Читать книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts - Страница 8

Оглавление

3 (1905-1912)

Die predikant van Montagu


Die man wat na Suid-Afrika se somerhitte teruggekeer het, was nou ’n geleerde doktor – in ’n land waar dié titel ontsag wek en predikante aan die spits van hul gemeenskappe leef. Tog was hy steeds onseker van homself. Hy was 30 jaar oud, maar hy was pynlik bewus van sy gebrek aan ervaring en hy was oortuig ander kon dit ook sien, veral sy pa wat half spottend gesug het: “Ja, Danie, jy het nou só lank gestudeer dat jy amper oud genoeg is om af te tree.”[1] Die woorde was goedig bedoel, maar het seergemaak.[2]

Sy gesinsopset het in sy afwesigheid verander. Sy pa het afgetree en die plaas oorgegee aan Fanie, wat intussen getroud is. Al het hy geweet hy sou nooit ’n boer kon wees nie, het dit nogtans vir Malan gevoel asof die band tussen hom en sy heimat verbreek is. Die gedagte dat hy voortaan slegs ’n besoeker sal wees in die huis waar hy gebore is, het hom weemoedig gemaak.[3]

Hy moes nou sy eie, onafhanklike treë begin gee. Die vooruitsig om self ’n gemeente te lei, was vir hom steeds te veel – hy wou eerder ’n hulpprediker wees in ’n gemeente waar hy by die senior predikant kon leer.[4] In Mei 1905, nadat hy sy admissie-eksamens geslaag het,[5] het Malan die pos van hulpprediker in die Heidelberg-gemeente in Transvaal aanvaar.

Hy het by die predikant, ds. Adriaan Louw, in die pastorie tuisgegaan.[6] Louw het Malan en sy gesin goed geken: Hy was in die 1880’s Riebeek-Wes se predikant en bevriend met Malan se ouers.[7] Louw het die jong Malan se vordering met belangstelling dopgehou en hom kort ná sy terugkoms in Suid-Afrika genooi om by hom aan te sluit.[8]

Malan se aankoms in Heidelberg het met ’n besige tyd op die kerkkalender saamgeval. Dit was Pinkster en die geslaagde Pinksterdienste waartydens ’n klomp nuwe siele tot bekering gekom het, het hom verheug.[9] Sy groot dag toe hy amptelik as predikant van die NG Kerk gelegitimeer is, het op 29 Julie 1905 aangebreek. Nie een van sy gesinslede kon dit bywoon nie, wat vir hom hartseer was, maar sy ou skoolmeester Theunis Stoffberg en sy vrou was teenwoordig.

Die geleentheid is as iets besonders beskou, want Malan se legitimering het met ’n sendingkonferensie in Johannesburg saamgeval. Die afgevaardigdes het besluit om die seremonie in Heidelberg by te woon en so het dit gebeur dat ’n ongehoorde 17 predikante vir hom hul seën kon gee.[10] Hulle het in ’n halfmaan om hom saamgedrom waar hy voor die preekstoel gekniel het, elk met sy arm uitgestrek om ’n hand op sy kop te lê.[11]

Die gemeenskap waarin Malan hom nou bevind het, het die letsels van die Anglo-Boereoorlog gedra. Altesame 867 gemeentelede is op die slagveld of in konsentrasiekampe dood.[12] Die kerkraad het uit geharde stryders bestaan: Een van sy lede het ’n arm verloor, ’n ander albei sy oë. Die dorp het ook ’n groot weeshuis vir oorlogswesies gehad.[13] Toe “dr.” Malan aan die Sondagskool voorgestel word, het die predikant se jong dogter, wat nie die verskil tussen ’n dokter en doktor geken het nie, verheug uitgeroep: “Maar dan kan hy mos sommer die weeskinders verniet dokter!”[14]

Die Heidelberg-gemeente se kudde was yl gesaai, al met die Vaalrivier langs, wat beteken het Malan moes soms 14 uur aaneen reis om gemeentelede aan die buitewyke van die distrik te besoek. Op dié afgeleë plase het hy dienste gelei vir mense wat voor die oorlog laas ’n diens in die dorp bygewoon het. In ’n beknopte, uitgebrande waenhuis het die versengende hitte sy stem letterlik weggeslaan terwyl hy sy verarmde kudde probeer bedien het. Hier, op die plase, het hy haglike armoede teëgekom, veral onder die bywoners.[15]

Tog, ondanks al die swaarkry wat hy moes aanskou, het die mense Malan besiel. Aan Nettie Fourie het hy geskryf:

Moet my nie verkwalik dat ek dit so ronduit sê nie – ons het al heelwat hieroor gepraat. Wat ’n verskil in dié opsig tussen die Transvaal en die Kolonie? Om hier Afrikaans te wees (nie net te voel nie) en te praat en te skryf (die dames nie die minste nie) is die vanselfsprekendste saak in die wêreld. Mense droom nie daarvan om dit anders te doen nie. Arme, verwaterde, ontsenude Kolonie – die papheid en lamlendigheid en onselfstandigheid self, hoewel daar meer as genoeg lip-patriotisme is. Manne van karakter en groot dade kan tans slegs in Transvaal en die Vrystaat gebore word. Die Koloniale gees is daarvoor te arm.[16]

Ten spyte van die verwoesting was Transvaal vir Malan ’n nasionalis se paradys. Die mense was so anders as dié in die verengelste Kaapkolonie – hulle was vir hom die verwesenliking van sy ideaal. Trou aan sy aard het Malan gou nasionalistiese geesgenote uitgesnuffel.

In Transvaal kon hy Gustav Preller se koerant, De Volkstem, lees. Preller het later bekendheid verwerf as een van die dryfvere agter die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, sowel as vir sy nasionalistiese publikasies oor die Afrikanergeskiedenis, wat ontsettend gewild was.[17] Soos Theal voor hom het Preller Afrikaners se verlede as ’n stryd tussen Afrikaner-nasionalisme, Britse imperialisme en swart “barbarisme” uitgebeeld. Deur die loop van 1905 en 1906, wat deels saamgeval het met Malan se verblyf in Transvaal, het Preller ’n reeks artikels oor die Voortrekkerleier Piet Retief geskryf wat in De Volkstem verskyn het. Dié artikels is in 1906 saamgevat in ’n boek met die titel Piet Retief, Lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker. Die boek is geroem as een van die eerste prosawerke van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.[18] Dit was vol beskrywings van die gruweldade wat teen die Voortrekkers gepleeg is, kompleet met “babas se vergruisde harsings, dooie vrouens en drywende vere uit die geskeurde matrasse”.[19]

Dit was Preller se werk as taalaktivis wat Malan aangetrek het. In Maart 1905 het Onze Jan Hofmeyr ’n rede in Stellenbosch met die titel “Is’t ons Ernst?”[20] gehou. Hofmeyr het Afrikaners se erns oor hul taalregte bevraagteken omdat hulle gekla het Nederlands word deur Engels verdring, maar geen poging aangewend het om hul regte af te dwing nie. Dit was dieselfde sentiment wat Malan in sy brief aan Nettie uitgedruk het: Daar is baie lippediens, maar geen poging om die daad by die woord te voeg nie.[21]

In antwoord op Hofmeyr se rede het Preller ’n reeks artikels in sy koerant gepubliseer wat later as ’n boek met die titel Laat’t ons toch Ernst wezen! uitgegee is. Waar Hofmeyr se rede gehandel het oor Afrikaners se reg om Nederlands pleks van Engels in die openbaar te gebruik, veral met die oog op die opvoeding en godsdiensonderrig van hul kinders,[22] het die jong Preller laat hoor Nederlands is vir Afrikaners ’n dooie taal. Die studie van Nederlands was sekerlik verrykend, maar Afrikaans was die taal waarin Afrikaners hul diepste gevoelens kon uitdruk. Daarom moes Afrikaans tot ’n skryftaal verhef word.[23]

In Augustus 1905 het Malan aan Preller geskryf en ’n eksemplaar van sy boekie aangevra omdat die saak “van groot belang met die oog op ons volk se toekoms” is. [24] Nadat hy dit bestudeer het, het Malan geesdriftig teruggeskryf: “Al vele jare gelede – ek mag sê, sedert ek vir die eerste keer oor ons taalkwessie begin nadink het – het ek tot die besliste oortuiging gekom dat slegs die opheffing van Afrikaans na ons skryftaal die voortbestaan van die Hollandse taal in S.A. – in welke vorm ook al, sal kan red. U belangrike, boeiende en oortuigende betoog oor hierdie saak … het vir my daarom besonder baie belangstelling ingeboesem. Die beweging wat opnuut deur u besiel word, het my volle ondersteuning.”[25]

Preller wou die Afrikaanse Taalbeweging inderdaad laat herleef. In Desember 1905 het hy die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) in Pretoria gestig en D.F. Malan was een van die lede. Deur middel van dié organisasie was Malan deel van ’n nuwe generasie Afrikanerintellektuele en -nasionaliste. Die Afrikanerstudente van die 1890’s, wat toe reeds gewys het hulle verskil van hul ouers, het nou die openbare verhoog betree. Hulle het ’n duidelike standpunt ingeneem teen die ouer geslag wat nog aan Nederlands bly vasklou het en Afrikaans afgemaak het as te onderontwikkeld om ’n gevestigde taal te vervang.[26] Die nuwe geslag het die nasionalistiese potensiaal van Afrikaans raakgesien en hulle wou die taal as ’n lewensvatbare plaasvervanger vir Nederlands ontwikkel. Dit het later as die Tweede Afrikaanse Taalbeweging bekend gestaan.

In Desember 1905 het Malan hom op die volgende groot stap in sy lewe voorberei: Hy het intussen ’n beroep van die Montagu-gemeente ontvang. Dit het vir hom groot sielewroeging veroorsaak, want sy selftwyfel het hom opnuut laat wroeg: Was hy as jong predikant gereed om alleen aan die hoof van ’n gemeente te staan?[27] Malan het uiteindelik die stap gedoen en sodoende ’n belangrike drumpel oorgesteek. Hy het Montagu se beroep aanvaar nes hy as jong student in Stellenbosch sy roeping in die kerk aanvaar het: met diepe onsekerheid en ’n onwrikbare vertroue in God se wil. Dit word in sy aanvaardingsbrief weerspieël:

Hoewel ek geensins daaraan twyfel dat die Here self my tot hierdie arbeid roep nie, was dit nogtans nie vir my maklik om op hierdie stap te besluit nie. Ek sien veral daarteen op om nou reeds ’n werkkring van soveel belang en so ’n grote omvang te aanvaar. Van my eie swakhede en gebreke is ek helder bewus. Ek wil dit daarom hier met die grootste nadruk verklaar dat ek bereid is om die werk op te neem, nie oor wié ek is of kan word nie, maar alleen vertrouend op die toegesegde genade van God en die Krag van die Heilige Gees, en steunend op die verdraagsaamheid en die liefde van die Kerkraad en die gemeente.[28]

So het dit gebeur dat Malan Heidelberg en Transvaal vaarwel toegeroep het en na die Kaapkolonie teruggekeer het. Hy het vriende en familie besoek voordat hy na sy nuwe tuiste vertrek het.[29]

Malan het in 1906 te midde van die versengende Februarie-hitte in Montagu aangekom en ’n ontvangs gekry wat gepas sou wees vir ’n koninklike besoek, maar inderwaarheid ’n NG gemeente se gebruiklike verwelkoming vir ’n nuwe predikant was. ’n Optog van 60 of 70 perdekarre het Malan die dorp in vergesel. Daar was verwelkomingstoesprake deur byna elke vereniging binne die kerk, ’n ontvangs, ’n onthaal en ’n inwydingsdiens. Die kerkgebou was só vol gepak vir die inwydingsdiens dat die kerkraad aangedring het dat slegs diegene ouer as 15 dit bywoon. Nogtans het ongeveer 1 100 lywe dit reggekry om hulle op die kerkbanke, wat maar vir tussen 700 en 800 mense gemaak is, in te prop.[30]

Malan se eerste uitdaging as herder van sy eie kudde was ’n versoek wat hy met sy aankoms ontvang het. Dit was ’n petisie van Montagu se Engelssprekende gemeenskap wat gevra het dat hy die gebruik voortsit om een Sondagaand per maand ’n diens in Engels te lewer. Malan en sy nuwe kerkraad moes die petisie oorweeg – wat ook die handtekeninge bevat het van persone wat Afrikaans was, sowel as ander wat Nederlands kon verstaan. By die vergadering het Malan dit duidelik gestel dat hy in beginsel gekant is teen Engelse dienste vir die kerk se Hollandssprekende lidmate, maar dat hy aparte Engelse dienste, in ’n aparte gebou, vir Engelssprekendes ondersteun.[31]

Na aanleiding van die bespreking het Malan twee briewe opgestel: een vir die Engelssprekende ondertekenaars en die ander vir hul Afrikaanse simpatiseerders. Die Engelse brief het die versoek hoflik van die hand gewys in die lig van die behoeftes van die dorp se armblankegemeenskap wat weens hul armoede eerder die aanddienste bygewoon het en nie Engels kon verstaan nie.[32] Die tweede brief is in Nederlands geskryf en was ook hoflik, maar het Malan se nasionalisme weerspieël en was daarom effens bytend. Die brief het die argument herhaal dat die armblanke-Afrikaners se behoeftes uiters belangrik is. Maar Malan het bygevoeg die volk se taal is Hollands en die gebruik daarvan in sy godsdiens is nou verbind met sy sin vir eiewaarde en onafhanklikheid.

