Читать книгу Grens - Leonette Smit - Страница 7
KATIMA MULILO
Оглавление3 Maart 1982
Our birth is but a sleep and a forgetting:
The Soul that rises with us, our life’s Star,
Hath had elsewhere its setting,
And cometh from afar:
Not in entire forgetfulness.
And not in utter nakedness,
But trailing clouds of glory do we come
From God, who is our home:
Heaven lies about us in our infancy!
– WILLIAM WORDSWORTH
Wakker!
Helder, nugter wakker!
Moeisaam draai ek op my regtersy. Die radiowekker sê 2:38. Dis stil, stikdonker buite. Dié uur van die nag wat daar nie eens ’n kriek hoorbaar is, of ’n hond wat blaf nie. Watter donker arm het my dan sopas teruggepluk vanuit ’n diep, diepe slaap?
Luisterend lê ek en terugdink aan die nag, nie so lank tevore nie, toe ek ook net so kort ná vier, skielik van ’n sirene wakker geword het. Die status was destyds oranje. Ons moes op gereedheidsgrondslag wees te alle tye. Dus moes ons op kort kennisgewing bomskuilings toe vir ’n onbepaalde tyd. Smit was in die gebied van Schuckmannsburg by ’n sendingstasie vir die week, en ek was alleen met die kinders. Ek was nie heeltemal op hoogte van watter dril wanneer uitgevoer moes word nie. Moes ek die kinders gryp en hardloop? Moes ek liewer nog bietjie wag en hoor wat rondom my in die buurt gebeur? Dit sou die kleintjies so ontwrig om hulle dié tyd van die nag wakker te maak en bomskuiling toe te moet dra. Ek het maar gelê en wag vir beter aanduidings; my ore soos skottels om die geringste geluid op te vang. My hart bonsend in my ore.
In my kop het ek solank ’n reeks aksieplanne begin saamsnoer. Karien sou dadelik ’n bottel melk wou hê. En ’n pot! Klein-Johan se maag gaan gewoonlik klokslag sodra hy opstaan. Ek wou lankal ’n piepiepot in die bomskuiling los, maar laas toe Ma-hulle hier gekuier het, het ek die koos vir haar gebruik snags in hulle kamer gesit. Sedertdien het ek hom nog nie weer teruggevat bomskuiling toe nie. En toiletpapier. Ja, lemoene moet ek ook saamvat. Daar is nog kerse en vuurhoutjies en ’n kombers in die trommel binne-in die bomskuiling. Maar sê nou daar’s ’n slang in die bomskuiling? Wat is nou erger om te trotseer? ’n Slang, of ’n bom? Nimrod en Bidi, ons twee Staffies, sou in elk geval gou met ’n slang klaarspeel!
Ek onthou ek het begin om die bottel voor te berei. Vir veiligheid het ek nie die kombuislig aangeskakel nie, net die spens, sonder buitevenster, se lig het ek laat brand. Met die spensdeur op ’n skrefie, kon ek goed genoeg sien om gou alles reg te kry. Die tietiebottel en toiletpapier het ek sommer saam met die lemoene in dieselfde sakkie geprop. Vaagweg kon ek militêre voertuie hoor wat begin beweeg. Dit was asof ek stemme in die rigting van die militêre basis, by Sektor 70 Hoofkwartier, kon hoor. Dit het geklink na opdragte wat uitgeskreeu word. Dan was daar dalk tog ’n moontlikheid van ’n aanval, het ek gedink. Maar nêrens in die buurt rondom my het iemand in beweging begin kom nie. Dit was rustig en doodstil in die hoofstraat wat voor ons huis verby geloop het.
Met die sakkie en die piepiepot het ek weer op die bed gaan sit. Ek sou beslis nie die kinders onnodig wakker maak nie! Steeds was dit doodstil in die buurt. Geen sirenes het weer geloei nie. Ek het weer gaan lê, inspannend geluister of ek iets sou hoor wat my vinnig sou laat reageer het. Maar die grys oggendlig het stil bokant die horison die donker begin terugstoot. Voor ons kamervenster het die voëls in die groot kareeboom begin kwetter. ’n Ringduif het op die nok van die dak aangekondig: “Maak-gou, og-gend-kof-fie, maak-gou, og-gend-kof-fie.” Ek het maar opgestaan en presies dit gaan doen.
