Читать книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe - Страница 13
ОглавлениеVAN REENEN HET vir haar eerste dag by Die Burger, in April 1945, baie respektabel opgedaag. Sy het ’n hoed gedra. En nie ’n gewone een nie. ’n Spoggerige wit breërandhoed.
Van der Vyver boekstaaf dié geskiedkundige oomblik: “Ongelukkig was sy in haar ywer so vroeg op kantoor dat daar niemand anders was om die hoed te waardeer nie. Dit was, sover sy kan onthou, ook die laaste hoed in haar lewe.”2
Haar weersin in hoede kom blykbaar van ver af. Na aanleiding van kleintydfoto’s wat haar niggie Stefanie vir haar aangestuur, beskryf Van Reenen in 1968 haar kindertydse hooftooisels aan M.E.R. as “sulke gehekelde wittetjies wat so oor my oë sit”. Sy skryf verder sy het die foto’s vir haar vriendin en die geskiedkundige Jean van der Poel gestuur, wat op haar beurt laat weet het: “Sulke hoede soos jy darem in jou vroeër dae gemodel het! G’n wonder jy het vandag so ’n renons in hoede nie!”3
Daar is egter minstens nog twee verhale van gehoede Van Reenens. Ondanks haar afkeer van hoede, moes sy eenkeer, desnoods en desperaat, soos reeds beskryf, by die destydse OK Basaar in Adderleystraat inhardloop om ’n hoed vir ’n hooggeplaaste se begrafnisdiens in die Groote Kerk te koop.4
Die ander geleentheid toe Van Reenen ’n hoed getrotseer het, was by nog ’n begrafnis, dié van H.F. Verwoerd in 1966 in Pretoria. Schalk Pienaar het later vertel hoe die dekking van dié geleentheid volgens militêre presisie uitgevoer is om te verseker dat die Sondagkoerant Die Beeld woord en beeld betyds sou hê vir saktyd, ook in Kaapstad en Bloemfontein – en “ons weet almal hoe lank ’n staatsbegrafnis kan duur”.5
Dié Saterdagoggend “met opstaantyd het elkeen wat iets met die begrafnis te doen gehad” het, ’n “afgerolde uiteensetting gehad van wie, wat, waar en wanneer moet wees”. Daar was vyf verslaggewers, agt fotograwe en drie motorfietse in aksie. “Wat gereed was verder, was ’n helikopter en ’n vliegtuig en ’n renmotor.
“Die beginpunt was Rykie van Reenen wat, in haar begrafnisrok en haar begrafnishoedjie op haar kop vasgedruk, van die Uniegebou agter op fotograaf Postma van Jaarsveld se motorfiets die Helde-akker moes haal. Grootpaaie en motors was daardie dag in Pretoria nutteloos. Dis agterpad, ompad, langpad. Spoed was als.”
’n Mens kan jou net voorstel watter plesier Van Reenen, byna twintig jaar ná daardie eerste oggend met ’n hoed op die kop in 1945, uit dié (gehoede) motorfietsrit in 1966 gekry het. Maar dit was inderdaad twee dekades later, en Van Reenen het toe al lankal bewys ’n vrou hoef g’n te skrik vir motorfietsjaag agter ’n storie aan nie.
In 1945 was dit egter ’n ander storie. Toe was sy nog “hokgeslaan” in die Vroueredaksie – haar eie woorde heelwat later in ’n onderhoud met die studentejoernalis Caryn Voigt.6 Dié begin was heel nederig, met berigte vir veral In Gesellige Luim, wat hoofsaaklik bestaan het uit “troues en nogmaals troues”7 – breedvoerige beskrywings van die bruidspaar, hul gevolg en selfs die gaste.
By Die Burger se Vroueblad was haar universiteitskameraad en koshuismaat, Marcha Schoeman, reeds in diens toe Van Reenen die Vroueredaksie verdubbel het.
Sy het min of meer in Schoeman se spore gevolg: eers as kampuskorrespondent terwyl sy nog studeer het, wat vir haar die pad oopgemaak het om by Die Burger aangestel te word. Dr. A.L. Geyer, redakteur, was so beïndruk deur haar werk dat hy haar in haar laaste studiejaar gewerf het.8
Dit was net ná die Tweede Wêreldoorlog, en Van Reenen onthou daar was min plek vir “vrouegoed”. “Buitendien, wat wás ‘vrouegoed’? Die antwoord: In Gesellige Luim.9 In gesellige luim beskryf jy huwelike. Punt.”10
Presies só beskryf Van Reenen die werk wat sy aan die begin van haar loopbaan gedoen het. En dan was die verwagting dat dit nie juis kreatief uitgevoer moes word nie, maar volgens ’n “vorm”: “Daar was vorms waarop allerhande inligting oor die troue – name van hofknape was veral belangrik – ingevul moes word.”
