Читать книгу Om met vuur te speel - Lucille du Toit - Страница 3

1

Оглавление

Die skerp oggendlig skyn direk in Matt se oë. Hy trek hulle op skrefies om die sleutel in die slot te probeer kry. ’n Kopseer begin nou agter sy oë klop. Vandag is Donderdag, of is dit Woensdag?

Nee, dis Donderdag. Hy was eergister laas by sy huis.

Toe hy uiteindelik sy voordeur agter hom toemaak, vryf hy oor sy gesig. Koffie, stort, slaap en aspirien is wat hy nou nodig het; nie noodwendig in hierdie volgorde nie. In sy kamer trek hy sy klere uit en glip sy boxer aan voordat hy kombuis toe stap en die koffiemasjien aansit.

Terug in die badkamer maak hy die medisynekassie oop. Hier iewers behoort nog hoofpynpille te wees.

Terwyl hy tussen die houertjies krap, kners hy vir die eerste maal in weke weer op sy tande oor Lexi. Hy wil eintlik nie aan haar dink nie, maar hoe het dit gekom dat hy nog nie van haar gemors in sy badkamerkassie ontslae geraak het nie?

Vies gryp hy die vullisdrom en hou dit onder die kassie. Die pienk blikkie deodorant, tampons, tandevlos en, wat hy vermoed vogroom is, kletter met een veeg in die drommetjie. Nou is alles wat aan haar behoort het uit sy lewe. Net soos sy.

Wanneer hy aan hul laaste dag saam dink, is hy van voor af woedend. Hy was so seker sy is dié een.

Toe hy uiteindelik die pille kry, haal hy twee uit. Hy gooi hulle in sy mond en sluk hulle sommer met kraanwater af.

Terwyl die strelende water van die stort eindelik oor die seer spiere in sy lyf stroom, kan hy amper weer Lexi se stem hoor.

Toe hy by haar wou weet hoe laat hy haar daardie aand sou sien, het sy laat weet sy voel siek en kan nie uitgaan nie. Sekondes later het hy ’n boodskap van haar gekry waarin sy sê dat hulle mekaar by Archie’s kan kry.

Dit was vir hom vreemd, maar hy het soontoe gegaan.

Wat ’n grap! Eers toe hy daar aankom, het hy besef die boodskap was nie vir hom bedoel nie. Hy was die idioot aan wie sy ’n flou verskoning gemaak het sodat sy saam met haar nuwe skatryk fling kan uitgaan.

Agt maande van sy lewe gemors en dít op ’n vroumens.

“Matt … wat doen jy hier?” het sy verbaas gevra. Haar gesig was skielik doodsbleek toe sy iets snap en na haar foon kyk. Natuurlik was die boodskap nie vir hóm bedoel nie.

Toe sy haar fout besef, was dit te laat.

Terug by die huis het hy al haar besittings voor die meenthuis se voordeur gepak en vir haar ’n foto gestuur.

Laat die nag het hy ’n kar gehoor. Lexi en ’n man in ’n luukse motor het laggend haar goed kom oplaai. Nie dat sy veel besit het nie. Al die meubels en toestelle in die meenthuis is syne. Hierdie goed in sy badkamerkassie het hy beslis nie raakgesien nie, anders sou dit ook op die sypaadjie beland het.

Sy bakkie was nooit goed genoeg nie, sy eenvoudige meenthuis ook nie. Lexi wou altyd weet hoekom hy nie groter droom nie. Toe hulle net begin uitgaan, was sy gaande oor die feit dat hy ’n vlieënier is, maar toe sy besef sy gaan nie verniet oorsee kan vlieg nie, want dis nie die tipe vlieënier wat hy is nie, het haar gekerm oor sy ambisie begin. Nou het sy ’n ryk ou wat alles wat haar oë sien vir haar kan koop, nes sy altyd wou gehad het hy moes doen.

Met Lexi steeds in sy gedagtes droog hy sy lyf af.

Miskien moet hy net so ’n rukkie op sy bed lê voordat hy vir hom roosterbrood maak saam met ’n stomende koppie koffie. Daarna sal hy die verlore slaap inhaal.

