Читать книгу Om met vuur te speel - Lucille du Toit - Страница 4

2

Оглавление

Die parkeerterrein buite Aantrekkingskrag is leeg, afgesien van hier en daar ’n motor. Saans is dit seker ’n ander storie.

“Relax.” Melin vryf oor Sasha se rug. “Jy sal fine wees. Ricky is gaaf. Ek is seker jy sal die werk kry. En onthou – hierdie werk maak nie van jou ’n slet nie. Wanneer jy dans, is jy iemand anders. Jy weet hoekom jy dit doen. Moenie dat mense jou minderwaardig laat voel nie.”

’n Slet? Flippit sy het nog nie so daaraan gedink nie. Sasha knik net, want haar binneste voel skielik weer soos ’n sybloes wat deur ’n wasmasjien se spinsiklus verrinneweer is.

Toe Melin die deur van die rooibaksteengebou oopstoot en vooruit stap, sê sy: “Weet jy hoeveel enkelma’s moet dit doen om vir hulle kinders te sorg?” Voordat Sasha kan antwoord, praat haar blonde vriendin verder: “Baie. Sorg net dat jy van die begin af verstandig met jou geld werk en bietjie spaar. Sodat jy kan ophou sodra dit te veel vir jou raak. Dat jy darem ’n buffer het tot jy ’n ander plan kan maak. Oukei? En gebruik daai lyf van jou. Jou ma het jou mos nie verniet vir lyftaalklasse gestuur nie.”

Hulle bars albei uit van die lag.

“Jy is nou die produk. Verkoop dit.”

Sasha skud haar kop. Haar vriendin klink soos ’n pimp. In haar verbeelding kan sy sien hoe haar ma horries kry oor hoe Sasha se duur lesse aangewend word.

Is haar ma veel anders as sy? Eintlik is sy mos ook ’n danser. Vir jare al dans sy na haar man se pype, net sodat sy nie die luukse lewe verloor waaraan sy so gewoond geraak het nie. Sy is ’n “opgepaste”, soos haar ouma altyd gesê het. En sy sal alles doen om dit so te hou.

“Ja. Ja. Kom ons kyk eers of ek ooit die werk kry.” Sasha vryf oor haar nek.

“Jy sal. Gooi net jou flikkers.” In ’n nou gang klop Melin aan ’n oop kantoordeur.

Agter ’n swaar embuia-lessenaar sit ’n donkerkopvrou.

Sasha skat haar in haar laat veertigs. Teen die muur merk sy verskeie toekennings. Onder meer “Sakevrou van die Jaar”. Dis nie ’n maklike toekenning om te kry nie en Sasha is onmiddellik beïndruk.

“Ricky. Dis Sasha van wie ek jou vertel het.”

“Hi, Melin.”

Die vrou staan op en hou haar hand saaklik uit na Sasha. ’n Maer, seningrige hand met ’n stewige greep vou om hare: “Ricky, aangename kennis.”

Ricky dra ’n donker denimbroek, ’n wit T-hemp en ’n deftige swart snyersbaadjie. Aan haar vingers en ore sprankel diamante. Nie nagemaakte stene nie.

Ten minste het sy goeie smaak.

Sasha is dankbaar die eienares is ’n vrou. Dit stel haar beslis meer op haar gemak.

“Sasha … ” Amper sê sy haar van, maar bedink haar betyds.

“Kom ons gaan deur.” Ricky stap voor.

Die klub is groter as wat dit van buite af lyk. Dit is stylvol gemeubileer met donkerhouttafels en rooi leerbanke. Uit die dak hang twee groot kristalkandelare wat eerder lyk asof hulle in ’n operahuis hoort.

Op die verhoog is meisies besig om hul roetinepassies te oefen. Musiek pols deur luidsprekers. Agter die kroeg staan ’n kroegman met die meisies en gesels terwyl hy glase afdroog en in netjiese rye voor ’n groot spieëlbedekte muur pak.

Rye en rye bottels duur drank staan uitgestal, amper soos in haar pa se kroeg in die Kaap.

Die paar meisies wat voor die kroeg rondstaan, kyk nuuskierig na Sasha. Nuwe bloed, dis seker wat hulle dink. Of: kompetisie!

Ricky klap haar hande, dan gee sy ’n wolwefluit en dadelik is almal stil: “Vat ’n ruskans, julle. Sasha is hier vir ’n oudisie.”