En, soos wat die meeste weet, administratiewe werk is normaalweg nie joernaliste se sterk punt nie. Die papierwerk het “gou” opgehoop tot ’n formidabele versameling. En dit het blykbaar die saad van ’n “Van Reenen-debakel” in hom gedra: Toe die stapel glo alle vorms van fatsoenlikheid oorskry, “bedel sy ’n dubbelblad by die powers that be” met die belofte om dit “tjop-tjop af te werk”.
Die huwelik van ene Jurgens Villiers van Franschhoek word onder meer in “kleur en geur” beskryf, “[d]ie saal, die gaste, die alles”.
Die Maandagoggend nadat die koerant verskyn het, lui my foon. Dis Jurgens Villiers.
“Ja,” sê ek, “jy was in!”
“Ja,” sê hy, “maar ons trou eers oor tien dae.”
Dis nie al nie.
Ek hoor agterna die hele Franschhoek lê soos hulle lag, want die meisie het die vorige keer veertien dae voor die tyd die troue afgestel. Toe dag ek nóú kan sy dit nie weer doen nie … staan in die koerant!
Maar selfs met ’n humorsin kon ’n mens In Gesellige Luim net só lank uithou. “Naderhand is ek só verveeld, ek lees filosofie onder die bank – [Dante se] ‘Divine Comedy’ op daardie stadium – en bo-op tik ek.”11
In 1979 skryf Van Reenen self oor haar begin in die joernalistiek vir die loopbaanbylae van Beeld: “Toe ek in die jaar toet op die manneterrein van die Afrikaanse koerantwese beland, was dit vir jou, vrou, ’n voorreg om onder die hofie In Gesellige Luim te mag skryf oor ‘sosiale sake’. Daarmee, let wel, is bedoel huwelike, verlowings en partytjies, in die volgorde, maar die vernaamste van dié was die huwelike.”
Sy skryf verder die stories is “gaan haal by die wit satynpakkie en keil van die hofknapie”, en oor elke detail is geskryf, “van die bruidsuitrusting, die teks van die dominee wat ‘die egband gelê het’”, die blommerangskikkings en verversings, “tot die oord van hul tweetjies se wittebrood” en die beroep van die man.12 Vroue het uiteraard nie beroepe in daardie tyd gehad nie.
Voorts: “Dit was in die dunkoerantdae net ná die Tweede Wêreldoorlog (amper sê ek Tweede Vryheidsoorlog, so lank gelede voel dit). M.E.R. se voetbalvelde van vroueblaaie, waar sy in die jare twintig met rustige volwassenheid en baie plesier die vrou van haar dag opgevorder het tot betrokkenheid by landsake, het ver agter ons gelê. Haas vergeet, ook, vir die oomblik, Sarah Goldblatt, Chief Langenhoven se beroemde sub, wat voor M.E.R. se tyd ’n rukkie volwaardige algemene verslaggewer op Die Burger was. We had fallen on lesser times.”13
Die selfspot, en selfironisering, dat vroue nie opgewasse kon wees vir die groot taak van algemene nuuskantoorwerk nie, staan met hoofletters geskryf oor dié stuk van Van Reenen. Sy skryf self dit was werklik “iets van ’n evenement”14 toe sy die dag deur die nuusredakteur op ’n “storie vir Algemeen” gestuur is en van die Vroueblad gered is. Uit korrespondensie later blyk haar teësin in die Vroueblad ook duidelik. Buiten die verwysings in briewe aan Danie van Niekerk en sy vrou Anneke waarin sy haar lot bekla oor die jonges wat sy elke keer moet oplei vir die Vroueblad, skryf sy spesifiek aan Anneke hoe sy, wat nie eintlik ’n Vroueblad-leser is nie, iets van Van Niekerk daar raaksien: “Ek het dit vanoggend so geniet toe ek uit gewoonte sommer so by die Vroueblad wou verbyblaai en skielik op jou afkom.” Sy komplimenteer dan die jonger joernalis op die artikel en moedig haar aan om meer te skryf.15
Maar die dag toe die jong Van Reenen uit die vroueredaksie “gepluk” is – Van Reenen beskryf dit, weer tong in die kies, as ’n “stoutmoedige” stap van die nuusredakteur – was ’n gebeurtenis. Sy skryf die “opvolgverhaal” van daardie geskiedkundige oomblik sit vandag nuuskantore (en redakteurstoele) vol: vroulike joernaliste.
Die geleentheid was die “aardskuddende en impakryke” storie oor vismotte en “hul skade aan die landsekonomie”. In kenmerkende Van Reenen selfironiserende styl – maar wat ook as kommentaar op haar omgewing gelees kan word – skryf sy: “Die volle verantwoordelikheid vir ’n tengere vrou om daardie vername terrein te betree, was vir my die dag duiselend na aan oorweldigend.”
Dat dit nuus was wat op ’n anderste manier vertel is, blyk daaruit dat Van Reenen se vismotte voorbladnuus was: “Ek verbeel my ek het voorblad gehaal, mind you.”
