Читать книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts - Страница 7

Оглавление

2 (1900-1905)

Die buitelandse student


Dit was ’n sonnige Woensdagmiddag in September toe D.F. Malan, sy broer Koos en agt ander jong Afrikaners in die Kaapse hawe aan boord van die Briton gestap het. Hulle was almal onderweg na Europa om te gaan studeer. Die skip het nog ’n uur lank in Tafelbaai vasgemeer bly lê terwyl daar op pos uit Natal gewag is. Toe dit uiteindelik arriveer, het Malan ’n telegram van sy vriende ontvang, met die woorde van Deuteronomium 33:27, “Underneath are the everlasting arms.” Teen halfvyf het die skip die hawe uit gestoom.[1]

Die teksvers het hom vertroos, en hy het in sy dagboek geskryf: “Vaarwel vriende, almal, Stellenbosch wat altyd vir my dierbaar sal bly en liewe, sonnige Suid-Afrika.”[2] Dit was die enigste dagboek wat hy ooit gehou het, en dit het sy diepe godsdienstigheid geopenbaar.

Aanvanklik was die vaart aangenaam. Die weer was warm en sonnig, en hoewel hy van sy maag bewus was, was Malan dankbaar dat hy nie seesiek geword het nie. Hy het die meeste tyd op die dek deurgebring, waar hy The Sign of the Cross gelees en besin het oor die ooreenkomste tussen sy eie samelewing en dié van die gevalle Romeinse Ryk. “A new moralising and civilising force … in a living, active Christianity,” was vir hom die oplossing. “May God help us,” het hy in die dagboek geskryf.[3]

Die optrede van sy mede-Suid-Afrikaners, en veral sy broer, het sy sedige sielevrede egter gou versteur. “For one educated in a pure and Christian home, the language heard and the acts seen on the ship are simply loathsome and sickening. May God preserve us.” Dit het egter net erger geword: “The most depressing fact is that the majority of our Africanders on board take the lead in swearing, drinking, and using filthy language,” het hy in sy dagboek gekla. “Oh God: have mercy on our poor people and our young men studying abroad.”[4]

Hy was darem nie heeltemal alleen nie. Een van die ander jong Afrikaners, na wie Malan eenvoudig as Van Schalkwyk verwys het, het sy godsdienstigheid gedeel. Hulle kon saam Bybelstudie hou in die kajuit wat hulle met Koos en nog ’n jong Afrikaner, ene Rousseau, gedeel het.[5]

Laasgenoemde twee moes hul kajuitmaats taamlik bekrompe gevind het, want Koos en Rousseau het gou na ’n ander kajuit geskuif.[6] Die volgende paar dae was stil en aangenaam. Teen dié tyd het die skip deur die trope gevaar, maar hulle kon die hitte hanteer. Malan het met ’n Wes-Indiër vriende gemaak saam met wie hy skyfgooi en dambord gespeel het, sowel as ’n Russiese offisier, met wie hy politiek kon praat.[7] Teen die einde van die week was die vrede egter aan skerwe. Malan het moontlik na Koos verwys toe hy in sy dagboek skryf: “A very unpleasant and sad day. I never knew he too would go in for the sweepstakes. May the merciful God have mercy upon him and us. A big row.”[8]

Met die wêreld se versoekings en die onsekere toekoms wat in sy gedagtes bly maal, het Malan op die dek gestaan en ’n ligtoring aan die Kaap Verdiese kus dopgehou. Hy kon nie anders as om die simboliek van die ligtoring op die Atlantiese Oseaan se donker kus raak te sien nie, en dit het hom laat bid: “May God be the light of our lives to reveal to us our straying and to guide us in the night and warn us of the danger and may he pilot our frail vessel in safety through the angry deep to the safe haven of our destination.”[9]

Toe die skip Europese waters bereik, het die see stormagtig geword, maar Malan kon die immer dreigende seesiekgevoel in bedwang hou. Hy het die ligtorings wat vanaf die kus vir hom gewink het, bly bewonder.[10] Vrydagoggend 5 Oktober 1900 het die skip by Southampton vasgemeer.

Die volgende 24 uur was ’n waas. Hulle het die trein van Southampton na Londen geneem, waar hulle laat die middag aangekom het. Van daar is hulle na Liverpool-stasie, waar Malan van Koos moes afskeid neem. Malan is toe met die Continental Express na die oostelike kusdorp Harwich. Dit was reeds donker toe hy aan boord gegaan het van die Dresden, wat hom oor die Engelse kanaal na Rotterdam geneem het. Die see was rof en dié keer het Malan behoorlik siek geword. Die volgende oggend het die skip in Rotterdam se Westerkade vasgemeer en Malan was voor middagete in Utrecht.[11]

Toe hy uiteindelik alleen is en alles om hom stil word, is hy skielik deur die eensaamheid oorweldig en het hy hom tot God gewend vir troos: “‘Hoe sal ek die Here vergoed vir al Sy weldade aan my?’ Heer: bestuur U my weë. Volkome wil ek my voorbereiding tot U werk in U hande toevertrou. Laat my ook hier ’n lig tot U verheerliking wees. Amen.”[12]

Sy gebede het hom vertroos, want hy kon in sy dagboek skryf: “Ek is ’n vreemdeling in ’n vreemde land, tog die Here is by my en sal my ondersteun.”[13] Toe hy dit na buite waag, is hy weer oorweldig – nie deur sy verwondering aan die stad nie, maar steeds deur sy eensaamheid. Later, terug in die veiligheid van sy kamer, het hy sy eerste indrukke neergepen:

As I walked through the streets and the thoroughfares of the City, I felt a sense of absolute loneliness creeping over me. Amid all the noise & activity of the streets, the endless stream of human beings sweeping through the streets, I felt as if I was alone and forsaken. As I scanned the faces as they hurriedly passed me, I knew none nor had I even the faintest hope to meet one I knew. No acquaintance, no home, no friend. Was it a wonder then that my thoughts were not here, but far away in the distant South.[14]

In sy eerste week in Utrecht het Malan in ’n hotel naby die stasie tuisgegaan omdat hy sy losies by prof. J.J.P. Valeton jr. nie dadelik kon betrek nie. Hy het sy nuwe omgewing verken en kon stelselmatig meer inneem. Die stad Utrecht was anders as enigiets wat hy ooit vantevore gesien het. Hy het sy bes probeer om sy nuwe wêreld aan sy ouers te beskryf:

Utrecht is ’n mooi stad. Die strate is almal met hardbricks geplavei en word baie skoon gehou. Daar is ook gragte (waterstrate), waarop mense met skuite vaar. Die stad is groot, ’n hele ent groter as Kaapstad; hy tel oor die honderdduisend inwoners en het pragtige geboue. Die Domtoren is die hoogste in Nederland. Daar is pragtige avenues en tuine, soos die Maliebaan en die Wilhelmina Park. Dog hier, en trouens ook oor die hele land is alles gelyk – geen heuweltjie wat eens so hoog is dat mens dit ’n koppie kan noem nie … Die mense hier praat niks anders buiten goeie Hollands nie. Om verstaan te word moet ek dan ook probeer om so hoog as moontlik te klim. Ja, ek praat soms so hoog dat dit vir my baie moeilik is om myself te verstaan. Tot die klein kindertjies praat hier hoog. En tot selfs die honde en die perde verstaan slegs Hooghollands.[15]

Daar was darem een troos: Ten spyte van die vreemde landskap, geboue, mense en sy uitdagings met die taal was Malan polities tuis. “Ons saak vind hier baie simpatie,” het hy aan sy ouers geskryf. “Hier is geen Jingoes of Jingo Koerante nie. Die mense hier is selfs soms nog veel warmer as die Afrikaners self. Iedereen ken die Transvaalse Volkslied, en dit word heel dikwels gesing.”[16]

Malan het hom in die land wat die meeste pro-Boer in die hele Europa was, bevind. Hier het, anders as in die Kaapkolonie, niks in die pad van openbare steun aan die Boere gestaan nie. Sedert Transvaal se eerste oorlog teen Groot-Brittanje in 1880 het die Nederlanders besondere belangstelling getoon in die Afrikaners, vir wie hulle as stamverwanten beskou het.

