Onthou, niks is onmoontlik nie.” Hy kyk ’n oomblik na haar en loop dan voordeur toe.

Hulle luister hoe sy motor wegtrek.

“Darem lekker dat hier nog ’n motor in die agterplaas staan waarvan die fan belt nog werk,” merk Karlien op. “Oe, en daardie bearings! Ek kan die skreeugeluide nie meer vat as die karre so lank vat om weg te trek nie!”

“Jy sal moet gaan, my kind. Hoe later jy by Olaf Stroebel instap, hoe erger is dit.”

Die res van Girly se dag verloop normaal. Sy het probleme met die munisipaliteit oor die erfbelasting wat skielik weer die hoogte ingeskiet het. Dan moes sy Johannesburg Water bel oor die lek voor die losieshuis. Die water het daar begin uitstroom, toe wag sy die hele dag vir hulle, net om te verneem dat hulle eers Maandag sal kom. Intussen lek die plek soos ’n politikus se gewete.

“Somewhere My Love” begin speel. Eksman staan op haar selfoon se venstertjie geskryf.

Partykeer los sy dit wanneer sy sien dis hy, maar die geblaasde gloeilamp en gebrek aan kleur in die huis noop haar om te antwoord toe die singery tot by “there will be songs to sing” vorder.

“Hallo, Gert.”

“Hallo, my ou dahliabolletjie.” Asof daardie beskrywing nou haar hart sal vermurwe.

“Wat wil jy hê, Gert?”

“Nee, ek wil sommer jou stemmetjie weer hoor.” Gert het die manier om alles in die verkleinvorm te plaas. “Lekker oggendjie!” sal hy partykeer sê. Of: “Dis ’n plesiertjie, my ou dadelpitjie.” Of die een wat sy die meeste haat: “Lekker daggie, my ou patroontjie!”

“Jy bel nooit ‘sommer’ om my stemmetjie te hoor nie, Gert. Wat is dit?”

Stilte. Hier kom ’n ding. ’n Swaar keelskoonmakery soos donderweer vieruur smiddae agter die Northcliff-heuwel toe dit nog gereën het. Deesdae worstel hulle maar saam deur ’n groot droogte. Die reën smiddae vieruur is net so skaars soos ’n goeie besluit in die parlement.

“Ek hoor onse Karlien sukkel so met die boeke en goeters by Unisa.”

“O. Julle praat daaroor?”

“Natuurlik, Girly. Jy weet mos ek sien haar partykeer in die superette.”

“Ek is bewus daarvan, ja, Gert, soos mens bewus raak van ’n tandpyn wat net-net in jou kies beginne klop.”

“Ek het ’n printer hier by die werk.” Hy het ’n paneelklopper net hier anderkant in Sophiatown. “Sy kan hier kom print.”

Skielik blaas die gloeilamp in die lampstaander oorkant haar.

“Solank dit net ordentlik gedoen word, Gert.”

Weer ’n stilte. Sy weet Gert wil kom kuier. Hy probeer die afgelope hoeveel jaar al weer om vlerk te sleep by haar, maar sy staan soos daardie kareeboom op haar geboortedorp Wolhuterskroon, wat naby die windpomp wortel geskiet het.

“My ou soetpatatjie?”

“Ek werk nie by Fruit and Veg nie, Gert!”

Weer die keelskoonmakery. “Nee, ek dink toe maar.”

“Dink maar wat?”

Die koekoek spring uit die horlosie in die gang en koekoek agt keer.

“Saterdagaand. Daar wys ’n mooi geestelike bioskoopprent by Cresta. Uitvlucht. Toe wonder ek …”

“Gert, jy weet dat ek Saterdae my sopkombuis doen, dan is ek saans poegaai.” Sy skep asem. “Dankie, maar nee dankie. Sal daar nog iets wees?”

Dalk was sy onnodig onvriendelik.

