Читать книгу Stralerjakkers - Leon van Nierop - Страница 7

4

Оглавление

Yolande de Wet het ’n blinknuwe kantoor. Terwyl Tiaan met die gang afstap, sien hy die vorige geraamde voorblaaie van die glanstydskrif teen die mure, uit die dae voordat sy die redakteur geword het. Party voorblaaie het bekende vroue op, maar twee het foto’s van mansmodelle. Swier staan telkens in sierlike swart letters boaan.

Toe hy tussen die joernaliste en fotograwe deurbeweeg, sien hy hoe almal stil word en na hom kyk. Sommige begin te SMS, ander draai vinnig weg en maak of hulle hom nie raakgesien het nie – en ’n derde groep staar onbeskaamd, nes die mense destyds in die Plastikor-gebou na hom gestaar het.

Yolande se sekretaresse se aandag wissel tussen haar rekenaarskerm, haar oorvol lessenaar, Post-its vol boodskappe, haar toetsbord en die gehoorbuis wat sy vashou. Sy lig haar wysvinger sonder om na hom te kyk. “Die shoot is verskuif na drieuur, Abe. Jy baklei met die verkeerde persoon. Ek dra net die boodskap oor. Moet ek jou na Yolande toe deursit?” Sy kyk nou eers op en herken Tiaan skynbaar, want sy raak vir ’n oomblik stil. “Jy het haar e-pos-adres. Sorteer dit met die baas uit.” Sy sit die foon neer.

“Goeiemiddag. Ek is Tiaan Reyneke. Yolande verwag my nie. Ek het hier verbygery en toe waag ek ’n kans. Kan ek haar dalk sien?”

Die sekretaresse wat so ywerig oor die foon gepraat het, is nou stil. Sy soek nog na haar stem toe Yolande op ’n drafstap uit haar kantoor kom met ’n klomp foto’s wat sy voor die meisie neersit. “Vra die lab wat fout gegaan het? En drie pics moet ge-Photoshop word, want …” Dan sien sy eers vir Tiaan. Sy laat val die twee foto’s wat sy nog in haar hand gehad het. ’n Fotograaf wat wag om haar te spreek, tel dit flink op en oorhandig dit aan haar.

Yolande neem dit sonder om dankie te sê.

“Ek is jammer. Ek het nie ’n afspraak nie,” begin Tiaan, maar sy beduie na die sekretaresse: “Emily, skuif al my afsprake ’n kwartier aan.” Sy staan eenkant toe en beduie dat hy in haar kantoor moet instap.

Met die verbyskuur kyk hy vinnig na haar. Vir ’n oomblik is daar weer ’n vonk, iets waaraan nie een van hulle ’n naam kan gee nie, maar hy loop verder en gaan sit op ’n stoel oorkant haar lessenaar. Teen die muur hang geraamde foto’s van haar saam met sepiesterre, glanspersoonlikhede, selfs twee politici.

Yolande maak die deur toe. Sy staan met haar rug na hom asof sy probeer om haar asem terug te kry. Op daardie oomblik lui haar landlyn en sy gaan tel op. “Ja?” vra sy ongeduldig. “Ja. Ek moet seker met die drukkers praat. Sit hulle deur.”

Haar stem is nog net so mooi soos toe hulle uitgegaan het.

Terwyl Yolande met die drukkers oor iets onderhandel, kyk Tiaan na die bladsyproewe op haar lessenaar. Modes, mooi uitrustings vir formele aande en wat om te dra op Vrolike Vrydag. Dit lyk soos baie tydskrifte wat hy al gesien het en al kyk hy net vinnig, is daar niks wat hierdie bladsye van die ander onderskei nie.

Yolande voltooi haar gesprek en draai dan na hom. “Dis vier dae voordat ons die boek in die bed sit. Die dummy kom môre.” Sy sien hoe hy na die bladsye voor haar kyk en trek dit nader asof sy dit wil beskerm.

“Al ooit daaraan gedink om ’n tydskrif vir sportvroue te begin?” vra Tiaan terloops.

“Sportvroue?”

“Oukei, nie noodwendig net sportvroue nie, maar sportiewes. Vroue wat hou van die buitelug.”

Yolande kyk na die artikels en foto’s voor haar. Daar is ’n ongemaklikheid tussen hulle wat haar hartlikheid nie kan oorbrug nie, en dis in elk geval die tipe hartlikheid wat hy haar al teenoor kliënte en joernaliste sien inspan het. Daar is niks wat haar kommunikasie met hom van daardie soort onderskei nie.

