Читать книгу Grens - Leonette Smit - Страница 9

MEELEWING

Оглавление

Never, in any place or time, will she have her son on her knees, or bathe him, or tell him a story, or plan for his future, or see her grandchild.

– C.S. LEWIS

Uit: A Grief Observed

Die dag kantel en bloei hom dood in die weste. Ek is moeg. Sielsmoeg en lyfmoeg. Dis of my ore steeds suis, maar nou van uitputting. My kop voel te swaar vir my nek om dit regop te hou. Dis al amper sestien uur gelede dat ek uit ’n rustige, diep slaap wakker geruk is. Die Vader het geweet hoe nodig ek so ’n diep nagrus sou hê vir als wat vir my in hierdie dag sou voorlê. Ek het nog nie sedertdien weer kans gekry om te rus nie.

Soos wat die nuus deur die dorp versprei het, het die telefoon sonder ophou gelui. Smit het maar meestal die oproepe hanteer. Tannie Lets van die laerskool was eerste hier om medelye te kom betoon. Almal wat oë gewys het, was so ontsettend hartseer, asof ’n groot tragedie die dorp getref het. Heeltyd het ek gevoel ék moet sterk wees vir húlle onthalwe. Die eetkamertafel staan vol tuisgemaakte ruikertjies; bossies blommetjies in glasflessies gedruk. Koraalboomblomme met stingels in foelie toegedraai. Hibuskusblomme waarvan die koppe alreeds hang. Stinkafrikanertjies en pienk begrafnisblommetjies in dieselfde bossie. Field Fire met koppe wat hang op lang stingels. En handgemaakte simpatiekaartjies. Alles uit die hart en vanuit die boslewe. Hoeveel koppies tee is daar nie vandag in hierdie huis gemaak nie?

Barend en Elza van der Westhuijzen, ons medeleraarspaar, het sopas vir ons aandete gebring. Ek het nie eens krag om te dínk aan aandete nie, wat nog van iets prakseer! Ek is só moeg.

Smit vat die badsessie oor en ek kan hoor dat hulle baie pret het in die badkamer met hom. My geduld was maar die laaste tyd so kort soos my uithouvermoë. Ek lê en luister na hulle vrolike geskater en ek bewonder vir Smit dat hy ten spyte van sy eie skok en hartseer, so positief bly. Hy is so ’n liewe ding.

Ek lê en staar met ’n leë hart, en ’n leë buik na die bababedjie – ’n pragtige witgeverfde hemelbedjie met ’n blou muskietnet reg rondom. Ons het die bedjie nog by Madelein en Blikkies gekoop toe Klein-Johan gebore is. Die matrassie het ek nuut oorgetrek vir Ignatius. ’n Nuwe muskietnet omgesit. Poeierblou. Onwetend dat dit ’n seun sou wees. Die bedjie is vars opgemaak met ’n Presless-lakenstel. Bytjies en lieweheersbesies en paddastoeljies. Daar lê ook ’n nuutgemaakte kwilt. Geel en blou vierkante met beertjie- en madeliefieprentjies daarop. Aanmekaargestik met ’n sagte laag watteersel tussen die laslappies en die voering. Deurgestik. Al om die buitelyne van die motiewe. My hart is in die stukkie naaldwerk ingestik, asof elke stekie wat ek gewerk het, die aftelling na sy geboorte was. Daarby het ek ’n nuwe doeksak gemaak van die geel madeliefielap, en ’n kleiner weergawe daarvan vir nappyliners. Die doeksak hang aan die voetenent van die bedjie. Twee dosyn splinternuwe uitgewaste Glodina Black Label-doeke is netjies daarin opgestapel; dit wag.

En wag.

My binneste wil uitmekaarval, omtuimel en verbrokkel. Om te dink, ek sou nou gelê en voed het … Nooit weer sal ek hom kan vashou, of voed, of bad of aantrek nie. Ek sal nooit, ooit vir hom ’n storie kan vertel, of ’n partytjie kan reël, of ’n skooltassie kan pak, of hom sien grootword nie. Nooit sal ek ’n pleister kan plak op ’n nerfaf kniegie nie. Ek kon nie eens die één keer sy traantjies afdroog nie.

