Читать книгу Stralerjakkers - Leon van Nierop - Страница 5
2
ОглавлениеVan sy kinderjare is daar feitlik niks oor nie.
Tiaan staan by die voordeur van sy ma se nuwe glaskasteel in Waterfall Estate in Midrand. Nugter weet hoekom Marcel Reyneke die huis waarin hy in Saxonwold grootgeword het, verkoop het. Hier staan hy nou by ’n plek wat so klinies lyk dat hy voel asof hy ’n narkotiseur eerder as sy ma kom besoek.
Hy kon Marcel vanoggend nie by Plastikor groet nie, want sy was besig met ’n direksievergadering. Haar hoofbestuurder, Paul de Winter, het darem kom belowe dat sy binnekort behoorlik met hom sou praat. Paul is aangestel kort na Tiaan se pa se dood en het intussen Marcel se regterhand geword.
Plastikor. Die maatskappy wat sy pa gestig het voordat hy met sy ma getroud is en wat hulle daarna saam bestuur het, tot met sy pa se dood ses maande voordat Tiaan tronk toe is.
Paul de Winter het namens Marcel haar straatadres vir Tiaan ge-SMS, asook die kode vir die hek.
Hy het lank gesoek voordat hy uiteindelik die imposante woning gekry het wat langs die dam digby die Jukskeirivier staan, met ’n uitsig op die winkelsentrum wat nou langs die besige N1 verrys. Hyskrane hou soos staalrobotte uit ’n ruimtefilm oor die ontwikkeling wag, hul ysternekke styf gespan terwyl sementblokke aan kabels deur die lug swaai – amper asof die toerusting ’n groteske lugballet uitvoer.
Tiaan is seker dat sy ma tuis voel in hierdie atmosfeer, want elke keer wat sy vir hom in die tronk gaan kuier het, was haar houding stroef, asof sy nie kon glo dat sy tussen die gewone plebs in die wagkamer moes sit terwyl hulle haar seun gaan roep nie.
Marcel Reyneke is nie daaraan gewoond om te wag nie.
Toe hy nog in die tronk was, het sy eendag net kortliks verwys na die feit dat sy ’n nuwe huis in gedagte het nader aan die Plastikor-fabriek. Een wat nie so ’n kasarm is nie. “Dan kan ’n mens jou hand op alles hou.”
Hulle s’n was een van die eerste besighede wat in Midrand opgerig is toe almal in Sandton gebou het. Sy pa was versiende. Het seker toe al geweet van die reuse-ontwikkelings wat sou kom.
Hoe baie het hy nie aan sy geliefde pa gedink terwyl hy in die tronk gesit het nie. Sy pa wat hom BCom laat swot het, sy pa wat ure lank saam met hom gedraf het, wat sy eerste paar toks vir hom gekoop het en wat elke Saterdag langs die rugbyveld gesit het wanneer hy speel, al was hy hoe besig. Sy pa, wat net skewerig geglimlag het wanneer Marcel met nog ’n peperduur skildery by die huis opdaag, of die sitkamermeubels met nuwes vervang, en wat net sy wenkbroue gelig het vir die nuwe leerbanke wat koud en ongemaklik gesit het, maar “esteties bevredigend” was (sy ma se woorde).
Marcel was die afwesige een. Willem Reyneke het haar ’n stralerjakker genoem. Tiaan het eers nie mooi verstaan wat dit beteken nie, tot hy besef het dit is eintlik “jet-setter” wat hulle so graag op skool gebruik het, soos in die destydse sigaretadvertensies.
Marcel was kort-kort in ’n ander land. Dán het sy vir ’n naweek na ’n eksklusiewe wildplaas gevlieg om te gaan ontspan, dán het sy gaan gholf speel in George. En dan weer op hul landgoed net buite Stellenbosch gaan ontspan. Die Plastikor-straler het oortyd gewerk.
Interessant dat sy pa nooit saamgegaan het nie. Net een keer kort voor sy dood, asof hy en Marcel hul huwelik probeer red het – ’n huwelik wat in elk geval van die begin af gedoem was.