By nabetragting is dit duidelik dat dié belangstelling nie soseer oor verwantskapsgevoelens gegaan het nie. Dit was eerder ’n poging om die Boere se militêre prestasies te gebruik as ’n simbool om Nederland se kwynende nasionalisme te help herrys. Sommiges het selfs daarvan gedroom om Nederland se imperiale bloeityd te laat herleef en die Nederlandse kultuur uit te brei. Transvaal sou daarin kon deel deur saam op te gaan in ’n Nieuw Nederland. Hierdie hoë ideale het teen die 1890’s getaan, maar die Anglo-Boereoorlog het ’n nuwe vlaag openbare emosies ontlok wat die geesdrif van die 1880’s ver oortref het.[17]

Malan het dié oplewing eerstehands aanskou. ’n Paar dae ná sy aankoms in Utrecht is hy na Amsterdam, waar Paul Kruger se verjaarsdag gevier is. Toe hy die Nieuwe Kerk in Amsterdam betree, het ’n ongelooflike gesig hom begroet: Die enorme kerk was stampvol nadat mense reeds drie uur in die reën tougestaan het. Nog nooit het die jong man van ’n plattelandse dorpie aan die suidpunt van Afrika ’n kerk só vol gesien nie. Tot sy stomme verbasing het die mense onder mekaar baklei vir sitplekke. Die toesprake het hom besiel en hy het gewens hy kon alles neerskryf. Die geesdrif het hom met hoop vervul. “Dit doen ’n Afrikaner se hart goed om soveel warmte vir ons saak te sien,” het hy aan sy ouers geskryf.[18]

Malan het gou ontdek ’n Afrikaner in Nederland ontvang spesiale behandeling. Oor die algemeen het die Nederlanders nie onderskeid getref tussen Afrikaners van die Kaapkolonie en dié van die Boererepublieke nie – vir hulle was almal Transvalers.[19] ’n Terloopse ontmoeting met ’n Belgiese evangelis het op ’n uitstappie uitgeloop. Die evangelis was so opgewonde om ’n Afrikaner te ontmoet dat hy hom in die stad rondgeneem het om hom aan al sy vriende voor te stel, en Malan summier genooi het om hom in Brussel te besoek.[20] Malan het ook die bejaarde digter Nicolaas Beets besoek. Beets, wie se kleinseun saam met die Boere aan die veg was, het Malan met ope arms verwelkom. Hy was seker die Boere sou die oorlog uiteindelik wen en het ywerig daaroor gepraat. Hy het ’n paar van sy gedigte vir Malan voorgelees en hom genooi om weer te kom kuier.[21]

Ten spyte van dié gul en entoesiastiese ontvangs was Malan steeds eensaam. Al was die Nederlanders baie vriendelik, kon hy sy gevoel van vervreemding nie afskud nie. “Dit is nie my Vaderland nie, en nie my volk nie,” het hy aan sy ouers geskryf.[22] Die weer het hom ook terneergedruk laat voel:

Dit begin hier verskriklik koud te word. Ek is maar altyd in ’n dikke jas. ’n Paar aande gelede het daar sneeu in die strate geval – en die winter begin nou eers. As ek tog maar net ’n bietjie van Suid-Afrika se oorvloedige hitte hier kon hê … dit reën hier byna altyd – ek kan dit nie verdra nie. Die verlange na ons heerlike klimaat en lieflike sonskyn is vreeslik. [23]

Sy eensaamheid en terneergedruktheid is vererger deur sy gesin se traagheid om sy briewe te beantwoord. Teen einde Oktober het hulle nog nie eens ontvangs erken van ’n brief wat hy gestuur het toe die skip Madeira aangedoen het nie. Mimie was nie veel van ’n briefskrywer nie, sy stiefma was te besig en Fanie en sy pa was nie in die gewoonte nie – of so het hy dit aan homself verklaar. Daarom was hy in die wolke toe hy uiteindelik ’n brief van Cinie ontvang. Hy het gehoop dat hy nou meer nuus van die huis af sou kry.[24]

Malan het nie net na gesinsnuus gesmag nie. Hy was ook honger vir nuus uit Suid-Afrika. Dié probleem kon makliker opgelos word as sy pleidooie vir meer briewe van sy gesin. Aan Cinie het hy geskryf hy slaag “taamlik goed” daarin om op die hoogte van politieke nuus, veral Suid-Afrikaanse nuus, te bly. “Hier is ’n mooi biblioteek, waar mens vir 9 gulden per jaar al die binnelandse, en vele buitelandse koerante, tydskrifte en pamflette kan lees. Ek het ’n lid geword en besoek dit gereeld elke oggend vir ’n uur.”[25]

Hy het beslis in die koerante verslae en menings oor die oorlog in Suid-Afrika gelees, want dit het baie aandag in die Nederlandse pers geniet. Oor die algemeen het die Nederlanders duidelik kant gekies. Hulle het die oorlog nie as blote militêre konflik beskou nie, maar as ’n koloniale en kulturele stryd tussen die twee wit rasse om beheer oor Transvaal te verkry. Die Boere is as edel en dapper helde geroem, terwyl die Britte tot oorlogsmisdadigers veroordeel is. Enige oorlogsmisdade deur die Boere is oorgesien – of selfs verdedig.[26]

Emily Hobhouse se verslae oor die konsentrasiekampe is gepubliseer sodra dit in Nederland aangekom het en die skokkende foto van die uitgeteerde Boeremeisie Lizzie van Zyl is wyd versprei en selfs op poskaarte gedruk. Konsentrasiekampe se sterftesyfers is op groot plakkate aangebring en in ’n paar Nederlandse stede opgeplak, tesame met daardie stad se eie sterftesyfer, wat die skokkende teenstelling nog sterker tuisgebring het. Die Nederlanders het die Britte daarvan beskuldig dat hulle die kampe gebruik het om die Boereras uit te wis, en selfs die woord “volksmoord” het die rondte gedoen.[27]

Die nuus was nie altyd betroubaar nie omdat die Britte die vloei van inligting soveel as moontlik probeer beheer het. Tydens die eerste fase van die oorlog het die Nederlanders die Kaapse koerant Ons Land as hul hoofbron van inligting gebruik omdat die posdiens uit die Kaapkolonie meer betroubaar as dié uit die twee Boererepublieke was. Ons Land het ook sy gewig agter die Boere ingegooi en die Britse weermag veroordeel vir sy verskroeideaarde-beleid. Dit het nie lank gehou nie, want die redakteur, F.S. Malan, is in 1901 in die tronk gegooi vir naamskending nadat hy ’n brief gepubliseer het waarin ’n Boerevrou genl. John French van oorlogsmisdade teen burgerlikes beskuldig het. Hierna was dit nog moeiliker om betroubare nuus te bekom.[28] Malan was nie altyd seker of hy die verslae uit die Kaapkolonie kon glo nie. Hy het taamlik skepties aan sy ouers geskryf:

Geoordeel aan die kabelgramme moet dit vreeslik onrustig in die Kolonie wees. Daar is ’n paar dae gelede gekabel dat daar in die Hollandse dorpe ’n skrikbewind heers, die Engelse mag hul monde nie meer oopmaak nie; dat die studente in Stellenbosch openlik die Transvaalse vlag ontplooi het en openlik die Volkslied sing, en dat die postreine aan die suide van die Oranjerivier nie minder as 70 hinderpale op die lyn teëgekom het nie, ens. Of dit alles waar is weet ek nie, maar ek het dadelik gedink dat dit oordrewe is, met die doel om krygswet geproklameer te kry.[29]

Malan het dalk rede vir sy agterdog gehad, maar die verslae oor die Kaapkolonie het nog ’n belangrike dimensie gehad. Die Nederlanders het gehoop die Kaapse Afrikaners sal in opstand kom en hul stamverwante in die noorde gaan bystaan. Indien dit gebeur, sal hul gesamentlike getalle die Britse magte in Suid-Afrika oortref en ’n tweede front oopmaak. Die Nederlandse pers was teleurgesteld toe dit nie gebeur nie en het die blaam daarvoor geplaas op Kaapse Afrikaners se verengelste skoolstelsel wat die twee gemeenskappe aan weerskante van die Oranjerivier van mekaar vervreem het.

Die Nederlandse koerante het ook die Kaapse politieke leiers se versigtige houding veroordeel. Veral Onze Jan Hofmeyr het deurgeloop, al het hy sy bes probeer om die oorlog deur onderhandelinge te voorkom en hom nou op ’n politieke spandraad bevind. Billikheidshalwe het die Nederlandse pers ook kennis geneem van die genadelose behandeling van die Kaapse Rebelle, aan wie die doodstraf vir hoogverraad opgelê kon word as hulle gevang is.[30]

Hoe meer die Nederlandse koerante Britse wreedhede onder die vergrootglas geplaas het, en hoe meer die debat oor die Kaapse Afrikaners se posisie gewoed het, hoe meer ontsteld het Malan geword, veral nadat hy ’n brief van ’n vriend ontvang het wat dieselfde gevoelens uitgedruk het. Aan sy suster het hy geskryf: “Omtrent die oorlog kan ek vir jou boeke vol skryf, want my hart is meer as vol, maar waar sou ek eindig. Ek stem volkome saam met wat ’n vriend aan my geskryf het, dat ons nou moet ophou praat en protesteer, dit baat minder as niks, nou moet ons iets doen. Ek voeg dit daarby, dat ons nie net daarin geregverdig is nie, maar dat dit ’n dure plig geword het.”[31]

Malan het ook in ’n brief aan sy pa sy gevoelens oor die saak gelug: “Tog in elk geval dink ek, noudat die Engelse in hul oorlogvoering erger as Kaffers* te werk gaan, is dit nie net vir die Koloniale Afrikaners geregverdig nie, maar het dit ook ter wille van die mensdom en die menslikheid, hul plig geword om met geweld tussenbeide te tree.”[32]

Ongelukkig weet ons nie wat die pa op sy seun se vurige woorde geantwoord het nie. Hy het hom beslis nie aangemoedig om na Suid-Afrika terug te keer en die wapen op te neem nie, want die gedagte is nooit geopper dat Malan sy studie in Nederland staak nie. Malan het ook nie in daaropvolgende briewe sy pleidooie herhaal nie. Teenoor Nettie Fourie het hy gekla: “With South Africa in such a sad state, I find life to be as bad here, for me at least. Sometimes, when I see how much is suffered, I feel half ashamed of my own comparative comfort and safety.”[33]