Hy trek die gordyn toe en val op die bed neer. As die pille net wil begin werk, sal hy nou-nou beter voel. Die sagte duvet omvou sy moeë lyf. Hy buig die kussing onder sy kop in sodat dit perfek in die holte van sy nek pas. Presies daar waar dit nou ook wil begin pyn. Om te voorkom dat hy aan Lexi dink, herroep hy weer die vorige dag en nag. Dis ’n wonder hy kan sy oë nog oophou. In ’n stadium het hy gedink hulle sal die bosbrand nooit met die twee Hueys en die AT alleen onder beheer kry nie, maar die honderd brandweermanne wat saam met hulle op die grond gewerk het, het seker gemaak dat hulle die brand wel uiteindelik onder beheer gekry het.

Omtrent tweeduisend hektaar plantasie is ongelukkig verwoes, maar hulle hoofdoel – om die brand van die woonbuurte, winkels en plakkershutte weg te hou – het geslaag. Die wind het ook darem gaan lê. Hy wil nie eens dink wat sou gebeur het as die vuur aangestoot het tot by Graskop of die plakkershutte nie.

Matt ontleed nog die brand en hoe vinnig dit versprei het, toe diep polsende basklanke skielik van die aangrensende meenthuis af deur die muur begin brom.

Sy oë gaan traag oop.

Musiek? Hy kyk op sy horlosie en luister weer. Sowaar harde, irriterende musiek tienuur in die oggend. Dít het hy nie nodig nie. Hy druk die kussing oor sy kop, knyp sy oë toe, maar die buffer wat die vere bied, help niks nie.

Die klanke pols nou op maat van die geklop in sy kop. Die skakelmeenthuis se mure is papierdun en hy is seker as jy mooi luister sal ’n mens elke gesprek aan die ander kant ook kan hoor.

Die plek langsaan het maande lank leeg gestaan. Hy het aan die stilte gewoond geraak. Wanneer sou hy bure gekry het?

Matt slaan ’n paar keer met sy vuis teen sy slaapkamermuur.

Die musiek raak effens sagter.

Hy sug en maak sy oë weer toe.

Twee salige minute later doef, doef, doef die klanke net weer. Dié keer selfs harder as tevore.

Matt gooi sy kussing geïrriteerd teen sy kamermuur. In die proses stamp hy sy bedlamp om; dit is beslis nie hoe hy sy oggend voorgestel het nie. Al wat hy wil doen, is rus.

As dit so in sy meenthuis klink, hoe klink dit in die bure se huis?

Dit kan net ’n klomp manstudente wees wat langs hom ingetrek het. Hy onthou nog hoe dit is om jonk te wees, maar as jy in ’n kompleks soos dié wil bly, moet iets soos respek betoon word.

Studentebehuising moet tog seker goedkoper wees? Hier trek al meer studente van die Universiteit van Mpumalanga in die kompleks in. Hoeveel van hulle sou in een meenthuis bly? Hier kan hulle mos partytjie hou wanneer hulle wil. Hel, die laaste ding wat hy in sy lewe nodig het, is om in ’n oorlog met studente betrokke te raak en dit oor harde musiek. Tot dusver was almal nog beskaaf.

Die oomblik toe dieselfde liedjie weer van voor af begin speel, spring Matt van die bed af op. Dit is nou genoeg. So sal hy niks rus inkry nie en as die brand weer opvlam, sal hy dadelik moet gaan werk.

In die kombuis loer hy deur die venster. Voor die bure se meenthuis staan net ’n seegroen Volla. Dieselfde een wat vroeër die week amper in sy bakkie vasgejaag het. Hy weet nie wie die ding bestuur het nie, maar dié persoon kom definitief nie reg met die ratte of die koppelaar nie.

Hy het net van sy normale skof van tien tot ses af gekom. Sy bui was selfs vir ’n verandering vrolik omdat daar dié dag nie een brand was om te blus nie. Volgens sy maatstaf is dit altyd ’n goeie dag. Totdat hy die bestuurder uit ’n riller teëgekom het. Hy kon die persoon se gesig nie uitmaak nie, want hy was te besig om ’n sluk van sy romerige wegneemkoffie te vat, toe hy die groen gevaarte oor die middelman in sy rigting geruk sien kom het, amper teen hom vas. Hy kon net betyds uitswaai sodat hy nie oor tannie Janette se petunias ry nie.

