Читать книгу Grens - Leonette Smit - Страница 5

DIE BOSKONSERT

Оглавление

Desember 2005

Music is the mediator between the spiritual and the sensual life.

– LUDWIG VAN BEETHOVEN

In die Jonkershoekberge in ’n dennebos loop ek my vas in die simbool van my heling. Die heling van letsels wat ek opgedoen het tydens ons verblyf van vier jaar op die Grens. Dit boonop buite die veilige ruimte van my beskutte binnekamer. Hoe heel is ek dan? Het die littekens wat ek jare gelede aan my siel opgedoen het, dan nie vervaag nie? Die boskonsert bring my só met ’n sagte hand tot by ’n denkbeeldige grenslyn in my onvoltooide helingsproses.

Dit is Desember 2005. As gesin kuier ons tans, tot ná Nuwejaar, by Swaer-Ryk en Sus-Mariëtte op Wellington. Kersfees was ons almal, die hele groot familie, aangetroud en uitgebreid, by Boet-Bingle en sy vrou, Gera, in L’Agulhas om hulle nuwe huis in te wy. Ons klomp so bymekaar was amper net soos destyds in Ladysmith, voor die geboorte van ons jongste kind. Daardie Kersfees het ons klomp broers en susters met ons gesinne, saam met Pa en Ma, orals nes gemaak – in die woonwa, in ’n groot tent op die grasperk, die hele huis vol. Ongelukkig is Pa nie meer met ons nie, en baie van die neefs en niggies, wat toe maar nog kleuters was, is nou reeds getroud. Toe was daar, so t­ussen ons klomp getroude broers en susters, altesaam dertien kinders bymekaar – die oudste skaars nege jaar oud. Nou is selfs húlle gesinne besig om uit te brei.

Nes destyds het ons die afgelope paar dae lekker bontgestaan om ’n lêplek vir elkeen reg te kry. En die etes! Daardie dinamika in ’n kombuis sien mens net in flieks. Die kombuis was te klein vir al die hande en voete wat gehelp het om stapels borde, eetgerei, servette, glase op die tafels te gaan uitpak. Terwyl die manne buite in die wind vis op die kole braai, gons dit in die kombuis soos ons spul susters en niggies slaaie en bykosse gereed kry.

Uiteindelik gaan ons ook vanaand ’n boskonsert by Johan en Dalina Heese in Stellenbosch beleef. Sus-Mariëtte het al dikwels van dié boskonserte vertel. Vanaand hou hulle weer een by hulle plek in Jonkershoek.

Ons volg die Van Veldens se motor van Wellington af soontoe. Die Kaap is bekoorlik mooi dié tyd van die jaar. Sprinkelbesproeiing gooi reënboë oor lappe groente. Reiers sweef lui deur die warm aandlug. Versamel in kolonies in die takke van bome wat geëts staan teen die wolk­lose hemel. Diep geplooid van jare se son en wind en weer, word oeroue berge al perser in die langerwordende strale van die sakkende son.

Ons draai by die Heeses se plek in tussen die skadu’s van die Pieke op ’n geplaveide paadjie, mosbedek en omring van hoë bome en struike wat almal meeding om by die sonlig uit te kom. Die grasdakopstal, wat ’n hele paar geslagte Heeses al sien kom en gaan het, loer skugter tussen die digte takke van skadubome uit.

’n Hond kom blaffend-bly uit die huis gestorm. Dalina, met haar goedige glimlag, ontvang ons in hulle oprit. “Smittie, trek jou kar sommer net hier onder die kamferboom in.”

Dis goed om Dalina weer te sien. Meer as ’n jaar gelede was sy saam op ons ma-en-sussies-week aan die Weskus. Sy’s vir ons soos ’n suster. Die weersien word ’n hartlike hereniging. “Maak julle solank tuis daar bo onder die dennebome.” Sy beduie met die paadjie op na die dennebos bokant die huis waar Johan die luidsprekers opgestel het. “Julle kan julle solank gemaklik gaan inrig terwyl ons op almal wag.”

Die bos is reeds toegevou in ’n skadukombers, maar die berg­pieke wat hoog bo ons uittroon, vang nog die laaste sonlig. ’n Volgende motor draai by die oprit in en Dalina gaan verwelkom die nuwe gaste. Ons laai ons kampstoele en kosmandjies uit die motor. Die kinders dartel daarmee vooruit bos toe. Al langs die bospaadjie is bruin papierkardoesies vol sand uitgepak. ’n Brandende teeliggie is in elkeen staangemaak. Stippeltjies lig tot in die bos. ’n Snoer van feestelikheid. Die aandlug hou die geur van dennenaalde vas.