“Ek en Etienne het lank gepraat oor wie die potensiële leser is. Ons weet presies wie ons mark is.”

“O.” Hy lig sy skouers. “Ek het maar net gewonder.” Tog kan Tiaan sien dat hy op ’n seer toon getrap het. Dat Yolande dalk nie seker is wat sy met die tydskrif wil maak nie en nou bevestiging gekry het dat sy op die verkeerde spoor is.

Tiaan wonder hoeveel Etienne met Swier se identiteit te doen het, want sy broer het nog altyd van beproefde resepte gehou. Veiligheid. Hy het nog selde in sy lewe werklik gewaag.

Dit raak weer stil tussen hulle twee. Dit is duidelik dat sy kritiek iewers ’n duik gemaak het.

“Soos ek gesê het, ek het nie ’n afspraak nie, Yolande, maar ek moet jou sien. Dit sal nie langer as ’n kwartier neem nie.”

Daar is weer ’n sagte blik in haar oë, die sensitiwiteit oor sy opmerking tydelik vergete.

“Ek is jammer, Tiaan.”

“Wil jy regtig vir my sê dat jy en Etienne van die begin af van mekaar gehou het, toe hou jy my vir die gek?”

“Ek wil nie nou baklei nie.”

“Ek ook nie. Ek het twee jaar lank genoeg baklei – meeste van die tyd fisiek. So, ek wil net die waarheid hoor, dan gaan ek.” Hy skep asem, want sy stem bewe. “Het jy en Etienne van die begin af ’n ding aangehad?”

Sy skud haar kop soos iemand wat nie kan glo dat sy die vraag moet beantwoord nie. “Natuurlik nie.”

“So. Wat het gebeur? H’m?”

Sy antwoord nie dadelik nie.

“Het hy toegeslaan die oomblik toe ek uit die pad is? Het hy jou ’n beter aanbod gemaak?”

“Tiaan!” Sy slaan met haar hand op die tafel.

“Tiaan wat?”

Sy skep asem, probeer haar stem beheer. “Ek was geskok. Onthou, skielik word jy gearresteer. Jy word van allerhande dinge beskuldig, veral deur die ander twee. Hulle het baie dinge oor jou in die pers kwytgeraak. Jy moet onthou dat ek nie die waarheid geken het nie.”

Hy kom orent. “Jy het my wel geken, Yolande.”

Sonder om asem te skep, sê sy: “Iemand het eendag gesê: Soms is die persoon vir wie jy die koeël sou vat die een wat die sneller trek.”

Dit slaan hom, maar die bokskryt is nou oop. Die houe begin neerreën.

“Of het jy verkies om te glo dat ek skuldig is omdat jy my eintlik nooit liefgehad het nie?”

Dit maak hels seer, kan hy sien, maar daar is geen terugdraaikans meer nie. Hulle moet die saak nou uitpraat.

“Ek het nie geweet wat om te glo nie. Onthou, jy is skuldig bevind en ek het gewonder of ek die hele tyd met ’n bedrieër saamgeleef het. Hemel, Tiaan, jy kan my nie daarvoor kwalik neem nie!”

“Ons het van skool af uitgegaan. Het jy waaragtig gedink ek sou geld verduister het? Dat ek jou en my ma en my familie en my hele reputasie so sou beduiwel het?”

Sy skud weer haar kop. Haar selfoon lui. Sy kyk daarna en stel dit só dat dit moet vibreer. Dit neem ’n ruk voordat sy hom antwoord. “Ons was almal platgeslaan.”

“Toe kom vertroos Etienne jou en jy gee sommer in.”

“Tiaan!” Weer daardie onverwagse skel klank.

“Het jy Etienne lief, Yolande?”

“Ek het die afgelope paar maande eers werklik begin ontdek wat ek vir hom voel.” Tog kyk sy nie in sy oë terwyl sy dit sê nie.

“Was daardie gevoel altyd onderliggend daar, of het dit eers begin toe ek in die tronk is?”

Iemand klop aan haar deur, maar sy ignoreer dit. “Dit het eers onlangs begin.”

“Mag ek vra hoe dit begin het?”