“Kan ons maar by jou kom eet hier in die kamer?” Smit vra dit versigtig, nie seker oor my reaksie nie.

“Natuurlik! Kom, julle. Kom spring hier in by my. Pappa gaan vir ons van tannie Elza se lekker kos inskep.”

Die twee is opgewonde toe hulle op die bed klouter in hulle nagklere, om langs my in te skuif. Hulle ruik skoon. Na Elizabeth Anne’s Baby Shampoo. Ai, Smit het tot hulle hare gewas. Karien se blonde koppie gloei in die gloed van die bedliggie soos boesmangras teen die oggendlig.

Ek druk hulle skoon lyfies, vars aangetrek in skoon pajamas, styf teen my vas en karnuffel die twee tot hulle skater van lekkerkry. Hoe rowwer, hoe lekkerder.

Smit kom in met ’n skinkbord met vier borde daarop. Klaar ingeskep. Ons maak ons tuis, elk met ’n bord op die skoot en hy vra vir ons die seën: “Dankie, onse Vader, vir lekker kossies om te eet. Vir almal se liefde en omgee; Tannie Elza en oom Barend wat vir ons gesorg het. Dankie dat Mamma by ons is…” Dis of hy huiwer en ek hoor daar kom lê ’n stuk smart in sy stem wat hy doelbewus wegsluk, “…dat sy gesond is en vir ons gespaar is. Amen.”

“Amen!” koor die twee saam.

Hulle smul. Elza het ’n smaaklike gereg gemaak. Laag op laag aartappels en eiervrug met maalvleis en tamatiepasta. Bo-oor is baie kaas, wat sy seker spesiaal uit die vrieskas opgediep het, want in Katima is kaas raar en luuks. Heerlik gegeur met roosmaryn en iets … iets wat ek nie kan raakproe nie. Dalk gerasperde suurlemoenskil? Ek besef dat ek honger is, al was ek nie lus vir eet nie. Ek moet tog onthou om Dawid se pilletjies te drink vir my melk wat moet opdroog.

Die telefoon lui weer. Smit staan op om te antwoord. Ek kan hoor aan sy praat dat hy met Ma-Chrissie praat. “Nee, Ma, ek roep haar, sy sal graag met Ma wil praat. Dankie, Ma. Lekker slaap, Ma.”

Ek vat die gehoorstuk by hom. My lip wil bewe, maar ek hou uit. “Hallo, Ma!”

“Babie, Babie!” kom dit hartseer van Ma. “Ek het geweet daar’s fout toe ek wakker word vanoggend. Ek het so ’n slegte droom gehad van jou.” Haar stem klink verwese.

“Ai, Ma …” Ek kry niks meer as dit uit nie. Vir die eerste keer sedert vanoggend in die stort, kom die trane. Nóú gaan ek grens!

“Ek droom ’n hele swerm bye pak jou,” vertel Ma, “en dit steek en steek en ek wil jou red en ek kan nie naby jou kom nie.” Ek weet nie wat om te sê nie. As ek nou iets kwytraak, gaan ek onkeerbaar huil en ek wil nie vir Ma nog hartseerder maak nie. “Hoe voel jy vanaand?” vra Ma, net om die gesprek aan die gang te hou.

“Ai, Ma …” My stem raak dun.

“My ding, ek weet dis baie swaar. Ek en Pa bid vir julle. Ons is só ontsettend jammer vir julle.” Ek sluk en sluk. Ma moenie nou simpatiseer nie. Ek kan dit nie terughou nie. “Hier’s Pa. Hy wil ook gou met jou praat.”

“Babie …” Pa huiwer. Hy’s nie goed met woorde nie.

“Hallo, Pa.” My stem is ’n styfgepande E-snaar op ’n ghitaar.

“Hoe gaan dit nou met jou?” Hy is self nie in beheer van sy stem nie.

“Ag, Pa. Dis maar swaar …”

“Nou wat het dan verkeerd geloop?” Tipies Pa – hy wat altyd alles kan regmaak. Wat vir elke probleem ’n oplossing kan prakseer. Vir wie geen uitdaging te groot is nie, al moet hy self iets ontwerp en bou.

