Читать книгу Grens - Leonette Smit - Страница 11

ST. MICHAEL’S ON SEA

Оглавление

At first, the tired body takes over completely. As on shipboard, one descends into a deck chair apathy. One is forced against one’s mind, against all tidy resolutions, back into the primeval rhythms of the seashore. Rollers on the beach, wind in the pines, the slow flapping of herons across sand dunes, drown out the hectic rhythms of city and suburb, timetables and schedules. One falls under their spell, relaxes, stretches out prone. One becomes, in fact, like the elements on which one lies, flattened by the sea; bare, open, empty as the beach, erased by today’s tides of all yesterday’s scribblings.

– ANNE MORROW LINDBERGH

Uit: Gift from the Sea.

Begin Februarie, 1982: Ons is ’n jaar in die sending. Tyd vir ’n welkome vakansie. Smit bespreek vir ons ’n chalet by St. M­ichael’s on Sea. Ek is sewe maande swanger met Ignatius. Ek mag nog die flossie gebruik tot voor my agtste maand. Ons behoort veilig terug te wees voor die bevalling wat so teen die laaste week van Maart verwag word.

Smit se Peugeot staan by die skoonfamilie in Meyerspark. Ons sal die flossie vat Republiek toe. Skoonpa kan ons op Waterkloof-lughawe kry. Ons sal so ’n paar dae daar oorbly, sodat Smit die motor kan laat versien. Dan Natal toe met die Peugeot vir ’n heerlike twee weke by die see – die eerste seevakansie wat die kinders sal beleef. Op pad terug kan ons vir Ma-Chrissie-hulle gaan kuier in Orkney, voordat ons moet terug, betyds vir die bevalling.

Alles verloop goed volgens plan.

Die tog af St. Michael’s toe is ’n verlossing ná die paar dae in Meyerspark. Ek rus nooit by Skoonma nie. Sy laat my altyd voel asof daar belangriker dinge te doen is as bloot net sit en kuier. Soggens is ons nog in die kooi, dan kom stof sy die meubels in die kamer af – wie kan dan nog bly lê? Karien is nog in doeke, skaars twintig maande oud. Elke dag moet ek doeke was. Met die hand. Haar wasmasjien word net Maandae gebruik. Boonop mag die kinders net in die posseëlgrootte agtertuintjie speel – die voortuin met sy lekker grasperk is taboe. Hulle mag nie op die klavier speel nie, nie op die sitkamermeubels klouter nie en moet by ons in die kamer op die vloer slaap. Die spaarkamer moet skoon gehou word vir gaste (dis beslis nie óns nie). Snags word ek hoeveel keer wakker van Karien se geskop teen die ingeboude kas. Ek kry nie gerus nie.

In die suidooste van Transvaal ry ons deur pragtige landelike tonele. Plasse hemel lê opgedam tussen die skouers van laagwaterdriwwe. Uitgepofte wattewolkies dam al digter en digter teen mekaar op tot doer teen die einders.

Die rit maak ek vir die kinders interessant met doen-goedjies om hulle mee besig te hou en met lekker padkos waarvoor ons op ’n afgeleë plaaspaadjie aftrek om dit te geniet. Klein-Johan gaan staan saam met Pappa agter ’n boom en water afslaan – probeer net so ver soos Pappa piepie. Ek sit vir Karien ’n droë doek aan en hurk self langs die pad agter ’n bos of ’n boom. Uitgelate hardloop die kinders dan af in die plaaspaadjie. Tel klippies op, of ’n verlore tarentaalveertjie.

’n Paar keer is dit of die ou Peugeotjie sluk teen die opdraandes, veral nadat ons ’n slag afgetrek en stilgehou het.

Ons speel die pad korter. “Ek sien iets,” sal ek sê.

“Hoe blink dit?” moet hulle dan antwoord. Dis dieselfde speletjie wat Pa-Leo altyd met ons as kinders gespeel het as ons op pad was met die groen Opeltjie.

“Dit blink hoog, en pyperig. Dit draai in die rondte en staan op ’n heuwel.”

“Dis daai toring daarbo!” roep Klein-Johan vinnig uit en wys na die windpomp op ’n hoogtetjie.

“Mooi so. Mens noem dit ’n windpomp. Nou is dit jou beurt.”

“Ek sien iets wat blink soos ’n groen trekker.”

Ek maak of ek nie die John Deere op die landerye sien nie.