Sy frustrasie was nie heeltemal tot sy eie gevoelens van magteloosheid beperk nie. Hy is ook ontnugter deur die Nederlandse staat se gelatenheid oor sy onmag op die wêreldverhoog. Malan het gou agtergekom die ywerige openbare steun vir die Boere was niks meer as net dit nie. Nederland se buitelandse beleid het onveranderd gebly. Die beleid het op drie beginsels berus: Nederland moes wegbly van die groter Europese moondhede se magspel, hy wou neutraal bly in internasionale konflikte en hy wou vrye handel bevorder.[34]

Kortom het die Nederlanders hulle daarop toegespits om hul eie nis in internasionale betrekkinge uit te kerf, naamlik as die bewakers van vrede en internasionale reg. Dié ingesteldheid was ver verwyder van hul gloriedae as ’n internasionale moondheid. In die nadraai van die stormloop vir Afrika – waaraan Nederland nie deelgeneem het nie – het ’n era gevolg waarin internasionale status deur koloniale besittings bepaal is. In dié tyd was Nederland se laaste aanspraak op nasionale trots en internasionale status sy Indonesiese kolonies.[35]

Militêre betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog was vir die Nederlanders nooit ’n opsie nie, want as hulle Brittanje sou vervreem, sou Nederland se Oos-Indiese kolonies in die gedrang kom omdat Brittanje die internasionale skeepsroetes beheer het. Boonop het die algemene opvatting geheers dat Brittanje se militêre mag as afskrikmiddel teen Duitse en Franse uitbreiding in die rigting van die Noordsee gedien het. Brittanje, as ’n maritieme moondheid, sou sy kontinentale mededingers nooit toelaat om die strategies belangrike Lae Lande te beheer nie. Die Nederlanders het dus ’n diplomatieke liefde-haat-verhouding met die Britte gehad: Aan die een kant was Brittanje ’n natuurlike bondgenoot; aan die ander kant was die land ’n supermoondheid waarmee nie gespeel kon word nie.[36]

Gegewe die publiek se vurige ondersteuning vir die Boere moes die Nederlandse regering lig loop en ’n konfrontasie met Brittanje vermy en terselfdertyd verhoed dat die openbare mening teen hom draai.[37] Hy het hierin geslaag deur middel van ’n “publisiteitsmeesterstuk”.[38] Die regering het aangebied om Kruger te help om Transvaal te verlaat en het vir dié doel ’n skip, die Gelderland, beskikbaar gestel om hom na Europa te vervoer. Kruger se seereis en toer deur Europa het geweldig baie publisiteit ontvang en hy het skares gelok waar hy ook al was.[39]

Die skares en die publisiteit het Kruger se diplomatieke mislukking verdoesel. Hy wou by Duitsland om hulp aanklop, maar keiser Wilhelm II het geweier om hom te ontvang. Ongelukkig vir Kruger het Duitsland en Brittanje reeds in die somer van 1898 geheime samesprekings gevoer. Hulle het ooreengekom om die Portugese kolonies in Afrika onder mekaar te verdeel omdat daar in dié tyd ’n moontlikheid was dat die Portugese staat bankrot sou speel. As deel van die nuwe vriendskap het hulle ooreengekom dat hulle nie sou toelaat dat die Suid-Afrikaanse vraagstuk hulle in konflik met mekaar bring nie.[40] In plaas daarvan om na Berlyn te gaan, is Kruger dus gedwing om na Nederland te reis, waar hy onderweg na Den Haag in Desember 1900, Utrecht aangedoen het.

Malan is na die stasie om hom te sien. “Daar was so ’n ontsettende groot en opgewonde massa mense, dat ek byna deur die Hollanders plat gedruk is,” het hy aan sy ouers geskryf. “Die geroep van ‘Leve Kruger, Leve de Boeren’ was so aanhoudend dat die toesprake selfs vir die sprekers onhoorbaar was.”[41]

Malan was sinies oor die publiek se geesdrif. Ná ’n skamele twee maande in Nederland het hy genoeg gesien om aan sy ouers te skryf: “… van die Europese moondhede kan niks verwag word nie. Die selfsug voer hier die botoon. Bowendien wantrou hulle mekaar onderling te veel om saam te werk. Ons moet nou maar self doen wat ons verwag ander vir ons sal doen.”[42] In sy dagboek het hy opgemerk: “Die heil van Suid-Afrika lê in en moet kom vanuit Suid-Afrika.”[43]

Ondanks Malan se beheptheid met die politiek moes hy ook fokus op die eintlike rede vir sy verblyf in Nederland: sy studie. Hy het sommer uit die staanspoor die jare en maande begin aftel voor hy huis toe kon gaan – teen Desember 1900 het hy uitgewerk hy het nog twee jaar en nege maande oorgehad.[44] Hy sou nie kon raai sy verblyf sou uiteindelik veel langer wees nie.

Die eerste struikelblok wat hy moes oorkom, was dat die Universiteit van Utrecht nie sy vorige kwalifikasies erken het nie. Malan het hom solank verdiep in sy voorbereiding vir die eksamens wat hy weer moes aflê. Die werk was meestal ’n herhaling, maar hy het daarmee vrede gemaak. Dit het hom ten minste die geleentheid gegee om sy toekomsplanne te oorweeg. Hy was steeds onseker oor of hy doktorale studie moes onderneem.[45] Dit laat ’n mens wonder waarom hy dan in die eerste plek Nederland toe is, wou hy dan nie juis vir ’n doktorsgraad inskryf nie? Die dokumente wat behoue gebly het, antwoord nie dié vraag nie, maar ’n mens kan spekuleer dat hy na Europa is omdat hy ná die voltooiing van sy teologiese studie steeds te onseker van homself was om ’n gemeente te lei.

Malan het nogtans besluit om vir die doktorale toelatingseksamens voor te berei. Intussen wou hy die geleentheid ten volle benut om nuwe dinge te leer wat vir Suid-Afrika van waarde kon wees. Hy het besluit hy het nie veel erg aan besienswaardighede nie – tensy hy iets daaruit kon leer. Hy is uit die staanspoor getref deur die omvang van liefdadigheidswerk in Nederland en hy was seker Suid-Afrika sou ná die oorlog soortgelyke instellings benodig. Malan het onderneem om tydens sy langer vakansies ’n spesiale studie hiervan te maak.[46] Hy het sodoende ’n samelewing ontdek wie se benadering tot armoedeverligting aan die verander was.

Die laaste kwart van die 19de eeu en die eerste dekade van die 20ste eeu was ’n tydperk van omvattende sosiaal-ekonomiese verandering in Nederland. Die land het begin industrialiseer en wegbeweeg van handelskapitalisme na ’n breër, moderne kapitalisme. Die uitbreiding van stede en die oprigting van fabrieke het die armes nóg sigbaarder as tevore gemaak. Dit het tot nuwe persepsies oor armoede gelei. Armoede is nie aan liefdadigheidsorganisasies oorgelaat nie, maar as ’n breër maatskaplike kwessie beskou wat deur regeringsbeleid en wetgewing aandag moes kry.

Opvoeding is as die sleutel tot ’n oplossing gesien, veral ook omdat Nederland se demokrasie aan die moderniseer was, wat aan die werkersklas ’n groter politieke stem gegee het. Terselfdertyd het die middelklas se toenemende mag beteken die samelewing is deur burgerlike waardes oorheers. Opvoeding is beskou as ’n belangrike middel om dié waardes aan die massas oor te dra.[47] Dié stand van sake toon treffende ooreenkomste met en wys reeds vooruit na Malan se (en die algemene Afrikaner-nasionalistiese) benadering tot die armblankevraagstuk in Suid-Afrika, wat in die eerste helfte van die 20ste eeu hoog op Suid-Afrika se maatskaplike en politieke agenda was.

As deel van sy “projek” het Malan die grootste weeshuis in Nederland besoek, sowel as ’n sosialistiese kolonie, wat vir hom eienaardig maar interessant was. “Laasgenoemde is ’n poging om die samelewing te verbeter, deur alle private eiendom af te skaf. Almal in die kolonie werk vir die algemene kas, waaruit elkeen weer kry wat hy nodig het,” het hy in ’n brief aan Nettie verduidelik.[48]

Dié eksperiment in sosialisme het Malan nie geïnspireer nie, maar hy was daarna goed ingelig daaroor. Jare later het hy ’n lesing oor sosialisme gepubliseer wat sy deeglike begrip van Karl Marx se teorie toon.[49] Die Nederlandse spoorwegstaking van 1903 het hom met afkeer vervul. Hy kon hom geensins met die werkersklas en hul moeilike omstandighede vereenselwig nie, soos blyk uit ’n brief aan Nettie:

Die spoorwegbeamptes kry skielik sin daarin om hul werk te staak. Die broeines was Amsterdam. Vir ’n paar dae kon geen enkele trein Amsterdam bereik nie. Die regering laat troepe van ander plekke in Amsterdam saamtrek om vir alle gebeurlikhede gereed te wees, dog die spoorwegbeamptes weier rondweg om enige trein te bedien waarin daar ’n soldaat sit. Deur die afsny van alle toevoer was daar ’n geweldige styging in die pryse van alle items, dit was asof die stad beleërd was. So kon dit natuurlik nie langer nie – en die werkers kry hul sin. So asof hulle die mag in hul hande het! So word die werkers langsamerhand die regerende stand in alle Europese lande. Gedurende die laaste paar jaar het die sosialiste in Duitsland verdriedubbel. As die “Kaiser” nie oppas nie, kry hy dit nog op sy kop. Dit op sigself kan nie veel kwaad doen nie, maar ek wil nie graag hê dat dit moet gebeur vóór hy vir Engeland tot sy val gehelp het nie. Dat dit dié botsing van die eerste 20 jaar sal wees, is onmiskenbaar.[50]

Dié woorde lig die sluier op talle gesigspunte van die Afrikaner-nasionalistiese politikus wat op koms was. Hy het ’n burgerlike wantroue in die mobilisasie van die werkersklas gehad en het Engeland se vyande ondersteun – nie omdat hulle sy steun soseer verdien het nie, maar omdat hulle Engeland kon help straf. Hy het ook ’n fyn aanvoeling vir ingewikkelde politieke magspeletjies – en die onvermydelike gevolge daarvan – gehad.