Nie dat hulle openlik ongelukkig was nie. Hulle het net nie by mekaar gepas nie.
Tiaan het die indruk gekry dat sy pa getrou het omdat al sy vriende in die huwelik getree het en hy die enigste oorblywende ongetroude man was. En sy ma omdat Willem Reyneke haar ’n beter lewe kon bied.
Dalk was hulle op hul eie manier geheg aan mekaar, maar hulle het nooit handjies vasgehou of op maanligpieknieks gegaan nie.
Skaars was sy pa begrawe, of Marcel het weer Thailand toe gereis, of China toe gevlieg vir sakebelange, of selfs Mauritius toe gegaan, net om weer te ontspan.
Almal het gewaarsku dat Willem Reyneke te hard werk. Toe hy aan ’n hartaanval beswyk, was niemand verbaas nie. “Hy het sy lewe vir Plastikor gegee,” het Tiaan se broer Etienne tydens die begrafnisrede gesê. Etienne, wat van die begin af saam met sy pa in die maatskappy gewerk het en geoormerk was om eendag oor te neem.
Selfs Etienne moes geweet het dat Willem en Marcel se huwelik eintlik maar ’n saketransaksie was. Tog moes daar iewers ’n sprankie liefde gewees het, waarvan die twee seuns hopelik die produk is. Nietemin was Plastikor, wat soos die naam aandui plastiese ware vervaardig, altyd die belangrikste.
Eintlik was die maatskappynaam profeties. Hul lewens was net so plasties.
Plastiek het van die Reynekes miljardêrs gemaak en gesorg vir daardie eie straler waarmee hulle van nuwe fabriek na nuwe fabriek kerjakker het.
Ons praat vanaand as ek klaar gegim het, Tiaan, het gestaan op die vinnig geskrewe notatjie wat Paul aan hom oorhandig het.
Marcel het nie die vergadering verlaat nie, asof sy nie wou hê die sakemanne moet hom van vanoggend se voorblad herken nie.
En die besoek aan die gim later was belangriker as die verlore seun wat teruggekom het. Miskien was dit daardie woorde wat Tiaan finaal laat besluit het om ander heenkome te vind.
Nou is hy by sy ma se glaskasteel, wat darem deur staal en yster gerugsteun word, in Waterfall Estate. Dit is net na sesuur, dus is sy darem seker al terug van die gimnasium af.
Vreemd dat sy nie ’n tuisgimnasium het nie. Sy geniet dalk die ander mense. En hy is seker Paul gim saam met haar.
Links van Tiaan swem grootoog-koivisse van die buitestoep af onderdeur ’n glasmuur tot in die sitkamer. Hulle staar na hom asof hulle bevryding soek. Binne of buite, die ruimtes is ewe klinies.
Marcel se huishouer (hy verwys na homself as die huisingenieur) kom maak oop en vra Tiaan om in die voorportaal te wag terwyl hy haar gaan roep, asof hy ’n onwelkome reukie in die huis indra.
Die stroewe, robotagtige mannetjie se oë flits na sy stewels en toe Tiaan niks daaromtrent doen nie, kom die posbuslip-aanwysing: “Trek asseblief jou, uhm,” en die blik na sy stewels is selfs nog skerper as na sy ligte stoppelbaard, “skoeisel uit en plaas dit langs die deur.” Asof Tiaan geen sê in die saak het nie. Die “dankie” wat volg, is so koud soos die windjie deur sy sel se tralies.
Dit is op die punt van Tiaan se tong om die man in sy glorie te stuur, maar hy wil nie moeilikheid maak nog voor hy dalk in ’n argument met sy ma betrokke raak nie. Daarom trek hy maar sy stewels uit en sit dit moedswillig hardhandig op die vloer neer. Geen stug kyk of gespanne bolip sal iets aan sy houding verander nie.
Die huisingenieur klap hom met die oë, maar dié slag moet die vent seker besef dat twee jaar in die tronk Tiaan harder as die ontwerperteëls gemaak het.
