Читать книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe - Страница 7
Voorwoord
ОглавлениеI
DIE JOERNALIS RYKIE van Reenen, wat drie dae voor haar tagtigste verjaardag in Desember 2003 ná komplikasies weens veelvuldige sklerose (VS) gesterf het, het volgens aller getuienis ’n “afsku” van persoonlike eerbetoon gehad. Sy was ’n intens – pynlik so – private mens. Die joviale, lewensblye ekstrovert-persoonlikheid het ’n introvert-kern beskut, een wat teen die buitewêreld beskerm moes word.
Hoe oortree ’n poging tot die boekstawing van ’n lewe en ’n loopbaan uitgesproke en onuitgesproke sentimente oor privaatheid? Hoe kan jy vermy om iemand te “vereer” deur ’n waardering oor lewe en loopbaan te skryf, al is die bedoeling nie “verering” nie, maar boekstawing? Hoe kan jy iemand wat só privaat is, se lewe openbaar maak, as ’t ware in die openbare domein “uitstal”, al is dit nie die bedoeling nie?
Waar begin en eindig heilige grond?
Hierdie vrae kan vermenigvuldig. En, as dit reeds moeilik is om die joernalis agter die persoonlikheid te peil, hoeveel moeiliker om die persoon self in woorde te kan verreken? Soos ’n tydgenoot van Van Reenen dit gestel het: so onmoontlik soos “to catch a moonbeam in your hands”, na aanleiding van die Sound of Music-liedjie.
Só onmoontlik.
Enigma is die woord wat by ’n mens opkom. Enigmaties, daardie eienskap en woord wat so dikwels verkeerd gebruik word. Die ekstrovert met die introvert-alter ego; ’n private lewe wat aan eensaamheid gegrens het; ’n persoonlikheid onpeilbaar, onvatbaar – soos om ’n maanstraal te probeer vang.
Daarmee saam: Wat doen jy as jy weet in jou rekenaar-posbus is ’n e-pos van Maart 2003, van Rykie van Reenen, nege maande voor haar dood op 28 Desember daardie jaar. ’n E-pos wat amper soos ’n afsêbrief gekoester word. Die versoek tot inligting en samewerking vir hierdie projek word met ’n wedervraag geneutraliseer: “’n Asseblief so groot soos joune: los die ding, toe?”
Hoe mag ’n mens iemand se wense, iemand wat dit nou nie meer kan teëgaan nie, verontagsaam? Hoe kan ’n mens dit regverdig om oor Rykie van Reenen te skryf terwyl jy weet hoe sy daaroor gevoel het? Almal wat haar geken het, weet immers van haar ongemak om die middelpunt van belangstelling te wees – laat staan “vereer” te word.
Letterkundige en skrywer Hennie Aucamp skryf dat sy “wars van openbare vertoon en erkenning” was.2 Die rubriekskrywer Martie Retief Meiring stel dit só: “Rykie het ’n sterk afsku gehad van persoonlike eer.”3
Van Reenen self beskou dit as “grillerig”, soos sy skryf in 1985 in die “Voorwoordjie” by ’n huldigingsboek oor Piet Cillié: Hoe swaar dit is om iemand in “sy lewende gesig” te prys. “Ek onthou ’n aand op Stellenbosch toe hy my, en dit deur sy eie toedoen, in die openbaar moes prys. Dit was vir die een, sweer ek, so grillerig soos vir die ander. Dis nou eenmaal nie die ou Naspers se manier van doen nie.”4
Kan ’n mens hierdie boekstawing van haar lewe en loopbaan dan regverdig met die argument dat daar ’n oproep ná haar dood was dat iets saamgestel moet word om die nagedagtenis aan ’n unieke mens en joernalis in woorde te kan vaslê? Dat iemand soos ’n Aucamp in ’n koerant se brieweblad geskryf het die joernalistiek skuld Rykie ’n bundel?5
Reeds in 1986 is gevra dat ’n bundel saamgestel word van Van Reenen se ernstiger werk. In sy motivering vir die eredoktorsgraad skryf Johannes Grosskopf, tydgenoot en toe hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Joernalistiekdepartement: “Die bundel Op die Randakker toon haar nie op haar sterkste nie, want die rubriek het haar nie ruimte gegun om ’n inval of insig tot aan sy uiterste grense te voer nie. ’n Bundel met langer essays is wenslik.”6
In ’n huldeblyk bedoel vir Van Reenen se tagtigste verjaardag, het Grosskopf sy “hulde” gemotiveer: “As ek dus reguit met Rykie mag praat: ’n Mens kry so selde kans om sonder enige versweë voorbehoud ongeveinsde lof aan ’n goeie mens en ’n manjifieke vakman te bring – gun ons tog dié plesier!”7
Hoe maak ’n mens dan – as verantwoordelike joernalis wat maar te bewus is van die intens private, en ook as gewone medemens – om te kan skryf, mág skryf, oor die joernalis en mens Rykie van der Byl van Reenen?