Malan het stadig by sy nuwe wêreld aangepas. Ná ongeveer sewe maande in Nederland het hy aan Nettie verslag gedoen dat hy aan die Nederlanders en hul gewoontes gewoond raak, en nie meer “soos ’n vis op droë grond” voel nie.[51] Tog, soos tipies van enige buitestander in ’n vreemde land, was Malan se waarnemings altyd gegrond op ’n vergelyking met sy eie land, en in sy oë het die Nederlanders nie goed daarvan afgekom nie. Hy skryf aan Nettie:

I’ve often wondered how it is possible that such a level country intersected by hundreds of canals, with a gray mist usually hanging over the landscape, ever could have inspired such great poets as the Netherlands have produced. And that too in a country where woman, who so often is the object or inspirer of poetry, does not command that position of power and influence in society she has with us. By the way, you know that it is a fact that nowhere in the world does woman occupy such a high position in the public estimation as among the Africanders. This not only on the ground of my own observation, but on the authority of our great South African historian Theal. So I would advise you not as yet to set on foot or join in a movement for the emancipation of woman [sic].[52]

In teenstelling met sy geringskatting van die Nederlanders het Malan se verering van sy eie volk net toegeneem, en hy het hul deugde geromantiseer en besing: “My ondervinding tot nou toe is dat nieteenstaande hul beskawing hier, waarop hulle hulself so roem, ons arme verdrukte ou volkie tog in die meeste opsigte ver, ver bo al die ander staan met wie ek nog in aanraking gekom het.”[53] In die middel van die Nederlandse winter het Malan bly verlang na ’n ander landskap, ver weg in die suide:

I can hardly, when I look out of my window on the roofs and trees and streets all covered with a thick layer of snow, picture to myself the oak-shaded stoep of Allesverloren, the green vineyards and orchards laden with the delicious fruit of summer, and the people gasping for breath on account of the heat. To see the trees covered with snow is really one of the finest sights I’ve seen in Europe. This certainly makes up a good deal at any rate for the plain scenery of Holland. Holland certainly is beautiful in summer with its green meadows and shady forests and avenues but in winter it is dull and gloomy. A South African, born and bred in a rugged country cannot but love the wild and romantic Alps, he is almost sure to get poetical, but the tameness of the Dutch scenery soon wearies. I feel that being already naturally rigid, I’m here growing more prosaic every day, living as I do in a prosaic country among a prosaic people.[54]

Malan het dalk aan sy omgewing gewoond geraak, maar hy kon nie met die Nederlanders identifiseer nie. Hy het uit ’n samelewing gekom waar klasseverskille minder opvallend was. Hy kon nie glo dat so ’n sosiale struktuur – ’n monargie en rigiede klassestelsel – vooraanstaande persoonlikhede kon voortbring nie. Hy kon maar net nie gewoond raak aan van hul gewoontes nie, soos om lysies te maak van die geskenke wat hulle op hul verjaarsdag wou hê. Hy het die Nederlanders se oordadige en rigiede sosiale etiket versmorend gevind,[55] en in sy briewe aan Nettie het hy fyn die spot daarmee gedryf.[56]

Tydens sy jare in Utrecht het Malan se vriendskap met sy stiefma se suster verdiep. Benewens die korrespondensie is hul vriendskap behoorlik gevestig toe Nettie en haar suster Coosie in die somer van 1902 na Europa gereis het. Coosie het aan ’n keelkwaal gely en moes behandeling in Duitsland ontvang.[57] Die drie het ’n deel van die somer in Beiere in die suide van Duitsland deurgebring, in die skilderagtige dorpie Reichenhall.[58]

Daar was altyd ’n oor en weer geskerts tussen Malan en Nettie. Sy het hom geterg oor sy gebrek aan romantiese vooruitsigte en hy het dit geniet om die deugde te besing van ander meisies van wie dit geblyk het sy nie hou nie, en te terg sy sal eendag sy huishoudster word.[59]

Dit laat ’n mens wonder of Nettie se skertsery nie ware gevoelens vir hom verbloem het nie. Sy het ’n besondere belangstelling getoon in die onderwerpe wat Malan geïnteresseer het en het hom gevra om vir haar boeke aan te beveel en selfs vir hom geld gestuur sodat hy dit vir haar kon koop.[60] Malan het entoesiasties op haar belangstelling gereageer. Hy het haar soeke na kennis geloof, maar haar ook geterg oor moontlike bewonderaars:

En hoe is dit dan met jou twee vryers, Netta? Ek begin wesenlik bang word dat ek jou goeie dienste in my huis sal moet misloop. En dit wil ek tog nie graag hê nie, soveel te meer omdat ek, noudat ek hoor dat jy Calvyn bestudeer, met veel profyt vir myself, allerhande dinge oor my eie werk met jou sal kan bespreek. Dit het my nog altyd baie genot verskaf om te sien hoeveel jy in allerlei wetenskaplike onderwerpe belangstel, en ek moet sê, die gesprekke met jou daaroor, het my oor meer as een punt aan die dink gesit. [61]

Tog het Malan enige verwagtinge wat Nettie dalk gehad het, of nie, verydel. Toe sy hom op ’n keer terg oor sy onvermoë om te gaan opsit, veral omdat albei sy jonger broers teen daardie tyd verloof was, het hy geantwoord hy het heeltemal opgegee wat romanse betref.[62] Nettie was vir hom ’n vriendin en niks meer nie.

Terug in Utrecht het Malan hom aan sy werk oorgegee, maar teologie was nooit sy enigste belangstelling nie en sy jare in Europa is deur meer as net sy studie bepaal. Sy teenwoordigheid in Utrecht het aan hom die seldsame voorreg verskaf om die Boereleiers tydens hul besoeke aan Europa te ontmoet. Teen dié tyd het Kruger in Utrecht gewoon en Malan het hom gaan besoek. Meer as 50 jaar later het hy die toneel wat hom daar begroet het, herroep en miskien ook ’n bietjie geromantiseer: ’n ou, geboë figuur, met die Bybel voor hom oopgeslaan.[63]

Hy het ook Kruger se agteruitgang aanskou. Tydens die laaste maande van die oorlog het Malan aan sy ouers geskryf “Oom Paul” is baie stil en hou hom eenkant. Hy verlaat sy huis slegs Sondae om na die nabygeleë “Dopperkerk” te gaan. “Sy rol is ook haas afgespeel,” was Malan se gevolgtrekking.[64]

Hy het Kruger se laaste openbare verskynings tragies gevind. ’n Paar maande ná die oorlog het die Boeregeneraals Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet Europa besoek. Utrecht het vir hulle ’n spesiale byeenkoms in die Domkerk gereël, wat Malan bygewoon het. Hier het hy die heengaan van die ouer generasie en die opkoms van ’n nuwe, wat hy later self opgevolg het, aanskou:

At the close the oubaas himself ascended the pulpit and addressed the generals and the audience … Though he said nothing particular, yet it was a most imposing and pathetic spectacle to see the old man, as strong and mighty in his days, now bowed down with age and disaster stand up before an audience perhaps for the last time. In the evening, the generals addressed a meeting in a large hall, and spoke well and made a favourable impression. De Wet especially spoke well … About the reception in Paris and Berlin you will have read. In spite of the Kaiser and his government, it is freely stated that for the last thirty-two years Berlin has never again seen the like.[65]

Malan het hom by die Nederlanders aangesluit in sy heldeverering van dié groep mans wat na vore getree het as die nuwe geslag Afrikanerleiers. Veral Christiaan de Wet was tydens die oorlog die liefling van die Nederlandse pers en is geloof as die argitek van die guerrillaveldtog. Sy vermoë om sy vyande keer op keer te uitoorlê en hom telkens los te wikkel uit hul pogings om hom vas te pen het die Nederlandse publiek betower.[66] Die Nederlanders se bewondering vir die generaals het Malan trots laat voel en sy beeld van Afrikaners se morele meerderwaardigheid teenoor die Europese nasies versterk: “Die generaals maak orals ’n diepe indruk, veral deur hul geloof en hul eenvoud. In ’n samelewing wat verlam is deur ongeloof en van kindsbeen af geleer word om agter die masker van sogenaamde beskaafde etiket te huigel, is die verskyning van drie manne, só wêreldberoemd en tog so ongekunsteld, so natuurlik, so vol geloof en so kragtig, ’n ware wonder.”[67]

In teenstelling met sy bewondering vir die Boeregeneraals het Malan ’n afkeer gehad van die Kaapse politici met hul gematigde en buigsame benadering tot die politiek. Die jonger generasie het reeds in Stellenbosch gewys hulle is minder gematig as hul ouers. In die nadraai van die oorlog het Malan geen verdraagsaamheid meer gehad nie en die weë van die ouer geslag verwerp:

In die Kaapse Parlement skyn dit uitstekend vir ons saak te gaan, danksy die dwaasheid van die ultra-jingoparty. Wat vir my die mees weersinwekkende is, is dat daar skynbaar aan ons kant soveel prysgawe van prinsipes is, soveel handeldrywing in beginsels. Natuurlik geskied dit om goeie politieke redes, tog neem dit die onsedelikheid daarvan nie weg nie. Maar die stryd tussen politiek en beginsel is ook al so oud soos Agab en Elia, en niemand het nog daarin geslaag om hulle te verenig nie.[68]

Dié veroordeling van die politiek as iets onsedeliks wat onversoenbaar met beginsels is, was ’n aanduiding van die invloed van sy nuwe mentor, Valeton.