Vir die lidmate van Montagu se NG gemeente was daar voortaan nie meer Engelse eredienste nie.[33] In die oë van Montagu se nuwe predikant was taal, godsdiens en nasionalisme onafskeidbaar.

Malan het sy intrek geneem in die pastorie, waar sy nuwe meubels deur die enorme vertrekke verswelg is. Sy ouers, wat die heuglike geleentheid bygewoon het, het ’n rukkie by hom gebly, maar toe hulle – en daarmee saam sy stiefma se kookkos – vertrek, het die jong, ongetroude predikant begin wonder waar sy volgende maaltyd vandaan sal kom. Gelukkig kon hy reël om maaltye te nuttig by ’n vrou wat naby die pastorie gewoon het.[34]

Die vroue van Montagu het gou ontdek hul jong predikant was ’n man met ’n bomenslike konsentrasievermoë, maar ook uiters verstrooid. Sy maaltye is vir hom voorberei en soms is ’n jong meisie gestuur om dit netjies in ’n mandjie verpak by hom af te lewer. Sy het hom gewoonlik agter sy lessenaar aangetref, hard aan die werk en daarom onbewus van haar kloppe aan die deur. Uiteindelik het sy op haar tone nadergesluip, die mandjie op die tafel langs hom neergesit en weer uitgesluip sonder dat haar teenwoordigheid opgemerk is.[35] In dié jare het Malan nie veel geëet nie. Sy smake was eenvoudig en vir hom was ’n hardgekookte eier en moskonfyt, waarmee sy moeder hom as kind bederf het, die lekkerste. Sy gemeentelede het ook opgemerk dat hy groot hoeveelhede koffie gedrink het wanneer hy hulle besoek het.[36]

Sy huisbesoeke het hom byna oorweldig. Teen Augustus 1906 het hy aan Nettie geskryf sy kop draai “van mense en vergaderings, van vergaderings en mense”. Daar was altyd nog mense aan wie hy voorgestel moes word en sy besoeke aan die dorp se 230 gesinne het al sy tyd en energie opgeslurp. Toe dit uit die weg geruim is, moes hy die gesinne wat oor die distrik heen gesaai was, begin besoek. Vir dié doeleindes het hy ’n perdekar en twee flink perde besit en gelukkig ook die dienste van ’n staljonge, want hy was seker die perde en sy vyf hoenders sou uitteer as hulle net in sy sorg gelaat sou word.[37]

Wanneer hy op huisbesoek gegaan het, moes Malan dae lank met sy perdekar deur die verlate landskap reis – soms tot 90 uur op ’n keer.[38] Dit het hom na alle uithoeke van die distrik geneem, waar hy noue kontak met sy kudde en hul daaglikse lewe kon hê. Hy het sy nuwe omgewing in ’n brief aan Nettie beskryf as “egte Karoo: as jy ’n hond wil gooi, kan jy altyd ’n klip vind en as jy iemand wil steek, kan jy altyd ’n doring vind”.[39]

Malan het sy besoeke aan die mense van die droë maar vrugbare wêreld met erns benader. Hy het verkies om tyd en energie in elkeen te belê, pleks van om soos sy kollegas in die buurdistrikte van huis tot huis te jaag. In ’n notaboekie het hy besonderhede van elke gemeentelid aangeteken. Toe die onderskeie gemeentes op ’n vergadering oor hul werk verslag moes doen, was Malan al predikant wat nie al sy gemeentelede binne ’n jaar besoek het nie – waarop hy droogweg opgemerk het hy het dééglike werk gedoen.[40]

Jare later het hy ’n pleidooi aan sy medepredikante gerig om dié besoeke nie te beskou as ’n roetine wat hul amptelike gewetes moes sus nie, maar as ’n geleentheid om voldoende tyd saam met twyfelaars deur te bring en hulle na die Lig te lei. Gejaagde besoeke het die indruk van ’n jaarlikse geestelike inspeksietog gewek, en van die predikant as ’n geestelike belastinggaarder of polisieman vir wie sy slagoffers hul sondes moes wegsteek. Malan het ’n ware behoefte gehad om verligting en genade aan die geestelik onkundiges te bring, en die beste manier om dit te doen was om tyd by elk deur te bring. Dit was vir hom bevredigend as hy iemand se worstelvrae kon beantwoord of ’n ingewikkelde Bybelvers kon verduidelik.[41]

Sy kudde het hom as ’n intellektueel beskou. Sy preke was vir hulle dikwels te moeilik en gekompliseerd om te volg, maar sy luisteraars het sy vermoëns nogtans bewonder. Malan het bly boeke koop wat hy tot laat in die nag bestudeer het. Hy wou hom so goed as moontlik vir sy taak toerus en het daarom veral sielkundeboeke gelees. In latere jare was sy insig in die menslike natuur en sy vermoë om vlambare persoonlikhede te hanteer alombekend – dit was heel moontlik te danke aan sy laatnagstudie.[42] In dié jare het Malan nie veel geskryf of gepubliseer nie – hy het ingeneem en dit wat hy gelees het, toegepas.

Vir waarnemers was Malan ’n jong man met groot potensiaal. Teen einde Oktober en begin November 1906 het hy sy eerste sinodesitting in Kaapstad bygewoon. Sy nasionalistiese benadering tot sake soos taal en godsdiens het aandag getrek en byval gevind. Sy eerste openbare optrede was in ’n debat oor die ligging van die kerk se onderwyskollege: Die vraag is gestel of die kollege van Kaapstad na Stellenbosch moes verskuif. Volgens Malan was daar ’n groter saak ter sprake: nasionale beginsels, wat die kerk se eerste oorweging moes wees waar Afrikanerkinders vir hul roeping in die kerk en staat toegerus word. Daarom het hy aangevoer Stellenbosch is vir die ontwikkeling van dié beginsels ’n beter omgewing as die Engels-oorheerste Kaapstad. Hy het ook die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig ter wille van Afrikaners se nasionale selfrespek en voortbestaan beklemtoon.[43]

In antwoord op Malan se toespraak het die kerk se aktuaris sy trots op die NG Kerk met die ander gedeel – veral omdat die kerk op die dienste van so ’n geleerde jong man kon roem. Hy het ook opgemerk die jong predikante wat onlangs uit Europa teruggekeer het, meen Afrikaners moet hulself op opvoedings- en politieke terrein van die Engelse skei. Dit was volgens die aktuaris ’n nuwe verskynsel wat ernstige oorweging deur die kerk en volksleiers verdien het.[44]

Terwyl die sinodesitting aan die gang was, het die Tweede Afrikaanse Taalbeweging wat Gustav Preller in Transvaal van stapel gestuur het die Kaapkolonie bereik. Die fakkeldraers was die jong J.H.H. (Jannie) de Waal, wat later ’n belangrike Afrikaanse skrywer en dramaturg geword het,[45] en D.F. Malherbe, wat eweneens bestem was om ’n vooraanstaande digter en akademikus te word.[46] Die Afrikaanse Taal Vereniging (ATV) is op 3 November 1906 in Kaapstad gestig. Malherbe is as eerste voorsitter en De Waal as ondervoorsitter gekies en Malan, wat ook die vergadering bygewoon het, is ook tot die bestuur verkies.[47]

In teenstelling met hul kollegas in Transvaal moes die jong manne wat die ATV in die Kaap gestig het rekening hou met ’n gevestigde pro-Hollandse belangegroep in die gestalte van die Taalbond. Die Taalbond het die ouer geslag se steun gehad en invloedryke Afrikanerleiers en -intellektuele in sy geledere gehad, onder andere Onze Jan Hofmeyr en Malan se kweekskoolprofessor P.J.G. de Vos.[48] Die nuweling-organisasie was bedag op die ouer geslag se weerstand en het daarom klem gelê op die voordele van ’n deeglike kennis van Nederlands. Daar is ook onderneem om met pro-Hollandse organisasies, en veral die Taalbond, saam te werk. Die nuwe beweging se doelwit was egter duidelik: Afrikaans moes as skryftaal ontwikkel word.[49] Ondanks die ouer geslag se afkeur het die organisasie se takke regoor die Kaap versprei.[50]

Malan het onder sy tydgenote uitgestaan. Nes die sinode van sy teenwoordigheid kennis geneem het, net so het sy portuurgroep sy potensiaal raakgesien. Die ATV het hom einde 1907 as voorsitter aangewys. Malherbe het later geskryf hulle is “begerig om ’n kerkman van gewig by ons te hê om aansien te gee aan ons armlike bestaan”.[51]

Malan se jaar lange voorsitterskap van die ATV was simbolies van aard. Hy was nie naby Kaapstad en Stellenbosch, die hart van die organisasie nie, en hy kon dus nie ’n beduidende administratiewe bydrae lewer nie. Hy het ook geen opleiding as taalkundige of literator gehad nie en kon nie deelneem aan enige van die ATV se spelkommissies wat met die nuwe taal se spelreëls en grammatika geworstel het nie.[52] Dit was egter nie die rede vir sy verkiesing tot voorsitter nie.

Soos vele van die ATV se lede het Malan aangesluit omdat hy die saak ondersteun het. Hy, en ander soos hy, het die Afrikaanse taal se nasionalistiese potensiaal raakgesien. Die ATV was ’n voorloper van die nasionalistiese organisasies wat die politieke toneel minder as tien jaar later betree het – dit was inderwaarheid ’n broeikas vir ’n nuwe geslag Afrikaner-nasionaliste.

Hoewel Malan dus geen bydraes tot die ontwikkeling van die taal self gelewer nie, was die morele gewig wat hy aan die beweging verleen het goud werd. In 1908 het hy in Stellenbosch een van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging se bekendste toesprake gelewer. In antwoord op Onze Jan Hofmeyr se “Is’t ons Ernst?” en Gustav Preller se Laat’t ons toch Ernst wezen! was die titel van Malan se rede “Het is ons Ernst”.