Kan ’n mens sê dat die algemeen aanvaarde “legendariese status”8 van ’n baanbrekende vroulike joernalis dit regverdig dat die onderwerp van bespreking se eie wense misken word?
Kan ’n mens sê dat haar tydgenote se verering in hul huldeblyke dit regverdig dat ’n joernalis van ’n later geslag hul kollega se lewe en loopbaan probeer verreken?
En tereg, met al die vrae wat nou al gevra is: Hoekom moet ’n argument so ver gehaal word om hierdie boekstawing te regverdig?
En is al hierdie vraagtekens nie al amper ’n parodie op daardie Van Reenen-handelsmerk om so dikwels ’n stuk met ’n vraagteken af te sluit nie? Met die aanmaning in die subteks: dink, deksels, man, dínk.
Om voort te gaan met ’n vraagteken: Gaan dit nie gewoon om die boekstawing van ’n eenmalig legendariese lewe en loopbaan nie? Een waarin ’n vroulike joernalis, in ’n tyd toe vroulike joernaliste nie ernstig opgeneem is nie, ’n jong taal gevat het, en oor ’n paar dekades die wel en wee van ’n jong land in woorde neergepen het en ’n enorme invloedsfeer daardeur opgebou het?
Die vraag is ook: Hoekom moet diegene wat “history in a hurry” pleeg, self onthou word?
In The World of Nat Nakasa, ’n huldiging vir dié briljante maar te vroeg gestorwe joernalis, vra Nakasa self die vraag: Wat gebeur met jou werk as jy nie meer daar is nie?
Die samesteller van die Nakasa-bundel, Essop Patel, skryf: “This collection was prompted by a brief meeting with the late Nat Nakasa in London. On a crisp morning over cups of coffee, he asked, ‘What happens to the writings of a man when he is dead and gone?’ In response to that question, I have compiled this book which reflects the world of Nat Nakasa.”9
Daarom ook, om die woorde van Patel te gebruik: hierdie publikasie dan om die wêreld van Rykie van Reenen te reflekteer.
Drukmedia-joernaliste se werk is immers vandag nuus en môre net goed vir die budjiehok en die kat se sandbak. Maar net omdat dit een dag later by wyse van spreke vir die voëls is, beteken dit nie die “first draft of history”, soos Phil Graham van die Washington Post die joernalistiek beskryf het, is ná ’n dag net dáárvoor goed nie. Waarom word veel mindere skrywers onthou net omdat hul werk in boekformaat beter bewaar word, terwyl groot joernaliste tussen die koerantblaaie van die verlede verbleik?
Hoekom kan mense hulle nie steeds jare later laat inlig, opvoed en vermaak deur die skeppingsvermoë van ’n besonderse joernalis nie? Veral een wat in ’n liga van haar eie ingelig, opgevoed en vermaak het?
