Читать книгу Om met vuur te speel - Lucille du Toit - Страница 5

3

Оглавление

Met ’n verveelde uitdrukking lê Emarie op haar een hand terwyl sy die wiskundesom probeer uitpluis. Wanneer Matt af is, gaan haal hy sy sus soms by die skool.

Nadat hy eers nog ’n uur of wat rondgerol het, vies oor die verbale uitruiling tussen hom en sy sexy nuwe buurvrou, het hy uiteindelik ’n paar uur rustige slaap ingekry. Nie dat sy hom in sy drome uitgelos het nie. Vaagweg onthou hy dat hy haar ’n paaldans sien doen het. Net voor twee het hy sowaar met ’n glimlag wakker geskrik.

Net betyds om vir Emarie by die skool te kon oplaai. Hy het sy ma laat weet hy sal sy sus gaan haal. Sy kan tydens haar middagete iets anders gaan doen.

“Mis jy nie vir Lexi nie, Matt? Ek mis haar,” sê Emarie.

Die opmerking kom uit die bloute. Emarie weet goed wat tussen hulle gebeur het.

Hy skud net sy kop: “Nee, en my beursie mis haar ook nie.”

Emarie lag. “Nou kan jy al jou swaarverdiende geld op jou kleinsus spandeer.” Sy fladder haar wimpers, en dit herinner hom aan Sasha vanoggend.

Hy tik haar op die neus. “Ek spaar vir jou vir universiteit sodat jy na skool iets van jou toekoms kan maak.”

Sy sug en gooi haar pen neer.

Emarie staan op en stap ondersoekend soos ’n windhond deur die vertrek. “Lexi was so mooi. Soms het ek my verbeel ons is sussies. Ek het al presies geweet hoe my rok vir jul troue sou lyk.”

Matt het nie besef sy sus was so mal oor Lexi nie, maar sy is seker die naaste wat Emarie ooit aan ’n suster sou kom.

“Drop dit nou net, toe. Daar is baie visse in die see. Volgende keer vang ek dalk die regte een.” As Emarie maar net weet hier het ’n meisie wat baie mooier as Lexi is langsaan ingetrek, sal sy wil gaan kennis maak. Daai oë en wimpers alleen sal ’n man mos nagte kan wakker hou. Net jammer … Nee, hy sal sy sus beslis van Sasha moet weghou. Die laaste ding wat hy wil hê, is slegte invloed op haar. Sy pa het genoeg skade berokken. Dié dat sy en hul ma so moet sukkel.

“Wat is dié?” Emarie se stem borrel skoon van opgewondenheid toe sy die luidsprekers sien.

“Uhm.” Hy wou nog die luidsprekers vir haar wegsteek, maar het skoon daarvan vergeet.

“Is dit ’n geskenk vir my? Dis mooi.” Sy sus vryf oor die metaal.

“Nee, jammer. Dis my nuwe buurvrou s’n. Lang storie.”

“Jy het ’n nuwe buurvrou en jy sê my niks?” Sy slaan hom teen die skouer. “Hoe het haar luidsprekers in jou sitkamer beland? Het julle romanties geraak?” Emarie lig haar wenkbroue, tuit haar mond en maak soengeluide nes ’n graadeen-dogtertjie.

“Moenie daaraan vat nie, asseblief. En nee, ons het nie. Sy het musiek te hard gespeel, toe gaan vra ek haar om dit sagter te sit.” Hy vryf oor sy nek. Sy het eintlik so oulik gelyk toe sy haar vir hom vererg het. Noudat hy daaraan dink, was hy blerrie onredelik om haar goed net te vat. “Sy wou dit nie sagter sit nie. Inteendeel sy het dit harder gesit.” Hy sien weer die vonk in Sasha se blik toe sy na hom gekyk het. “Toe vat ek dit. Daar was niks wat sy kon doen om my te keer nie.” Dat sy eers gedink het hy is die pizza-bode of ’n ontkleedanser vertel hy nie vir Emarie nie.