In sy toespraak het Malan dit duidelik gestel hy bevorder Afrikaans nie om bloot taalkundige redes nie. Sy doelwitte was suiwer nasionalisties. Daarom het hy plegtig gesê: “Di Afrikaanse Taalbeweging is niks minder nie dan ’n ontwaking bij ons volk tot ’n gevoel van eiëwaarde en tot di roeping om ’n waardiger plaas in te neem in di wêreldbeskawing.”[53] Dit het beteken die Afrikaanse taal moes die Afrikanervolk ophef:

Als onse volkstaal nooit di draagster kan wees van ons eië literatuur en ons volkskultuur, wat beteken dit anders, dan dat ons altijd deur ander mense aangesien sal word en altijd onsself sal aansien vir ’n dialekt sprekende volk. Verhef die Afrikaanse taal tot skrijftaal, maak haar di draagster van onse kultuur, van onse geskiedenis, onse nasionale ideale, en u verhef daarmee ook di volk, wat haar praat. Hou egter di volkstaal op di voet van ’n half beskaafde provinsiaal dialekt, en u hou daarmee ook di volk op di peil van ’n half beskaafde, ongeletterde volksklasse.[54]

Dié woorde het ’n dieper snaar aangeroer as die eindelose debatte oor spelling en grammatika wat die taalbeweging gekenmerk het. Sonder om ’n oplossing te bied vir die onmiddellike probleme rakende Afrikaans se taalkundige meriete, het Malan sy gehoor onder ’n breër ideaal verenig. In reaksie op Malan se toespraak het Gustav Preller geskryf: “Nou is’t ons Ernst!”[55]

Deur die fokus weg van linguistiek te skuif, het Malan ook ’n versoenende houding teenoor die Taalbond gehandhaaf. Hy het aangevoer die twee organisasies het verskillende metodes gehad, maar dieselfde doelwit en hy het voorsien dat hulle nog een gaan word.[56] Dit het binne ’n jaar ná sy toespraak gebeur. In 1909 het Malan lid van die nuutgestigte Akademie voor Taal, Letteren en Kunst geword. Daarmee saam het die spanning tussen die twee organisasies verdamp.[57]

Sy passie vir die volk en sy taal het elke aspek van Malan se lewe geraak. Toe die Malan-familie op ’n keer byeengekom het om D.F. Malan sr. se verjaarsdag te vier – min wetende dat dit sy laaste was – het Malan die Babel onder die nuwe geslag Malans gade geslaan. Sy suster Cinie se jongste twee dogtertjies kon slegs ’n Sjona-dialek praat. Koos, wat pas na Suid-Afrika teruggekeer het, is intussen met ’n Engelse vrou getroud en sy seuntjie kon net Engels praat. Fanie en Mimie se kinders, sowel as Malan se drie jong halfsusters, het net Afrikaans gepraat. Nogtans het die kinders dit reggekry om saam te speel. Malan, die oudste seun en steeds die enigste wat nie sy eie gesin gehad het nie, het hul veeltalige speletjies dopgehou en droogweg aan een van sy halfsusters opgemerk: “Julle sal darem ’n plan moet maak om vir hierdie klein Engelsman en hierdie twee kaffertjies* Hollands te leer.”[58]

Sy halfsusters het kort daarna ’n prominente deel van sy lewe geword. Vir hulle was hy maar net “Boetie” – wat in Holland gestudeer en hulle vakansietye besoek het; Boetie wat ernstig en teruggetrokke was – en wat dit tog geniet het om hulle te terg; Boetie wat graag in die nabygeleë berge gaan stap het – altyd geklee in sy das en stywe boordjie – en wat saam met die kinders op soek na koekemakrankas die veld ingevaar het.[59]

Kort ná die familiereünie is D.F. Malan sr. oorlede.

Ongeveer ’n jaar ná haar man se begrafnis het Esther Malan haar dogters meegedeel sy het uiteindelik haar stiefseun se aanbod aanvaar om na Montagu te verhuis. Die meisies kon daar ’n groter skool bywoon. Malan was op sy beurt desperaat vir ’n pastoriemoeder wat hom met sy bedieningswerk kon bystaan, veral onder die vroue in die gemeente, en iemand wat na sy huishouding kon omsien.[60] Hy het ’n spesiale gawe gehad om die steun en betrokkenheid van sy vroulike gemeentelede aan te wakker en hulle het die take onderneem wat gewoonlik van die predikantsvrou verwag is,[61] maar Malan het nogtans ’n behoefte gehad aan die meer toegewyde bystand wat slegs ’n pastoriemoeder kon bied.

Toe Esther Malan en haar dogters dus hul intrek by Malan in Montagu se groot pastorie neem, wat voorheen weergalm het as sy eensame inwoner iets laat val het,[62] het Malan uiteindelik die ondersteuningsnetwerk gekry waarna hy gesmag het. Dit moes vir hom ’n groot verligting gewees het. Sy gemeente van 1 500 lede was vir hom oorweldigend en sy belange het wyer as die grense van die Montagu-distrik gestrek. Sy kerkraad het dit ook besef en was kort-kort op soek na ’n hulpprediker wat die las vir hom ligter kon maak, maar hul pogings het nog misluk.

Malan het die distrik steeds met sy perdekar deurkruis om dienste aan die mees afgeleë gemeentelede te lewer; ’n verlate figuur op die leë vlaktes en tussen die harde riwwe van die Karoo.[63] Hy het hierdie dienste geniet, want hy kon tussen die mense staan pleks van om vanaf die preekstoel op hulle neer te kyk. In só ’n informele omgewing kon hy elkeen met die hand groet en die formele kanseltaal afskud en in ’n taal preek wat gewone mense verstaan: die gestroopte waarhede van die Evangelies, soos sonde en genade, berou en geloof, vergifnis en verlossing. Soveel te meer kon hy preek in die taal van sy hart, Afrikaans.[64]

Wanneer hy nou van sy reise teruggekeer het, het daar nie meer ’n leë huis op hom gewag nie. Daar was mense met wie hy staaltjies van sy besoeke kon deel. Ná een só ’n reis het Malan met ’n nuwe metgesel teruggekeer, een wat die volgende 17 jaar aan sy sy was: ’n kolliehondjie wat hy Comet gedoop het omdat hulle juis in dié tyd Halley se komeet in die sterrehemel kon sien. Comet het Malan se bed gedeel – en soms ook sy kussing – sowel as die melk en beskuitjies wat sy susters vir hom langs sy bed gelos het om hom deur sy laat nagte te help.

Comet het Malan soos ’n skaduwee gevolg, wat probleme veroorsaak het. Sondagoggende het hy met die eerste gelui van die kerkklokke gaan wegkruip en dan tydens die diens by die kerkgebou ingesluip. Soms het hy doodstil by Malan se susters se voete gelê, maar met ander tye het hy voor die preekstoel gaan sit en na Malan gestaar. “His master’s voice,” het die sussies aan mekaar gefluister. Toe Comet op ’n dag egter besluit om hom by sy baas op die kansel aan te sluit, is daar ’n einde gemaak aan hierdie hartroerende vertoon van hondeliefde. Daarna is hy altyd vroeg op ’n Sondagoggend weggesluit vóór die klokke hom kon waarsku dis die Sabbat.[65]

Malan het hom dit nooit aangematig om vir sy susters ’n pa te probeer wees nie, maar dit was onvermydelik dat hy ’n gesagsrol ingeneem het. Hy het in hul opvoeding belanggestel en saam met hul ma ’n wakende oog oor hul leesstof gehou. Hy het nooit voorgeskryf of verbied nie, maar elke nou en dan het hy gevra: “Lees jy nou ’n Engelse of ’n Hollandse boek?” Of “Wanneer het jy laas ’n Hollandse storie gelees?”[66]

Malan se susters het ook gou met hul broer se uitsonderlike konsentrasievermoë kennis gemaak. Hul spelery het hom selde gesteur terwyl hy werk en hy het skaars opgemerk as sy jongste suster, Stinie, deur sy studeerkamer snuffel of selfs agterop sy stoel ry terwyl hy sy preke skryf. Sy verstrooidheid was ewe uitsonderlik: Wanneer Malan laat was vir ete, is sy kos vir hom warm gehou en een van sy susters is gevra om by hom te bly en toe te sien dat hy onthou om te eet. As sy gedagtes begin dwaal het, het hy skoon van die kos vergeet.[67]

Besoekers is deur sy eetgewoontes gefassineer, “daar was ’n hele tegniek nodig om die man op wie se skouers die gemeente se belange gerus het te kry om van die geregte in die ortodokse volgorde te eet”. Die wyse waarop hy met ’n mes gate in die kop van sy geliefde hardgekookte eier gesteek het, pleks daarvan om die kop af te sny, was moeilik om te vergeet.[68]

Malan het dikwels belangrike besoekers ontvang, onder andere die kweekskool se professore J.I. Marais, A. Moorrees en P.J.G. de Vos, sowel as ander vooraanstaande kerklui.[69] In 1911 kon sy kerkraad eindelik vir hom ’n hulpprediker aanstel, die jong dr. E.E. van Rooyen. Soos Malan was Van Rooyen teruggetrokke en leergierig. Hy het ook sy doktorsgraad aan ’n Nederlandse universiteit behaal – die Vrye Universiteit van Amsterdam – met ’n proefskrif wat soos Malan s’n oor ’n filosofiese onderwerp gehandel het: Hume se Skeptisisme. Toe prof. J.W. Pont, wat albei mans tydens hul studiejare in Nederland geken het, uitvind hulle woon nou onder dieselfde dak, het hy hardop gewonder: “Waaroor sou hulle alles geswyg het!”[70]

Maandae het die gesin piekniek in die veld gaan hou en selfs Malan het dit komieklik gevind dat Van Rooyen eerder weggeglip het om eenkant te gaan sit en studeer.[71] Van Rooyen was ook ’n voorstander van die gebruik van Afrikaans en het later gehelp om die Bybel in Afrikaans te vertaal.[72] Ondanks hul gedeelde belange was die twee mans aan teenoorgestelde kante van die teologiese spektrum. Jare later was Van Rooyen, wat in 1920 by die Stellenbosse kweekskool aangestel is, een van diegene wat sy kollega Johannes du Plessis vervolg het weens sy beoefening van die Hoër Kritiek.[73]

Van Rooyen het ’n verskuiwing binne die NG Kerk se teologie in die rigting van Abraham Kuyper se Neo-Calvinisme verteenwoordig en Malan was ’n liberale teoloog – juis die soort wat Van Rooyen en sy bondgenote wou uitdryf. Malan was een van Utrecht – wat as ’n liberale instelling beskou is – se laaste teologiestudente uit Suid-Afrika. Boonop was hy die protégé van een van Kuyper se opponente en het hy ’n teologie beoefen wat soortgelyk aan dié van Du Plessis was.

Soos Du Plessis het Malan Hoër Kritiek beoefen, was hy simpatiek teenoor die evolusieleer, en het hy geglo sommige Bybelverhale is simbolies van aard en het dus nie werklik plaasgevind nie. Dié teologiese praktyke het Du Plessis beskuldigings van dwaalleer op die hals gehaal en hy is uit die kweekskool gedryf deur mans wat aan Abraham Kuyper se Vrye Universiteit sowel as die Universiteit van Princeton afgestudeer het. Dié universiteite het ’n fundamentalistiese benadering tot die Skrif voorgestaan en enige onderskeid tussen heiligmakende kennis en Skrifdele wat bloot histories was, verwerp.[74]

Tydens Malan se jare in die kerk het Du Plessis ’n paar teologiese simposiums georganiseer wat vir die NG Kerk se gewone lidmate omstrede was. Malan het aan minstens twee deelgeneem – een daarvan in Montagu.[75] Valeton se invloed was duidelik te bespeur in ’n referaat wat Malan oor Hoër Kritiek gelewer het. Malan was ook ’n Etiese teoloog wat geglo het God gebruik Israel se geskiedenis om die waarheid aan sy volgelinge te openbaar. Malan het aangevoer nie alle verhale in die Bybel is histories waar nie – die verhaal van Jona is byvoorbeeld ’n allegorie waarin die vis die Assiriese moeder verteenwoordig en Jona Israel. Dié is deur die groter mag ingesluk omdat hy ontrou aan sy roeping was.

Volgens Malan was daar ’n belangrike onderskeid tussen feit en waarheid; die verhaal van Jona was, soos John Bunyan se The Pilgrim’s Progress, dalk nie feitelik nie, maar geestelik waar. Volgens Malan het die Heilige Gees ook middele soos allegorieë, legendes en mites gebruik om geestelike en morele waarhede oor te dra – en die feit dat die verhale nie feitelik korrek was nie, het nie afbreuk gedoen aan hul waarde as deel van God se openbaring nie. Dié verhale het vir hom ’n belangrike deel van teologiese studie uitgemaak.