Wat sou my dan nóú dié tyd van die nag so skielik laat wakker skrik het? Die vraag bly nie lank hang in die stikdonker kamer nie. Onmiskenbaar wéét ek! Dit kom eers soos ’n monotone klank ver vanuit die niet al nader en nader, al sterker en sterker. Crescendo. Totdat ’n volsterkte kontraksie oor my golf.
Ek draai op my rug, voel met my twee handpalms oopgesprei oor my maag hoe my hele swanger buik in ’n harde klont saamtrek, asof ’n sokkerbal onder my styfgespande maagvel bult. As ek my asemhaling egalig probeer reguleer, kry ek dit reg om die pyn tot my buik te beperk. Ek veg daarteen om my met ’n kreun oor te gee aan die pyn – laat Smit liewer nog ’n bietjie slaap.
Dit gee skiet. Die pyn spoel verby. Ek ontspan. Hierdie kontraksie was die ware Jakob. Beslis nie te verwar met die skelm, skerp stekies van twee weke gelede by St. Michaels-on-Sea nie. Dokter Dawid Toerien het juis gister, toe hy my ondersoek het, sy kommer uitgespreek oor ’n herhaling van so iets. “As dit weer gebeur, sal ons dit nie weer mag onderdruk nie. Dit sal nie goed wees vir die baba nie. Op sewe-en-dertig weke is dit in orde as die baba kom. Jy moet my net dadelik laat weet,” het hy gesê. Smit het hom laat kom. Hy was bekommerd oor my. Ek het nie lekker gevoel nie. Ek was moeg ná die terugvlug vanaf die Republiek, en die bondel wasgoed van die vakansie het steeds soos ’n vag afgeskeerde skaapwol op die waskamervloer bly lê. Ek het nie eers krag gehad om die vuil doeke in steri nappi in te seep tot vandag toe nie.
Dawid het ná werk my hier kom ondersoek. Ek het hom vertel dat ek twee weke gelede by St. Michaels-on-Sea klaarblyklik begin ontsluit het. Dat ’n dokter dit teruggehou het met medikasie. Dat dokter De Beer, wat Saterdag in Pretoria die sonar gedoen het, gesê het dat ek maar kan terugkom Katima Mulilo toe, daar behoort niks fout te gaan met die bevalling nie.
Lank lê ek nog so. Wonder oor die nuweling se koms. Wagtend. By tye dommel ek weer in, maar dan bevestig nog ’n volsterkte kontraksie die werklikheid. En nog een. Op die radiowekker het ’n uur reeds verbygeskuif. Hierdie swangerskap se einde is hier.
Daar’s nog nie eens ’n verkleuring in die lug daarbuite nie. Als nog stil en donker. Dis te vroeg om nou reeds vir Dawid te bel. Ek swaai my bene van die bed af, stoot my lyf regop met my linkerarm. Vanuit ’n sittende posisie, knieë ver uitmekaar, is dit makliker om op te staan. Smit slaap gelukkig nog vas.
Sagvoets, soos die olifante wat snags byna geluidloos deur ons dorp se strate loop, beweeg ek badkamer toe. Ek draai die krane oop en gaan maak vir my ’n beker tee. Beker in die hand, wag ek dat die bad vol warm water word. In my kop is ’n drukpers waardeur die dag se planne kolomsgewys soos in koerantproewe deurgejaag word.
Toe ek my swaar liggaam onder die water laat insak, boep soos ’n eiland bo die watervlak, dwing ek myself om te ontspan. En ek besef dit: Woensdag, 3 Maart 1982 sal in ons familiegeskiedenis opgeteken staan. Vandag word ons derde kind gebore.