Dus: Daar is sy toe “gepluk” na die algemene redaksie. Sy het ook by die naweekbylae Die Byvoegsel gewerk en was ook hoof van Die Klein Burger, waar haar liefde vir kinders haar goed te pas gekom het.16
Die onblusbare Van Reenen-persona het ook geblyk uit ’n insident tydens die besoek in 1947 van die koninklike familie aan Suid-Afrika, toe die “piepjong verslaggewertjie” met die besoek “vir die statige Elizabeth durf knipoog” het.
Sy skryf later oor dié episode in ’n Randakker na aanleiding van ’n rolprent oor die koninklike familie wat toe gedraai het. Die berig self het in 1947 in Die Burger verskyn, maar dít was haar herinnering in 1970:
Ek het nog altyd so half ’n besondere belangstelling in daardie koningsgesin van die tyd toe hulle hier in Suid-Afrika was, en Betjie en ek mekaar ’n keer vas in die oë gekyk het.
Dit was by die enorme tuinparty by Westbrooke, die Goewerneurswoning, indertyd, in Rondebosch.
Soos die koninklikes deur ons midde beweeg het, was daar verbysterende tonele soos die allerdeftiges feitlik berserk geraak het in ’n poging om naby te kom en te sien en te sien. Die elegantste bejaarde dames het op stoele geklouter en met uitgestrekte nekke daar prekêr gebalanseer gestaan op hul hoë hakke.
Ek, piepjong verslaggewertjie heel in ’n agterste ry, het my totaal verwonder oor hoe dit in high society daaraan toegaan.
Toe die vername geselskap oorkant my verbybeweeg, het ek ondanks my agterlangse staanplek, ’n uitnemende uitsig op hulle gehad, want voor my was alles ineens weg, soos die dames ontroerd en, deur die Teenwoordigheid oorweldig, die voorgeskrewe knieval doen.
So kom dit dat toe Elizabeth, kroonprinses, na ons kant kyk, sy net my rond-verwonderde oog teenkom.
Wat ouderdom betref omtrent portuurs, was dit vir ’n eindelose oomblik nie prinses teen plaaskind nie, dit was meisie teen meisie. En geeneen wou kopgee nie. Vir sekondes het ons vasgenael gestaan. Toe kry ek lag en knipoog vir haar. Eers toe het sy haar koninklike hoof met ’n klein frons afgewend en statig in die prosessie voortbeweeg. My ronde, dink ek nog altyd!17
’n Joernalis uit ’n veel later era verwys in 1980 in sy “dankbetuiging” aan Van Reenen daarna: “En dis eintlik waarvoor ’n mens vir haar wil dankie sê: Dankie, Rykie, vir die oog wat die meisie in die koningin kon sien; en wat daarom ook altyd die hart agter die vertoon kan uitwys.”18
Die “Van Reenen-handelsmerk” is gou gevestig: ’n talent om selfs die gewoonste storie in iets buitengewoons te kan omskep, en in die proses opwindende kopie te lewer. Sy was gou ’n gesogte beat- en diepteverslaggewer.
Dit was natuurlik nie net by Die Burger dat vroue beperk was tot die vroueblaaie nie. Dit was die norm, en vroue se ongelyke posisie is ook nie juis uit manlike besluitnemingsgeledere bevraagteken nie. Dit het ’n Rykie van Reenen gekos om met haar talent, toewyding, persoonlikheid, vaardighede, insig, kennis en ervaring aan die manlike besluitnemers van haar tyd te wys presies hoe diskriminerend hulle is – op ’n manier waarmee later na haar werkwyse verwys is as “show, don’t tell”.
Toe Van Reenen in die veertigerjare by Die Burger begin werk het, was daar nog growwe diskriminasie teen vroue. In 1946 het dit uit ’n landwye meningspeiling geblyk dat sowat ’n kwart van die vroue wat ondervra is, aangedui het dat hulle sou verkies het om as mans gebore te word. Slegs drie persent van die mans sou verkies om vroue te wees.19
In daardie tyd, kort ná die Tweede Wêreldoorlog, was vroue, volgens Van Reenen self, ’n “redelik vreemde verskynsel”20 in nuuskantore. ’n Opmerking van Danie van Niekerk gee verder konteks hieraan: “Dis nie net vroue wat in die vyftigerjare ’n sekondêre rol by Die Burger gespeel het nie; die enigste mense wat ’n primêre rol gespeel het, was die ouens (dit was ook net ouens) wat in politiek en sport belang gestel het. Vroue en langhare was sekondêr.”21
Vosloo skryf dat Van Reenen selfs ná haar terugkeer ná die boerdery- en onderwys-onderbreking dieselfde soort stories moes doen, want dieselfde “konserwatiewe span mans was wesentlik nog aan die stuur”.22
“Rykie moes beskrywings gaan doen van snob-huwelike van vooraanstaande hogere Afrikaners, onderskrifte vir sosiale foto’s, artikels oor prominente vroue, oor vroue van nuwe Kabinetslede, artikels naweke in Die Burger se Byvoegsel, en as stap van bevordering, rubriekskrywer vir die daaglikse rubriek op die hoofartikelbladsy, Van Alle Kante. Sy is soms opdrag gegee om sogenaamde feature-artikels te doen met ’n sosiaal-politieke inslag, maar baie suutjies, hoor! (een van haar uitdrukkings). Tussen-in het resensies oor boeke en musiek gekom en dit het ’n sterk punt in haar mondering geword.”
