Читать книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe - Страница 11
ОглавлениеIN DIE ERA voor Rykie, was die joernalistieke aarde woes en leeg?
Nee tog, hier en daar is verwysings na vroeë vroulike joernaliste. Die groot naam is Miemie Rothmann (1875-1975), beter bekend as M.E.R., wat algemeen beskou word as die eerste professionele Afrikaanse vroulike joernalis. Van Reenen is tweede, en die een wat ’n standaard gestel het waaraan joernalistiek ná haar gemeet kon word. Maar vóór M.E.R. en Van Reenen was daar ook ander wat op hul beurt wegbereiders was. In die Suid-Afrikaanse mediageskiedenis het vroue ’n rol gespeel, hoewel klein weens die kulturele en sosiale onderdrukking van hul tyd. En hoewel hierdie publikasie op een vroulike joernalis en haar “wesenlike bydrae”2 tot die Suid-Afrikaanse joernalistiek fokus, is dit tog nodig om vir konteks eers effens wyer te kyk na die rol van vroue.
Die joernalistiek is al beskryf as die “first rough draft of history” – ’n geskiedenis wat boonop deur die eeue hoofsaaklik deur mans geskryf is. Soos Robert W. Desmond in 1978 skryf: “In the performance of its function, the press provides a service to the public and at the same time is recording what will become history … The history of the press itself is a part of the social history of mankind [sic] in his search for information and understanding. As such, it deserves to be recognized – along with its publishers, editors, and reporters … as governments, statesmen [sic], and military leaders are remembered.”3
“Yet,” skryf Desmond, “little has been set down, except in uncoordinated bits and pieces, to make clear the importance of the pen and the reporter in man’s [sic] advance from the primitive existence.” Sy studie is bedoel om dié “omission in the social history of man [sic]” te herstel.
Uit slegs dié enkele bron – daar’s vele meer – is dit duidelik dit gaan om ’n manlike perspektief op geskiedskrywing, ook een wat die mediageskiedenis van “mankind” reflekteer. Diegene wat “history in a hurry” skryf, skryf boonop nie dikwels hul eie geskiedenis nie, en wanneer wel, is dit meestal die “brose” uitdrukking van wit, manlike historici se beperkte perspektiewe.4
Die mediahistoriografie het maar eers die afgelope paar dekades begin aandag kry en in Suid-Afrika is dit steeds ’n onderbestudeerde veld in die mediastudie. Die Afrikaanse media moes voorts saam met die Afrikaanse taal ontwikkel en dié wedersydse invloed is vroeg reeds erken. In 1933 het ’n navorser oor taal en media geskryf: “Ek wil nie trag om te beslis of die een die oorsaak van die ander was nie. Dis genoeg vir my doel om te sê dat die twee saam hand aan hand gegaan het.”5 Die gedagte word ondersteun deur Schalk Pienaar se mening dat ’n “stuk politieke joernalistiek”, naamlik Meurant se gedig oor Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar, die “eerste werklike stuk Afrikaans” was.6
Tog gaan ’n ander weglating ongesiens verby: Vroue is deel van hierdie geskiedenis. Geen wonder dan dat daarop aangedring word dat ’n “herstory” pleks van ’n “history” geskryf moet word. Maar in koloniale Suid-Afrika, met ’n tekort aan opleidingsinrigtings, en boonop nie ’n nywerheidsland nie, was vroue nie vanselfsprekende studente nie. Die baanbrekerjoernalis M.E.R. was in 1894 maar slegs die vierde vrou wat aan die South African College7 (later die Universiteit Kaapstad) toegelaat is.8
Vroue se bydrae tot die joernalistiek word slegs maar die laaste paar dekades bestudeer en hierdie hoofstuk is ’n oorsigtelike boekstawing van vroue se rol in die ontwikkeling van die joernalistiek en hul “intrepid persistence in the face of professional hostility”.9
Die ignorering van vroue as volwaardige joernaliste blyk duidelik uit verskeie bronne. Een so ’n voorbeeld is ’n “praktiese leerboek”10 vir joernaliste van 1982. Daar word byvoorbeeld slegs na manlike joernaliste verwys en die manlike persoonlike voornaamwoord word deurgaans gebruik. Dit gaan oor die “koerantman”: die manlike norm geld. Dié manlike perspektief op die geskiedenis word onderstreep deur die feit dat boeke oor Piet Cillié en Schalk Pienaar binne een jaar gepubliseer is. Van Reenen, wat beskou word as Afrikaans se voorste joernalis van die twintigste eeu, kry nie dieselfde erkenning nie. Daarom dat die teenwoordigheid van die “ekstra chromosoom”11 uiteindelik ook in die Afrikaanse joernalistiek verreken moet word.
In ’n artikel oor Petronella van Heerden skryf die literator Annemarié van Niekerk hoe belangrik dit vir vroue is om hul verlede as ’n geslag te onthou en te herdefinieer. Sy haal Gordon, Buhle en Dye aan wat sê “the categories and periodisation of traditional historiographers have been masculine by definition”.12 Voorts: “Because most women have lived without access to the means of social definition and have worked outside the spheres of reward and recognition, they have not had a history as historians have defined the term.”
Die historikus June Sochen beskryf die “geskiedenisloosheid” van vroue as volg:
Historians of the Western world have traditionally written about, and thereby preserved in print, the spectacular events, actions, personalities, and thoughts of human history … Their idea of spectacularity has been governed by their cultural views: most especially, their inherent assumption that man, rather than woman, is the maker of history and culture: and that the white man, rather than the black man, is the noteworthy participant in history … [A]ll historians operate within their particular frames of reference, their unique regions, genetic makeup, family upbringing, and social experiences. Thus, the records of history are indeed fragile expressions of white male historians’ limited perspectives.13
Hoewel dié menslike beperkinge op historici nie oorkom kan word nie, kan baie daarvan beheer word: “The liberation movements … during the 1960s and 1970s have made all Westerners more aware of the serious prejudices that have governed society’s treatment of these groups. Historians … have been faced with the need to redress the legitimate grievances suffered by women and blacks in their written records … The history books are slowly being rewritten to include these heretofore forgotten groups,” skryf Sochen.
Volgens Sochen het historici ontdek dat vroue gedink, geskryf en gereageer het op baie van dieselfde onderwerpe as mans. “This is not to suggest that women’s … participation in history has been morally superior or ideologically preferable to … men’s, but simply that women … did participate in history and should be given their rightful place.”
Hoe vroue in die media gereflekteer word, en wie die produseerders van daardie media is, is twee kante van dieselfde probleem. Vir lank het dit vroue “op hul plek” as tweedeklas-burgers in ’n manlik gedomineerde samelewing gehou. Tog kon vroue se deursettingsvermoë nie onderdruk word nie. “One reason that women took to earning their living by the pen was that men found it difficult to stop them, particularly if they descended to such deceitful depths as using a male pseudonym, adopting a male persona, or remaining ‘anonymous’,” skryf die historikus Dale Spender in Women of Ideas. Sy gaan voort:
[B]y the eighteenth century some women perceived a choice of occupation between the ‘oldest profession’ and the ‘newest profession’, and the reason for engaging in either was usually necessity …
Without exception, men have for the last few hundred years resisted women’s attempts to enter paid work which men have reserved for themselves; a fundamental tenet of a male-dominated society has been that women must have no resources of their own but must look to men for support. This is one of the ways male dominance is maintained and one of the reasons that women who earned their living by the pen were more often than not treated as transgressors and punished for their ‘crime’.14
In Extraordinary Women Journalists word genoem dat baanbreker- vroulike joernaliste ’n paar dinge gemeen gehad het: “Many of the women came from educated families and were exposed to books and ideas very early. Several of them came from families where independent thinking and creativity were fostered. As children, they were encouraged to be unafraid to be different from their peers.”15
Ander kenmerke was: “Many of these women lost one or both of their parents at an early age. And of those who grew up with both parents, many seem to have had an exceptionally close relationship with their fathers – rather than their mothers.” Ook: “Some common personality traits also stand out in many of these women. They were challenged instead of frightened or put off by obstacles. They were stubborn, persistent, and refused to take ‘no’ for an answer when they wanted something. They were unwilling to accept limits imposed on them by society or by other people.”