Yolande se selfoon begin vibreer. Tiaan verwag dat sy dit gaan los, maar sy tel dit op. Sy kyk hom reguit in die oë toe sy antwoord: “Hallo, Etienne.”

Tiaan voel of hy, soos in die tronk, met ’n vuis bygedam word.

“Ek weet.” Yolande sluk en sit haar hand teen haar voorkop. “Dit is fantastiese nuus. Jou ma het gesê ons gaan dit môreaand vier.” Sy luister. “Fantasties. Halfsewe vir seweuur?” Sy skryf iets neer. “Sien jou.”

Nie “lief vir jou” nie. Net daardie selfbewuste groet.

Sy kyk nie na Tiaan nadat sy die foon neergesit het nie.

“Het jy hom regtig lief, Yolande? Het jy hom liewer as wat jy my gehad het?”

“Tiaan!” ’n Emosieloosheid, ’n sufheid in haar stem.

Hy staan op. “Dis al wat ek wou weet.”

“Luister …”

“Ek het jou nog lief, as dít is wat jy wil weet,” sê hy op pad deur toe.

“Jou ma het Swier twee maande gelede gekoop. Etienne is die uitgewer. Hulle begin nou uitbrei na die tydskrifmark.”

Tiaan steek in sy spore vas en voel ’n gloed teen sy nek opstoot. Vir die eerste keer sedert hy uit die tronk is, neem die soort woede van hom besit wat hy gevoel het wanneer van die tronkbendes hom wou takel of iemand hom wou omkoop.

“Gekoop en betaal. Een groot, lekker konglomerasie.” Sy wil iets sê, maar hy val haar in die rede: “Dan verdien julle mekaar en hierdie loser-tydskrif. Ek hoop julle is gelukkig.” Hy maak die deur oop. Eers dan kyk hy terug.

Yolande sit agter haar lessenaar soos iemand wat ’n klap in haar gesig gekry het.

“Swier is eers deur Phoenix Uitgewers uitgegee, maar hulle het bankrot gespeel. Jou ma het twee maande gelede ingegryp en ons gered, anders was ons nou sonder werk. Sy het Etienne aangestel om te help. Hy het feitlik al die advertensies vir hierdie uitgawe gekry. Die redakteur het bedank. Ek het aansoek gedoen vir die pos en dit gekry.”

Tiaan stap verby die glansvoorblaaie in die gang tot by die hysbak, waar hy die knoppie herhaaldelik druk, maar die hysbak steek vas op die grondverdieping. Toe staan Yolande agter hom.

“Tiaan.”

Joernaliste loop by hulle verby, kyk belangstellend, werk op hul selfone.

“Swier is nie die rede hoekom ek en Etienne gaan verloof raak nie.”

“Ja, right.” Tiaan neem die trappe en hardloop omtrent tot op die grondverdieping.

Toe hy in die straat by sy motor kom, moet hy eers ’n rukkie stilstaan om sy selfbeheersing te herwin. Miskien moet hy ’n gim gaan soek, iewers waar hy sy frustrasie op masjiene kan uithaal, want as iemand nou ’n skewe woord na sy kant toe gooi, gaan hy gewelddadig kwaad word en dan is die kollig terug op hom.

Hy ry uit Houghton uit in Rosebank se rigting. Later hou hy by ’n gebou stil, stap verby skreeuende koerantopskrifte oor die Guptas wat die land so skielik verlaat het, en gaan die gimnasium binne.

Hy was reg. Die oefening help hom sy aggressie verwerk. Hy vermy enige oogkontak met die ander mense wat oefen.

’n Uur later stort hy en draf dan haastig na sy motor toe.

Hy raak gou genoeg bewus van ’n blou motor agter hom – dieselfde een as wat hom Saterdag Strijdompark toe gevolg het.

Hy draai twee keer onverwags links in Rosebank, en die motor bly op sy stert.

Tiaan kry dieselfde beklemmende gevoel as in die tronk wanneer bendelede onder mekaar begin praat en dan na hom beduie het.

Hy draai slap links naby die Galleria-sentrum, maar ry hom in ’n straat vas wat deur taxi’s geblokkeer word. Hy kyk rond vir uitkoms. Taxibestuurders met slaprandhoedjies en arms wat by vensters uithang en amper op die grond sleep, kyk verveeld na hom. Ander toet soos hulle by hom probeer verbykom.

