Читать книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe - Страница 9

Оглавление

HOE SOU RYKIE van Reenen se lewe verloop het as haar ma nie met die geboorte van haar boetie gesterf het nie? Die impak op die klein gesin was dramaties. Haar pa sou jare later op sy sterfbed, ná hy reeds ’n leeftyd met die suster van sy gestorwe vrou getroud was, sê: Eers nou vergewe ek die dokter.

Die klein Rykie was maar net 15 maande oud toe haar boetie tydens geboorte, en haar ma kort daarna, gesterf het. Sou die pragtige portret van Van Reenen se ma steeds bokant haar eie sterfbed gehang het agt dekades later as dinge anders verloop het?

Van Reenen se ouma aan vaderskant was teenwoordig tydens die dubbele tragedie in Maart 1925 op die plaas Waterkloof in die Darling-distrik. Bappie van Reenen verwys in ’n brief aan ’n familielid oor die gebeure op 15 Maart na haar ontroosbare seun.2 Hy sou tot sy sterfbed nooit die dokter vergewe nie, want dié moes kies tussen ma of kind – en toe sterf albei.

In ’n brief in 1941 aan ’n agttienjarige Van Reenen, eerstejaarstudent op Stellenbosch, skryf hy aan sy “Liefste Pop”: “Jy het darem so ’n Edele moeder gehad. Haar laaste woorde was ‘Doen jou beste vir my kind.’”

Van Reenen se pa skryf dan hoe hy altyd “ter wille van myselve als jou vader & altyd met die versoek van jou moeder in my oore” die beste vir hul dogter probeer doen het.

Rykie van Reenen se vriende is dit eens: Haar lewe het in die teken van die verlies van haar ma gestaan. Daar word selfs gesê die aanknoping wat sy as jonger vrou met ouer vroue gehad het, was omdat sy ’n moederfiguur in hulle gesoek het.

Rykie van der Bijl (gewoonlik gespel Van der Byl) van Reenen is op Oujaarsdag 1923 op die familieplaas Waterkloof gebore. Haar ma was Hester van Velden, noemnaam Hetta, oorspronklik van die Paarl, en haar pa was Daniel Jakob Samuel van Reenen, noemnaam Dan.3

Volgens ’n sterfberig is Van Reenen se ma op 15 Maart 1925 oorlede – “na ’n siekbed van slegs etlike ure” – en op 17 Maart begrawe. Die begrafnis is “talryk bygewoon, wat getuig van ’n groot vriendekring”. Die berig is deur A.C. van Velden van die Paarl namens die “eggenoot, broers en susters” geplaas.4 Die baba Rykie is vir eers deur haar Van Velden-familie in die Paarl versorg. Haar pa is ’n ruk later met haar ma se jongste suster, Bettie, getroud om, soos dit gesê is, “vir die klein dogtertjie ’n ma te gee”.5

Van Reenen se doopname, Rykie van der Bijl, kom van haar Van Velden-ouma, haar ma Hetta se ma. Dié ouma, doopname Rykie Hester, was ’n gebore Van der Bijl, en Van Reenen het die doopname Rykie van der Bijl gekry.6 In haar familie was daar altesame drie Rykies, van wie twee die doopname Rykie van der Bijl, plus hul van, gekry het. Die derde se doopname was Rykie Hester.

Van Reenen het grootgeword op Waterkloof, met sy “groot, wit huis”7 wat reeds voor die 1880’s deur Van Reenen se oupa, Jan Gert, gebou is. ’n Reuse-vergroting van ’n foto van die plaaskombuis van haar geboortehuis, geneem deur een van Van Reenen se eerste vriendinne as jong joernalis in Kaapstad, die fotograaf Jansje Wissema, is op die agtergrond van ’n foto te sien wat in 1985 in Van Reenen se huis in Wynberg, Kaapstad, geneem is.

Annatjie Louw (gebore Pienaar),8 ’n peetkind en kleinniggie van Van Reenen, beskou Waterkloof as ’n leitmotief in Van Reenen se lewe en sê dit blyk ook uit haar dagboek as kind. “Toe ek die eerste maal so daaraan gedink het, toe onthou ek die assosiasie: Eleni Karaindrou, wat musiek komponeer vir films [verwys na] ‘the landscape, seascapes and the soulscape of the modern Hellenic world. For Karaindrou there is no escaping it. Wherever I travel, she says, quoting Seferis, Greece keeps wounding me’.”9

Die feit dat Louw ’n verband trek tussen die rol wat Waterkloof in Van Reenen se lewe gespeel het en die frase “Greece keeps wounding me”, is insiggewend. Sy het grootgeword met die wete dat sy as enigste kind ’n familieplaas sou erf en sy het haar pa verafgod. Alba Bouwer, ’n jare lange vriendin en joernalistieke kameraad, verwys in 1966 daarna hoe “onverskrokke” Van Reenen op Waterkloof verder geboer het ná haar pa se dood: “Dit was natuurlik hul ou familieplaas van ’n paar geslagte en vir haar die skakel met haar vader …”10

Die impak wat die verantwoordelikheid van Waterkloof se “landskap” en “sielskap” as erflating op Van Reenen sou hê, kan nie onderskat word nie. ’n Ander joernalistieke kameraad, Tobie Boshoff, vra hom af “hoeveel Rykie beïnvloed is deurdat … haar pa haar alleen grootgemaak het”. Sy opmerking dat haar ma se vroeë dood ’n wesenlike rol gespeel het, is geldig. In ’n boek oor buitengewone vroeë vroulike joernaliste lys die skrywer etlike gemeenskaplike kenmerke, onder meer dat hulle waarskynlik ’n ouer vroeg verloor het en ’n besonder hegte verhouding met hul pa gehad het – eerder as met hul ma.11

Vir Van Reenen was haar pa haar alles: In die woorde van Bouwer was hy “held nommer een in Rykie se lewe”. Daar was egter nie sprake van ’n intieme verhouding tussen stiefma en kind nie, hoewel Van Reenen haar tot haar dood in die laat 1960’s versorg het en baie lojaal was teenoor haar. Bouwer voeg by dat naas haar pa, die skrywer Maria Elizabeth Rothmann, beter bekend as M.E.R., ook ’n belangrike rol vervul het in Van Reenen se lewe: “Naaste aan hom kom TaMiem Rothmann wat ’n groot invloed … gehad het, en nog het.”12

Van Reenen was volgens aller inligting ’n rabbedoe as kind en jong meisie. Volgens Boshoff het sy self vertel dat toe dié tomboy “bo begin tekens toon” dat sy volwasse word, sy dit probeer wegvryf het – wat toe gemaak het dat, soos sy geglo het, dit “net groter geword het”.13

Van Reenen se niggie, Stefanie Steyn, het vertel “wanneer ons as kinders saam gespeel het, was sy die een vol verbeelding. Ons het op wilde jaagtogte op die plaas gegaan. Ons het graag ‘Boereoorlog’ gespeel.”14 (Steyn het ’n afgetrede Van Reenen later tydens haar siekte, veelvuldige sklerose (VS), by tye versorg om vir Judith Wurtzel, Van Reenen se metgesel en erfgenaam, ’n blaaskans te gee.)

Op Waterkloof het sy onder meer gereeld perdgery en skryf op ’n keer in haar dagboek sy het vir Emily, haar perd, “laat lê onder die saal”.15 Sy was baie in haar skik toe sy, nog op skool, ’n regte rybroek as geskenk gekry het: “Dit lyk rê rê swênkie so al met sy wegstaansye.”

Die jong Van Reenen was besonder skrander en het volgens een bron “standerds gespring” en reeds op 14 matriek geskryf.16 Die bron verwar dit waarskynlik met die “roem” wat Van Reenen verwerf het toe sy as veertienjarige tweede gekom het in Suid-Afrika se Junior Sertifikaat-eksamen, die ou standerd 8 (nou graad 10). Die opskrif in Die Burger lui “Darling trots op skooldogter” en verwys onder meer na hoe sy ’n A behaal het in Engels Hoër, selfs al was dit ’n Afrikaansmediumskool.17

Baie van die ontwikkeling van die jong Van Reenen sou uit haar eie dagboek blyk.18 Skryf – dagboek-hou – was skynbaar ’n familietradisie by die Van Reenens. Hoewel dié dagboek om privaatheidsredes nie vir navorsing beskikbaar was nie, gee Louw se insig en mededelings tog iets weer van wat daarin opgeteken is. “Ek het die dagboek (in omgekrulde tipiese skool-oefeningboekie-staat) in een nag deurgelees. Was vir my soos ’n storieboek en het kosbare insig gegee in die mens Rykie. En die ontwikkeling van haar denke – en skrywe.”19

Van Reenen het skynbaar haar hart in haar dagboeke as kind en jong meisie uitgestort. Haar lewenslange vriend en kollega, die ouduitgewer Danie van Niekerk, verwys daarna dat hy en Judith (ook Jude of Judy) Wurtzel kort ná haar dood “oortree” het deur verby ’n waarskuwing in die binneblad van ’n bruin leergebonde dagboek te blaai.20

Van Niekerk het ook eens opgemerk dat dit vir hom interessant is dat die hele dagboek van die Afrikaanse plaaskind in Engels geskryf was. In 1938, byvoorbeeld, skryf die vyftienjarige Van Reenen in haar dagboek: “And thus closes 1938 … with it an epoch in my life … finished at Darling. The dawn of a new era opens up before me … I face the future defiantly. What does the world face in this new 1939? Peace? War?” (In groen ink het sy later bygevoeg: “War, sweetheart, sure!”21)

Van Reenen se vaardigheid in Engels was egter nie vreemd nie. Haar eerste leestaal was Engels en volgens Rykie Vorster (gebore Webb), ’n niggie van Van Reenen,22 kon sy “al Engels lees toe sy skool toe gegaan het … Die een ouma [Dan se ma, Bappie] was Engels.”23

Uit verskeie verwysings blyk dit dat Van Reenen en haar stiefma, Bettie, ’n moeilike verhouding gehad het. Die vrou wat haar pa getrou het om vir ’n hoogs intelligente kind ’n ma te wees, kon dit nooit wees nie. Ook later as volwassene was Van Reenen se stiefma ’n durende verantwoordelikheid.