Die plan is om vir Smit wakker te maak en Dawid te bel sodra ek klaar gebad het. Klein-Johan en Karien behoort nog minstens ’n volle drie uur te slaap voordat hulle wakker word. Ons kan vir tannie Joey vra om teen sewe-uur hier te wees. Ons kan die huis vir haar ooplos – sy moet maar die vuil huis en die bondel vuil wasgoed verskoon. Gelukkig het Elza, ons medeleraarsvrou, haar huishulp gister oorgestuur toe sy hoor dat ek nie lekker is nie. Nou’s die stowwerige vloer darem gevee. Die hortjiesvensters is ’n seën in die somer, maar ai, dis nie naastenby stofdig nie. En met die hoofpad hier voor die huis verby, moet ek elke dag vee, wat nog ná drie weke se weg wees met vakansie? As ek vir Karien ’n bottel voorberei, kan tannie Joey dit net warm maak in die mikrogolfoond wanneer sy kom.
Smit maak die badkamerdeur saggies oop en loer in. “Als reg?” vra hy met ’n bekommerde gesig, die slaap nog vars in sy hare en oë. Sy blou oë toegeknyp teen die skerp lig in die badkamer. Hy kom in en stoot die deur weer saggies toe, buk oor my en soen my met sy slaapasem.
“Dis sulke tyd! Jy moet maar vir Dawid gaan bel. Ons kan probeer om teen vieruur daar te wees.”
“En die kinders dan?” vra hy bekommerd. “Ons kan hulle tog nie alleen hier laat nie?”
“Hulle behoort nie voor sewe-uur wakker te word nie. Kan ons haar nie maar later van die hospitaal af probeer bel nie?”
“Ek gaan haar solank net laat weet ons ry. Sy kan dan kom sodra sy gereed is. Ons los mos in elk geval die huis vir haar oop,” stel Smit voor. “Is jy orraait? Hoe voel jy?”
“Ek is gereed. Ek kan voel dis tyd. Laat ons maar voortgaan daarmee. Miskien is dit die beste so vir die baba.”
Ek kan sien aan die frons tussen sy oë, en die ver kyk daarin, hoe hy die dag in sy kop begin programmeer. Soos met die ander twee kinders, sal hy graag die hele tyd by my wil wees tydens die bevalling. Gelukkig het hy nog geen uittogte na sendingstasies gereël nie – nie met die bevallingsdatum so op hande nie. So ’n uittog is gewoonlik ’n hele week se storie – Maandag die bakkie pak met kampbed, slaapsak, muskietnet, driepoot, kampstoel en trommel vol voorrade: mieliemeel, poeiermelk, koffie, suiker, olie, bully beef, uie, aartappels, baked beans. Die hele week uit in die gebied. Kerkraadsbyeenkomste. Dope. Nagmale. Katkiserings. Preke. Vrydagmiddag weer terug huis toe – net om klere te was en voorrade aan te vul vir die volgende week se uittog. Die enigste saak wat nou dringend sy aandag sal verg, is Klein-Johan en Karien se versorging. Gelukkig is tannie Joey op bystand; dis klaar afgespreek.
“Die ketel is nog warm. Maak vir jou koffie. Ek sal nou-nou gereed wees.”
Nog voordat ek klaar gebad het, haal nog ’n geweldige kontraksie my in en ek weet: Hierdie baba gaan gou hier wees.
’n Halfuur later help Smit my in die bakkie. Met die vorige bevallings was ek dadelik reg om terug te kom huis toe, daarom het ek nie ’n lywige tas gepak nie – net my badsakkie, skoon onderklere; my kamerjas en pantoffels is in my drasak. En dan natuurlik iets vir die kleinding om mee huis toe te kom. Ek het ’n sagte kombersie, ’n paar doeke en ’n newborn-grootte babygro – ’n geletjie met ’n appliekbeertjie op die bors, want tot nou toe weet ons nog nie of dit pienk of blou gaan wees nie …
Al ry Smit stadig en baie versigtig met die grondpad hospitaal toe, skud en skommel my maag asof hy van my lyf wil losruk, soos die ryp papajas wat ons aan die bome op Consortmyn in ons kinderdae losgeskud het.