Volgens Malan moes die teologie ook by die tye aanpas, veral gegewe die nuwe metodes en insigte wat ander studievelde kon bied, andersins sou dit gou ’n irrelevante veld word wat net van historiese belang is. Daarom kon Hoër Kritiek, wat ’n uitvloeisel van die betreklik nuwe veld van literêre kritiek was, ’n belangrike bydrae tot die bestudering van die Ou Testament lewer.[76]

Ten spyte van hierdie uiteensetting het Malan se preke nie soortgelyke onthullings bevat nie, al het sy gemeentelede aanvanklik gekla sy preke gaan oor hul koppe.[77] Die preke wat behoue gebly het, was van ’n meer morele aard, hoewel hulle hoegenaamd nie aan helderheid of argument ingeboet het nie.

Een van hulle het veral groot byval gevind. In September 1910 het Malan ’n preek met die titel “Waar Is Abel, uw Broeder?” gelewer. Die titel is afgelei van God se vraag aan Kain pas nadat hy sy jonger broer vermoor het, waarop Kain geantwoord het: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?”[78]

Malan, wat self die seun van ’n wynboer was, was bitter bekommerd oor die hoë voorkoms van alkoholisme in die omstreke van die wynproduserende Montagu, veral onder die bruin gemeenskap. Die Swartland, waar hy grootgeword het, was ook bekend vir sy wyne, maar hy het geglo die boere daar het beter teen misbruik gewaak. Hy het die skuldiges gou opgespoor toe hy opmerk die toename in kantiens gaan gepaard met ’n toename in voorvalle wat by die polisie aangemeld word. Hy het ’n verband getrek tussen die beskikbaarheid van alkohol en die misbruik daarvan. Hy het nie die slagoffers van alkoholisme geblameer nie, maar die skuld volledig gepak op diegene wat die petisies aan die munisipaliteit geteken het om nog kantiens te open. Aangesien die ondertekenaars wit was en die slagoffers van alkoholisme bruin, het Malan ’n rassedimensie hierin raakgesien:

Indien God die liggaam en die siel van een ander in ons hand geplaas het, dan het Hy ook die reg en dan sal Hy ook sowel siel as liggaam van ons eis. Nee, ek gaan verder en verklaar dan dat ons eie saligheid vir ’n groot deel moet afhang van die wyse waarop ons omgaan met die saligheid van ’n ander. Laat ons nie vergeet nie dat God op iedere mensesiel ’n hoë onbetaalbare prys stel … Hy het daarop afgedruk, Sy eie beeld, Sy eiendomsmerk … Hy was gereed om daarvoor te betaal, ja, vir die siel van die arme dronke Kleurling, wat langs die straat lê, die duurste prys, wat ooit menselippe het genoem, die bloed van die ewige Seun. Kan Hy dan anders as oor die saligheid van sulk ’n siel vervuld wees met ’n heilige erns? Kan Hy anders as streng rekenskap afeis van iedereen, wat dit in sy mag gehad het om daardie siel te red of te verderf?[79]

Deur middel van die Kain-en-Abel-metafoor het Malan dit duidelik gemaak dat Montagu se wit inwoners inderdaad hul bruin broers se oppassers was. Wit petisionarisse moes verantwoordelikheid aanvaar vir hul magsposisie. Hulle was by magte om reeds verswakte alkoholiste aan nog meer versoeking bloot te stel – of hulle kon die versoeking verminder en daardeur ’n worstelende siel bystaan.[80]

Malan se denkpatroon het nog ’n belangrike komponent bevat: Sosiale euwels moes van bo af deur outoritêre maatreëls beveg word. Dit kon nie aan die individu oorgelaat word om hulle alleen die stryd aan te sê nie. Hierin sien ’n mens ’n denkpatroon wat van die standpunt uitgaan dat die meeste probleme deur gepaste regulasies opgelos moet word – en dit was later Malan se oplossing vir vele moeilike vraagstukke.

Malan se preek, wat sy gemeente se Christelike gewetes aan hul rassestatus gekoppel het, het ’n diep snaar aangeroer. Die reaksie was geesdriftig. Danksy die preek is ’n petisie opgetrek om ’n aantal van die dorp se kantiens te sluit. Die petisie was suksesvol, wat tot nog maatreëls gelei het, soos die inperking van die ure waartydens alkohol verkoop kon word.[81] Malan het die teenoorgestelde van die distrik se wynboere verwag en was uit die veld geslaan deur dié positiewe reaksie.[82] Die ervaring het hom sekerlik geleer om sy vrese tersyde te stel en moeilike vraagstukke regstreeks te takel – ’n waardevolle les vir ’n toekomstige politikus.

Malan sou egter nooit kon raai sy preke was vir hom die weg na ’n politieke platform aan die baan nie. Die minder geskoolde lede van sy kudde het aanvanklik gesukkel om sy preke te volg, maar vir die geleerdes onder hulle was Malan se woordbediening ’n oratoriese fees waarvoor hulle ver sou reis.

Maria Elizabeth Rothmann (M.E.R.), wat later ’n bekende Afrikaanse skrywer geword het, het Malan in Montagu hoor preek. Sy redevoerings het haar herinner aan Matthew Arnold se beskrywing van styl: “Have something to say, and say it as clearly as possible.” Malan kon sy gehoor meer as ’n uur lank boei en sy redenaarskuns het nie vir ’n oomblik gewankel of verswak nie. Dit was omdat hy ure bestee het aan die slyp van sy argumente. Hy het selfs geweier om ’n eenvoudige gebedsbyeenkoms toe te spreek as hy nie tyd gehad het om voor te berei nie.

Afskrifte van sy preke het gou versamelitems onder sy vele bewonderaars geword.[83] Een van hulle was Andrew Hofmeyr, wat ’n regspraktyk in Montagu gehad het en die kleinneef van Malan se kweekskoolprofessor N.J. Hofmeyr was. Hy het afskrifte van Malan se preke gemaak en dit aan sy broer Willie gestuur. Willie was ’n vennoot in ’n Kaapstadse regsfirma en het Malan as ’n medestigter van die ATV geken.[84] Jare later was dit die einste Willie Hofmeyr wat ’n teësinnige Malan oorreed het om die politiek te betree.

Intussen het Malan hom met kerksake besig gehou – wat onvermydelik regeringsake weerspieël het. Die vier kolonies het nader aan mekaar beweeg en in 1910 het hulle die vier provinsies van die Unie van Suid-Afrika geword. Teen einde 1911 en in die loop van 1912 het die politieke partye wat die Afrikaners in die Kaap, Transvaal en die Vrystaat verteenwoordig het – die Afrikaner Bond, Het Volk en Orangia Unie – hulself ontbind en die Suid-Afrikaanse Party (SAP) gevorm. Die SAP, onder die leierskap van Louis Botha, het ’n nuwe ideaal verteenwoordig: die vereniging van die Afrikanerdom binne ’n enkele party, al was daar ook ’n paar gematigde Engelssprekendes onder sy lede.[85]

Die eenwording van die kolonies het die NG Kerk genoop om ’n soortgelyke stap te oorweeg omdat dit uit vier aparte sinodes bestaan het. Die posisie van die Kaapse bruin lidmate was die kern van die debat oor kerkvereniging. Hoewel die Sendingkerk in 1881 gestig is,[86] het bruin lidmate steeds die reg gehad om aan die NG Kerk behoort. Hierdie reg het egter nie verder noord as die Oranjerivier gestrek nie en vir die noordelike provinsies was die gedagte aan selfs een of twee bruin afgevaardigdes na die sinode te erg. Die kerk se verenigingspogings het dus op dié punt misluk[87] en is eers ná Malan se dood bereik.

Malan self was ten gunste van die kerk se eenwording, wat vir hom deel was van die breër vereniging van die Afrikanervolk. Suid-Afrika se politieke eenwording was vir hom ’n droom wat bewaarheid is en aanvanklik was hy versigtig optimisties. In die lig van die oorwinning vir Afrikanereenheid was die kerk se onvermoë om te verenig ’n ware teleurstelling. Malan het gemeen die bruin afgevaardigdes na die sinode was so min en hul teenwoordigheid so onbeduidend dat hulle nie ’n bedreiging vir die drie noordelike provinsies kon wees nie.

In ’n brief wat hy in Mei 1912 geskryf het, het hy die uitslag betreur. Dit was volgens hom die resultaat van swak tydsberekening – “nieteenstaande die Unie, begryp die volk nog lank nie dat hy nou werklik één is”.[88]

Die realiteit was dat Afrikaners se provinsiale lojaliteit steeds veel dieper gelê het as hul lojaliteit teenoor ’n verenigde Suid-Afrika waarin Engelse en Afrikaners nou ’n enkele nasie gevorm het. Die provinsiale lojaliteit het gemanifesteer in die heldeverering van vooraanstaande persoonlikhede wat as die verteenwoordigers van bepaalde streke beskou is. Die helde van die Anglo-Boereoorlog het veral in die noordelike provinsies ongeëwenaarde agting geniet. Transvaal was ’n Botha-Smuts-vesting en Vrystaters het oudpresident Steyn en J.B.M. Hertzog byna verafgod. In die Kaap was die bewondering vir sy voormalige eerste minister John X. Merriman nog baie sterk.

Daar was egter ’n nuwe geslag Afrikaners aan die opkom. Hulle het nie die oorlog beleef nie en het nie dieselfde toewyding aan sy ikone gehad nie. Hulle het Botha se pogings om konsiliasie, oftewel versoening, tussen Afrikaners en Engelse teweeg te bring begin uitdaag.

Botha het dit besef en dit het hom bekommer. Wat hom nog meer gekwel het, was dat dit gelyk het of die jonger generasie ’n alliansie met die magtigste van al die Afrikanerinstellings, naamlik die NG Kerk, vorm. Hy het dit nodig geag om Jan Smuts teen dié bedreiging te waarsku: “Jannie, jy en ek sal êrens ’n standpunt moet inneem, want vir my lyk dit duidelik dat daar ’n onderhandse samewerkery teen ons beginsels en gematigde politiek is … Die jong Afrikaners en veral ons Kerk gaan nou te ver, ons moet hulle laat omkeer voor dit te laat is, want so kan dit nie voortgaan nie.”[89]

Ongelukkig vir Botha het die golf van Afrikaner-nasionalisme binne die kerk en onder die jonger geslag bly groei, en Malan was onderweg na die kruin. In 1911 het die studente van Stellenbosch ’n groot taalfees gereël om die Uniegrondwet se verskansing van gelyke taalregte te vier, veral omdat dit die oorheersing van Engels in die voormalige kolonies amptelik begrawe het. Malan het ’n roerende toespraak, “Taal en Nationaliteit”, by dié konferensie gelewer.[90]

In sy rede het Malan hom weer eens van ingewikkelde linguistiese uitdagings gedistansieer en in stede daarvan die taal aan ’n breër, nasionalistiese ideaal gekoppel. Hy was vas oortuig al die Afrikanergemeenskap se probleme is daarin gewortel dat hul taal en identiteit nie erkenning kry nie, en dat op hul kultuur neergesien word. Die situasie was besonder nypend in die skole, waar Afrikaners se taal en geskiedenis in ’n hoek gevee is. Dit het volgens Malan ’n skadelike uitwerking op Afrikaners se karakter gehad omdat ’n volk wat sy selfrespek verloor het nie op ’n sterk karakter kon hoop nie.[91]

Die toespraak het Malan se verweefde wêreldbeskouing ontsluit. Hy het alles wat vir hom kosbaar was, saamgevleg: taal, nasionalisme en godsdiens. Taal was meer as net ’n kommunikasiemiddel: “Die taal is die omhulsel wat alles wat tot ’n volk behoort, saambind en tot één maak. Dit is die skil om die vrug, die vel om die liggaam, die bas om die boom, dit is nie net daar om saam te bind en in te sluit nie, maar ook om af te sluit teen dit wat buite is en tegelyk om alle gesonde groei en uitbreiding moontlik te maak.”[92]