Toe het hy al gewonder of hier nuwe intrekkers is. Min het hy besef dis sy nuwe bure.

Met die herinnering nog vars in sy geheue stap hy vasberade na die meenthuis langs syne. Hy sal vir hulle verduidelik dat hy soms skofte werk, en buitendien raas niemand so in die kompleks nie. Hel, dit is ’n ordentlike plek dié.

Matt klop hard sodat hulle hom hopelik bo die musiek kan hoor. Om seker te maak, klop hy maar weer, dié keer nog harder. Die gewaarwording dat hy nie ’n hemp of skoene aanhet nie, tref hom soos ’n skoot koue water. Hy was so haastig om die probleem uit sy lewe te kry dat hy nie mooi gedink het nie. Nie dat ’n spul ouens wat so partytjie hou, seker fout hiermee sal vind nie. Tieners gaan mos deesdae sommer in hul nagklere winkels toe. Hy het darem sy pajamabroek aan.

Dan bedink hy hom. Hy kan tog nie so hier staan nie. Sê nou hy is verkeerd oor die manstudente? Netnou sien van die ouer vroue in die kompleks hom.

Die gedagte laat hom glimlag. Dít sal nou ’n ding wees.

Net toe Matt omdraai huis toe, hoor hy die deur agter hom kraak. Hy kyk oor sy skouer. Dalk kan hy maar net so wel gou sy sê sê en klaarkry.

Toe Matt nader stap, slaan groot bruin oë wat deur donker wimpers kyk, hom vir ’n ses. Bloedrooi vingernaels vou om die houtvoordeur. Die vroumens kyk hom op en af en glimlag breed.

Die woorde verdamp op sy tong, en hy vergeet wat hy hier kom maak het.

“Ek kry gou my beursie,” sê sy vrolik en huppel terug die woonstel in.

Haar beursie? Die gedagte ruk Matt terug na die planeet toe. Vir ’n oomblik was hy nou wragtig iewers in die ruimte in ’n wentelbaan. Of slaap hy dalk tog? Miskien is dit ’n droom.

“Hierso,” sy hou twee note na hom uit. “Jy kan die kleingeld hou.” Kleingeld? Dan is dit ongelukkig nie ’n droom nie. Wie dink sy is hy?

“Ek verstaan nie?”

Toe hy die geld nie vat nie, kyk sy hom fronsend aan. Matt se vingers jeuk om die plooi van daardie mooi voorkop af te vee.

“As ek geweet het julle lewer pizzas só af, het ek lankal bestel.” Sy beduie na sy kaal bolyf.

Die glimlag in die bruin oë skok hom. Asof hy met albei hande aan oop kragdrade vashou en nie wil laat los nie. Verdomp! Sy is beeldskoon. Beslis nie die bure wat hy verwag het nie. Langs dié meisie sal hy mos kan bly.

“Waar’s die pizza?” vra sy nou onseker en loer oor sy skouer. Haar glimlag alleen sal maak dat hy huis toe gaan en vir haar meer as een pizza bak.

“Hmm … ek.” Wat gaan met hom aan? Sy tong knoop nooit so nie.

’n Donkerbruin sliert val uit die vroumens se bolla en gaan lê soos ’n sjokoladestreep oor haar sagte wit vel. Selfs die sweet wat op haar bo-lip pêrel, is vir Matt aanloklik.

Sy vingers brand om die sliert terug te druk en die sweet met sy duim weg te vee.

Dan begin die irriterende deuntjie van voor af iewers uit ’n vertrek in haar meenthuis blêr, en Matt skrik uit sy miswolk wakker en onthou wat hy eintlik hier kom doen het.

Skielik is haar betowering weg.

Hier is seker ’n helse partytjie aan die gang. Hoekom anders eet mens dié tyd van die oggend pizza en speel oorverdowende musiek? Wie weet wat als hier gebeur? Hy probeer by die deur verby kyk die meenthuis in, maar sy skuif voor hom in om sy gesigveld te blokkeer.

Matt moet erken daardie glimlag is die mooiste wat hy in sy lewe gesien het. Dalk moet hy homself net een keer knyp, net om seker te maak hy droom nie.

Hande op die heupe bekyk Sasha glimlaggend die aantreklike man wat voor haar staan. Sy blonde hare is baie kort gesny, amper tot teen sy kopvel.