Helene de Villiers (gebore Oosthuysen), ’n studentemaat en lewenslange vriendin,24 het gemeen haar latere komplekse verhoudings het daarmee saamgehang dat sy as kleuter aan onstabiliteit blootgestel is weens haar ma se dood, die feit dat sy deur familie versorg is, en dat haar pa toe met haar ma se suster getroud is om vir Van Reenen ’n ma te kan wees, hoewel dié nooit daardie rol kon speel nie.25

Volgens Vorster was dit Bettie, as die jongste dogter, se plig om haar ma op te pas: “Sy het minder geleerdheid gehad en het oujongnooi geword.”26 In ’n brief verwys Van Reenen se oom aan moederskant ook na Bettie en hoe sy, as jongste suster, hom en hul ma moes versorg: “prim as a nun …rules [us] with an iron hand …”

Tot die noodlot ingegryp het en sy met haar oorlede suster se man getroud is.

Louw vertel hoe Van Reenen – “met haar kenmerkende laggie” – eendag vertel het dat toe haar stiefma uiteindelik na ’n ouetehuis gegaan het, dié vir haar gesê het: “Kind, jy sal nou moet leer om sonder my klaar te kom.”27 Sy meen die feit dat Van Reenen dit oorvertel het, spreek “onvertelde boekdele”. In Van Reenen se persoonlike korrespondensie met vriende was daar later heelwat verwysings na haar stiefma, soos byvoorbeeld in 1959, waar sy aan haar kollegas Danie en Anneke van Niekerk skryf dat haar ma in die Strand woon – “[d]is lekkerder vir al twee van ons”.28

Ook Alba Bouwer skryf in 1966 aan M.E.R. en verwys na “tant Bettie” se “streke en obsessies” wat geweldige stres by Van Reenen veroorsaak – só dat Bouwer meen sy was so “na aan ’n algehele ineenstorting soos ek niemand nog gesien het nie”.29

Later skryf Van Reenen self aan M.E.R. oor haar ma: “Met haar gaan dit tog nou so klopdisselboom – die verpleegster deug uitnemend goed en sy en ma het duidelik sin in mekaar. Ook maar ’n genade, want ma weet goed wat sy wil en wie sy nie wil nie, as sy die dag lus het.”30

Louw meen ’n mens moet deernis hê met Van Reenen se stiefma: “Sy moes kompeteer met die hele tragedie rondom haar mooie suster – wat voorts verewig was in haar ouderdom by haar dood.”31

Ondanks die moeilike verhouding tussen Van Reenen en haar stiefma was daar later tog enkele verwysings in Van Reenen se werk na “my ma”. Volgens Boshoff het sy, sover hy kon onthou, net twee keer na haar “ma” in haar rubrieke verwys.32 Vir hom was dit opvallend juis omdat die afwesigheid van ’n moederfiguur klaarblyklik ’n rol in die vorming van die jong Van Reenen gespeel het. In die Op die Randakker-bundel alleen is daar egter drie verwysings na “my ma”, met een daarvan waar sy van “my eie ma” skryf. ’n Mens sal nie weet of sy na haar eie vroeggestorwe ma of stiefma verwys nie.

Van Reenen het aan die destydse Hoër Meisieskool Malmesbury gematrikuleer.33 Dis gevolg deur ’n graad in die tale in 1943, verwerf op ouderdom 20, aan die US. Haar meestersgraad in Engels het agttien maande later gevolg.34 Al twee is klaarblyklik met lof geslaag.35

Anneke van Niekerk, eggenoot van Danie van Niekerk, skryf Van Reenen se hoofvakke was Latyn (“onder die befaamde Nederlandse prof. Pietjie van Braam”) en Engels, en ook dat sy haar meestersgraad in Latyn behaal het.36 Volgens Helene de Villiers was hul MA egter slegs in Engels.37

Louw, wat van Van Reenen se boeke ná haar dood by Wurtzel gekry het, skryf na aanleiding van ’n inskripsie in die Roget’s Thesaurus of English Words and Phrases Van Reenen se “kop moes toe [as jongmens] effens na Engels gedraai het”. Sy het haar naam, “Rykie vdB van Reenen”, in die boek geskryf, met die datum in Engels: 1st July 1943. “Die datum het so ’n skuins strepie onder. Die vdB se punte is met ’n geoefende hand onder die afkorting geskryf … hier het ’n besliste mens geskrywe,” sê Louw.38

Van Reenen en studentemaat Helene de Villiers, wat hul vriendskap as ’n “lewensverbintenis” beskryf – een “wat dieper gaan as wat ek kan verstaan” – het in 1944 en 1945 saam hul MA in Engelse letterkunde gedoen. In sommige klasse was dit net hulle twee in die klas.39 Danksy Van Reenen se inspirasie en aanmoediging het De Villiers later haar doktorsgraad in die Afrikaanse letterkunde gedoen.

Die “besondere Engels-departement” waarin hulle hul bevind het, was vrugbare teelaarde vir die verbintenis tussen twee besonderse intellekte. Toe sy later in Cambridge kom, sê De Villiers, het sy eers besef wat dit was wat hulle in die Engels-departement op Stellenbosch gehad het: ’n soort “Cambridge-atmosfeer”.

Hulle het as jongmense baie meer as kennis deur hul studies in dié departement gekry, sê De Villiers; méér as ’n sensitiwiteit vir die letterkunde, veel eerder ’n “hele lewensbenadering”.

Van Reenen en De Villiers was deel van ’n besonderse groepie vroue op Stellenbosch wat hulle op ’n intellektuele vlak by mekaar aangesluit gevoel het. Onder hulle was ook Elsabé Malan, wat later hoogleraar op Stellenbosch geword het, en Sophie Kritzinger, Engels-onderwyser aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl: “alles die Engels-departement wat vir ons so baie beteken het,” sê De Villiers.

Dit was as student aan die US dat Van Reenen die rabbedoe blykbaar die enigste keer die binnekant van ’n haarsalon gesien het. Volgens Boshoff het sy haar hare net dié een keer “laat doen”.40 Dié het nie lank gehou nie, want sy is blykbaar reguit terug na haar blyplek en het die stilering dadelik uitgewas.

“Vir die res van haar lewe het sy net die ligrooi krullerige dos netjies gehou deur dit aan die kante en agter nie te lank nie te laat knip,” skryf Boshoff.

Ook “opdress” sou nie een van Van Reenen se deugde wees nie. Lewenslange studentemaat Hansie Reitz (gebore Markötter) skryf dat Van Reenen nie na die “wonderlike gesellige ‘Poetry Evenings’” van mnr. W. en mev. Van Heyningen [mev. Van Heyningen was hul beroemde Engels-dosent] gegaan het nie, want dit was ’n geval van “trek jou Sondagklere aan, sit ’n ferweelstrik in jou hare en jou beste voetjie voor, bring jou kis-Engels saam … Daar drink jy sherry (baie min!) en lees ‘poetry’.”41 Dit het duidelik nie vir Van Reenen aangestaan nie.

Tog, dit beteken nie dat Van Reenen nie gesellig kon kuier nie. Reitz skryf: “Nooit sal ek ’n bierbottel in die hand neem nie sonder dat ek dink aan Rykie, met my 21ste verjaardag die middag in die bessiebome waar Cluverstraat om die sirkel gedraai het. Ek het ou Oom [Reitz se oom, “Oubaas” Markötter] oorreed om vir ons ’n paar botteltjies bier te koop en so teen die aand het Rykie hare teen die lig gehou en gesê: ‘Kyk net hoe mooi skyn die son hierdeur’.”

Reitz skryf dis dalk “’n simpel ding om so lank te onthou”, maar die herinnering is tog ’n aanduiding van die deernis en diepte van vriendskap tussen die studentemaats. Oor hoe hulle ontmoet het, onthou Reitz: “Toe ek in ons eerstejaar die eerste dag inloop in prof. Pietjie van Braam se klas, toe sit daar – in die middel in daardie harde ou skoolbankies, heel voor – Minnie Mouton, en agter haar die een met die weerbarstige rooi hare. Toe ek agter haar inskuif, gooi sy haar om – so met ekstra energie – kyk my stip, lag vriendelik – soos in ek hou van waarna ek kyk – en sê sy is Van Reenen – Rykie – en ek sê ek is Hansie. Sy sê sy weet.”