Diegene wat Rykie van Reenen geken het, sal waarskynlik baie van haar kenmerke in dié beskrywing herken, asook die eksterne faktore wat haar persoonlikheid gevorm het om die uiteindelike baanbrekersrol te kon vervul.
Tog staan vroulike joernaliste vandag verstom – indien nie uitgesproke postfeministies krities nie – dat hoegenaamd geskryf moet word oor hoe vroue hul toetrede tot die joernalistieke beroep gedoen het. Dis ou nuus, en eintlik irrelevant vir ’n geslag wat gewaande gelykheid as vanselfsprekend beskou. Maar gedenk hoe ver vroue gekom het.
Een van die vroulike protojoernaliste in die agttiende eeu, die Britse lady Mary Wortley Montagu (1689-1762), het haar geslag gewaarsku dat dit beter is om tog nie “te slim” te lyk nie. Sy het dié raad oor haar kleindogter se opvoeding aan haar dogter gegee: “The … caution to be given her (and which is most absolutely necessary) is to conceal whatever learning she attains with as much solicitude as which would hide crookedness or lameness. Learning in a woman is a deformity as far as men are concerned, and men make up the rules.”16
Teen die middel van die negentiende eeu het al hoe meer vroue ’n rol in die media gespeel. Soortgelyk aan M.E.R ’n eeu later aan die Kaap, was die Britse uitgewerpionier Anna Jameson (1794-1860) ’n mentor vir jonger vroue, en haar “adopted nieces” (ook bekend as die Langham Place Group)17 het vroeg reeds in hul boek Women and Work geagiteer vir betaalde werk vir vroue.18 Soos die meeste baanbrekers het hulle baie kritiek ontlok, veral vanuit manlike joernalistiekkringe: “. . . it would be an excellent thing if all single women would get married as fast as they can, and the rest hold their tongues in a dignified manner.”19 Gelukkig het hulle nie, en hul invloed het uitgekring. Vroulike joernaliste het byvoorbeeld hul “man” gestaan teen ’n Britse publikasie uit 1874 wat vroue as kopers en lesers as ’n redelike deel van die samelewing erken het, maar wat slegs “gentlemen and scholars” se werk gepubliseer het.20 Vroue is dus erken as kopers en lesers, maar nie as joernaliste en skrywers nie.21
Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan het ’n vrou reeds in 1842 as redakteur van ’n Amerikaanse dagblad gewerk. Hoewel sy die blad van haar broer geërf het, was sy gou uit eie reg bekend as die “brilliant lady editor”.22 Enkele jare later is ’n landwye debat uitgelok deur die redakteur van ’n vroueblad wat die langbroek as vrouedrag gedra en verdedig het.23 Vir Afrikaanse vroue is dié debat ’n eeu later in Sarie gevoer.24 Die eerste klub vir vroue in Amerika, die Sorosis, is in 1886 gestig nadat vroulike joernaliste verbied is om ’n dinee by te woon ter ere van die besoekende Charles Dickens.25
Hoewel eers sowat ’n eeu later as hul voorgangers in Brittanje en die VSA, het vroue in die Afrikaanse pers ook ’n leidende rol in vrouebemagtiging en aktivisme gespeel deur hul betrokkenheid by die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV). So byvoorbeeld was Maria Cillié,26 wat vir die eerste vyf jaar van Die Burger se bestaan ’n gereelde rubriek in die blad geskryf het, die tesourier van die vereniging.27 M.E.R. het in 1928 haar werk as eerste vaste vroulike joernalis by Die Burger bedank om organiseerder te wordM.E.R. 1972. My beskeie deel. Kaapstad: Tafelberg. p. 222.28 en Ida Theron, suster van die befaamde Erika, was ook ’n ACVV-organiseerder.29 Selfs Van Reenen, wat die vereniging eens as “die beste tradisie van ’n vrouevereniging wat letterlik die weg voorberei het vir welsynsdienste in Suid-Afrika”30 beskryf het, het in ’n stadium, onder invloed van die talle ACVV-vroue by Die Burger, byna die joernalistiek verlaat om haar by hulle aan te sluit.31
Saam met die toenemende aandrang op regte vir vroue, het al hoe meer vroue ook tot die joernalistiek toegetree. Vroulike joernaliste is beskryf as “bitter” en “aggressief”,32 maar ’n vroulike joernalis antwoord eenvoudig daarop: “I ask no favors for my sex. All I ask our brethren is, that they will take their feet from off our necks, and permit us to stand upright on that ground which God designed us to occupy.”33
Gevolglik het feministiese publikasies veld gewen en ’n “leemte gevul in beriggewing deur die oorwegend manlike pers wat dikwels onbegrypend, onsimpatiek of selfs verontwaardig oor vrouestemregkwessies was”.34 ’n Maatstaf vir die ontwikkeling van vroulike joernaliste is dat slegs een Amerikaaanse vroulike joernalis geakkrediteer was gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Met die Tweede Wêreldoorlog was daar meer as twintig.35
Dié oorlog het vroue ook in die algemeen die kans gegee om te bewys dat hulle enige denkbare manspos kan vul. Belangriker: Dit het die openbare mening ten gunste van werkende vroue help swaai.36 Tot in die twintigste eeu het ’n stigma gekleef aan vroue wat buitenshuis werk. Die werkende getroude vrou, voorheen ’n sosiale minderwaardige, is met die Tweede Wêreldoorlog aanvaar as ’n eersteklasburger met ’n onmisbare bydrae. Sy sou nie ná die oorlog haar ekonomiese onafhanklikheid prysgee nie,37 hoewel die openbare ideaal ná die oorlog tog weer in die rigting van “kombuis, kerk en kinders” geneig het. Sedert die 1960’s kon vroue in liberale Westerse samelewings meer keuses maak. Meer het gegradueer, hulle het later getrou, en hulle het beheer oor swangerskap gehad danksy voorbehoedmiddels waarvoor hulle self verantwoordelikheid kon neem.38 Maar in retrospek het dié “Vrouebevryding” eintlik verdere vroueverknegting beteken, want ondanks vroue se rol in die openbare sfeer het hul werk en verpligtinge in die private sfeer dieselfde gebly – huis en huishouding was steeds die vrou se verantwoordelikheid. Omdat sogenaamde “nuwe gesinne” boonop behoefte aan twee inkomstes gehad het, het dit beteken vroue met ’n gesin het nie ophou werk nie, wat twee heeltydse werke beteken het.39
In die wêreld van die “koerantman” in die vroeë Hollands-Afrikaanse joernalistiek was vroue so skaars en onbelangrik dat die meeste geskiedskrywers hulle ignoreer. In twee omvattende artikels oor die geskiedenis van die Kaaps-Hollandse joernalistiek40 bevat een lewensketse van die belangrikste Hollands-Afrikaanse joernaliste, met geen verwysing na ’n vrou nie; die ander een het terloopse verwysings na twee vroue.41
Nederland en Brittanje, twee voorlopers in die uitgee van koerante, het hul kolonie die reg op ’n vrye pers ontneem.42 Weens die feit dat daar geen persvryheid aan die Kaap was nie, het die eerste publikasie, op ’n staatspers, eers in 1800 verskyn. Die eerste onafhanklike koerant is in 1824 gepubliseer – en kort daarna verbied.43 Dit was die lot van vele daarna. Die pers het gevolglik stadig ontwikkel, waarskynlik ook met die gevolg dat die Suid-Afrikaanse vrou eers ná die tweede helfte van die negentiende eeu ’n rol begin speel het.