Vir Malan was nasionalisme ’n lewende, groeiende organisme, met taal as die gom. Dit was heilig omdat die volk sy bestaan slegs aan God se wil te danke het. Malan het geglo God openbaar Hom in die geskiedenis, wat keer op keer bewys het verbrokkeling, eerder as vereniging, is die natuurlike orde. Die verhaal van die toring van Babel was ’n uitdrukking van hierdie diepgewortelde sielkundige en historiese waarheid. Malan het in sy toespraak aangevoer die mensdom is uiteenlopend en dat imperialisme, wat daarna streef om hierdie diversiteit uit te wis deur ’n enkele oorheersende kultuur daar te stel, regstreeks in stryd met God se wil is. Christenskap het eenheid gebring, maar nie ten koste van kulturele verskeidenheid nie. Inteendeel, die Christelike geloof het kulturele verskeidenheid vereer en verhef. Met Pinkster het die Heilige Gees die dissipels in staat gestel om verskillende tale te praat – en die vertaling van die Bybel in die plaaslike Duitse dialek was die kern van Luther se Reformasie. In die lig van hierdie bewyse het Malan sy gehoor meegedeel: “My nasionaliteitsgevoel berus in die laaste instansie op ’n godsdienstige grondslag.”[93]

Malan was daarvan oortuig dat hierdie ideale slegs verwesenlik kon word deur middel van kragtige persoonlikhede. Daarom moes daar manne van karakter wees. Vir Malan was manlikheid sinoniem met volwassenheid en ’n standvastige karakter. Jare tevore, toe hy nog ’n student in Stellenbosch was, het sy professor J.I. Marais die tekort aan ware manne betreur. Sy woorde het Malan laat nadink, en in antwoord hierop het hy sy beskrywing van ’n ware man geformuleer en met sy gehoor gedeel:

Wat is ’n Man? ’n Man het innerlike krag, iemand wat nie soos die gety deur iedere wind beweeg en meegevoer word nie, maar wat hom in iedere omgewing kan handhaaf. ’n Man is iemand wat sy stempel op ander kan afdruk omdat hy sy eie karakter het. Hy is iemand wat ’n oortuiging het, wat weet wat hy wil hê, wat daarvan bewus is dat hy vir iets staan. ’n Man is iemand wat weet dat daar beginsels is waaraan hy moet vashou, al kos dit wat, en wie vir dié beginsels, indien nodig, gewillig sy lewe sal gee.[94]

In reaksie op die toespraak het die voorsitter van die konferensie, prof. A. Moorrees, opgestaan, na Malan gewys en uitgeroep: “Daar is ’n man!” Daarop het ’n dawerende applous uitgebars.[95]

Malan het ’n aanvoeling gehad vir ’n individu se vermoë om verandering teweeg te bring. Die wêreld was vir hom ’n beter plek omdat ’n Luther die Reformasie ontketen het,[96] of omdat ’n Elia ’n Agab uitgedaag het. Selfs al het hy nie kontak met sy kennisse in Nederland behou nie, was Valeton se stem nog in sy kop en die beeld van die profeet Elia steeds in sy geestesoog.

Skaars twee maande ná sy beskrywing van ’n ware man was Malan terug in Stellenbosch, waar hy die beeld uitgebrei het – dié keer met die rede “De Profeet Elia en zyne beteekenis voor den tegenwoordigen tyd”.[97] Sy toespraak het opvallende ooreenkomste getoon met Valeton se “De strijd tusschen Achab en Elia”.[98] Soos Valeton het Malan die magstryd beskryf tussen Agab, die geslepe politikus wat Israel gered het deur sy vindingryke bondgenootskappe, maar teen ’n verskriklike prys, en Elia, wat eerder sou omkom as om God se waarheid te verloën.[99]

Die wyse waarop Malan die verhaal oorvertel het, het tot sy gehoor gespreek. Hy het die politieke modewoorde van die dag gebruik en sy rede omskep in ’n nouliks bedekte aanval op die Botha-regering. Agab se politieke alliansies met die naburige volke was “konsiliasiepolitiek” en “rassehaat” moes opgelos word deur “die verlede te vergewe en vergeet”, kulturele uniekheid en fundamentele verskille oor te sien en eerder te fokus op gemeenskaplikhede. In Israel se geval het “konsiliasie” of versoening sy nasionale godsdiens vernietig en die volk se morele kompas verlore laat gaan omdat konsiliasie na vreemde gode lei. Dit was volgens Malan ’n baie ernstige saak omdat ’n volk se god die aard van sy morele waardes en ideale, en dus ook sy toekoms, beslis. Vir Malan was dit ideale wat die toekoms bepaal, op dieselfde wyse as waarop die wêreld deur ideale geregeer word en daardeur ook die geskiedenis van nasies en individue vorm.[100]

Sy klem op ideale het herinner aan die Idealistiese filosofie wat hy as student bestudeer het – in sy woorde was daar ’n weerklank van Berkeley, Hegel en Fichte. Dit het later ’n belangrike deel van sy politieke loopbaan uitgemaak: Hy het ’n besondere vermoë gehad om ideale oor te dra – en dit was ideale waaroor nie onderhandel kon word nie. Volgens Malan was die Israeliete onder Agab ’n volk wat hul politieke onafhanklikheid ten koste van hul nasionale karakter en persoonlikheid, en hul God, en daarom ook hul gewete, verkry het. Vir Malan was so ’n kompromis simptomaties van ’n swak karakter. In teenstelling met die Israeliete se ruggraatloosheid was daar die profeet Elia, wat Malan beskryf het as die “man van staal”:[101] Alleen en ongewapen het hy nie teruggedeins vir Agab se mag of Isebel se woede nie.[102]

Vir Malan was Elia ’n man wat grootheid besit het soos net ’n kind van die woestyn kon. Hy was daarvan oortuig dat die geskiedenis ’n voorkeur het vir mans wat eensaamheid geken het, wat van die woestyn se leë vlaktes en eindelose hemelruim geleer het om na God se woord te luister, en ’n begrip van die ewigheid gehad het.[103] Aldus sprak die predikant van Montagu, wat eindelose ure op die Karoo se vlaktes deurgebring het, wat as kind ure lank in die veld was, en wat na die ruheid van die Swartland gehunker het terwyl die stede van Europa om hom aan die woel was. Dit was onvermydelik dat hy met Elia sou identifiseer en die profeet se vreesloosheid sou bewonder.

Dit het vir hom gevoel asof sy wêreld deur die gees van Agab oorheers word: Politici was meer behep met die openbare mening en stemme werf as met beginsels; sy volk het lippediens aan hul beginsels getoon en geweier om op hul regte te staan. Wat hulle nodig gehad het, was die herontwaking van die gees van Elia. Terwyl hy sy gehoor toegespreek het, het hy hardop gehoop daar is jong mans onder hulle wat bereid is om die profeet se mantel te dra.[104] Malan was steeds nie gereed om self die mantel op te neem nie en het nog vasgeklou aan Valeton se idee dat die politiek, en veral die politiek van sy eie land, beginselloos was.

Deur hierdie openbare optredes het Malan se vernaamheid binne die Afrikanergemeenskap begin toeneem, en daar is selfs in dié tyd gefluister dat hy nog ’n professor aan Stellenbosch se kweekskool sou word.[105] Hy het reeds die rol van ’n beskermheer van Stellenbosch en alles wat die dorp verteenwoordig het, aangeneem.

In dié jare was daar ’n beduidende onrustigheid in die Victoria-kollege se geledere. Die Unieregering het ’n groot som geld van die mynmagnate Julius Wernher en Otto Beit ontvang vir die stigting van ’n residensiële universiteit in Kaapstad wat by Groote Schuur – Cecil John Rhodes se eertydse landgoed – geleë sou wees. Dit was in ooreenstemming met ’n wens wat Rhodes al in die 1890’s uitgespreek het, maar wat weens sy betrokkenheid by die Jameson-inval agterweë gebly het. Die moontlikheid van so ’n universiteit is as ’n bedreiging vir die Victoria-kollege beskou, wat dan sou moes toemaak en sy studente aan die nuwe instelling afgee.

Om dit te voorkom, is daar in 1911 ’n Waaksaamheidskomitee gestig wat ’n oog moes hou oor enige verwikkelinge wat die kollege raak, en wat kommer en teenstand kon uitspreek indien sy bestaan bedreig word.[106] Malan was lid van dié komitee en het deelgeneem aan deputasies na sowel die minister van onderwys, F.S. Malan – wie se koerant, Ons Land, Malan tydens sy studentejare verslind het – en die Botha-kabinet in die geheel.

In 1913 het die komitee ’n memorandum opgestel wat baie aandag in die pers ontvang het.[107] Die memorandum het Malan se stempel gedra: Dit het aangevoer daar is meer as net ’n opvoedkundige inrigting ter sprake. Die ware kwessie is die belange van die Afrikanervolk en die ideale wat Stellenbosch verteenwoordig:

Stellenbosch … is vir jare al innig verbind tot die geestelike, sedelike en nasionale lewe van die Hollandssprekende gedeelte van die volk. Sy is die plek waar die Afrikanervolk sy ideale die beste kan verwesenlik en van waaruit hy die grootste invloed op Suid-Afrika kan uitoefen. Sy is die beste vervulling wat die volk nog kon vind vir ’n diepgevoelde behoefte. Sy staan vir ’n idee. Sy het daarom … vir die volk meer as ’n blote opvoedingsinrigting geword, maar die simbool en die waarborg van sy eie kragtige, groeiende uitdrukking-soekende nasionale lewe.[108]

Dié idealisering van Stellenbosch as ’n teelaarde vir Afrikaners se nasionalistiese ideale het nog ’n dimensie bevat: die verwydering en selfs die afsondering van die Afrikanerjeug om hulle teen Engelse invloede te beskerm. Dieselfde memorandum het uitgewei oor die moontlike negatiewe gevolge as die Afrikanerjeug op so ’n kwesbare tyd in hul lewens gedwing sou word om in Kaapstad te studeer. Hulle sou die ondersteuning en versorging wat Stellenbosch en die NG Kerk bied, mis en aan hul eie lot oorgelaat word in ’n omgewing wat deur Engelssprekendes oorheers word. Dit sou die balans tussen die twee dele van die bevolking versteur omdat die een onvermydelik ’n onregverdige voorsprong bo die ander sou hê.[109]

Die definisie van die breër Suid-Afrikaanse nasie en die posisie van Engelse en Afrikaners daarbinne was ’n belangrike deel van Malan se denke. In die konteks van die Botha-regering se konsiliasiepolitiek, die taalbeweging en die universiteitsvraagstuk het hy twee botsende ideale geïdentifiseer. Albei ideale het erken die Suid-Afrikaanse nasie bestaan uit twee nasionaliteite (swart, bruin en Indiërmense is nie as lede van die nasie beskou nie). Die een ideaal het die samesmelting van die twee nasies voorgestaan – en so ’n nasie sou uiteraard Engels wees. Die ander, wat vir Malan die enigste ware ideaal was, wou hê dat:

… daar in Suid-Afrika twee nasionaliteite is en daar altyd behoort te wees; dat ieder geheel vry sal wees en ’n gelyke geleentheid sal hê om dit wat sy eie is te handhaaf en te ontwikkel. Dít is die beste manier vir die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap om ’n eenheid te word, ’n sedelike eenheid, gegrond in ’n gemeenskaplike liefde vir ’n gemeenskaplike vaderland, maar dit sal ’n eenheid wees wat uit ’n tweeheid bestaan – ’n twee-eenheid. [110]

Dié woorde het baie verskil van ’n stelling wat Jan Smuts vier jaar tevore gemaak het: “The great task was to build up a South African nation … In a South African nation alone was the solution … Two such peoples as the Boers and the English must either unite or they must exterminate each other.”[111] Malan se oplossing, ’n samelewingsorde waarin die twee taalgroepe “apart maar gelyk” sou wees, is gegrond op ’n veronderstelling dat kulturele gelykheid nog nie bestaan het nie. Volgens Malan was Engelssprekendes steeds dominant en vyandig teenoor Afrikaners en hul taal. In daardie jare het diepe verdeeldheid en bitterheid tussen Engelse en Afrikaners geheers. In sulke omstandighede was die taalkwessie besonder plofbaar.[112]