Die volgende keer dat dié twee eerstejaars mekaar toe raakloop, was kort daarna toe hulle moes “aantree” in “Jokkelalgemeen”. Dit was die noemnaam vir die destydse liggaamsoefeninge-kursus, vernoem na een van die pioniers aan die US. Reitz skryf hoe sy skielik die toilet in die splinternuwe gimnastiekgebou langs die swembad nodig gehad het. Niemand wou haar gaan wys waar nie, want die dosent was “te kwaai met laatkommers”. Tog: “Rykie spring op, gul, hulpvaardig, die suster wat ek nooit gehad het nie – en dit vir lewenslank.”

In die Latyn-klas was daar slegs drie vroulike studente, die genoemde Minnie Mouton, Reitz en Van Reenen – “die res was tokkelokke en regte-studente”. Reitz skryf: “As Prof ’n vraag vra – en sy lesings het bestaan uit vrae vra – was dit altyd of Minnie of Rykie, of beide sommer saam, wat die antwoord kon gee.”

Van Reenen het ook in dié tyd net-net die geleentheid om na die VSA te reis, gemis. “So 1944-45 is daar ’n beurs uitgeloof vir die heel beste studentedame op Stellenbosch om na die Verenigde State te gaan. Minnie was met ’n baie kortkop voor Rykie met al Minnie se cumme. Dit was baie jammer, want Minnie is toe UCT toe. Sy’t nie kans gesien vir oorgaan in daardie oorlogsjare nie. Rykie sou natuurlik sonder aarseling die Duitse duikbote getrotseer het,” skryf Reitz.

Reitz se herinneringe teken ’n lewenslustige, ondersoekende, uitdagende jong Van Reenen. Sy skryf oor die preutsheid van hul era: “Ek en Rykie het so lekker gelag eendag toe Prof sê ons moet die volgende twee reëls oorslaan. Toe slaan ons oor ‘soos die nag lank is vir die minnaar wat sy geliefde verlei het’.”

“Opwindend” was die keer toe die US ’n kunsuitstalling in die Carnegie-biblioteek verbied het: “Eendag gryp Rykie my aan die arm op die trap van die Carnegie. ‘Hans, kom, man, kom – gou! Jy’t nog nooit so iets gesien nie!’ Sy sleep my saam tot in die foyer en daar is die lang man met woeste hare wat orent staan en omtrent boos van voorkoms. Hy was besig om sy skilderye van die mure af te haal … Die Universiteit het laat weet hy moet dadelik weg met die klomp naaktes – seker darem nie meer as een of twee skilderye van vroue nie.”

Van Reenen se talent om onder negatiewe omstandighede iemand aan die praat te kry, was duidelik toe al aanwesig: “So vinnig as wat hy afhaal, so vinnig het Rykie haar lofprysings uitgeroep. Die ou, Jean Welz, kon nie help om sy stroewigheid te los en met haar te gesels nie.”

Nog ’n latere handelsmerk van die Van Reenen-temperament, dié van laat wees vir afsprake omdat daar altyd iets interessants voorgeval het, was ook reeds aanwesig. “Laat kom by Huis ten Bosch was by Rykie ’n gewoonte. Sy’t haar beslis nie deur koshuisreëls laat hokslaan nie. Menige nagte het ’n paar hande vol gruis teen die ruite haar kamermaat – ook met rooi hare, blou oë en sproete – laat weet sy moet afsluip en ’n grondvloervenster vir haar oopmaak. Een nag kon sy niemand wek nie, toe het sy saam met haar tante se steekhaarbrak op die voordeurmatjie [van die tante se huis] in Van Riebeeckstraat opgekrul en toe die melkwa kom, eers wakker geword.”42

Van Reenen die onverskrokkene was ook reeds as student te sien. Reitz skryf: “Een nag toe Rykie weer so laat van haar tante af terug op pad was, het een haar om die skouers gegryp, so net op die hoek van Murraystraat teen die Botaniese Tuin-kant. Sy het haar losgeruk, sy hoed gegryp en vir hom gesê sy hét sy hoed, en daarmee gaan sy na die polisie en dan sal hy sien wat met hom sal gebeur. Sy draai net daar voor hom om en af polisiestasie toe daar oorkant Pienk Piet [dit was waar die huidige nuwe ingang na die Botaniese Tuin is; die standbeeld staan nou voor die Teologiese Fakulteit].

“Hulle het haar klag neergeskryf, maar gesê dat hulle met die hoedjie nou nie eintlik iets sou kon doen nie. Sy tel dié toe op, draai om om te loop toe die polisie haar keer. Hulle wou weet of sy werklik van plan was om weer in die donkerte terug te stap Huis ten Bosch toe. Hulle het haar toe in die vangwa huis toe geneem en sommer langs die pad uitgekyk vir die een sonder hoedjie.”

Tog, dapperheid het ook sy prys, en Van Reenen was ook net menslik. Reitz skryf toe sy wat Rykie is die volgende oggend wakker word, “toe lê die hoedjie voor haar bed – en heeltemaal nie Rykie nie – gil sy en raak histeries”.

Volgens Reitz het Van Reenen haar vertel dat sy baie jare later “weer ’n keer so ’n aanval” beleef het. Dit was tydens haar verblyf in Johannesburg, as redaksielid van Rapport, toe sy by die Dieretuinmeer oorval is kort voordat sy finaal gediagnoseer is met VS – ’n “nare spierding” – en baie moes stap omdat dit “heilsaam was vir haar spiere”.

Van Reenen was reeds as student ook die romantikus wat deur melankolie aangegryp kon word. Reitz skryf: “Koue mistige oggende het sy voor die vensters van die dameswagkamer in die Hoofgebou gestaan en luister as die viskar op sy horing blaas, ’n lang droewe geluid, vir haar tog te mooi.”

Dié “wagkamer” vir vroulike studente tussen klasse, eintlik ’n ruskamer, was ’n gesellige plek wanneer dié groep studente daar bymekaar was. “Ons het tussen klasse saamgekuier – nie veel studeer nie – by die lang Victoriaanse eikehouttafel met die verskriklik ongerieflike stoele. In die hoek was daar so ’n uitgekerfde houtskerm om die spoellatrine. Die een aan die woord was meestal Rykie. Ons wou net by haar weet hoe sy ou Mrs. Van Heyningen se vrae – ‘Rangskik hierdie gedigte in orde van verdienstelikheid en gee die rede vir jou keuse’ – so onfeilbaar reg kon kry. Antwoord: lees Oxford Book of English Verse,” vertel Reitz.

Sy skryf ook hoe die driemanskap – Van Reenen, Truida Theron en sy – saam studeer het: “Saans het Truida, Rykie en ek om die tafel in Oubaas Mark se ruim spens saamgewerk in ’n tyd toe sulke saamwerkstudiegroepe nie eintlik bestaan het nie. Ek het die leeswerk gedoen, nageslaan, Truida het gekies – Rykie was die redaktrise. Natuurlik het ons tot my familie se verslaentheid Oom uit huis en haard geëet, brood, kaas, melk, kakao, alles altyd op.”

As plaaskind en buitelewemens is dit byna vanselfsprekend dat Van Reenen tydens haar studiejare ook lid was van die US se Berg-en-Toerklub, algemeen bekend as die BTK. Sy het ’n wye vriendekring gehad en die aantreklike jong vrou het heelwat belangstelling van die teenoorgestelde geslag ontvang. Sy het nie die belangstelling gedeel nie – Boshoff meld onder meer hoe ’n medestudent “op ’n berg-uitstappie op ’n Saterdagmiddag gehoor het hoe sy vir ’n man sê waar sy in die skadu van ’n boom lê: ‘Jy sal my nooit kry nie.’”43

By ’n ander geleentheid was die bergklim-uitstappie amper ’n ramp. Reitz skryf in haar herinneringe oor ’n geleentheid toe Van Reenen en ’n groep medestudente Tafelberg sou uitklim.44 “Foeitog. Dit was ’n traumatiese nag vir my arme ou oom. Hy het van baie kyk na hoe die weer sal lyk vir vername rugbywedstryde ’n redelik betroubare voorspeller geword. Hy’t gesê die mis gaan teen die middag opkom en hy sal nie weet hoe om tot ons redding te kom nie en hy wil nie hê ons moet gaan nie. Die arme ou het dié nag nooit geslaap nie. Ek ook nie.

“So teen middag kom die mis op en [die organiseerder] het soos ’n verwilderde hoenderhen vervaard studente bymekaar gemaak. Dié was omtrent bo-op die berg verspreid. Hy het my op die agterhoede gekry en my gestuur om teen die klipmuur te gaan wag – soos in BLY DAAR. Rykie was natuurlik die heel verste weg. Toe ek gaan sit, sien ek hier langs my dié telefoonpale van bene en hier bolangs is Truida Theron. Toe ons [Theron, Reitz en Van Reenen] berg af is aan die westekant – gelukkig nog in helder son – was dit ons drie vir die res van ons lewens.”

Onder aangekom, het hulle amper die bus verpas. “Ons versukkelde klomp het desperaat agter die bus aangehardloop en luidkeels geroep tot hy stilgehou het.” Hulle het toe darem by die stasie gekom, en uiteindelik op Stellenbosch aangeland, hoewel heelwat later dié nag.