Tiaan klim uit sy motor. Snaaks waarvan ’n mens bewus raak as jy ’n ruk in ’n motor gesit het en skielik buite is. Hy ruik uitlaatgasse en worsbroodjies. ’n Paar treë van hom af verkoop iemand blomme.

Die blou motor het skuins oorkant hom stilgehou en toe die bestuurder uitklim, herken hy vir A.J. Muller.

A.J. en Wikus moes destyds saamgewerk het teen hom. Hy het maande lank in die tronk tyd gehad om uit te werk hoe hulle hom verneuk het. Hulle het die geld verduister. A.J. was een van die voorste trawante wat daarvoor verantwoordelik was dat hy as die sondebok voorgehou is.

Hý het namens hulle onskuldig in die tronk gesit tot Wikus homself oorgegee het.

A.J. het ’n bonkige gestalte. Sy gesig is silwerskoon geskeer, soos iemand wat sy sondes probeer afskraap het. Met die naderstap kan Tiaan sien dat die man nie hier is om hom welkom te heet of ’n ou vriendskap te hervat nie.

Hy staan vierkantig voor sy motor en wyk nie ’n sentimeter nie, tot A.J. voor hom staan.

Voordat Tiaan iets kan sê, spoeg A.J. die woorde na hom toe uit asof hy lank daarvoor geoefen het. “Luister na my en luister mooi, tronkvoël.” Sy asem stink na ou sigaretrook. “Oppas wat jy in die hof sê. Ons het destyds daai maatskappy gestig om geld aan mense voor te skiet, en al was jy by Plastikor, het jy willens en wetens daar ingekoop van buite af. Dit was Wikus se besluit om jou te gebruik, en net Wikus s’n.

“Moenie my verder by die saak betrek nie. Die polisie was by my en ek het verduidelik dat ek, net soos jy, ingeloop is.”

“Nou hoekom is jy dan bang oor wat ek kan sê?”

“Want ek vertrou niemand meer nie.” Hy swaai sy vinger in Tiaan se gesig. “Ek is klaar met julle. As jy my betrek, gaan jy seerkry. Seerder as wat enigiemand jou in die tronk gemaak het. Twee gebreekte bene sal maande neem om te herstel. Dan kan jy jou gim-membership maar vaarwel toeroep.”

Hy leun nader sodat Tiaan weer die suur reuk van sigarette kry. “Dis daai Wikus-slapgat, en nét hy. As jy my betrek, gaan jy weer sit.” Hy stamp liggies aan Tiaan. “Het jy my?”

“Presies wanneer het julle besluit om my in te loop? Daardie aand op die plaas toe julle my oortuig het om in te koop?”

A.J. word bleek. Tiaan is nie seker hoekom juis dít hom so ontstel nie, maar hy is wit in sy gesig.

“Hou jy net jou bek van my af.”

Die man draai om en loop terug motor toe. Hy het die manier van loop van iemand wat te veel steroïde gebruik en homself te lank in die gimnasium oppomp. Ongemaklik, asof van sy spiere in die pad is. Hy pluk sy motordeur oop, kyk terug asof hy nog iets wil sê. Toe wys hy met twee vingers eers na sy oë en toe na Tiaan.

Dis dieselfde blou motor waarmee hulle destyds plaas toe gery het om die transaksie te beklink. A.J. wys vir ’n taxibestuurder wat hom uit die pad wil druk ’n middelvinger en trek weg. Twee passasiers skarrel net betyds uit die pad.

Tiaan dink vlugtig terug aan daardie aand en wonder hoekom de hel hy nie toe snuf in die neus gekry het nie. Maar daar het soveel gebeur, te veel dinge wat sy aandag afgetrek het. Dit was dalk doelbewus so bewerk, sodat hy makliker in hulle strik kon loop.

Lank nadat hy uit Rosebank is, bewe sy hande steeds.

Eers toe Tiaan by ’n klein winkelkompleks tussen Greymont en Bergbron stilhou, besef hy dit huisves die superette waarvan Girly en Karlien altyd praat.

Hy kort energiedrankies, maar ook iets om aan te knibbel, want die onderonsie het hom laat besef dat hy honger is.

Met die instap kyk hy oor sy skouer, maar A.J. se blou motor is nie te siene nie.

Vrolike musiek trek vir ’n oomblik sy aandag af, asook ’n meisie wat hom vra of hy vir ’n kompetisie wil inskryf om vier plakkers te wen. Hy probeer om haar nie af te jak nie en skud net sy kop.