Nogal donkerblou, wat die vertrek nog kouer laat voorkom.
Met die huis-watchamacallit se wegstap ruik Tiaan ’n peperduur naskeermiddel, maar te veel daarvan. Hy nies aspris hard – sarkasties, as ’n mens sarkasties kan nies!
Voor hom strek ’n sitkamer so groot soos die kerk waaruit sy pa begrawe is. Dit loop uit op ’n swembad, een van daardie met ’n jacuzzi aan die bopunt en ’n masseertafel onder ’n glaskoepel aan die onderkant. Water stort in die swembad en vloei dan al kabbelend oor ’n klippaadjie na die jacuzzi toe. Soos hy sy ma ken, sal daardie klippies ’n funksie hê, soos om sagkens met voetsole te werk – ’n soort natuurlike fisioterapie vir jou voete terwyl jy na die jacuzzi toe loop.
Bokant hom merk hy wolke wat oor die huis gly. Die plafon is van glas, sodat dit voel of ’n mens in die natuur loop sonder dat die elemente jou pla. Of die natuur ooit daarin sal slaag om hierdie kil huis binne te dring, is egter te betwyfel. Selfs die trappe na die boonste verdieping is van glas gemaak.
Die sjef wat by ’n toonbank staan wat in die sitkamer uitloop, vermy oogkontak terwyl hy ’n bak slaai maak.
Iewers naby die Mall of Africa gaan ’n alarm af. ’n Sirene dui aan dat bouers nou maar kan ophou werk.
Tiaan raak bewus van ’n selfoondeuntjie. ’n Deur gaan oop. En toe, asof vanuit ’n ander wêreld, kom sy ma se sagte stem van die boonste verdieping na hom aangesweef.
“… verskuif die afspraak na halfsewe, asseblief, Paul. Ek sal sesuur op kantoor wees. Die besending kom môre uit Taiwan aan, en die nuwe ontwerpe word môre aan Plastic World voorgelê. Is jy reg vir die voorlegging?”
Marcel Reyneke se voetstappe is sag, byna geluidloos, en Tiaan besef dat sy kaalvoet is. Sy het altyd kaalvoet in hul groot huis in Saxonwold geloop; of “gesweef”, soos Etienne daarna verwys het. Die huis wat sy pa gekoop het kort nadat Plastikor se aandele die hoogte ingeskiet het.
“En dan die sake-ontbyt wat ek sal toespreek. Jy moet my aan die gehoor voorstel en na die tyd bedank. Jy doen dit altyd so stylvol.” Sy lag asof sy ’n vorige geleentheid onthou. “Ons sal deur my toespraak werk as ons mekaar later sien.” Stilte. Dan: “Etienne werk laat vanaand – ek twyfel of ek hom gaan sien.” Sy luister. “Ja, dis die tydskrif wat hom so besig hou. Ek sal hom SMS en vra om met jou te skakel, Paul.” En dan, asof sy dit lankal wou sê, maar nou eers ’n gaping vind: “Dit sal heerlik wees om jou buite Plastikor te sien. Ek sien uit daarna. Tatta, Paul.”
Sy ma het nog nie daardie gesellige boeregroet afgeleer nie. Dalk dink sy dit laat haar meer menslik voorkom, maar sy sê altyd “tatta” voordat sy ’n oproep beëindig. Dáár skemer die menslike Marcel darem deur.
Dit het soms in die tronk ook gebeur wanneer sy hom vra hoe dit gaan, en eenkeer toe sy hom aangeraai het om nie tatoeëermerke te kry nie, “want dit bly die res van jou lewe by jou. Jy weet hoe sleg lyk dit later as jou vel saam met die blou merke begin hang.” So asof sy iewers iemand geken het wat vol tatoeëermerke was. Selfs in die besoekerskwartiere het sy “tatta, my kind” gesê.
Al wat Tiaan nou hoor, is die ligte gekabbel van water wat klinies klink.
Met die afskakel van haar selfoon sien sy hom.