’n Klomp rol hul oë. Ander se kyke skiet messe in haar rigting. Daar is darem ook ’n paar vriendelike glimlagte en een of twee bejammerende blikke.

Sy sal nie toelaat dat dit haar ontstel nie. Met haar oë ’n sekonde toe, laat sy Melin se bemoedigende woorde in haar kop rondrol.

“Jou musiek?” vra Ricky skielik langs haar.

“Ja. Natuurlik.” Haar bewende hande voel-voel in haar sak na die CD-kassie. Ricky gee die CD aan vir iemand wat agter ’n draaitafel en indrukwekkende klanktoerusting sit.

Die man se gespierde voorarms met kleurryke tatoeëermerke steek onder opgetrekte grys moue uit. Hy het sy sonpet agterstevoor op en glimlag toe hy Ricky sien nader stap. Oorfone hang om sy nek. Sy denim sit laag op sy heupe en hy lyk of hy eerder ook op die verhoog hoort.

Hy knik net toe hy die CD vat.

Wat vang sy aan? Dalk moes sy eerder net sommer ’n kelnerin geword het? Maar as net ’n kelnerin sal sy nooit haar droom kan bewaarheid nie. Al die nuwe aanpassings oorweldig haar skielik. Sy sukkel juis nog om in die beknopte meenthuisie aan te pas met die lelike badkamer en ou meubels. Om nie te praat van die kar waarmee sy nou moet ry nie.

“Die vloer is joune. Stap sommer met die voorste trappe op, dan trek jy gou agter die gordyn uit.”

Die streng kyk wat Ricky haar gee, maak haar opnuut gespanne. Doen sy die regte ding? Sy kan nog altyd uitchicken. Nie ’n opsie nie, tensy sy met die klug van ’n lewe wat almal om haar vir haar beplan, wil voortgaan.

Nee. Sy maak haar skouers reguit.

Agter die gordyn wikkel sy die sweetpakbroek en top af en haal diep asem. Jy kan dit doen, por sy haarself nog vir oulaas aan.

Toe sy op die verhoog stap, voel dit meer intimiderend as wat sy haar dit voorgestel het. En nou staan daar ’n rooikopvrou met ’n videokamera voor die verhoog.

“Vee gaan jou oudisie opneem sodat ek later weer daarna kan kyk as ek dalk onseker is.” Ricky moes seker die kommer in haar oë sien, want sy voeg by: “Dis net vir ons. Niemand anders sien dit nie.”

“Dis reg.” Wat kan sy anders doen as instem? Sy knik vir die DJ en Grace se “You don’t own me” begin deur die luidsprekers klop.

Net soos sy geoefen het, doen sy elke beweging presies. Die boë agteroor, die verleidelike gly met haar rug teen die paal af. Haar martini-swaai en spoedhobbels. As haar ma haar nou moet sien! Natuurlik is haar pirouette nes dié van ’n prima ballerina. Na al die balletklasse wat sy moes bywoon, is dit nie juis ’n prestasie nie. Selfs haar brandweermanswaai is volmaak, maar toe sy die laaste carousel-draai maak, verloor sy haar greep op die koue metaal.

Haar hand gly en sy sak onvroulik teen die paal af en beland op haar knieë. ’n Onverwagse snik glip uit haar keel. Vervlaks, sy was so naby aan klaar en nou gebeur dit.

Toe sy wankelrig opstaan, hou sy haar hand oor haar oë. Net betyds om te sien hoe Ricky haar mond in ’n streep saampers. Dis nie die reaksie waarop sy gehoop het nie.

Net een persoon klap hande soos ’n trotse ma, en dis Melin.

“Dankie, Sasha,” sê Ricky. “Trek aan. Ons laat weet jou sodra ons ’n besluit geneem het.”

In die agtergrond probeer sy luister of sy Ricky iets hoor sê, maar al wat sy hoor, is hoe Ricky vir Melin uitvra na Alex en wanneer hulle eendag tot trou kom.

Small talk is nooit ’n goeie ding nie.

Haar moed sink in die aarde weg. Wat gaan sy doen as sy nie die werk kry nie? Alles daai vervlakste Matt Marais se skuld. As hy haar dag nie omvergewerp het nie, was haar fokus waar dit moes wees. Dit sal sy hom sommer sê wanneer sy haar luidsprekers gaan haal.

Om met vuur te speel

Подняться наверх