Reitz se herinneringe hou verdere insiggewende verwysings na Van Reenen se ma, Hetta, in.45 Dit het betrekking op ’n besoek deur Van Reenen toe hulle reeds volwassenes was en Reitz op Worcester gewoon het: “Op ’n dag het sy op Worcester by my aangekom en ons is na tant Hettie Rabie, Memel, Overhex, toe. Tant Hettie was ’n vriendin, of kamermaat, van Rykie se oorlede ma. Hulle het lekker gesels terwyl ek in die tuin met ou oom Hans boeresake bespreek het.” Dan die insiggewende: “Ná die tyd wou Van Reenen weet ‘hoekom ek nie saam geluister het na wat tant Hettie te sê het oor haar ma nie’.”

Ook die skrywer Elsa Joubert verwys na Van Reenen se “soektog” na haar eie ma. “Darling was ’n band tussen ons. My oupa De Villiers, sewe van sy tien kinders reeds gebore, was ’n paar jaar lank predikant op Darling en bevriend met Dan van Reenen, Rykie se pa. Van daar is hy na Worcester beroep. ’n Rukkie het die jong vrou wat Dan se huweliksmaat en Rykie se ma sou word, op Worcester ingewoon in die pastorie. Sy het die pastoriekinders leer ken. Toe Rykie nog ’n kleuter was, sterf haar ma by haar tweede bevalling. Rykie het nie haar ma geken nie, sy het so min van haar geweet.

“Sy het by my ma kom vra: ‘Vertel my enigiets wat julle onthou.’ My ma, met haar goeie geheue, kon nie veel vertel nie; sy was al uit die huis [toe Hetta daar gewoon het]. Lezie [jonger suster van Joubert se ma] was eintlik haar jaargenoot, sê sy, maar by Lezie – ’n warkop – het Rykie ook nie veel gekry nie. Net hoe romanties dit was toe Dan van Reenen kom ‘call’ het. Selfs dié bietjie was vir Rykie ’n kosbaarheid. Sarah Goldblatt het op ’n keer gesê: Rykie is op soek na ’n moederfiguur, vandaar haar vriendskappe met ouer vrouens, Petronella van Heerden, en ná haar dood, Jean van der Poel46.”47

Van Reenen se hunkering na haar eie ma sien Annatjie Louw ook in die feit dat sy sekere briewe bewaar het, en dit as pakkies in aparte koeverte behou het. “Hetta” en “specials” is onder meer op die koeverte geskryf. Daar is onder meer ’n brief gedateer 31 Oktober 1923 van Hetta aan haar man toe sy sewe maande swanger was met Van Reenen – “oudjie” genoem in die brief. Hetta was in dié tyd vir ’n rukkie by haar ouerhuis in die Paarl waar haar ma gehelp het om kleertjies te maak vir die baba. Die brief straal van die liefde tussen die jong egpaar. Judith Wurtzel het dié dokumente ná Van Reenen se dood aan Louw geskenk.48

Dan van Reenen het die brief in 1941 aan sy dogter, toe ’n student, gestuur met die uitdruklike versoek dat “niemand” mag weet dat hy die brief aan haar gestuur het nie, en dat sy dit moet vernietig.49 Louw interpreteer dié “niemand” as Van Reenen se stiefma.

As skoolmeisie op Malmesbury het Van Reenen “nie gedink sy sou ooit joernalis of boer word nie. In daardie dae het ’n meisie verder geleer om verpleegster of onderwyseres te word.”50 Buiten dié keuses vir ’n jong vrou, was daar nog een: om “’n boer se vrou” te word.

Maar die “jong Rykie het geweet sy wou geeneen van dié wees nie, maar wát sy wou wees, kon sy nie besluit nie. In haar agterkop was die idee om moontlik bibliotekaresse te word, omdat sy van jongs af in die letterkunde belanggestel het.”51

Tog, uit haar dagboek was daar reeds bewys van Van Reenen se joernalistieke vermoë om fyn te kan waarneem, asook haar skeppende omgaan met Afrikaans.52 Die skoolmeisie Rykie skryf byvoorbeeld hoe hulle “hollerste bollerste” iewers heen vertrek het. Haar waarnemings- en beskrywingsvermoë is ook reeds aanwesig: Tydens ’n nagmaaldiens sien sy elke nuanse raak, van die ouderlinge wat die geleentheid gebruik om ’n “goeie sluk lekker soetwyn weg te slaan” tot dié wat kastig ’n suur gesig trek “om ’n goeie indruk te maak”.

Haar eie styl is ook reeds as skoolkind teenwoordig. Ná haar musiekeksamen, góéd geslaag, skryf sy oor die volgende verskrikking wat kom: “Maar, laat ons eet en drink en vrolik wees, bekoswaai, Maandag skryf ons kwartaalse eksamen.”

Sy het ook toe reeds haar teikenmarkte geken. Oor haar opstelle skryf sy: “As jy goeie merke by Onkel Alias53 wil hê, prop net die hele opstel vol van hoogdrawende byvoeglike naamwoorde, skryf dramaties(!), groot skrif, en maak die opstel lank [twee keer onderstreep]. Dan kan jy sien – dan kom die merke sommer so sit-sit aangewaai!”

Anneke van Niekerk meen tydens Van Reenen se studentedae het “haar kop … reeds na die joernalistiek gestaan”, ten spyte daarvan dat die “bekende Grieks-professor aan die US, prof. C.S. Edgar” haar probeer “oorhaal” het om dosent te word.54 Marcha Schoeman (getroud Hartwig) was saam met Van Reenen in die universiteitskoshuis Huis ten Bosch. Sy wou joernalis word, en was van 1941 af korrespondent vir Die Burger op Stellenbosch. Toe sy in 1943, met ’n MA in Engels, in Die Burger se redaksie aangestel word, het sy Van Reenen omgepraat om haar op te volg as universiteitskorrespondent.55

Van Reenen was blykbaar so knap dat die redakteur van Die Burger, dr. A.L. Geyer, haar gewerf het vir die vaste redaksie. Sy het haar in April 1945 by Die Burger aangesluit, ná ’n “uitnemende akademiese loopbaan aan die US”.56 Van Reenen en haar studentemaat was toe saam in die vroueredaksie. “En toe het alles uitgewerk nes ons dit beraam het!” het Schoeman later daaroor geskryf.57

Slegs ’n handjievol vroulike joernaliste het hulle in die 1940’s, heeltyds en deeltyds, in Suid-Afrikaanse nuusmedia bevind. Almal was tot hul koerante se vroueblad beperk. Die Burger se sosiale rubriek getitel “In Gesellige Luim” het hoofsaaklik uit “troues en nogmaals troues” bestaan. Dié is breedvoerig bespreek: besonderhede oor die bruid, die bruidegom, die gevolg, die gaste.

Saam het Van Reenen en Schoeman blykbaar op ’n “nuwe manier” gerapporteer.58 Die skrywer en oudjoernalis Marita van der Vyver skryf “[v]erdere afwisseling is verskaf deur ’n ‘wedstryd’ tussen Van Reenen en Schoeman – met ’n tiekie as prys – vir die oorspronklikste manier om ’n trouberig te begin”.59 Vir iemand wat haar hare net een keer laat “doen” het en nie wou opdress vir voorleesaande nie, moes dit ’n aansienlike uitdaging gewees het om vir die een trouberig ná die ander ’n oorspronklike intro oor die bruid se uitrusting te skryf.

Een so ’n intro was vir die dubbele bruilof van twee susters. Dit het só gelui: “My naam is Abraham. Ek kan dus natuurlik nie weier om my dogters af te staan aan ’n Isak en ’n Jakob nie, het ’n trotse pa by die bruilof van sy twee dogters gesê.”60

Van Reenen het gou gewys dat daar ’n gees agter haar blou oë steek wat nie tot die “vrouebladsye” beperk kon word nie. Sy het van die Vroueblad beweeg na die algemene nuuskantoor as algemene verslaggewer. In dié opsig was sy uniek, want alle vroulike redaksielede in die eerste dertig jaar van Die Burger se bestaan het by die Vroueblad begin – en geëindig: “Rykie van Reenen, wat in 1945 soos al die vroue vóór haar by die Vroueblad begin werk het, was die eerste een wat dit reggekry het om in ’n ander afdeling van die koerant aangestel te word,” skryf Van der Vyver.61

Van Reenen was tussen 1945 en 1965, voordat sy na Johannesburg verplaas is vir die stigting van Die Beeld, ook verbonde aan die naweekpublikasie Die Byvoegsel, die algemene nuusredaksie, die sportkantoor (“al om die ander naweek”), die kunsredaksie (vóór en saam met W.E.G. Louw)62 en “aan die hoof van Die Klein Burger, waar haar groot liefde vir kinders haar goed te pas gekom het”.63

Dit was ook tydens haar termyn by Die Burger dat sy haar eerste rubrieke vir Van Alle Kante (VAK) geskryf het – ’n omgewing waarin sy kon “inweeg” in ’n nis waarin sy haar by uitstek kon bewys. Dié rubriek is in daardie stadium deur Aat Kaptein geskryf, maar tydens sy verlof in 1960 het sy amptelik waargeneem. Dis met rubriekskryf dat “haar fyn waarnemingsvermoë en haar selfs fyner uitdrukkingsvermoë” tot hul reg gekom het.64 Haar eerste bydrae tot ’n bundel was in dié tyd, in Die Dammetjie en ander sketse en essays. Dit is in die vroeë 1960’s deur Tafelberg gepubliseer, en bestaan uit essays van M.E.R. en haar sogenaamde Kaapse kinders, Van Reenen en haar tydgenote Audrey Blignault, Alba Bouwer, Freda Linde en Elise Muller.