Sy ma is beeldskoon. Almal het altyd daarna verwys, asof hulle bevraagteken het wat sy soek by iemand wat so doodgewoon soos Willem lyk. Onderliggend was daar die venyn; daar was darem seker baie aantreklike mans agter haar aan. Tog het sy ma nooit oor haar verlede gepraat nie, en nog minder het hy en Etienne ooit sy oupa en ouma aan moederskant ontmoet.
Dit was asof hulle nie bestaan het nie.
Tiaan merk haar houding toe sy gaan staan, nes ’n model wat ’n loopplank betree en wag op applous. Marcel se blonde hare lê in ’n weggekamde kuif oor haar voorkop, wat haar nog meer gesofistikeerd laat lyk.
“Every inch a queen,” het ’n werknemer eendag laat val toe hy gedink het Tiaan hoor nie.
Sy dra ’n los rok. Die ure in die gimnasium wys. Sy is slank en gesofistikeerd. Alles aan haar spreek van elegansie. Haar stem is gemoduleer en Tiaan weet die manier waarop sy na ander mense kyk, is effens uit die hoogte asof sy aan hulle erkenning wil gee en dan nie verder betrokke wil raak nie.
Marcel kyk na hom, skud haar kop effens asof sy nie kan glo dat hy in haar huis staan nie en stap nader. Sy hou haar arms oop.
“Welkom, welkom,” sit sy haar arms om hom, en vir ’n oomblik is die hartlikheid daar. “Ek is so bly jy is hier. Ek het die boonste kamer vir jou reggemaak, die een wat op Waterfall City afkyk, en …”
“Ek gaan nie hier bly nie, Ma.”
“Ekskuus?”
“Ek bly op ’n ander plek, Ma.”
“Maar hoekom?” Haar stem styg een oktaaf.
Die huisingenieur, wat soos iemand uit ’n Agatha Christie-roman eenkant verskyn, vra: “Sal ek die meneer se bagasie inbring, mevrou?”
“My bagasie is reeds in Newlands, dankie.”
“Newlands?!” Die woord sweepklap deur die saalgrootte-vertrek.
“Dis waar ek ’n kamer gekry het, Ma.”
Sy beduie verbaas. “Maar Tiaan! Jou plek is tog hier!”
Hy skud sy kop. “Nee, Ma.”
“Maar wat is dit met jou?”
Hy antwoord sonder skroom: “Ek voel ontuis hier, Ma. Buitendien, ek wil vir die eerste ruk alleen wees. Met Yolande praat. Kyk hoe my pad van hier af vorentoe lyk …”
Die oomblik toe hy sy meisie se naam noem, vries die atmosfeer. Hy het nie gedink dit kan so vinnig so koud raak nie, maar nou is dit soos ’n bars wat deur glas loop – en waar daar eenmaal ’n bars is, sit dit vir altyd.
Die huisingenieur met die weerligkuifie ruk sy rug regop. Een vinnige kyk na Marcel en hy kies die hasepad, sy bibberboudjies kiertsregop asof hy iets vasknyp.
“My kind …”
Toe weet Tiaan daar is fout. Marcel Reyneke wys na die sitkamer soos iemand wat meer beheer in so ’n formele vertrek sal hê.
Haar armbande klingel woes. Tiaan herken hulle. Sy het die armbande nog in Istanboel gekoop, by die Grand Bazaar net na sy pa se dood. Sy is soontoe om die smart te verwerk – haar beskrywing.
Marcel loop na ’n stoel in die vorm van ’n hand wat hol gehou word. Oorkant haar is ’n langwerpige sitbank, die oortreksel so wit dat dit Tiaan amper verblind.
“Ek verkies om te staan, Ma.”
Sy frons asof sy nie glo dat sy reg gehoor het nie. Dan gaan sit sy op die puntjie van die ontwerperstoel.
“Kom ons eet eers. Ek is op ’n besonder streng dieet wat volgens my bloedgroep uitgewerk is. Ek het nooit geweet ek is B-positief nie, en ons mag nie hoender en beet …”
“Ma!” Hy praat so hard dat die sjef opkyk. “Hou op om óm die onderwerp te praat en vertel my wat aangaan!”