Is dit ’n sweempie fassinasie wat sy nou in daardie grysblou oë sien?

Dit is nie aldag dat ’n man kaalbolyf pizza kom aflewer nie. ’n Goeie bemarkingsfoefie, een wat sal verseker dat sy elke dag pizza wil eet. Die probleem is net die ou het nie ’n pizza van ’n uur oud in sy hande nie.

“Kan ek inkom?” vra hy vir haar.

Nie dat sy hom nié in haar meenthuis wil intrek en beter leer ken nie, maar deesdae kan mens niemand vertrou nie. “Hmm … nee, waar’s die pizza?” vra sy onseker.

“Ek is nie hier met pizza nie. Jammer.” Hy trek sy skouers op.

Sasha se mond raak skielik droog. Sy kan elke spier en tendon onder sy goudbruin vel sien beweeg. Dik, goue wenkbroue trek nou op ’n ongeduldige plooi.

Het haar vriendin dalk ’n besoek van die ou as ’n grap vir haar gereël? Oulike verwelkomingsgeskenk, Melin! Maar begin mans wat vir geld ontklee nie gewoonlik met meer klere aan nie? “Oukei … baie snaaks. Ek verstaan. Het Melin jou gestuur?” skree-praat sy oor die musiek wat steeds uit die luidspreker blêr.

“Gestuur?”

Die ou vou sy arms voor sy bors en sy wens hy wil hulle wegvat. Sy wil amper haar lippe aflek vir die sexy sespak wat haar nader wink.

“Is jy nie veronderstel om eers later te begin ontklee nie?” ’n Giggel ontglip haar lippe.

“Wonderlik … van pizza-bode tot ontkleedanser afgegradeer. Jammer om jou teleur te stel, maar ek is nie een van die twee nie. Ek is jou buurman.” Die ou beduie na links om te wys waar hy bly.

Sasha sluk die gegiggel wat uit haar keel wil borrel. Hoe seker kan sy wees die man praat ooit die waarheid? En “afgegradeer”? So meneer “Ek is jou buurman” het nie net stywe spiere nie, maar ’n stywe nek ook, dis te sê as hy die waarheid praat.

“Ek het kom kennis maak … en kom kla.”

So dit is hoekom hy hier is. Sy kyk hom ’n oomblik aan, en toe herken sy hom. Dit is die man wat sy nou die aand amper bokveld toe gery het. Sy het so gehoop sy loop hom nooit weer raak nie. Die Volla se koppelaar is soveel stywer as waaraan sy gewoond is. Haar voet het van die koppelaar af gegly en voor sy kon keer, is sy bo-oor die middelmannetjie naby die ingang van die kompleks. Sy het die wit bakkie net-net gemis. As hy nie vir haar uitgeswaai het nie, sou sy nou moes opdok om sy kar te laat herstel.

Sy het nie besef die man is so aantreklik nie. Hoe kon sy? Sy het hom nog nooit van naderby gesien nie, maar dit is beslis hy dié. Hy het selfs een middag vir die een tannie haar pakkies uit haar kar gelaai, soms help hy die vrou naby die hek ook haar blomme natlei. So wat op aarde kan die mooi man hê om oor te kla? Tensy dit juis oor daardie insident is.

“Luister as dit oor nou die dag is …” Toe sweet in ’n dun straal teen haar slaap en nek afgly en net mooi tussen haar borste land, is dit presies waarheen die vent se blik ook vlugtig verskuif.

Sy maak keel skoon en vou haar arms om haar lyf om sy visie te blokkeer. G’n man mag haar helder oordag met sy oë staan en verslind nie.

“Dit gaan nie oor nou die dag nie.” Nou kyk hy haar in die oë. “Hoewel ek eintlik daaroor ook ’n klagte by die body corporate moet indien. Hier weet ons hoe om te bestuur.”

Ag, hemel tog. Sy moet haar tong byt voor sy klik. Hiervoor het sy nie nou tyd óf lus nie. En sy kan beslis nie uit die kompleks geskop word nie. Voorlopig is dit al wat sy kan bekostig.

“Kla?” Sy waag weer ’n blik oor sy skouer om te sien of sy Skillie nie dalk onder die verkeerde afdak geparkeer het nie, maar haar vriendin se Volla staan netjies waar hy hoort. Sy het ook nie ’n hond wat aanhoudend blaf nie, so wat kan die ou se probleem dan wees?