Van Reenen se uitbeweeg uit die vroueredaksie en “inweeg” in ’n tot toe nog manlike joernalistieke liga het bygedra tot die feit dat sy vandag beskou word as die tweede professionele Afrikaanse vroulike joernalis naas M.E.R. Laasgenoemde het uit die joernalistiek getree en nie as joernalis afgetree nie, hoewel sy tot ’n hoë ouderdom bly skryf het. M.E.R. het as joernalis ook nooit uit die vroueredaksie beweeg nie.

Van Reenen is deur omstandighede gedwing om haar joernalistieke loopbaan vir ’n ruk te onderbreek.65 Dit was toe sy ná haar pa se dood “uitgetree [het] om die plaasboer van Waterkloof te word”.66 Volgens Tobie Boshoff het Van Reenen haar verplig gevoel om ná haar pa se dood te gaan boer.67

In 1985 het Sarie ’n artikel oor vroulike boere geplaas, en hoewel dit toe reeds dertig jaar gelede was dat Van Reenen geboer het, is sy ingesluit.68 Van der Vyver, wat toe ’n joernalis by Sarie was, skryf dat Van Reenen se pa sterwend was toe sy in 1952 van ’n oorsese toer teruggekeer het.69 “Die boerdery het haar onkant gevang. Sy het nooit werklik aan die moontlikheid gedink dat haar vader sou sterf nie … Sy het ’n plaas geërf wat al byna ’n eeu in besit van haar familie was. Sy moes eenvoudig boer om die plaas te behou.” Van Reenen was nog nie 30 toe sy die plaas moes oorneem nie. “Dit was harde werk,” sê sy in die Sarie-onderhoud, “maar nie moeilik nie.”

Tog het sy in dié tyd steeds vryskutwerk gedoen.70 In ’n brief aan Van Reenen, gedateer 27 April 1952, skryf M.E.R. oor die verlies vir die joernalistiek, en verwys na ’n berig oor die beroemde Lombard-vierling van daardie tyd oor wie Van Reenen kort voorheen met soveel genoegdoening gerapporteer het. Sy verwys ook na vryskut-moontlikhede wat Phil Weber, toe redakteur, hopelik vir haar reël: “Toe ek die stukkie oor die 4-ling nou die dag lees … toe dag ek nee, as Rykie weg gaan plaas toe, kan sy die 4 darem nie so los nie. Wie anders kan so met hulle werk? Die kinders sal kwyn. Maar Phil het seker met jou vir los werk gereël: en jy sal ook nie jou hande daarvan kan af hou nie.”71

Self skryf Van Reenen in Mei daardie jaar aan M.E.R. oor hoe mooi dit op die plaas is: “Op die plaas begin dit nou groen word. Dit voel my sommer of my swaarmoedige ou bankbalans ook asemskep en moed kry. Die nuwe kontoervore hou. Die oubaas op die plaas het nou die dag so ’n mooi reguit nuwe kampdraad getrek dat ek hom sommer liewer het.”72 Die versugting aan die einde van die brief bevat reeds ’n Rykie-stylkenmerk, naamlik om ’n anderstalige nuanse in te bring: “Miskien sal ’t eind nog zalig zijn.”

M.E.R. het eers ’n rukkie ná Van Reenen se pa se afsterwe van sy dood verneem. Op 18 Julie 1953 skryf sy: “Hendrien [Lambrechts73] skryf dat jy aangaan met die boerdery: daaroor is ek bly, want hoe swaar die alleen aangaan ook sal wees, seker sal wees, lê die koers vir jou – soos altyd vir die een wat agterbly – in die aangaan. Wat soms lyk of dit ’n mens wil doodmaak, dit is wat jou aan lewe hou, die uithou en aangaan. En as jy kan aangaan, al was dit net vir eers, met wat jou vader geskep het, dan het jy hom ook nie werklik verloor nie. Maar dit sien ’n mens nie meteens nie.”74

Die boerdery op Waterkloof was gemeng – skape, wingerd, graan en melk – “die soort wat jou nooit vakansie laat hou nie”.75 Die diere was blykbaar nooit ’n probleem nie – buiten dat sy “hopeloos te lief vir hulle geword het”, in so ’n mate dat sy, in haar eie woorde, “gehuil [het] as die skape se wol verkoop moes word”.

“Om nie eens te praat van die verdriet as die bulkalfies slagplaas toe moes gaan nie,” skryf Van der Vyver. “Maar dit kon nie anders nie. Die hele plek kon nie vol bulle wees nie. Nie as jy ’n melkboerdery aan die gang probeer hou nie.”

Van Reenen self het gesê twee dinge het teen haar getel toe sy skielik moes gaan boer: Sy het niks van geld geweet nie, en net so min van masjiene.76 Haar belangrikste gids was ’n “dagboek wat haar pa jare lank gehou het, soos haar oupa vóór hom, en waarin noukeurig aangeteken is wanneer wát elke seisoen op die plaas gebeur het”.77 Tot Van Reenen se eie geboorte, sê sy, is in 1923 “so tussen die lammers en die graan” in haar pa se dagboek genoem.78

Sy het blykbaar “hoofsaaklik geprobeer om dieselfde dinge op dieselfde tyd te laat gebeur”. Helaas, die realiteit was dat sy met “haar manier van boer” nooit sou geld maak nie, maar minstens het sy die plaas tien jaar lank solvent gehou, skryf Van der Vyver – vyf jaar daarvan as heeltydse boer, die tweede vyf deeltyds. Sy het dit “as die grootste prestasie van haar lewe” beskou.

Tydens haar tyd op die plaas het sy ook deeltyds onderwys gegee. Soos Anneke van Niekerk dit stel, omdat dit “skraps gegaan het met die boerdery het sy ’n pos aanvaar as deeltydse onderwyser in Latyn en Afrikaans aan die hoërskool”.79 Daar is talle anekdotes oor haar tyd as onderwyser. Een lui dat toe haar bakkie een oggend nie wou vat nie, sy, tot groot vermaak van die skoolkinders, op haar trekker by die skool opgedaag het.80 Op ’n ander dag weer het sy die leerlinge van die laaste klas op ’n Vrydag op die bakkie gelaai, met hulle ingejaag Kaap toe, “Tafelberg uitgeklim, afgeklim en teruggejaag Malmesbury toe, net betyds vir aandete”.81 Anneke van Niekerk som dié episodes op: “Dit was die soort mens wat Rykie van Reenen was: spontaan, ongewoon, onkonvensioneel, avontuurlik.”

Hierdie tydperk het ook ’n rykheid van korrespondensie tussen vriende en kollegas opgelewer.82 Haar heerlikste herinneringe het met haar werkers te doen. “Jy word intiem by hulle betrokke. Jy deel geboortes en siektes en wel en wee.”83 Boshoff onthou “die tyd toe sy in die Swartland probeer boer het, het baie van haar bure kopskuddend toegekyk hoe sy glad te veel met haar bakkie arbeiders rondry om teen die buurplase rugby te speel”.84

Hy haal ook aan uit ’n brief wat Van Reenen aan “Daantjie” van Niekerk geskryf het: “By my op die plaas. Nuwe divertissement is my manne se voetbalspelery. Ons het nou vir hulle regte rugbytruie gekry … Tot dusver is nog net een drie teen hulle aangeteken. Ek vertrou die vrede nie, maar hulle sweer hoog daar was geen kierang nie.”85

Boshoff skryf verder: “Haar Latyn-gee … het weer ten einde gekom toe sy en die matrieks deur die klaskamer se venster gespring het. Die ontnugterde skoolhoof het nou nie juis gedink dis ’n ‘klassieke’ optrede nie.” Hy onthou dat dit matriekmeisies was, en dat ná die nodige stappe “die skool toe weer sonder ’n skaarse Latyn-onderwyser” was – “en sy nogal met ’n MA”.86 In die tyd toe Van Reenen Afrikaans en Latyn aan die hoërskool gegee het, het “die kinders gesê hulle het nog nooit sulke opstelonderwerpe gekry soos toe nie”.87

Van Reenen was egter nie so vaardig op die landbou-akker as op die woordakker nie. Anneke van Niekerk beskryf dié fase in Van Reenen se lewe: “Ongelukkig vir die Suid-Afrikaanse landbou, dog gelukkig vir die joernalistiek, het Rykie nie goed gevaar as boer nie.”88

In Junie 1958, weer heeltyds terug by Die Burger maar steeds deeltyds boer, met waarskynlik die Swartland gróén van die vroegwinter se jong graan, skryf Van Reenen aan die Van Niekerks, toe in New York: “By my op die plaas gaan dit vreeslik groen en taamlik goed.”89 Die volgende paragraaf gaan egter voort met: “Finansieel gaan dit natuurlik nie so erg klopdisselboom nie. Eheu.”