In die eerste opgetekende verslae van ons mediageskiedenis soek ’n mens dus byna vergeefs na vrouename, of selfs hul skuilname. Skuilname, veral ook manlikes,44 was veral in die agttiende en negentiende eeu gewild omdat dit as skandalig vir ’n vrou beskou is om te werk, wat nog skryf. Manlike skuilname is ook soms gebruik omdat vroue andersins nie ernstig opgeneem is nie.45 Die stigma van die werkende vrou is dus omseil deur tuis “agter geslote deure te skryf”.46
Vroue in die vroeë Suid-Afrikaanse mediageskiedenis was gewoonlik “belangstellende buitestanders eerder as betrokkenes”. Een van die eerste name47 is die weduwee van G.W. Silberbauer (onder haar man se voorletters, volgens die gebruik van die tyd) en mej. Ella Neethling. Soos in Amerika, was die teenwoordigheid van ’n manlike gesinslid dus ook ’n voorvereiste vir die eerste vroue in die Suid-Afrikaanse joernalistiek. Silberbauer het ná haar man se dood sy tweetalige The Cape of Good Hope and Port Natal Shipping and Mercantile Gazette uitgegee. Dit het van 1844 tot kort ná 1860 verskyn. “Mejuffrouw” Ella Neethling, dogter van die Stellenbosse predikant J.H. Neethling, het ná haar pa se dood De Wekker oorgeneem. Dit is in 1859 gestig en tot kort voor Neethling se dood in 1925 uitgegee. Rondom die eeuwending was daar ook mev. Maria Koopmans-De Wet, die stigter van De Goede Hoop.48
Verskeie studies waarin die Suid-Afrikaanse en spesifiek ook Afrikaanse persgeskiedenis bespreek word, meld slegs ’n handjievol vrouename en dan meestal in ondersteunende rolle eerder as dié van joernaliste. Onder hulle is “mev. Kénne Malherbe” (onder haar man se naam),49 wat in 1919 die maandblad Die Boerevrou(w)50 gestig het. Die tydskrif is in 1932 gestaak.51 Mabel Malherbe was egter allermins ’n vrou wat deur haar man se identiteit bepaal hoef te word. As die eerste vroulike burgemeester in Suid-Afrika en slegs die tweede vrou wat tot die parlement verkies is – die eerste Afrikaanse52 – word sy met reg as “remarkable” en “powerful, impressive” beskryf.53
Met die stig van die Sunday Express in die 1930’s het Lily Barlow, vrou van die Express redakteur Arthur G. Barlow, op soortgelyke wyse ’n besondere dog kameerol in die Suid-Afrikaanse joernalistiekgeskiedenis vertolk.54
In Behind the Press in South Africa (1947) verskyn onder die hoofstuktitel “The Pressmen”55 geen enkele vroulike joernalis nie – waarskynlik te verwagte gegewe die titel van die hoofstuk. ’n Verdere hoofstuk oor die Afrikaanse pers verwys slegs na een vrou, nie as joernalis nie, maar as befondser van publikasies, en ook eers ná haar afsterwe. Haar naam kom twee keer voor, weliswaar as “Mrs Jannie Marais”.56
Ten spyte van ’n aansienlike persentasie vroulike joernaliste in Suid-Afrikaanse nuuskantore teen die 1980’s,57 fokus twee boeke uit dié tydperk steeds op mans se bydrae tot en rol in die pers. In Joernalistiek vandag (1982) word na joernaliste slegs vanuit die manlike perspektief verwys, met die manlike persoonlike voornaamwoord en die wêreld van die “koerantman” wat dwarsdeur die boek geadem word.58 ’n Mens moet die publikasie dit nagee dat twee van die 22 bydraers darem vroue was. Met ’n Wyse van spreke: Die ontstaan van die pers in Suid-Afrika (1983) se bydrae tot ’n “begrip van die manne en die motiewe” wat ’n vrye pers vir Suid-Afrika probeer bewerkstellig het,59 word die manlike hegemoniese kyk na die joernalistiek bevestig.
Ook in Joel Mervis se monumentale The Fourth Estate (1989) is die vroue wat ’n rol gespeel het in die Suid-Afrikaanse mediageskiedenis maar karig – en dié wat wel genoem word figureer nie eens altyd as joernaliste nie. So byvoorbeeld het die mediadekking van die hofsaak van die berugte moordenaar Daisy de Melcker gesorg dat haar naam in die annale van die Suid-Afrikaanse mediageskiedenis verewig is.60
Die eerste “amptelike” vroulike joernalis in die Suid-Afrikaanse media, omdat sy blykbaar ’n vaste aanstelling as redaksielid gehad het, was ’n edelvrou. Sy was Anna, gravin van Bremont, wat in 1889 vir die vroueblad van The Star verantwoordelik was.61 Dit was waarskynlik nie toeval dat ’n edelvrou die pos by ’n Suid-Afrikaanse dagblad vervul het nie, want hulle het danksy hul stand toegang tot opvoeding gehad.
Vergelykenderwys was die ontwikkeling van vroue in die Suid-Afrikaanse joernalistiek ver agter dié van hul susters in Amerika. Terwyl die gravin Johannesburgers se “betowerende hoede” en “bekoorlike rokke”62 beskryf het, het Elizabeth Cochrane onder die skrywersnaam Nellie Bly byvoorbeeld reeds ses maande in Mexiko deurgebring om korrupsie in die regering en toestande in die tronke vir haar koerant te ondersoek.63
Die evolusie – of dalk eerder eva-lusie64 – van die vrou in die Suid-Afrikaanse joernalistiek was om verskeie redes veel stadiger as in Engeland en Amerika. Teen die einde van die negentiende eeu, toe Amerikaanse vroulike joernaliste hulle binne-in die koerantkantoor bevind het en van skuilname vergeet het, het vroue in die Suid-Afrikaanse media nog talle vooroordele beleef. Van der Vyver haal Olive Schreiner aan: “Throw the puppy into the water: if it swims, well; if it sinks, well; but do not tie a rope round its throat and weight it with a brick, and then assert its incapacity to keep afloat.”65
Wat was die situasie rakend spesifiek die Afrikaanse joernalistiek? In die laaste kwart van die negentiende eeu het die Eerste Afrikaanse Taalbeweging en die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) ’n blatante anti-vrou beleid gehad. Hulle is nie toegelaat as “vriendinne” van die Genootskap nie, en kon boonop ook nie aanvanklik in Die Afrikaanse Patriot publiseer nie.66 Volgens een bron was hul beleid daarop gebaseer dat die “skrywersrol sou bots met die moedersrol”.67
In ’n boek oor die ontstaan van Afrikaans word só na dié diskriminasie verwys: “Die GRA het besluit ‘vrouws’ mag nie ‘vriendinne’ van die GRA wees nie en Oom Lokomotief68 het gepleit teen dié besluit. Toe het hy weer voorgestel dat vroue in Die Afrikaanse Patriot mag skrywe, maar sy medebroers wou nie juis daarvan weet nie! Af en toe het daar tog ’n brief van ’n ‘niggie’ ingeglip.”69
Dié eerste Afrikaanse koerant, gestig in 1876, en ook Ons Klyntji (1896), eerste Afrikaanse tydskrif, het ’n aktiewe beleid van diskriminasie teen vroue gevolg. Die redakteur van laasgenoemde sou eers ná ’n jaar vir die eerste keer na vroue as lesers verwys. Dit het ook daarby aangesluit dat die Gedenkskool in Daljosafat bedoel was vir seuns – meisies is toegelaat indien daar nie genoeg seuns was nie.70
Die Burger, as oudste koerant van Naspers, is byna die perfekte gevallestudie vir die ontwikkeling van die Afrikaanse vroulike joernalis. By sy stigting in 1915 het vroue ’n kosmetiese rol gespeel: Mev. Christiaan Marais – onder haar man se naam – het die rolpers formeel aangeskakel om die eerste proefeksemplaar te druk.71 Tog het vroue van vroeg reeds erkenning van hul kommersiële waarde gekry. Op die heel eerste vroueblad van dié koerant word die “leseresse” meegedeel watter groot waarde hul koopkrag het. Tog is min aan redaksionele kant gedoen om vrouekrag ook daar te gebruik.