Toe merk Tiaan Karlien agter ’n kasregister op.

Hy vermy die meisie vir eers en stap na die rak waar die energiedrankies uitgestal word, toe hy haar hoor sê: “Moet asseblief net nie weer ’n tantrum gooi nie.”

“As ek nie tantrums in hierdie blerrie plek gooi nie,” kom ’n manstem, “sal niemand nie. En weet jy wat gaan gebeur? Ons gaan agteruit. So erg dat een van daai grootmanne ons gaan oorneem. En dan, Karlien, sal jy ’n ander werk moet gaan soek. Soos jy weet, is werk skaars. As ons nie saamwerk nie, sit ons almal op straat.”

Die mannetjie het ’n smalende manier van praat. Uit die hoogte. Hy looi Karlien met elke sin en Tiaan kan hoor hoe die meisie haar moet inhou om nie te sê wat sy werklik op die hart het nie.

“Miskien sal jy beter diens kry as jy ons beter betaal, Olaf.”

“Met ander woorde jy erken jou diens is swak.”

’n Vrou kom met ’n mandjie aangestap en Karlien praat vinnig: “Ek doen my bes. Ek pak rakke reg tussen my till-diens. Mense plak sommer goed op verkeerde plekke neer as hulle agterkom wat die pryse is, dan stap ek soontoe en gaan sit dit op die regte plek terug. Ek glimlag vir elkeen met wie ek praat en ek help pensioenarisse om die goedkoopste no-name brands te koop. Wat meer verwag jy van my?”

Die vrou met die mandjie verdwyn om ’n hoek, want sy het skynbaar iets vergeet.

“Lojaliteit, Karlien. Dat jy vir jouself dink en respek teenoor jou werkgewer betoon. Onthou net, ek is Olaf Stroebel en jy moet my respekteer.” En toe sagter, want die vrou met die mandjie kom weer te voorskyn: “Jy moet in jou spoor trap. Niemand is onvervangbaar nie.”

Tiaan neem drie energiedrankies en stap in Karlien se rigting.

“Onthou net dat respek verdien word.” Sy bly stil toe sy Tiaan sien aankom.

Sy skandeer die vyf items wat die vroutjie voor haar neersit. “Pensioner’s card?” vra sy toe die vroutjie wil betaal. Sy haal ’n rooi kaart uit wat Karlien ook skandeer.

Olaf sien Tiaan nou – kennelik ’n nuwe kliënt en hy skuifel nader.

Tiaan het al baie Olafs in sy lewe teëgekom. Nare, gefrustreerde klein mannetjies met olierige hare, ’n slegte vel en skelm ogies wat ewe skielik gedienstig raak as dit hulle pas.

Deur net na hom te kyk, kan Tiaan hom opsom. Hy is beslis op skool geboelie en sou elke week sy snoepiegeld vir die boelies gegee het, of aangebied het om kos vir hulle te koop. Olaf sou ook ambisie gehad het: dalk die direkteur van ’n maatskappy word, dalk ’n sakeman met sy eie besigheid. Maar hy was ’n tweedekommer. Iemand wat elke keer net-net te laat is wanneer ’n geleentheid hom voordoen. Of wie se kwalifikasies net-net te kort skiet.

Hy sou dalk sy eie maatskappy kon stig, maar het net nie die deursettingsvermoë gehad nie, want hy was te bang. Vrees is sy grootste vyand en sal dit altyd bly. Dit skerp egter sy onderduimse metodes op. Dalk het meer as sy kwalifikasies te kort geskiet wat meisies betref, daarom probeer hy sy gesag op iemand soos Karlien afdwing en gooi hy sy gewig en aansienlike pens so rond.

Daar is baie sulke mannetjies in die tronk. Olaf sit tans nog aan die buitekant, maar sy verterende ambisie kan hom dalk eendag daar laat beland. Hy sal dit verdien.

Hy stap tot voor Tiaan asof hy hom wil keer om by Karlien te koop.

“Goeiemiddag, meneer, en baie welkom by ons superette. Hoe kan ons help?”

Tiaan kyk na Karlien wat die tante se vyf items in ’n sak sit.