Sy hoor die teleurstelling in sy stem. “Nee. Nee wat, niks meer nie.” ’n Ligte snuifie. “Behalwe …” Die sin hang in die lug. En toe sy nie vra hoekom hy dit onvoltooid laat nie, voeg hy by: “Behalwe dat ek verlang, my ou dierbaarste.”

Ja. Hier is dit.

“Jy verlang sewentien jaar te laat, Gert. En nou moet ek kombuis toe. Daar is honderde honger bekkies wat môre vir sop gaan vra.”

“Lekker daggie.”

Daardie aand werk Girly tot laat. Sy hoor die sirenes wat by haar losieshuis verbyjaag, en die vergalste taxi’s wat elke vyf sekondes toet-toet-toet. Hier loop gedurig potensiële passasiers in die straat voor Girly se Losieshuis verby en dit laat die bestuurders so hoopvol toeter.

Eintlik dink sy dis bloot ’n gewoonte, die getoet – en dat hulle spesifiek voor haar losieshuis langer en dringender toet as op ander plekke, om met haar kop te smokkel.

Halfelf kry sy uiteindelik genoeg lus om van die angeliere in haar tuin te gaan pluk.

Dis toe sy dit in die swaan se oop rug rangskik dat die ysterhek inderhaas oopgesluit word. Sy herken Maxie se stem dadelik.

“Los my uit!” Aanvanklik is haar stem gedemp, maar dit raak harder. “Jy mag nie hier inkom nie!”

’n Geskuifel. Toe iets wat klink na iemand wat val.

Girly gryp haar paniekknoppie wat om haar nek hang en hardloop gang toe. In die hoek staan ’n bofbalkolf – iets wat sy op ’n dag by een van Newlands se baie oudhedewinkels gekoop het, want sy ken ’n goeie wapen as sy een sien.

Sy gewaar ’n sliertige man met ’n baard langer as Metusalem s’n en ’n agterstevoor bofbalpet wat Maxie by die voordeur probeer soen. Girly se hand beweeg na die paniekknoppie, maar die maatskappy word in hierdie omgewing so dikwels uitgeroep, sy weet nie of sy hulle met so ’n klein sakie moet lastig val nie. “Domestic disturbance,” sou hulle dit noem.

Die volgende oomblik skop Maxie die man tussen sy bene, reg op die beloofde land in sy kartjoenkels. Hy sak inmekaar.

Toe is Tiaan daar. Hy kry die man aan sy kraag beet, maak die voordeur oop en gooi hom op die sypaadjie uit. Met die terugdraai stof hy sy hande af.

“Hoe het die man geweet waar jy woon, Maxie?”

“Ek … ek weet nie. Hy het gisteraand ook met my probeer lol, toe gaan ek vroeg huis toe. Hy moes my gevolg het, maar hy was dalk te bang om in te kom omdat hier toe baie mense was.”

“Nou luister jy na my en jy luister mooi. Dit is nie die soort werk vir ’n meisiekind nie. Daar is baie ander plekke waar jy kan werk. Jy moet ophou daarmee!”

“Maar wat gaan ek doen? Ek is vir niks gekwalifiseer nie.”

“Enigiets is beter as dit, Maxie.”

Girly stap nader. “Wat kan jy doen, Maxie, behalwe om aan ’n paal te hang?”

Die meisie snuif. “Ek het vir ’n paar weke by ’n hair stylist in Parktown gewerk.”

“Wel, hier is meer hair stylists in Joburg as vroom gesigte by robotte wat vir jou waai,” raas Girly. “Gaan soek! Jy sal iewers ’n werk kry.”

Maxie bars in trane uit en hardloop teen die trap op. Girly en Tiaan kyk mekaar stom aan. Nie een van hulle twee weet hoe om te help nie.

Girly gaan daardie aand met ’n seer hart bed toe, en sy sukkel om aan die slaap te raak. Sy slaap altyd sleg voordat sy die straatkinders moet gaan kosgee.