Les bes, en hierdie nie ’n vraag nie, maar ’n stelling: Jong joernaliste moet hulle blootstel aan die so nodige vaardighede van die joernalistiek, geïllustreer in ’n uitmuntend geskryfde stuk deur ’n uitmuntende vakman. Die insig, woordvaardigheid, kritiese en analitiese denke, onderhoudvoervermoë, redigering, perspektief – wýsheid – wat spreek uit Van Reenen se werk, moet elke keer ’n meesterklas wees.
Dus dan: Hoekom nié ’n boekstawing van die ryk lewe en loopbaan van Rykie van Reenen nie?
Daar is ’n baie eenvoudige antwoord. Dáárom.
Dáárom, Rykie van Reenen, hierdie byeenbring van ’n ryk nalatenskap.
En vergewe; dis nie ’n verering nie. Ook nie ’n skending van privaatheid nie.
Wat dit is, is ’n rekord van ’n uitsonderlike, uitnemende, uitbundige, terselfdertyd innig private mens, ter stigting en lering van ons wat minder uitsonderlik, uitnemend en uitbundig is.
Na aanleiding van haar lament oor Steve Biko, ná haar geskiedkundige onderhoud met hom (volledige rubriek op bl. 340), “dat ’n stem soos syne uit die kritieke dialoog van ons land verdwyn het”10 probeer hierdie publikasie die teenwig wees sodat ’n stem soos dié van Van Reenen nié sal verdwyn nie.
Van Reenen word in Afrikaanse joernalistieke kringe beskou as ’n standaard – ook in die groter Suid-Afrikaanse joernalistiek. “Vintage-Rykie” het ’n eie styl, insig, diepte, nuanse, kreatiwiteit gehad.
Hierdie waardering is dus maar ’n poging om die omvang van haar oeuvre vas te vang voordat herinneringe ook aan háár lewe vervaag.
Dit wil nie voorgee om ’n biografiese vertelling te wees nie – dit is nie. Niks kan die magiese maanligstraal vasvang nie. Dit kan maar net probeer om die maanligstraal te beskryf.
Daarom word gefokus op ’n paar aspekte van die lewe en werk van ’n fenomenale joernalis wat in die konteks van haar tyd veel groter as die som van die onderskeie eenhede van haar lewe was. En selfs dié aspekte van haar werk wat hier belig word, is onvolledig.
Van Reenen was nie alleen ’n baanbreker vir Afrikaanse vroulike joernaliste in die middel van die vorige eeu nie, maar in alle opsigte ’n uitmuntende joernalis, soos verskeie invloedrykes haar beskryf het. Een, die historikus Hermann Giliomee, beskryf haar in die Engelse weergawe van sy biografie oor die blanke Afrikaners se ontstaan as “undoubtedly” die mees uitmuntende Afrikaanse joernalis van die twintigste eeu.11 In die daaropvolgende Afrikaanse weergawe is dit effens meer sober gestel: “undoubtedly” is getemper met “waarskynlik”.12
Om die uitmuntendheid van ’n unieke professionele, maar terselfdertyd uiters nederige en private persoon, en die omvang van haar werk, te beskryf, was nogal ’n opdrag. Die Rykie-oeuvre strek van spesialis-verslaggewer en politieke en sosiale kommentator tot uitmuntende essayis en rubriekskrywer, met tussendeur die epistolograaf wie se briewe hul eie verhaal vertel: ’n joernalis extraordinaire.
Daarom dat in die Afrikaanse nuuskantore van haar tyd ’n uitdrukking ontstaan het wat ’n waardering toon vir Rykie die mens, Rykie die joernalis, Rykie die verrykende faktor in haar medejoernaliste en medemense se lewe: Ryk, ryker, Rykie.
Dié trappe van vergelyking het net een ding beteken: Rykie was die toppunt van uitmuntendheid ná die eerste, mindere vorms wat mindere wesens moontlik kon bereik.
Joernaliste, te deeglik bewus van die misbruik van woorde, sal nie sommer ’n kollega ’n legende noem nie. Tog, in die geval Rykie van Reenen, was dit ongeveer ’n eenparige beskrywing onder haar tydgenote. Die unieke vrou, besonderse persoonlikheid en ’n uitnemende joernalis wás dit: ’n legende.