“Gloen tlekkel,” is Karien se bydrae.

“Jaaa, jy’s reg. Slim kind!”

En so verwyl ons die kilometers as hulle wakker is. As hulle slaap, kry ek en Smit kans om te kuier.

“Die karretjie gaan te klein wees as daar nog ’n kind is, besef jy dit?” sê ek vir Smit.

“Ja, miskien moet ons maar daaraan dink om te belê in ’n kombi, met die oog op die toekoms. Dit sal dalk wys wees om van die Peugeot ontslae te raak terwyl ek nog iets vir hom kan kry.”

Die pad deur die Vrystaat is dieselfde een as wat ek en Smit laas op ons wittebrood gery het. Toe was die kosmos ’n erewag weerskante van die pad. Vir ons was dit so betekenisvol omdat ons ’n groot bos in die kerk gehad het vir ons troue. Die blomme was so mooi daardie jaar. Ons het gevoel die Vader het dit spesiaal vir ons huwelik so voorberei. Nou staan dit weer dig langs die pad. Maar dis nog omtrent ’n maand voordat dit voluit sal blom.

As ek nie self insluimer nie, verkyk ek my aan die veld. Die grasse staan geil langs die pad. Dis asof hulle jubel. In sy volle lengte staan die grys-groen tamboekie lofprysend orent. Die vingergras hef hulle hande hemelwaarts op, met die palms oop om meer seën te ontvang. Dekgras, reeds swaar in saad, buig laag neer in aanbidding voor die Koning wat lewe en groei bewerkstellig. Fonteingras langs waterpoele wuif hul wit pluime heen en weer voor die Seun van Dawid wat kom. Pylgras staan kiertsregop; ’n erewag op die soom van die pad. Salueer die Skepper. Kolle wit en koraalkleurige kapokgras kaats gloeiend die glans en glorie van God terug – Hy wat die gras en die veld só versier en versorg.

Deur die denneplantasies van Natal verander die weer. Dit word triestig. Plek-plek hang die mistigheid misterieus tussen die swart stamme van die denne. Soos ons verbyjaag, val die sonstrale strobo­skopies daardeur.

Dit is al ná vier toe ons uiteindelik stilhou voor ons bespreekte chalet. Die kinders hardloop so uitgelate soos twee spelerige klein hondjies rond.

“Kom help gou vir Pappa die koffers afdra, dan kyk ons in watter bedjie elkeen van julle gaan slaap.”

“My bedjie is die een hier by die venster,” sê Klein-Johan.

“My bedjie hiel,” vul Karien aan.

Hulle klouter op die skoon dekens, sit die bedliggies aan, maak bedkassies oop om alles wat nuut is te verken.

Ek begin dadelik dink aan aandete. Ons het nie plek vir baie voorraad gehad nie en moet nou gou speel voor toemaaktyd om iets by ’n winkel te gaan kry. Terwyl ek koffers uitpak, gaan koop Smit vir ons iets vars vir aandete – vis, brood, melk en iets vir ’n slaai.

Toe hy terugkom, vat ons die kinders af strand toe sodat hulle die see en sand kan beleef voor dit donker is. Hoe betowerend is los, skoon seesand nie onder ’n mens se kaal voete nie! Impulsief wil ’n mens begin speel, in die sand neerplons en een word met die strand.

Elk aan ’n handjie lei Smit die kinders na die nat sand waar die golfies skuimrandjies agterlaat. Aanvanklik gaan dit versigtig, maar later plas hulle baldadig met klere en al in die vlak seewater. Die nat strand word koper in die laatmiddaglig.

Hulle geniet dit so dat ons lank ná die normale tyd eers by die bad­ritueel kom. Smit hanteer dit terwyl ek vinnig vir ons ’n vissie bak, broodrolletjies smeer en ’n slaai uitpak. Dis vir hulle lekker as hy dit doen, want hy bou soveel pret daarin. Ek is nie meer so mobiel nie en sukkel om hulle uit die bad te tel en af te droog. Dis baie makliker om die kosmaak te behartig as die badsessies. Maar ek sal vroeg moet gaan lê, want my voete lyk nie goed nie. Dik geswel van die dag se lang rit.