“Die dokter het vanmiddag ’n outopsie gedoen, Pa. Hy sê sy longetjies was heeltemal onderontwikkel. En hy het ’n vergrote lewer gehad. Boonop was sy hartjie vol openinge. Hy sou dit nooit kon maak nie, Pa. Miskien is dit maar beter so.”

“Maar sou dit nie kon help om die geboorte terug te probeer hou nie? Dalk was dit net te vroeg.”

Ai, ou Pa, wat help al dié vrae nou? Dis mos klaar verby. Klaar te laat vir planne maak. Maar hoe sê mens dit nou vir jou pa vir wie jy altyd raad vra? Wat altyd al die antwoorde ken op al die baie vrae. “Pa, ná die dinge by St. Michaels het die dokter gevoel dit sal nie goed wees om die bevalling ’n tweede keer te probeer terughou nie. Die dokter in Pretoria wat Saterdag die sonar gedoen het, het ook gesê die baba kan maar kom. Ek weet nie, Pa. Miskien sou hy dan net ’n lang lyding gehad het. Dis miskien maar beter so.” My hart wil breek vir Pa. Dis sy naamgenoot. Dit moet vir hom baie swaar wees.

“Kon die dokter sê wat die oorsaak is? Is dit nie dalk malariapille wat jy gedrink het nie?” Ek kan hoor dat hy dit nog nie kan aanvaar nie.

“Nee, Pa. Ek het niks teen malaria gebruik nie. Maar die dokter het bloed getrek om toetse te doen. Hulle sal laat toets vir ’n paar goed wat ’n moontlikheid kan wees. Maar ons sal eers later die uitslag hoor, want dit word nie hier gedoen nie. Hulle doen dit in die Republiek.”

“Ai, ou Baab. Sterkte, man. Dis nou regtig sleg. Moet jy en die kleintjies nie maar bietjie huis toe kom nie?” Dis sy manier van troos – om sy nabyheid aan te bied …

“Dankie, Pa, maar dit sal hulle net nou weer ontwrig. Dis beter dat ek maar hier bly en kyk wat sê die toetse. Dalk lewer dit iets op en dan kan ons besluit wat volgende.”

“En die tweetjies? Verstaan hulle iets?”

“Nee wat, Pa. Ek dink nie so nie. Hulle voel aan dat iets nie reg is nie, maar dit lyk nie of hulle ontsteld is nie.”

“Nou maar sterkte, my kind. Hier’s Ma weer.”

Ma klink besorg as sy die gehoorstuk by Pa oorneem: “Babie? Het die dokter vir jou iets gegee om jou melk terug te hou?”

“Ja, Ma. Ek het dit al vanoggend begin gebruik.”

“Dis goed. Anders kan jy dalk mastitis kry, of iets.”

“Nee, Ma moenie worry nie. Als is onder beheer. Dis maar net so onverwags … en baie swaar …” Ek mag nie nou aan’t tjanke gaan nie!

“Moenie terughou nie, Baab.” Ma kan hoor dat die hartseer in my keel begin opstoot. “Huil, my kind. Dit sal jou goed doen.” Ek kan hoor dat sy dit moelik vind om self terug te hou.

“Ek bel jou weer môreaand. Gaan slaap nou. Het hulle vir jou ’n slaappilletjie gegee?” Steeds besorg, soos net ’n ma kan wees. Bedag op die fynste detail van versorging.

“Nee. Maar ek dink nie ek sal sukkel om te slaap nie. Ek is baie moeg vanaand.”

“Nou maar lekker slaap, ou Baab, en sterkte vir julle hoor. Drukkie vir die kleintjies.”

“Tatta, Ma. Dankie vir die bel. Nag, Ma.”


Hoekom moet die geskiedenis hom tog herhaal in ’n familie? Dat my kind dieselfde smart moes beleef as wat ek deurgemaak het, was soos ou wonde wat weer oopgekrap word. Ek het so intens gevoel wat sy moes voel, omdat ek ook al dáár was. Daardie sieklike leë gevoel, van iets wat uit jou hart geruk is, het ek ook al beleef. Ag, as ek haar dit maar kon spaar. As ek maar daardie dag by haar kon wees om haar te troos. As ek haar maar kon help om te huil. Ek kon duidelik hoor dat sy te veel terughou. Ag, as sy maar net makliker kon huil daai eerste aand. As sy tog maar net kon huil …


Smit en die kinders het al klaar geëet en Smit het hulle borde bymekaar gestapel. Ek is ook klaar. Ek wil nie nog eet nie.