Dawid wag reeds by die ingang van die hospitaal. Suzette is aan diens, waaroor ek, vanweë haar bekwaamheid, dankbaar is. ’n Jong verpleegstertjie wat ook op nagdiens is, staan haar by. Suzette stel haar aan my voor as Pretty. Behendig kry Suzette alles gereed terwyl Dawid die voorondersoek doen. Ek is al drie vingers ontsluit! Ons gaan beslis nie lank hier hoef te vertoef nie.
Toe Dawid en Suzette ons ná die aanvanklike ondersoek alleen laat, vat Smit my hand waar hy langs my op die hospitaalbed sit. Hy lyk baie rustiger as sowat ’n uur vantevore toe hy moes hoor dat my kontraksies begin het. “Kom ons dra die dinge aan die Here op,” sê hy en begin vir ons te bid: “Vader, ons weet U is in beheer van ons lewe, van hierdie baba wat op pad is se lewe, en ook van Klein-Johan en Karien se lewe. Ons dra hulle nou aan U op. Wees asseblief daar by hulle waar hulle alleen by die huis is. En wees ook hier by Leonette, waar sy nou moet geboorte gee aan hierdie nuweling. Ons dank U, Vader, dat U ’n alomteenwoordige God is. Dat ons U intiem mag ken, U nabyheid mag beleef. Neem asseblief beheer oor hierdie bevalling, oor Dawid en Suzette en die ander verpleegster. Laat alles wat hier gaan gebeur vanoggend u Naam verheerlik. En, vir die hoeveelste keer, dankie, baie dankie dat U ons dit gun om nog ’n kind te mag hê. In Jesus se Naam bid ons dit en loof ons U. Amen.”
Die naglug word vaalgrys, die kleur van kameeldoringpeule. Dawid is êrens in ’n kantoor doenig, wagtend op die baba se koms. Hy het besluit om maar hier te vertoef, aangesien dit al my derde bevalling is en vinnig behoort te verloop. Buitendien lyk dit of ek so maklik besig is om te ontsluit, dat hierdie baba heel moontlik teen sesuur al hier kan wees. Ek, Smit en Suzette sit lekker en kuier. As ’n kontraksie kom, voel Suzette die sterkte daarvan met haar hand en neem die tydsduur daarvan. Die kontraksies begin mekaar al vinniger en vinniger opvolg. Duur ook langer. Ons hoor al die mikstertbyevangertjies se aankondiging van ’n nuwe dag buite in die mopaniebome. Hoekom klink hulle oordrewe gekweel dan vir my eerder na ’n waarskuwing as ’n loflied?
Smit staan op. “Ek sal gou hoor of tannie Joey reeds by die kinders is.” Terwyl Smit weg is, kry ek so ’n sterk kontraksie dat die sensasie om te druk alreeds daar is. Smit is gou terug: “Daar’s geen lewe op die skakelbord nie!”
Binne die volgende twintig minute kom die kontraksies so sterk en gereeld dat Smit nooit kans kry om weer te probeer bel nie. Die druksensasie is so oorweldigend met die volgende sterk kontraksie dat ek nie kan terughou nie, al sê Dawid ek mag nog nie druk nie. Dit voel of die baba self na buite beur.
Smit vee die sweet van my voorkop af. Die muurhorlosie teen die oorkantste muur se lang arm staan al by die tien. Weet hierdie baba dan dat hy voor sesuur sy opwagting moet maak? Ek kan hoor hoedat die nagpersoneel begin gereed maak om skofte te ruil. Daar’s voertuie wat die terrein binnery, en die harde stemme van Kapriviane wat oor die hele lengte van die stoepe mekaar groet.
Dit is so te sê sesuur toe ek met al my krag en my binnegoed vir Ignatius Leopold Smit die lewe instoot. Wat ’n wonderlike gevoel van verlossing! Wat ’n heilige oomblik: om ’n splinternuwe stem die eerste keer te hoor skreeu. Wat ’n saligheid om in die hande van bekwame mense jouself oor te gee, terug te lê en te weet alles is reg …
“Dis ’n seun! Geluk, my vrou, jy’t dit weer gedoen!”