Toe albei die kinders vas aan die slaap is, sit ek en Smit op die donker stoepie en tee drink met ons voete op die muurtjie. Die dreuning van die see, die rustige aandgeluide, die sterrehemel bokant die lyn tussen hemel en see oopgesprei, vorm die volmaakte tafereel waarin ons ontdaan word van opgekropte moegheid en spanning. Ons gedagtes plat af. Word soos gladgespoelde strande waarop geen versteuring van voetspore meer sigbaar is nie. Die reis hierheen was voorspoedig, die kinders slaap rustig en ons begin die helende effek van die see in die gemoed ervaar.

Ons albei slaap nog vas die volgende oggend toe die kinders al op ons is. Hulle is opgewonde oor die konstante dreuning van die see en wil weer strand toe. Dis ’n lieflike oggend. Wolkloos. Windloos.

Ek kry myself nie uit die bed uit nie. Dis of my lyf protesteer teen opstaan. Smit lok die kinders kombuis toe waar hy koffie en tee gaan brou, sodat ek nog ’n rukkie kan lê. Die paar minute waarin hulle my alleen laat, is genoeg om my weer diep te laat insluimer.

Is ek dan regtig só moeg, of ontspan ek net toetentaal? wonder ek toe hulle vrolik met ’n gepakte skinkbord terugkeer kamer toe.

’n Uur later lê ons spore afgedruk in die klam sand al met die soom van die see langs. My en Smit se spore strek agter ons uit in lang egalige rye. Die kleiner spoortjies lê kruis en dwars oor ons spore soos wat hulle agter elke slakkie wat uitspoel aanhardloop en na elke nuwe skulpie wat hulle opmerk, hardloop. Hulle verwondering oor die grote see en dit wat met elke golfie uit die see gestoot word, werk aansteeklik. Naderhand bult albei my sakke met alles wat Karien optel en vir my aangee om vir haar te hou. Opgewonde buk hulle oor ’n bobbel van ’n jellievis waaraan slakkies knabbel. Smit wys vir hulle die groot olietenkers op die see se horison, en saam jaag hulle agter strand­lopertjies aan. Klein-Johan probeer tevergeefs ’n seemeeu inhardloop.

Die geklots van die golwe, die vars seelug, die son op ons kaal bene en arms, die kinders se speelsheid en genot, stel ook ons plesier vry. Ons vergeet van roetine en skedules. Drentel baie verder langs die strand as wat ons van plan was en word oorval deur hongerpyne wat ons terugdryf na ons chalet vir ’n oordadig groot ontbyt.

“Ek sal in ’n stadium Port Shepstone toe moet ry om ’n nuwe petrolfilter vir die kar te gaan soek, miskien is daar vuiligheid in die carburettor. Die kar het gisteraand weer gesluk op pad winkel toe en een slag sommer heeltemal uitgesny. Ons kan nie die pad terug só aandurf nie.”

Saterdagmiddag, ’n paar dae nadat ons daar aangekom het, staan ek en doeke was by die badkamerwasbak. Smit het die oggend vir my sy trouring gegee om aan my regterhand te dra sodat hy hom nie verloor in die see nie. Ek het sý ring, en my twee ringe – verloofring en trouring – afgehaal en aan die hakie bokant die wasbak gehang. Toe ek klaar gewas en uitgespoel het, ruil ek per ongeluk ons twee trouringe om. Hulle lyk presies dieselfde – ’n gepoleerde band in witgoud. Syne is net wyer. Die oomblik toe ek mý touring, in plaas van syne, aan my regterhand sit, besef ek my fout. Daar sit hy – ek kry hom nie weer uit nie! Ek smeer seep en probeer onder die koue lopende water, maar hy sit! My vinger swel onmiddellik dik op.

“Smit!” roep ek benoud. “Kom help! My ring sit vas aan die verkeerde vinger!”

“Hoe de duiwel het jy dít reggekry?” vra hy verontwaardig. Binne minute is my vinger so dik geswel dat ons besef ons sit met ’n groot krisis.

“Klim, my vrou. Ons sal moet by ’n garage of ’n werkswinkel kom om hierdie ring deur te sny voor jy jou vinger verloor.”

Karien begin huil oor my vinger wat so dik staan.

“Toemaar, my skat, dis nie seer nie. Pappa gaan hom sommer gou afkry,” probeer ek haar troos, maar is self benoud.

Daar is nie een werkswinkel oop nie. Ons ry straat op en straat af. Smit draai op die ingewing van die oomblik by ’n erf in waar daar ’n man staan en werk in sy garage.