Iewers tussen die alarms wat afgaan, die doef-doef-doef van harde musiek as motors van nagklubs af terugkom, en polisiesirenes, raak sy eers aan die verkeerde kant van middernag aan die slaap. Met die wegraak dink sy nog: Ek voel soos ’n stompie in ’n oorvol asbakkie. Voos gebruik, omgedop en klaar met die wêreld.

Sy word gewek deur ’n klop aan haar deur.

Sy kyk op haar wekker. Twintig oor twee. Wie sou haar so vroeg wakker klop? Is Maxie se teertou dalk terug?

“Wie’s daar?” roep sy.

“Girly, dis ek. Tiaan.”

Sy staar na die blink wysers op haar wekker en merk dat die sekondewyser nie beweeg nie. Sy lig die wekker en skud dit. Toe eers kom die sekondewyser in beweging, voordat dit weer tot stilstand ruk.

Dít ook nog.

“Ek dag jy wil halfvyf ry?” kom Tiaan se stem weer van agter die deur.

Die dêm wekker se battery het ingegee! “Ag, have a heart!” roep sy uit.

“Kan ek solank iets in die motor laai?”

“Die groot kan met die sop in. Daar is ’n ekstra plug by die munisipaliteit se kantore, sodat ons kan inplug en die kan warm hou. Maar vandag moet die kleintjies maar tevrede wees met lou sop!”

“Ek gaan haal die kan solank.”

“Ek is nou daar.”

Girly trek in ’n japtrap aan. Gelukkig het sy nie krullers in haar hare nie – asof die straatkinders sou omgee hoe sy lyk! Solank sy hulle net sop kan gee, iets meer substansieel as hul laaste tik-fix, nyaope en die volgende dosis CAT.

’n Paar minute later maak sy die deur oop.

Tiaan staan daar in ’n sweetpak. “Alles is in die motor.” Hy glimlag en vryf sy hande soos ’n atleet wat gereed maak om weg te spring. Daar is baie energie in hierdie man. Maar wag, Gert was ook so energiek voor die bottel-blonde hom weggeraap het. Sy hoop daardie merrie stik aan haar eie lipstick wat sy so dik oor haar lippe geplak het.

“Ek moet net gou die brood ook kry. Mens kan nie vir die klomp sop gee sonder brood nie!”

Sy druk by Tiaan verby en draf na die spens waar sy die brode optel wat sy ekstra goedkoop by die supermark kry.

“Gee, ek help.”

Dan is hy nog behulpsaam ook. Sy het hom nou wel nie geken voordat hy tronk toe is nie, maar dit lyk nie of die plek hom skade aangedoen het nie. Inteendeel.

Hulle klim in Tiaan se motor. Hy skakel die enjin aan en trek weg.

En nes in die bioskoopprente, skakel ’n blou motor ’n entjie weg ook sy ligte aan en kom aan die beweeg.

Tiaan en Girly ry deur Newlands se stil strate.

Na ’n rukkie kyk sy om. Die blou motor ry ’n entjie agter hulle. Toe hulle links draai, doen hy dieselfde. Toe Tiaan die flikkerlig aansit om regs te draai, draai die motor ook regs.

Na ’n rukkie is die motor egter nie meer te sien nie, en Girly besluit om niks daaroor te sê nie. Dalk verbeel sy haar maar net.

Hulle ry tot by Binnelandse Sake in Strijdompark.

Sy sien mans met allerhande sportmonderings op fietse met flikkerende rooi liggies – manne wat iewers heen snel waar hulle die ouderdom kan agterlaat. Party van hulle ry langs mekaar en gee ’n middelvinger wanneer Tiaan toet omdat hy nie kan verbykom nie.

Toe raak Girly weer bewus van die blou motor agter hulle. Tiaan kyk ook een of twee keer in die truspieëltjie.