Ek voel gedaan. Asof ek die eindpunt oor is ná ’n moordende marathon – ontneem van elke greintjie energie. Tog demp dit nie my vreugde oor die nuweling nie. Dit bly steeds allesoorweldigend.
Smit is by waar Suzette vir Ignatius aanvat om die bloed en die gryserige, wasagtige lagie van sy gesiggie af te vee. Hy loer trots oor Suzette se skouer om darem te kan sien hoe die nuweling lyk. ’n Bloedbevlekte, varspienk, skoppende mensie. “Welkom in ons wêreld, Pa se grootseun,” groet hy hom. Verligting straal uit sy fletsblou oë.
Maar tussen sy oë, kan ek sien, lê daar spore van bekommernis oor die twee kleintjies by die huis.
“Ons twee is orraait. Hoekom gaan kyk jy nie gou hoe dit by die huis gaan nie?” En met ’n soengroet en ’n vinnige aanraking van die nuweling, wat protesterend lê en blêr terwyl sy gesiggie skoongevee word, is Smit daar weg. Ek kan hoor hoe hy nog in die ontvangslokaal vrolik aankondig dat dit ’n seun is.
Met die volgende kontraksie werp ek al my bekommernisse saam met my bloederige plasenta uit my liggaam uit. Ek ontspan. Dis afgehandel. Ignatius is sonder komplikasies gebore en Smit is op pad na die twee kinders by die huis. Dankie, Vader in die hemel, dat alles reg uitwerk, bid ek in my gedagtes. Pretty is met my doenig. Sy ondersoek die volledigheid van die plasenta en vou dit toe in die doek waarop ek gelê het. Skuif ’n skoon doek met ’n plastiekvoering onder my in.
“Hoekom huil hy dan so snaaks?” wil ek niksvermoedend weet. Dis regtig meer ’n blêr-blaffie as wat dit ’n geboortehuil is. Suzette en Dawid staan albei met hulle rûe na my gekeer, besig met Ignatius. Hulle praat gedemp met mekaar. “Miskien is dit ’n RDS-geval. Dalk die hialienmembraan. Ons sal moet bykomende respirasie doen,” sê Dawid benoud vir Suzette. “Kry gou ’n endotrageale buis in die teater!” Ek voel uitgesluit uit wat nou gebeur, asof dit niks met my te doen het nie, asof ek nie in die pad mag wees nie.
Terwyl Suzette omvlieg, gee sy vir Pretty opdrag om die buisie te gaan haal. Sy maak nie oogkontak met my nie. “Ek gaan gou vir Botha bel om te kom help!” roep sy oor haar skouer en verdwyn deur die ingang.
Daar’s fout! Ek wil opstaan om my kind te help. Kom orent. Maar ek kan voel hoedat my liggaam walle warm bloed uitstoot en daar’s niks waarmee ek dit kan terughou nie. Ek het nie onderklere aan nie, net die hospitaaljurkie wat oop is agter. As ek nou opstaan, gaan hierdie vloer vol bloed wees. Ag, Here, bid ek beangs, moenie dat daar nou iets verkeerd gaan nie!
My liggaam trek saam in ’n harde knoop toe ek sien hoe Dawid vir Ignatius oplig, nog in die doek waarin hy toegedraai is, en hier vlak by my kop op ’n skuins stellasie neersit, koppie na onder. Hy is al blou om sy mondjie. Kerm steeds met kort, vlak asemteue. ’n Hulpelose smagting na meer lug.
Dawid probeer ’n dun buisie deur Ignatius se neus in sy lugpyp inkry. My ou seuntjie skreeu hortend. Sy armpies swaai wild in die lug langs sy kop, asof hy die dokter se hande probeer keer – vingertjies wyd oopgesper wat krapmerke laat teen sy wange. Ongekoördineerde bewegings.
Suzette is terug. “Daar’s niemand by die sentrale nie!” skreeu sy verontwaardig. Sy gee een kyk en sê: “Ek gaan ’n dunner buisie soek.”
Sy kom nie weer terug nie.