Valeton het in die geskiedenis van godsdiens en die letterkunde van Israel, sowel as die Ou Testament, gespesialiseer. Hy was ’n vooraanstaande teoloog en een van die drie leidende figure in die sogenaamde “latere” Etiese skool. Sy vernaamste werk het oor die Ou-Testamentiese profete gehandel.[69] In April 1900, ses maande voor Malan se aankoms in Nederland, het Valeton ’n lesing met die titel “De strijd tusschen Achab en Elia” gelewer.[70]

In dié lesing het Valeton politiek en godsdiens as teenpole beskryf. Die Bybelse verhaal van Agab het die verskil tussen wêreldse en politieke standpunte aan die een kant en godsdienstige en geestelike waardes aan die ander kant uitgelig.[71] Agab was ’n geslepe politieke strateeg, veral danksy bondgenootskappe met sy bure, hetsy deur middel van ’n huwelik of deur genade te betoon aan diegene wat hy in ’n oorlog verslaan het.[72] Elia was Agab se teenoorgestelde; die man van God wat net een belang gehad het: om sy Skepper te dien. Elia het die politiek en regeringsake, wat Agab se hoofbelange was, as onbenullighede beskou.[73] Vir Valeton was die stryd tussen Agab en Elia die verpersoonliking van ’n groter stryd: “Dit is die stryd tussen politiek en godsdiens, tussen staatsbelang en geloof, tussen opportunisme en beginsel.”[74]

Valeton kon ’n duidelike ooreenkoms tussen sy samelewing en die verhaal van Agab en Elia sien: Die hedendaagse samelewing sou vir Agab prys as ’n “liberale” man, ’n man van sy tyd. Volgens Valeton sou Elia sterk teen hom afsteek:

Elia is die bekrompe man, die man wat maar net één doel voor oog het en alles daarvoor sal opoffer. Elia is onverdraagsaam en hard; nou ja, groot en geweldig, maar op ’n wyse wat ontsag maar ook verontwaardiging wek. Vir ’n idee offer hy alles op, menselewens beteken vir hom niks … ook staatsbelang is vir hom niks. Wat ’n man! ’n Stormwind, ’n weerligstraal, alles neerwerpend en alles versengend; om vanaf ’n verte te bewonder, maar om van naby soveel as moontlik te vermy![75]

Ondanks die publiek se afkeer van so ’n harde en verkrampte profeet was Elia duidelik ’n beter man – een wat sy redding nie by die staat gesoek het nie, maar by die ewige en onveranderlike God. Valeton het die Bybelse beginsel opgeroep: “Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe verloor?”[76]

Valeton het die politiek as iets vuils uitgebeeld, wat nie met godsdiens versoen kon word nie. Daarteenoor het hy Elia as die ideale man voorgehou: iemand wat onbuigsaam, ongewild en geïsoleerd was, maar nogtans beter as ’n beminlike man soos Agab. Elia was ’n man wat bereid was om sy beginsels te dien, sonder om resultate in sy leeftyd te verwag. [77]

Malan het hierdie ideale ongetwyfeld sy eie gemaak en godsdiens en politiek as onversoenbare pole begin beskou. Hy was oortuig ’n mens kon slegs in die politiek slaag deur “te swyg, te bemantel, toe te dek, byna goed te keur, die misdadiger toe te juig”.[78] Wat nóg erger was, was politici wat hul ondersteuners se godsdiens uitgebuit het om steun te werf:

Godsdienstige beginsels … na my insig, moet geregtigheid en waarheid najaag en in die Naam van God verdedig, en derhalwe alle onreg en misdaad en sonde in vriend of vyand, hetsy in ’n enkele individu of in ’n ganse volk, ontbloot en veroordeel. En waar ’n mens die godsdiens by die hare insleep om politieke wins te help verkry, daar offer mens ewige belange vir die tydelike op, daar verneder mens die godsdiens.[79]

In die nasleep van die Anglo-Boereoorlog, toe Afrikaners met die hulp van grondwetlike middele na die herwinning van hul politieke mag begin streef het, het Malan met die aard van daardie strewe geworstel. In daardie stadium het slegs die Kaapse Afrikaners stemreg gehad – die eerste verkiesings in Transvaal en die Vrystaat het eers in 1907 plaasgevind. Die Kaapse politieke tradisie van verdraagsaamheid en tegemoetkomendheid was dus skynbaar die enigste middel om mag te kry.

Malan het dit moeilik gevind om dié stand van sake te vereenselwig met sy nuwe opvattings oor ononderhandelbare beginsels en die voorrang van ewige belange bo die tydelike. Hy kon nie anders as om die Kaapse politiek te veroordeel nie, selfs al was dit al weg tot politieke mag. Dit het nie meer oor die blote verkryging van politieke mag gegaan nie. Die wyse waarop daardie mag bekom word, was nou belangriker:

Dat ons weer politieke mag in die hande sal kry, is nie volstrek onmoontlik nie, maar dan moet dit gebeur langs die weg wat deur die Kaapse politiek aangewys word – deur toegewings op nasionale gebied, deur die bestaan van ’n Afrikaner-volk met sy eie geskiedenis, nasionaliteit, taal en sedes dood te swyg; en indien die weg gevolg word – gegewe ons volk se bekende onselfstandigheid – sal daar oor 30 jaar weinig rede wees, wat tans nog die geval is, om van ’n Afrikanervolk te praat. As ek moet kies – en dit skyn vir my of ons volk meer en meer voor die keuse te staan kom – tussen die besit van politieke mag aan die een kant, en aan die ander kant die behoud van ’n eie nasionaliteit, berustend op ’n eie volksroeping en ’n eie geskiedenis wat aan ons kant nie gebore is uit rassehaat of die versugting om ’n ander volk te oorheers nie, maar wat die beliggaming is van ’n hoër beginsel – ’n geskiedenis wat daarom ook nie onder soete konsiliasie gepraat begrawe mag word nie; as ek voor die keuse geplaas word, dan kies ek vir my part nog altyd die laaste – die nasionaliteit sonder die politieke oorhand.[80]

Vir Malan moes mag sonder enige toegewings verkry word, of andersins hoegenaamd nie. Terselfdertyd was hy daarvan oortuig dat Afrikaners sou uitsterf as gevolg van die Britte se kulturele oorheersing. Afrikaners moes op die een of ander manier hul nasionaliteit handhaaf. Wat hulle nodig gehad het, was manne soos die Bybelse Elia – soos deur Valeton uitgebeeld. Dié geïdealiseerde beeld het Malan se rolmodel geword. Hy het uiteindelik geweet wat sy roeping was: Hy wou sy lewe wy aan die bewaring van die Afrikanervolk. Hy het sy aspirasies met ’n getroue vriend gedeel:

Ons volk, nieteenstaande die hoë lof van die nie-Engelse wêreld, is wesenlik arm aan manne van beginsel. Ons het vele maaiers wat maar al te gereed staan om die vrugte te pluk en die eer weg te dra. Tog is daar weinig saaiers, wat weet dat hulle nie sal maai nie, maar nogtans saai asof hulle sou maai. Elkeen gryp na wat voor sy oë is, strek sy hand uit na wat naby lê, jaag na dit wat hy self sal kan sien en geniet. Weinig is tevrede om ongesiens en onbekend, heg en deeglik, die fondamente te lê vir ’n gebou waarvan hulle nie die voltooiing sal aanskou nie, om te lewe vir ’n gedagte, te sterf vir ’n ideaal, waarvan hulle op die verwesenliking kan voorberei, dog dit self nie sien nie.

Ek het my voorgeneem om met my swakke kragte te gaan werk vir die Afrikanervolk en nie ’n duimbreedte van die weg te wyk nie. Om dit aan die volk duidelik te maak dat God ook in sy geskiedenis Koning is, en dat Hy as sodanig in die volkslewe erken moet word, is net soveel ’n uitbreiding van God se koninkryk as om die Evangelie aan die heidene te verkondig. Tog het daar in die laaste tyd vir my niks duideliker geword as dat die man wat daarvoor wil werk dat die Afrikanervolk homself op sy eie grondslag ontwikkel, dat hy ’n eie volk sal wees met sy eie geskiedenis, taal, karakter en ideale, wat op sy eie wyse God se Koninkryk in homself sal verwesenlik, dat dié man heftige teenstand sal kry, en nie die minste van sy eie volk nie. Hy sal aangesien word as ’n ekstremis, ’n dweper, ’n kleinsielige.[81]

Malan wou soos Elia wees: ’n man van beginsel, wat nie geïnteresseerd was in tydelike belonings nie, maar slegs in die ewige, selfs al sou hy die vrug van sy arbeid nie in sy eie leeftyd smaak nie, en selfs al sou dit beteken dat hy as ekstremis bestempel word. Hy sou nie kon raai hoe profeties sy woorde was nie. Jare later, toe hy geworstel het met ’n keuse tussen die kerk en die politiek, het Valeton se Agab en Elia weer by hom gespook.