Nou is dit sý wat haar arms vou. “Laat ek jou klagte hoor. Vervlaks, dit moet seker lewensbelangrik wees as jy helder oordag in jou pajamabroek kom kla.”

Sasha is nie seker hoe om die scenario te hanteer nie. In haar ou lewe in die Kaap het sy so iets nog nooit teëgekom nie. Op hulle landgoed is daar nie bure wat kom kla het oor goed nie.

Kan dit haar musiek wees? Hulle huis in die Kaap is so groot dat selfs haar ouers nie haar musiek kon hoor nie. En sy sukkel nog om in die meenthuis aan te pas. Daar het sy altyd gespot, want elke lid van die Hugo-gesin het omtrent ’n eie vleuel. Amper soos in die Withuis.

Meteens tref dit haar: Sê nou haar pa het hom gestuur het? Of Jean-Louis? Sy kyk skielik anders na die man wat voor haar staan. Het hy haar nie dalk al die pad hierheen gevolg nie? Nou is sy op haar hoede. Vir teruggaan huis toe sien sy nie weer kans nie, nooit nie, tensy ’n hele paar dinge verander.

Die ou se mooi mond trek op in ’n effense glimlag: “Matt Marais,” stel hy hom voor. ’n Sterk, baie aantreklike hand word na haar gehou.

Sasha kyk daarna asof dit ’n kobra is wat haar gaan pik. Hy moet hom nie nou kom staan en ordentlik hou nie. Hy was dan klaar ongeskik.

Sy besluit om die hand te ignoreer.

“Sasha.” Sy kyk gou van sy hand na sy oë, tuit haar lippe en hoop dit help om die situasie te ontlont. “Waarmee help ek, meneer Matt Marais?” Sy fladder haar wimpers sommer ook en hoop dit laat die ou se hart smelt. Dit het nog altyd gewerk. Dalk vergeet hy wat hy nou eintlik hier kom doen het en kry sy loop.

“Is daar iets in jou oog?”

Oukei, so dit werk nie op al wat ’n man is nie. Sy skud haar kop. “Dis sommer niks. Sê wat jy wil sê, meneer Marais.”

“Ek wil nou nie belaglik klink nie, maar … jou musiek is steurend. Dit is heeltemal te hard.”

So dit ís die musiek? Iewers in haar lyf skiet kommer soos ’n rek los. Die vent is sowaar haar buurman. Miskien is sy net paranoïes, maar sy was nogal seker dat haar pa hom dalk gestuur het. Dan weet haar pa nog nie waar sy is nie? Hopelik vind hy ook nooit uit nie.

’n Diep plooi frons oor die man se aantreklike gelaat.

Onmiddellik trek sy haar oë eerder op skrefies. Sy het nie beplan om in onmin met haar bure hier in Mbombela te leef nie, maar net só krap die man ’n roof af wat talle sessies by haar sielkundige nie kon genees nie.

Wie dink hy miskien is hy?

As kind en tiener het sy genoeg van haar ouers se fiksasie gehad om elke begewing of besluit van haar te beheer. Haar pa en ma se stemme kom weer by haar op:

“Ag, my kind. Jy moet eintlik ’n kuif dra. Dit pas jou so goed.”

“Jy gaan seker nie al daai kos eet nie, of hoe?”

Of haar gunsteling: “Jy gaan dít tog seker nie vandag aantrek nie?” Die herinneringe speel in haar gedagtes af soos ’n YouTube-video. Sy onthou hoe sy een nag haar gunsteling-CD uit ’n vullisdrom gaan grou het. Sasha het dit die vorige dag by Melin gekry en ure daarna geluister. Guns N’ Roses.

Haar ma het dit weggegooi, want dit was glo onvanpas.

Soveel goed is haar verbied: Skoolsokkies, gemorskos, sekere kêrels. Haar kaste en laaie is ook deursoek wanneer sy by die skool was. Na haar matriekafskeid moes sy ’n rok van haar ma se keuse aantrek, anders sou daarvoor nie betaal word nie.