“Koppie tee vir jou?”

“Dit sal lekker wees, my lief. Sal jy vir Karien sommer ’n bottel rooibostee maak vir die bed?”

“Ek maak so. Ek sal hulle in die bed sit. Kom, sê nag vir Mamma. Bedtyd vir soet kinders.”

Dankie tog vir hom. Hy’s so ’n natuurlike pappa. Niks is vir hom te veel moeite nie. Hulle wedywer eintlik om eerste in die bed te kom. Ek hoor hoe hy vir hulle ’n Bybelstorie lees en hulle laat bid voordat hy hulle toemaak. Klokhelder stemmetjies. Klein-Johan wat alles op een hoë noot bid: “…en dankie, liewe Hieses, vir ’n pappa en ’n mamma en ’n sussie. Wees met Ouma-Chrissie en Oupa-Leo en Ouma-Lulu en Oupa-Smittie en Nimrod en Bidi en dankie vir ’n huisie en ’n bakkie en kossies.” En dit dan afrond met ’n oordrewe “Amen!”

“Pappa bring nou jou bottel, hoor,” paai Smit vir Karien wat al klaerig begin raak. Ek hoor hom werskaf in die kombuis. Hoor hoe Klein-Johan en Karien met mekaar lê en gesels, en hoe dit al stiller raak in hulle kamer.

Ek draai op my sy en begin met God te praat in my gedagtes: Here, ek weet nie wat om vir U te sê nie. Ek wéét net U maak nie foute nie. Maar ai, hoekom moes dit gebeur? Alles het tog so goed gegaan?

Ek dink vlugtig aan my vorige twee swangerskappe. Eintlik het ek ’n bietjie kleiner gedra aan Ignatius. Maar ek het dit toegeskryf aan my aktiewe lewenstyl met die twee kleuters. Nooit vermoed dat alles nie normaal ontwikkel nie. Wat weet God wat ek nog nie weet nie?

Het ék iets verkeerds gedoen, Here? Dalk verkeerde medisyne gedrink tydens my swangerskap? Was dit ’n fout om St. Michaels toe te gaan so laat in my swangerskap?

Die verwarring neem net toe soos wat meer en meer vrae in my gemoed opwel. Maar aan God en sy nabyheid twyfel ek geen oomblik nie.

Ek weet dat U ons nie straf vir iets nie. Dit het Jesus reeds alles aan die kruis gedra. Wat moet ek maak hiermee? Ek is so verward!

My gedagtes tol en tuimel. Maar dis asof ek weer hoor: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom. 8:28)

Ek weet nie hoe dit moontlik is nie, Here. Ek is kwaad vir U dat U nie sy dood voorkom het nie en tog weet ek dat ek U liefhet. En ek wéét dat U ons geroep het vir hierdie bediening. Dat ons hier is, so ver van moderne geriewe wat dalk sy lewe kon red, is ook u besluit. U het dit toegelaat. U het toegelaat dat die dokter my laat terugkom het Katima toe vir die bevalling. U kon dit keer. Maar U het nie.

Ek kry dit reg om God te beskuldig sonder om skuldig te voel daaroor. Lank lê ek asof ek wag dat Hy my daaroor sterk moet aanspreek. Maar my hart bly seer. Pyn tot in my gebeente in.

Waarom U dit toegelaat het, verstaan ek nie. Dalk eendag …

Ek het nie lus om nou te probeer verstaan nie. Later dalk. Nie nou nie, ek is te moeg.

Laat dit dan vir ons ten goede uitwerk, asseblief, Here.

Laat Hy maar sorg dat ons dit wel eendag verstaan. My gedagtes spring na die twee kinders in die kamer verder gang af. Dierbare tweetjies.

Ag, Vader in die Hemel, dankie vir ons twee gesonde kinders. Hulle is vir my nou kosbaarder as ooit. Ek besef net weer hoe groot u genade is dat ons hulle kan hê, sonder enige gebrek of siekte of probleem.