Die situasie is ook in die pers weerspieël. In die onmiddellike nasleep van die Anglo-Boereoorlog het twee herkenbare belangegroepe gewedywer om persmaatskappye op te koop wat hul onderskeie politieke standpunte kon propageer. Aan die een kant het die Britse hoë kommissaris, sir Alfred Milner, staatsgeld gebruik om die lojaliteit van ’n aantal koerante te koop, wat op hul beurt die imperiale ideaal kon propageer. Hy het ook krygswet en sensuur ingespan om seker te maak die stem van ’n Afrikanerpers wat hom en sy regering nie goedgesind is nie word gesmoor. Botha en Smuts het egter geld uit Nederland gebruik om Milner se pogings om die Afrikanerpers te snoer teen te werk. Ondanks al hierdie gekonkel is die pers vir ’n vlietende oomblik verenig deur die optimisme van Uniewording en die vooruitsig van konsiliasie tussen die twee kampe. Die koerante se partydigheid het egter kort daarna weer na vore getree – en het ook in die Botha-kabinet kop uitgesteek.[113]

As ’n gebaar wat die land se nuwe eenheid moes aantoon, het Botha individue van al vier provinsies gekies om in sy kabinet te dien. Hy en Smuts het egter meer geneig in die rigting van die Engelssprekende Unionistiese Party, wat nou hul amptelike opposisie was,[114] as na die ander uiterste in eie geledere, wat deur genl. J.B.M. Hertzog verteenwoordig is.[115] Botha en Smuts het reeds vanaf 1907 na die politieke sentrum begin beweeg en na Engelssprekendes uitgereik. Dit is gedryf deur hul toenemende bewuswording van die wyer wêreld van internasionale magspolitiek. Die Britse Ryk het sowel sekuriteit as voordelige handelsbande gebied. Hulle het besef hulle kon slegs ekonomies vooruit gaan as hulle die vertroue van Engelssprekendes van Britse én Joodse afkoms kon wen omdat dié groepe Suid-Afrika se kapitaal grotendeels beheer het.[116]

Daarom was daar weinig verskil tussen die beleid van Botha se Suid-Afrikaanse Party en dié van die Unionistiese Party, wie se ondersteuners hoofsaaklik Engelssprekend was. Laasgenoemde het dit sy plig geag om Suid-Afrika se band met die Britse Ryk te beskerm. Onder die Unioniste se leiers was manne soos Leander Starr Jameson, van Jameson-inval-faam, die mynmagnate George Farrar en Lionel Phillips, en Percy Fitzpatrick, wat ’n prominente Uitlander-leier in Kruger se Transvaal was.[117] Albei partye het die konsep van ’n enkele Suid-Afrikaanse nasie, ’n pragmatiese “naturellebeleid”, wit (maar geen Asiatiese) immigrasie, ekonomiese ontwikkeling en imperiale voorkeur gesteun.

Nie een van die twee partye het spesiale beskerming vir die Afrikaner voorgestaan nie, wat vir Hertzog ’n steen des aanstoots was. Dit was danksy Hertzog se ingryping dat die Nasionale Konvensie, wat die voorwaardes vir Uniewording onderhandel het, gelyke status aan Nederlands en Engels in alle openbare sake toegestaan het en voorsiening gemaak het vir ’n tweetalige staatsdiens. Hertzog het daarop aangedring dat taalgelykheid slegs verkry kon word as skole albei tale as ’n medium van onderrig gebruik.

Hertzog het dié beleid in die voormalige Oranjerivierkolonie, waar hy ’n kabinetsminister was, ingestel. Dit het hy gedoen al het Engelssprekendes, wat geen rede kon sien waarom hul kinders Nederlands moes leer nie, hom ’n “racialist” genoem. Hertzog se onderwysbeleid het twee teenstrydige beginsels laat bots: die reg van ouers om hul kinders se taal van onderrig te kies teenoor die samelewing se reg om tweetaligheid van sy kinders te verwag.

Botha was op sy beurt baie gefrustreerd omdat Hertzog die taalkwessie so aangeblaas het,[118] maar hy kon hom omseil toe die Unie se nuwe onderwysbeleid geformuleer is. Hertzog se stelsel van totale gelykheid is tersyde gestel. In die plek daarvan het drie van die vier provinsies moedertaalonderrig vir die eerste ses jaar verpligtend gemaak, waarna ouers die medium van onderrig kon kies. In Natal is die keuse volkome aan die ouers oorgelaat.[119]

Malan was die voorsitter van Montagu se plaaslike skoolkomitee en het ’n punt daarvan gemaak om Afrikanerkinders se reg om in Nederlands onderrig te word, af te dwing. Wat hom betref, het moedertaalonderrig slegs op papier bestaan, want die stelsel is steeds deur Engels oorheers. In antwoord op ’n regeringsvraelys het Malan dit duidelik gestel skoolinspekteurs moet tweetalig wees.

Hy het ook gevra dat al die departement van onderwys se korrespondensie met Montagu se skoolkomitee in Nederlands geskied omdat dit die taal is wat deur die meeste lede van die komitee gepraat en verstaan word en omdat “volgens Art. 137 van die Suid-Afrika wet, Hollands een van die amptelike landstale is”.[120] Die departement het geantwoord die praktiese toepassing van die wet is nogal moeilik omdat nie alle staatsamptenare Nederlands kan skryf nie. Daarop het die skoolkomitee geantwoord die situasie moet so gou as moontlik aandag kry.[121]

Op onderwysgebied het Malan se kommer wyer as die taalkwessie gestrek. Die armoede onder Afrikaners het al hoe hagliker geword en sy besoeke aan die buitewyke van die distrik het aan die lig gebring dat vele ouers nog die 1905-wet wat onderwys verpligtend gemaak het, geïgnoreer het. Om sake te vererger was die owerheid se toepassing van die wet ook gebrekkig. Om verpligte onderwys in sy distrik ’n werklikheid te maak – veral onder die dorp se armes – het vir Malan ’n saak van groot belang geword.[122] Die armblankevraagstuk was een van sy vernaamste prioriteite. Hy het reeds as student in Nederland besorgdheid oor armoede getoon [123] en sy werk as predikant het die nood onder sy kudde ’n daaglikse realiteit gemaak: In sy arm gemeentelede se huise het hy letterlik van aangesig tot aangesig met hul gebrek gekom. Dit het ’n blywende indruk gelaat wat verder verdiep het toe hy in 1912 buite die grense van die Unie kennis gemaak het met die mees verwaarloosde Afrikaners wat hy nóg teengekom het.

In daardie jare het die NG Kerk toenemend aandag aan sendingwerk begin skenk. Malan was self uit ’n gesin wat sendingwerk hoog aangeslaan het en hy het ’n formidabele vermoë gehad om sy gemeente tot fondsinsameling en ruimhartige skenkings aan te spoor. Montagu se gemeente het die salaris van ds. George Murray, ’n sendeling in Masjonaland, betaal en later het hulle ook ds. J.G. Strijdom, ’n sendeling in die Soedan, ondersteun. Teen 1911 het Montagu die hoogste per capita-bydrae tot sendingwerk in die hele Kaapprovinsie gelewer. Malan het hierdie fondsinsamelings gekoppel aan die noodsaaklikheid om ook vir die gemeente se eie armes te sorg en so het die bydraes vir armoedeverligting saam met dié vir sending gestyg.[124]

Malan het in April 1912 aan ’n groot sendingkonferensie in Stellenbosch deelgeneem. Daar het ’n sinodale komitee hom genader om NG gemeentes in Suid- en Noord-Rhodesië te besoek. Malan was bereid tot die taak.[125] Hy het later briewe oor sy vordering aan De Kerkbode geskryf. Dié briewe het die vorm van ’n reisdagboek aangeneem en gewilde leesstof geword. Dit is selfs ook in Ons Land en Onze Courant, Graaff-Reinet se plaaslike koerant, gepubliseer en was so goed geskryf en boeiend dat die briewe saamgebind is in ’n boek wat twee oplae beleef het.[126]

Malan het op 18 Julie 1912 uit Montagu vertrek. Hy is deur ’n diaken, David Burger[127], vergesel op dié reis, wat in ’n groot avontuur ontaard het. Daar was baie slegte koffie, eindelose ure op treine, sinkplaatpaaie, donkiekarre waar die donkies self hul pas en werkure bepaal het, ’n perd wat vir afwisseling gesorg het deur dán te draf en dán te galop, muskiete wat in die oop veld op hulle toegesak het en bowenal die skoonheid van die bos. Dit het egter nog voorgelê.[128]

Toe hy Montagu in die stiknagdonker agterlaat, steeds gloeiend ná ’n spontane afskeid in die stadsaal, het Malan begin wonder of hy na die dorp sou terugkeer om sy werk voort te sit, of om afskeid te neem.[129] ’n Skamele drie dae voor sy vertrek het Graaff-Reinet se kerkraad aan hom geskryf en hom beroep om by hul predikant, ds. P.K. Albertyn, aan te sluit.[130]

Die brief is deur ’n persoonlike brief van Albertyn vergesel waarin hy by Malan gepleit het om die aanbod te aanvaar, aangesien hulle hom ook beroep het omdat “ … ons in hierdie dele ’n sterk man nodig het op die gebied van taal en nasionaliteit … Ons volk het u in hierdie dele broodnodig! Ou broer kom, KOM en help ons! As jy die prediker en student wil wees, sal ek gewilliglik die grootste deel van die besoekwerk doen.”[131]

Albertyn het voorsien dat Malan vir groot dinge bestem was – hy het aangeneem Malan sou binne die afsienbare toekoms ’n professor word en daarom was hy bereid om die nodige opofferinge te maak om die dienste van ’n man met sy talente te bekom.[132] Vir Malan, wat alewig oorweldig is deur die pastorale las wat hy alleen moes dra, en wie se passies en belangstellings veel wyer as die grense van sy distrik gestrek het, moes die aanbod soos manna uit die hemel geklink het. Trou aan sy aard het hy egter nie dadelik op die aanbod gereageer nie. Hy het eers deeglik daaroor nagedink.

Onderweg na Bulawayo is hy ingehaal deur ’n brief van die Montagu-kerkraad wat by hom gepleit het om by hulle te bly – tensy dit God se wil is dat hy na Graaff-Reinet gaan.[133] Malan was nie een wat vinnig besluite geneem het nie, maar hy het sy kerkraad nie te lank in die duister gehou nie. Teen middel Augustus het hy ’n telegram gestuur en hulle in kennis gestel dat hy die beroep na Graaff-Reinet aangeneem het.[134]

God se wil het in Malan se gedagtes bly maal terwyl hy oor sy eie toekoms en dié van die vasteland waardeur hy op reis was, probeer besin het. Op die trein na Bulawayo het hy ’n nuwe, bygewerkte kaart van Afrika voor hom oopgevou. Dit was so anders as die kaarte wat hy as skoolseun bestudeer het. Kartograwe uit vervloë dae het die oop spasies van die vasteland met fyn tekeninge van leeus, olifante, krokodille en slange gevul. Dié gediertes is intussen vervang deur die name van berge, riviere, mere en dorpe wat seker net ’n verskrikking ingehou het vir ’n skoolkind wat hulle uit die kop moes leer.

Nogtans het dit vir Malan gevoel asof hy onderweg was na ’n vasteland waar onbeskaafde miljoene nie hul linker- van hul regterhand kon onderskei nie – en dié mense was nou die verantwoordelikheid van die Europese nasies wat hul kleure op die kaart geverf het. Die kaart het vir Malan aan ’n koek herinner waaruit elk van die koloniale moondhede ’n hap gevat het. Hulle het die heil van Afrika se inwoners op hul skouers gedra, en moes op die oordeelsdag aan God rekenskap gee oor wat hulle vir die land en sy mense, vir wie Christus sy bloed gegee het, gedoen het.[135]

Dié mymeringe wys Malan was ’n kind van sy tyd – die produk van ’n Sosiaal-Darwinistiese denkwyse wat die wêreld as ’n hiërargie van beskawings beskou het. Vir Malan was rasseverskille God se skepping, dit was inherent, deel van die natuurlike orde, en hy het dit nie bevraagteken nie. Rassekonflik was die uitvloeisel van ’n versteurde orde en dit kon vermy word deur die status quo te handhaaf. Danksy hul velkleur en Europese erfenis het wit Afrikaners aan die Westerse beskawing behoort en daarom was hulle volgens Malan inherent beter as swart Afrikane, wat hy as primitief beskou het. Hy het geglo swart mense behoort tot die heidennasies wat nou eers die voorreg kon smaak om Christus se boodskap vir die eerste keer te hoor.