“Ek het vanoggend met dié ou gestaan en gesels op die strand. Ons het oor die Peugeot se probleem gesels. Hy ken karre se enjins en sal sekerlik die regte gereedskap hê om die ring mee deur te saag.”

Dis met ’n groot gesukkel dat die ring uiteindelik deurgesaag is sonder om my vinger te raak. Die witgoud is so ’n harde metaal, dat dit vir my voel hulle breek my vinger af in die poging om die ring wyd genoeg oop te buig om my vinger uit te kry.

“Nee wat, jy hoef nie bekommerd te wees nie. Enige juwelier kan die las sommer maklik herstel, jy sal nie eens weet waar ons hom deurgesaag het nie,” verseker die man my. Wat ’n verligting toe die drukking om my vinger af is!

Dít, die Saterdag se dinge. Maar beslis nog lank nie die einde nie …

Ná die naweek ry Smit om onderdele vir die Peugeot te gaan soek. Hy bly die hele dag weg. Sy soektog neem hom tot in Durban, waar hy eindelik die regte onderdele teen ’n redelike prys kry. Die dag word te lank vir my alleen met die kinders. Om hulle alleen strand toe te neem, is vir my te veel moeite. My voete is geswel soos twee panne mosbeskuit wat gereed staan vir die oond. Ek is moeg en die kinders word lastig, klaerig.

Die nuwe dag bring nie verligting nie. Om op te staan voel net vir my na te veel inspanning. Smit hou die kinders van my af weg sodat ek maar kan lê. Slaap wil maar nie kom nie, want reg by die kamervenster probeer hy aan die kar werk met die twee kinders ewe gewillig om saam te werk. Sy geduld raak op, want kort-kort soek hy na iets wat hulle ronddra of wegvat as hy dit nodig het.

“Wie het nou die moertjies gevat wat ek hier in die wieldop gesit het!” hoor ek hom raas. Tussen die twee paar gewillige handjies het die moertjies voete gekry.

“Nou gaan sit julle in die sitkamer. Kry vir julle iets om daar te doen!” Ek kan hoor hy is verontwaardig. Hy sukkel al die hele middag om die dekselse onderdeel te vervang en nou is die moertjies weg, nóú dat hy die vervlakste ding uiteindelik op sy plek het om vas te skroef! Nee wat, ek kan sien hier is moeilikheid.

Ek voel ek moet probeer red wat te redde is. “Kom ons stap kafee toe terwyl Pappa werk. Dan gaan koop ons roomys.”

Die dag is oop en helder. Ons stap maar stadig die straatjie af, elkeen in sy eie beknopte skaduweetjie. Ons maak ’n speletjie daarvan om op onsself te trap. Dis omtrent drie straatblokke na die naaste kafeetjie, maar die vooruitsig van ’n roomys laat die twee moedig voortstap. In die kafeetjie is dit gelukkig lekker koel. Die twee kinders eet elk ’n roomys op ’n stokkie, en ek drink ’n koue koeldrank. Dit word ’n taai spul soos wat die roomys smelt en teen Karien se arm afloop. Ek het nie iets by my om dit mee af te vee nie. Die taai armpie en die moeë lyfie maak haar ongelukkig. Sy wil opgetel wees. Ek kan haar nie heelpad dra nie.

Ons begin maar stadig terugstap en ek vertel ’n storie om die aandag af te trek van die slegte situasie, maar dit help nie. Karien kerm. Sy wil gedra wees. Ag, tog, wat maak ek nou? As ek haar net op my rug kan kry, sal dit moontlik wees, want op my heup, met my groot boep, kan ek haar nie meer dra nie.

Daar is ’n tuinmuur; ’n lae baksteenmuurtjie langs die pad. Ek stap tot daar, tel vir Karien op die muurtjie en help haar om op my rug te klouter. Op my hurke kan ek nie meer afsak nie. Ag, het ek tog net ’n stootkarretjie gehad, maar daar was nie plek om dit ook nog saam te bring nie. Ek stut haar deur my hande bymekaar in te haak onder haar boudjies. Die kraamrok het ek gemaak van ’n sintetiese lap. Die lap is glad en maak dat Karien aanhoudend afsak. Die hoë riffelkragie van die halslyn trek tot in my keel op. Ek sweet van inspanning. Haar lyfie word al swaarder en slapper. Ek kan voel hoe sy aan die slaap raak.