Alles in die naam van liefde omdat haar ma ’n versigtige ouer was en net die beste vir haar wou hê. Haar ma se woorde, nie Sasha s’n nie. Dit is die presiese rede hoekom sy hier is. Dit is alles goed en wel as jou ouers jou wil vertel jou klere is sus en jou eetgewoontes is so, maar as hulle steeds in die bestuurdersitplek van jou lewe wil wees wanneer jy agt-en-twintig jaar oud is, gaan hulle te ver.

Van nou af sal sy haar onafhanklikheid en privaatheid in eie hande neem. Veral na die laaste besluit wat hulle namens haar geneem het. Sy weet dit is kinderagtig, maar die woorde “moenie” of “mag nie” wou haar nog altyd laat skreeu het.

Sasha kyk weer na Matt. Haar musiek is nie so hard nie. Dié tyd van die dag is hier in elk geval altyd ’n geraas in die kompleks. Grassnyers en stofsuiers.

Onwillekeurig klik sy haar tong ergerlik. “Ek kan nie hoor nie. Wat sê jy? Moet ek dit harder sit?” Dalk sal dit vir liewe meneer Matt Marais terug aarde toe bring, want hy dink duidelik hy is so bietjie verhewe bo die res van die werkende klas. En dis presies waarvan sy probeer wegkom.

Die opmerking ruk Matt.

Maak sy ’n grap? Die sexy glimlag van netnou is weg en haar mond is nou ’n uitdagende kurwe. Daar dans duiwels in haar oë asof sy kwaad is vir die wêreld. Dan stap sy na die sitkamer waar die polsende musiek voortspeel. Voordat sy aan die afstandbeheerder peuter, gee sy hom nog ’n uitdagende kyk, amper soos die een wat sy tienersus hom gee wanneer sy die grense toets.

Toe sit sy die klank sowaar nog ’n bietjie harder.

Matt druk sy hande gefrustreerd oor sy ore. Hy is nie iemand wat ongeskik met vroue is nie, tog volg hy haar ongenooi binnetoe.

“Hei, jy kan nie net sommer hier instap nie!” Sy druk haar hand teen sy borskas om hom te stuit.

Matt beduie net vir haar dat hy nie kan hoor nie. Nou is dit hý wat glimlag. Hy neem die omgewing om hom in.

Sy is alleen.

’n Soet reuk hang in die meenthuis. Wierook wat sy in ’n houer op ’n ou vernielde houtboekrak laat brand. Op die boekrak is ’n klomp splinternuwe boeke. Toe hy sy blik verder draai, kom hy skielik tot stilstand. In die middel van haar woonvertrek is ’n dik metaalpaal ingebou. As dit ’n brandweerstasie was, sou hy geweet het waarvoor dit bedoel was, maar dié is geen brandweerstasie nie – al bly hier blykbaar ’n vuurvreter.

Is dit hoekom sy dieselfde liedjie oor en oor speel? Oefen sy vir ’n vertoning?

Hy trek sy asem in en skuif sy oë ondersoekend oor die res van die meubels. Daar is strooikussings in rooibont kleure op die swart fluweelbanke wat hier en daar ’n stukkende plek het. In die een hoek van die vertrek staan ’n lessenaar met ’n skootrekenaar.

Nie sommer enige skootrekenaar nie, ’n flippen MacBook Pro met Retina display. Dit maak glad nie sin nie, want dit hoort nie hier tussen die verflenterde meubels nie. In die ander hoek staan ’n klomp bokse wat sy seker nog moet uitpak.

Hier wil hy liewer uitkom.

Voordat hy gaan, sal hy doen waarvoor hy gekom het. As sy die geraas nie sagter gaan sit nie, sal hy. Asof op ’n missie stap hy na die TV-kas waarop die bluetooth-luidsprekers staan. Sasha spring voor hom in, maar hy systap haar moeiteloos. Hy het mos mooi gevra om die musiek sagter te sit en nou is hy die hel in.

Geen wonder dit klink of die musiek binne-in sy meenthuis ook speel nie. Dit is nie enige luidsprekers nie, dit is KEF MUO’s. Luidsprekers waarvoor hy sy voortande sal gee, maar dié goed sal hy nooit op sy salaris kan bekostig nie.

Wie is die meisie? Iets voel nie heeltemal pluis nie. Kan paaldans regtig so goed betaal of doen sy ander dinge om so baie geld te maak? Nee, daaraan wil hy nou nie eens dink nie. Hy vou ’n koordlose luidspreker in elke vuis toe en pluk hulle van die TV-kas af.