Malan se bewondering vir Elia het by sy geaardheid gepas. Al het hy duidelike leierseienskappe gehad, was hy altyd stil, ernstig en effens eenkant. Toe al die Afrikanerstudente op ’n keer in Utrecht bymekaar was, en, soos studente maar maak, hul professors se deugde bespreek het, het Malan stilgebly terwyl sy vriende meegevoer geraak het oor hul geleerde meesters se briljantheid. Hy het gewag tot hulle min of meer die hoogtepunt van hul bewondering bereik het voordat hy kommentaar gelewer het: ’n Goeie professor is eenvoudig ’n goeie student. As hy nie self ’n goeie student is nie, kan hy ook nie ’n goeie professor wees nie. Sy woorde het nugterheid gebring, waarna die bespreking stoom verloor het.[82]

Malan se professors het hom egter ook maar senuweeagtig gemaak wanneer eksamentyd aangebreek het. Aan Nettie het hy geskryf: “Vir Oubaas Valeton is ek nie bang nie – hy is ’n te jolly ou om die moeilikste dinge vir my te bêre. Vir Lamers ook nie te erg nie. Maar vir Van Veen en veral vir Baljon met sy kaal kop sidder ek.”[83]

As Valeton se loseerder het Malan goed geweet presies hoe “jolly” hy was. Malan het Valeton aan sy suster beskryf as “baie gesellig en kinderlik, en stel net soveel belang in die vraag van hoeveel eiers sy hoenders gelê het as in die vraag of die boek Jesaja deur één of deur twee profete geskryf is”.[84]

Malan se belangrikste teologiese vorming het in Valeton se sitkamer plaasgevind. Hier het die twee hul “gebruiklike drie koppies tee” gedrink en gesels.[85] Malan het Valeton as die universiteit se knapste teoloog beskou[86] en het sy menings oor Etiese teologie en Hoër Kritiek opgeslurp.

Valeton se benadering tot die teologie het gewentel om sy begrip van openbaring. Alle kennis van God is op openbaring gegrond, hetsy deur die “algemene openbaring”, wat deur die natuur en die geskiedenis geopenbaar word, of deur die “besondere openbaring”, wat in Israel se geskiedenis en die figuur van Jesus Christus manifesteer. In daardie opsig is die Bybel ’n wyse waarop God Hom openbaar. Valeton het die gedagte dat die Christelike geloof van kerklike dogma of die historiese akkuraatheid van die Bybel afhanklik is, verwerp. Geloof is op die individu se persoonlike ervaring daarvan gegrond en nie op akademiese argumente nie. Dié persoonlike ervaring is van God afkomstig en kan daarom nie van Hom verwyderd wees nie. Daarom het Valeton ook geglo teologiese kennis is slegs vir gelowiges toeganklik.[87]

Aangesien sy eie geloof in die ervaring van God gewortel was, kon Valeton die bevindinge van die histories-kritiese metode, wat in dié tyd omstredenheid in teologiese kringe veroorsaak het, aanvaar sonder dat dit die grondslag van sy geloof bedreig het. Hoewel dit nie die fokus van sy navorsing was nie, het hy dit as ’n metode gebruik om God se openbaring in die geskiedenis van Israel te bestudeer.[88]

Die histories-kritiese metode, wat ook Hoër Kritiek genoem is, het die Bybel nie as ’n bron van bonatuurlike openbaring benader nie, maar as ’n dokument wat binne ’n bepaalde konteks geskep is en daarom ook kritiese studie regverdig. Dit het beteken die studie van die argeologie, linguistiek, mitologie en soortgelyke vakgebiede het belangrike hulpmiddels vir die bestudering van Antieke Israel se godsdiens gebied.[89]

Dié sienswyse het Valeton met Abraham Kuyper laat bots. Kuyper was Nederland se voorste verteenwoordiger van die Gereformeerde teologie (ook bekend as die Neo-Calvinisme) en hy het Hoër Kritiek verwerp. Hy het die Bybel se historiese akkuraatheid onkrities aanvaar – alles in die Bybel is waar en akkuraat gewoon “omdat dit daarin staan”.[90] Dit was sy verergde verweer teen Valeton en ander se vrae oor die meer problematiese aspekte van Bybelse interpretasie. As gevolg van Valeton se prominensie as teoloog en sy rol in die formulering van Etiese teologie het hy ’n teiken vir Kuyper se aanvalle in die pers geword. Dié aanvalle was deel van Kuyper se breër veldtog teen alle gevestigde teoloë omdat hy die Vrye Universiteit van Amsterdam aan die oprig was en die polemiek wou gebruik om voornemende teologiestudente te lok.[91]

Waar Valeton politiek en godsdiens as twee onversoenbare pole uitgebeeld het, het Kuyper, wat in 1901 eerste minister van Nederland geword het, die teenoorgestelde gedoen. As teoloog, koerantredakteur en politikus het hy die twee dwarsdeur sy kleurryke loopbaan lustig gekombineer.[92] Hy kon dit regverdig deur die beginsel van “soewereiniteit in eie kring”, wat aanvoer die samelewing bestaan uit onafhanklike sfere, maar elk is aan God se gesag onderworpe. Dus is die sfere van die staat en die politiek ook aan godsdienstige beginsels onderhewig.[93]

In dié stadium van sy lewe het Malan sy mentor se kant gekies. In latere jare het hy, al het hy ’n kopie van Kuyper se Het Calvinisme en ’n paar ander standaardwerke oor die teologie besit, nooit veel geesdrif vir Kuyper se teologie getoon nie. Malan het ook nie veel simpatie met die Doppers, wat Kuyper se teologie ywerig nagevolg het, gehad nie. Onder Valeton se leiding het Malan Hoër Kritiek beoefen, wat hom onderskei het van Kuyper en sy Dopper-volgelinge.[94] In Suid-Afrika het die spanning tussen Neo-Calvinisme en Hoër Kritiek in die vroeë 1930’s tot uitbarsting kom in die vorm van die Johannes du Plessis-saak, wat ’n letsel op die NG Kerk en Stellenbosch se kweekskool gelaat het.[95]

Valeton se stelling dat alle kennis van God die produk van sy openbaring is, het neerslag gevind in die onderwerp wat Malan vir sy doktorale proefskrif gekies het. In April 1903 kon Malan aan sy ouers skryf hy is sy doktorale eksamens met vlieënde vaandels deur en hy is nou ’n “doctorandus”. Die tweede deel van die woord beteken hy was nog nie ’n doktor nie, maar dat hy goed op pad was daarheen.[96]

Met sy oë altyd op Suid-Afrika gerig, wou Malan graag ’n tesis oor die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis skryf, maar dit was onmoontlik omdat soortgelyke werk reeds in Suid-Afrika aan die gang was. Voorts was die argiewe wat hy daarvoor sou moes raadpleeg ook in Suid-Afrika. Malan het toe maar ’n filosofiese onderwerp gekies: biskop George Berkeley se filosofie van Idealisme. Al het hy die filosofie nog altyd geniet, het die vooruitsig om ’n doktorale proefskrif oor so ’n abstrakte onderwerp te skryf hom effens afgeskrik. Hy was benoud oor die taak wat voorgelê het,[97] maar het nietemin aan die werk gespring. Sy eerste stap was om Londen te besoek, waar hy materiaal versamel het. Die stad en sy mense was vir hom weersinwekkend:

Die stad is groot en woelig, maar vuil. Ek wil nie hier woon nie … Verder was daar genoeg om te sien wat ’n Afrikaner bloedig sal vererg. Groter skaamteloosheid het ek nog nooit gesien nie, en dit van ’n volk wat ’n roeping het om die wêreld te regeer, te beskaaf en te verchristelik. So het hulle onder meer ’n museum waar hulle hul buit ten toon stel. Daar is ook ’n S.A. versameling. ’n Groot deel hiervan bestaan uit familiebybels wat hulle uit ons huise gesteel het … in die Crystal Palace staan daar nog afskuwelike afbeeldings, Steyn, Kruger en mev. Kruger as “South African knock-them-downs”, mikpunte vir liederlike Engelse. Inderdaad, hulle vergewe en vergeet.[98]

Dit was in strakke teenstelling met die Nederlanders se euforiese verering van die Boere. Vir Malan het Britse imperialisme alles wat haatlik was, verteenwoordig. Dit was die teenoorgestelde van kulturele verskeidenheid, wat vir hom die ideaal was. Dié ideaal is nog dieper by hom ingeprent deur die Wêreld­konferensie van Christelike Studenteverenigings, wat hy in Augustus 1902 in Denemarke as verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse tak bygewoon het.[99] Die konferensie het ’n blywende indruk op hom gemaak, en hy het dit aan sy suster probeer beskryf:

Dit is hier, wat volke en tale betref, ’n ware Babel, maar nie ’n Babel wat skei en uiteendryf nie, maar wat weer saamvoeg onder die banier van Christus. Die Chinees en Japannees het halfpad om die wêreld gereis om die konferensie by te woon. Onder andere het ons hier ook sulke eksemplare van die mensdom as Hongare, Portugese, Russe, Noorweërs, Swede, Italianers, ’n Siriër, ’n Bulgaar, ’n paar Finne en selfs ’n Yslander. Die tale wat meestal hier gepraat word is Engels, Duits, Frans, Deens en Sweeds. Hierdie vergadering is vir my so ’n skone belofte vir die mensdom se toekoms. Iedere volk word hier toegelaat en dit word verwag dat hy sy eie metodes sal volg, sy eie nasionale eienskappe sal behou. Geen oorheersing deur die sterkere, of vertrapping of miskenning van die regte van die swakkere nie. Geen imperialisme of doodse uniformiteit nie, dog federasie en ryke verskeidenheid. God se Koninkryk sal só tot vervulling kom, wanneer elke volk homself sal wees en daardeur sy Godgegewe plek en roeping sal vervul. Tog word almal tesame ook saamgebind deur die erkenning van God se Koningskap en lojaliteit aan Hom en Sy diens. Daar is geen ander onverbreekbare band tussen die volke soos dié nie.[100]

Dekades later, toe Malan die apartheidsbeleid aan sy ondersteuners beskryf het, het hy dié ideaal herroep. Malan se vertolking van die kongres het die NG Kerk se benadering tot sendingwerk weerspieël. Dit het berus op die begrip van ’n “volkskerk”, ’n kerk wat sy lede se taal, kultuur en sosiale gebruike in ag neem. Die kerk het hierdie benadering uitgeleef deur in 1857 aparte eredienste in te stel, en in 1881 is die Sendingkerk vir bruin lidmate gestig. Sodoende het die kerk bygedra tot die samelewingsorde wat Suid-Afrika in die 20ste eeu gekenmerk het.[101]

Die NG Kerk is beïnvloed deur Duitse sendingorganisasies se stelling dat die nasies van Afrika en Asië die geleentheid moes hê om hul Christenskap binne hul eie kulturele raamwerk uit te leef. Die oorsprong van dié oortuiging, dat aparte volkskerke gestig moes word wat dan hul lede se taal en tradisies respekteer, kan na die invloed van Duitse Romantisisme teruggelei word.[102] Agting vir elke nasie se kulturele uniekheid en die bewaring van die moedertaal was die kenmerk van die Duitse Romantiese filosoof Johann Herder. Malan het nooit spesifiek na Herder verwys nie, maar hy het ’n bewondering gehad vir die werk van Johann Gottlieb Fichte, wat Herder se gedagtes oor taal geëggo het.

In dié verband is taal nie bloot ’n kommunikasiemiddel nie, maar ’n uiting van die nasionale siel. Dit is beskou as ’n sleutel tot menslike geluk omdat dit diegene wat dit kan verstaan, verenig en sowel die individu as die groep in staat stel om hulle te definieer.[103] Vir Malan het taal dus uiters belangrik geword. Die Britte se kulturele hegemonie en die oorheersing van die Engelse taal het hom gegrief, veral omdat hy vas geglo het dit was daarop gemik om die Afrikaner te versmoor. Die oplossing het vir hom in moedertaalonderrig gelê:

As ons enigsins ’n kans sal hê om ons nasionaliteit te behou, moet ons onsself allereers besig hou met die onderwyskwessie. Die Engelse spits hulself daarop toe om ons juis op dié punt die genadeslag toe te dien. Hulle sal sorg dat Engels die medium van onderrig in alle staatskole is en Hollands sal slegs as ’n vreemde taal geduld word. Daar is geen sekerder middel om ons te verengels nie. As ons koloniale skole bly voortgaan soos in die verlede, dan sterf ons taal uit, so seker as wat twee maal twee vier is. Die allerbeste wat ons dan nog sal kan wees, is Engelse pro-Afrikaners – en dit wil ons tog nie hê nie. Ons wil Afrikaners hê. Indien Hollands nie die medium van onderrig in Afrikanerregeringskole kan wees nie, het dit hoogtyd geword dat ons skole wegbreek en op hul eie bene gaan staan. Dit sal wel vir ons moeilik wees, maar ons nasionaliteit is dit meer as werd. Sulke Afrikanerskole, los van die Staat, met Hollands as medium van onderrig, is wat die Transvalers wil gaan oprig.[104]

Malan se oortuiging dat die sleutel tot sy volk se oorlewing in sy taal lê, was ’n weerklank van Fichte se uitgangspunt. Malan se fokus op taal en kultuur is ook tipies van die klassieke nasionalisme omdat die meeste nasionalismes hul ontstaan in kulturele kruistogte het. Dit gebeur nog lank voor die nasionalismes polities word, dit wil sê oor die middele begin beskik om ’n eie regering te vorm.[105]

Vir Malan het die sleutel tot Afrikaneridentiteit egter nie in die Nederlandse taal gelê nie. Nederlands was voorlopig beter as Engels en Afrikaners kon dit gebruik om hul man te staan, maar die ware toekoms was in Afrikaans. Afrikaans het aan die volk behoort en sy liefde laat opvlam soos geen ander taal nie.[106] Malan het daarop aangedring dat Afrikaans tot ’n nasionale taal verhef moes word, ten spyte van diegene wat dit nie as ’n ware taal beskou het nie en neerhalend daarna verwys het as “Kitchen-Dutch”. In ’n brief aan ’n Nederlandse koerantredakteur het hy geskryf:

Gee aan Afrikaans die status wat dit toekom, as moedertaal van die volk, die taal wat soos geen ander kan uitdruk wat in die hart van die volk omgaan, die taal waarin die volkskarakter weerspieël word. Leer die volk sy taal, om sy eie taal nie te verag nie, nie as ’n kombuistaal te beskou nie, nie skaam te wees om haar te skryf nie, haar te praat in die kombuis of in die parlement, in die stal of in die voorkamer, haar te waardeer en lief te hê as ’n allerbelangrikste deel van sy nasionale besit.[107]

In dieselfde brief het Malan ook uitgestippel hoe die verhouding tussen Engelssprekendes en Afrikaners moet wees:

’n Mens kan daarop wys dat daar ’n breë basis is – liefde vir S.A. as vaderland, en die handhawing van haar belange bo dié van alle ander lande – waarop Engelse en Afrikaners saam sou kon werk … Ek bedoel dit: die regering moet erken dat S.A. ’n land is wat deur twee blanke nasionaliteite bewoon word, wat selfstandig naas mekaar staan en wat albei vry is sonder dat een oor die ander heers … Afrikaners en Engelse Suid-Afrikaners vorm dan gesamentlik, op die breë basis van “Suid-Afrika my vaderland” ’n Suid-Afrikaanse volk. Die volk bestaan dan egter uit twee seksies, of liewer, twee verskillende volke wat nie teenoor mekaar staan nie, maar selfstandig naas mekaar staan. U sou merk dat ek ’n onderskeid tref tussen Afrikaners en Suid-Afrikaners.[108]

Hierdie laaste stelling, dat daar ’n verskil tussen Afrikaners en Suid-Afrikaners is, is van groot belang. Malan het die term in ’n eksklusiewe sin gebruik – slegs Afrikaanssprekendes kon Afrikaners genoem word. Die begrip “Suid-Afrikaner” was breër en dit is hier waar Afrikaners en Engelssprekendes kon byeenkom. Daarteenoor het genl. J.B.M. Hertzog, die man wat later die Nasionale Party (NP) gestig het, dikwels verwarring veroorsaak, want daar was nooit enige duidelikheid oor sy gebruik van die term “Afrikaner” nie. Soms het hy dit op só ’n manier gebruik dat dit Engelssprekendes wat lojaal teenoor Suid-Afrika pleks van Brittanje was, kon insluit.[109] Waar Hertzog die woord vaag en dubbelsinnig gebruik het, was Malan se beskrywing van ’n Afrikaner helder en onomwonde.

Malan het Hertzog – die man onder wie hy later vir ’n groot deel van sy politieke loopbaan gedien het – in daardie stadium nog nie ontmoet nie, maar hulle was reeds verbind deur ’n gemeenskaplike vriend, M.T. Steyn, voormalige president van die Oranje-Vrystaat. Ná die oorlog het Steyn se verswakte gesondheid hom genoop om mediese behandeling in Europa te ontvang. Hy is deur sy gesin vergesel, saam met wie hy die somer van 1903 by Reichenhall in Duitsland deurgebring het. Teen daardie tyd was Malan al aan die worstel met sy tesis en hy het besluit om ’n stil plek te vind waar hy verder daaraan kon werk.[110] Hy het na Reichenhall teruggekeer – waar hy geweet het hy ook die Steyns kon ontmoet.