Dit was sover die swaarste dag van my loopbaan. Hier op die Grens het ek al baie erge dinge in dié ou hospitaaltjie beleef. Maar ek kon nie weer terugkeer na daardie kraamkamer nie. Ek het geweet die seuntjie sou sterf.
Ek het haar so beny dat sy so maklik kon swanger word. Sy’t so maklik gedra aan hierdie swangerskap. En toe dít! Daar was niks wat ons met die beperkte middele tot ons beskikking vir hom kon doen nie. Hoe kon ek terugkeer na daardie vertrek om die arme vrou se smart te aanskou? Ek kon nie. Ek kon net nie … Ek het in die linnekamer gaan sit en gehuil, en gehuil, en gehuil …
Johan Botha stamp die deur van die kraamkamer in ’n stormloop oop. Ek hoor deur suisende ore, hulle stemme, asof vanaf baie ver. Hoor hoe hulle mediese terme uitruil, waarvan ek nie veel verstaan nie. Hoe Dawid senuagtig sê dat dít presies is wat hy die hele tyd nog probeer doen. Sien hoe Botha sy stetoskoop op Ignatius se borsie sit en iets onverstaanbaars, aanmoedigend, dringend vir Dawid sê.
’Seblief, Here! Asseblief! Laat Dawid suksesvol wees. Ek smeek U, Here! Asseblief, Here! Asseblief!
Dit is al wat oor en oor en oor in my suisende kop tol.
Ignatius se armpies keer nie meer so wild nie. Dit beweeg al swakker en swakker, soos die prooi van ’n roofdier wat algaande sy vitaliteit verloor. Daar’s geen geluid meer wat uit sy keel kan kom nie. Weer en weer probeer Dawid om groot lugborrels deur ’n watergevulde silinder, wat langs die stellasie geïnstalleer is, deur Ignatius se longe te stuur om dit oop te blaas. Sis. Borrel. Sis. Borrel.
Dis nou stil. Nie Dawid of Botha praat nie. Ignatius kan nie meer huil nie. Net die ritmiese gesug van die apparaat, gevolg deur lugborrels wat opstyg in die silinder. Ek haal skaars asem. Hoe kán ek dan, as hy geen lug inkry nie? Te bang om op te staan, aan hom te raak. Te bang om in te meng. Opgekrul in ’n stywe bondel spanning lê ek net en kyk. En kyk.
Die lang arm van die muurhorlosie staan al weer by die tien. Ag, Here. Neem hom asseblief nou. As hy dit maak, gaan hy so siek wees – hy was al te lank sonder suurstof, bid ek, steeds krampagtig in dieselfde posisie opgetrek onder ’n laken, met wydgesperde, verwilderde oë. ’n Verskrikkende suising steeds in my ore.
Toe Botha vir Dawid dáárdie kyk gee, nadat hy die soveelste keer met sy stetoskoop vir ’n hartklop probeer soek het, kom ’n groot kalmte oor my. Is dit kalmte? Is dit apatie? Wat is dit? Die Here se genade? Die Heilige Gees se bystand? Daar kom lê ’n stilte in my ore en in my gemoed, soos die stilte ná die hewige dreuning van ’n verwoestende haelbui, voordat reën vertroostend begin skoonwas wat stukkend geslaan is.
“Is dit verby?” vra ek vir Dawid.
“Ek is so jammer, Leonette …” is al wat hy kan sê.
“Kan ek hom vashou?” kom dit so kalm uit my uit dat dit my self verbaas. My kakebeen is so styf soos my saamgetrekte lyf.
Dawid draai hom in die doek toe waarop hy gelê het – die pap bondeltjie. Hy draai hom soos ’n dooie toe, nie soos ’n mens ’n baba toedraai nie. Daar steek nie ’n handjie of ’n voetjie uit nie. Net ’n bietjie hare. Klam donker haartjies. Hy gee hom vir my aan. Net ’n warm bondeltjie doek.
Hy lê op my bors, nog net so toegedraai in die doek. En daar is trillings in sy lyfie.
’n Dooie baba kan mos nie ruk nie! Dan móét daar tog nog lewe wees!