Van Reenen is self ook nooit die geleentheid gegun om die veld wat allerweë geld as dié leerskool vir redakteurs, naamlik die politieke joernalistiek, amptelik te betree nie. Gewoon omdat sy die verkeerde geslag was. Vosloo skryf: “Die hart van die koerant, naamlik die politiek, is haar nie gegun nie, hoewel sy skerp insig in die politiek van die dag en wêreldsake gehad het. Die Parlement was 300 treë van Die Burger, maar daardie paadjie het sy nie geloop nie. Dit was steeds die manlike pad na bevordering in die Pers.”23
Tog sê die joernalis Amanda Botha dat Van Reenen nooit gemeen het sy is ’n slagoffer van diskriminasie nie.24 “Ek dink nie Rykie het gevoel dat daar ooit teen haar as vrou gediskrimineer is nie. Sy was, soos Tobie Boshoff eenkeer opgemerk het: ‘Een van die boys!’ Juis omdat sy was wie sy was, het sy die vertroue en respek van haar manlike kollegas gehad en het hulle haar hooggeag.”
Ook Vosloo is van mening dat, hoewel dit ’n manlik- gedomineerde werkplek was, Van Reenen haar man gestaan het: “Hou vir hou kon sy terugkap in daardie manlik oorheerste wêreld.”25
Voigt skryf dat Van Reenen tydens ’n onderhoud “aanvanklik onvermurfbaar” was oor vrae oor die feit dat sy ’n vrou was in ’n manswêreld. Sy is nooit anders behandel nie, sê sy. Maar, skryf Voigt: “Sy dink bietjie. ‘Hoewel! Ek is darem hokgeslaan in In Gesellige Luim vir jare.’”
Dit het wel in daardie tyd tot ’n ander kreatiewe gaping vir Van Reenen gelei: “Daai Piet Cillié. Hy besluit toe mos ons moet ’n ‘gossip column’ hê. Wie sal dit maak? Van Reenen. Ek sê goed. Ek is Hilda. Hy sê nee. Iemand wat sulke nonsens skryf is Hilde. Ek is Hilde. Het ons sports gehad met haar!”26
In korrespondensie aan die Van Niekerks in 1959 skryf Van Reenen egter dat dit eintlik sy was wat die benaming van Hilde gegee het: “Verder het Piet hier ingevoer ’n bleddie sosiale rubriek. Ek gee nogal die wenk: dit moet deur HildE wees, die E het meer snob-appeal as die A, sê ek nog. My magtag, daar kry ek dit om te doen. Dit is ’n verskriklike kruis. Gelukkig is die Weber ’n mooi soet medewerker.”27
Selfs ook M.E.R. het kommentaar gelewer: “Toe Gladstone vir ons sê Hilde is Rykie, wou ek sê Nee! Sosiale Nuus! Een van die dae as oom Kallie vakansie hou, sit hulle Rykie ook aan.28 En in die eerste uitgawe kon ek jou glad nie kry nie: dat Hilde daarvoor moes goedstaan. Maar in vandag s’n het sy al taamlik weggeslyt, en kom Rykie deur. Nou ja, ‘it takes all sorts’ van koerantwerk om ’n koerantskrywer te maak; om ook ’n skrywer te maak. Die ondervinding is baie goed. Is daar nog ’n werk wat mensekennis so versterk as koerantwerk? Daarom so waardevol. Heeltemal die beste skool wat ek ooit gehad het.”29
In 1979, ’n paar dekades nadat Van Reenen kon “ontsnap” ná sy “hokgeslaan” is, skryf sy in ’n loopbaanbylae oor vroue in die professie: “Vandag kyk my glasafskortinkie op Beeld se algemene kantoor uit op ’n plaat meisiekinders, en hulle tik dat dit dreun oor enigiets waaraan ’n manlike verslaggewer sou kon dink om sy hand te waag: die politiek, ekonomie, misdaad, sport, kuns … ja, as hulle so voel, kosresepte, modes en partytjies ook, afgewissel met vroueregte, verkragting en aborsiewette.”30
Sy gaan voort: “Dit kan nou seker nie meer lank wees nie, of een word selfs toegelaat om te skryf oor voetbal, pardon, rugby … Daarmee sal Women’s Lib in die Afrikaanse koerantwese stellig sy top-sport bereik.”