Klein-Johan het ook al stiller begin word. Gewoonlik vind hy genoeg dinge om oor te babbel as ons so ’n entjie gaan stap. Dit lyk vir my of die vaak hom ook inhaal. Ek het nie ’n arm vry om sy handjie vas te hou nie. Hy loop behoorlik en slinger soos wat hy soms wegdommel.

“Johan, sien jy daardie paaltjie langs die pad?” Ek wys met my ken na ’n ankerpaaltjie van ’n straatlig voor een van die huise in die straat. “As jy op hom klim, dan kan ek jou op my rug tel en Karien kan op my nek sit. Hoe lyk dit, sal ons probeer?”

Hy is so moeg. Enige plan sal nou vir hom werk, as hy net nie meer hoef te loop nie. Ek stut met een hand vir Karien onder haar boudjies. Met die ander help ek hom op die paaltjie. Toe hy staan, lig ek haar op my skouers met albei my arms. Karien kom effens by, maar raak weer aan die slaap, sommer bo-oor my kop. Toe buk ek vooroor, sover as wat my boep kan toelaat, sodat Klein-Johan vanaf die paaltjie tot op my rug kan klouter. Ek moet hom met albei hande onder sy boudjies steun, want ook hý kry nie ’n greep op my gladde rok nie.

“Jy moet vasklou, seun, ek kan jou nie ook vashou nie, ek moet vir Karien stut, anders val sy af.” Hy probeer hard vasklou, maar ek voel hoe sy lyfie verslap. Dis gelukkig nie meer ver nie. Ek versnel my pas, want lank gaan ek dit beslis nie hou nie. Voel hoe Karien se koppie sywaarts teen my nek begin afgly. Maar ek het albei my arms nodig om Klein-Johan bo te hou, want hy is ook nou vas aan die slaap. Al genade is om al krommer te loop en met my skouer Karientjie se lyfie te probeer stut. Met so ’n groot swanger boep, kan ’n mens nie eintlik krom loop nie! Ek beur vorentoe. Die sweet tap my af. Gelukkig sien ek al die vakansiechalets voor ons.

Onder my natgeswete wenkbroue deur, sien ek vir Smit aangehardloop kom. Wat ’n verlossing toe hy vir Klein-Johan aftel en ek Karien kan laat afgly tot op my rug.

Die son hang al laag toe hulle nog lê en slaap. Smit kon die motor weer regkry. Hy’t by die man wat my ring deurgesaag het, moertjies gekry wat pas en die motor loop weer perfek. Maar ek is bekommerd. Iets is nie reg nie. Ek kry aanmekaar fyn steekpyntjies deur my buik!

“Dis beslis nie kontraksies nie, maar dit voel nie vir my normaal nie,” deel ek my kommer met Smit.

“Moet ons nie maar na ’n hospitaal toe gaan nie?” vra hy bekommerd.

“Waar gaan ons nou ’n hospitaal kry?”

“Ek vermoed daar’s een op Port Shepstone.”

“Ek weet nie, jong. Dis vér. Wat maak ons dan met die kinders? As ek hulle nou wakker maak om saam te neem, sal hulle wil eet en bad. Hier kan ons hulle tog nie alleen los nie. En jy weet hoe lank dit kan neem om reg te kom by ’n hospitaal,” spreek ek my twyfel uit.

“Ek het vanoggend vir Stephan Strauss, wat saam met my in die klas was, by die vulstasie raakgeloop. Hulle kuier hier saam met ’n vriend wat glo sy hospitaaljaar in Port Shepstone doen. Ek dink hulle is in daai groot woonstelkompleks agter die winkeltjie. Miskien moet ek hulle gaan soek en by hom hoor wat ons moet doen.”

Dit was seker ’n halfuur later dat Smit saam met die jong doktertjie opdaag. Hy moet my inwendig ondersoek om vas te stel of ek dalk al besig is om te ontsluit. Hy het nie ’n apparaat by hom om my bloeddruk te monitor nie. Vra uit oor my geswelde voete, my blaasfunksie. Toets my urine.

“Dit is definitief die begin van kraam. Maar as jou datum korrek is, is hierdie baba nog prematuur. Ek kan vir jou ’n voorskrif uitskryf vir pilletjies wat die kontraksies kan stop. Julle kan dit by ’n noodapteek in Port Shepstone kry. Jy moet dit so gou as moontlik begin gebruik en dan moet jy nie opstaan nie. Jy sal maar net moet bly lê, dis uiters belangrik.”


