Читать книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts - Страница 5

Оглавление

Inleiding

‘Afrikaner nationalism’, ‘apartheid’ and ‘white supremacy’ are not simply dissimilar terms for a single phenomenon. Rather, although they have a number of features in common, they refer to discrete features of the convoluted South African landscape. The view, unfortunately widely held, that they are different names for the same thing, while having a deceptive modicum of truth, is sufficiently crude to blunt the cutting edge that each term has when it is used separately.[1]

Dié verhaal begin met ’n einde. Tydens sy laaste dae is D.F. Malan, wat teen dié tyd in Stellenbosch afgetree het, deur ’n ernstige beroerte geteister, wat hom erg verswak het. Diegene naaste aan hom het besef hy sal nie meer lank met hulle wees nie. Dit was in dié tyd dat een van sy bewonderaars, die historikus en rektor van die Universiteit Stellenbosch, H.B. Thom, wat ook later ’n biografie oor Malan geskryf het, sy siekbed besoek het.

Thom het die gewigtigheid van die oomblik aangevoel en besluit om die oudpremier een laaste vraag te vra: Wat, na sy mening, was die vernaamste diens wat hy tydens sy lang politieke loopbaan gelewer het? ’n Rukkie lank was daar stilte en toe, met hoorbare moeite, het Malan geantwoord: “Dat ek my volk kon dien; dat ek my volk bymekaar kon bring. Die Here het my dit gegun.”[2] Dit het die kern van Malan se politieke geloof saamgevat. Hy was ’n Afrikaner-nasionalis in murg en been en om Afrikaners te verenig was sy belangrikste politieke doelwit. Daarom is die memoires wat hy tydens sy laaste jare geskryf het ook getiteld Afrikaner volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen.[3]

Dié toneel verskil hemelsbreed van die hedendaagse beeld van die apartheidsleiers in ’n post-1994-Suid-Afrika wat steeds die letsels van eeue lange rasseongelykheid dra. Onverbiddelike foto’s van Malan en sy opvolgers het sinoniem geword met ’n onbuigbare stelsel van rasseverdrukking wat die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking se waardigheid diep geskend het. Tog, 20 jaar sedert apartheid beëindig is, het daar ’n ruimte ontstaan waarin ’n nuwe geslag historici die verlede in eie reg kan verken en sonder die hindernisse van die verlede sowel Afrika- as Afrikaner-nasionalistiese stereotipes kan uitdaag.

Biograwe is, net soos die persone oor wie hulle skryf, kinders van hul tyd. Hul konteks vorm die vrae wat hulle vra en dié biografie is die produk van ’n post-apartheid-omgewing. Tog is dit ook die biograaf se plig om die vrae van ’n ander era met erns te bejeën en om die mense oor wie hy of sy skryf deur die oë van hul eie tyd te verstaan. Dit is waarna hierdie biografie streef: om ’n hedendaagse leser te laat deel in hierdie begrip van die verlede, selfs al is dit met tye ongemaklik, sonder om te probeer regverdig of apologeties te wees. In stede daarvan kan die ongemak wat biografie meebring ’n mens help om die ingewikkeldheid van die geskiedenis te verstaan en die ongerieflike waarheid in die oë te kyk dat die verlede gevorm is deur komplekse individue wat met die huidige generasie sy menslikheid – en onmenslikheid – deel. Deur oor ’n man te skryf wat tydens die eerste helfte van die twintigste eeu aan die voorpunt van die Afrikaner-nasionalistiese beweging gestaan het, wil ek bydra tot die besinning oor hierdie kompleksiteite.

Biografie lewer veral ’n unieke blik op die verlede. In dié biografie word die leser nie net voorgestel aan D.F. Malan nie, maar ook aan die Afrikaner-nasionalistiese beweging. Dit is egter nie die verhaal van ’n beweging wat deur die lens van ’n enkele man se lewe vertel word nie. Dit is die verhaal van ’n man deur wie ’n mens vertroud raak met ’n beweging – ’n beweging wat deur sy eie verdeeldhede en konflikte geteister is, waar persoonlike vetes dikwels hoër geag is as ideologie. Die boek bied dus ’n agter-die-skerms-blik op die Afrikaner-nasionalistiese politiek wat heersende beelde van sy samehorigheid en eensgesindheid weerlê.