Malan het ook geglo swart mense het ’n natuurlike en diepgewortelde respek vir die draers van die beskawing. Daarom het hulle wit mans aangespreek as “baas” of selfs “inkosi” – dieselfde naam waarmee hulle na God verwys het. Malan was ook daarvan oortuig dat swart mense meer respek vir Afrikaners as vir Engelse gehad het. Hy het geglo hulle het Paul Kruger as ’n groter gees as Cecil John Rhodes beskou.[136] Binne dié konteks het die Afrikaners ’n spesiale, godgegewe roeping gehad, “die Afrikaner het mag oor die Kaffer.† Maar voorwaar, ons sou nie hierdie mag gehad het as dit nie van Bo gegee is nie. Het God nie daarin vir ons volk ’n hoë en heilige roeping ingesluit nie?” Só het Malan gevra.[137]

Sy idealisme oor rasseverhoudinge het ’n diepe naïwiteit oor die aard en wese daarvan geopenbaar. Tot in daardie stadium het die demografie van die era sy interaksie met mense van ander rasse grotendeels tot die bruin gemeenskap in die Wes-Kaap beperk. Die kontak met bruin mense het gewoonlik binne ’n paternalistiese verhouding geskied waarin hy altyd in ’n magsposisie was – eers as die seun van ’n welvarende boer wat bruin mense slegs as arbeiders en huishulpe geken het, en later as ’n predikant wat alkoholisme in die bruin gemeenskap getakel het deur ’n beroep op sy wit gemeentelede se rassestatus te doen. Sy kennis van swart mense was beperk en gegrond op wat hy in boeke gelees het en die verhale van sy suster en vriende uit die noorde.

Malan het dus gestalte gegee aan sy ideaal vir rasseverhoudinge in ’n wêreld wat ver verwyderd was van die binneland se rassekonflik. Sy reis na die noorde het hom nie tot nuwe insigte gebring nie, maar eerder sy ideaal bevestig omdat ’n reisiger selde met sy vermeende utopie se alledaagse probleme kennis maak.

Malan was in vervoering oor die plekke wat hy besoek het en die mense wat hy ontmoet het. Alles en almal was so anders as die stad met sy eenderse mense, wat eenderse opinies handhaaf en eenderse gebruike het, wat eenderse klere dra en in eenderse huise woon. Hier in die wildernis was uiteenlopende en unieke persoonlikhede wat nog onopgesmuk was. Hy is oorweldig deur die gasvryheid en vrygewigheid van die mense wat gereed gestaan het om die man van die kerk met ope arms te verwelkom.

Op sy eerste aand in Rhodesië het hy in ’n ou Voortrekkerhuisie geslaap, kompleet met bokhorings teen die mure en velle op die vloer. Hy het ’n diens buite onder die bome gehou en toe die gesange die hemelruim in opsweef, het hy gevoel asof hy teruggevoer word na die dae van die Voortrekkerleiers – Piet Retief en Andries Pretorius – ’n tyd toe eenvoud, gasvryheid en egtheid nog die fondament van Afrikaners se nasionale karakter was, of so het hy geglo.[138]

Hoe dieper hy Rhodesië egter inbeweeg het, hoe meer het hy op uitdagings vir sy verhewe beeld van Afrikaners afgekom. Die gemeenskappe in Rhodesië was yl gesaai en ver buite die bereik van die NG Kerk en sy gemeenskap van die heiliges. Vele het die prooi van die “wêreldsheid” om hulle geword en talle het heeltemal ophou kerk toe gaan. Ander het die dienste van ander denominasies bygewoon omdat die naaste NG gemeente te ver was en hulle het dus die gevaar geloop om van hul eie denominasie vervreem te word.

Malan was ook bekommerd oor die hoeveelheid “gemengde huwelike” tussen Afrikaanssprekende lidmate van die NG Kerk en die lidmate van Engelse kerke. Hy het geglo dit verswak die band tussen lidmaat en kerk en kinders uit so ’n huwelik het dan geen band met enige kerk nie.[139]

Dit was die eerste keer dat Malan die term “gemengde huwelike” gebruik het – en wel slegs binne ’n godsdienstige verband. Huwelike oor die kleurgrens heen, wat in die apartheidsera as “gemengde huwelike” bekend gestaan het, het ook in Rhodesië tussen wit en bruin plaasgevind. Dit was vir Malan afstootlik. Hy was vas oortuig Afrikaners het nie deel gehad aan sulke huwelike nie – net die Engelse kon so “laag daal”. Malan het dit toegeskryf aan Afrikaners se inherente weersin in so ’n “skaamtelike” bestaan, maar die enkele uitsonderings het hom verontrus. Dit was ’n voorteken dat Afrikaners ook deur die euwel van rassevermenging in die gesig gestaar word, iets wat tot in daardie stadium nog grotendeels deur die NG Kerk se invloed gekeer is.[140]

Met sy aankoms in Bulawayo was Malan verstom oor die stad se ingewikkelde rassehiërargie. Daar was ’n groot Afrikaanssprekende bruin gemeenskap wat geweier het om met swart mense te meng of ’n kerk met hulle te deel. Daarom was daar ’n kerk vir bruin mense in aanbou – wat beteken het hulle kon ook nie by die wit kerk aansluit nie. Bruin werkgewers het daarop aangedring dat hul swart bediendes hulle as “baas” en “nooi”, of “Mister” en “Missus” aanspreek. “Wat ’n onbeskryflike ingewikkelde maatskaplike toestand het ons tog nie!” het Malan in ’n brief uitgeroep.[141]

Boonop was daar nog wit armoede wat rasseverhoudinge beïnvloed het. Malan was geskok toe hy ontdek die NG Kerk se weeshuis in Bulawayo was oorvol en het al sowat 20 kinders weggewys. Drie van dié kinders is daarna deur ’n bruin gesin ingeneem. Toe dié nuus die plaaslike NG predikant bereik, “het die barmhartigheid die hart van die goeie predikant beweeg om hulle by hom in sy eie beknopte woning in te neem. Hulle word nou in die pastorie se badkamer gehuisves, ’n sinkgeboutjie in die agterplaas.”[142]

Dié woorde is sonder enige ironie geskryf – die onwenslikheid van wit kinders wat by ’n bruin gesin moes woon, was so vanselfsprekend dat die haglike omstandighede by ’n wit gesin skaars ter sprake was. Vir Malan was dit belangrik om geld in te samel om die onhoudbare situasie te verlig en die beeld van drie weeskinders in ’n beknopte sinkbadkamer onder die skroeiende Afrika-son het sy meer bevoorregte lidmate in die Kaap sekerlik aangegryp.

Die beroep om finansiële hulp het gou ’n prominente deel van sy briewe aan die Kaap geword, want die Rhodesiese gemeentes was in ’n benarde situasie. Hulle was wydverspreid en ook te arm om voltydse predikante aan te stel en het dus baie onreëlmatig geestelike sorg ontvang. Malan het nóg ’n gevaar raakgesien: Benewens die omgewing wat gedreig het om mense van hul kerk te vervreem, was daar die gevaar dat hul kinders vir die volk verlore sou gaan.

In die Suid-Rhodesiese skole is Nederlands kwalik verdra en die Noord-Rhodesiese staat het geen geld aan ’n skool wat enige Nederlands onderrig het, toegeken nie. Afrikaanssprekende kinders moes dus Engelse skole bywoon waar hulle die evangelie nooit in hul eie taal gehoor het nie. Om sake te vererger, is hulle geleer om die taal van hul kerk en dus hul kerk self te verag.[143] Vir Malan was taal, kerk en volk so onafskeidbaar dat minagting van die een gelykstaande aan minagting vir die ander was.

Om die saak verder te vererger, was baie van hierdie skole Katoliek, wat beteken het Afrikanerkinders was die prooi van die immer naderende “Roomse Gevaar” wat vanaf die Katolieke koloniale moondhede in Sentraal-Afrika suidwaarts beweeg het. Malan was daarvan oortuig die bedreiging kon slegs weerstaan word deur ’n buffer, in die vorm van ’n sterk Protestantse Afrikanergemeenskap, in Rhodesië te vestig. Die toewyding van ’n goed gefinansierde NG Kerk in Rhodesië kon dit teweeg bring.[144] Malan se beroepe op sy lesers vir geldelike steun was dus nie net op hul geestelike gewetens gemik nie, maar ook op hul nasionalistiese gevoelens.

Malan het verder noord gereis, al hoe dieper die Katolieke hartland in. Hy het gemeentes in Noord-Rhodesië besoek en uiteindelik die grens na die Belgiese Kongo oorgesteek. Hy was onderweg na die trein se laaste terminus by die nuutgeboude stad Elizabethville[145] waar ’n paar Afrikanergesinne hulle gevestig het. Die Kongo se oerwoude het hom engtevrees gegee – die bome was so dig dat hy nie veel meer as ’n paar meter voor hom kon sien nie en in die digte bosse kon hy glad nie rigting bepaal nie. Die moontlikheid om in hierdie wildernis te verdwaal, was ’n wesenlike gevaar. Vir Malan was so ’n plek wat deurtrek was met tropiese siektes en tsetsevlieë geen plek vir ’n wit mens nie. Hy was allesbehalwe beïndruk met die Afrikaners wat so ver noord getrek het.[146]

Die Afrikaners wat hy daar aangetref het, was van ’n ander klas. Hulle was altyd aan die trek, nie om enige bepaalde rede nie, maar omdat trek vir hulle soos ’n godsdiens geword het. Vir Malan was dit ’n verdraaiing van die Calvinistiese uitverkiesingsleer – wat onder meer die gedagte bevat dat alles wat gebeur deur God se wil bepaal word. Die Afrikaners van die Kongo het hul swerwersbestaan geregverdig deur aan te voer hulle het die Gees se stem gevolg. Malan het egter getwyfel of hierdie “gees” van God afkomstig was. Dié mense het hom nie met enige romantiese idees oor die dae van die oorspronklike Voortrekkers vervul nie. Wanneer ’n trekkery tot so ’n uiterste gevoer word, is dit niks anders as skadelik nie, het Malan geskryf:

Hier is dit verseker nie altyd maklik om gees en vlees van mekaar te onderskei nie. Dit is ten minste seker dat die trekker dikwels grote, byna onherstelbare skade ly aan sy hoogste belange. Vir maande en jare bly hulle dikwels geheel buite die invloed van die Evangelie, die kinders word ongeleerd groot, hulle word langsamerhand afkerig teenoor gereelde of swaar werk. Hulle loop selfs gevaar om die Bybel en huisgodsdiens heeltemal te laat uitsterf. Want, soos die een en ander aan ons gesê het, as ’n mens smôrens vóór ligdag moet trek om die hitte te ontwyk en as die wind saans die kers in die watent doodwaai, kom daar spoedig niks meer van “boekevattery” tereg nie.[147]

Malan se afkeer het uit elke letter gedrup. Hy het enige geestelike arbeid onder hierdie mense beskou as ’n poging om ’n lekkende damwal met die vinger te probeer toestop. Hulle moes in die eerste plek nie daar gewees het nie en het reeds tot die klas van die armblanke behoort. Malan was bitter besorg oor die armblankevraagstuk omdat hy geglo het dit het ’n regstreekse uitwerking op sowel Afrikaners se godgegewe roeping as op hul voortbestaan. Dit kon die fyn gebalanseerde rassehiërargie versteur.