Die eerste stuk deur ’n vrou, die rubriek “Muzikale kroniek”,72 het drie dae ná die eerste koerant verskyn. ’n Mens sou egter nie weet dat dit uit die pen van Johanna Luyt was nie, want dit is onder die geslaglose “Toonkunst” geskryf. Die Hollandse Luyt het eers ná haar huwelik aan die begin van die twintigste eeu na die Kaap gekom. As musiekonderwyseres het sy haar onderrig- en skryfberoep tot ’n paar jaar voor haar dood behartig, drie kinders grootgemaak, ’n musiekhandleiding geskryf, verskeie kore afgerig en ’n steunpilaar van die Afrikaanse Eisteddfod geword73 – ’n fenomenale vrou wat ’n pioniersrol gespeel het in meer opsigte as net die Afrikaanse kunsjoernalistiek. Luyt was nooit ’n vaste redaksielid nie, maar was vir die eerste vyftien jaar van Die Burger se bestaan die enigste vrou wat ’n “deurlopende gereelde joernalistieke bydrae gelewer het”.74
Die ander vrou in die eerste paar jaar van Die Burger was Maria Cillié, of “mev. dr. G.G. Cillié” volgens haar naamlyn by haar rubriek, en die moeder van Van Reenen se latere kollega Piet. In die eerste “Het huis en het huisgezin” skryf Cillié die advertensiemark sou aan vroue net so veel mag bied soos aan mans om van De Burger ’n finansiële sukses te maak. “Laat iedere vrouw die bezigheden hartelik steunen, die in De Burger adverteren, en als zij dan in zo een winkel komen of hun bestelbriefjes schrijven, net zeggen of schrijven: ‘Ik heb u advertensie in De Burger gezien.’”75
Afgesien van Die Burger het die ontstaan van Afrikaanse tydskrifte, en spesifiek vrouetydskrifte soos Die Boerevrou(w) en later die weeklikse Die Huisvrou, ook gehelp om die weg vir vrouejoernaliste te baan. “Tannie van die Brandwag”, mev. Hester van Heerden (1873-1947), se naam word vermeld as een van die eerste Afrikaanse vrouejoernaliste.76 Met die stigting van die tydskrif Die Brandwag in 1910 het “geen inheemse lektuur vir die Afrikaanse vrou en kind” bestaan nie. Van Heerden het die “getroue en geliefde vriendin van duisende huisgesinne deur die lengte en breedte van die land” onder die skrywersnaam “Tannie” geword. Sy word ook beskryf as “die eerste skryfster van Afrikaanse kinderlektuur, en haar werk sal haar laat voortleef in die herinnering van ’n dankbare volk”.77
In haar rubrieke sou sy intellektuele voedsel verskaf, “want die Afrikaanse vrou loop gevaar om heeltemal agter te raak”.78 Daar sou ook iets ligters soos “resepte vir koek en konfyt en raad vir siektes” wees, en ook grappies “om die heer des huises op te beur as hy tuiskom”.
Een leser het gekla oor die “veilige” inhoud – resepte, “huisraatjies”, haarnaaldwerk en hekelpatrone – van “Tannie” se rubrieke. Die leser het geskryf dat die tydskrif “eeue agter raak” omdat dit nie stemreg vir vroue bepleit nie. Hierop het ’n “woedende brief uit die platteland” gevolg: “As julle met vrouestemreg begin, smyt ek die blad my huis uit.”
Toe Die Brandwag ná die Eerste Wêreldoorlog vou, het Van Heerden “nog jare lank, eers as lid van die redaksie en later as vaste medewerkster, vir Die Volkstem in Pretoria gewerk”.79 Die “toevallige” joernalis Lea Rompel-Koopman het ook gereeld vir dié blad geskryf voordat haar man na Die Burger is en waar M.E.R. later saam met hom sou werk.80
Die aanbreek van die Eerste Wêreldoorlog het ongekende geleenthede vir vroue gebied. Ook vir Suid-Afrikaanse vroue was dit die “eerste tree na ’n volgehoue loopbaan buite die huis”. En ook in die pers het “vrouename geleidelik minder skaars geword”.81 Verskeie vroue het in dié tydperk onder skuilname in Die Burger geskryf. Benamings in die gemoedelike Afrikanertrant van “niggie” en “tante” is gevolg: “Nicht Madeleine” het met “jong meisies gesels”, “Sussie” het stories vir kinders geskryf, “Tante Kota” het raad vir “moeders in die huis” gegee, ene “B.K.” het inligting oor kinderboeke verskaf, en “Boervrouw” het resepte verskaf.82
Hoewel M.E.R. amptelik as die eerste professionele vroulike Afrikaanse joernalis beskou kan word, is daar tog nog ’n vrou uit dié era wat genoem moet word: Sarah Goldblatt, die dogter van ’n Oos-Europese Joodse immigrantepaar, is waarskynlik deur Langenhoven se toedoen in 1917 in Die Burger se redaksie “aangestel”. Ná ’n jaar moes sy ander werk vind omdat die koerant mense moes aflê.83 Toe Langenhoven vanaf 1921 ’n weeklikse rubriek geskryf het, het Goldblatt egter steeds elke Sondagaand saam met haar “chief” die redaksiekantore besoek om die rubriek te proeflees.84
Die fenomenale M.E.R.
Die era van die professionele Afrikaanse vroulike joernalis het met M.E.R. se aanstelling as eerste “redaktrise” van die vroueblad by Die Burger aangebreek – sewe jaar ná die koerant se stigting. Sy was egter veel meer as net joernalis. In ’n resensie van haar biografie skryf Hennie Aucamp dat die “maatskaplike werker, die sosioloog, die taalkundige, die politikus, die onderwyskundige, die feminis” elkeen ’n resensie oor die boek sal kan skryf, elk uit sy eie vakperspektief.85
M.E.R. het nooit van feminisme weggeskram nie. Alhoewel sy aangestel is om die vroueblad te behartig, het sy, anders as vrouejoernaliste van haar tyd, ’n merk in die ernstige joernalistiek gemaak deur oor aktuele sake te skryf, eerder as om stereotipes te verdiep met rokmodes en resepte. Volgens M.E.R. self sou die “stukke” in Die Burger “Vrouesake” heet, “nie omdat ons meen dat vroue hulle net met hierdie soort sake onledig hou nie – glad nie”. Dan: “Net politiek, sê die Redakteur, moet wegbly; en daaroor sal niemand spyt wees nie; ’n mens word tog alte moeg van stryery … ”86 Dis interessant dat M.E.R. haar dié patriargale instruksie laat welgeval het. Of dalk was dit soos water van ’n eend se rug, want sy hét eintlik presies dít – politiek – bedryf. Daaronder was die debat oor vrouestemreg prominent.87
In haar skryfwerk het sy “’n houding jeens sosiale onderdrukking [getoon] wat haar tyd ver vooruit” was. Sy kritiseer die persepsie dat die vrou minderwaardig teenoor die man is, dat sy lid is van die “swakker geslag”, of dat die vrou haarself as “dienende Marta” voorstel.88 Sy het haar ma as die eerste feminis beskou en haar eie feministiese bewussyn het vroeg reeds ontwikkel. In haar memoires skryf sy oor ’n insident tydens die voorbereiding vir haar vertrek na die South African College, toe haar tuisdorp se winkelier haar ma vra of sy haar kinders laat leer sodat hulle mans kan kry.89 “Ek laat hulle leer,” het haar ma geantwoord, “om sonder mans klaar te kom as hulle wil.”
M.E.R. het later daaroor geskryf: “Die aantyging het in haar die feminis wakker gemaak. In elke vrou – dit is my ondervinding – skuil dit, maar in sommige by wie die slaapgoed té verdowend is, word dit nooit wakker nie.”90
Buiten M.E.R. se feministiese pleidooie het die eerste feministiese boek in 1921 in Afrikaans verskyn: Vrou en feminist – of iets oor die vroue-vraagstuk, deur Marie du Toit, suster van Totius. Haar boek was die direkte gevolg van haar broer se diskriminerende kerkpolitiek.91 Totius was onder meer gekant teen die stemreg vir vroue – dit was teen “God se wil” dat vroue aan sulke aktiwiteite deelneem.
Geslagsvooroordele, skryf Du Toit, is gelyk aan ras- en klasvooroordele. Sy vergelyk die vrou se posisie met dié van ’n slaaf uit die baas se oogpunt. Hoe goed hy die slaaf behandel, hoe tevrede die slaaf is, dat hy die slaaf van die nodige voorsien. “Maar,” skryf sy, “… die vernaamste is tog: hoe voel die slaaf daaromtrent?”