“Is dit regtig verby?” vra ek verdwaas vir Dawid, my kakebeen te styf om behoorlik te praat. “Ek voel dan nog trillings in sy lyfie …”
“Nee, Leonette! Moenie!” Toe eers sien ek vir Johan Botha. Daar staan hy eenkant en hy kan homself nie beheer nie – hy ruk soos hy huil.
Is dit ék wat hom so vreeslik hartseer maak? Is dit dan verkeerd om my baba vas te hou, noudat hy dood is? Ek voel aandadig aan Johan Botha se verskriklike hartseer. Dis mý skuld dat hy so skaamteloos staan en huil. En ek gee vir Ignatius terug aan Dawid.
Ek gee vir Ignatius weg.
Ek gee hom weg.
Sonder om na hom te kyk. Sonder om te sien hoe volmaak sy handjies en voetjies is. Sonder
om ooit
te sien
hoe hy lyk …
Smit storm ontsteld die kamer binne. Daar is ’n strak trek om sy mond. “My vrou!” skeur dit uit hom uit en hy het my in sy arms. Stotterings stoot op uit my maag. Vreemde, willose ingewandsgeluide. Geensins normale huil nie. Dis smartlike krete wat nóú eers, uit verligting dat hy daar is, diep binne my begin losruk.
Sonder dat ons dit besef, sit hulle vir Ignatius, steeds toegedraai in die doek, in ’n mobiele bababedjie, trek ’n laken bo-oor hom. Dis verby. Stoot hom by die kamer uit. Skuif die deur agter hulle toe. Los ons alleen.
Smit se smart en skok lê vlak in sy stem. Hy probeer kalm klink. “Als is honkie-dorie by die huis. Tannie Joey is daar en die kinders is baie bly oor … oor haar.” Sy mondhoeke trek styf. Sy lippe ’n smartlike streep.
Toe doen hy wat hy die beste kan doen: “Ag, Here!” roep hy desperaat, met my in sy arms. Hy roep dit uit na die plafon, asof God hierbo êrens moet wees. “Toe ons vanoggend vir U gevra het om met ons, met Leonette te wees, het U dit tog gehoor.” Stilte. Geen verwyt nie. Sagter. Rustiger. “Dankie dat U regtig hier was. Dankie dat hy nie sonder U gesterf het nie.” Sy een hand soek na ’n sakdoek in sy broeksak. Vee sy neus dwarsweg af. “Help ons om dit te aanvaar en te kan verwerk. Dankie vir Klein-Johan en Karientjie, so volmaak en gesond. Wees met ons. Asseblief. Wees met ons, Vader van genade. Bring asseblief troos in hierdie oomblikke.” ’n Lang stilte waarin hy probeer beheer kry oor sy stem. “Dankie dat … Leonette … lewe.” ’n “Amen” sug hy half uit, meer ’n nagedagte as ’n kragtige bevestiging.
’n Verlange na Klein-Johan en Karien dryf my uit my bed. Bloed loop teen my bene af toe ek regop kom.
“Wag, ek gaan gou iemand roep om jou te help,” sê Smit onbeholpe.
“Gee my net my kamerjas dat ek kan gaan stort.” Maar Smit stoot reeds die deur oop en wink vir Elza om my te kom help. Elza, ook ’n verpleegkundige, neem tans waar as matrone van die hospitaal.
“Ek wil net in die stort kom, ’seblief, Elza.”
Sy vat my eers in haar omhelsing en hou my oomblikke lank styf vas met ’n stroewe gesig. Sy kan nie praat nie. Toe begin sy die bloed van my bene afvee met ’n klam lap en gee vir my ’n sanitêre doekie aan om tussen my bene in te druk. Sy help my om in ’n pantie en in my kamerjas te kom.
“Daar is my badsakkie, in my sak.”
“Gebruik sommer die hospitaal se handdoeke, daar is skones in die stort neergesit,” sê sy vol deernis, nie in beheer van haar stem nie.