“Hierdie vriendelike meisie kan my van my geld verlos.” Hy loop aan tot by haar, waar sy nou die tannie weghelp. Hy sit sy energiedrankies voor haar neer. “Ek sê gister vir my buurman ek koop, soos baie ander mense wat ek ken, net hier oor die goeie diens, spesifiek van …” Tiaan maak of hy nie haar naam kan onthou nie.

“Karlien. Karlien Lubbe,” glimlag sy. “Plastiese sak, meneer?”

“Ja, dankie. Ek pak sommer self in.”

“Ons waardeer dat u ons ondersteun, meneer,” kom Olaf se stem weer na hom toe aangesweef.

“Ek koop van nou af altyd hier,” glimlag Tiaan. Daarmee probeer hy om sy opbouende aggressie af te weer, want na sy ontmoetings met Yolande en A.J. sien hy nie kans vir baklei nie, al wil hy Olaf se neus vir hom pap slaan omdat hy so lelik met Karlien gepraat het.

“Lekker daggie verder,” gee Olaf sy jakkalsdraai-glimlag.

Tiaan kyk na Karlien. “Dankie vir jou goeie diens.”

Terwyl die mannetjie wegstap met sy broek wat oor sy aansienlike boude afskuif, beveel hy oor sy skouer: “Vee die toonbank met ’n nat lap af. Dit moet ten alle tye higiënies wees.”

Karlien rol haar oë en oorhandig die energiedrankies aan Tiaan. “Felix se gim is net hier anderkant as jy gou wil inloer.”

“Dankie.”

Hy kan net dink watse frustrasie dit vir haar moet wees om haar lewe hier agter die kasregister te mors.

Tiaan ry Newlands toe. Baie dinge maal deur sy kop, veral sy besoek aan Yolande, maar ook A.J. se dreigement.

Hy wil vir Wikus bel – hy het homself immers oorgegee – maar hy besef dat hy nie met hom moet praat voor die hofsaak nie.

Toe hy vanaf Long Street in die kort straatjie opdraai waar Girly se Losieshuis is, lui sy selfoon. Hy hou stil.

Dit is die selfoon wat hy twee jaar gelede by die tronk moes ingee en waarvan hy die kontrak gelukkig kon hernu met sy vrylating.

Hy huiwer voordat hy die oproep neem. Hy byt op sy tande en antwoord: “Hallo, Etienne.”

Sy broer maak keel skoon. “Hallo, Tiaan.”

’n Stilte soos wat seker oor Jerigo neergesak het nadat die stadsmure ingetuimel het, heers nou.

“Kan ons praat?” vra Etienne met ’n onseker stem.

“Waaroor?”

“Jy weet waaroor. Mits jy belowe om nie gewelddadig te raak nie.”

“Ons het mekaar al ’n paar keer rondgepluk op skool.”

“Maar ons is nou grootmense, Tiaan. En onthou ook maar: jy het twee meisies van my afgevry voor Yolande.”

“Daarom dat jy Yolande gesteel het? Dat jy haar oorgehaal het deur die tydskrif te koop?” Etienne probeer hom in die rede val, maar Tiaan laat hom nie van stryk bring nie. “Wa-wa-wag nou. Daarom dat jy my in die rug gesteek het en nou skielik ’n gewete daaroor het?” Hy skep asem. “Jy hoef nie met my te praat nie, Etienne. Jy het reeds gesê wat jy wou gesê het. Dade tel meer as woorde.”

“Ek het haar nie gesteel nie en die voorstel om Swier te koop het van Paul de Winter af gekom.”

Die naam klink bekend, maar Tiaan kan dit vir ’n oomblik nie plaas nie.

“Paul de Winter?”

“Ma se sekretaris.”

“O, daardie Paul de Winter.”

“Ja. Ma het besluit dat sy Plastikor wil uitbrei. Swier is ’n eksperiment. Yolande is ’n baie goeie redakteur, maar daar is te veel vrouetydskrifte, nou begin ons ’n strategie om te kyk of ons dit met ’n nuwe voorkoms en aanslag kan herbekendstel. Dis darem nou meer van ’n mode- as ’n tannie-tydskrif.”

“Hoekom het ons hierdie gesprek, Etienne?”

“Want ons is, na alles, steeds broers. Ek weet jy verdink my van allerhande onsinnighede en ons moet dit uitpraat.”

“Ek verdink jou van niks nie, Etienne. Ek wéét. En soos ek vandag vir Yolande gesê het: Ek hoop julle is gelukkig, want julle verdien mekaar. Geniet die viering môreaand.”