“Jy is weird.” Emarie giggel. “Laat ons hoor hoe klink hulle.”

“Nee. Ons gaan nie daaraan peuter nie. Môre sal ek hulle vir haar teruggee. En vir jou inligting: Ek is nie weird nie, maar het ’n skof van vier-en-twintig uur agter die rug gehad. My kop was seer, en ek was gedaan. Bedagsaamheid is ’n goeie eienskap, onthou dit.”

“Ja, right. Dit was baie bedagsaam van jou om haar speakers te vat.” Sy blaas haar blonde kuif uit haar oë.

Die volgende oomblik begin musiek speel. Emarie het sowaar uitgepluis hoe die goed werk. Nou skop sy haar skoolskoene uit en klim op die koffietafel.

Die volgende oomblik begin sy dans.

Hier kom moeilikheid. Die beeld van Sasha in sy droom spook weer by hom.

“Wat?” vra Emarie toe hy hande op die heupe na haar staar. “Dis uit bedagsaamheid dat ek net kyk of hulle werk.”

Sy knipoog en Matt kry skoon ’n pyn oor sy borskas by die besef sy sus word groot.

Met die sleutel in die deur vries Sasha.

“Die bliksem.”

Melin trek haar asem skerp in. Sy is nie gewoond daaraan dat Sasha vloek nie.

Dan luister Sasha weer. “Die wetter.”

Melin bars uit van die lag.

“Hoor jy dit? Musiek. Kliphard. Helder oordag.”

Eindelik stoot sy haar voordeur oop. Die pes gebruik sowaar haar luidsprekers. Maar sy is nou so gedaan na die adrenalien wat seker nog deur haar are pomp, dat sy nie kans sien vir nuwe drama met haar buurman nie. Saam met die bekommernis is haar lyf skoon lam. Wie weet of sy ooit die werk gaan kry.

“Van wie praat jy?” vra Melin laggend.

“My simpel nuwe buurman wat my luidsprekers gesteel het omdat ek nie my musiek wou sagter sit nie.” Sasha vertel haar vriendin alles. “En dan is hy nog ’n flippen hunk daarby.”

Melin se skouers ruk soos sy lag: “Ai, Sash. Toe dink jy hy is ’n ontkleedanser?”

“Meer soos wens, maar toe is hy net ’n mooi man, en hardekop soos ’n ou man.”

“Jý, my vriendin, is die hardekop.” Melin tik haar teen die slaap.

“Miskien. Maar hoe kry ek my luidsprekers nou terug? Die moontlikheid dat ek hulle binnekort sal moet verkoop, is groot. Én die res van die goed.” Sasha beduie na haar skootrekenaar op die lessenaar.

“Moenie so negatief wees nie. Jy was fantasties. Gee Ricky net kans om daaroor te slaap. En buitendien sal jou pa jou in die hande kan kry as jy skielik alles wat hy vir jou gekoop het op die internet te koop adverteer.”

Haar foon se vrolike deuntjie begin van iewers uit haar rugsak sing. Haastig grawe Sasha dit uit.

“Hallo.” Vandat sy uit die Kaap weg is, beantwoord sy nie meer haar foon as Sasha-Lee Hugo nie.

“Sasha, dis Ricky. Ek het goeie nuus. Een van my dames het haar enkel gebreek. Jy is in. Jy weet hoe dit werk, die een se dood is die ander se brood. Ek sal jou ’n aand gee om oor jou skok te kom. Sien jou môreaand seweuur. Moenie laat wees nie. En … dink solank aan ’n stage naam, oukei? Ons verkoop fantasie hier, onthou.”

Sasha sit haar hand oor haar voorkop. Sy het dit sowaar reggekry. Al is dit nou nie juis iets om oor te spog nie, gaan dit oor die doelwit wat sy voor oë het.

“Ek het die werk!” Sy gryp Melin om die lyf. “Môreaand is my eerste vertoning.”

Om met vuur te speel

Подняться наверх