Boskonserte was nog altyd informeel, intiem. Vriende wat musiek onder die sterre kan waardeer, trek saam. Johan beplan maande vooruit aan elke boskonsert en met sorg installeer hy elke luidspreker sodat die klank wat ons vanaand gaan hoor, onverbeterlik is.

Ons piekniekmandjie is gepak met vrugte, slaai, broodjies en koue vleis. ’n Paar yskoue bottels wyn is onder in die koelsak. ’n Fles koffie staan penorent geanker tussen ons bekers in ’n rottangmandjie.

Mariëtte sprei ’n ou lappiesdeken van Ouma-Tanna oop waarop die kinders hulle tuismaak. Nostalgie kom fluister in my nek: Sien jy, daar’s die lap uit Ouma se Vrouefederasierok. En daai een was een van haar veelbesproke voorskote.

Ouma het haar voorskoot meerdoelig gebruik – as vadoek om haar hande mee af te vee en soms as slaanding om die honde uit die kombuis te verwilder. Sy het selfs die een punt gebruik om kleinkoekiedeeg in te vorm – ’n worsie deeg is toegerol in die punt van die voorskoot en dan met albei hande ’n “donkiebyt” gegee (soos ons daarna verwys het as jy iemand se bo-arm met jou twee hande in teenoorgestelde rigtings gedraai het). Dit het die lieflikste gedraaide koekies gevorm, elkeen met sy eie voue in.

Ek herken ook in die lappiesdeken ’n paar van haar elkedagse drarokke. En wrintie, daar herken ek die lap waarmee sy vir ons nuwe rokke gemaak het toe ons die eerste keer The Sound of Music in die Savoy gaan kyk het in Barberton. ’n Groot okkasie destyds. Bobbiesoks en blinkleerskoene. Twee hoë boksterte met bypassende linte – myne appelkoos, Mariëtte s’n blou. Ousus-Wilma was nie saam nie – toe al in Potchefstroom op universiteit.

Verlede jaar, toe Dalina saam met ons drie susters en Ma by die Weskus was, het sy vir ons die hele storie vertel – hoe die eerste boskonsert begin het. Sedertdien is dit ’n jaarlikse instelling vir die Heeses. Op Welwillendheidsdag bied Johan ’n buitelugboskonsert aan in die dennebos op hulle grond.

Die opstel van die luidsprekers is nie die enigste voorbereiding vir die boskonsert nie. Die musiek van die aand, en ook die tema daarvan, is deel van Johan se maande lange beplanning. Hy het ’n ver­stom­mende musiekkennis en ’n uitgebreide musiekversameling. Daaruit stel hy baie selektief ’n program vir die aand op uit die beste opnames beskikbaar.

Smit maak vir ons elkeen ’n kampstoel gemaklik staan tussen die klippe en die boomwortels waar dit effens gelyk is. Dalina sluit by ons aan. Vreemdes word aan mekaar voorgestel. Ou vriende word hartlik gegroet. Daar heers vrolikheid en geselligheid in die bos. Die gebeier van ’n gelag, opgewonde kinderstemme, ’n hond se spelerige geblaf word alles klanke wat die gemoedelikheid waarmee die boskonsert voorafgegaan word, teen die steiltes van die Pieke opdra en ver in die vallei laat afrol.

Die kinders is reeds honger en ek en Mariëtte pak solank die kos uit op die lappiesdeken. Hamtoebroodjies met mosterd. Blokkies kaas. Radyse. Slaaiblare. Komkommerskywe. Wortelrepies. Druiwe. Waatlemoen. Smit haal die wynglase, in vadoeke toegedraai, versigtig uit die mandjie, ontkurk die wynbottels en skink die donker wyn in ons glase. Onderstebo lê die silhoeëtprentjie van die swart Pieke teen die amber aandlug op ons wynglase.