Die slotparagrawe van dié stuk bevat die Van Reenen-waarmerk: die vraag wat die leser moet laat dink. Sy vra: “Of het dit dalk al, sommer so ongemerk?”
En dan gaan sy – op haar beurt stoutmoedig in 1979 – voort met: “’n Vrou kan al hoofsubredakteur wees, sy kan al ’n nuusredakteur word. Sulkes was nog dun gesaai, maar daar’s geen, soos die gereformeerdes sê, prinsipiële beswaar nie.”
Van Reenen het nie net die joernalistiek oopgeskryf vir vroue wat ná haar sou kom nie. Sy was ook ’n baanbreker om nuwe beats te ontgin wat voorheen nie bestaan het nie. Ook die diepte in die verslaggewing was iets wat steeds vandag as teksboekvoorbeelde van uitmuntende joernalistiek beskou kan word.
As oorlogskorrespondent het Van Reenen byvoorbeeld letterlik van die front berig – in ’n tydperk toe dit nie vanselfsprekend was dat ’n joernalis oorsee gestuur sou word om ’n storie te gaan dek nie. As wetenskapverslaggewer het sy eweneens ’n nuwe terrein op ’n vernuwende manier verken. Die gevaarlikste “front” was egter waarskynlik dié van kerkpolitiek, waar sy vreesloos onder die togas en manelle kon inklim en die politiekery in die hoogste politieke en kerklike Afrikanerkringe kon ontbloot. Boonop was die onderhoud, die kritiese vaardigheid waarmee die joernalis haar of sy inligting versamel, Van Reenen se forté.
Van Reenen was waarskynlik die eerste “amptelike” Suid-Afrikaanse vroulike oorlogskorrespondent.31 As oorlogsverslaggewer het sy bekendheid verwerf met haar dekking van die Jom Kippoer-oorlog in 1973. Daar is geskryf dat haar uitsonderlike waarnemingsvermoë en die perfeksie waarmee sy dit in woorde omskep het, nie beter geïllustreer kan word as met haar “oorlog-indrukke” van die Midde-Ooste nie.32
Sover vasgestel kon word, was ’n Britse adellike die eerste vroulike oorlogskorrespondent op Suid-Afrikaanse bodem. Sy was lady Sarah Wilson, die tante van Winston Churchill, wat self ’n oorlogskorrespondent in Suid-Afrika was tydens die Anglo-Boereoorlog (sy heroïese oorsteek van die magtige Apies is legendaries). Lady Sarah was na alle waarskynlikheid die eerste vrou in Suid-Afrika wat van ’n gevegsfront gerapporteer het, hoewel sy nie ’n Suid-Afrikaner was nie. Sy het tydens die Anglo-Boereoorlog vir die Britse Daily Mail verslag gedoen. Uit Jennifer Crwys-Williams se South African Despatches32 blyk dit dat lady Sarah “despatches from Ladysmith during its long siege” gestuur het. Sy is ook gevange geneem deur die Boere, wat haar egter ná ’n dag of wat vrygelaat het.33
Vergelyk ’n mens Van Reenen se dek van die Jom Kippoer-oorlog – baanbrekerswerk – met ontwikkelings in die Amerikaanse media, is dit duidelik dat die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse media ook op dié terrein agter was. Die eerste Amerikaanse vroulike oorlogskorrespondent, Jane McManus Storms, weliswaar onder die skuilnaam Montgomery, het in 1847 verslag gedoen van die Mexikaanse oorlog. Die eerste Amerikaanse vroulike oorlogskorrespondent wat in aksie gesterf het, het onder meer in 1848 uit Rome verslag gedoen van die revolusie daar.34 (Die “in aksie” verdien egter kwalifikasie. Dit was ná die oorlog toe sy en haar minnaar per seilskip op pad terug na Amerika was. Die skip het in ’n storm ter see gesink en almal aan boord het omgekom.) Van Reenen sou meer as ’n eeu later eers dié pioniersrol in die Afrikaanse media speel.
Met haar oorlogsverslaggewing kon Van Reenen op gelyke voet meeding met manlike verslaggewers35 sonder om ’n oog te knip. Of helm te versit – soos dit sou blyk. Beide haar vertrek en terugkeer het staaltjies opgelewer wat legendariese status verkry het. Tobie Boshoff, toe nuusredakteur van Rapport, onthou dié “eerste” in die Afrikaanse joernalistiek só: “Met die Israeli-oorlog het die grootbaas van die Pers, Phil Weber, uiteindelik toegestem dat ek Rykie daarheen stuur, maar op die voorwaarde dat sy nie na die gevegsfront gaan nie. Toe skryf sy ’n eersteklas verslag van juis die gevegsfront af. Weber het my gegryp en ek het vir Rykie gevra wat om vir hom te sê.