Duskant Malibongwe-rylaan staan klompies-klompies mense geduldig vir ’n taxi en wag. Twee vroue met kiertsklein einabroekies draf met ’n hond langs die grondpad. Hul boudjies skud gesellig. Dié tyd van die oggend! Party mense soek ook na ’n ding!

Girly en Tiaan ry tot by die munisipale terrein waar daar reeds ’n lang tou kinders staan. Tiaan sê niks, loer net kort-kort of die kan sop nog regop is, want dit dreig om af te skuif. Sy weet egter dat hy ook bekommerd is oor die motor agter hulle.

’n Minuut later hou hy stil, en die motor ry verby.

Waar sy gewoonlik twee kleintjies moet nader hark om haar met die kan te help, dra Tiaan dit sommer alleen. Sy sien hoe die spiere op sy arms bult. Sterk man, maar ongelukkig kwaad vir die lewe, al wys hy dit nie ooglopend nie. Hy is gedetermineerd om met ’n nuwe lewe te begin, kan sy sien. Hy staan in die wegspringblokke.

Hulle loop tot by die ystertafels waar stukke koerant lê wat as ’n verflenterde tafeldoek dien.

Tiaan druk die groot sopkan se kragprop in ’n muursok en skakel dit aan.

Die kinders dring hulle oudergewoonte aan Girly op, maar toe die jong man met sy groot skouers nader gestap kom, skarrel hulle terug na die groeiende tou toe. Hy hoef nie eers iets te sê nie, een kyk is genoeg om hulle op hul plek te hou.

Van waar sy staan, sien sy die trollie-aasvoëls Malibongwe-rylaan toe stroom met hul waentjies vol wit sakke met oorskiet wat hulle in Randburg geaas het. Sommige ry op daardie einste trollies teen die afdraand af.

Daar is nou te veel motors en ’n groot samedromming. Sy kan nie in die menigte die blou motor gewaar nie.

’n Ruk later begin Girly sop in die bakkies skep waarmee die kinders aangestap kom. Sommige het verrinneweerde polistireenbakkies wat hulle iewers in ’n vullisdrom moes gekry het. Ander dra stukkende bakkies soos maskers op hul gesigte. Dit is dieselfde bakkies as waarmee hulle by verkeersligte bedel. Vir dié sonder bakkies gee sy goedkoop plastiekhouertjies wat sy by die supermark kry – houertjies wat geen ander nut het nie.

Dit is toe dat Girly bewus word van ’n man wat onder ’n bloekomboom na hulle staan en kyk. Dit is ’n wit man, groot gebou met ordentlike klere aan. Hy leun gemaklik teen die boomstam.

Daar is egter nie nou tyd om haar aan hom te steur nie. Die honger kindertjies neem al haar en Tiaan se aandag in beslag. Handjies, bakkies, stomende sop, brood wat net so in die staan verorber word, en nog bakkies wat uitgehou word. Sy sit ook altyd twee flesse grondboontjiebotter op die tafel neer en vee ’n blerts oor die brood. Die kinders probeer telkens hul vingers in die flesse druk.

Sy staan later vinnig op haar tone om beter te kan sien.

Die man dra ’n bofbalpet. Hy staan nou nader, voor ’n taxi wat ’n klomp mense oplaai. Hy trek vir oulaas aan ’n sigaret en gooi dit dan op die grond.

Girly hou niks van die manier waarop hy die stompie doodtrap nie.

Tiaan stap eenkant toe om nog brood te kry en Girly sien hoe die man met die pet hom aankyk. Hy lyk op die punt om na Tiaan toe te stap toe dié terugkom met die brood. Nou raak die man daarvan bewus dat sy hom opgemerk het.

Hy verdwyn tussen die mense.

Girly kyk vinnig na Tiaan, maar hy sê niks.

Weer drom die kinders om haar saam. Dit laat haar dink aan ’n brander wat kort-kort dreig om oor haar te breek, maar Tiaan handhaaf ’n mate van orde.