Ek hoor hoe Smit vir Karien haar bottel gee en albei nagsoen. Hoe hy die oorskiet vir die honde uitkrap. Hoe hy ligte afskakel in die kombuis en voorhuis. Hy kom sit by my op die bed met my koppie tee. Vryf my hare. Hy sug.

“Ja, my vrou. Min het ons vanoggend geweet wat hierdie dag gaan oplewer.” Daar’s niks wat ek kan sê nie. Ek gee hom maar net ’n flou glimlag. Drink my tee met albei hande om die beker vasgeklem.

“Piet sal my môre help dat ons sy begrafnis kan reël.”

“Ja, ons moet hom seker begrawe.” Dis of die realiteit daarvan nou eers insink.

“Dit sal waarskynlik Saterdag kan wees. Oom Ronnie het aangebied om vir hom ’n kissie te maak. En hulle het reeds vanmiddag ’n span gestuur om te begin skoonmaak daar by Trollope se graf.”

“Gaan hulle dáár ’n graffie grawe?”

Hy knik instemmend. Ons sit ’n rukkie in stilte.

“Hy was ’n mooi seuntjie. Ek het vanmiddag kans gekry om goed na hom te kyk nadat Dawid die outopsie gedoen het. Hy het donker haartjies gehad, soos joune.” Hy neem my leë beker by my. Ek weet nie wat om nou met my leë hande te maak nie.

Ek het hom nie gesien nie.

Die gedagte kom nie eens by my op dat ek hom nog wil sien voordat hy begrawe word nie. Dis net te seer om verder te dink of te beplan. Ek wil net slaap. Ek is só ontsettend moeg. Dis of my siel in homself teruggetrek is, afgesluit van alles wat na voel en dink en redeneer klink.

“Piet vra vir iets om vir hom aan te trek vir die kissie. Kan jy môre vir my iets regkry?”

Ek het nog nie eens aan hom gedink in ’n doodskissie nie. Nooit eers die gedagte gekoester dat mens ’n lyk nie kaal in ’n doodskis toemaak nie.

“Ek sal kyk. Hoe laat gaan jy môre na hom toe?” probeer ek wegdink van die gedagte aan doodskiste en grafte en lyke.

“Ag, seker nie vroeg nie. Piet moet eers ’n kapelaansperiode gaan waarneem voordat hy hospitaal toe kan gaan.”

Natuurlik! Sy liggaampie is nog by die hospitaal. Waar anders. Maar wáár in die hospitaal? Nee, ek wil liewer nie daaraan dink nie. “Dan sal ek môre iets regkry. Moet eers dink wat geskik sal wees.”

Hy buk om my te soen. “Jy was so dapper vandag, lief. Ek bewonder jou innerlike krag.” As hy maar weet! Innerlik is ek swak en klein en broos en gekwes – niks wat ek as dapper of kragtig kan beskryf nie. “Slaap jy nou rustig. Ek gaan stort.”

Ek lê en luister na die geluide in die badkamer. Hy snuit sy neus in die stort. Huil hy? Ek het hom hartseer gesien vandag, maar nie dat hy huil nie.

Die slaap wil nie kom nie. Al veg ek daarteen, sien ek die gebeure van vroeg vanoggend oor en oor in my kop afspeel. Soos ’n video wat oor en oor draai. Sy slap nekkie wat agteroor hang in die stellasie. Sy armpies wat woes keer. Wat swakker en swakker word. Stil hang. Die bondeltjie lap. Johan Botha se snikke. Die liggaampie toegetrek onder ’n laken in die voorportaal …

Die witgeverfde bedjie met sy poeierblou muskietnet is stil en leeg. Wat is daar in die laai onder die bedjie waarin Ignatius begrawe kan word? Al sy kleertjies is skoon uitgewas en mooi reggepak. Ek sukkel om te onthou wat daarin gepak is. Dink daar is ’n wit katoenpakkie met ’n matrooskragie. Wou dit vir sy doopdag hou. Ek besluit om dit vir Smit uit te haal vir die kissie. Dit, en kousies en skoentjies vir sy voete. En ’n kombersie om hom in toe te draai.