“Kalm nou, Tiaan. Ek besef jy kom uit ’n wêreld waar aggressie die botoon voer, maar hierdie is ’n vreedsame huis. Jy weet hoe gespanne ek raak as mense te hard praat.”
Tiaan bly staan en kyk rond. Sien die ontwerperskilderye teen die muur, almal gekies om by die bleek kleurskema te pas. Hy herken nie een item uit hul huis in Saxonwold nie, dus het sy ma alles laat oordoen. Hy kon net sowel in ’n sarkofaag ingestap en deur dodemaskers omring gewees het. Hy verstik aan hierdie plek.
“Ek gaan Newlands toe, Ma.”
Sy beduie dat die huisingenieur kan loop, want sy wil kennelik nie voor hom praat nie, maar sy neem nie haar oë vir ’n oomblik van Tiaan af nie.
Nadat die wipgat-mannetjie die deur agter hom toegemaak het, herwin sy haar kalmte en praat saggies. “Ek het vir jou ’n pos in Plastikor geskep, want ek wil hê jy moet van Etienne se pligte oorneem. Ek is nie so seker dat hy reg is vir die uitgewersarm wat die maatskappy tans het nie.”
Hy hou sy hand op. “Ek werk nie saam met my broer wat my skaars twee keer in die tronk besoek het nie, Ma. Om die waarheid te sê, ek werk ook nie by Plastikor nie. Hierdie swartskaap kies sy eie kraal!”
Lekker melodramaties, dink hy, maar daar is geen ander manier om dit te stel nie. Hy ís die swartskaap, was dit nog altyd en sal dit altyd wees. Daar is géén manier waarop hy hier gaan bly nie.
Hy stap deur toe.
“Tiaan, asseblief, ons moet praat. Jy kan nie sommer so die nag in nie!”
“Daar bly niks meer oor om te sê nie, Ma.”
Hy moet na Yolande toe gaan, die meisie aan wie hy verloof sou geraak het enkele dae na sy inhegtenisname vir ’n misdaad waarmee hy niks te doen gehad het nie. Toe hy as sondebok gebruik is sodat sy beste vriende, Wikus de Lange en A.J. Muller, kon wegkom.
Yolande het tot twee maande gelede gereeld vir hom in die tronk kom kuier, maar toe eensklaps opgehou. Hy moet haar sien.
Hy pluk sy stewels aan sy voete en ryg die veters vas. Marcel het intussen opgestaan en tot agter hom geloop.
“Tiaan …”
“Tot siens, Ma.”
Hy maak die deur oop, asem die vars lug in asof ’n obstruksie skielik voor sy gesig verwyder is, en stap uit.
Toe hy in sy motor wegtrek, sien hy sy ma nog steeds in die deur staan, kaalvoet, haar hand effens gelig asof sy hom probeer keer. Toe sien hy hoe sy haastig haar selfoon se sleutels begin druk.
Die meenthuiskompleks waar Yolande in Ferndale woon, het nog niks verander sedert hy twee en ’n kwart jaar gelede laas hier was nie.
Dit was die aand van sy inhegtenisname. Die polisie het hom hiér opgespoor. Hy en Yolande het pas vir aandete aangesit – hulle het saamgewoon – toe die gonser by haar hek knor. Hulle het niemand verwag nie. Toe sy die interkom beantwoord, was die stem kortaf en formeel.
“Hello. Who am I speaking to?”
“Yolande de Wet. Can I help you?”
“Is mister Tiaan Reyneke with you?” Die offisier het sy van as Rainiekie uitgespreek.
“Yes. What is this about?”
En toe die woorde wat sy hele lewe in trurat gegooi het: “This is Lieutenant Moyage from Randburg Police Station. We want to speak to him. Please open the gate.”
Daardie aand het hy in die tronk geslaap.