Naspers-voorsitter Ton Vosloo het in 2002 met die verskyning van publikasies oor Piet Cillié en Schalk Pienaar gesê: “Diegene onder ons wat met hulle saamgewerk het, word minder. Vir dié van ons wat so bevoorreg was, was dit ’n skakel met Naspers van die begin af, want hulle was weer die stokkie-aangeërs van die Webers, Malans en Geyers.”
Ook: “Hulle deel iets kosbaar mee, naamlik intap in die kollektiewe geheue … Hierdie kollektiewe geheue is vir ons belangrik vir ons voortbestaan.”
Ook Van Reenen is deel van daardie skakel “van die begin af”, belangrik vir die “intap in die kollektiewe geheue”, een van dié vir wie die “stokkie aangegee” is – hoewel, moet bygevoeg word, nie ’n redakteurstokkie soos vir Cillié en Pienaar nie.
Ek moet beklemtoon: Dis hoegenaamd nie die volledige prentjie nie, maar slegs ’n poging tot iets van ’n beeld van ’n joernalis van wie veel geleer kan word – ook veral deur ’n nuwe geslag joernaliste, ’n dekade of wat in die 21ste eeu in. En veral ook, en dalk veral spesifiek, ’n nuwe geslag Afrikaanse joernaliste.
En daarom, as ’n soort geloofsbrief, moet ek dit op rekord stel dat hoewel Van Reenen immer, van my groentjiedae, ’n persoonlike joernalistieke cynosure was, my objektiwiteit in hierdie geskrif nie bevraagteken moet word nie. Daarmee die kennisgewing: hierdie waardering van Rykie van Reenen moenie as ’n hagiografie gesien word nie. Verre sy dit dat die koesterende bewondering van ’n latere joernalis Van Reenen op ’n voetstuk wil plaas, en dus objektiwiteit – of dan gewaande objektiwiteit – verloor.
Alle stellings kan herlei word tot spesifieke bronne, van wie baie boonop uit eie reg uitnemend was. Die bronne word aangehaal soos dit oorspronklik gevind is, met sommige leesteken- en tipografiese inkonsekwenthede en spelfoute wat ter wille van leesbaarheid reggemaak is, en met verhelderende aantekeninge in vierkanthakies of eindnotas bygevoeg waar nodig. Verskeie bronne in die openbare domein, maar ook private bronne, is gemyn, asook ’n verskeidenheid ander primêre en sekondêre bronne, in ’n poging om Van Reenen se spesifieke soort joernalistiek te distilleer. En sonder om défaitisties te klink: Die rykdom van dié Rykheid kan nie sommer so saamgevat word nie.
Hierdie publikasie begin met ’n beskrywing van Van Reenen se groot- en menswordjare in breë trekke in ’n biografiese hoofstuk, gevolg deur ’n hoofstuk as historiese konteks vir die Afrikaanse joernalistiek, gevolg deur hoofstukke wat sekere aspekte van Van Reenen se joernalistiek belig. Daarop volg ’n verrekening van ’n afgetrede Van Reenen se bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek, met ’n afsluiting van verkennings van Van Reenen die onbeskryflike, onvatbare, die lewensblye, maar pynlik private mens.
Die laaste woord móét aan Van Reenen self gaan. Hoewel ek dikwels aanhaal uit sommige klassiek geworde Randakkers, hoort ’n klein keur van haar rubrieke tog hierby as voorbeelde van die repertoire van ’n unikum-joernalis.
II
M.E.R. was die inspirasie agter “elke vroulike joernalis van die mid-twintigste eeu”,13 en volgens verskeie bronne was M.E.R. Van Reenen se persoonlike mentor – in haar eie woorde: haar “true north”.
M.E.R. het by geleentheid oor die waarde van haar eie werk gesê dat dit “lig kan werp op die verlede van ons mense”.14 Ongelukkig is nog min “lig gewerp” op die vroulike skrywers wat daardie verlede gehelp dokumenteer het.