Dat die baba dalk prematuur kon kom, was vir my daardie aand ’n moontlikheid. Min het ek toe geweet wat sou gebeur. Ek het dit regtig nie verwag nie. Ek onthou dat haar voete geswel was, maar daar was geen ander tekens van preëklampsie nie. Ek het haar urine getoets – daar was geen teken van proteïen aanwesig nie. Dit was ’n skok toe ek van Stephan-hulle verneem het wat toe gebeur het.


Die pilletjies help. Maar dit is nie meer vakansie nie. Lankal nie meer nie.

“Kom ons ry vannag as die kinders slaap na Ma-Chrissie hulle toe,” is Smit se voorstel die volgende oggend, “dan kuier ons daar totdat dit tyd is vir ons terugvlug. Ma sal jou beter kan help met die kinders sodat jy kan rus.”

Die rit deur die nag is uiters ongemaklik in die Peugeot, selfs vir die twee kleintjies, wat op die agterste sitplek slaap. Maar dit word ons redding. Ma doen alles vir my en hanteer vir Klein-Johan en Karien bekwaam tussen al haar werk deur. Sy laat my rus. Maar sy is duidelik bekommerd oor my toestand.

“Babie, hoekom bel jy nie daai dokter in Pretoria wat Johan en Karien se bevalling gedoen het nie? Maak ’n afspraak en gaan sien hom net voor julle Maandag moet terugvlieg Kaprivi toe. Hoor wat sê hy. Ek wil nie hê jy moet in Katima moeilikheid optel met die baba nie. Dan sal dit beter wees as jy in die Republiek bly tot ná die bevalling.”

Sy oorreed my om ’n afspraak by dokter Hannes Snyman te maak in Pretoria voordat ons terugvlieg Katima toe. Smit kry ’n afspraak by hom vir die Donderdag voor ons terugvlug op die daaropvolgende Maandag.

“Op die oog af is alles normaal.” Maar dokter Snyman lyk bekommerd. “Kom ons reël liewer vir ’n sonar. Dit sal almal gerusstel en dan weet jy of jy hier moet bly vir die bevalling, en of jy maar kan teruggaan Katima Mulilo toe,” is sy voorstel.

Dokter Snyman maak vir my ’n afspraak vir die sonar by dokter De Beer in die Louis Pasteur-gebou. Dokter De Beer kan my die Saterdag om twaalfuur indruk tussen twee ander afsprake.

“Ek stem nie saam met jou oor jou verwagte datum nie. Jy sê so teen die einde Maart? Hierdie baba lyk vir my meer na twee-en-dertig as na ses-en-dertig weke,” is sy bevinding. “Andersins lyk alles normaal. Maar wag gerus in die wagkamer totdat ek vir jou ’n verslaggie saamgestel het.”

In die wagkamer wag ek tot amper halftwee.

“Mevrou Smit,” roep die ontvangsdame my nader, “dokter sê daar is ’n oponthoud by sy tikster. Hy sal nie nou jou verslag kan klaarmaak nie. Maar alles lyk reg.” Sy druk haar bril terug in posisie met ’n wysvinger waarvan die rooigeverfde nael te lank lyk vir iemand wat haar tipe werk doen. “Dokter meen jy kan maar met ’n geruste hart teruggaan Kaprivi toe. Hy sal jou verslag deurstuur na dokter Snyman. As julle weer Pretoria toe kom, kan jy dit by dokter Snyman gaan afhaal. Dokter De Beer het hom reeds geskakel en dit so met hom gereël.”

Het sy ’n rede gehad om te vermoed dat ons binnekort sou terugwees in Pretoria? As dit so was, het ek dit nie raakgehoor nie. Ek is net so dankbaar dat dokter De Beer bereid was om my te sien te midde van sy besige dag en dat ek nou kan weet als lyk reg. Maar hy maak beslis ’n fout. Hierdie baba is nie twee-en-dertig weke ver nie. Dít weet ek verseker! Maar, as hy dink daar is nog tyd, is dit goed so. Ek het volle vertroue in sy kundigheid. Elke bietjie grasie wat ek nou kry, is voordelig. Dis al waaroor ek sekerheid wou hê. Ek wil tog nie op die terugvlug Katima toe kraam nie! Of geboorte gee aan ’n premature baba nie.

En ek dring nie aan op die verslag nie. Vertrek sonder enige verwagting dat iets met die bevalling kan skeefloop.

Grens

Подняться наверх