Tiaan skakel sy selfoon af. Hy leun vorentoe met sy kop teen die stuurwiel en probeer sy kalmte herwin.

Dit is eers toe iemand aan sy venster klop dat hy opkyk. Hy herken vir Ricky, die straatkind wat by Girly se sopkombuis in die tou gestaan het. Tiaan draai die ruit af.

“Kan ek jou motor was? Ek vra net dertig rand.” Ricky beduie na ’n vuil emmer met iets wat na seepwater lyk en ’n stuk robbies vir ’n lap.

“Dink jy nou wragtag ek sal toelaat dat jy met daai vodde aan my kar vat?”

“Maak nie saak hoe dit lyk nie. Dit was ten minste skoon.”

“Herken jy my nie?” vra Tiaan.

“Ekskuus?”

“Dink, seuna. Dink.”

Tiaan kan sien dat die seun hom agterdogtig bekyk; Ricky verwag seker dat hy hom gaan takel. Dan kom daar herkenning in sy oë.

“Jy’s die dude van die sopkombuis.”

“Die een en enigste.”

“O. Oukei.”

Die seun staan nou beteuterd met die emmer en vuil water.

“Ek sê jou wat, Ricky. Ek kry vir jou ’n ordentlike emmer, ’n chammy en seep wat spesiaal vir motors gemaak is. Jy kan nie skottelgoedseep gebruik nie – dis nie goed vir die verf nie.”

“Dis nie skottelgoedseep nie.”

“Wel, dit skuim soos skottelgoedseep. Klim in, dan gaan koop ons dit.” Tiaan beduie na die sitplek langs hom.

“Hei.” Ricky staar agterdogtig na hom. “Tricks is ekstra, huh?”

“Ek soek nie tricks nie, poephol. Kom jy of bly jy?” Ricky kyk vinnig op en af in die straat asof hy uitkoms soek.

“En moenie hardloop nie, want ek hol jou in.”

Die seun begin nou bekommerd lyk en Tiaan besluit om sy aanslag te versag.

“Het jy al vir Girly vir blyplek gevra?”

“Dis hoekom ek motors was. Om te probeer om genoeg geld te kry vir ’n deposito vir ’n slaapplek.” Tiaan hoor die beskaafdheid in Ricky se stem, sien die intelligensie in sy oë en hoor die manier waarop hy praat. Hy is duidelik goed opgevoed – praat nie die straattaal wat hyself so goed in die tronk leer ken het en moes gebruik om te oorleef nie.

Hy besef dat die seun nie gaan inklim nie, daarom klim hy uit die motor en slaan die deur toe. “Kom ons gaan praat met Girly. Kom.”

“Daai antie soek seriously na ’n deposito. Dis al wanneer sy met my sal praat.”

“Daar is maniere om deposito’s te betaal.”

“Sonder tricks?”

“Sónder tricks.”

Ricky staan terug asof hy bang is hy word aangerand. Tiaan sluit sy motor met die afstandbeheerder en stap losieshuis toe, maar Ricky volg hom nie.

Hy draai terug. “Nou toe. Kom jy saam of gaan jy nog ’n paar motors opfoes met daai brousel?”

Ricky kyk weer op en af in die straat.

“Toe maar. Jou buddies sal jou nie nou kom help nie. Dis net ek hier.”

“Ek het nie buddies nie.”

“Dan het jy nie ’n keuse nie. Toe, kom.” Tiaan beduie met sy kop.

Ricky staan eers op die een voet, dan op die ander. Uiteindelik sit hy die emmer voor Girly se hekkie neer.

Tiaan sluit die ysterhek met sy sleutel oop en daarna die voordeur. Hy loop in en draai terug na Ricky wat skoorvoetend nader kom.

“Nou beter jy mooi met die tannie praat, anders slaap jy weer in die park vanaand en ek hoor hulle noem daai plek Rape Alley.”

Dit is al wat Ricky nodig gehad het om hom te oortuig. Tiaan staan opsy sodat hy met sy vuil rugsakkie kan inkom.

Dis eers met die binnegaan dat hy die blou motor in die straat sien opkruip. Die laaste ding wat Tiaan uitmaak voordat hy die deur toestoot, is A.J. se gesig wat in sy rigting gedraai is.

Stralerjakkers

Подняться наверх