Vir Malan was armblankedom nie soseer ’n armoede van die vlees as ’n geestelike armoede nie, waar alle sin van volwassenheid en selfs selfrespek verlore gegaan het. Al oplossing wat hy kon sien, was om hul karakter weer op te bou.[148] Dit was ’n belangrike dryfveer agter sy beheptheid met taalregte, want soos hy telkemale herhaal het, was taal regstreeks verwant aan nasionale selfrespek, wat op sy beurt karakter bepaal het.

Die armoede onder wit mense wat hy in Suid- en Noord-Rhodesië teëgekom het, was anders. Malan het dit “pioniersarmoede” genoem. Dit was ’n tydelike situasie wat deur plae soos die runderpes of ooskuskoors veroorsaak is, of deur die beproewings wat die vestiging van ’n nuwe nedersetting meebring. Pioniersarmoede het egter die gevaar geloop om in armblankedom om te sit omdat bogenoemde rampe mense kon noop om as ’n tydelike oplossing ’n swerwersbestaan of transportryery op te neem, of nog erger, om te begin jag.

As die tydelike later permanent word, gaan die heilsaamheid van die gesinslewe verlore, ’n mens se sin vir verantwoordelikheid verswak en die kinders kry geen opvoeding nie – of indien wel, net ’n bietjie – en mense verleer om daagliks hard te werk. Wanneer die transportryery dan later nie meer ’n bestaan bied nie of as al die wild uitgeskiet is, is hierdie mense ook nie meer geskik vir enigiets anders nie. “Dit ly geen twyfel dat die armblankekwessie in die agtertent van die transportwa en nog meer agter die kolf van ’n Mauser, gebore word nie,” het Malan geskryf.[149]

Die armblankevraagstuk moes opgelos word om die “Swart Gevaar” die hoof te bied, want wit armoede het gedreig om die rassebalans te versteur:

… die inboorlingkwessie is tog ten slotte ’n kwessie van respek. Indien die laer ras vir die hoëre respek het omdat die hoëre die respek waardig is, dan is daar geen naturellekwessie van betekenis nie. Waar die respek egter verlore gaan, daar sal nóg die onthouding nóg van politieke en maatskaplike regte die blanke kan red. Die gewelddadige uitsluiting van burgerregte, wat selfs die mees onwaardige blanke mag geniet, sal in dié geval die uiteindelike revolusie net sekerder en sneller naderbring en dit soveel noodlottiger maak. Indien die blanke deur sy gedrag die naturel se respek verbeur, beteken dit in ieder geval vir Suid-Afrika – die sondvloed. Om hierdie rede alleen, indien dan om geen andere nie, behoort die Suid-Afrikaanse volk geestelik en sedelik die mees hoogstaande en bes opgevoede volk in die wêreld te wees. Uit dié oogpunt beskou, is die oplossing van die armblanke-kwessie ook die oplossing van die inboorling-kwessie.[150]

Malan het by sy lesers gepleit om hul blik te verskuif. In plaas daarvan om deur swart mense bedreig te voel moes hulle eerder bedreig voel deur die agteruitgang van ander wit mense: “Die swart gevaar sou nie daar gewees het as dit nie vir ’n honderd maal groter witte gevaar, wat die swarte se respek vir die wit ras ondermyn en vernietig, was nie. Dat die Kaffer‡ sleg is, is nie in die eerste plek die Kaffer se skuld nie, allermins van die sending; dit is die skuld van die vele blankes wat erger as Kaffers leef.”[151]

In sy reisdagboek het Malan aanhoudend by die NG Kerk gepleit om sy werk in Rhodesië uit te brei en Nederlandse skole te bou. Daar was egter ’n nuwe, belangrike wending in sy denkwyse. Hy het in ’n politieke huis grootgeword, koerante sedert sy studentejare verslind, velle en velle vol politieke menings aan sy vriende en familie geskryf en roerende toesprake gelewer oor die mees gepolitiseerde saak van sy dag – die taalbeweging. Politiek was vir hom soos suurstof en tog, onder Valeton se invloed, het hy dit weggestoot en as smetlik afgemaak. In Rhodesië was dit egter vir hom nog duideliker as vantevore dat beleidsbesluite wat op regeringsvlak geneem word die aard van ’n samelewing bepaal.

Nasionale opheffing kon slegs geskied as die regering die volk se belange steun, soos deur die opvoeding van hul kinders in die taal en geloof van hul kerk. Die kerk sal slegs suksesvol kan wees as die hoogste range van die staat deur dieselfde ideale besiel word. Vir die eerste keer het Malan ’n plek vir die godsdiens binne die politiek begin sien: “Met die oog op die toenemende ontkerstening van ons volk … sal die tyd miskien ook kom dat daar in ons Parlement ’n onafhanklike Christelike-nasionale party sal wees, wat aan ons volk die waarborg kan gee dat daar onder geen omstandighede van sy heilige beginsels handelsware gemaak sal word nie.”[152]

Dié visie was nader aan ’n werklikheid word as wat hy besef het. Dit was nog ’n paar maande voordat Hertzog uit die kabinet geskop is, en nog meer as ’n jaar voordat die Nasionale Party gestig is, maar in Malan se agterkop het ’n deur wat jare lank gesluit was stadig maar seker begin oopswaai.

Die laaste bestemming op Malan se reis was ’n besoek aan Morgenster, die sendingstasie waar sy suster sedert haar troue gewoon en gewerk het. Een van die sendelinge, Maria van Coller, het haar indrukke van Malan in haar dagboek aangeteken: “Dr. Malan is, in weerwil van uiterlike voorkoms, opgeruimd, simpatiek (uiters). Kan lekker lag, lekker redeneer, veral met vroumense.”[153]

Hier het Malan ook swart mense ontmoet wat ’n sendingopvoeding ontvang het. Dit het sy standpunt oor die rassehiërargie en wit armoede versterk. Daar was baie wit mense wat gekla het die sendelinge wat swart mense onderrig blaas rassespanning aan omdat geleerde swart mense kwansuis geen respek vir wit mense gehad het nie. Hulle was daarteen gekant dat swart mense hoegenaamd enige opvoeding ontvang. Malan het dit duidelik probeer stel dat dit onmoontlik is om swart ontwikkeling te keer, want dit is onvermydelik dat swart mense daarna sal streef om hulself te verbeter:

Maar al sou dit ter wille van die meerderheid van die blanke ras geregverdig wees om ’n vyandige houding teenoor die opvoeding van die Kaffer in te neem, met die naturelle wat onmiskenbaar na bo streef, is sulke teenstand in ieder geval nutteloos. U kan nie die water van die Zambezi met u hand terughou nie. U kan nie ’n demper op die berg Etna plaas nie. Die enigste redmiddel is meer en veral beter opvoeding vir die blanke sodat hy, ook sonder geweld, sy meerderheid kan handhaaf. Kennis is mag.[154]

Malan het nie bedreig of vyandig teenoor swart opvoeding gevoel nie – soos altyd het hy die fokus terug na Afrikaners verskuif. Hy het sy lesers verseker die kommerwekkende “astrantheid” waaroor hulle gekla het, is nêrens by Morgenster te bespeur nie. Inteendeel, hy is deur hul hoflikheid oorweldig.

Hy het ook aan sy lesers probeer verduidelik daar is niks fout met swart mense wat Engels leer nie. Swart sendelinge wat onder hul eie mense in hul eie taal gearbei het, het ook geestelike versterking nodig en omdat daar geen sulke boeke in hul eie taal beskikbaar was nie, moes hulle Engels kon lees om hierdie belangrike behoefte te vervul. Om Engels te kon praat, het ook ’n swart mens se vermoë om ’n inkomste te verdien, verhoog. Dit het weer gesorg dat hy beter behandeling ontvang: “Die Engelse is as ’n reël geen eksperte in die aanleer van vreemde tale nie en daarom kan hy meer verdien as hy Engels kan verstaan. En bowendien, as hy sy meester kan verstaan, kan hy doen wat van hom verwag word en dan hoef hy nie uitgeskel en geslaan en geskop te word, soos wat dikwels gebeur nie.”[155]

Soos sy kommentare oor die kinders in die predikant se badkamer is hierdie woorde sonder enige besinning geskryf vir ’n gehoor wat daarmee kon identifiseer. Malan het dit egter duidelik gestel dat blote kennis van die Engelse taal nie as ’n opvoeding beskou kan word nie en was self vyandig teenoor Amerikaanse en Britse sendelinge wat die evangelie saam met ’n stewige dosis kulturele imperialisme aangebied het.

Wat hom betref, was die opvoeding wat laasgenoemde verskaf het daarop uit om die swart mens van sy aard en volk weg te skeur. Dit sou sy selfrespek vernietig en daardeur sy karakter en uiteindelik ook sy toekoms. Selfrespek was kritiek belangrik, want dit was al manier waarop ’n mens, ongeag sy kleur, opgehef kon word. Dit was die ware rede vir Malan se taalaktivisme: “Die stryd om die taal is die stryd om selfrespek en karakter, en daarom ook om die geestelike en stoflike selfstandigheid van die volk. Die bevredigende oplossing van die taalkwessie is … ook die oplossing van die armblanke en arm kleurling kwessie.”[156]

Hy was daarvan oortuig dat swart en bruin kinders, nes wit kinders, tydens hul eerste ses skooljare moedertaalonderrig moes ontvang. Dié onderrig moes egter nie daarop gemik wees om swart of bruin namaaksels van Engelsmanne te skep nie,[157] maar moes by elke nasie se bepaalde karakter en roeping aangepas word:

Wat gedoen moet word, is dat die Regerings van Suid[er]-Afrika die opvoeding van die kleurling nie, soos wat tot dusver die geval was, moet oorlaat aan die willekeur van die Sendinggenootskappe nie, nog minder moet ’n verkeerde en noodlottige stelsel aan die Sendinggenootskappe opgedring word, maar deur rekening te hou met die kleurling se bestemming as arbeider, moet daar ’n bepaalde naturelle-onderwys-politiek neergelê en deur wetgewing beliggaam word.[158]

Malan se denke oor swart mense het dalk die algemene opvattings van die tyd weerspieël, maar dié opvattings het 30 jaar later die fondament van die apartheidsmitologie geword – byna asof dit wat as algemene kennis beskou is skielik natuurwette geword het.

Malan was in vervoering oor die landskap om hom. Die stede van Europa kon hom nie roer nie, maar die bos het hom betower. Die skoonheid was ’n openbaring van God se grootheid. Elke plek wat hy besoek het, was vir hom mooier as die vorige, van die Matoposberge en die vrugbare valleie tot die majestueuse Victoria-waterval. Die Zambezirivier was vir hom oorweldigend, dit was ’n “koninklike” rivier, die “trots van Afrika”. Sy helder en lewende waters met sy “donkergroene, bosbegroeide oewers en die skaduryke eilande bied ’n toneel so skilderagtig, so romanties soos ’n mens nêrens in die wêreld sal aantref nie”.[159] Die Zambezi het Malan nog lank ná sy vertrek bygebly en hy het jare later saam met sy bruid daarheen terugkeer.

Malan het begin November 1912 na Montagu teruggekeer. In sy afwesigheid het sy reisbeskrywings aan De Kerkbode ’n stroom briewe en artikels ontlok. Malan en die Afrikaners van Rhodesië was aan die voorpunt van die openbare belangstelling.[160]

Hy moes egter die volgende groot stap in sy lewe neem: van Montagu na Graaff-Reinet. Hy en sy stiefma het die saak lank bespreek – dit was nie ’n uitgemaakte saak dat sy hom sou volg nie. Uiteindelik het sy tog besluit om hom na sy nuwe gemeente te vergesel en so het die hele Malan-gesin hulle op die trek begin voorberei.[161]

* Rassistiese terme is in talle van die oorspronklike dokumentasie gebruik. Hier en elders behou vir historiese akkuraatheid.

Rassistiese terme is in talle van die oorspronklike dokumentasie gebruik. Hier en elders behou vir historiese akkuraatheid.

Rassistiese terme is in talle van die oorspronklike dokumentasie gebruik. Hier en elders behou vir historiese akkuraatheid.

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme

Подняться наверх