Oor die kwessie of M.E.R. self “amptelik” beskou kan word as die “eerste Afrikaanse feminis”, het haar biograaf Steyn in ’n onderhoud geantwoord: “Of sy die eerste feminis was, weet ek nie – maar sy was onder die eerstes seker die bekendste en invloedrykste omdat sy haar oor baie jare heen vir die bemagtiging van die vrou beywer het, en dikwels in die koerant kon reageer op uitlatings of optredes wat teen vroue gemik was.”92
Verder: “Wat dit vir haar moontlik gemaak het om so baie daaroor te skryf, was die feit dat sy van 1922 tot 1928 redakteur van die vroueblad … was, en daarna gereeld elke week ’n artikel … geskryf het tot aan die einde van die jare dertig. Sy was een van die vegters vir die vrouestemreg, eers versigtig, maar later baie openlik.”
Volgens Steyn het M.E.R. verkies om die woord “vrouepartydigheid” pleks van feminisme te gebruik omdat dit “in die twintiger- en dertigerjare ’n redelik negatiewe gevoelswaarde gehad het”.93 In 1990 het Steyn onder meer verwys na M.E.R. se “geslagspartydigheid” soos dit in haar Burger-werk gemanifesteer het. Sy het onder andere oor Hitler en Mussolini geskryf en hoe hulle dit as vanselfsprekend beskou het dat hulle oor vroue se “lot en leefwyse” kon beskik.94
Sy het nooit gehuiwer om ook mans van aansien aan te vat nie. Toe Langenhoven geagiteer het dat vroue nie tot die regsberoep toegelaat mag word nie, het M.E.R., self die eerste vrou in “’n mannelike werkkring”, dit nie sonder meer aanvaar nie. In maar haar tweede rubriek – dus nie suutjies trap vir die manlike owerstes nie, ondanks haar “aanvaarding” van die redakteur se bevel dat sy haar nie met politiek moet bemoei nie – bespreek sy Langenhoven se argument breedvoerig, en kom dan met haar teenargument: “Die ernstigste beswaar egter teen die toelaat van vrouens, nie alleen tot die regtersbank nie, maar tot enige werkkring waar eers mans alleen was, is dat die vrou die man uitstoot – en wat word van die mans?”95
Die joernalis P.A. Joubert meen dit het moed gekos, “want Langenhoven was die mees gevierde volkskrywer van die tyd en was ’n gedugte debatteerder”.96 Sy het ’n paar keer met Langenhoven gebots – ’n effense “waagstuk” juis omdat Langenhoven so geliefd was. Hy het selfs een keer ’n “onvriendelike opmerking” oor vroue teruggetrek.97
In haar verdediging van vrouebelange het M.E.R. “te velde getrek teen sake soos ongelyke salarisse vir mans en vroue en ook teen optredes wat vandag belaglik lyk, soos die voorstel van ’n kerklike liggaam wat wou hê dat onderwyseresse afgedank word as hulle in die openbaar rook”.98 In die tydskrif Sarie het sy in 1950 op 75 geskryf dat dit nie ’n geval is van vroue wat, soos sommige mans beweer, windmeules soek om te bestorm nie. Sy skryf: “[S]olank die mans … vir vele duisende vroue vir dieselfde werk minder betaal as vir die mans – hoe kan ons oortuig word dat ons met ’n windmeule te doen het?”99 En as die jong mans by Die Burger soms gedink het dat sy die feminisme “bietjie te dik” aanmaak, kon hulle nie “bra ’n antwoord op haar streng beredeneerde betoog” vind nie, skryf Die Burger se taalghoeroe Louis Hiemstra.100
Later verwys sy in haar outobiografie na een van haar rubrieke van 1922: “Baie mense is geneig om die hele vrouebeweging as sondig te bestempel. Maar dit is nie; dit is net so min sondig as die oorloop van ’n dam wat te vol geword het.”101
Na M.E.R. se vroueregtebewussyn verwys ook Aucamp as haar “geslagspartydigheid”.102 Hy skryf dat dit “veral haar romans skeefgetrek het: nêrens is daar ’n sterk, intellektuele mansfiguur wat die eweknie van sterk vrouefigure is nie”. Steyn verwys ook na haar vroulike karakters en dat dit opvallend was dat “die sterkste en mooiste karakters vroue is”.103 Hy sê sy het in haar koerantstukke “nogal maklik ’n stekie na die mans se kant gegee”.
Hy meen dit kon dalk “amper-amper” grens aan “vrouechauvinisme”. Sy skryf byvoorbeeld op ’n keer oor rook. Sy was nie gekant daarteen nie (dit was toe nog nie bekend as gesondheidsrisiko nie), maar het gemeen vroue is daarbo verhewe: “En die rookgewoonte is darem maar nie sindelik nie. En bo alles kan ’n mens nog ’n bietjie kinderagtigheid aan ’n man toestaan, omdat hy eenvoudiger van aard is as ’n vrou; maar die vrou wat ’n kind moet lei en grootmaak – sy behoort nie aan ‘infantilisme’ te ly nie.”104
Dié amperse “vrouechauvinisme” blyk ook uit latere korrespondensie. In ’n brief aan Van Reenen in 1964, gedateer 27 September, kry sy haar stekie in: “Sê vir Alba ek kry op 25e haar brief gedateer 16e; seker aan ’n mansmens toevertrou om te pos.”105
As “vroueredaktrise” het M.E.R. op verskeie terreine pionierswerk gedoen. Een daarvan was as kampvegter vir bewaring. In die Steyn-biografie word verwys na hoe sy haar redaksionele kolomme gebruik het om die bewaring van fynbos in die Wes-Kaap te bevorder:
“Om die kweek van veldblomme aan te help, het sy met ’n ruilkolom uitsluitend vir Suid-Afrikaanse veldblomme begin. ‘As daar dan, net om ’n voorbeeld te gee, ’n vrou is wat in ’n vygiewêreld woon, sê bv. Ladismith of Montagu se distrik, en sy wil klossiebolle, of gousblomplantjies hê, sê nou van Tulbagh, of tjinkerintjees van Darling, dan skryf sy aan ‘Vrouesake’ … en sy sê wat sy wil hê, en wat sy daarvoor in ruil sal gee. Dan gee ons van tyd tot tyd in hierdie kolom ’n lys van name, met melding van wat verlang word en wat aangebied word.”106
Dieselfde het gegeld vir taal en kultuur. M.E.R. se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans – met dat die taal saam met die media ontwikkel het – moet ook nog verreken word. By Die Burger moes M.E.R. kreatief wees – ook met die Afrikaanse taal wat toe nog nie eens amptelike status gehad het nie. (Die Burger se eerste Afrikaanse uitgawe was in Januarie van haar aanstellingsjaar, 1922.) So is die woord “toebroodjie” vir sandwich uitgedink. “Ek het gedink aan ‘toe tertjie’ teenoor ‘oop tertjie’ en toe maar die toebroodjie-woord in my artikels gebruik. Dit het posgevat. Almal was bly om ‘sandwich’ na sy eie taal te laat vaar.”107
Hoewel Die Burger se vroueblad ruimte aan modes gegee het, het M.E.R. tog ook “sporadies” anti-mode-rubrieke laat verskyn. Van Reenen self het dit later beskryf as ’n “fris veldwind [wat] die chiffonnetjies en violetjies kom deurmekaar jakker” het.108
As joernalis het M.E.R. ’n tradisie van uitnemendheid begin en “die standaard gestel” vir almal wat ná haar gekom het. Die digter W.E.G. Louw het van haar gesê: “Daar is maar een soos sy. En sy is volgens elke maatstaf wat ek ken, ook gróót.”109
Dit is vanselfsprekend dat sy ’n groot invloed sou hê op die geslag vroulike joernaliste ná haar. M.E.R. was inderdaad mentor vir haar groep Kaapse kinders: onder andere die drie joernaliste Van Reenen, Alba Bouwer en Audrey Blignault. Bouwer sou die eerste vroulike adjunkredakteur van ’n Naspers-tydskrif, Sarie, word, en Blignault het jare lank ’n rubriek in dieselfde tydskrif geskryf.110
Benewens M.E.R. was daar nog twee invloedryke vroue aan die Kaap, wat, soos Elsa Joubert skryf, elk hul kringetjie “akoliete” gehad het.111 Onder die hofie Drie Grandes Dames word dié vinjet uit die destydse Kaapstad beskryf:
Drie merkwaardige vroue. Petronella van Heerden, in Kenilworth, die eerste vroulike ginekoloog in die land, het glo haar eie borste laat afsit en (miskien apokrief) haar baarmoeder laat uithaal om aan haar vrou-wees te ontsnap.112 Sarah Goldblatt in Mowbray, eksekuteur van Langenhoven se literêre boedel, met haar klein stappies en veglustige postuur, wat waak oor elke komma en punt in die Langenhoven-herdrukke … M.E.R. as eerste vrouejoernalis by Die Burger en voorvegter vir sosiale regte vir veral armblanke vroue, woon op Swellendam … Elkeen van die drie het haar eie kringetjie akoliete: Audrey en Alba is die kern van M.E.R. se kringetjie, Rykie van Nan s’n en ek en Anna [M. Louw] van Sarah s’n. Op Oranjezicht-leeskringoggende gluur Nan en Sarah uit twee hoeke van die weelderige voorkamer waarin die byeenkoms plaasvind en kyk vinnig wie by wie sit-kniel. Wie vir wie tee en koek aandra. Audrey is ook lief vir Sarah; op ’n aand by haar [Audrey] aan huis, sê sy impulsief: Kom ons bel vir Saartjie en sê ons is lief vir haar. Saartjie het nie veel trek aan hierdie telefoonliefdesbetuiging nie. Sy sit die foon kil neer. Anna en ek vra mekaar af: As óns die dag oud is, wie sal ons akoliete wees? ‘Anyway, wie wil akoliete hê?’ sê sy, ‘ons het darem ons kinders.’