Die hofsaak is vinnig afgehandel, vinniger as baie ander, en hy is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
En nou is dit twee jaar later, en groei die struike wat teen die sypaadjie voor die kompleks geplant is nog weliger – so welig dat mense wat die sypaadjie gebruik eintlik in die straat moet stap om verby te kom. Hy het die plante nog gesnoei ’n week voordat hy in hegtenis geneem is en Yolande het gelag: “Die body corporate wil jou eintlik ’n medalje gee, maar daai ou suur Millie van nommer 1 is vies omdat sy niks van die snoeiery geweet het nie. Maar dis nou te laat!” Sy het hom gesoen. “Dankie, skat.”
Nou is dit so ruig asof dit alle toegang tot die kompleks verbied, veral vir hom.
Bredenham Mansions nommer 6. Yolande de Wet. Die meisie met wie hy van hoërskool af in ’n verhouding was en met wie hy wou trou, maar toe beland hy in die tronk.
Tiaan steek sy hand uit. Die kode was destyds 1239. Moet hy eers eenheid 6 se gonser druk om toestemming te vra? Of moet hy sommer direk inry indien die hekke sou oopgaan?
Die sleutelbord voel koud onder sy vingers. 1-2-3. Hy leun verder uit en druk die 9.
’n Oomblik se stilte voor die hekke oopswaai. Dít het ten minste nie verander nie.
Tiaan ry in, in dieselfde motor as wat hy gehad het toe hy gearresteer is. Dít het hy darem behou nadat sy ma vanoggend ’n onderdaan gestuur het om hom ná sy vrylating by die tronk te gaan haal.
Dit was die ergste: dat Yolande nie daar was nie. Dat sy ma nie daar was nie. Hy het geweet Etienne sal nie kom nie, maar sy ma kon ten minste ’n uur afgeknyp het. Daar staan sy motor toe voor die tronkingang met ’n vreemde man wat vir hom wink toe hy deur die hekke stap.
“Goeiemôre, meneer Reyneke. Fritz du Preez van Plastikor. U ma het my gestuur om u te kom haal.”
Hy kon nie die gedagte verdra dat iemand anders met sy rooi motor moes ry nie. Hy het die sleutels by die onderdaan geneem en agter die stuurwiel ingeskuif. Vir die eerste keer in 24 maande was hy vry om te kom en gaan soos hy wil. Om sy eie motor te bestuur. En toe hy die sleutel in die aansitter draai, was die geluid van die enjin net so mooi soos toe die tronkhekke agter hom toegegaan het.
Nou ry hy met die steil paadjie op tot by Yolande se meenthuis. Hy het sy eie garage-oopmaker gehad, maar dié lê nie meer in die houertjie onder die motor se radio nie.
Tiaan hou in die enigste oop parkeerruimte langs haar meenthuis stil, kyk na die wit muur met die bruin strook waarop die nommer 6 duidelik geverf is, en klim uit.
Hy stap na haar voordeur toe en druk die klokkie. Iewers, veraf, hoor hy ’n deuntjie, ’n ander een as toe hy hier kon in- en uitloop soos dit hom pas.
’n Geskuifel binne. Toe voetstappe.
Vir ’n oomblik herleef hy daardie gevoel toe die polisie boeie om sy gewrigte geplaas en hom na hul motor toe gedwing het.
Hy skud sy kop om van die gedagtes ontslae te raak. Al waaraan hy nou moet dink, is Yolande. Yolande met wie hy wil trou. Yolande wat hy met sy hele hart liefhet. Yolande wat sy trouvrou is.
Destyds het sy by ’n modetydskrif, Swier, gewerk. Hy wonder of sy nog daar is. Daar is soveel besonderhede van haar lewe waarvan hy nie meer weet nie.
Die buitelig word aangeskakel en vir ’n oomblik gebeur niks nie. Toe ’n sleutel wat in die slot knars.
Sou sy hom verwag en het sy nie genoeg moed om die deur oop te maak nie? Sal sy dalk oorhaastig verduidelik hoekom sy hom vir twee maande nie besoek het nie?
Toe swaai die deur oop en sy staan voor hom.