“‘Maklik,’ sê sy, ‘hy weet mos ons by die Sondagkoerant werk nie Maandae nie. Ek was daar op my af-dag!’36
Dat Van Reenen hoegenaamd na die oorlog gestuur is, het joernalistieke binnekringe laat gons, vertel haar vriendin en medejoernalis Jean le May. Dit was immers ’n tyd toe joernaliste nie sommer links en regs gevlieg het nie – laat staan nog vroulike joernaliste na ’n oorlogsgebied stuur. Sy skryf hoe mense, “including journalists”, gepraat het oor hoe die koerant se direksie die redakteur opdrag gegee het “to send ‘his best man’ to cover the Six Day War37in the Middle East – and he sent Rykie”38
Oor hoe sy die geleentheid gekry het om die Jom Kippoer-oorlog “by te woon”, vertel Van Reenen self: “Dan sê ons: ‘Ons man in Lagos berig …’ Dan sit ons man in Lagos in die kantoor langsaan! Toe met die Sesdaagse Oorlog val dit tússen twee Sondae. Ons mis die hele oorlog. Ons sit die ganse pot mis. Ons man in Jerusalem kom nooit daar nie. Toe met die Jom Kippoer, sê Bossie [Tobie Boshoff] stuur vir Van Reenen. Wep [Willem Wepener] sê eers nee. Maar hulle besluit hulle kan maar vir my stuur, want as hulle ’n getroude man stuur en hy kom om, moet hulle dié se gesin onderhou.39
Sy kom toe nie om nie. Maar sy was nogal op die oorlogspad met die terugkeer. In ’n Randakker-rubriek getitel “Oorlogskorrespondent” vertel sy hoe sy by Rapport se teekamer ingestap kom:
“Shalom, shalom!” groet die manne op kantoor toe ek, terug van Israel, vandeesweek ons teekamer instap.
Ek grom na links en na regs soos MGM se leeu deesdae nie meer maak nie. “Wie,” sê ek met oë op skrefies, “het daardie helmet op my kop gesit op daardie foto laas Sondag in die koerant?”
Dis Koos Venter wat ’n skuldige, samesweerder-stiltetjie verbreek: “Ag nee,” sê hy, “ons dag dan jy’s daarmee gebore!”40
Dié “hoed” wat ’n Rykie wat nie gehoed wil wees nie, toe gekry het, laat haar só skryf: “Terwyl ek ruiterlik my helm afhaal vir een van die vernuftigste stukkies fopfotografie waaraan die vindingryke André Kotzee hom nog skuldig gemaak het, wil ek darem net sê ’n meisie wat nie eens kerk toe hoed dra nie, sal kwalik oorlog toe gaan met ’n helm op, hoor.”
As die beat van wetenskapjoernalistiek vandag, aan die begin van die 21ste eeu, steeds sukkelend in Suid-Afrikaanse nuuskantore is, stel jou voor watter uitsondering Van Reenen was toe sy daaraan aandag gegee het in haar tyd. Hoewel sy nie bekend is as wetenskapverslaggewer nie, het sy tog daarmee ’n nuwe beat help vestig, en dit uitnemend so gedoen.
As proto-wetenskapsverslaggewer het sy ’n nuwe terrein op ’n vernuwende manier verken. Onwetend het sy bygedra om nie net ’n nuwe genre te vestig nie, maar om terselfdertyd die standaard te stel vir wat goeie wetenskapkommunikasie is, nie net in Afrikaanse joernalistiek nie, maar Suid-Afrikaanse joernalistiek – iets wat glad nie voorheen bestaan het nie.
Sy het byvoorbeeld oor ruimtelanserings van Kaap Canaveral gerapporteer. Soos Grosskopf skryf, so uitmuntend dat dit haar lesers “ooggetuies gemaak het van hierdie tegnologiese ontwikkelings”.41
Prof. George Claassen, voormalige hoof van die Departement Joernalistiek aan die US en pionier in Suid-Afrikaanse wetenskapjoernalistiek, het met ’n afgetrede Van Reenen gekonsulteer oor die belangrikheid van ’n wetenskapjoernalistiekmodule en die uiteindelike ontwikkeling van die wetenskapjoernalistiekkursus.
Hy skryf: “Toe Kleinvoet (Little Foot) in 1995 deur Ron Clarke by Sterkfontein in ’n stoorkamer vir fossiele ontdek is, het ek die studente gevra om ’n behoorlike feature oor fossielontdekkings te skryf en hoe dit ons kennis van die mens se voorsate en familie verbreed.
“Een van hulle het met Rykie gepraat en haar uitvoerig aangehaal oor hoe belangrik dit is dat joernaliste iets van wetenskap begryp en hoe om sulke ontdekkings te interpreteer en binne historiese konteks te plaas.