Afgesien van hul behoefte aan haar goedkeuring van hul skryfwerk,113 het M.E.R. ook ’n invloed op hul persoonlike lewe gehad. Bouwer het op ’n keer geskryf “ons is geseën met ’n heel besondere vriend wat werklike liefde as ’n spesiale talent het. Sy kon jou so rustig sit en aankyk terwyl jy oor iets praat, maar dan, het ons geweet, kyk sy tot binne-in jou en al jou verskuilde hoeke, skerp kyk sy, maar altyd met groot liefde.” Op ’n keer toe Bouwer by M.E.R. wou gaan kuier en Van Reenen saamgenooi het, het Van Reenen byvoorbeeld gesê: “Nee, nie hierdie naweek nie, ek voel te deurmekaar in my binneste, en ek moet myself eers uitgesorteer kry voordat ek dit onder daardie ou X-straal-oë kan waag.”114
Steyn skryf later M.E.R. het “verwante geeste soos ’n magneet” aangetrek.115 Sy self het gemeen dat sy nie “vir die jonges iets vormend vir hulle kuns” kon gee nie. “[E]k was maar nooit gesaghebbend nie. Nie oor skrywers nie, nie oor volkswerk nie.” Steyn skryf dat dit háár siening was, want die Kaapse kinders sou “stellig met haar verskil het, want hulle het inderdaad van haar geleer.”116
Die noue band met dié geslag jonger joernaliste sou tot die einde van haar lewe bly. In een van haar laaste briewe117 skryf sy op 22 Februarie 1972 op ouderdom 97: “Daar is iets wat ek aan my 5 ‘Kaapse kinders’ wil sê voor die weggaan … Julle is almal baie jonger as ek maar moet tog nie dink dat ek meen dat ek die beterweter is nie. Wat ek by julle 5 gekry het (so in die aanvangperiode van Afrikaans as skryftaal), was ’n soort eensgesindheid in die optree as skrywers. Dit het vir my so veel beteken: ek is deel van lewensuiting, van ’n groei van iets onmisbaar en gesond in die eie volk – ek saam met julle.”118
Wat M.E.R. se spesifieke soort joernalistiek betref, en hoe daardie benadering haar Kaapse kinders sou beïnvloed, kan gedebatteer word. Steyn skryf: “Die Burger en die ander Afrikaans-nasionale koerante het saam met die Nasionale Party gestry om die Afrikaner van politieke en kulturele verswelging deur die Engelse kultuur te red. Die party, as politieke instrument van die Afrikaanse beweging, kon op meer as gewone lojaliteit staatmaak.”
Steyn verwys na M.E.R. wat in 1924 geskryf het: “Ons Afrikaners verstaan die joernalistiek nie soos die ander nasies nie. Vergelyk maar Die Burger met die Argus en die Cape Times. Ons volk is so klein en ons is so gebonde aan hulle nieteenstaande al ons twis en rusie onder mekaar dat die koerant altyd ’n persoonlike gevoel weergee. Jy wat skryf, is altyd bewus van jou lesers. Jy sien voor jou dié en dié wat jy ken, en jy vertel hulle dinge of jy bespreek met hulle ’n saak. Ek meen dat dit die groot waarde is van ons eie nasionale blaaie – eie taal, eie sake, eie grappe, eie mense, eie swaar, eie rusies, dit is wat hulle weergee … By ander koerante is dit nie die geval nie.”119
Steyn sê dat sy hom as onderwerp aangetrek het omdat “sy so ’n sterk Afrikanernasionalis was, maar terselfdertyd ook ’n dissident wat verskeie kere met die Nasionale Party verskil het”.120 Tog skryf Aucamp dat sy juis nie daardie finale “kwantumsprong” kon maak nie: “Veral op politieke gebied sal daar vrae en bedenkinge wees oor wat M.E.R. as die politieke koers van die Afrikaner gesien het … Soos van ’n denker van formaat verwag kan word, het ook M.E.R. vrae gehad oor die politiek van haar groep.”121
Die gevolgtrekking oor M.E.R. se rol as pionier is dat sy nie net gemeet word “aan die baanbrekerswerk wat sy vir vroue gedoen het nie, maar ook aan die feit dat sy volgens elke maatstaf ’n merkwaardige verslaggewer was”.122 In ’n onderhoud met die joernalis Charles Smith, op ’n vraag of Van Reenen “’n besondere blik op M.E.R.” kon werp, antwoord Steyn: “Rykie het baie van M.E.R. se oordeel gedink, en M.E.R. het haar ook gedurig aangemoedig. Sy vertel hoe sy die manuskrip van haar jeugboek oor Emily Hobhouse een aand vir M.E.R. gegee het om te lees. Dié het dit die nag in een teug deurgelees en vir haar teruggegee met die woorde: ‘Dankie, my kind.’
“Rykie sê sy was so verlig dat sy skaars haar ontbyt ingesluk kon kry. Sy noem dit ’n ‘mini-toetsie’ wat sy tog ‘gepaas’ het.”123
Van Reenen het die natuurlike “opvolger” vir M.E.R. as ikoniese Afrikaanse vroulike joernalis geword – ook in die sin van wát hulle belig het, en hóé dit belig is. Soos Johannes Grosskopf skryf: Soos vir M.E.R., was landsake ook vir Van Reenen “van sentrale belang”.124
Professionaliteit en die Afrikaanse joernalistiek
J.H. Steinmeyer, ’n veteraan van die Afrikaanse joernalistiek, het gemeen voor die ontstaan van Die Burger was Afrikaanse joernaliste nie werklik joernaliste nie.125 Maar teen 1945 (toevallig die jaar waarin Van Reenen se loopbaan begin het), sê hy, het Afrikaanse joernaliste reeds hul plek in die joernalistiek van die wêreld verdien.
Die Afrikaanse joernalis wat as eerste professionele joernalis beskou word, Markus Viljoen,126 skryf sy “definisie” van ’n joernalis: “Die ware joernalis ken geen vaste werkure, geen afgebakende verpligtinge, hy het nouliks ’n eie lewe! Vir hom is daar net een roepstem: NUUS, en as dié gehoor word, wyk alle persoonlike oorweginge … ”127
Blykbaar het geen vrou in die veertigerjare aan dié definisie voldoen nie. Immers, volgens die manlike hegemonie van die tyd is ook net die manlike voornaamwoord gebruik wanneer Viljoen na joernaliste verwys. Vosloo verwys ook na die konteks waarin Van Reenen haar loopbaan begin het: “Sy was sewe jaar jonger as haar belangrikste groeipunt in die joernalistiek, De Burger, gestig in 1915. Die koerant het eers in 1922 verafrikaans na Die Burger. Met ander woorde, Rykie en Afrikaans as joernalistieke taal het saam grootgeword. Haar lewe was dus deurvleg met die ontwikkelende Afrikaanse joernalistiek. As sodanig het sy ’n wesenlike bydrae gelewer tot die volwassewording van Afrikaanse joernalistiek.”128
Vosloo skryf verder: “’n Mens moet teruggaan na haar wordingsjare in die Afrikaanse joernalistiek. In die middeljare 40 van die vorige eeu was Die Burger die besit van wit, manlike Afrikaners, konserwatief, goed opgeleide en onderlegde beroepsjoernaliste… . [S]y [het] kennis gemaak met ’n geslag opkomende kollegas wat in die latere eeu ’n groot rol gespeel het in die opkoms van Afrikaner-Nasionalisme129 en Afrikaanse joernalistiek.”