In ’n brief twee maande later skryf sy: “Dis vreeslik mooi op die plaas nou + nieteenstaande al die droogtebedreigings lyk die gesaaides baie mooi. Ek het nou pas vanmiddag die hele spul deurgeloop. Wie weet, is ek a.s. jaar solvent + oor nog ’n jaar in New York. (Ek hoor jou, Van Reenen.) Die lupiene is tog ’n aanwins vir die land – afgesien van markwaarde, grondverbetering, wat ook al: nou een hele helfte plaas in blom soos ’n vér dam water van die bloulupiene. Ek het vanoggend die eerste kalkoentjie van die jaar ook gekry. ‘The spring is (amper al) sprung!’”90

Die verantwoordelikheid van die familieplaas, haar verskeurdheid tussen haar liefde vir die joernalistiek en die plaas, en komplekse persoonlike verhoudings het in dié tyd ook ’n geweldige tol geëis op haar gesondheid. Uit briefwisseling tussen byvoorbeeld M.E.R. en haar Kaapse kinders blyk onder meer kommer oor Van Reenen wat haar oorwerk en wat “haarself gaan uitbrand” te midde van die versorging van haar ma ná haar pa se dood, die plaas, haar werk en ander aansprake op haar tyd.

Sy was toe reeds ook bevriend met die befaamde dr. Petronella (ook Nell of Nan) van Heerden, eerste Suid-Afrikaanse vrou wat ’n mediese dokter geword het, en ook eerste Suid-Afrikaanse vrou wat as ginekoloog gespesialiseer het. Van Heerden is ’n pionier in vele opsigte en word beskryf as “a remarkable woman who forced her way through many gender barriers of her time. In different ways she paved the way for generations of women after her. Her accomplishments as a woman in the field of medicine and specifically gynaecology were way ahead of her time. She also made a valuable contribution to Afrikaans literature, especially in the field of autobiographical writing, shedding light on historical processes.”91

Van Heerden was ook die eerste Suid-Afrikaner wat haar proefskrif in Nederland in Afrikaans sou skryf. Sy was ook bekend daarvoor dat sy haar borste en haar baarmoeder verwyder het weens ’n familiegeskiedenis van kanker,92 en het manspakke gedra.

Só skryf Bouwer of “Bouwertjie”, soos Van Reenen in korrespondensie na dié vriendin verwys, aan M.E.R. op 21 Februarie 1959: “Sy lyk soveel beter en het onder Nell se deeglike ou hand nie alleen vetter geword nie, maar ook ’n paar dinge ingesien. Ek vertel haar nou die dag van die goeie Duitse sendeling wat nou by die Tegniese Kollege gaan Xhosaklasse gee, en ons het nou twee jaar met swak onderwysers gesukkel [hulle het albei vantevore saam Xhosa-klasse begin neem]. ‘Nee,’ sê Rykie, ‘dit moet ek vir eers los, ek moet nou eenvoudig minder doen.’ En ek merk ook dat sy punt daarvan maak om saans voor elfuur in die bed te kom. Daaroor is ek nog dankbaarder as oor die tien pond wat sy swaarder geword het, want jare al probeer ek Rykie oortuig daarvan dat sy meer aan haarself en haar gesondheid moet dink as aan al die mense wat so tydig en ontydig op haar aansprake maak. Nou sien sy dit in!”93

In dieselfde brief spreek Bouwer haar kommer uit oor Van Reenen se probleme, ook finansieel, met die plaas, haar sorge om haar ma en die feit dat ál Van Reenen se vrye tyd deur die plaas in beslag geneem word. Net Van Reenen se intieme vriende het geweet watter wroegings sy deurmaak omdat – soos Bouwer skryf – “Rykie oënskynlik so alles kan hanteer”.

“Sy kan feitlik nooit ’n naweek êrens heen nie, net met moeite, en op die oomblik betaal die plaas nog nie so dat sy met geruste hart die saak kan laat voortgaan nie. Daar is altyd kwellings, veral geldkwellings. Die ou voorman is betroubaar – sy vrou is eintlik die boer – maar het ook nie juis soveel insig dat hy Rykie baie raad kan gee nie. Sy moet nog die dinkwerk doen. Maar nou aan die ander kant, Waterkloof is vir Rykie veel meer as net ’n besitting en sy sien nie kans om sonder meer daarvan afstand te doen nie. Maar sy moet dit na die een of ander kant toe begin bedink. Nou ja, as sy die kwelling van haar ma nie had nie, was dit met die plaas moontlik makliker. Dis soos TaMiem skryf, drie dinge [haar stiefma, die plaas en haar joernalistieke vaardighede] wat al drie bates is, maar hulle moet tydelik geskei word. Ek weet nie mooi nie. Maar wat wel goed is, is dat Rykie nou beter insig in die hele saak begin kry en begin sien dat iets gedoen moet word. Tevore was sy bang om daaroor te dink, en ’n mens kan dit begryp. Dis alles erg ingewikkeld.”

Bouwer skryf verder: “Wat my dronkslaan, TaMiem, is dat nóg haar pa nóg haar ma se familie die vaagste benul skyn te hê van wat Rykie deurmaak, veral ten opsigte van tant Bettie … Hulle ken tant Bettie se streke en obsessies, maar reken, soos so baie mense en vriende van Rykie, dat Rykie so kapabel is en so ligtelik oor alles gaan, dat sy wel regkom. En, soos ek Anna [M.E.R. se dogter] vertel het, Rykie was so na aan ’n algehele ineenstorting soos ek niemand nog gesien het kort voordat sy hier weg is nie.”

In dieselfde tyd, op 28 Februarie 1959, skryf Van Heerden aan M.E.R. oor Van Reenen se toestand, en “betig” haar in haar eiesoortige Afrikaans oor moontlike raad wat laasgenoemde nie aan Van Reenen moet gee nie: “Liewe TaMiem, daar kan eintlik nooit te veel briewe van jou kom nie! Rykie was al weg [sy was toe reeds terug in die Kaap]. Sy hou nie eintlik daarvan nie dat mens oor haar gesels. Ek kan jou dus nie so uitvoerig skrywe nie as ek anders sou gedoen het. Wat ek wel kan sê is dat sy hoewel baie beter as toe sy gekom het, nog glad nie reg is nie. Ek onthou nie presies meer wat ek vir jou gesê het in my laaste brief nie, wat joune gekruis het.”94

Van Heerden skryf dan oor ’n infeksie wat Van Reenen se “bloedbeeld lelik geaffekteer het”. “Daar is ook nerveuse symptome wat ek liewer nie oor wil uitwei nie, want dit lyk my so asof ek oor dinge praat wat sy dalk liewer nie wil hê nie. Dit kan ek jou wel sê (wat ek van die huislike omstandighede weet, het ek van Alba gehoor, wat dit goed ken) is dat jy Rykie se Public Hero no 1 is – haar eie woorde – en ek was doodsbenoud dat sy met jou sou praat, want jy het my geskrywe daardie ma is haar job en mens kan nie jou rug op jou job draai nie. As jy ooit vir Rykie so iets sê, dan sal jy haar groot skade doen. As sy nie baie gou van die ma wegkom nie, sal die gevolge noodlottig wees. Sy sal breek. Sy sal breek. Sy is nie sterk nie, het ’n exotiese gewete en sou haarself, haar gesondheid en haar skryftalent daarvoor opoffer.”

Dit was juis toe Van Reenen weer in 1959 by Van Heerden in die Vrystaat herstel het, dat M.E.R. ’n “preekbrief” aan Van Reenen skryf, wat sy afsluit met: “[A]ntwoord nie nodig nie. ’n Preek is mos maar van eenkant af .”95 Sy het ook raad gegee oor Van Reenen se drie “verantwoordelikhede”: haar ma, die plaas en haar joernalistieke werk.

In ’n latere brief dieselfde jaar blyk M.E.R. se kommer oor haar Kaapse kind nadat sy na Van Reenen se ma in die Strand verwys het: “Is sy tevrede? Sien jy haar dikwels? Gaan dit reg op die plaas? … En rus jy soms? En eet jy behoorlik? En waar woon jy?”96

Hoewel dit volgens Bouwer sigbaar beter gegaan het met Van Reenen nadat sy in 1959 van die Vrystaat teruggekom het, het dit vir dié werkolis en persoon wat graag vir almal uit die pad gegaan het, nie sommer makliker gegaan nie. Einde 1960 skryf Bouwer weer aan M.E.R.: “Dan was daar Rykie. TaMiem weet self vir haar sal ek baie ver gaan. Sy het hierdie jaar swaargekry. Maar ek hoop dat dit daar ook nou beter sal gaan.”97

Maar dit was nie die einde van Van Reenen se persoonlike swaarkry nie. Haar familieplaas se uiteindelike verkoop, Van Heerden se klaarblyklik sorgsame dog veeleisende vriendskap en die aanspraak wat sy op Van Reenen se tyd gemaak het, en, laastens, haar ma, het bygedra tot haar kwellings, hoewel sy hulle klaarblyklik op die oog af telkens kon oorkom.

Op 20 Januarie 1964 probeer M.E.R. tog klankbord oor Van Reenen se verskeurdheid tussen die plaas en die joernalistiek: “om vas te stel, is jy boer of skrywer?” Oor die boerdery het sy wat M.E.R. is, nie so helderheid nie. Maar, skryf sy, “wat die skrywersloopbaan betref, daaroor het ek helderheid”.98 Van Reenen hóórt in die woordwêreld, was M.E.R. se oorwoë oortuiging.

Nadat sy amptelik terug was in die joernalistiek, het die plaas steeds ’n groot deel van haar bestaan in beslag geneem. Van Reenen het haarself eindelik oorreed om die plaas te verkoop ’n jaar of wat voordat sy in 1965 na Johannesburg verplaas is.99 Dit was ná baie wroeging, veral omdat sy so na aan haar pa was en dit steeds vir haar ’n band met hom was.