“Ek het ook daarna met haar telefonies gesels oor my besluit om wetenskapjoernalistiek in die kursus in te sluit. Sy was baie geesdriftig daaroor … 1995 was die eerste jaar wat wetenskapjoernalistiek deel van die kursus geword het en Kleinvoet se ontdekking was soos manna uit die hemel om studente wat eintlik ietwat wetenskaplik ongeletterd was, bloot te stel aan ’n lekker wetenskapstorie. Daarin het Rykie baie goeie ondersteuning gegee en stukrag gebied aan my klas dat dit nodig was dat joernaliste nie wetenskaplike analfabete moet wees nie.”42
Claassen skryf: “Haar woorde aan my kan ek goed onthou, want ek het dit later in ’n vergadering van die komitee wat moes goedkeuring gee dat ek wetenskapjoernalistiek kon aanbied, gebruik. Ek hoop ek haal haar reg aan: ‘Wat jy hier doen, gaan ons beroep ontsaglik verryk. Dis tyd dat redakteurs wetenskapjoernaliste oplei en wetenskapredakteurs by elke koerant aanstel.’”
Tragies genoeg gaan ons joernalistiek vandag steeds mank aan goeie wetenskapjoernalistiek. Soos Claassen sê: “Nou ja, dis vyftien jaar later en steeds is daar nie eens een Suid-Afrikaanse koerant met ’n wetenskaplessenaar en -redakteur nie. So much for Rykie se gesag om ’n verskil te maak.”43
Volgens Claassen het hy met Van Reenen gekonsulteer oor die wetenskapjoernalistiekkursus “omdat sy so dêm goed was met alles en veelsydig oor die Sesdaagse Oorlog, die maanlanding, you name it, kon skryf”. As lid van die stigtingsredaksie van Beeld het Claassen nooit direk saam met Van Reenen gewerk nie, want sy was toe by Rapport, en hy wat Claassen was, “maar ’n ou juniortjie wat met groot oë gestaar het na Schalk Pienaar daardie eerste aand toe die koerant geloods is. In daardie dae was jy letterlik vrek bang vir die groot kokkedore. G’n genoemery op die voornaam nie … Respekte teenoor die mense wat kon skryf …”44
As onderhoudvoerder en profielskrywer het Van Reenen ook legendariese status onder haar tydgenote en latere generasies joernaliste gehad. Onderhoudvoering en waarneming is die kritieke vaardighede van die joernalistieke beroep, en Van Reenen het duidelik ook daarmee ’n uitsonderlike slag gehad. Sy kon blykbaar mense aan die praat kry oor dinge wat hulle self nie eens geweet het hulle weet nie. Tydgenoot en uitgewer Koos Human onthou hoe sy inligting uit bronne kon kry, selfs onder niejoernalistieke omstandighede, as “’n aanskouingsles in ondervraende joernalistiek”.
Die geleentheid was reeds tydens haar aftrede en het te make gehad met die publikasie van die boek Emily Hobhouse: The Boer War Letters. “Onverwagte probleme met outeursreg het ’n byeenkoms in Jan S. de Villiers se kantoor met die outeursregkenner prof. A. Copeling genoodsaak. Toe ek opdaag, sit Rykie en Copeling reeds daar, maar het nog nie vantevore kennis gemaak nie. In die vyf minute of so voordat die prokureur verskyn het, het die wildvreemde Rykie uitgevind waarom Copeling sy prestige-pos aan UNISA prysgegee het om na die Kaap en die UWK te verhuis, waar hy in Kaapstad woon, waar sy kinders studeer en in watter koshuise op Stellenbosch hulle tuisgaan,” vertel Human.45
Reeds veel vroeër, in ’n brief, gedateer 25 Julie 1959, het M.E.R. kommentaar gelewer op haar “gawe”: “Ja nee. My kind, jy het ’n groot gawe. Wat persoonlike onderhoude betref, die grootste wat ek nog teengekom het. Ek maak jou seker bang as ek so sê. Maar bang moet ’n mens ook wees met so ’n toevertroude ding.”46
Grosskopf het gemeen dit was “haar rustige en beskaafde manier van vrae stel” wat “natuurlik gehelp [het] om mense aan die praat te kry”.47 Retief Meiring verwys ook na Van Reenen se “besondere vermoë tot onderhoudvoering”.48
As Kaapse kind het Van Reenen waarskynlik ook die M.E.R.-mantra oor waarneming ter harte geneem. In ’n resensie van die biografie oor M.E.R word geskryf dat dit oplet is wat onontbeerlik is vir skryfwerk: “[G]edurig oplet, fyn oplet. Van die hart af oplet.”49
In 1956 skryf M.E.R. aan Van Reenen oor dié se besondere vermoë om van ’n profiel ’n woordportret te maak, na aanleiding van die huldigingsartikel wat in die publikasie Eendrag50 verskyn het:
Hierdie brief is eerstens om baie dankie te sê vir die vriendelike skrywing in Eendrag – ek het dit ’n dag of tien gelede in die hande gekry. Nou het ek vir Hendrien [Lambrechts] geskryf dat die Redaksie van Eendrag sommer ook my obituary klaar het, ’n hele las van die skouers af: want niemand sal dit tog beter doen as Rykie nie, en Rykie kan nie die goed 2 maal oorskryf nie.