Vroue is as minderwaardig geag vir die edele beroep van joernalis-wees. Viljoen verwys in sy outobiografie na die groeiende rol van vroue in die internasionale joernalistiek, terwyl, in die Suid-Afrikaanse joernalistiek, hul rol nog beperk is tot vrouesake soos teepartytjies. Tog, gaan Viljoen voort, sou sy “ernstig” wees oor ’n loopbaan in die joernalistiek: “… [o]ok by ons kan die vrou ’n belangrike rol … speel, maar dan moet sy bereid wees om dit as lewensberoep te beskou en nie net as interessante tydelike baantjie nie.”130 Die feit dat die “tydelike baantjie” nie uit vroue se eie keuse was nie, is blykbaar nie verreken nie.
Die vrou wat die joernalistiek as lewensberoep wou volg, moes haar van die begin van haar loopbaan voorneem om nie te trou nie. Die klem wat op die huwelik en moederskap as die vrou se enigste roeping geplaas is, het so ’n voorneme op ’n jeugdige ouderdom selfs moeiliker gemaak. “Indien ’n vrou dit tog reggekry het om verder as die vroueblad te vorder – Rykie van Reenen was ná 1945 die eerste by Die Burger – dan was haar pad vorentoe nog glad nie oop nie. Om ’n deeglike joernalis te wees, het sy ’n deeglike taalvaardigheid nodig gehad, en om dié kennis te bekom, moes sy na regte ’n ruk in die nagkantoor werk. Maar ’n vrou is nie in die nagkantoor toegelaat nie, selfs al sou sy, soos Rykie van Reenen, haar bereid verklaar het om in die nag te werk,” skryf Van der Vyver.131
Die manlike mediabesluitnemers het onder meer gemeen dit is onveilig vir vroue om saans te werk. “Die Burger se siening van die vrou as werknemer was ’n weerspieëling van die algemene opvatting van die vrou in die jare dertig en veertig. Hoewel al hoe meer getroude vroue buitenshuis begin werk het, was dit selfs teen die einde van die dekade veertig nog nie juis ’n ‘fatsoenlike ding’ om te doen nie.”
Van Reenen se voorgangers by Die Burger tussen 1930 en 1945, almal dus “tydelike joernaliste”, is die wie’s wie van vroeë Afrikaanse vroulike joernaliste: Aletta Steyn, Dola Brink, Amanda van der Spuy, Emma Louw, Annie van Niekerk en Marcha Schoeman.132
Annie van Niekerk (getroud Schumann), was redaksielid van die Stellenbosse Student en studentekorrespondent op Stellenbosch voordat sy haar met ’n BA by Die Burger aangesluit het. Teen einde 1942 moes sy bedank toe sy gaan trou. Dit was die aanvaarde gebruik dat wanneer vroulike redaksielede, reeds beperk tot die vroueblad, trou, hulle outomaties moes bedank. Die amptelike beleid was dat getroude vroue nie in die redaksie hoort nie, selfs nie in die vroueredaksie nie. “Heelwat van die vroeë vroue van die Afrikaanse pers het aangedui dat hulle verder wou gewerk het – selfs spesifiek aansoek gedoen om as uitsondering aan te hou werk – maar hulle moes bedank sodra hulle getrou het.”133
Jare daarna onthou Schumann: “Niemand sal wil foutvind met die strewe van die vrou om op gelyke voet met die man behandel te word nie. As sy dieselfde werk doen, dieselfde verantwoordelikheid dra, moet sy vanselfsprekend dieselfde diensvoorwaardes hê.”134
Sy gaan voort: Dis nie “kwaadwillige moedswilligheid” van die man wat die vrou in die oë van die wet “’n minderjarige kind” gemaak het nie, maar “hy moet sy houding teenoor en verhouding tot die vrou radikaal verander … Natuurlik is hy steeks. Die opset soos dit nou is, pas hom goed.”
Ná haar verpligte bedanking in die vroeë 1940’s is Marcha Schoeman as opvolger aangestel. Ook sy was studentekorrespondent op Stellenbosch en was vir twee jaar die enigste vrou in die redaksie, totdat Van Reenen haar in 1945 by Die Burger aangesluit het.
In Schoeman se tyd het die vroueblad byna verdwyn. “Dit was in die middel van die Tweede Wêreldoorlog. ’n Mens kan maar sê die lewe het gewentel om tekorte: tekorte aan vleis, brood, woonstelle, babawol, koerantpapier. Die koerant het gekrimp tot vier bladsye. Daar was nie plek vir vrouekopie nie, behalwe In Gesellige Luim Saterdae, en af en toe per genade ’n kwartkolom verouderde kopie wat dag vir dag oorgestaan het.”135
Globaal het die Tweede Wêreldoorlog beduidend bygedra tot die vestiging van die vrou in die openbare lewe. “In die lang jare vorentoe sal ons hierdie kort jare van ontbering onthou as die tydperk toe vroue tot volle status verrys het,” het die Christian Science Monitor dié tydperk beskryf.136 Inderdaad, die vroue by Die Burger het dit reggekry om die Vroueblad geleidelik uit te brei. “Die toenemende klem op die vroulike leser was ’n erkenning van haar waarde vir die koerant as advertensiemedium.”137
Hoewel vroue in die dertigerjare by Die Burger reeds vir algemene nuus gebruik is, was dit “ondenkbaar” dat hulle amptelik in die algemene redaksie aangestel kon word. Een wat “baie graag” as algemene verslaggewer wou werk, was Emma Louw (getroud Horn). Haar nuusredakteur van toe, Phil Weber, het gesê “dit is onmoontlik, want hulle kan nie iemand aanstel wat nie na enigiets gestuur kan word nie, en hulle kan nie ’n vrou na die hof of na ander minder aangename stories stuur nie”.138
’n Dekade later was dieselfde vooroordeel steeds daar. Die nuusredakteur toe was Schalk Pienaar. Marcha Schoeman het ’n motor aangevra vir ’n storie “wat ’n mooi storie kon wees” in Distrik Ses. Sy hartlike en vriendelike antwoord: “Enige storie wat vereis dat ’n vrou in Distrik Ses inry, is ’n storie waarsonder Die Burger kan klaarkom.”139
Schoeman was die eerste vrou wat in die “langkantoor” gewerk het, wat beteken het dat sy met die polisie en hospitale geskakel het. Dit op sigself is baanbrekend: Net kort tevore is ’n vrou nie toegelaat om Distrik Ses binne te gaan nie – en hier mag sy darem al “manswerk” doen deur met die polisie en hospitale te praat – en dit in die aand. Toe sy egter ná haar troue verder wou werk, het haar manlike werkgewers geweier, en was ook sy verplig om te bedank in 1947.140 Sy was bewus van ’n getroude vrou wat toegelaat is om by Die Volksblad aan te bly, maar “dr. Geyer het gesê dit was ’n geval van ‘spesiale omstandighede’ en hy wou nie kopgee nie”.
Dit sou dus inderdaad onregverdig wees om dié vroeë vroue daarvan te beskuldig dat hulle slegs maar ’n “tydelike baantjie” wou hê en nie belang gestel het in ’n loopbaan as beroepsjoernalis nie.
Hoe min vroue in die vroeë Suid-Afrikaanse joernalistiek hul merk kon maak, blyk uit ’n boek oor twee eeue van Suid-Afrikaanse joernalistiek: Van die 75 bydraes is slegs vier deur vroue geskryf, waaronder Van Reenen.141
Selfs tot ná Van Reenen se aanstelling is vroue slegs in die vroueredaksie by Die Burger aangestel. Grosskopf skryf 1945 was ’n tyd “toe vroue in redaksies hoogstens geduld is. Iemand moes immers vir die ruimtetjies sorg wat afgestaan is aan ‘vrouesake’. Die interessante, belangrike werk was mans se terrein.”