Bouwer, een van Van Reenen se getrouste kamerade, skryf in 1964 aan M.E.R.: “Rykie het een aand, vandat sy die aanbod gekry het [om die plaas te verkoop], met ons kom praat. Hubert [Coetzee, Bouwer se eerste man en toe uitvoerende hoof van Naspers] sê toe aan haar: Jy moet vir jouself besluit of jy twee jobs kan doen, want koerant en plaas is albei voltyds, soos jóú sake staan. En dan moet jy besluit of jy uiteindelik wil boer. Nee, sê sy toe, boer, dit wil sy eerlik nie. Sentimenteel oor grond, dit is sy ook nie, maar sy is vir daardie plaas lief.”100

Bouwer skryf: “Toe het Hubert aan die hand gedoen vereenvoudiging van die boerdery.” Dit het sy reeds gedoen, was die antwoord – “met kundige boere gaan bespreek en hulle het dit afgeraai”.

Daarop vra Van Reenen toe aan Coetzee wat haar toekoms by ’n koerant sou wees. Die antwoord was in die konteks van die tyd waarskynlik grootmoedig, hoewel dit nie ’n verwysing na bevordering as redakteur van ’n publikasie ingesluit het nie. Bouwer skryf: “Toe sê Hubert: ‘Rykie, jy kan by Nas.Pers kies wat jy wil doen, enigiets, ek sal jou dit gee. En jy sal kan word wat in Amerika en Europa bekend is, die spesiale verslaggewer wat nie aldag skryf nie, maar wat, as hy die dag skryf, iets spesiaals is en skryf.’”

Dit sou egter nog lank duur voordat Van Reenen die rol van “spesiale verslaggewer” gekry het. Later in 1964 skryf Bouwer weer aan M.E.R.:

“Met Rykie, TaMiem, gaan dit sigbaar beter. Ek het nou eendag tyd gemaak om saam met haar Somerset-Wes [eintlik na die Strand, na haar stiefma] toe te ry sodat ons kan gesels. Sy is nou deur die stadium van twyfel of sy reg gedoen het om die plaas te verkoop. Toe sy besluit het, was sy natuurlik seker dis reg. Toe kom die vreeslike twyfel, waarin niemand haar kon help nie. Nou is sy daardeur. En, sê sy, sy het altyd gewonder of sy regtig in haarself iets het om op terug te val, want sy het maar altyd op die plaas en wat dit vir haar is, teruggeval, en nou vind sy uit, sy het dit tog. En sy werk aan Emily Hobhouse, sonder spanning, want sy hoef dit nie meer koorsagtig te doen om vir haarself te bewys sy kan nie. ’n Mens kan aan haar sien die spanning is minder. Maar dan natuurlik, Nell is vir ’n paar maande plaas toe [Vrystaat toe]. Hubert sê ook vanoggend: ‘Merk jy ook dat Rykie se VAK verbeter het? Waar is ou dr. Van Heerden? Seker nie hier nie?’ Nou ja, enough said.”101

In dieselfde brief skryf Bouwer oor die plaas se verkoop aan M.E.R.: “Nou ja, ek dink Rykie begin nou meer helderheid kry oor haarself ook, as Nell tog net lank genoeg wil wegbly! Maar, sê sy my, sy was verlede Sondag met mense op die plaas (daar is nog goedjies van haar in die huis) en sy gaan tog iets in die spens haal en in die gang moet sy behoorlik gaan staan om haarself reg te ruk toe dit haar tref dis nie meer haar huis en grond nie. Erger as haar pa se dood, want sy het dit bewerk. Maar sy weet nou dit was die beste en ons hoop die pad word vir haar verder vorentoe ook duideliker. Intussen het Nell my net aaneen vertel hoe moeilik sy dit met Rykie gehad het in die tyd van besluit en Rykie sê weer dit was vir haar makliker juis omdat Nell haar nie op die plaas kom steur het nie en Rykie meen dis die vrug van TaMiem se brief.”

Van Reenen se stiefma was in dié tyd vir haar steeds ’n groot verantwoordelikheid, en saam met Van Reenen se komplekse persoonlike verhoudingslewe is sy aan erge stres blootgestel.102 Op 11 Mei 1966, toe Van Reenen op besoek aan die Kaap was ná haar verplasing na Johannesburg, skryf Bouwer aan M.E.R.:

“Rykie het ’n tyd van kwaai spanning agter die rug. Was die meisie [’n Hollandse kuiergas] nie hier nie, het ek verlede Saterdag met haar Swellendam toe gekom. Sy kon nie my motor neem en kom nie, dan was dit moeilikheid,103 maar as ek nou kon, nou ja, dit kon nie en nou is sy gister weg en Nan, oortuig daarvan dat Rykie nie alleen moet wees nie, is saam. Miskien bly sy nie te lank nie. Dit word elke dag meer pateties om te sien hoe Nan se besorgdheid oor Rykie toeneem en op verkeerde manier en plekke uiting vind. En op die agtergrond is altyd Freddie [Heseltine, ook ’n nabye vriendin van Van Heerden], die skaduwee, wat nie gesien of gehoor word nie en sorg dat die kos op tafel kom, die pille langs die bed en die bliksems betyds afgelei. Die Engelse stiff upper lip het ek nog nêrens beter gesien as daar nie.”104

Van Reenen se heeltydse terugkeer na die joernalistiek in 1957, ondanks die feit dat sy toe nog deeltyds met die boerdery voortgegaan het,105 het blye reaksie ontlok. Ook Erika Theron106 het ’n mening daaroor gehad. Op 24 Januarie 1957 skryf sy aan redakteur Piet Cillié: “Baie bly oor W.E.G. Louw se artikels, maar net so bly is ek dat Rykie van Reenen weer by Die Burger is. Sy is ’n joernalis honderd – pas haar mooi op!”107

Van Reenen het haar as heeltydse joernalis só gevestig dat sy in 1965 een van ’n “uitverkore” groepie was wat in ’n verdeelde Suid-Afrika, ook tussen wit Afrikaner noord en suid van die Vaalrivier, ’n nuwe taak gekry het. Sy was onder die met-die-hand-uitgesoekte joernaliste wat Die Beeld, Nasionale Pers (nou Naspers) se eerste Sondagkoerant, moes vestig. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers, stel dit so: “Die omraming is: Die Burger in die vroeë sestigs. Aan die spits Phil Weber, Piet Cillié, Schalk Pienaar, J.J.J. Scholtz, P.A. Joubert, Willem Wepener, Aat Kaptein, W.O. Kühne, om ’n paar te noem. En dan Rykie, so formidabel soos kan kom. Hou vir hou kon sy terugkap in daardie manlik oorheerste wêreld.

“Nie verniet nie is Die Burger in daardie jare deur sy internasionale eweknieë aangewys as een van die tien topkoerante in die wêreld. [Volgens ’n ander bron is Die Burger spesifiek in 1965 deur The Times van Londen ingesluit in ’n reeks oor die groot koerante van die wêreld, in dieselfde klas as die New York Times, die Neue Zürcher Zeitung en Le Monde.108] Hierdie Burger-redaksie het joernalistiek van ’n gehalte gelewer wat miskien altyd beskou sal kan word as die hoogwatermerk. Jy het die koerant gekoop vir die rubrieke van begaafde skrywers, soos Rykie.”109

Saam met Piet Cillié en Schalk Pienaar kan Van Reenen beskryf word as lid van ’n uitnemende troika van Afrikaanse joernaliste wat dié beroep op ’n nuwe vlak bedryf het. Van Reenen sou veral vanaf 1965 as lid van die pioniersgroep joernaliste by Die Beeld – later Rapport – ’n huishoudelike naam word. Die Beeld het in 1970 as die geamalgameerde Sondagblad Rapport voortgegaan toe Dagbreek, die destydse Perskor-Sondagblad, en Die Beeld saamgesmelt het. Die naam Die Beeld sou later herleef in Naspers se noordelike dagblad, Beeld.

Van Reenen was in 1970 lid van die stigtingsredaksie van Rapport, en is in 1973 tot assistentredakteur bevorder.110 Sy was die eerste vroulike joernalis by enige Suid-Afrikaanse media-instansie wat tot dié vlak bevorder is. Die daaropvolgende jaar reeds was sy vir vyf weke waarnemende redakteur – nog ’n eerste vir ’n vrou op daardie vlak in die Suid-Afrikaanse media.111 Daarna het sy etlike kere as redakteur waargeneem wanneer die redakteur uitstedig was.