Wat die groter prentjie van die Suid-Afrikaanse, spesifiek Afrikaanse, mediageskiedskrywing betref: Toe die geskiedenis van Naspers in die negentigerjare van die vorige eeu deur prof. C.F.J. Muller, en ná hom, die oud-Burger-redakteur, Wiets Beukes, saamgestel is, het die Van Reenen-tydgenoot Piet Cillié, as vermaarde Naspers-voorsitter, gesê dat geen “huldigingsgedenkskrif” verlang word nie. Die geskiedenis moes “warts and all” geskryf word.15 Die “sappige onnoselhede en al”.
Die kritiese leser sal saamstem dat daar nog geensins genoeg “warts” en “sappige onnoselhede” opgeteken is wat betref die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse media nie. Die gebrek aan ’n volledige beeld van ons Suid-Afrikaanse mediageskiedenis gaan egter veel dieper: Die “historians in a hurry”, soos joernaliste al beskyf is, laat na om hul eie geskiedenis op te teken.
Dit moet nog op talle terreine, en op talle vlakke, bespreek en aangevul word.
Een van die grootste gapings in ons mediageskiedenis is die bydrae wat vroue tot die ontwikkeling van die joernalistiek gemaak het. Die “sustertjies”16 hét sinds jare hul ding gedoen – nie op die vlak van mans nie, weens die sosiale en kulturele beperkings van ’n patriargale samelewing, maar tog wel. Die feit dat twéé biografieë oor Van Reenen se tydgenote in een jaar verskyn het,17 maar niks oor Van Reenen nie, is, onder vele, ’n bewys van die ongelykheid wat steeds bestaan.
Een navorser het oor mediageskiedenis geskryf dat “[t]he history of the press itself is a part of the social history of mankind [sic] in his search for information and understanding. As such, it deserves to be recognized – along with its publishers, editors, and reporters – even as governments, statesmen [sic], and military leaders are remembered.”18
Dis geskryf toe bogenoemdes almal outomaties manlike figure was. Voeg daarby dat geskiedskrywers die produkte is van hul eie agtergrond en sosiale ervaring, en dit is duidelik hoekom, byvoorbeeld, aandag aan Cillié en Pienaar gegee is, maar nie aan Van Reenen nie.
Maar daarom dat ek, juis gevorm deur ’n patriargale samelewing, hartlik meedoen om die patriargie af te breek, en hier probeer om die geskiedenis meer volledig te boekstaaf as poging om van daardie ongelykhede reg te stel.
Een navorser skryf dat geskiedskrywing (darem word bygevoeg “tot onlangs”) die “fragile expressions of white male historians’ limited perspectives” was.19
Dié situasie is gelukkig aan die verander. “The history books are slowly being rewritten to include these heretofore forgotten groups. Historians, as well as other people, discover (once they look) that women thought, wrote, and acted upon many of the same (and also other) subjects that men thought, wrote, and acted upon.”20
In ons eie Suid-Afrikaanse mediageskiedenis is nog weinig navorsing oor vroue se rol gedoen. Die enkele vrouefigure wat erken word in van die werke oor die vroeë geskiedenis van ons media is soos daardie legendariese Karoo-reën: hier en daar ’n druppel.