Hy gaan voort: “Hieraan het sy ’n einde gemaak. Haar wye belangstellings, haar bekwaamheid en sprankelende skryfstyl het gesorg dat sy uit daardie groef bevorder is.”142
Die joernalis J.J.J. Scholtz skryf: “In die tweede helfte van die eeu is al hoe meer vroue in die redaksie van Die Burger, soos ook in die redaksies van ander koerante, opgeneem, en hulle het werk begin doen wat vroeër net deur mans gedoen is.”143
Elsa Joubert onthou dat sy en Van Reenen op dieselfde dag by die Nasionale Pers begin werk het: “Sy by Die Burger se vroueredaksie, en ek by Die Huisgenoot. Ons al twee is beperk tot vrouesake. Ek is ná twee jaar weg; sy het aangebly en deur haar joernalistieke vermoëns, wat dié van vele mans oortref het, die grense van vrouejoernalistiek verskuif, afgebreek – vir alle vroue wat ná haar sou kom.”144
Diskriminasie teen vroue was vir lank die aanvaarde praktyk. Vroulike redaksielede het minder as hul manlike kollegas verdien (dié onbillike arbeidspraktyk het nog tot die 1980’s voortgeduur) en die vroueredakteur van Die Burger het byvoorbeeld nooit die daaglikse nuuskonferensie bygewoon nie. Dit het vroue die gevoel gegee dat hulle maar net verduur is omdat ’n paar vroue in die redaksie nodig was.145 Die eerste vrou is eers in die jare sewentig in Die Burger se nuuskonferensie toegelaat, volgens die veteraanjoernaliste Esme Mittner en Maureen Joubert. Ander baanbrekers was Madeleine van Biljon en Anneke van Niekerk. Laasgenoemde is in 1957 as die eerste heeltydse kunsredakteur van Die Burger aangestel.
In vroue se “eva-lusie” by Naspers kon vroue later darem ná hul troue aanbly, maar eers nadat hulle as formaliteit moes bedank, net om weer heraangestel te word – met ’n núwe personeelnommer. Dit was ook my ervaring in 1980 as redaksielid van Die Burger. Vroue ís dadelik heraangestel – met die nuwe personeelnommer, en onder hul man se van. Ek het dié “formaliteit” bevraagteken en gevra of dieselfde verwag word van mans wat trou – met gevolglik ’n ietwat radelose Burger-bestuurder wat nie kon verstaan wat die probleem is nie.
Volgens Scholtz was daar in 1990 ’n dertigtal vroue by Die Burger – byna ’n derde van die redaksie. Selfs nadat vroue werk begin doen het wat vroeër net deur mans gedoen is, het “dit nog ’n rukkie geduur” voordat hulle in die nagredaksie opgeneem is. In 1990 was byna die helfte van die nagspan vroulik.146 Die eerste vrou wat die glasplafon van Die Burger se nagkantoor kon laat bars, was Marie-Louise van Heerden, en die jaar was 1978 – nadat besluitnemers lank geglo het dat ’n vrou nie snags saam met die manne kon werk nie. Die argument dat mans nie saam met ’n vrou kon werk nie, het blykbaar selfs swaarder geweeg.147
Die hegemonie en meerderwaardigheid van mans in die media kan ook gesien word in ’n opmerking deur Van Reenen self in die mid-1980’s. Met die samestelling van ’n huldigingsbundel vir Piet Cillié se vyftigste jaar by die Pers het hy gedink Van Reenen het die bydrae van sy vrou, Bettie, “reggeskryf”. “Dit is nogal kenmerkend van Cillié se arrogante streep, veral ten opsigte van die intellektuele vermoëns van die vrou.”148
In ’n huldeblyk met die dood van baanbreker-joernalis Rieta Burgers in 2003 verwys Vosloo na die vroue wat ’n rol gespeel het in Naspers se ontwikkeling:149 “Ons geskiedenis van 88 jaar het groot vroulike joernaliste en sterk beïnvloeders opgelewer. Dit het begin by die legendariese M.E.R. … en toe die ewe legendariese Rykie van Reenen.”
Hy lys verder die eerste vroulike joernaliste: “Toe kom, by wyse van spreke, die klas van Rieta Burgers, Esme Mittner, Betty [sic] Peacey, 150 Martie [Retief] Meiring en Jane Raphaely.151 … Hulle word in tyd gevolg deur Nicolene en Anet Strydom, Lizette Rabe en nou Khanyi Dhlomo en Michèlle van Breda en haar gedugte span.”
Ook individuele redaksielede by Naspers het hulle beywer vir vroueregte – soos Retief Meiring wat vroue opgekommandeer het om “iets te doen aan ons salarisse, wat altyd heelwat minder as dié van ons manlike kollegas was”.152
Vroulike joernaliste in ander mediamaatskappye het ook ’n beduidende rol in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse media gespeel. Een van hulle was die politieke joernalis Fleur de Villiers. In 2009 word onder meer na haar rol in die “omkeer van ou Suid-Afrika” verwys.153 Volgens prof. Willie Esterhuyse het De Villiers in die jare tagtig ’n “deurslaggewende rol” gespeel om die ANC-leierskap in die buiteland en die “Afrikaanse mense” bymekaar te kry. Sy het bygedra “om hulle te oortuig dat dit strategies beter is om gesprekke met Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners aan te knoop as met liberale Engelssprekende Suid-Afrikaners”.
Ter wille van ’n poging tot ’n vollediger prentjie, en ook sodat die vakuum oor die swart vrou in die ontwikkeling van die media nie ook hier met ’n dawerende stilte weerklink nie, moet genoem word dat “stiltes tussen woorde en tekste”154 nog groter vir swart, bruin en Indiërvroue is. Swart vroue moes, as landelike vroue in die vorige eeu, en met die migrasie van werkers na stede, huishoudings in stand hou en as enkelouers bestaansboerderye bedryf. Totaal uitgesluit van enige politieke mag, moes hulle veg vir die mees basiese menseregte as burgers in die land van hul geboorte.
Dit is daarom noodsaaklik dat ook die rol van die swart vrou in die Suid-Afrikaanse media geboekstaaf word. Hul swak mediastatus word vererger deur die gender-gedrewe karakter van nuus: “With black women it goes further: there is a ‘near invisibility’ of black women in the news. When they appear, it is mostly in the following stories: Underdevelopment, oppressive traditions, high illiteracy, rural and urban poverty, religious fanaticism, overpopulation, disasters (burning of shacks) and violence against women. Victims, and people who have no control over their destinies.”155
Aspekte soos kraamverlof, gelyke salarisse, huissubsidies, toegang tot mediese en pensioenfondse en verskeie diskriminerende bevorderingsmaatreëls was tot onlangs ’n ernstige struikelblok vir vroue. Danksy Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing mag nie meer op grond van geslag gediskrimineer word nie. Hoe sekere aspekte van gelykheid in die praktyk toegepas word, bly egter ’n kwessie, soos blyk uit byvoorbeeld die Glass Ceiling-studies van Sanef in 2006 en Sanef en Gender Links in 2008.156
Vroulike joernaliste is danksy al die voorlopers vandag egter beter verteenwoordig in hoofredaksies en in ander besluitnemingsposisies, hoewel die balans nog nie gevind is nie. Ferial Haffajee was sedert 2004 redakteur van die Mail & Guardian, en is in April 2009 aangestel as redakteur van City Press. Alide Dasnois is in dieselfde tyd aangestel as eerste vroulike redakteur in die byna 135 jaar van die Cape Times. Liza Albrecht is vroeg in 2009 aangestel as Rapport se eerste vroulike redakteur.
Met laasgenoemde aanstelling kon ’n mens nie anders nie as om Van Reenen se woorde te hoor eggo: “Die dag as ’n Afrikaanse vrou aangestel word as redakteur … sal daar wel ’n paar kameras flits, maar sodra daar ’n koerantvrou met die nodige formaat kom, is die val van selfs daardie vesting in sig.”157