Toe Smit eindelik kom lê, nadat hy eers ’n lang ruk stil was in die studeerkamer, kruip hy saggies langs my in. Hy sien ek is nog wakker. Met sy arm om my, trek hy my styf teen hom aan. Hy soen my hare, my skouer, my nek. Sonder woorde troos hy my, terwyl hy self troos nodig het. “Ek is so jammer …” begin hy snik. “Ek moes jou nie alleen gelaat het nie!”

Ek probeer hom oortuig dat dit niks sou verander het aan Ignatius se dood nie. Nou probeer ek sy trane keer, terwyl my eie nóú eers, ná soveel ure van inhou, ongekeerd kom. Om te kan huil sonder om weg te steek, word verlossend. Ek huil oor hy so seer het. Hy huil vir ons. Hy huil totdat vrede en berusting alleen oorbly.

“Slaap nou rustig, my lief.” Feitlik onmiddellik begin sy asemhaling reëlmatig word. Hy slaap. Maar ek is steeds wakker. Die slaap wil nie kom nie.

Ek draai op my rug. My hande vou oor my leë buik. Leeg. LEEG.

En ’n leë bedjie.

Het hy ’n gees gehad wat hemel toe is? wonder ek. Natuurlik moes hy, hy was dan ’n volkome mens. Ek weet nie wanneer kry ’n mens ’n gees nie. Die Woord self sê in Spreuke, of is dit nou Prediker, dat niemand weet wanneer liggaam en gees bymekaar kom in die moeder se buik nie. Maar ons kon hom nie eens aan God toewy nie. Hy is dan nie eens gedoop nie.

Die trane begin weer warm langs my slape afloop. Ek treur geluidloos. Laat Smit slaap, hy het dit nodig. Hy is die verlengstuk van my krag. As ek nie meer kan nie, moet hy nog kan aangaan. As ek nie meer lus het om die mense in die oë te kyk nie, moet hy dit namens ons nog kan doen. As ek môreoggend nie kans sien om op te staan nie, moet hy asseblief tog vir my instaan.

Draai ek op my regtersy, sien ek elke minuut verbyflits op die radio­wekker. Gloeiend rooi. Draai ek op my linkersy, sien ek dofweg die leë bedjie. Ek draai op my maag. So kan my trane in my kussing inloop. Maar my borste is hard en seer, ten spyte van Dawid se pilletjies. Draai weer op my sy.

Die slaap kom nie. Oor en oor en oor speel alles in my kop af. Later staan ek op. Gaan staan in die flou maanligstreep wat tussen Klein-Johan en Karien se beddens inval. Ek verkyk my aan hulle. Probeer die beeld van die bondeltjie dooie baba in my kop vervang met twee lyfies wat rustig, salig, soet slaap. As die snikke wil begin opstoot uit my brose binnekant, gaan sit ek op die agterste trap in die lig van ’n groeiende maan. My voorkop weerloos op my knieë. Selfs die uitgerekte tjieeeeer van die krieke is dan vannag ’n klaaglied.

Die honde is besorgd ontsteld om my. Nimrod wig sy ou breë kop tussen my knieë in en kyk my treurig aan. Hartseer wel weer op. Laat my teer keel weer van voor af brand.

Ag Here, hoekom! Hoekom! HOEKOMMMM!

Ek gee my oor aan die vertroosting van die twee honde totdat hulle rustiger raak en styf teen my opgetrekte bene kom sit. In die stil nag intuur. Die gety in my gemoed trek weldra terug. Plat mettertyd af. Ek voel weer net die tamheid in my lyf. Maar my kop kom nie tot ruste nie. Ek dink aan die bondel wasgoed in die waskamer. Laas doeke gewas toe ons die naweek by my skoonouers in Meyerspark was – met die hand. As ek gelukkig is, is daar seker nog twee skones oor. Môreoggend sal ek baie vroeg ’n bondel doeke moet was. Hulle lê darem al en week in die Steri Nappi-emmer.

Later loop lê ek weer. Trek die kussing oor my kop om nie die tyd te sien glim in die donker nie. Wag dat die slaap my ontnugterde lyf moet inhaal.

Grens

Подняться наверх