Om dit reg te kry, word die argivale rekord opnuut vertolk – en veral die dokumente van die mans wat tydens die eerste helfte van die twintigste eeu aan die hoof van die Nasionale Party gestaan het. Dit skets ’n beeld van die wêreld deur hul oë en vernaam deur Malan s’n omdat dié verhaal om sy weergawe van die gebeure draai. Tog sal die waarnemer net soveel getref word deur dit wat afwesig is as dit wat teenwoordig is. Wanneer mense hul korrespondensie bewaar of hul memoires skryf, weerspieël die samestelling van die dokumente daardie persone se vernaamste prioriteite. In die geval van D.F. Malan en die Afrikaner-nasionaliste onthul die argivale rekord ’n voorspelbare beheptheid met Afrikaner-nasionalisme en partypolitiek.

Dit kan die hedendaagse leser verbaas dat dié sake voorkeur geniet het bo rasseaangeleenthede. Die Afrikaner-nasionaliste het nie swart politiek in hul briewe bespreek nie en hulle was nie in verbinding met swart politici nie. Dit is ook duidelik dat swart politieke organisasies hulle nie voor 1948 tot Malan en sy Nasionaliste gewend het nie. Dokumente wat met swart mense verband hou, was byna heeltemal afwesig van die omvangryke reeks argivale versamelings wat tydens die navorsing vir dié boek geraadpleeg is en die waarde van dié wat wel daar is, is beperk. Dit dui op die mate waarin gepolitiseerde Afrikane en Afrikaner-nasionaliste in aparte wêrelde geleef het en dit wys ook hoe min ag Afrikaner-nasionaliste op swart politiek geslaan het – en andersom.

Soos die Nobelpryswenner en ANC-leier Albert Luthuli oor die 1948-verkiesing opgemerk het: “For most of us Africans, bandied about on the field while the game was in progress and then kicked to one side when the game was won, the election seemed largely irrelevant. We had endured Botha, Hertzog and Smuts. It did not seem of much importance whether the whites gave us more Smuts or switched to Malan. Our lot has grown steadily harder …”[4]

Wanneer die Afrikaner-nasionaliste swart mense wel bespreek het, het hulle in abstrakte terme na hulle verwys en dit word in die teks weerspieël. Om die swart versetbeweging by hierdie narratief in te voeg sal woorde in D.F. Malan se mond lê. Inteendeel, hul afwesigheid moet nie vertolk word as ’n verwaarlosing van swart politiek of ’n versuim om die opkoms en belangrikheid van Afrika-nasionalisme tydens dié tydperk in ag te neem nie. Hul afwesigheid moet eerder beskou word as ’n weerspieëling van Afrikaner-nasionaliste se isolasie van die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking. Dit sal die leser help om te verstaan hoe ’n wêreldbeeld wat om “Afrikanersake” soos die armblankevraagstuk gedraai het tot die apartheidsbeleid kon bydra.

Dié boek bly nogtans die verhaal van ’n man – een wie se gesig sowel beroemd as berug kan wees, maar wie se lewe tot nog toe vir vele ’n raaisel gebly het. Sy kwesbaarheid en innerlike teenstrydighede, tesame met sy innige geloof in Afrikaner-nasionalisme, wat ’n onlosmaaklike komponent van sy godsdienstige oortuigings was, vertel die verhaal van ’n feilbare mens. Deur hierdie individu te verstaan, begryp ’n mens nie net sy wêreld nie, maar kan ’n mens ook aflei hoe sy persoonlikheid en dade ’n volk en ’n land kon vorm. Vir diegene wat die verlede wil verstaan, is dit onvermydelik om D.F. Malan se menswees in die oë te kyk.

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme

Подняться наверх