Hulle het hom met ope arms ontvang en deel van hul groot, uitgebreide gesin gemaak.[111] Hy was in vervoering met sy eerste besoek en het aan Nettie geskryf: “Ek het President Steyn en sy familie besoek en is baie vriendelik ontvang … Hulle huis is net soos enige ander Afrikaanse huis. Met familielede en vriendekring tel die gesin seker sowat vyftien. Die Pres. het gesê dat ek maar by sy huis moet in- en uitloop op die eg-Afrikaanse manier, sodat ek geen gebrek aan geselskap sal hê nie … Hy is opgewek en vol grappe.”[112]

’n Paar dae later skryf hy opgewonde aan sy pa: “Pres. Steyn sien daar heel goed uit. Hy en sy familie is baie vriendelik. Ek kom nogal dikwels by hulle aan huis. Vandag het ek daar geëet. Môre gaan ek (D.V.) saam met sommige van sy huisgenote op ’n uitstappie in die omgewing. Mrs. Steyn is ’n baie vriendelike en ongekunstelde Afrikaanse vrou en die President self is presies soos een van ons tipiese Afrikaanse boere. Daar is so min styfheid by hom as by die eenvoudigste Afrikaner. Dit is heerlik om weer eens ’n Afrikaner-huisgesin te sien. Dit is, glo ek, die eerste sedert ek uit Afrika weg is.”[113]

Vergeleke met die Nederlanders se strenge sosiale etiket was die informele atmosfeer by die Steyns vir Malan verfrissend en soos ’n bries uit die suide. Gegewe sy geaardheid het Malan sekerlik met die ouer staatsman oor politiek gesels. Steyn was ’n bittereinder, ’n leier wat sy generaals aangespoor het om so lank as moontlik op die slagveld te bly en nie die Boererepublieke se onafhanklikheid prys te gee nie.[114] Die vriendskapsband wat in die somer van 1903 gesmee is, het die res van hul lewens voortgeduur en die Steyns was dwarsdeur sy politieke loopbaan vir Malan ’n bron van ondersteuning.

Toe die somerson uiteindelik begin verflou, het Malan na Utrecht teruggekeer en sy kamer ontruim. Hy wou ’n paar maande lank in Edinburg gaan werk en kon nie van Valeton verwag om sy kamer vir hom uit te hou nie. Malan het einde September in Edinburg aangekom,[115] waar hy hom in sy werk verdiep het. Die tydperk was nie sonder frustrasies nie. Teen Januarie 1904 het hy by Nettie gekla hy het nog nie ’n enkele woord op papier nie.[116] Teen Maart was hy terug in Utrecht, in ’n nuwe kamer, en teen dié tyd was sy skrywery wel goed op dreef.[117] Die meeste van die werk het hom erg verveel – dit was vir hom “so droog soos ’n kurkprop”,[118] maar daar was darem ook oomblikke wanneer alles vir hom verhelder het en vir hom interessant was.[119]

Malan se studie het oor die Ierse biskop George Berkeley gehandel. Berkeley se Idealisme – wat ook as Immaterialisme bekend staan – was baie abstrak en moeilik om te verstaan. Sy mees omstrede, en berugte, stelling was dat materie nie bestaan nie. Dit het die kleurryke Britse skrywer Samuel Johnson na ’n klip laat skop onderwyl hy gebulder het: “I refute it thus.”[120] Volgens Berkeley kon ’n mens ’n voorwerp slegs deur jou sintuie waarneem en aangesien jou sintuie deel van jou verstand vorm, is dit onmoontlik om iets waar te neem, of die bestaan daarvan te bepaal, sonder die gebruik van ’n verstand. Alle dinge bestaan dus kragtens die verstand en niks kan buite die verstand bestaan nie. Esse est percipi: Om te wees, is om waargeneem te word, was Berkeley se grondstelling. Dit beteken nie die voorwerp hou op bestaan wanneer ’n mens se verstand dit nie meer waarneem nie – dit is voldoende dat ’n verstand dit waarneem. God se alomteenwoordige waarneming waarborg dus die bestaan van alle voorwerpe.

God was die middelpunt van Berkeley se filosofie. Dit was ’n tyd waarin vooruitgang in die wetenskap die ateïsme meer aanloklik gemaak het en Berkeley het die wêreld se afhanklikheid van God probeer beklemtoon.[121] Hy het aangevoer alle persepsies en idees het hul oorsprong in God se verstand. Malan het baie van Berkeley se idees aanvaar. Jare later sou hy na God verwys as “’n Oppermagtige Brein”, ’n Groot Ingenieur wat die Afrikanervolk se weg ontwerp het.[122]

Intussen was Malan oorweldig deur al die leeswerk wat hy moes doen. By Nettie het hy gekla al die “ismes” is genoeg om enigeen dronk te maak – idealisme, realisme, immaterialisme, nominalisme – daar is geen einde aan nie.[123] Hy moes teësinnig maar daarmee vrede maak dat sy verblyf in Nederland langer sou wees as wat hy eers gedink het.[124]

In teenstelling met sy verhouding met Valeton het Malan nie ’n noue band met sy promotor, prof. Hugo Visscher, gehad nie. Visscher was ’n politieke aanstelling wat in 1904 deur Kuyper op die universiteit se teologiefakulteit afgedwing is.[125] Hy is moontlik kort ná Malan se terugkoms uit Edinburg as sy promotor aangestel, en dus nadat Malan sy onderwerp reeds geformuleer en die meeste van sy navorsing afgehandel het.

Malan het die skryfproses vermoeiend gevind, en die onderwerp so moeilik en omvangryk dat hy geworstel het om al die los drade bymekaar te hou.[126] In die lenteweer het hy sy vensters so wyd as moontlik oopgehou,[127] maar die vars lug het nie vir meer helder gedagtes gesorg nie. Hy was nooit tevrede met die hoeveelheid werk wat hy verrig het nie en met tye het hy so gesukkel om te konsentreer dat hy skaars iets kon uitrig, wat sake vererger het.[128] Toe die somer aanbreek, het Malan besluit om nêrens heen te gaan nie, maar om deur te druk en sy tesis klaar te maak.[129] Al wat hy wou doen, was om huis toe te gaan.

Die spanning het sy tol begin eis. Sy handskrif het bykans onleesbaar geword. In ’n brief aan Nettie kon hy skaars ’n behoorlike paragraaf skryf en het hy net ’n lys punte neergepen. Een van die punte het eenvoudig gelees: “Ten vyfde: Dit is warm hier.”[130]

Sy ouers was bekommerd oor hom, maar hy het probeer om hul kommer te besweer in ’n brief waarin sy letters beduidend swak gevorm is – in teenstelling met sy gebruiklike duidelike handskrif wat ’n plesier was om te lees. Dit moes sy ouers ’n aanduiding van sy gemoedstoestand gegee het:

U moet nou nie dink dat ek op sterwe na dood is nie. Ek glo dat as ek aan u geskryf het dat ek dodelik siek is, u dadelik sou dink: Nee, nonsens, so erg kan dit nie wees nie; dit is net praatjies. Noudat ek egter skryf dat ek ’n bietjie rus nodig het en ’n behoefte om die lang, moeilike en eentonige werk vir ’n week of wat te vergeet, nou dink u skielik: Die man is byna dood. Nou, daar is gelukkig geen rede om ongerus te wees nie. Ek is, om versigtig te wees, na die dokter en hy het gesê dat daar niks radikaal verkeerd is nie. Die enigste ding is dat my senuweestelsel ’n bietjie uit haak uit is, wat met ’n bietjie sorg en versigtigheid en verandering vanself reg sal kom. Hy het my aangeraai om vir ’n tydjie buite die stad te gaan werk, op ’n plek waar ek tegelykertyd ’n kouewaterkuur kan ondergaan.[131]

Malan het die dokter se raad gevolg en hom vir ses weke by ’n sanatorium naby Arnhem ingeboek. Hy het geluister na sy oppassers se instruksies om ’n sekere hoeveelheid slaap in te kry en het lang ente in die mooi omgewing gaan stap. Hy is aangesê wat om te eet en is slegs toegelaat om vier uur per dag te werk. Malan het besef sy obsessie om sy proefskrif so gou as moontlik af te handel het hom tot by dié punt gedryf.[132]

Sy verblyf by die hersteloord het gehelp en teen vroeg Oktober is sy tesis voltooi en na die drukkers gestuur. In ’n brief aan sy ouers, in ’n veel kalmer trant en met sy letters terug na hul ou, leesbare vorm, kon Malan sy nuutgevonde wysheid deel dat “dit veel makliker gaan om te profeteer dat ’n mens ’n dissertasie in soveel tyd sal skryf as om dit werklik te doen”.[133]

In Utrecht kon Malan uiteindelik voorberei vir die geleentheid waarna hy al meer as vier jaar uitgesien het: sy terugkeer na Suid-Afrika. Sy promosieplegtigheid was op 20 Januarie 1905 en ’n reuse-sukses. Malan het sy professore se vrae kalm en duidelik beantwoord en sy graad cum laude geslaag.[134] Hy en sy vriende is agterna by Valeton aan huis ontvang, wat as ’n buitengewone gebaar beskou is: Dit was ’n aanduiding van die band tussen mentor en protégé.[135]

Malan het sy terugreis op ’n Duitse skip, die Kroonprinz, bespreek. Pres. Steyn en sy gesin was op dieselfde skip op pad terug huis toe.[136]

Sy tyd in Nederland het van Malan ’n wel ter tale jong Afrikaner-nasionalis gemaak, die produk van ’n Vastelandse opvoeding. Hy het ’n onafhanklike denker geword wat die opkoms van nasionalisme in Europa voor die vernietiging van die Eerste Wêreldoorlog beleef het. Op dié wyse is sy Afrikaner-nasionalisme deur 19de-eeuse Europese nasionalisme beïnvloed. Terug in Suid-Afrika het dit die voorbeeld geword wat hy nagestreef het.

* Rassistiese terme is in talle van die oorspronklike dokumentasie gebruik. Hier en elders behou vir historiese akkuraatheid.

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme

Подняться наверх