Johan, in sy wit linnebroek, kom kaalvoet met die laaste gaste aangestap. Klank het hom nog altyd gefassineer. As afgetrede dosent in ingenieurswese, besit hy ’n stel luidsprekers wat ongeïnhibeerd klank kan gooi. Toe hy nog ’n student was, het hy vir hom ’n stel imposante luidsprekers opgebou en buitenshuis geïnstalleer. Eendag het hy ’n Paganinikonsert, vol oop oor die luidsprekers, gestaan en dirigeer. Sy sussie en haar maatjie, Tessa, twee jong dogtertjies in daardie stadium, het agter die musiek aan op hom afgekom. Sonder dat hy daarvan bewus was, het hulle hom die hele tyd gelê en afloer. Jare later, toe Tessa reeds ’n beroemde pianis was, het sy ’n uitvoering in Suid-Afrika kom hou. Johan het die uitvoering bygewoon. Ná afloop van die konsert het hy haar gaan opsoek. Dis toe dat sy hom vertel van die Paganinikonsert wat sy en Dinkie afgeloer het. Hy het haar belowe om weer ’n konsert in die bos te hou. En dit het die eerste boskonsert geword. Ter ere van haar het hy weer dieselfde vioolkonsert van Paganini gespeel.

Johan maak keel skoon. Die liggies van die klankstelsel weerkaats in die lense van sy bril. “Welkom, vriende. Dis vir ons baie spesiaal om julle almal vanaand hier te hê. Ons maak dit elke jaar ’n oop uitnodiging en ons weet, julle wat die uitnodiging aanvaar, het regtig belang by wat ek en Dalina nou al sestien jaar lank hier in die bos op Gesinsdag doen. Die tema van vanaand se musiek is: ‘Die Soet en die Suur van die Lewe’. Dis meestal orrelwerke. Die eerste werk wat ek gaan speel, is die Passacaglia en Fuga in C-mineur van Bach. Ek het hierdie spesifieke werk laat speel op Mariëtta se begrafnis.”

Aanvanklik is die tema somber, maar weldra word ’n tapisserie van klank geweef wat my roerloos, gefassineerd laat luister na die melodieë wat meer as twee eeue gelede deur die meesterorrelis, Johann Sebastian Bach, gekomponeer is. ’n Entjie van my af lê en speel ’n kind met ’n rooi laserliggie, stuur dit op teen die stamme en tussen die takke van die dennebome wat soos ’n orrelregister staan. My oë volg die beweging totdat ek hemelwaarts kyk na van die eerste sterre. Nou sien ek in my geestesoog ’n grys meester in die lig van olielampe in ’n groot katedraal vooroorgebuig by ’n orrel, besig om note neer te skryf met ’n veerpen, frases te speel, die pen in ink te doop, krassend weer neer te pen, totdat dit foutloos op papier staan, vir eeue daarna.

Johan se musiekkeuse is nommerpas vir ’n dennebosarena. ’n Kleintydse herinnering flits voor my verby. Ek was seker so tien of elf jaar oud. Ons het dennebolle onder die dennebome op die gholfbaan in Barberton bymekaar gemaak – ek en Annette Voges. Ons was vir die dag daar saam met haar pa, oom Faan. Dit was ’n koue laatherfsdag en grys wolke het soos branders oor die berge vanaf Swaziland ingerol. ’n Yskoue wind het ons van agter aangedryf. Toe hoor ek dit. Vanuit die grys klipgeboue van die gevangenis langs die gholfbaan, klink die allermooiste orrelmusiek op oor die skemerdonkerte van die gholfbaan. Dit laat my in my treë stol. Wie speel sulke verlangklanke in ’n tronk? Ek kon nie vasstel of dit ’n regte pyporrel was wat speel, of ’n opname van orrelmusiek wat so kliphard gespeel word nie. Maar daardie aand kon ek nie aan die slaap raak nie – ek’t gelê en dink aan ’n onbekende man wat opgesluit is in die gevangenis en die eensaamheid verwyl met orrelmusiek. So diep geraak deur die emosie wat ek daar in die wind en die grys skemerlig beleef het, dat ek ’n storie daaromheen begin bou het. ’n Storie van ’n baie bekwame musikant wat onregmatig ter dood veroordeel is oor die moord op sy vrou en kind. Hy kan sy onskuld nie bewys nie. Verlang na sy mense en verwyl die dae voor sy vonnis voltrek word, deur sy hart op ’n majestueuse orrel in die kapel van ’n grys tronk uit te speel.