Toe ’n straatkind haar iets toesnou, tree hy na vore, sê iets in Sotho en neem dreigend stelling in sodat die rammetjie-uitnek die aftog blaas.

Nou het sy haar eie bodyguard! Darem ’n ou ligpuntjie.

Kort duskant die einde van die tou staan ’n opgeskote seun van seker so sewentien. Hy het sagte oë en bruin hare. Of dit wás bruin voordat dit so vuil geraak het. Die seun kyk kort-kort oor sy skouer en toe hy by Girly aankom, kan sy sien aan die skaam manier waarop hy na haar kyk dat hy uit ’n goeie huis kom. Sy wonder of hy ’n kans vat, want sy klere, hoewel dit net so vuil soos sy haredos is, lyk nie oud nie.

Haar oë soek weer na die man met die bofbalkeps, maar hy is nie meer daar tussen die mense nie.

“En wie is jy?” vra sy terwyl sy vir die seun sop inskep. Sy oë kyk honger na die vloeistof wat in die plastiese bakkie stroom.

“My naam is Ricky, tannie.”

“Wat maak jy hier?”

“Ek is maar net hier, tannie.”

Tiaan tree tussenbeide. “Hoekom is jy nie by die huis nie?”

“Want my pa en my ma het my uitgeskop.” Hy kyk reguit in Tiaan se oë.

“Hoekom?”

Ricky kyk net voor hom.

“Toe. Wat’s die probleem? Jy nie ’n stem nie?” vra Tiaan.

Weer kyk die seun oor sy skouer asof hy bang is iemand hoor. Hy sug, en toe hy praat, kom die woorde moeilik oor sy gebarste lippe. “Want ek is gay, tannie, en my pa sê dis sonde. Oukei?”

Van die kinders lag en brom onder mekaar. Hulle kyk vyandig na Ricky. Sommige probeer hom selfs uit die pad druk.

Girly en Tiaan kyk vinnig na mekaar. Die seun stap weg met sy kos.

“Wag!” Girly kyk na Tiaan. “Dink jy dis sommer ’n storie?”

Tiaan skep weer sop in ’n bakkie en sien hoe twee groter seuns Ricky begin rondstamp. Hulle probeer sy sop en brood afvat.

“Hei!” skreeu Tiaan. “Ek moer vir julle!”

Die twee gryp Ricky se kos en laat spaander. Hy wil agternahardloop, maar ’n kleiner seuntjie pootjie hom. Ricky val en bly ’n rukkie in die stof lê asof hy nie krag het om op te staan nie. Dan doen hy dit tog.

Girly sug, want die seun staan nou beteuterd tussen die vyandige klomp kleintjies, duidelik flou van die honger. Toe hy weer in die tou wil inval, stamp kinders hom uit die pad.

“Wag vir my by die hek! Ons praat later!” roep Girly. Sy kan egter aan die verwilderde uitdrukking op die jong gesig sien dat hy haar nie vertrou nie.

Sy skep tot die sopkan leeg is.

Daar wag nog ’n klomp honger gesiggies, maar al wat sy en Tiaan kan doen, is om die oorblywende brood tussen hulle te verdeel. Die grondboontjiebotter is lankal op.

Terwyl sy en Tiaan met die kan en verlengkoord terugstap en sy weer na Ricky soek, gewaar sy hom nêrens nie – hy is weg tussen al die mense wat nou begin saamdrom vir ID-foto’s en munisipale afsprake.

“Ek weet nie of ek ooit in my lewe weer sop wil sien nie,” lag Tiaan toe hy die motordeur oopmaak. Dan, as ’n nagedagte: “Ek hoop jy’t eiers by die huis, Girly. Ek vrek nou vir ’n kaasomelet.”

Terwyl hulle terugry Newlands toe, is daar nie ’n teken van die blou motor nie.

Stralerjakkers

Подняться наверх