“Jy’s ongemanierd!” gil sy agter hom aan terwyl hy na sy huis stap.

Sy drafstap agter hom aan, maar Matt maak seker dat sy sal sukkel om by te hou. “Hei, kom terug. Dit is diefstal! Ek gaan die polisie bel,” dreig sy toe hy bly loop.

Hy kyk oor sy skouer na sy nuwe buurvrou. As dinge anders uitgewerk het, sou hy dalk heel lekker langs haar kon gebly het. Hy sou haar dalk selfs beter wou leer ken het, vasstel of haar lippe regtig so sag is soos wat hulle lyk, maar beslis nie meer nie, veral nie noudat hy weet wat sy vir ’n lewe doen nie.

Matt glimlag.

Voordat hy sy voordeur toeskop, antwoord hy haar oor sy skouer: “Ek ís die polisie, buurvrou.” Nie dat hy ’n polisieman is nie. Tel die leuen as jy vriende in die polisie het? Hy sal haar luidsprekers net so ’n dag of twee hou om seker te maak sy kry die boodskap. Dalk sal sy dan meer op haar hoede wees.

Vir ’n oomblik bly Sasha verslae staar na die man se toe voordeur voordat sy terugstap na haar meenthuis. Daar slaan sy haar voordeur ook met mening toe dat die ruite klappertand.

Mag hy dit gehoor het.

As sy haar deur die heeldag aanhou toeslaan, sal hy dit ook kom afhaal?

Ongelooflik, wat nou net gebeur het! Hoe durf die ou sommer net by haar woonstel inbars en haar eiendom konfiskeer. Sy rol haar oë. Mens sou sweer sy is terug by haar ouerhuis in die Kaap. Wie dink hy is hy? Sulke gedrag is sy beslis nie van mans gewoond nie. In die Kaap het mans ten minste nog maniere. Storm sommer hier in sonder ’n hemp en skoene, en met al daardie spiere op skou vir die wêreld om te sien. Ongepoets. Kon hy nie net mooi gevra het sy moet die musiek sagter sit nie?

Maar is dit nie presies wat hy gedoen het nie?

Nogtans. Hy kla soos ’n regte ou man.

Meneer Matt Marais. ’n Polisieman, seker ’n vervlakste konstabel wat heeldag agter ’n lessenaar sit en liasseerwerk doen en dan wil hy kamma slaap. Gmf, snork sy onvroulik. Sy het gesien hoe veroordelend sy oë oor die paal in die middel van haar sitkamer gly. Goeiste, haar ma! Mevrou Maryna Hugo, vrou van die media-magnaat Harold Hugo, sal self ’n hartaanval kry as sy weet van die oudisie wat haar goed opgevoede dogter vanmiddag het.

Sasha glimlag. Dieselfde geld vir haar verloofde, Jean-Louis, ook. Sy wonder wat die seun van die Europese media-magnaat Henry Lamair sal sê as hy haar om ’n paal sien gly.

Sy ril. Nee, hy sal sy hande natuurlik nie tuis kan hou nie.

Sou haar ouers ooit sleg voel omdat hulle haar verhouding en toekomstige huwelik met Jean-Louis net so mooi bewerkstellig het soos die agt-en-twintig jaar van haar lewe wat die beplande huwelik voorafgegaan het?

Sy het haarself nog altyd as ’n romantikus beskou. Aanvanklik was haar verhouding met Jean-Louis soos ’n sprokie totdat sy agtergekom het hoe perfek alles georkestreer word. Haar toekoms en geluk is vir haar ouers niks meer as ’n saketransaksie nie.

En bowenal wil haar pa nie meer hê sy moet die familie-onderneming oorneem nie. Hy gaan dit eerder vir ’n vreemdeling gee.

Sasha stap kombuis toe, haal ’n glas uit die kas en tap vir haar water uit die kraan. Die bitter smaak laat haar gril. Dit is beslis nie die Perrier waaraan sy gewoond is nie, maar water koop, is deesdae ’n luukse.

Net tot sy op die been is, belowe sy haarself.