Die volgende werk wat Johan speel, is die Toccata en Fuga in D-mineur, ook van Bach. Ek het eenkeer ’n uitvoering van hierdie werk bygewoon – uitgevoer op die orrel van Universiteitsoord in Pretoria. Dit was ’n belewenis om ’n meesterstudent dit te hoor speel. Maar hierdie spesifieke weergawe daarvan, anders as ’n lewende uitvoering in ’n kerk, dans en dartel tussen die dennebome deur. Ek hoor weer Marlene van Niekerk se gedig oor dié stuk:

dié grootmoedigheid het God beloon

deur sewe orrelpype

soos offerkerse op die see te giet

die môrester het Hy in sy kop laat val

dit daar laat dreun, dit vir die grap

in duisend kontrapunte

uitmekaar laat spat …

Toe, om die strak atmosfeer te breek, speel Johan vir ons ’n David Kramer-lied: “Weeskind”.

In ’n vrolike stemming rek ons eers bietjie bene en loop ons draaie. Ons skink koffie uit die fles. Dit word ’n gesellige kuieraand met die reuk van gekneusde dennenaalde wat meeding met die lekker geur van moerkoffie.

Ek onthou Dalina se e-pos verlede jaar, oor die bosbrand wat amper 2004 se boskonsert, maar ook hulle jarelange erfgrond, verwoes het. En ek spreek heimlik my dankbaarheid uit dat die verwoesting nie tot hier gekom het nie; dat hierdie spesiale arena en hulle erfgrond behoue gebly het.

Johan begin almal tot orde roep en maak aanstaltes vir die laaste werk van die aand, die hoofwerk: Simfonie nr. 3 van Saint-Saëns. Die simfonie met orrel!

Emosie kom staan ongenooid voor die deur van my hart. Ek wil nie nou vir hom oopmaak nie. Nie hier voor almal nie. Maar hy dring homself na binne. Dit begin brand op in my neus, agter my oë, diep in my kop. My keel brand. Die volgende halfuur of wat gaan ek baie ver teruggevat word. Ek wéét wat nou voorlê!

Die donkerte rondom ons word vir my ’n veilige skans. Ek sak terug in my seilstoel. Hoor weer die krieke en die kabbeling van die fonteinwater. Die skoon naglug lê oopgespan oor die dennetakke. Kyk neer op ons, ver, ver onder die naaste ster.

Die eerste akkoord swel van ver af nader. Helderder. Sterker. Soos wat dit in volume toeneem, beleef ek dit weer soos daardie dag, drie-en-twintig jaar vantevore in Katima Mulilo; 3 Maart 1982. Die eerste kontraksie.

My skanse val. My toe ooglede hou niks binne nie. Vir die heel eerste keer word ek buite die veilige ruimte van my huis gekonfronteer met my smart en die herinneringe wat hierdie musiek by my oproep. Daar waar ek nog altyd sielalleen myself kon oorgee onder leiding van Saint-Saëns. Waar ek geïsoleerd, afgeskei van die openbare oog, deur die seer herinneringe kon werk.


Ek het nie gedink dat die simfonie haar so onkant sou vang nie. Ek het net gesien hoe sy in haar seilstoel teruggetrek het. Hoe sy agter haar servet die ontroering probeer wegsteek het. Sy was tog heel in beheer van haar emosies toe sy my destyds vertel het watter terapie die simfonie vir haar inhou. Dit was op pad terug van die Weskus, toe ek saam met hulle ’n naweek deurgebring het. Sy het saam met my teruggery Stellenbosch toe – haar seun Tommie, en Mariëtte se seun, Wouter, het ons huis opgepas daardie naweek (Johan en die dogters was op ’n staptog die Sederberge in.) Die plan was dat sy saam met my Stellenbosch toe sou ry, en dan saam met die seuns terug Wellington toe.

Ek was tot in my siel geruk deur haar storie. Maar die soet einde daarvan, die genesing wat Saint-Saëns vir haar gebring het, het my so geraak, dat ek dit moes deel met Johan. Ons het daarna met nuwe ore na die orrelsimfonie geluister. Ons kon albei hoor waarom sy dit so intens beleef het.

Ons het nie een verwag dat hulle ook hier sou wees met die boskonsert nie – anders sou Johan dit waarskynlik nie ingesluit het in sy program nie. Toe hulle hier opdaag saam met die Van Veldens, was dit ’n verrassing. Sou sy weet dat ek haar storie met Johan gedeel het?


Grens

Подняться наверх