Die uwe en Marita van der Vyver het in die mid-tagtigs albei meestersgrade oor vroue in die Afrikaanse joernalistiek geskryf. Die eerste tesis, in 1985, was ’n deskriptiewe werk oor die ontstaan en ontwikkeling van Sarie Marais (gestig in 1949, vandag slegs Sarie) as massatydskrif vir die Afrikaanse vrou.21 Van der Vyver se tesis was in 1987 oor vroue se bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek met as gevallestudie Die Burger. Sy skryf die “vroue wat hul spore in die vroeëre joernalistiek in Suid-Afrika gelaat het – ondanks die feite en vooroordele wat hul bydraes en hul getalle beperk het – kan beskou word as een van die ‘tot dusver vergete groepe’ in die geskiedenis. Hulle verdien erkenning, want hulle het die pers gevorm, saam met manlike uitgewers, redakteurs en verslaggewers.”22
Van Reenen het in die laat sewentigs self vroulike joernaliste opgevorder om ’n verskil te maak met “Komaan, sustertjies, nou julle beurt!”.23
Inderdaad. Sy skryf die uitdaging vir vroue lê nie daarin “om elke soort koerantwerk net so goed soos mans te doen nie”. Nee, sy “moet nou, met daardie ekstra chromosoom, ook ’n ekstra dimensie aan joernalistiek gee sodat ons professie verbreed kan word”.
III
En daarmee terug na die onderwerp van hierdie geskrif, naamlik een van hulle wat die Suid-Afrikaanse media gevorm het en inderdaad verbreed het.
Rykie van Reenen het in die algemeen bygedra tot die professionalisering van die joernalistieke beroep. Sy was spesifiek ook ’n voorloper en baanbreker vir vroue in ’n beroep wat nog tot selfs ná haar tyd nie gelyke erkenning aan vroue gegee het nie.
En dit terwyl haar blywende vreugde aan haar beroep gedurig teenwoordig was, soos blyk uit haar bekende opmerking oor die joernalistiek: “Ek kan ná al die jare nog nie daaraan gewoond raak dat ek betáál word vir my werk nie.” En, ja, darem ook: “Jy word sleg betaal, maar dis nog steeds beter as werk.”
Dis maar twee van talle tipiese Rykie-uitsprake. Dit beskryf die onverdunde en onbeskryflike vreugde wat dié unieke beroep haar – en talle ander ná haar – verskaf.
Hierdie boek is dus Rykie se boek. Dit probeer die “Rykie-storie” vertel. Die verhaal van ’n joernalis wat soveel stories onverbeterlik opgeteken het, en in die proses die joernalistiek oopgeskryf het vir vroue ná haar. Wat die jong taal Afrikaans uit sy borstrok bevry het en laat twist, tango en tiekiedraai het. In ’t kort: wat ’n unieke stempel op die Suid-Afrikaanse joernalistiek afgedruk het.
Maar juis daarom is hierdie boek nie net Rykie se boek nie.
Dis Afrikaans se boek, en Afrikaanse joernalistiek se boek. Dis ook ’n boek oor die Nasionale Pers/Naspers, want dit gee ook ’n blik op die ontwikkeling van dié unieke mediamaatskappy oor ’n aantal dekades.
Dis veral ook toekomstige geslagte joernaliste in Suid-Afrika se boek. Alle joernaliste, maar veral ook Afrikaanse joernaliste. Veral vir jongeres, wat so maklik hierdie klein taal ruil vir die voordele van ’n groot wêreldtaal: Sien hierin die waarde van ’n unieke taal wat die gevolg van globalisasie eeue gelede was, en wat vandag Afrika, Europa en die Ooste saamsnoer.
En dink daaraan: As ’n joernalis ’n stokstywe Afrikaans onder ’n alsiende Nasionale Party-oog kon bevry, wat kan jy nie vandag alles in, met en deur dié taal van Afrika, hier, in Afrika, en die res van die wêreld doen nie?
Want Rykie van Reenen het juis gewys presies hoe kragtig die joernalistieke woord kán wees. Waarmee hierdie inleiding – uiteindelik, amper – afgesluit word.
IV
Vergewe dus, Rykie van Reenen, maar ek kon nie “hierdie ding los” nie.
Want soos Rykie van Reenen nooit teruggedeins het vir ’n uitdaging nie: Gun ’n ander joernalis dan hiérdie uitdaging. Om te kan skryf sonder om te vereer, om te kan vertel sonder om heilige grond te betree. Bloot net om te boekstaaf: Hier was ’n joernalis.
Haar naam was Rykie van Reenen. Só het sy gedoen, geskryf en vertel.