’n Woonbuurt in Mbombela is die laaste plek op aarde waar hulle haar sal soek. Dit is nou ’n week vandat sy sak en pak uit die Kaap weg is. Haar foon het uiteindelik opgehou lui. Dalk het almal nou die boodskap gekry, maar soos sy haar pa en Jean-Louis ken, is die privaat speurder wat haar moet soek, seker al aangestel.

Van haar jare lange vriendskap met Melin is haar ouers wonderbaarlik onbewus. Dankie tog daarvoor. Melin is nie hulle klas nie en Sasha is verbied om met haar kontak te hou, maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg en haar ouers se afkeuring het die band met Melin net versterk.

As dit nie vir hartsgesprekke met Melin was nie, weet sy nie waar sy sou gewees het nie.

“Nee, jy kom Mbombela toe. Ek ken iemand; ek sal vir jou werk reël.” So het Melin dadelik hulp aangebied toe Sasha haar die aand so ontsteld gebel het. Sy het seker gemaak sy kom veilig in Mpumalanga aan.

Melin se kêrel, Alex, het die huur van die meenthuis gereël, en Melin het vir haar die oudisie by Aantrekkingskrag gekry. Aanvanklik het sy gedink Melin maak ’n grap. Hoe meer sy egter daaroor gedink het, hoe beter het die aanbod begin klink.

Óf in die Kaap bly en in ’n liefdelose huwelik vasgevang word óf vir ’n paar maande dans sodat sy op haar eie bene kan staan. Dis waaroor alles gaan. Om vir haar ouers te wys sy is haar eie mens. En dat geld nie alles kan koop soos hulle dink nie. Veral nie hul dogter se liefde of lojaliteit nie. ’n Skoolpel van Melin se ou besit die plek. Die Volla en die meubels is Melin s’n wat sy voorlopig leen.

Sy self het nog net ’n paar rand op haar naam. Haar pa het elke krediet- en debietkaart wat sy besit, gekanselleer die dag toe sy vir hom gesê het sy weier om met Jean-Louis te trou.

Hulle het niks gemeen nie, het sy aan haar pa probeer verduidelik.

Sy antwoord was dat mense mekaar mos aanvul! Nee, Jean-Louis sal die familie-onderneming oorneem, want as sy met hom trou, is hy familie.

Sy sal haar pa wys sy het sy geld nie nodig nie, nie teen die prys wat haar ouers wil hê sy daarvoor moet betaal nie. Sy sal haar eie passie uitleef en self ’n sukses van haar lewe maak.

En nou gaan sy iemand wees op wie almal uit haar vorige lewe nog altyd neergekyk het – ’n ontkleedanseres. Ofte wel, soort van.

Sy vryf oor haar binnebene. Dit voel nou al beter as gister, maar die eerste paar dae nadat sy begin oefen het, was dit hel. Gelukkig weet sy as gesoute danser hoe om na haar lyf en spiere om te sien. Waar haar binnebene blou en gebrand was van die paal het sy salf aangesmeer en saans met ys daarop gelê.

Tou opgooi is nie ’n opsie nie.

Sy was juis besig om haar danspassies te oefen toe die liewe meneer Matt Marais in haar lewe en in haar woonstel instap. Daardie bewolkte blou oë kan net moeilikheid voorspel, sy moes dit geweet het die oomblik toe haar binneste ’n Kaapse draai maak terwyl sy in hulle vaskyk.

Vervlaks, haar musiek was nogal hard. Sy het geweet dit is waaroor hy kom kla. Pleks sy net jammer gesê het en die musiek afgesit het. Nou is sy haar geliefde luidsprekers weens haar rebelsheid kwyt.

Sy sal maar net haar dans sonder musiek oefen of die liedjie deur haar iPhone speel, maar netnou kom vat hy dié ook!

“Hi! Is jy reg?” Dis Melin se stem wat haar terugruk aarde toe. Sy het skoon van die tyd vergeet.

“Hi. Kom in. Ek trek gou aan.” In haar kamer besluit sy om in ’n swart sjoebroekie en ’n klein swart oefentop vir die oudisie te gaan. Haar maag draai as sy net daaraan dink.

Dit sal haar eerste paaldans voor enigeen wees.

Sê nou sy vergeet die dans, of nog erger … sê nou sy val van die verhoog af?

Om met vuur te speel

Подняться наверх