Smit haak by my in en stoot die deur oop. Die voorportaal staan vol mense. Mense wat aan diens kom. Mense wat van diens af gaan. Mense met afsprake. En ek moet deur die voorportaal, verby al hierdie starende mense loop, tot in die badkamer.
Dit word stil. Party kyk ons hartseer aan. Ander verbreek oogkontak. Dit voel vir my soos ’n leeftyd, alles gebeur te stadig – hierdie honderd kilometer wat ek moet loop tussen almal deur om by die stort te kom.
En daar, langs die ontvangstoonbank, staan die bedjie. En in die bedjie sien ek ’n bondeltjie. ’n Stil bondeltjie mens. Toegedraai in ’n hospitaaldoek, onder ’n laken toegetrek. En ek
loop verby
sonder om in daardie rigting te kyk.
Ek loop verby …
Ek loop by die bedjie verby sonder om te kyk. Sonder om te sien wat oorgebly het van nege maande se wag en dra en voel en hoop en bid. Sonder om ooit te sien … hoe hy gelyk het …
Die warm stortwater spoel in my oop mond wat geluidloos huil. Rondom my voete vlek die stortwater rooi. Bloederig rooi. Kolk half om die uitlaat en vloei, soos die geleentheid om te kon sien hoe my baba lyk, vir altyd weg. Ek seep my waslap onnodig baie in. Skrop elke deeltjie van my liggaam asof ek nie ’n paar uur gelede reeds ’n behoorlike bad gehad het nie. Dit werk ’n wit skuim op oor my hele lyf en kleur bloederig waar ek die gebeure tussen my bene probeer uitskrop, uitwis asof dit verkeerd gebeur het. Ek spoel die seep van my lyf af, maar steeds verkleur die water om my voete. My maagvelle hang leeg oor ’n effense bultjie. Leeg. Léég! LEEEEEG!
My binnegoed begin ruk. My lyf ruk. My skouers buig vooroor en ek vou dubbel. Asof ek weer in kraam gaan. Asof ek alles van die afgelope paar ure uit my liggaam, uit my gestel, uit my geheue wil uitwerp. My keel trek nou. Ek wil skree en skree en skree. Ek wil ’n lang weeklag saam met my bloed in die drein afstuur, maar ek weet almal in die voorportaal gaan my hoor.
Die deur gaan oop. “Leonette?” Dis Itta, die kapelaansvrou, se stem.
“Ek’s nou klaar, Itta,” sê ek beheers en draai die krane toe. Ek droog my leë lyf oordrewe hard af, druk my uitgedroogde waslap tussen my bene om die bloed op te vang terwyl ek aantrek.
Itta wag vir my met rooigehuilde oë. Ek voel aandadig aan haar hartseer, sonder dat ek bewus is daarvan. Ons is in mekaar se arms en sy oorspoel my met woorde van simpatie. Opregbedoelde woorde wat my die eerste keer laat voel soos die een wat die hartseer toekom en nie veroorsaak nie.
“Itta, ek wil nou net hier wegkom. Ek wil huis toe.”
Sy help my om my goed bymekaar te maak.
Smit wag buite die badkamer met my sak. Hy en Dawid staan en gesels. “Goed so, dan doen ek later vanmiddag ’n outopsie.” Dawid weet nie wat sy dood veroorsaak het nie. Vir toekomstige swangerskappe is dit nodig om die oorsaak te probeer vasstel.
“Leonette, ek het vir Smit pille gegee wat jy moet gebruik soos aangedui, om jou melk te laat opdroog. Dit sal nou binne die volgende paar dae begin kom en jy sal dit moet laat opdroog, anders kan jy ontsteking kry.” ’n Waarskuwing? ’n Oordeel?
Smit het die bakkie so kom parkeer dat ek met die stoep langs by die bakkie kan kom. Ek is hom so innig dankbaar daarvoor. Ek wil by die huis kom. Ek wil die lyfies van my twee lewende, gesonde kinders vashou. Hulle stemme indrink. Hulle lewendige ogies bewonder. Hulle voel wriemel in my omhelsing, soos wat Ignatius laas in my baarmoeder gewriemel het.
En nooit weer sal nie.