Die aktrise Rachel McAdams – dis aan wie sy hom nog altyd herinner het, sedert hulle op skool saam The Notebook gaan kyk het. Sy lyk nog steeds so. Net so beeldskoon, maar haar hare is nou korter geknip en haar gesig is effens harder.
In die lig van die gloeilamp wat bokant die deur hang, sien hy die spanning op haar gesig. So, sy het hom verwag. Dalk het sy ma haar gewaarsku dat hy kom nadat hy uit die Waterfall Estate weg is? Wie sal weet?
Hulle staan na mekaar en kyk, en toe: “Tiaan.” Maar haar stem is koel. Dis nie die Yolande wat hy ken nie.
“Hallo, Yolande.”
Hulle staan soos twee mense wat by ’n langtafel-ete langs mekaar beland het en wonder hoe om die ys te breek, of hoe hulle die ete gaan oorleef aangesien hulle niks het om vir mekaar te sê nie.
Toe sy in die tronk vir hom kom kuier het, wou hy gedurig aan haar vat. Gedurende die eerste jaar moes hy al sy selfbeheersing gebruik om nie vorentoe te leun en dit te doen nie. Dit het later afgeneem, hulle het meer gewoond geraak aan die beperkings. Dit is eers onlangs dat sy nie vorentoe geleun het wanneer hy haar naam sê nie. Dat hy nie daardie sagte uitdrukking in haar oë kon raaksien wanneer sy met hom praat nie.
“Ek is vrygelaat. Ek is onskuldig bevind.” Hy sê die woorde soos hy ’n resitasie in die skool opgesê het en besef dat sy dit natuurlik moet weet. Maar hoekom het sy hom nie kom haal nie?
“Ek weet.” Soos sy ma se stem ’n uur gelede, sweef die klank oor ’n diep kloof na hom toe. Verbeel hy hom, of is dit net so verkluim-koud soos sy ma s’n? “Ek het altyd geglo jy is onskuldig, Tiaan. Ek het geweet geregtigheid sal seëvier. Ek het dit elke keer gesê wat ons mekaar gesien het.”
Die ongemak lê duidelik in haar woorde. In die manier waarop sy sy naam sê en in sy oë kyk, maar hom nie heeltemal raaksien nie. Elke klank word noukeurig gevorm asof sy dit voor die tyd geoefen het.
Hy glimlag en wil haar in sy arms neem, maar iets keer hom.
“Ek is jammer, Tiaan.”
“Was jy kwaad vir my? Was jy bang? Wou jy my nie …?”
Hy voltooi nie sy sin nie, want iemand verskyn agter haar. Aanvanklik kan hy nie sien wie dit is nie, want dis te donker. Dis eers toe hy in die ligkol instap dat Tiaan sy broer herken. Etienne het maer geword, sy gesig lank en grimmig, maar hy het steeds die groot bos blonde hare wat hy en Tiaan van hul ma geërf het.
Etienne staan net daar en kyk na hom. Eers toe Yolande uit die pad staan, kom hy vorentoe. Hy huiwer soos iemand wat wonder hoe hy moet groet. Dan steek hy sy hand soos ’n sku hond uit en skud Tiaan s’n. Die palm is sweterig.
“Hallo, Tiaan.” Geen “Welkom terug!” of “Goed om jou te sien” of “Ek is jammer dat ek jou nooit kon besoek het nie”. Net ’n sweterige handdruk waarin sy vingers te styf om Tiaan s’n span.
“Hallo, Etienne.” Hulle kon net sowel twee skoolvriende gewees het wat mekaar weer vir die eerste keer by ’n reünie ontmoet. Dit voel of daar ’n konsentrasiekamp van slegte gevoelens tussen hulle is. Sy broer se stem is nog meer emosieloos as wat Tiaan dit onthou.
“Wat maak jy hier?” vra hy. Dit bevestig sy vermoede dat sy ma gebel het om te laat weet hy is op pad; Etienne het seker hiernatoe gery om ten minste erkenning te gee daaraan dat Tiaan huis toe gekom het. Dat hy onskuldig in die tronk was.