Daardie obituary was altyd Ida [Theron] se grap: sy het dan van tyd tot tyd aangekom met ’n item vir my obituary. Toe het ek hare moes skryf vir Eendrag: nooit kon dink dat ek so lank uitstel sou kry nie.
Nou maar ek is baie danig met jou stuk: nou het ek al die plesier wat die dooie mense, sover ons weet, nooit kry nie.51
Dit sou inderdaad nog twee dekades wees voordat die “obituary” vir M.E.R. geskryf moes word – sy is op 7 September 1975, ’n paar dae ná haar 100ste verjaardag, oorlede. Die sterfberig in die Naspers-koerante, op 8 September, het nie ’n naamlyn gedra nie, die gebruik van die tyd.52 Die berig wat haar begrafnisdiens gedek het, is deur ’n “spesiale verteenwoordiger” geskryf, die naaste wat in daardie tyd aan ’n naamlyn gekom is.53 Dit is moontlik dat dié spesiale verteenwoordiger Van Reenen was.
M.E.R. het in 1957, ’n jaar ná die profiel in Eendrag, in ’n brief gedateer 30 Mei en na aanleiding van ’n ander artikel, aan Van Reenen die raad gegee om immer simpaties teenoor haar onderwerp te staan: “Moenie sonder gegewens neersien nie. Moet NOOIT seermaak nie. Van jou artikel sien ek baie duidelik dat jy baie oppas om hierin nie te oortree nie.”54
’n Paar maande later, in ’n brief gedateer 12 September, het M.E.R. weer raad. Dit was nadat Van Reenen aan die begin van daardie jaar heeltyds tot die joernalistiek teruggekeer het, en dit gaan oor haar werk in Die Byvoegsel: “As ek joune lees, dan sê ek telkens aan myself, ja nee, dis reg en goed dat sy Kaap toe gegaan het: die vis is darem duidelik in die regte water. En wat ’n skool vir Rykie! Om omtrent al die dinge verplig te wees om na die pit te kom, so na moontlik, en net met die waarheid daaromtrent tevrede te wees. Ek was veral bly oor jou artikels oor die swart-wit verskynsels. Want jy volg die raad van Abram (A.F.) Louw soos hier uitgespreek by ’n Dingaansfees: ‘As elke kant die ander met respek bejeën – daarlangs sal die oplossing kom.’ Om met respek behandel te word – dit gaan baie verder as ’n mens dink; en die uitwerking daarvan duur ook baie langer as ’n mens dink.”55
Nog ’n bekende aanhaling van M.E.R. het ook raad gegee oor hoe opgelet en dan daaroor geskryf moet word: “Raak sien en met waarheid beskryf; dis die essensiële.”
Die profiel van die fotograaf Jansje Wissema kan as ’n handboekvoorbeeld beskryf word. Van Reenen was ’n meester om mense met ’n paar hale van haar pen, by wyse van spreke, te skilder.
“Nou dat Jansje dood is, vra ons wat haar vriende was mekaar soms af: wat wás dit wat haar enig gemaak het? Wat selfs dié van ons met wie sy van tyd tot tyd uitgekuier geraak het, enduit tog met sulke lojaliteit aan haar bly bind het? Die presiese antwoord ontwyk. Maar basies miskien tog dit: ’n warmte, ’n aardse vitaliteit, ’n direktheid wat holderstebolder maar sonder die minste behoefte om te skok dwarsoor smal konvensionele grense gebars het. Dit het ’n mens die opwindende gevoel gegee dat jy in aanraking is met iets van meer as normale lewensgrootte, iets eerstehands en iets egs. Dus: kosbaar.”56
Van Reenen beskryf haar vriendin met ’n frase wat net so goed ’n beskrywing van haarself kon wees en wat ’n aanduiding is van hoe goed hulle by mekaar aanklank gevind het: “Haar hart kon die bergie en die miljoenêr langs mekaar akkommodeer.” Insgelyks die volgende: “Sy had die pes aan aanstellerigheid en vernaamdoenery en kon meedoënloos daardeur sien.”57
En nes Van Reenen van haar eie mentor geleer het, so het sy ook op háár beurt weer haar eie vaardighede met onderhoudvoer en rapportering verder gegee. Amanda Botha onthou hoe sy Van Reenen se raad opgeteken het: “In een van haar mentor-gesprekke met my het ek aangeteken dat sy gesê het dat om suksesvol ’n berig te kan skryf of ’n onderhoud te voer, dit nodig was dat jy soveel huiswerk as wat jy kan vóór die tyd doen – en as dit nie moontlik is nie, baie fyn waar te neem, fyn te luister en op jou voete te dink. ‘Lees alles, elke dag, ook die hoofartikelblad sodat jy kan weet hoe jou redakteur dink,’ was een van haar wenke,” skryf Botha.58
’n Ander keer was haar raad eenvoudig en reguit: “Met ordentlikheid, erkentlikheid en humor kom jy ’n helse ent!”