Elsa Joubert skryf dat dit “destyds ongehoord” was vir ’n vroulike joernalis om tot die vlak van “senior assistentredakteur” van ’n koerant te vorder.112 Volgens ’n koerantberig met die aankondiging van Van Reenen se eredoktorsgraad was dit ’n “ope geheim dat, as sy maar wou, sy die eerste vroulike redakteur van ’n belangrike koerant in Suid-Afrika sou gewees het”.113 Haar statuur in die joernalistiek is onder meer erken deurdat sy in 1975 genooi is deur ’n leierskapsprogram om ’n uitgebreide reis na die VSA te onderneem.114

Van Reenen, wat nie bewustelik vir vroueregte ’n kampvegter was nie, anders as byvoorbeeld M.E.R., het onbewustelik ’n belangrike bydrae gemaak tot die vestiging en aanvaarding van vroue in die nuuskantoor en die professionalisering van vroulike joernaliste. ’n Mens kan die afleiding maak dat haar kritiese ingesteldheid teenoor die samelewing ’n vroueregtebewussyn by haar gekweek het waarvolgens sy dit eintlik as vanselfsprekend beskou het dat vroue as gelykes behandel moet word. Reeds as agttienjarige, as eerstejaarstudent op Stellenbosch, onderstreep sy ’n reël in ’n boek oor “extending the rights of women” en voeg ’n uitroepteken in die kantlyn daarby.115

In 1995 kon Caryn Voigt, as studentejoernalis, twee uur lank met Van Reenen ’n onderhoud voer vir haar diepteprojek in haar honneursjaar. Sy skryf later Van Reenen het haar “baie sterk die indruk gegee dat sy net haar werk wou doen en dit goed wou doen, en dat sy haar nie elke liewe dag die vraag afgevra het hoeveel glasplafonne sy moes deurbreek om haar dagtaak te vervul nie. Sy wou bloot ’n goeie joernalis wees. En in daai jare het dit noodwendig beteken dat sy die tradisionele professionele grondgebied van die man sou moes betree en inneem, maar my indruk van haar was dat sy nie willens en wetens daarop uit was om uitsluitlik dít te doen nie … Ek dink nie sy sou wou hê dat die feit dat sy ’n vrou is haar prestasies of nalatenskap moes definieer nie.”116

Die egpaar Audrey Blignault en Attie de Villiers noem in ’n onderhoud in 2006 dat haar werk wel ’n “element van feminisme” gehad het, en dat sy deur haar besonderse vriendskap met die “uitgesproke feminis” dr. Petronella van Heerden, en M.E.R., wat ’n “sterk feministiese streep” gehad het, beïnvloed is.117 Vir Van Reenen was dit blykbaar egter nie nodig om uitgesproke feministies te wees nie – daarvoor was vrouesake en vrouekrag vir haar eenvoudig te vanselfsprekend. Sy self het heelwat later oor haar mede-Kaapse kind Hendrien Lambrechts geskryf dat sy ’n “besielende geloof in vrouekrag” gehad het,118 nes Emily Hobhouse, die menseregte-aktivis uit die Anglo-Boereoorlog en onderwerp van twee boeke uit Van Reenen se pen.

Dieselfde kan van Van Reenen gesê word. ’n Mens kan dus eintlik tot die gevolgtrekking kom dat vroueregte vir Van Reenen so natuurlik was soos asemhaling: nie iets wat bewustelik gedoen word nie, maar noodsaaklik vir oorlewing. Eenvoudig normaal.119

Van Reenen was ’n “anderste mens”, skryf uitgewer Koos Human: “As ’n mens verhuis, dan stuur goeie vriende dikwels ’n ruiker blomme of kom lewer ’n lasagne af vir die aandete. Wie anders as Rykie sal opdaag met ’n spekvet werfhoender van haar plaas?”120

Heelparty ander was ook die ontvangers van sulke “anderste” soort tasbare gawes. Só skryf M.E.R. byvoorbeeld in 1956, op 6 Maart, toe Van Reenen se “hoofberoep” dié van boer op Waterkloof was: “Reken dat die hoender en die mandjie druiwe so by ons ingestap kom! En Van Zyl121 sê nee, dit gaan goed op Waterkloof, en dat julle nou pars: Ek het uitgevra oor alles.”122

Hierdie avontuurlustige persoonlikheid het as bonus daardie geseënde kwaliteit gehad van iemand wat met konings kon wandel en met bedelaars kon praatjies maak, met grasie en gemak tuis in alle geselskappe. Danie van Niekerk som die persoonlikheid só op: “’n spontane natuurmens, hoogs intelligent en belese, en sensitief teenoor mens en dier.”123

In die buitelewe was sy in haar element. Sy was letterlik en figuurlik lief vir aksie – in so ’n mate dat sy ’n motorfiets gehad het in ’n tyd toe selfs gefrons is oor mans wat op twee wiele ry. Bouwer skryf dat Van Reenen “by gebrek aan vinnige vervoer van Clifton af kantoor toe, ’n motorfiets gekoop en lank daarmee rondgery het totdat dit ingegee het en sy gelukkig ander rygoed moes soek. Almal in die Kaap het Rykie-op-die-motorfiets geken.”124

Van der Vyver verwys ook na die “buitelug”-indruk wat sy geskep het: “Wat ek verder onthou, as ek aan haar dink, is haar ongekunstelde, amper kinderlike, ‘buitelug’-voorkoms (by gebrek aan ’n beter woord), ’n soort sjarme wat Ingrid Jonker ook op baie van haar foto’s gehad het, miskien iets te doen met kort windverwaaide hare en ’n gesig wat nie bang is vir son of reën nie. En dat haar kombinasie van ’n groot hart en ’n skerp verstand almal geïmponeer het wat met haar te doen gekry het, oor die breedste moontlike politieke en kulturele spektrum. Dit het ek deur die jare, ná ek daardie onderhoud met haar gevoer het, oor en oor besef.”125

Juis uit ’n brief in 1959 blyk Van Reenen se genot aan die natuur en die buitelewe. Sy skryf aan Danie en Anneke van Niekerk tydens hul Amerika-verblyf hoe heerlik haar “trippie op Namakwaland toe” was: “Die Volkswagen het amper kan ’n mens sê gelukkig gelol, sodat ek ses hele dae weg was. As julle weer in die land is – wanneer is jul ballingskap oor? – skiet ek julle vir ’n lente-ritjie deur die Kamiesberge. Ek dink amper dit was daar die heel mooiste. Daardie wit sporrie lê soos kapok in die bergvalleitjies en daartussen is daar dan elke keer so ’n smeer blou, en ’n smeer geel, en ’n smeer astrante oranje – so met sulke driftige hale deur die wit geverf; en dan roer die wind so effentjies en die blomme gaan so tekere soos ’n pawiljoen met intervarsity, mens kan hulle amper hoor cheer, heeltemal bandeloos baldadig. And oft when on my couch I lie, julle weet? Hulle dans nou nog voor my oë, en dis al meer as 3 weke dat ek terug is.”126

Dié buitelugmens was ’n ywerige stapper en het volgens haar aangetroude niggie Sannie van Reenen selfs “strandlangs van Saldanha tot in Kaapstad” gestap.127 En as entoesiastiese bergklimmer het sy eenkeer selfs haar eie koerant se voorblad gehaal. Bouwer vertel: “Goeie bergklimmer was sy altyd en hartstogtelik lief vir Tafelberg. Eenkeer (dit was so by 1946, ’47, ’48 se kant) het sy en ’n vriend en vriendin gaan stap teen Tafelberg uit. Sy gaan toe alleen op een roete en sou hulle by ’n sekere punt kry. Toe hulle daar kom, daag Rykie nie op nie en omdat dit begin mistig word, moes hulle naderhand afstap. Later die Sondagnag word hulle so onrustig dat hulle die polisie bel en daar begin gans die wêreld na Rykie soek.

“Groot konsternasie en Die Burger het haar die Maandagoggend voorbladnuus: Bekende joernalis vermis op die berg. Hier teen die middag kom Rykie in die syspan van ’n polisiemotorfiets aangery. Al wat gebeur het, was dat daar ’n digte mis opgekom het waar sy was en dat sy toe die verstandigste ding gedoen het, sy het in ’n grot gaan wag totdat dit lig genoeg word vir haar om af te kom. Toe hoor sy die polisie soek haar … [S]o het sy vroeg in haar lewe voorbladnuus by haar eie koerant geword.”128

Haar pa het glo gevra of sy angstig was so alleen in ’n grot: “Ryk (soos hy haar genoem het), waarvoor was jy in die nag bang?”

“Net vir ’n knopiespinnekop in die grot,” was die antwoord.129

Dit is dié groothartige, spontane, lewenslustige, onverskrokke Van Reenen-persoonlikheid wat die joernalistieke uitnemendheid gekompleteer het, en wat saam waarskynlik bygedra het om die lore rondom die gul “Rykie”-persoonlikheid en die unieke professionele mens te skep:

Rykie die avonturier, wat ’n nag in ’n Spaanse tronk deurgebring het omdat sy vergeet het om haar vuurwapen te verklaar;130

Rykie die dappere, wat as jong joernalis ’n grypdief op haar motorfiets ingejaag en gevang het;131

Rykie die rabbedoe en ontembare natuurkind met haar liefde vir bergklim en die buitelewe;

Rykie die diereliefhebber, veral ook Rykie die hondemens, ’n ganse boek op sigself (kyk die rubrieke op bl. 334 en 339);

Rykie die onkonvensionele, wat toe sy opdrag kry om ’n “hooggeplaaste Afrikanerleier” se begrafnisdiens in die Groote Kerk by te woon, eers by die destydse OK Basaar, so te sê langs die kerk, moes inhardloop om ’n hoed te gaan koop want sy het nie een besit nie – in ’n tyd toe vroue dit nie hoedloos in ’n kerk gewaag het nie;

Rykie die kreatiewe – waarvan haar hele joernalistieke loopbaan getuig;

Rykie die intellektueel – waarvan daar ontelbare voorbeelde is, onder haar dieptewerk as kerksakeverslaggewer, maar ook as rubriekskrywer;

en, les bes,

Rykie die geheel “anderste” – waarvan haar hele lewe getuig.

Rykie: 'n lewe met woorde

Подняться наверх