“Kan ons praat?” Etienne staan opsy sodat Tiaan kan verbykom. Yolande staan teen hierdie tyd teen die muur – ’n vrou wat nie aan haar eertydse minnaar wil raak nie, of wat dalk wag dat sy broer moet ry voordat sy vir hom verduidelik hoekom dit lyk of sy afgekoel het.
“Gaan dit ’n kort of ’n lang gesprek wees?” vra Tiaan, die woorde styf en droog in sy mond.
Etienne en Yolande kyk onderlangs na mekaar. Uit die manier waarop hulle dit doen, kan hy sien hier kom ’n ding.
Dit is Etienne wat sy stem die eerste terugkry. “Tiaan.” ’n Selfbewuste, swaargelaaide pouse. “Ouboet.” Wanneer het Etienne hom laas só genoem?
“Ja?”
Etienne kyk vinnig na Yolande. Toe gaan staan sy langs hom.
Hy steek sy hand uit en raak aan Yolande s’n. Dan sit hy sy arm om haar skouers en druk haar teen hom vas.
Eers toe begin die waarheid na Tiaan toe deurskemer.
’n Polisiemotor jaag verby. Iewers gaan ’n huisalarm af.
“Wanneer?” En toe hulle hom nie antwoord nie: “Wanneer het dit begin?”
Die polisiemotor ry verder en die alarm raak stil. Nou hoor hy die ysterhekke by die kompleks se ingang oopskuif – dit herinner hom aan die tronkhekke.
“Twee maande gelede.” Yolande praat nou. “Net nadat ek die pos as redakteur by Swier gekry het. Dis die ou tydskrif waarby ek gewerk het en wat nou gerevamp …”
Tiaan hou sy hand op. Hy glo nie dat dit uit sy mond kom nie, maar hoor homself die woorde sê: “Baie geluk.” Hy sê dit soos iemand oor wie die doodsvonnis gevel is en wat moet erkenning gee dat hy dit gehoor en verstaan het.
Stilte. Yolande en Etienne kyk weer na mekaar, maar dit is asof die meisie verby sy broer kyk. Asof sy Tiaan in die ruimte duskant Etienne soek.
“Dankie.” Sy sê dit so sag dat hy dit beswaarlik kan hoor.
“Twee keer, Etienne. Twee keer se besoeke in die tronk?” Hy weet nie hoekom hy dit eens vra nie, dit glip net uit.
“Ek en Yolande het mekaar lief, Tiaan.”
Interessant dat sy broer dit sê, nie sy nie.
Die stilte hang swaar met die reuk van katjiepiering om hulle.
“Eintlik het ek haar al van skooldae af liefgehad, maar sy was altyd joune. Vir die eerste jaar en ’n half het ek dit gerespekteer,” sê Etienne. “Maar agt jaar is ’n lang tyd.”
“Twee jaar,” sê Tiaan. “Twéé jaar.”
“Ja, maar ons het nie geweet dat jy …” Yolande se stem raak weg asof sy nie meer glo wat sy sê nie.
“Het jy hom regtig lief?” vra hy.
Net vir ’n oomblik is daardie ou lig terug in haar oë. Die manier waarop sy na hom gekyk het wanneer hulle liefde maak, of net dinge saam doen, of naweke in Magaliesburg gaan stap, of met hul fietse deur die Cradle of Humankind ry, of simfonie-uitvoerings in Roodepoort se botaniese tuin bywoon. Al daardie beelde flits deur sy kop.
Maar dit verdwyn net so vinnig as wat dit gekom het.
“Ja, Tiaan.”
Dit is eers toe hy deur die kompleks se hekke ry dat hy haar antwoord, al is sy nie langs hom om te hoor nie.
“Ek glo jou nie, Yolande.”
Toe hy ’n halfuur later voor Girly se losieshuis in Newlands stilhou, is dit presies negeuur.
Ten minste het hy vanaand ’n warm verebed om in te slaap.